From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Italiaanse nasionale rugbyspan (Italiaans: Nazionale di rugby a 15 dell’Italia) is die nasionale rugbyspan wat Italië tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle staan ook bekend as gli Azzurri (Italiaans vir: “die Hemelbloues”). Savoiblou is die gewone kleur van die nasionale spanne wat Italië verteenwoordig, aangesien dit die tradisionele kleur van die Huis van Savoje was wat van 1860 tot 1946 oor die Koninkryk Italië regeer het. Rugby word in Italië deur die Italiaanse Rugbyfederasie (Federazione Italiana Rugby, FIR) geadministreer. Italië neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Skotland en Wallis.
Italië | ||||
Unie | Italiaanse Rugbyfederasie (FIR) | |||
Bynaam(e) | Gli Azzurri (“die Hemelbloues”) | |||
Embleem | Wapen van die Italiaanse Rugbyfederasie | |||
Stadion | Stadio Olimpico, Rome | |||
Kapasiteit | 70 634 | |||
Afrigter(s) | Gonzalo Quesada (sedert 2024) | |||
Kaptein(s) | Michele Lamaro | |||
|
||||
Statistiek | ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | Sergio Parisse (142)[1] | |||
Meeste punte | Diego Dominguez (983)[2] | |||
Meeste drieë | Marcello Cuttitta (26)[3] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
Spanje 9–0 Italië (Barcelona, Spanje; 20 Mei 1929) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Tsjeggië 8–104 Italië (Viadana, Italië; 18 Mei 1994) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
Suid-Afrika 101–0 Italië (Durban, Suid-Afrika; 19 Junie 1999) | ||||
Wêreldbeker | ||||
Verskynings | 10/10 (Eerste in 1987) | |||
Beste uitslag | Twee oorwinnings in 2003, 2007, 2011, 2015, 2019 en 2023 | |||
Unie webwerf | ||||
www.federugby.it |
Italië se eerste toetswedstryd was in 1929 teen Spanje. Italië was net soos Roemenië oor dekades heen een van die sterkste Europese spanne buite die destydse Vyfnasies. Hulle het tydens die Europese Nasiesbeker een titel ingepalm, nege keer as naaswenner en agt keer op die derde plek geëindig. Gedurende die 1990’s het die Italiaanse rugby ’n opswaai beleef, wat tot die aansluiting by die destydse Vyfnasies en hul uitbreiding tot die Sesnasies gelei het. Hulle het die een of ander prestasie behaal, maar nooit beter as die vierde plek gevaar nie.
Italië se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbekertoernooi in 1987 het die span aan al nege toernooie deelgeneem, maar nog nie tot die uitklopfase gevorder nie. Die Italiaanse nasionale span het tot ’n konstante deelnemer ontwikkel. Sedert 2003 het Italië tydens elke toernooi twee oorwinnings en twee nederlae aangeteken, genoeg om outomaties vir die volgende toernooi te kwalifiseer.
Italiaanse spelers dra tradisioneel blou truie, wit broeke en blou kouse. Hul alternatiewe kleure bestaan uit ’n wit trui met blou broeke en wit kouse. Italië se internasionale wedstryde word op verskeie plekke dwarsdeur die land gespeel; die Stadio Olimpico in Rome word tydens die Sesnasies-toernooi gebruik. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Italië as ’n vlak-een rugbyland. Die Italiaanse rugbyspan is tans (Maart 2024) agtste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]
Die beheerliggaam vir rugby in Italië is die Italiaanse Rugbyfederasie (Federazione Italiana Rugby, FIR). Die FIR het in 1928[5] uit die “Propagandakomitee” ontstaan en in 1987 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) aangesluit.[6] Daarbenewens was die Italiaanse Rugbyfederasie in 1934 ’n stigtingslid van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA, nou Rugby Europa).[7] Die hoogste rugbyliga in Italië is die Campionato di Eccellenza, waaraan twaalf spanne deelneem. Van die spanne is veral uit die twee rugbyvestings Lombardye en Veneto afkomstig.
Bo die nasionale kampioenskap word die internasionale liga Verenigde Rugbykampioenskap uitgespeel, saam met spanne uit Ierland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis, waaraan twee Italiaanse spanne (Benetton Rugby Treviso uit Treviso en Zebre uit Parma) deelneem. Bo die Verenigde Rugbykampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Ierland, Ierland en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker uitgespeel.
Naas die amptelike nasionale span roep die FIR ook ander keurspanne byeen. Italia Emergenti (“Opkomende Italië”) is die tweede nasionale span van Italië. Net soos ander rugbylande beskik Italië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[8][9] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.
Die oorspronklik uit Griekeland afkomstige en in die hele Romeinse Ryk uitgeoefene speel Harpastum kan as ’n ver verwante, antieke voorloper van rugby beskou word. In berigte van historici en skrywers soos Athenaeus van Naucratis, Clemens van Alexandrië, Iulius Pollux en Claudius Galenus word dit beskryf as ’n volkontaksport tussen twee spanne bestaande uit vyf tot twaalf spelers met die doel om op ’n reghoekige veld ’n bal agter die opponent se doellyn te beweeg.[10] Gedurende die Middeleeue het in Italië verskeie balsporte ontwikkel, wat nader verwant was aan rugby as aan sokker, aangesien die speel met die hande ’n sentrale kenmerk was. Die bekendste voorbeeld is die Calcio storico fiorentino wat uit die vroeë 16de eeu dateer en steeds in Florence gespeel word.[11]
Britse seelui, wat by die Genuese hawe aangedoen het, het rondom 1890 die in die Verenigde Koninkryk reeds gevestigde rugby aan Italië bekendgestel. Maar vanaf die begin is dit deur sokker oorskadu en was ’n nissport. Daar word vermoed dat die Britte aanvanklik veral onder mekaar verkeer het.[12] Die eerste amptelike rugbywedstryd op Italiaanse bodem is op 2 April 1910 in Turyn tussen twee buitelandse klubs, die Paryse SCUF en die Geneefse RC Servette, gehou. Twee weke later is die eerste Italiaanse rugbyklub, RC Torino, gestig, maar hulle het ná net een wedstryd teen die sokkerklub FC Pro Vercelli hulself weer ontbind.[13] Een jaar later het Stefano Bellandi, die bestuurder van die Teatro alla Scala in Milaan, die beslissende impuls vir rugby se vestiging in Italië gelewer. Hy het, nadat hy ’n aantal jare in Frankryk deurgebring en die rugbysport leer ken het, na Italië teruggekeer en sy militêre diens gedoen. Saam met die hulp van ’n Franse vriend het hy ’n rugby-afdeling by die sportklub US Milanese gestig. Dit het op 2 April 1911 op die Arena Civica teen ’n span uit Voiron sy eerste wedstryd gespeel. Volgens La Gazzetta dello Sport was die toeskouers ten spyte van die 0–15-nederlaag opgewonde, waarvolgens verdere wedstryde gereël is.[14]
