Remove ads
Wikimedia lysartikel From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Lys van al die gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk ingelyf by ander gemeentes, ingedeel volgens die huidige tien sinodes van die kerk, asook Midde-Afrika, wat nie meer 'n afsonderlike sinode is nie, maar bestaan het uit gemeentes in Zimbabwe, Zambië, Kenia en Tanzanië.
Die getal NG gemeentes het van 1985 tot begin 2012 met 93 afgeneem van 1 246 tot 1 153 en tot begin 2014 met nog 15 tot 1 138. In 2019 was dit nagenoeg 1 115.
Amper 200 gemeentes het egter ophou bestaan omdat heelwat nuwe gemeentes van bestaande gemeentes afgestig het of nuwe gemeentes deur die samesmelting van bestaande gemeentes ontstaan het. Deur die loop van 2011 het die pas waarteen gemeentes ingelyf, saamgesmelt of ontbind het, oënskynlik toegeneem vergeleke met vorige jare toe meer as 10 gemeentes ophou bestaan het. Van dié wat ingelyf is of ontbind het, was De Aar-Suid, Vryburg-Oos, Boksburg, Bloemhof-Oos, Lichtenburg-Noord en -Wes (saamgesmelt), Reitzpark (Welkom), Eloffsdal, Eloffsdal-Wes en Magaliesfort (Pretoria, al drie saamgesmelt), Claremont (Johannesburg) en Ogies.
In 2013 en 2014 het nog twee ou moedergemeentes aan die Rand verdwyn toe Springs (1920) by Springs-Noord ingelyf is en Benoni (1914) by Farrarmere (met die nuwe naam Jubilaté). Teen 2015 is dus reeds die volgende agt moedergemeentes by dogtergemeentes ingelyf: Alberton (1916), Benoni (1914), Boksburg (1894), Germiston (1899), Krugersdorp (1890), Randfontein (1939), Turffontein (1906) en Springs (1920). Die enigste van die groot dorpe en stede aan die Rand wat nog 'n moedergemeente oorgehad het, was Johannesburg (1887), Roodepoort (1905), Brakpan (1917) en Kempton Park (1943).
Gemeentes in kursief weergegee, bestaan nie meer nie. By besonder ou gemeentes (binne die verband van hul sinode) wat ingelyf is, word die stigtingsjaar tussen hakies aangedui.
Hoewel die getal gemeentes in die Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode van 1985 tot 2019 van 235 tot 227 afgeneem het, is in dié Sinode in dié tydperk 16 gemeentes afgestig. Vier gemeentes is in die snel ontwikkelende Suid-Kaap en Overberg afgestig: Danabaai (afgestig van Mosselbaai-Suid in 2004), Onrusrivier (afgestig van Hermanus in 2001), Reebok (afgestig op Klein-Brakrivier in 1999) en Suidpunt (afgestig van Bredasdorp op Struisbaai en L'Agulhas in 1996).
Vyf gemeentes het ontstaan in stadsgebiede wat vinnig uitgebrei het: Brackenfell-Proteahoogte (afgestig in 1987), Sonstraal (afgestig in Durbanville in 1987), Die Gemeenskapskerk (afgestig van Table View in 2006), Parow-Welgelegen (afgestig in 1988), Table View (afgestig in 1986 as Tafelbaai met die verdeling van die gemeente Bloubergstrand). Drie gemeentes het ontstaan aan die Weskus: Langebaan (afgestig van Hopefield in 1988), Grootmist (afgestig van Port Nolloth in 1993) en St. Helenabaai (afgestig van Vredenburg in 2005).
Drie was vir spesiale bediening: Riebeek Valley Community Church (gestig in 2006 op Riebeek-Kasteel vir Engelssprekende lidmate), Stellenbosch-Sentraal (afgestig in 1985 vir studente) en Worcester-De la Bat (afgestig vir gehoorgestremde lidmate in 1987). En Houtbaai was jare 'n deel van die tweekoppige NG gemeente Constantia, tot dit in 2014 afgestig het.
