From Wikipedia, the free encyclopedia
Die NG gemeente Bronberg was tot in die tagtigerjare van die vorige eeu een van die grootste gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, nie net in Pretoria nie, maar landwyd. Ná die ingrypende demografiese veranderings vanaf omstreeks 1990 in die sentrale dele van die hoofstad is Bronberg in 2000 tesame met Arcadia (waarby Meintjeskop vroeër ingelyf is), Burgerspark en Harmonie by die ou moedergemeente Pretoria ingelyf.
Tot die aand van 15 Oktober 1942 het hierdie gemeente die westelike gedeelte uitgemaak van die destydse besonder groot gemeente Pretoria-Oos, met sy vier leraars en byna 90 kerkraadslede. Die gemeente het met sy stigting bestaan uit groot dele van Sunnyside, Muckleneuk en Arcadia. Die naam is afkomstig van die oorspronklike naam van Muckleneukrand, naamlik die Bronberge. Beeld berig op 20 November 1991 as volg oor die herkoms van die naam: "Die NG gemeente Bronberg in Sunnyside wat aanstaande jaar reeds sy vyftigste verjaardag vier het sy naam te danke aan 'n destydse aktevervaardiger wat ook een van die eerste diakens van dié gemeente was. Mnr. Carl Basson (78) van Lynnwood, Pretoria, sê hy het destyds as aktevervaardiger toegang tot die kantoor van die Landmeter-generaal gehad. Toe aangekondig is mense moet voorstelle doen vir dié nuwe gemeente se naam, het hy in dié kantore gaan rondsnuffel. 'Ek het op 'n kaart van 1875 afgekom en ontdek die rant wat van Die Wilgers tot by Unisa in Muckleneuk strek, het eers as die Bronbergen bekend gestaan. Die Fonteine is toe nog De Bronen genoem. Op die vergadering wat die gemeente kort daarna gehou het, is verskeie name, onder meer Sunnyside, Ebenaser en Immanuël, voorgestel. Ek het die naam Bronberg laaste voorgestel en aan die mense verduidelik waar dit vandaan kom. Toe vir 'n naam gestem is, het die meeste mense vir Bronberg gestem,' sê mnr. Basson."[1]
Die plek van aanbidding is die veranderde Sunnyside-saal, waar die gemeente Pretoria vroeër buitedienste gehou het en waar die gemeente Pretoria-Oos voor die bou van die huidige Ooskerk sy sentrale bymekaarkomplek gehad het. Dr. H.D.A. du Toit (later van die Paarl) is op Maandagaand 2 November 1942, by die eerste stemming tot eerste leraar beroep en hy het met veel vrug tot Junie 1948 in die gemeente gearbei. Ds. H.C Kinghorn (later van onder meer Robertson) was medeleraar vanaf Mei 1947 tot Junie 1950, en dr. Louis V. Rex medeleraar vanaf Augustus 1948. Daarna het hy ’n tyd lank alleen gestaan.
In ooreenstemming met die beleid van die NG Kerk is die afstigting van Arcadia tot selfstandige gemeente op die kerkraadsvergadering van 19 Junie 1951 finaal beklink sodat die Ringskommissie binne enige maande tot die stigting kon oorgaan.
'n Besondere kenmerk van die gemeente was die baie studente en jongmense en die jammerlike, gedurige wisseling van adresse. Die gemeente het destyds reeds 'n eie terrein vir die bou van die toekomstige kerkgebou besit. Dié gebou, ontwerp deur die argitek Hendrik Vermooten, is ingewy op 22 Januarie 1955 en nou ’n bedieningspunt van die NG gemeente Pretoria.
In 1952 berig Ons gemeentelike feesalbum: “Bronberg bied 'n unieke geleentheid vir geestelike werk onder die nagenoeg duisend jongmense wat in velerlei betrekkings, veral in die staatsdiens, werksaam is en wat vir korter of langer tyd hulle verblyf in haas ontelbare woonstelle en kamers het. Die aanraking met die jongere deel van die gemeente bied veel aan wat bemoedig en besiel. Dat hulle bywoning van die eredienste en hulle belangstelling in alle gemeentelike aangeleenthede so 'n hoë peil handhaaf, getuig van hulle gehegtheid aan kerk en godsdiens. Ons aanddienste is deurgaans ingerig met die oog op die belange van die jeug en deur 'n maandelikse byeenkoms soek ons om as leraar en kerkraad enigsins tred te hou met die gedurige wisseling van ons jongere lidmate. 'n Noukeurige opname van getalle sal sonder twyfel aan die lig bring dat tweeduisend of meer lidmate van ons Kerk binne die gemeentelike grense van Bronberg hulle verblyf het.
“Die vaste elemente en die huiseienaars maak 'n betreklik kleine persentasie van ons ledetal uit, maar hulle vorm die kern van die gemeente, wat met groot krag, opoffering en toewyding die hoogste belange van die gemeente steeds behartig het. Bronberg se krag bestaan daarin dat midde in die stadslewe met al sy afleiding die Kerk nog die sentrum van 'n lewende en groeiende gemeentelike lewe uitmaak. Groot lof kom ons ywerige en toegewyde kerkraadslede toe weens die reuse-taak wat hulle moet behartig deur maandeliks hulle wykslede te besoek.”
Destyds is deur die publikasie van 'n maandelikse gemeentebrief, Die Bronbergse Bode, gepoog om die onderlinge gemeenskapsband verder te verstewig.
Die gemeente wat nou bekendstaan as NG gemeente Pretoria is 'n samestelling van wat eens op 'n tyd ses afsonderlike gemeentes was. Die syfers onder die jaartalle dui telkens op die getal belydende lidmate, so ook die totaal.
Naam | Gestig | 1960 | 1972 | 1979 | 1985 | 1990 | 1995 | 2000 | 2015 |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Pretoria | 1854 | 2240 | 2750 | 2902 | 2430 | 2500 | 2210 | 1800 | 1480 |
Bronberg | 1942 | 1056 | 2650 | 3689 | 4060 | 3600 | 2540 | 1738 | – |
Arcadia | 1951 | 1323 | 2368 | 2537 | 3085 | 2120 | 2750 | – | – |
Burgerspark | 1952 | 847 | 2658 | 3204 | 2758 | 2551 | 2421 | 825 | – |
Harmonie | 1957 | 1860 | 3891 | 3817 | 3417 | 2030 | 2009 | 640 | – |
Meintjeskop | 1964 | – | 1739 | 1238 | 1524 | – | – | – | – |
Totaal | 7 326 | 16 056 | 17 387 | 17 274 | 12 801 | 11 930 | 5 003 | 1 480 |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.