Die Eerste Wêreldoorlog het hierdie ontwikkeling stopgesit. Ná die einde van die oorlog het Bellandi hom vir ’n herlewing van die Italiaanse rugbysport beywer en by die Milaanse Sport Club Italia ’n nuwe span saamgestel. Vervolgens het bykomende klubs ontstaan en middelgroot nywerheidsstede in die Povlakte soos Brescia, Parma, Rovigo en Treviso het in Italië se rugbyvestings ontwikkel (later het nog Rome, Napels en L’Aquila bygekom). Op 26 Julie 1927 het Bellandi ’n “Propagandakomitee” gestig en die Franse joernalis Henri Desgrange, stigter van die Tour de France, om ondersteuning gevra. Hy het gehelp om ’n aantal wedstryde van ’n nieamptelike Italiaanse keurspan teen verskeie Franse klubs te reël.[15] Enkele verteenwoordigers van die fascistiese Italiaanse regime het die propagandistiese waardes van die gewild wordende rugbysport opgemerk. Augusto Turati, sekretaris-generaals van die Partito Nazionale Fascista (PNF), het op 13 Mei 1928 die eerste wedstryd in die hoofstad gereël en die Stadio Nazionale del PNF beskikbaar gestel.[16] Enkele maande later, op 26 September, is uit die destydse Propagandakomitee die Italiaanse Rugbyfederasie (Federazione Italiana Rugby, FIR) gestig, wat vervolgens die eerste nasionale kampioenskap aangebied het.[17]
Die FIR het ook ’n amptelike nasionale span van stapel gestuur. Hul eerste toetswedstryd is op 29 Mei 1929 in Barcelona teen die eweneens debuutmakende Spanje gehou. Voor ’n skare van 62 000 op die Montjuicstadion en in teenwoordigheid van die Spaanse koning Alfons XIII[18] is hulle met 9–0 verslaan; die Spaanse span het uitsluitlik uit Katalane bestaan. ’n Jaar later het Italië wraak geneem en in Milaan hul eerste tuiswedstryd met 3–0 gewen.[19] Op 19 Oktober 1929 het die Olimpiese beheerliggaam Comitato Olimpico Nazionale Italiano (CONI) die FIR ná net een jaar se werk ontbind en die bestuur van die nasionale kampioenskap oorgeneem.[20] Die presiese rede is nie bekend nie, maar daar word vermoed dat die fascistiese regime teenoor die kulturele verskynsel rugby toenemend met misnoë bekyk het, aangesien dit van ’n Britse oorsprong was. Die onderdrukking van rugby het gepaard gegaan met pogings om ’n nuwe balsport, Volata genoem, af te dwing, wat volgens bewerings ’n nasaat van die Romeinse Harpastum was.[21] Volata het nie gewildheid verwerf nie, waarvolgens CONI die rugbybeheerligaam in Oktober 1932 herstig het, aanvanklik onder die Italiaaniseerde naam Federazione Italiana della Palla Ovale (“Italiaanse Ovaalbalbeheerliggaam”).[22] In die daaropvolgende jaar het die beheerliggaam onder die amper oorspronklike naam Federazione Italiana Rugbi verkeer (vanaf 1946 is rugby weer met ’n y geskryf).[17]
As gevolg van beheerliggaamsgeskille het die nasionale span drie jaar lank inaktief gebly, maar vanaf 1933 teen die destydse sterkste spanne van die vastelandse Europa te staan gekom. Die lede van die Internasionale Rugbyraad (IRR) het egter oorwegend met mekaar verkeer. Die Franse nasionale rugbyspan was tot in 1983 die enigste wêreldklasspan buite die IRR en tot in 1988 die enigste van die destydse Vyfnasies, wat amptelike toetswedstryde teen Italië gespeel het. Tydens die Europese Nasiesbeker is op 17 Oktober 1937 in Parys die eerste wedstryd tussen albei spanne gereël en het in ’n 5–43-nederlaag vir die Italianers geëindig. Die Fédération Internationale de Rugby Amateur (FIRA, vandag Rugby Europa) was verantwoordelik vir die reëling van die Europese Nasiesbeker. Dié alternatiewe internasionale beheerliggaam is in 1934 op inisiatief van Frankryk gestig, nadat hulle uit die Vyfnasies geskors is. Een van die stigtingslede was die FIR; die ander was Spanje, België, Portugal, Katalonië, Roemenië, Nederland en Nazi-Duitsland.[23]
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog is die spelbedryf in Italië amper sonder inperkings voortgesit. Die nasionale kampioenskap het tot in 1943 plaasgevind, terwyl die nasionale span tussen 1940 en 1942 twee toetswedstryde teen Roemenië en een teen Nazi-Duitsland gespeel het. Die Fasciste, wat die rugbysport ween sy Britse herkoms aanvanklik verwerp en wou verdring het, het dit nou heeltemal ondersteun en as ’n voorbeeld van kameraadskap en veggees bevorder. Die PNF se partysekretaris Achille Starace het rugby beskryf as ’n “vegkuns wat deur die fascistiese jeug beoefen en wyd versprei moet word”. Die verdere verspreiding se belemmering ná die Tweede Wêreldoorlog word aan hierdie politisering toegeskryf. Vir ’n tyd lang is rugby as ’n “fascistiese sportsoort” beskou. Die teenwoordigheid van die Geallieerdes wat vanaf 1943 rugbywedstryde teen mekaar gereël het, kon hierdie siening net ’n bietjie verander.[24]
In 1946 het die FIR die nasionale kampioenskap hervat, terwyl die nasionale span eers vanaf Maart 1948 weer toetswedstryde kon speel. Die nasionale span is vanaf sy begin deur ’n nasionale afrigter bestuur (in teenstelling met die Vyfnasies se spanne wat deur die spankaptein bestuur is), maar van die nasionale afrigters is so gereeld verander, dat net min kontinuïteit of ’n verbetering in die tegniese vaardighede kon plaasvind. Op die Europese vasteland het ’n soort driedeling ontstaan: Op die allesoorheersende Frankryk het met ’n bietjie afstand Italië gevolg, wat op sy beurt al die ander nasionale spanne oorheers het. Byvoorbeeld het die Azzurri gedurende die 1950’s elke toetswedstryd teen Duitsland, Roemenië, Spanje en Tsjeggo-Slowakye gewen, maar hulle het elke wedstryd teen Frankryk verloor – soms swak. Die beheerliggaam se bestuurders was bewus daarvan, dat die Italiaanse rugby net in vergelyking met die toonaangewende lande kon ontwikkel. In 1956 en 1958 het nieamptelike toere deur Wallis, Engeland en Ierland plaasgevind, waartydens die nasionale span teen drie klubs elk te staan gekom het.
Die 1960’s het min vordering gesien, afgesien van Roemenië se opkoms en hul wedywering om die tweede plek tydens die Europese Nasiesbeker. Die Roemene was self in staat om Frankryk die een of ander keer te klop, waarin die Italianers eers enkele dekades later kon slaag. Op 14 April 1963 was die Italianers op die punt om Frankryk se oorheersing te beëindig: In Grenoble het hulle tot in die doodsnikke met 12–6 voorgeloop, maar Frankryk het twee drieë gedruk en die wedstryd met 14–12 beklink.[25] Baie het hierdie naelskraapse nederlaag as die begin van ’n verwagte, volhoubare kwaliteitsvordering beskou, wat egter nie plaasgevind het nie.