Hoewel sowat 30 gemeentes ingelyf is, het die gesamentlike getal gemeentes dus met net agt afgeneem en die getal belydende lidmate met 9 000 tot sowat 213 000 in 2011 toegeneem, net om weer te daal tot sowat 193 000 in 2015 en 182 384 in 2018.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Die getal gemeentes in dié sinode het van 1985 tot 2015 gedaal van 114 tot 106. Teen 2019 het dit nog afgeneem, tot 104. Die enigste nuwe gemeentes was die samesmelting van Oos-Londen-Suid en -Wes as De Brug in 1993 (wat in 2010 ingelyf is by Buffelsrivier), Gonubie by Oos-Londen in 1986, Port Elizabeth-Sherwood in 1987 en eers weer 21 jaar ná die laaste volwaardige stigting met die afstigting in 2008 van Sondagsriviermond van Uitenhage-Oos. Eers in 2015 was daar nog twee afstigtings: Waypoint-gemeenskapskerk in Port Elizabeth en Clearview op Maclear in die Noordoos-Kaap.
Etlike baie oue gemeentes het deur die voortdurende ontvolking van die platteland en deur die destydse regering se beleid om die sogenaamde tuislande te konsolideer, ophou bestaan. Hulle was onderskeidelik die 77ste (Komga), 86ste (Alice) en 87ste (Greykerk) oudste NG gemeentes in die land, asook die NG gemeente Du Plessis (1919), onder meer gesetel op die dorpie Cala in die destydse Transkei, Pondoland (1948) en Butterworth (1958), afgestig van Komga en sowat 20 jaar later weer by die moedergemeente ingelyf. Hulle stigtingsdatums word tussen hakies aangedui.
Op 13 September 2010 smelt ook die Middelburg, Oos-Kaap (gestig in 1852), saam met die dorp se ander NG gemeente, Middelburg-Uitsig, as Middelburg-Karoo. Dit is die oudste gemeente wat tot dusver met 'n ander gemeente verenig het. Ondanks die verdwyning van 10 gemeentes, het die gemiddelde getal belydende lidmate per gemeente afgeneem van 650 in 1985 tot 552 in 2012, 538 in 2014 en 496 in 2015 omdat die Sinode se totale getal belydende lidmate met 24,5 persent gedaal het van 74 092 in 1985 tot 55 975 in 2014 en daarna binne 'n jaar met 6 persent tot 52 616. In die hele NG Kerk was die afname tot in 2014 19,6 persent. Net in KwaZulu-Natal (42 persent tot in 2014) was die afname groter as in die Oos-Kaap.
Oos-Kaapland het dan ook teen 2015 38 gemeentes met 200 of minder belydende lidmate gehad: Cathcart 42 (vakant), Clearview 40 (vakant), Dordrecht 198 (vakant), Elliot 200 (eie leraar), Gamtoosvallei (Patensie) 189 (eie leraar), Glen Lynden 146 (eie leraar), Grasvoëlkop 140 (eie leraar), Hofmeyr 113 (eie leraar in 2016 ontvang), Indwe 69 (hulpleraar), Jamestown 88 (hulpleraar), Kensington 175 (pastorale hulp), King William's Town 128 (eie leraar), Klipplaat 27 (vakant), Lady Grey 187 (eie leraar), Loerie 137 (eie leraar), Maclear 139 (in kombinasie met Ugie), Misgund 108 (eie leraar), Molteno 178 (deel 'n leraar met Sterkstroom), Mthatha 83 (gekoppelde leraar), Murraysburg 135 (eie leraar), Nieu-Bethesda 42 (bedien deur leraar van Graaff-Reinet), Noupoort 39 ('n jaar vantevore 118) (eie leraar), Paterson 159 (eie leraar), Pearston 98 (kontrakpos), Port Elizabeth-Oos 133 (eie leraar), Port Elizabeth-Sentraal 70 ('n jaar vantevore 132) (eie leraar), Rietbron 114 (eie leraar), Sondagsriviermond 153 (eie leraar), Sondagsrivier-Suid 197 (eie leraar), Sterkstroom 94 ('n jaar vantevore 123) (bedien deur leraar van Molteno), Steynsburg 147 (eie leraar), Steytlerville 186 (eie leraar), Stutterheim 166 (eie leraar), Tarkastad 155 (eie leraar), Ugie 136 (bedien saam met Maclear), Venterstad 51 ('n jaar vantevore 96) (vakant), Waterford 45 (vakant). Waypoint 49 (vakant). In 1985 het net ses gemeentes in dié kategorie geval: Alice 61, Cathcart 186, Grahamstad-Grenspos 120, Nieu-Bethesda 56, Rietbron 189 en Waterford 166.