In 1965 het die FIRA die Europese Nasiesbeker hervorm en in verskeie vlakke onderdeel. Italië het vanaf 1965/66 aan die toernooi se eerste afdeling deelgeneem en soos altyd as naaswenner agter Frankryk geëindig. Tydens die daaropvolgende toernooi in 1966/67 het Italië egter ’n agteruitgang beleef: Ná ’n naelskraapse oorwinning oor Portugal en twee swak nederlae teen Frankryk en Roemenië het Italië vir die eerste keer net die derde plek behaal. Die Franse Rugbyfederasie het vervolgens daarop besluit, om vir wedstryde teen Italië net ’n tweede span pleks van die nasionale span te ontplooi. Die volgende amptelike toetswedstryd tussen albei lande sou eers drie dekades later volg. Italië het homself aan die Europese Nasiesbeker 1967/68 onttrek en is na die tweede afdeling gerelegeer. Tydens die daaropvolgende Europese Nasiesbeker 1968/69 het die Italianers al die mededingers oorheers en die regstreekse bevordering behaal. Die beheerliggaam het tot die gevolgtrekking gekom, dat die nasionale span ook buite Europa ondervinding moes versamel. In Mei 1970 het die Azzurri se eerste amptelike toer buite Europa plaasgevind. Hulle het na Madagaskar getoer en twee toetswedstryde gespeel wat in naelskraapse oorwinnings geëindig het.[26]
Ná nederlae teen Frankryk, Marokko en Roemenië is Italië in 1971 weer in die tweede afdeling gerelegeer. Gedurende Junie en Julie 1973 het die Azzurri, met die voormalige Springbokstut Amos Du Plooey, weer ’n toer na Suider-Afrika onderneem. Hulle het teen ’n aantal Suid-Afrikaanse keurspanne en Rhodesië te staan gekom. Laasgenoemde wedstryd se status as ’n toetswedstryd is omstrede, aangesien dié land se onafhanklikheid destyds nie erken is nie.[27] Italië se enigste oorwinning was teen die Luiperds, die nieamptelike nasionale span van die bruin mense. Ten spyte van agt nederlae is hierdie toer as ’n mylpaal beskou, aangesien Italië homself aan die algemene publiek van ’n land in die Suidelike Halfrond kon vertoon.[28]
Ná drie toernooie in die tweede afdeling het Italië vir die 1974/75-seisoen weer tot die Europese Nasiesbeker se eerste afdeling gevorder en daar gevestig. Onder andere het hulle ’n 3–3-gelykop weg teen die latere kampioen Roemenië aangeteken, wat enkele maande voorheen Frankryk verslaan het. In 1974 en 1975 het twee kort toere na Groot-Brittanje gevolg, waartydens hulle teen county-keurspanne en die Engelse nasionale o/23-span uitgedraf het.[29] Ná hul tweede plek tydens die Europese Nasiesbeker 1975/76, danksy ’n 13–12-tuisoorwinning oor Roemenië, het op 4 November 1976 in Milaan hul eerste wedstryd teen die Australiese Wallabies gevolg. Dié wedstryd was nie ’n amptelike toetswedstryd nie en het in ’n naelskraapse 15–16-nederlaag geëindig wat tot nuwe hoop op ’n verdere ontwikkeling gelei het.[30] Hul afsluiting op die vierde plek tydens die Europese Nasiesbeker 1976/77 het die verhoogde verwagtinge egter weer gedemper. Onder andere het die Azzurri op 1 Mei 1977 weg teen Roemenië met 0–69 verloor, gelykstaande aan hul ergste nederlaag tot dusver.[31]
Destyds het die Italiaanse klubs buitelandse spelers (John Kirwan, Naas Botha, David Campese, Michael Lynagh) en afrigters (Julien Saby, Roy Bish, Greenwood, Nelie Smith) in diens begin neem, teen einde ’n hoër speelkwaliteit te verseker. Van hulle was veral Suid-Afrikaners, Australiërs en Nieu-Seelanders, waarvan sommige van ’n Italiaanse herkoms was. Op 24 Oktober 1978 is in Rovigo die eerste wedstryd teen die Argentynse Poemas gereël, wat Italië onverwags met 19–6 gewen het.[32] Ander destydse noemenswaardige prestasies was ’n 6–6-gelykop teen die Engelse o/23-span op 16 Mei in Brescia en ’n bemoedigende 12–18-nederlaag op 28 November 1979 in Rovigo teen die oënskynlik oorweldigende Nieu-Seelandse All Blacks (dié wedstryd was egter geen toetswedstryd nie).[33] In 1980 het die Azzurri ’n toer na Oseanië onderneem en onder andere twee toetswedstryde teen Fidji en die Cookeilande gespeel, maar hulle is in albei wedstryde verslaan.[29] Hulle het in 1981 ’n verdere toer sonder toetswedstryd na Australië onderneem, wat met sewe oorwinnings in nege wedstryde baie suksesvol was.[34]
Tydens die Europese Nasiesbeker 1981/82 het Italië vir die eerste keer in ses jaar weer op die tweede plek geëindig, met hul enigste nederlaag soos gewoonlik teen die Franse reserwespan. Tydens die daaropvolgende toernooi 1982/83 het die Azzurri vir die eerste keer bo hul Franse mededingers geëindig; weens ’n wegnederlaag teen Roemenië het hulle egter weer op die tweede plek geëindig. Tydens die vroeë 1980’s het die Italiaanse rugby een van sy suksesvolste tydperk gedurende die afgelope vyf dekades beleef, wat die IRR se lede in ’n toenemende mate vergoed het. Gedurende herfs 1983 het die Wallabies deur Europa getoer en die eerste van die “groot” rugbylande geword om teen die Azzurri ’n toetswedstryd te speel, wat op 23 Oktober in Rovigo plaasgevind het. Italië het met 7–29 verloor, maar dié wedstryd is as ’n eerste stap op pad na die wêreld se beste spanne beskou.[35]
Gedurende die 1980’s was tydens die Europese Nasiesbekers nie net Frankryk en Roemenië ernstige mededingers nie, maar ook die Sowjetunie, waardeur die Italianers die een of ander keer net op die derde of selfs vierde plek geëindig het. Gedurende somer 1983 het Italië vir die eerste keer na Noord-Amerika getoer, waartydens hulle ook twee toetswedstryde teen Kanada gespeel het. Terwyl die eerste in ’n verrassende nederlaag geëindig het, het hulle in die tweede ’n maklike oorwinning aangeteken.[36] Gedurende somer 1985 het die Azzurri weer na Suider-Afrika getoer. Hulle het in twee toetswedstryde teen Zimbabwe (die voormalige Rhodesië) te staan gekom en albei gewen.[37] In Mei 1986 het die Italianers ’n noemenswaardige prestasie aangeteken, toe hulle teen die Engelse nasionale o/23-span met 15–15-gelykop gespeel het. Aansluitend het hulle na Australië getoer en onder andere ’n toetswedstryd teen die Wallabies gespeel.[38]
In Mei 1985 het die IRR op die invoering van die Rugbywêreldbeker besluit. Die nuwe toernooi sou oorspronklik vir die lede voorbehou wees, maar die president van die Franse beheerliggaam, Albert Ferrasse (wat ook as FIRA se president gedien het), het vir sy toestemming vereis dat ook nielede kon deelneem.[39] Vervolgens is onder andere Italië vir deelname genooi. In die openingswedstryd van die eerste toernooi in 1987 het die Azzurri teen die medegasheer Nieu-Seeland te staan gekom; die All Blacks het die wedstryd heeltemal oorheers en aan hulle ’n 6–70-nederaag toegedien. Daarop het nog ’n nederlaag teen Argentinië en ’n naelskraapse oorwinning oor Fidji gevolg. Ondanks sy oorwinning het Italië die kwarteindrondte misgeloop, aangesien die aantal gedrukte drieë beslissend was.[40]
In 1987 het die nasionale speler Stefano Bettarello as destyds eerste Italianer ’n uitnodiging vir die tradisieryke keurspan Barbarians ontvang. Saam met die aansluiting van die FIR by die IRR dieselfde jaar is dit as ’n onmiskenmarke kenteken beskou, watter respek Italië intussen in die hoogste Britse rugbykringe geniet het.[41][42] Tydens ’n kort toer het hulle op 31 Desember 1988 vir die eerste keer teen Ierland te staan gekom. Dié wedstryd in Dublin, wat hulle met 15–31 verloor het, was die eerste toetswedstryd teen een van die “Tuisnasies” van die Britse Eilande. In Junie 1989 het hulle na Argentinië getoer, maar dit het met ’n nederlaag in die toetswedstryd teen die Poemas geëindig. Twee jaar later het weer ’n toer na Suider-Afrika gevolg, waartydens hulle twee toetswedstryde teen die pas onafhanklike Namibië gespeel het, maar in albei verslaan is.[43] Die Namibië-toer was ’n voorbereiding op die Rugbywêreldbeker 1991. In hul eerste groepwedstryd het die Azurri die Verenigde State verslaan, gevolg deur ’n nederlaag in hul eerste ontmoeting met Engeland. Soos verwag het hulle teen Nieu-Seeland die vordering tot die kwarteindrondte misgeloop, maar die naelskraapse 21–31-nederlaag was meer as agbaar.[44]
Italië het in die vroeë 1990’s gedurende die Europese Nasiesbeker hul afstand teenoor Frankryk stadigaan gereduseer. Onder andere het hulle tydens die Europese Nasiesbeker 1990/92 ná byna ’n dekade weer op die tweede plek geëindig. Nog suksesvoller was die toernooie in 1993 en 1994. Op 11 November 1993 het die Italianers ’n noemenswaardige prestasie behaal, toe hulle in Treviso die Franse reserwespan met 16–9 verslaan het. Ná ’n nederlaag teen Roemenië in die laaste wedstryd het hulle die titel weereens misgeloop, maar net weens hul erger punteverskil. Gedurende somer 1994 het hulle weer na Australië getoer, waar hulle twee toetswedstryde teen die Wallabies gespeel het. Die Azzurri is in albei wedstryde verslaan, maar net naelskraap. Op 12 Oktober dieselfde jaar het hulle tydens die Rugbywêreldbekerkwalifisering vir die eerste keer teen Wallis te staan gekom en is weer naelskraap verslaan. Die vordering, wat hulle tydens wedstryde teen teenstaanders van ’n hoë gehalte gemaak het, was op die hand liggend: Op 6 Mei 1995 het Italië in Treviso teen Ierland te staan gekom en met 22–12 gewen, dit was hul eerste oorwinning oor een van die Britse Eilande se spanne.[45] Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika het Italië sy eerste groepwedstryd teen Samoa met 18–42 swak verloor. Teen Engeland was die Azzurri op die punt van ’n oorwinning, maar hulle het met 20–27 verloor en die kwarteindrondte opnuut misgeloop. In die laaste groepwedstryd het hulle Argentinië met 31–25 verslaan.[46]
In Augustus 1995 het die Internasionale Rugbyraad al die beperkinge rakende die spelers se betaling opgehef en daarmee die professionele tydperk van die rugbyspel ingelui. Die oprigting van ooreenstemmende strukture op klubvlak het in Italië ’n aantal jare geneem, waarvolgens baie spelers na die finansieel sterk spanne in Frankryk of Engeland oorgeskakel het. Terwyl hul toenadering aan die beste Europese spanne stadig maar seker plaasgevind het, was hul kwaliteitsverskil teenoor die Suidelike Halfrond se spanne steeds erg. Onder andere het die All Blacks in Oktober 1995 in Bologna met 70–6 gewen. Twee weke later het die destydse wêreldkampioen, die Suid-Afrikaanse Springbokke, vir die eerste keer ’n toetswedstryd teen die Italianers gespeel en met 40–21 gewen. In 1996 het wedstryde teen Wallis, Australië, Engeland en vir die eerste keer Skotland gevolg, wat almal verlore gegaan het, maar deels net naelskraap. Destyds was Engeland op die punt om uit die Vyfnasies geskors en deur Italië vervang te word, nadat die Engelse Rugbyvoetbalunie sonder afspraak met die ander beheerliggame ’n eksklusiewe verdrag met British Sky Broadcasting gesluit het. Ná onderhandelinge agter geslote deure het dit egter nie gebeur nie, maar die Italiaanse beheerliggaam het nou die doelstelling gehad, om by hierdie eksklusiewe kring aan te sluit.[47][48]
In 1997 het die Azzurri twee oorwinnings oor Ierland aangeteken: op 4 Januarie weg in Dublin met 37–29 en op 20 Desember met 37–22 in Bologna.[49] In die tydperk daartussen het hulle ’n verdere prestasie behaal en vir die eerste keer die Europese Nasiesbeker gewen. Veral hul 40–32-wegoorwinning oor Frankryk in Grenoble op 22 Maart was deurslaggewend; dit was Italië se eerste oorwinning oor Frankryk in ’n amptelike toetswedstryd.[50] Dit was selfs opmerkliker in die lig van die feit, dat Frankryk een week voorheen die Vyfnasies 1997 met ’n Grand Slam beklink het.[51] Dit sou egter hul enigste titel tydens die Europese Nasiesbeker bly, nadat beide die Italianers en die Franse hulle aan dié toernooi onttrek het, omdat die kwaliteitsverskil teenoor die ander deelnemende spanne te groot geword het en albei beheerliggame nie meer belang gestel het nie. Op 16 Januarie 1998 het die Vyfnasieskomitee daarop besluit, om Italië vanaf 2000 aan die gesogte toernooi te laat deelneem, waarmee dit die Sesnasies geword het.[52] Agt dae later het hul eerste oorwinning oor Skotland gevolg.
Tydens die kwalifisering vir die Rugbywêreldbeker 1999 dieselfde jaar het Italië in Huddersfield teen Engeland naelskraap met 15–23 verloor, maar hulle het aangevoer dat ’n drie van Alessandro Troncon nie deur die skeidsregter toegeken is nie. Omdat die Italianers net voorheen Nederland met 60 punte verskil verslaan het, het hulle vir die toernooi gekwalifiseer.[53] Italië het met wedstryde teen spanne van ’n hoë gehalte voorberei, maar verskeie geskille tussen beheerliggaam, afrigter en spelers het die toer na Suid-Afrika in Junie 1999 oorskadu. Nadat die klubs geweier het om die versoekte spelers beskikbaar te stel, het ’n heeltemal onervare span vertrek. Die 0–101-nederlaag in Durban in die eerste van twee toetswedstryde teen die Springbokke was die ergste nederlaag in die Azzurri se geskiedenis.[54] Tydens die Rugbywêreldbeker 1999 is Italië vir die derde agtereenvolgende keer in dieselfde groep met Nieu-Seeland geplaas, saam met Engeland en Tonga. Soos verwag is die Azzurri deur die All Blacks en Engeland maklik verslaan. Maar hulle is ook deur Tonga, teen wie hulle vir die eerste keer te staan gekom het, met 28–25 verslaan, waardeur Italië net die laaste plek behaal het.[55][56]
Italië het in 2000 uiteindelik by die Sesnasies-toernooi aangesluit, maar sy aansluiting het met die aftrede van ’n aantal van sy beste spelers saamgeval. Die voormalige Nieu-Seelandse nasionale speler Brad Johnstone het die Italiaanse span tydens hul eerste deelnaame aan die Sesnasies afgerig. In hul eerste wedstryd op die hoogste Europese vlak op 5 Februarie 2000 in Rome het hulle die Skotte (die wenners van die Vyfnasies 1999) oorheers en met 34–20 geseëvier.[57] Aansluitend het hulle teen die ander spanne egter nie beïndruk nie en ná vier agtereenvolgende nederlae op die laaste plek geëindig. Tydens die toernooie 2001 en 2002 het hulle nie ’n oorwinning aangeteken nie en net met die “houtlepel” weggestap. Johnstone het probeer om aan ’n in die Franse kunsryke spelstyl spelende span ’n soort Angel-Saksiese dissipline oor te dra.[58][59] Die voormalige Italiaanse nasionale speler en destydse president van die beheerliggaam, Marco Bollesan, het die afrigter se werk gekritiseer. Hulle het ’n mededingende span, maar dit is weens tegniese, karakterlike en sielkundige redes nie in staat om van hul beste eienskappe te wys nie.[60] Gedurende herfs 2001 het hy ’n verdere Nieu-Seelander, John Kirwan, ter ondersteuning aangestel, wat vanaf die Sesnasies 2002 die leisels oorgeneem het.[61]
Onder Kirwan het die span met twee oorwinnings oor Spanje en Roemenië sonder moeilikhede vir die Rugbywêreldbeker 2003 gekwalifiseer. Aansluitend het hulle hul eerste wedstryd tydens die Sesnasies 2003 teen Wallis gewen en vervolgens vir die eerste keer die laaste plek vermy. Tydens die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië is Italië soos verwag deur Nieu-Seeland verslaan. Ná twee oorwinnings oor Kanada en Tonga het hulle die realistiese kans gehad tot die kwarteindrondte te vorder, maar die 15–27-nederlaag in hul laaste wedstryd teen Wallis het hulle uit die toernooi geskakel.[62] Tydens die Sesnasies 2004 het die Italianers weer die Skotte verslaan en bo hulle in die tabel geëindig. Soos in die jare tevore het hulle egter meer nederlae gely as oorwinnings aangeteken. Dit was ook van toepassing vir beweerde swakker opponente soos die Roemene, teen wie hulle tydens die 2004-midjaarrugbytoetsreeks verloor het. Nadat die Azzurri die Sesnasies 2005 weer sonder ’n oorwinning afgesluit en op die laaste plek geëindig het, is John Kirwan deur die Fransman Pierre Berbizier vervang.[63]