Agt-en-dertig ('n jaar vantevore was dit 32 en omstreeks 2012 26), oftewel meer as 'n derde van Oos-Kaapland se gemeentes het dus teen 2016 tot onder die kritieke drumpel van 200 lidmate gedaal wat in die meeste gevalle sinvolle, afsonderlike voortbestaan baie moeilik maak. Reeds in 2008 het die Sinode van Noord-Kaapland in sy ondersoek na die bediening van klein of afgeleë gemeentes[5] bevind 'n gemeente met een leraar op die laagste kerf se bedryfskoste vir 'n jaar beloop R713 668. Met inflasie van 6 persent per jaar sou dit teen 2016 R1 140 000 beloop het. Vir 'n gemeente met 200 lidmate kom dit neer op 'n maandelikse bydrae per lidmaat van R475.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Net ses heeltemal nuwe gemeentes is van 1985 tot 2015 in dié sinode gestig: Orania in 1999, Vanderkloof op 13 November 2011 afgestig van Petrusville,[11] Upington-Blydeville in 1985, Kimberley Bet-El in 2008 (afgestig van Kimberley-Harmonie), Kimberley-#Gacan op 30 Oktober 2011 (afgestig van Kimberley-Harmonie vir bediening in die San-taal Khwê) en Kimberley-!Xun-Alfa in 2012. Kimberley-Harmonie het in 1999 as gevolg van die samesmelting van drie gemeentes ontstaan terwyl Petrusville-Uitsig, voorheen 'n NG Sendinggemeente, voor die ontstaan van die Verenigende Gereformeerde Kerk in 2005 deel geword het van die Noord-Kaaplandse Sinode. In 2011 het Petrusville-Vanderkloof in sy twee samestellende dele verdeel toe die piepklein gemeente Petrusville (gestig 1881) met 60 belydende lidmate op sy eie gestaan het en Vanderkloof met 129. Die getal gemeentes het dus met twee toegeneem en toe op 82 te staan gekom, vergeleke met 81 in 1985.
Die belydende lidmate het in die 30 jaar tussen 1985 en 2015 afgeneem van 48 954 tot 30 018, wat beteken die gemiddelde getal belydende lidmate per gemeente het gedaal van 604 tot 366, terwyl die sieletal (doop- en belydende lidmate saam) afgeneem het met sowat 49 persent. Teen 2018 het die belydende lidmate net 26 887 getel, maar was daar steeds 82 gemeentes.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Dié sinode het van 1985 tot 2015 amper 45 persent van sy belydende lidmate en 'n kwart van sy gemeentes ('n daling van 71 tot 53[23]) verloor. Die totaal sou selfs minder gewees het, as dit nie was dat Pongola (met sy 627 belydende lidmate in 2015) van die Oostelike Sinode na KwaZulu-Natal oorgedra is nie. Geen geheel en al nuwe gemeentes is in dié tydperk afgestig nie. Die laaste afstigting was Krantzkloof by Durban in 1984. Al gemeentes wat ontstaan het, was deur samesmeltings oftewel eenwordings. Teen 2018 het die belydende lidmate net 18 849 getel, vergeleke met 19 991 'n jaar vantevore, terwyl die getal gemeentes onveranderd op 53 bly staan het.