Onder die nuwe hoofafrigter het die Azzurri tydens die 2005-midjaarrugbytoetsreeks ’n groot prestasie behaal, toe hulle tydens hul Argentinië-toer ’n toetswedstryd teen die Poemas met 30–29 gewen het. Dit was nie net hul eerste wegoorwinning oor hierdie opponent nie,[64] maar ook die enigste oorwinning van ’n span uit die Noordelike Halfrond in die Suidelike Halfrond gedurende hierdie jaar. Tydens die Sesnasies 2006 het die Italianers weg teen Wallis met 18–18 gelykop geëindig, maar weereens nie beter as die laaste plek gevaar nie. Nogtans het hulle in die wedstryd teen Frankryk belowend vertoon, nadat hulle gedurende die eerste halftyd voorgeloop het. Met twee maklike oorwinnings oor Portugal en Rusland in Oktober 2006 het hulle sonder moeite vir die Rugbywêreldbeker 2007 gekwalifiseer. Tydens die Sesnasies 2007 het die Azzurri hul beste vertoning sedert hul aansluiting by dié toernooi gehad. Hulle het weg teen Skotland en tuis teen Wallis gewen en op die vierde plek geëindig. Die belangstelling in die rugbysport het nuwe hoogtes bereik, toe op die voorblaaie van die vernaamste Italiaanse koerante oor die Italiaanse sukses berig is. Meer as 10 000 aanhangers het die span ná die laaste wedstryd teen Ierland op die Romeinse Piazza del Popolo verwelkom.[65]
Met die doelstelling om vir die eerste keer die kwarteindrondte te bereik, het die span vir die Rugbywêreldbeker 2007 na Frankryk vertrek. Op die verwagte hoë nederlaag in hul eerste wedstryd teen Nieu-Seeland het twee oorwinnings oor Roemenië en Portugal gevolg, waardeur die laaste groepwedstryd in Saint-Étienne teen Skotland beslissend was. Alessandro Troncon het tydens die wedstryd die enigste drie gedruk, maar danksy die gebrek aan dissipline het die Skotte ’n aantal strafskoppe aangeteken. Italië het eindelik met 16–18 verloor en is uit die toernooi geskakel, maar hul derde plek het hulle regstreeks vir die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 2011 laat kwalifiseer.[66] Pierre Berbizier het reeds in April aangekondig, dat hy sy verdrag nie sou verleng nie. In Oktober 2007 het die FIR die Suid-Afrikaner Nick Mallett as sy plaasvervanger benoem.[67] Tydens die Sesnasies 2008 het Italië weer op die laaste plek geëindig, maar hulle het nietemin ’n oorwinning oor Skotland aangeteken, terwyl die nederlae teen Ierland en Engeland naelskraap was. In Junie het die Italianers ’n verdere verrassende wegoorwinning oor Argentinië aangeteken.[68] Ná hierdie sukses het egter ’n verloorreeks begin, wat oor ’n jaar sou streek. Tydens die 2008-jaareindrugbytoetsreeks, die Sesnasies 2009 en die 2009 midjaarrugbytoetsreeks is die Italianers in elke wedstryd verslaan. Ná altesaam 13 nederlae het hulle eers einde November 2009 weer ’n oorwinning aangeteken, toe hulle in Ascoli Piceno vir die eerste keer teen Samoa te staan gekom het.[69]
Ondanks ’n naelskraapse tuisoorwinning oor Skotland het Italië tydens die Sesnasies 2010 weer op die laaste plek geëindig. In die ander wedstryde in 2010 het hulle net teen Fidji ’n oorwinning aangeteken. Ten spyte van hul laaste plek tydens die Sesnasies 2011 het die span tydens hul tuiswedstryde beïndruk. In hul eerste wedstryd teen Ierland het hulle voorgeloop, toe die Iere twee minute voor die eindfluitjie ’n skepdoel aangeteken en met 13–13 gewen het. Vyf weke later het hulle Frankryk naelskraap met 22–21 verslaan, nadat hulle ’n 6–18-agterstand ingehaal het. Die Azzurri het dus hul eerste oorwinning oor le Bleus sedert 1997 aangeteken en vir die eerste keer die Giuseppe Garibaldi-trofee ingepalm.[70] Die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland het vir die Italianers soos die vorige toernooi verloop. Die eerste groepwedstryd teen Australië het hulle met 6–32 verloor, nadat hulle teen halftyd op 6–6 was.[71] Daarop het twee maklike oorwinnings oor Rusland en die Verenigde State gevolg, waardeur die laaste wedstryd beslissend was. Italië is deur die Iere oorheers en is met 6–36 uit die toernooi geskakel, maar hul derde plek het die regstreekse kwalifisering vir die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 2015 verseker.[72] Die beheerliggaam het reeds in Mei daarop besluit, om die verdrag met Mallett nie te hernu nie; ná die Rugbywêreldbeker is hy deur die Fransman Jacques Brunel vervang.[73]
In die tweede wedstryd tydens die Sesnasies 2012 was die Azzurri op die punt om Engeland te verslaan, toe hulle teen halftyd met 12–6 voorgeloop het, maar tog met 15–19 naelskraap verslaan is.[74] Hulle het die laaste plek vermy, nadat hulle in die laaste wedstryd die Skotte verslaan en bo hulle geëindig het.[75] Gedurende die jaar het Italië vir die eerste keer sedert 1998 drie agtereenvolgende oorwinnings aangeteken: teen Kanada, die VSA en Tonga. In die eerste wedstryd tydens die Sesnasies 2013 het Italië die Franse met 23–18 verslaan.[76] Op hierdie groot prestasie het Italië in die laaste wedstryd Ierland met 22–15 verslaan. Dit was hul eerste Sesnasies-oorwinning oor die Iere en Italië het vir die eerste keer sedert 2007 weer op die vierde plek geëindig.[77] Die Suid-Afrikaanse toernooi tydens die 2013 midjaarrugbytoetsreeks, waar die Italianers deur die Springbokke, Skotte en Samoane verslaan is, is later as ’n draaipunt beskou, waarvandaan hulle ’n afwaartse neiging getoon het.[78]
Dit het tydens die Sesnasies 2014 duidelik na vore getree, toe die Italianers sonder ’n oorwinning op die laaste plek geëindig het. Tot in Junie 2014 het hulle nege agtereenvolgende nederlae gely, waaronder vir die eerste keer teen Japan. Met ’n naelskraapse 22–19-wegoorwinning oor Skotland tydens die Sesnasies 2015 het hulle die “houtlepel” vermy, maar hulle het teen die ander spanne nie beïndruk nie.[79] Tot op hede (2021) was dit hul laaste oorwinning in ’n Sesnasies-wedstryd. Tydens die Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland het Italië soos tydens die twee vorige toernooie vertoon. Op die verwagte nederlaag in hul eerste wedstryd teen Frankryk het ’n verrassend naelskraapse 23–18-oorwinning oor Kanada gevolg. Met die 9–16-nederlaag in hul derde groepwedstryd teen Ierland is hulle uit die toernooi geskakel, waarvolgens hul 32–22-oorwinning oor Roemenië net kosmetiese waardes gehad het. Nietemin het hulle met hul derde plek weer regstreeks vir die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 2019 gekwalifiseer.[80]
Ná ’n baie swak prestasie tydens die Sesnasies 2016 is Brunel as hoofafrigter geskors en deur die Ier Conor O’Shea vervang. Saam met hom het die FIR die ontwikkelingsbestuurder Stephen Aboud opdrag gegee om ’n jeugprogram op te bou, teen einde van ’n hoër gehalte in die Italiaanse rugby.[81] Tydens die 2016 midjaarrugbytoetsreeks het die Azzurri een van die onlangse dekades se grootste verrassinge in internasionale rugby behaal, toe hulle op 19 November in Florence die Suid-Afrikaanse Springbokke in ’n fisiese wedstryd met 20–18 verslaan het. Dit was hul eerste oorwinning oor Suid-Afrika in 13 toetswedstryde en hul eerste oorwinning oor een van die drie “groot” spanne van die Suidelike Halfrond (Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika).[82] Dit was egter net ’n positiewe uitskieter, aangesien die daaropvolgende Sesnasies 2017 weer met vyf swak nederlae geëindig het. Die 10–63-tuisnederlaag teen Ierland was hul ergste in die Sesnasies-geskiedenis.[83] Van hul elf toetswedstryde in 2017 het die Azzurri net dié teen Fidji gewen. Die jare 2018 en 2019 het net ’n bietjie beter verloop: tydens die Sesnasies was Italië sonder enige kans en hulle het net enkele oorwinnings oor swakker spanne van die tweede vlak aangeteken.
Tydens die Rugbywêreldbeker 2019 in Japan het Italië aanvanklik beter vertoon en beide Namibië en Kanada maklik verslaan. Die daaropvolgende 3–49-nederlaag teen Suid-Afrika was egter teleurstellend. Hul laaste groepwedstryd teen Nieu-Seeland is net soos twee ander wedstryde weens tifoon Hagibis se verwoestinge afgelas en as ’n 0–0-gelykop geag.[84] Met hul derde plek het Italië weer regstreeks vir die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 2023 gekwalifiseer. Ná die toernooi het O’Shea as hoofafrigter bedank en is deur die Suid-Afrikaner Franco Smith vervang.[85] Die nuwe hoofafrigter was egter nie in staat om die algemene situasie om te keer; onder andere het die Azzurri in 2020 nie ’n oorwinning aangeteken nie. Die 10–50-nederlaag teen Frankryk in die eerste wedstryd tydens die Sesnasies 2021 was hul 28ste agtereenvolgende nederlaag tydens dié toernooi. Vervolgens het veral in die Britse en Ierse pers ’n groot debat oor Italië se mededingendheid binne die hoogste vlak begin. Byvoorbeeld het die voormalige Walliese spankaptein Sam Warburton ’n relegasiestelsel voorgestel. Dit sou ook aan ander spanne die kans gee om teen die sterkste spanne van Europa te speel. Hy het na Georgië verwys, wat sedert jare die Europese Rugbykampioenskap se eerste afdeling oorheers.[86] Ander deskundiges het daarvoor gepleit, om Italië deur Suid-Afrika of Argentinië te vervang.[87]
Im Mei 2021 is Franco Smith as leier van die Italiaanse rugby se hoëprestasie-afdeling benoem, terwyl die Nieu-Seelander Kieran Crowley as nuwe hoofafrigter aangestel is.[88] Op 19 Maart 2022, die laaste rondte tydens die Sesnasies 2022, het die Italianers ’n 22–21-wegoorwinning oor Wallis aangeteken, waarmee hulle ’n nederlaagreeks van 36 wedstryde by dié toernooi beëindig het; vir die Walliesers was dit hul eerste tuisnederlaag teen Italië nog.[89] Tydens die 2022 midjaarrugbytoetsreeks het Italië sy eerste wegnederlaag teen Georgië gely.[90] Daarteenoor kon Italië tydens die 2022 eindjaarrugbytoetsreeks Australië vir die eerste keer klop.[91] Tydens die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk het Italië eers Namibië maklik geklop (met 52–8), maar toe teen Uruguay (met 38–17) gesukkel en was teen die twee gunstelinge Nieu-Seeland (met 17–96) en die gasheer (met 7–60) sonder enige kans. Hul troosprys was weereens die regstreekse kwalifisering vir die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 2027.[92] Sedert Januarie 2024 is die Argentyn Gonzalo Quesada die hoofafrigter van Italië.[93] Tydens die Sesnasies 2024 het die Italianers met oorwinnings oor Skotland en Wallis, asook ’n gelykop teen Frankryk hul beste uitslag ooit behaal.[94]
Die Italiaanse span speel nie in die kleure van die nasionale vlag nie, maar in blou, as ’n huldeblyk aan die koninklike familie van die Huis van Savoje wat onder andere die Koninkryk Italië regeer het.[95] Die span se bynaam gli Azzurri (“die Hemelbloues”) is soos dié van die Italiaanse sokkerspan afgelei van die hemelblou trui.
Tussen 2000 en 2012 het Kappa die trui aan Italië verskaf.[96] Sedert 2017 word die Italiaanse span deur Macron toegerus. Tydens tuiswedstryde speel hulle in ’n hemelblou trui met die drie bande van die Italiaanse vlag op die moue, wit broeke en donkerblou sokkies. Indien hul opponent tradisioneel ook in ’n blou trui uitdraf – soos in wedstryde teen Argentinië, Frankryk en Skotland – speel Italië in ’n wit trui met rooi en groen strepe op die skouers, blou broeke en wit sokkies. Vittoria Assicurazioni, ’n Italiaanse versekeringsmaatskappy, is sedert 2022 die hoofborg van die Italiaanse span.
Voor elke wedstryd van die Italiaanse nasionale rugbyspan word Il Canto degli Italiani (Italiaans vir: “Die Lied van die Italianers”), die Italiaanse volkslied, gespeel.[97] In Italië staan dié volkslied ook as L’inno di Mameli ("Mameli se volkslied") bekend, en verwys na die outeur van die lirieke, Goffredo Mameli.
Van die begin van die Italiaanse rugbyspan tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die ou embleem op die trui aan die Italiaanse rugbyspan aan die Huis van Savoje se wapen ontleen. Die huidige embleem van Italië herinner aan die Italiaanse vlag (groen, wit en rooi), omring deur lourierblare, wat die grootsheid van die Romeinse geskiedenis en die oorwinnings van Julius Caesar in die oudheid simboliseer. Die lourierkrans is deur die Romeinse keisers gedra. Dit is ook as ’n beloning vir militêre oorwinnings aan die generaals toegeken.[98]
Sedert die 1980’s het die volgende truiverskaffers en -borge verskyn:
Tydperk | Verskaffer | Borg |
---|---|---|
1981–1989 | Adidas | – |
1990–1993 | Lotto | |
Rugbywêreldbeker 1991 | – | |
1993–1995 | Gilbert[99] | |
Rugbywêreldbeker 1995 | – | |
1996–1997 | Reebok | |
Europese Nasiesbeker 1997 | ||
1998–1999 | – | |
1999 | Cotton Oxford | |
Sesnasies 2000 – 2000 midjaarrugbytoetsreeks | Canterbury | Alliance UniChem |
2000 eindjaarrugbytoetsreeks – 2002 midjaarrugbytoetsreeks | Kappa | |
2002 eindjaarrugbytoetsreeks – 2006 eindjaarrugbytoetsreeks | Jaguar | |
Sesnasies 2007 – 2012 midjaarrugbytoetsreeks | Cariparma | |
2012 eindjaarrugbytoetsreeks – 2017 midjaarrugbytoetsreeks | Adidas | |
2017 eindjaarrugbytoetsreeks – 2018 midjaarrugbytoetsreeks | Macron | |
2018 eindjaarrugbytoetsreeks – 2021 eindjaarrugbytoetsreeks | Cattolica Assicurazioni | |
2021 eindjaarrugbytoetsreeks | Suzuki | |
Sesnasies 2022 | Bitpanda | |
2022 eindjaarrugbytoetsreeks | Vittoria Assicurazioni | |
Sesnasies 2023 |
Voor hul aansluiting by die Sesnasies in 2000 het Italië nie oor ’n vaste tuisstadion beskik nie. Die tuiswedstryde is in meer as drie dosyn se verskeie stadions aangebied, met ’n voorkeur aan Rome en die streke Lombardye en Veneto. Sedert hul aansluiting by die Sesnasies is Rome die plek van al hul tuiswedstryde tydens dié toernooi, terwyl die FIR vir al die ander wedstryde verskeie plekke dwaarsdeur die land inspan.