Die mees opmerklike afname in die getal gemeente was in provinsie se twee stede. Pietermaritzburg het die gemeentes Drakensberg (weliswaar op die nabygeleë Ixopo), Pietermaritzburg-Wes, Merrivale, Pietermaritzburg-Suid en Napierville verloor en gekrimp van 'n ring met nege gemeentes tot net vier: Pietermaritzburg, Pietermaritzburg-Noord, Hayfields en Greytown. In Durban het die gemeentes Durban-Noord, Durban Reformed Congregation, Durban-Suid, Montclair, Glenwood, Hillary en Malvern verlore gegaan, maar net Durban-Oos ontstaan, weliswaar uit 'n samesmelting.
Die volgende gemeente se naam het verander:
Die Vrystaatse Sinode het tussen 1985 en 2011 'n kwart van sy belydende lidmate verloor: van sowat 132 000 tot sowat 94 000. Binne die kort bestek van drie jaar het dit tot in 2013 verder tot 87 000 gedaal en binne die volgende twee jaar tot einde 2015 tot 81 321. In 2018 was dit 73 465. Die getal gemeentes het tot einde 2018 met net 16 tot 154 afgeneem, waarskynlik omdat die ontvolking van die platteland (waar elke dorp in baie gevalle reeds net een gemeente het of waar gemeentes steeds met 'n verminderde aantal lidmate kan funksioneer) nie so geredelik aanleiding gee tot die inlywing van gemeentes nie. Minstens agt gemeentes is egter in dié tydperk in en om Bloemfontein ingelyf en drie op Kroonstad.
Nuwe gemeentes in dié tydperk gestig, is Aandbloem in 1999, Leeuwberg in 1998, Studentekerk in 1986, Universitasrif in 1986, Heuwelkruin in 1988 en Woodland Hills NG gemeenskapskerk (31 Oktober 2010, van Heuwelkruin afgestig),[38] almal in Bloemfontein, Deneysville, wat in 1994 van Oranjeville afgestig het, Schonkenville in 2001 by Parys en Witteberge in 1997 op Bethlehem. Viljoensdrif (gestig in 1948) is ingelyf by Vaalpark, maar het in 2011 opnuut afgestig.
Vier nuwe gemeentes is van 1985 tot 2015 gestig (maar die laaste reeds in 1991) in dié sinode in hoofsaaklik stedelike gebied wat snel uitgebrei het, naamlik Falcon Ridge in 1991, Helikonpark 1986, Klerksdorp-Doringkruin in 1990 en Suikerbos (Drie Riviere-Oos) in 1985. Die totale getal gemeentes het nogtans afgeneem van 148 tot 138 en die getal belydende lidmate van byna 111 000 tot sowat 91 000. Tot einde 2018 het die getal gemeente met nog drie afgeneem en die getal belydende lidmate tot 77 245.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Die mees opvallende verskynsel in dié Sinode, wat eers bekendgestaan het as die Sinode van Noord-Transvaal, is die verdwyning van vyf van die middestadse gemeentes in Pretoria. In 1985 het die gemeentes Pretoria, Bronberg, Burgerspark, Arcadia, Meintjeskop en Harmonie 'n gesamentlike lidmaattal van byna 17 000 gehad. Trouens, net Meintjeskop (ook die eerste van die gemeentes wat ingelyf is) het minder lidmate gehad as die lidmaattal van die enigste oorblywende gemeente in 2008, Pretoria, waarby al die ander gemeentes ingelyf is. Daar was in 2008 meer as tien keer minder lidmate in die gebied wat eers die ses gemeentes beslaan het, en wat in 2008 almal deel gevorm het van die gemeente Pretoria. Die geweldige afname in die NG lidmaattal kan toegeskryf word aan die grootskaalse verhuising van Afrikaanssprekendes uit stadsbuurte soos Arcadia, Sunnyside en die middestad self. Hulle plek is in die meeste gevalle ingeneem deur swart inwoners wat met die afskaffing van die Groepsgebiedewet die eerste keer die geleentheid gekry het om na aan hulle werksplek in die middestad te kom woon. Dieselfde neiging het in die weste van die stad gebeur, waar die gemeentes Pretoria-Wes, Kwaggasrand en Ebenhaeser by Wespoort[44] ingelyf is. Van 1990 tot 2011 het die getal gemeentes van 139 tot 112 (Midde-Afrika uitgesluit) afgeneem. En teen 2018 tot 105.