Vanaf 2000 tot in 2011 het Italië al sy Sesnasies-tuiswedstryde op die Stadio Flaminio in Rome gespeel. Met ’n kapasiteit van 32 000 (waarvan 8 000 onder ’n dak) was dit die kleinste van die Sesnasies-stadions. Dit is lankal nie meer as groot genoeg vir die Italiaanse nasionale rugbyspan beskou nie en daar was herhaaldelik berigte dat die nasionale span na óf Genua óf die Stadio Olimpico in Rome sal verhuis. Hierdie verandering is bevestig met die feit dat die Italiaanse Rugbyfederasie oor die gebroke beloftes van opknappings ontsteld geraak het. Oorspronklik is berig dat FIR Sesnasies-wedstryde na die Stadio Artemio Franchi in Florence wou verskuif.[100] In Januarie 2010 het die Italiaanse Rugbyfederasie aangekondig, dat die Stadio Flaminio in Florence opgeknap sal word, waarvolgens sy kapasiteit na 42 000 verhoog word.[101] Nadat die stad Rome uiteindelik met die beloofde opknappingswerk begin het, het FIR aangekondig dat die Sesnasies-wedstryde in Rome sal bly en in die Stadio Olimpico aangebied word;[102] hulle sal na die Flaminio terugkeer sodra dié stadion klaar is.[103] Die opknapping van die Stadio Flaminio sou oorspronklik in 2014 voltooi wees, maar daar is min vordering gemaak en teen September 2016 was die stadion steeds in ’n verlate toestand.[104] As gevolg van die gebrek aan vordering en die massief verhoogde koste het die FIR op 26 Februarie 2014 van ’n inspanning van die Stadio Flaminio afgesien en dit aan die sokkerbeheerliggaam Federazione Italiana Giuoco Calcio oorhandig.[105]
Sedert die 2010’s het rugbywedstryde nie net in Rome meer en meer toeskouers gelok nie, maar ook op ander plekke. In teenstelling met vorige jare, waar die meeste toeskouers ondersteuners van die Britse, Franse of Ierse spanne was, beskik Italië nou oor meer tuisskare. Sedert die Italianers na die Stadio Olimpico verhuis het, het die bywoning met groot getalle toegeneem.[106] Die Italiaanse span trek sedert 2008 groot skares, veral gedurende Sesnasieswedstryde en wedstryde teen Nieu-Seeland.
Net soos Argentinië is Italië die enigste vlak-een-rugbyland wat tot dusver nog nie ’n wedstryd tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi gehuisves het nie, alhoewel hulle vir beide die Rugbywêreldbeker 2015 en Rugbywêreldbeker 2019 aansoek gedoen het.[107][108]
Italië het 194 van sy 495 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 39,19%. Italië se statistieke in toetswedstryde teen al die lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek teen Maart 2024):[109]
Opponent | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
---|---|---|---|---|---|
Argentinië | 23 | 5 | 17 | 1 | 21,74 |
Australië | 19 | 1 | 18 | 0 | 5,26 |
België | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Bulgarye | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Cookeilande | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Duitsland | 20 | 15 | 4 | 1 | 75,00 |
Engeland | 31 | 0 | 31 | 0 | 0,00 |
Fidji | 13 | 7 | 6 | 0 | 53,85 |
Frankryk | 49 | 3 | 45 | 1 | 6,12 |
Georgië | 3 | 2 | 1 | 0 | 66,67 |
Ierland | 37 | 4 | 33 | 0 | 10,81 |
Japan | 9 | 7 | 2 | 0 | 77,78 |
Joego-Slawië | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Kanada | 10 | 8 | 2 | 0 | 80,00 |
Kroasië | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Madagaskar | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Marokko | 8 | 6 | 2 | 0 | 75,00 |
Namibië | 5 | 3 | 2 | 0 | 60,00 |
Nederland | 4 | 4 | 0 | 0 | 100,00 |
Nieu-Seeland | 16 | 0 | 16 | 0 | 0,00 |
Pasifiese Eilanders | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Pole | 7 | 6 | 1 | 0 | 85,71 |
Portugal | 13 | 11 | 1 | 1 | 84,62 |
Roemenië | 44 | 25 | 16 | 3 | 56,82 |
Rusland | 5 | 5 | 0 | 0 | 100,00 |
Samoa | 8 | 3 | 5 | 0 | 37,50 |
Skotland | 37 | 9 | 28 | 0 | 24,32 |
Sowjetunie | 14 | 4 | 9 | 1 | 28,57 |
Spanje | 27 | 23 | 3 | 1 | 85,19 |
Suid-Afrika | 16 | 1 | 15 | 0 | 6,25 |
Tsjeggië | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Tsjeggo-Slowakye | 11 | 9 | 1 | 1 | 81,82 |
Tonga | 5 | 3 | 2 | 0 | 60,00 |
Tunisië | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Uruguay | 5 | 5 | 0 | 0 | 100,00 |
Verenigde State | 5 | 5 | 0 | 0 | 100,00 |
Wallis | 33 | 4 | 28 | 1 | 12,12 |
Zimbabwe | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Algeheel | 495 | 194 | 290 | 11 | 39,19 |
Wedstryde teen verskeie saamgestelde spanne tydens oorsese toere van die amateurtydperk en die deur die Italiaanse Rugbyfederasie (FIR) nieerkende wedstryde teen nielede het vir ’n lang tydperk nie die volle status van toetswedstryde geniet nie – selfs nie terugwerkend nie. Die wedstryde teen Frankryk tydens die Europese Nasiesbeker word nie as toetswedstryde beskou nie, aangesien die Franse hul wedstryde met ’n reserwespan gespeel het.
Italië het tot dusver aan elke rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, maar hulle is die enigste van die Sesnasies-spanne wat nog nie tot die uitklopfase gevorder het. Terwyl hulle tydens die eerste drie toernooie se groepfases net een oorwinning elk aangeteken het, het hulle tydens die Rugbywêreldbeker 1999 geen oorwinning aangeteken nie. Daarna het hul prestasie tot ’n konstante vertoning van twee oorwinnings ontwikkel. Tot dusver was dit nog nie genoeg om tot die kwarteindrondte te vorder nie, maar is dit voldoende om regstreeks vir die daaropvolgende rugbywêreldbeker te kwalifiseer.
Die Italiaanse nasionale span het tussen 1935 en 1997 aan die Europese Nasiesbeker deelgeneem en gedurende hierdie tydperk een toernooi gewen.
Tot op hede is tydens Mediterreense Spele vier rugbytoernooie aangebied. Die Italiaanse nasionale span het aan al die toernooie deelgeneem en gedurende hierdie tydperk al die vier toernooie in die tweede plek afgesluit.
Italië se enigste jaarlikse toernooi is die Sesnasies-toernooi waar hulle teen vyf ander Europese lande speel: Engeland, Frankryk, Ierland, Skotland en Wallis. Italië het in 2000 by dié internasionale toernooi aangesluit wat toe die Sesnasies geword het; Italië kon sy eerste wedstryd tydens die Sesnasies 2000 teen Skotland met 34–20 wen. Hulle het tydens die Sesnasies 2003 vyfde geëindig, bo Wallis, nadat Italië hulle met 30–22 geklop het, en was die volgende jaar weer vyfde, dié keer bo Skotland, nadat Italië hulle met 20–14 verslaan het. In 2006 het Italië in ’n 18–18-gelykop teen Wallis op die Millennium-stadion in Cardiff gespeel. Italië se eerste drie oorwinnings tydens die Sesnasies, in 2000, 2003 en 2004, was voor ’n tuisskare op die Stadio Flaminio in Rome. Op 24 Februarie 2007 het hulle Skotland met 37–17 op Murrayfield vir hul eerste wegwen verslaan. Twee weke later het Italië Wallis vir die tweede keer verslaan, met 23–20 tuis in Rome. Dit was die eerste keer wat Italië twee van sy vyf wedstryde in een toernooi gewen het, en hulle eindig vervolgens op die vierde plek. Sedert 2007 ding Italië tydens die Sesnasies met Frankryk om die Giuseppe Garibaldi-trofee mee. Italië het die Giuseppe Garibaldi-trofee in 2011 vir die eerste keer gewen, nadat hulle Frankryk in ’n taai wedstryd met 22–21 verslaan het. Twee jaar later het Italië die trofee weer omhoog gehou, nadat hulle Frankryk met 23–18 geklop het.[110] Italië het in 2013 sy eerste oorwinning oor Ierland aangeteken, toe hulle die Iere met 22–15 verslaan het en hulle het op die vierde plek geëindig. Op 28 Februarie 2015 het Italië sy tweede wegwen oor Skotland ná ’n taai wedstryd met 22–21 aangeteken. Hul daaropvolgende oorwinning het tydens die Sesnasies 2022 weg in Cardiff teen Wallis gevolg, nadat hulle met 22–21 geseëvier het. Tydens dié toernooi het Italië vir die eerste keer teen Skotland om die Cuttittabeker teen Skotland gespeel.[111] In 2024 kon Italië dié trofee vir die eerste keer inpalm.[112]
Teen Maart 2024 het Italië 15 Sesnasies-wedstryde gewen, waarvan agt teen Skotland, vier teen Wallis, twee teen Frankryk en een teen Ierland. Engeland is die enigste span waarteen Italië tot dusver nog nie ’n oorwinning kon aanteken nie.[113][114][115][116][117]
Engeland | Frankryk | Ierland | Italië | Skotland | Wallis | |
---|---|---|---|---|---|---|
Toernooie | 128 | 95 | 130 | 25 | 130 | 130 |
Regstreekse oorwinnings (Gedeelde oorwinnings) | ||||||
Tuisnasies | 5 (4) | N.v.t. | 4 (4) | N.v.t. | 10 (3) | 7 (4) |
Vyfnasies | 17 (6) | 12 (8) | 6 (5) | N.v.t. | 5 (6) | 15 (8) |
Sesnasies | 7 | 6 | 6 | 0 | 0 | 6 |
Algeheel | 29 (10) | 18 (8) | 16 (9) | 0 (0) | 15 (9) | 28 (12) |
Grand Slams | ||||||
Tuisnasies | 0 | N.v.t. | 0 | N.v.t. | 0 | 2 |
Vyfnasies | 11 | 6 | 1 | N.v.t. | 3 | 6 |
Sesnasies | 2 | 4 | 3 | 0 | 0 | 5 |
Algeheel | 13 | 10 | 4 | 0 | 3 | 12 |
Driekrone | ||||||
Tuisnasies | 5 | N.v.t. | 2 | N.v.t. | 7 | 6 |
Vyfnasies | 16 | N.v.t. | 4 | N.v.t. | 3 | 11 |
Sesnasies | 5 | N.v.t. | 7 | N.v.t. | 0 | 5 |
Algeheel | 26 | N.v.t. | 13 | N.v.t. | 10 | 22 |
Houtlepel | ||||||
Tuisnasies | 11 | N.v.t. | 15 | N.v.t. | 8 | 9 |
Vyfnasies | 14 | 17 | 21 | N.v.t. | 21 | 12 |
Sesnasies | 0 | 1 | 0 | 18 | 4 | 2 |
Algeheel | 25 | 18 | 36 | 18 | 33 | 22 |
Gedurende die amateurtydperk het Italië maandelange oorsese toere onderneem, waartydens hulle teen ander nasionale spanne, plaaslike saamgestelde spanne en klubspanne gespeel het. Eweneens het oorsese spanne na Italië getoer.
Teen die jaar 2000 het die oorsese toere volgens die ou tradisie tot ’n einde gekom, aangesien die professionalisering van die rugbyspel te min tyd vir toere oorlaat (’n uitsondering is die Britse en Ierse Leeus se vierjaarlikse toere). Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Suidelike Halfrond en ander spanne buite die Sesnasies-toernooi tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Italië na die Suidelike Halfrond en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks tree Italië as gasheer op.
Die volgende spelers het die Italiaanse span gevorm tydens die Sesnasies-toernooi 2024:[118]
|
|
Tot dusver is nog geen Italiaanse speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.
Vervolgens die belangrikste statistieke van Italië se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.
(Korrek teen Maart 2024)
|
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
Naam | Tydperk | % Gewen |
---|---|---|
Arnaldo Cortese John Thomas | 1929– | 0 |
Arturo Cameroni Luigi Bricchi | 1930– | 100 |
Luigi Bricchi | 1932–1934 | 75 |
Luigi Bricchi Julien Saby | 1934–1935 | 100 |
Julien Saby | 1935–1936 | 0 |
Luigi Bricchi Michel Boucheron | 1936 | 50 |
Luigi Bricchi Julien Saby | 1937 | 40 |
Luigi Bricchi | 1938 | 0 |
Luigi Bricchi Giuseppe Sessa | 1938–1940 | 50 |
Romano Bonifazi | 1940–1941 | 50 |
Luigi Bricchi Franco Chiaserotti | 1941–1942 | – |
Luigi Bricchi Franco Chiaserotti | 1942 | 100 |
Tommaso Fattori | 1947–1949 | 50 |
Giorgio Briasco Antonio Radicini | 1949–1950 | 0 |
Romano Bonifazi | 1950 | – |
Francesco Vinci | 1950 | – |
Renzo Maffioli | 1950–1951 | – |
Renzo Maffioli Julien Saby | 1951–1954 | 66,7 |
Piermarcello Farinelli Aldo Invernici Umberto Silvestri | 1954–1956 | 62,5 |
Giulio Fereoli Aldo Invernici Umberto Silvestri | 1956–1957 | 50 |
Sergio Barilari Aldo Invernici Umberto Silvestri | 1957–1958 | 0 |
Sergio Barilari Mario Battaglini Aldo Invernici | 1958–1960 | 50 |
Sergio Barilari Romano Bonifazi | 1960–1962 | 50 |
Aldo Invernici | 1962–1965 | 28,5 |
Sergio Barilari Mario Martone | 1965–1967 | 42,8 |
Aldo Invernici | 1967–1970 | 87,5 |
Giordano Campice | 1970 | 100 |
Sergio Barilari | 1970–1971 | 0 |
Guglielmo Geremia | 1971 | 0 |
Aldo Invernici | 1971–1972 | – |
Umberto Levorato | 1972 | 25 |
Gianni Villa | 1972–1975 | 30 |
Roy Bish | 1975–1977 | 53,3 |
Isidoro Quaglio | 1977 | 50 |
Gwyn Evans | 1977–1978 | 20 |
Pierre Villepreux | 1978–1981 | 41,6 |
Paolo Paladini Marco Pulli | 1981–1985 | 57,1 |
Marco Bollesan | 1985–1988 | 36,8 |
Loreto Cucchiarelli | 1988–1989 | 14,3 |
Loreto Cucchiarelli Bertrand Fourcade | 1989 | 50 |
Bertrand Fourcade | 1990–1993 | 59,3 |
Georges Coste | 1993–1999 | 39,6 |
Massimo Mascioletti | 1999 | 40 |
Brad Johnstone | 1999–2002 | 18,5 |
John Kirwan | 2002–2005 | 31,3 |
Pierre Berbizier | 2005–2007 | 40 |
Nick Mallett | 2007–2011 | 21,4 |
Jacques Brunel | 2011–2016 | 22,0 |
Conor O’Shea | 2016–2019 | 23,1 |
Franco Smith | 2019–2021 | 0 |
Kieran Crowley | 2021–2023 | 31,50 |
Gonzalo Quesada | sedert 2024 | 40 |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.