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Wat in Kaapstad se suidelike voorstede, die middestede van Pretoria, Bloemfontein, Durban, Krugersdorp, Klerksdorp, Springs, Benoni, Boksburg, Alberton, Roodepoort en Germiston gebeur het, het ook in Johannesburg gebeur toe voormalige blanke groepsgebiede betrek is deur meesal swart intrekkers, wat voorheen ver buite die stad in townships moes woon. In Johannesburg was die geografiese gebied waarin dié neiging voorgekom het, net baie groter, en het dit tot die verdwyning van byna 20 gemeentes gelei. Afrikaanssprekendes het uit talle dele oos, wes, noord en suid van die middestad na verder geleë gebiede verhuis, terwyl die teenoorgestelde gegeld het vir swart inwoners.
In die ooste van die Goudstad is Belgravia eers by Malvern ingelyf en Bezuidenhoutsvallei by Jeppestown, waarna Malvern en Jeppestown as Kensington saamsmelt in 1992. In die weste het Aucklandpark met Melville saamgesmelt, terwyl sewe gemeentes, naamlik Cottesloe, Mayfair, Fordsburg, Langlaagte, Crosby-Wes, Johannesburg-Wes en Brixton, uiteindelik regstreeks of onregstreeks in die enkele gemeente Vergesig verenig is. In 2011 het Claremont ook ophou bestaan. In die noorde en noordooste is Johannesburg-Sterrewag en Noordoosrand by Johannesburg-Noord ingelyf en in 1999 smelt die gemeente saam met die Andrew Murray Congregation, wat tans hoofsaaklik 'n Engelstalige gemeente is, terwyl Parkhurst by Parksig ingelyf is, waarna dit Parkkruin geword het. In die suide is Johannesburg-Suid en Turffontein verenig as Deo Gloria. Rosettenville en Suid-Rand is ingelyf by Klipriviersberg, en Doornkop en Lougherin by Mondeor.
In die Johannesburgse middestad het die gemeentes Johannesburg en Johannesburg-Oos (die sogenaamde Irenekerk) in 1985 nog saam meer as 2 000 lidmate gehad. Aucklandpark (1995) en Johannesburg-Oos (1997) is later by Johannesburg ingelyf, maar uiteindelik het Aucklandpark met Melville saamgesmelt as die Melville Kruisgemeente. In die verkleinde Johannesburgse gemeente (wat in die sogenaamde Irenekerk van die ou Johannesburg-Oos dienste hou) was daar in 2008 minder as 200 lidmate oor en in 2011 60.
Aan die Oos-Rand is die sesde (Boksburg, 1894), tiende (Germiston, 1899), veertiende (Benoni, 1914), vyftiende (Alberton, 1916)[48] en 25ste (Boksburg-Noord, 1936) oudste gemeentes in die Sinode by dogtergemeentes ingelyf vanweë die verandering in dié gebiede se demografie. Ook aan die Oos-Rand is Kemptonpark-Wes by Edleen ingelyf is, Randpark by Alberton-Suid, Springs by Springs-Noord, Springs-Sentraal by Selectionpark, Edenvale-Noord by Edenvale, Elandspoor en Andrew Murray Senderwood by Primrose-Môrewag, Esselenpark by Birchleigh-Noord, Benoni-Wes by Benoni, wat in 2012 by Farrarmere ingelyf is en nou bekendstaan as Jubilaté, Karee by Dunnottar, Brakpan-Suid by Brakpan-Wes, en Leondale by Elsburg-Suid.
Nuwe gemeentes tussen 1985 en 2016 gestig, is Andrew Murray Senderwood (in 2005 vir Engelssprekende lidmate; in 2012 ingelyf by Primrose-Môrewag), Birchleigh-Noord (in 1986), Deo Gloria (uit Johannesburg-Suid en Turffontein in 1994), Effata-vir-Dowes (in 1991), Kensington (wat in 1993 uit die samesmelting van Jeppestown en Malvern ontstaan het) en Trichardt (in 1987). Die getal gemeentes in die sinodale gebied het gedaal van 145 in 1985 tot 128 in 2008 en 118 begin 2016. Teen vroeg 2019 het nog drie ophou bestaan.
Die statistiek agterin die Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke stem nie altyd ooreen met die syfers in die Jaarboek se afdeling met gemeentebesonderhede nie: Die belydende lidmate agterin die 2013-boek is 84 443, maar al die gemeentes se belydende lidmate saamgetel, is 86 511. Dit is nietemin 'n merkwaardige afname sedert die 2010-syfer van 92 502 en 1995 se 102 751. Die jaarlikse afname van 1995 tot 2013 was 902, maar dit is blykbaar aan die versnel, want van 2005 tot 2013 was die afname 1 220 per jaar en van 2010 tot 2013 'n volle 1 997 per jaar. Die syfer in die Jaarboek van 2016 is 77 843. Tussen 2013 en 2016 het die afname versnel tot 2 200 per jaar. As die afname teen dié tempo voortduur, sal daar teen 2051 nie 'n enkele lidmaat in die Hoëveldse Sinode oorbly nie. Teen einde 2018 het hulle 68 926 getel, 2 911 minder as 'n jaar vantevore.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Die voormalige Oos-Transvaalse Sinode het van 1985 tot 2012 'n merkwaardige toename van 21 000 belydende lidmate tot 99 000 beleef, die enigste Sinode buiten Wes-en-Suid-Kaapland waar die getal lidmate nié afgeneem het nie. Teen 2014 het dit egter teruggesak tot 95 288 en teen 2018 tot 89 383. Dit is ondanks die insluiting by KwaZulu-Natal van Pongola. Die toename was hoofsaaklik in die oostelike dele van Pretoria, waar talle makrogemeentes, onder meer die grootste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die NG gemeente Moreletapark, geleë is. Die getal gemeentes het egter van 90 met vier tot 85 (2014) afgeneem en tot 84 in 2019, hoofsaaklik omdat die neiging hier was om bestaande gemeentes se getal lidmate te laat toeneem sonder dat nuwe gemeentes afgestig word. Die enigste uitsonderings was Verwoerdburgstad (nou kerksondermure, met 11 600 doop- en belydende lidmate in 2010 en 12 456 in 2012) in 1986, wat in 'n heel nuwe stadsdeel ontstaan het, Lux Mundi (voorheen Garsfontein-Oos) in 1988,[55] Moreletapark in 1985 en Valleisig in 1989. Saam het die vier gemeentes in 2012 26 368 belydende lidmate gehad, net 80 minder as KwaZulu-Natal se 57 gemeentes. Die gemiddelde getal belydende lidmate van sowat 1 121 per gemeente (in 2014) is daarom ook veel groter as dié van die kerk as geheel se sowat 683. Die enigste ander afstigtings was Krugerwildtuin in 1986 en Dennesig op Middelburg in 1991.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Dié sinode se gemeentes is van 1985 tot 2010 deur drie tendense gekenmerk. Eerstens het 'n verandering in die demografie van die land se hoofstad, Windhoek, meegebring dat twee gemeentes in die noordweste van die stad eers saamgesmelt het as Windhoek-Noordland en toe by die gemeente Windhoek-Wes ingelyf is. Windhoek-Wes het egter in 2012 net 345 minder belydende lidmate gehad as die drie gemeentes se totaal in 1985.
Tweedens het alle dorpe op twee na (Walvisbaai met drie en Gobabis met twee), wat vroeër meer as een gemeente gehad het, teen 2008 net een gehad, te wete Keetmanshoop, Outjo, Mariental, Otjiwarongo, Grootfontein en Tsumeb. Eers in 2012 het Gobabis ook sy tweede gemeente verloor toe Gobabis-Suid by die moedergemeente ingelyf is. Dit het die situasie laat ontstaan dat alle Namibiese nedersettings met 'n NG kerk óf 'n enkele gemeente gehad het óf drie of meer (Windhoek en Walvisbaai), maar dit het in 2017 verander met die ontbinding (nie inlywing nie) van Walvisbaai-Noord. Volgens die NG Kerk se Jaarboek het die gemeente aan die einde net 50 lidmate oorgehad, maar dit was waarskynlik 'n ou syfer.
Derdens het die gemeentes Luhebu-Noord (1988), Western Caprivi (1986) en Wildevy (1984) uit sendingbedrywighede ontstaan terwyl Tsumkwe (1961) deel van die Sinode geword het. Die enigste nuwe gemeente in die tydperk van 1985 af was Hentiesbaai in 1995, terwyl Verre Noord, wat tydens die Grensoorlog in 1970 op Oshakati gestig is, en later by Tsumeb ingelyf is, weer in 2006 afgestig het. Oranjemund is ook van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland na die Namibiese Sinode oorgedra, maar Oewer (Noordoewer) het in 2017 van Warmbad afgestig. Die getal gemeentes het so net van 45 afgeneem tot 44, hoewel die belydende lidmate met sowat 20% gedaal het. Die getal belydende lidmate het van 2018 tot 2019 se Jaarboek van 15 892 tot 14 669 afgeneem.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Die huidige getal gemeentes in Zimbabwe weerspieël nié die drastiese afname in die getal lidmate sedert die land se ekonomiese verval vroeg in die een-en-twintigste eeu begin het nie. Die destydse Sinode van Midde-Afrika het in 1985 uit sestien gemeentes bestaan. Intussen het die gemeente in Lusaka oorgeskuif van die Vrystaatse Sinode, waar dit deel was van die ring van Bloemfontein-Noord, om eers 'n gemeente van die Sinode van Midde-Afrika te word en tans te ressorteer onder die Ring van Midde-Afrika binne die Noordelike Sinode. Die laaste nuwe gemeentes in dié land is in 1976 (Chegutu en Kwekwe) en 1978 (Harare se Engelse gemeente wat tans die Cornerstone Congregation is) afgestig. Met die gedurige afname in lidmaattal (van altesaam byna 3000 in 1985 tot sowat 1 050 in 2015) het die getal gemeentes ook afgeneem, van 16 tot 11.
Die volgende gemeentes se naam het verander:
Al 10 die Zambiese gemeentes is mettertyd by Lusaka ingelyf, maar in 1998 stig 'n afsonderlike gemeente weer af op Kitwe vir die noorde van die land, waar die NG gemeente Nkana vroeër gesetel was. Die nuwe gemeente heet Dutch Reformed Church in Zambia Nkhana. Die 10 ingelyfde gemeentes was:
Die drie gemeentes in Kenia het saam met die Afrikaanse bevolking verdwyn. Hulle was Loubser op Thomson's Falls, Vergenoeg op Eldoret en die NG gemeente Nairobi, wat in 1958 gestig is en in 1959 130 belydende lidmate gehad het, maar blykbaar kort daarna verdwyn het.
Meru is in 1905 gestig en het die hele destydse Tanganjika beslaan.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.