Remove ads
land in Suidwes-Europa From Wikipedia, the free encyclopedia
Portugal (Portugees: [puɾtuˈɣal], ), amptelik die Portugese Republiek (República Portuguesa, [ʁɛˈpublikɐ puɾtuˈɣezɐ]), is 'n demokratiese republiek geleë in die suidwestelike hoek van Europa op die Iberiese Skiereiland waarvan dit sowat 'n sesde beslaan. Portugal word begrens deur Spanje in die noorde en ooste, met 'n gemeenskaplike grens wat oor 'n afstand van sowat 1 300 km loop, en deur die Atlantiese Oseaan in die weste en suide. Wes van die hoofstad Lissabon lê Kaap Roca, die mees westelike punt van die Europese vasteland. Ook die Asore- en Madeira-eilandgroepe maak deel uit van Portugal. Dit beslaan 'n oppervlakte van 92 090 km² en het 'n bevolking van 10 343 066 in 2024 gehad.[1]
| |||||
Nasionale leuse: Esta é a ditosa pátria, minha amada (Portugees vir: "Dit is my geliefde, gelukkige vaderland") | |||||
Volkslied: A Portuguesa (Portugees vir: "Die Portugese") | |||||
Hoofstad | Lissabon | ||||
Grootste stad | Lissabon | ||||
Amptelike tale | Portugees | ||||
Regering | Unitêre semi-presidensiële grondwetlike republiek Marcelo Rebelo de Sousa Luís Montenegro | ||||
Onafhanklikheid Vorming • Stigting • Herstigting • Souwereiniteit • Koninkryk • Erken • Pouslik erken • Herstel • Eerste grondwet • Republiek • Redemokrasie • Huidige grondwet |
868 1095 24 Junie 1128 25 Julie 1139 5 Oktober 1143 23 Mei 1179 1 Desember 1640 23 September 1822 5 Oktober 1910 25 April 1974 25 April 1976 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
92 090[1] km2 (111de) 35 556 myl2 1,2 (2015)[2] | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2021-sensus - Digtheid |
10 207 177[1] (92ste) 10 343 066[3] 110,8 / km2 (97ste) 287,1 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,874[5] (42ste) – baie hoog | ||||
Gini (2023) | 33,7[6] – medium | ||||
Geldeenheid | Euro (€) (EUR ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
WET (UTC±0) WEST (UTC+1) | ||||
Internet-TLD | .pt | ||||
Skakelkode | +351 |
Die in die 12de eeu gestigte Koninkryk Portugal het in die 15de eeu die tydperk van ontdekkings geïnisieer en in die eerste globale koloniale ryk ontwikkel. Die Koninkryk het die eerste en een van die grootste koloniale ryke met besittings in Afrika, Asië en Suid-Amerika geword, waarvan die agteruitgang in die 17de eeu begin het. In 1910 is die Portugese monargie in 'n militêre opstand verwyder en koning Emmanuel II is in ballingskap gedwing. Die Eerste Portugese Republiek is op 5 Oktober 1910 gestig en het tot en met generaal Gomes da Costa se staatsgreep in 1926 bestaan. Daarna was die land vir meer as 40 jaar onder die outoritêre diktatorskap van António de Oliveira Salazar. Die Angelierrewolusie op 25 April 1974 het dié regime omvergewerp en die pad gebaan vir die demokratiese Derde Portugese Republiek. Gelyktydig is die oudste koloniale ryk beëindig en dit in 1975 ontbind. Portugal is 'n lidstaat van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO, sedert 4 April 1949), die Verenigde Nasies (VN, sedert 14 Desember 1955), die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO, sedert 1961) en die Europese Unie (EU, sedert 1 Januarie 1986).
Portugal was oor 'n lang tydperk 'n emigrasieland; belangrike sentrums van die Portugese kultuur in die diaspora bestaan in Frankryk en in die Verenigde State (met sowat een tot twee miljoen Portugese elk) asook in Brasilië, Angola, Mosambiek, Switserland en Luxemburg. Brasilië en Spanje is belangrike bilaterale vennote. Toerisme is 'n belangrike ekonomiese sektor. Met sowat 17 miljoen toeriste elke jaar (in 2015)[7] is Portugal een van die mees besoekte lande wêreldwyd, gewilde bestemmings sluit in Algarve en die streek rondom die hoofstad Lissabon, maar ook die twee eilandgroepe Asore en Madeira. Die land is vir sy wynbou bekend, veral Portwyn, en 'n belangrike verskaffer van kurk.
Die woord "Portugal" is afgelei van die saamgestelde Romeins-Keltiese pleknaam Portus Cale[8][9] (op die plek van die huidige nedersettings Porto en Vila Nova de Gaia). Porto kom van Latyn vir hawe, portus; Cale se betekenis en oorsprong is onbekend. Die algemeenste verklaring is 'n etnoniem afgelei van die Callaeci, ook bekend as die Gallaeci wat die noordweste van die Iberiese Skiereiland bewoon het.[10] Volgens 'n ander teorie is Cale afgelei van die Keltiese woord vir "hawe".[11] Volgens 'n ander teorie was Cala 'n Keltiese godin. Sommige Franse geleerdes meen dat dit dalk afgelei is van Portus Gallus,[12] die "hawe van die Galliërs".
Teen 200 v.C. het die Romeine tydens die Tweede Puniese Oorlog Iberië van die Kartage verower. In dié proses het hulle Cale verower, dit in Portus Cale ("Hawe van Cale") hernoem en by die provinsie Gallaecia ingelyf. Tydens die Middeleeue het die Suebe en Wes-Gote na die gebied rondom Portus Cale verwys as Portucale. In die 7de en 8ste eeue het die naam Portucale verander in Portugale en teen die 9de eeu is dié term gebruik om na die gebied tussen die riviere Douro en Minho te verwys. Gedurende die 11de en 12de eeue is na Portugale, Portugallia, Portvgallo of Portvgalliae reeds verwys as Portugal.
Volgens skattings is die gebied van die huidige Portugal reeds sowat 500 000 jaar gelede deur Homo heidelbergensis en later deur Homo heidelbergensis se nasaat Neanderdaller bevolk. Uit 'n grot (Lapa do Picareiro) naby die Atlantiese kus in Sentraal-Portugal kom die vroegste vonds in Wes-Europa van die anatomies modern mens (Homo sapiens). Die ontdekte steengereedskap is op 'n ouderdom van 41 100 tot 38 100 jaar gedateer.[13][14] Rotstekeninge uit die Paleolitikum, wat die belangrikste van hulle soort wêreldwyd is, is op 'n ouderdom van tussen 22 000 tot 8 000 jaar gedateer.[15] Hoewel die oorgang na die Neolitikum laat gebeur het, het veral in Suid-Portugal die koperverwerking baie spoedig gevestig. Die eerste handelsbetrekkinge met ander Europese streke van Europa is uit hierdie tydperk gedokumenteer. Van 800 v.C. af het Fenisiërs handelsplekke langs die Algarve gestig. Van omtrent 600 v.C. het Grieke in die oostelike en noordoostelike gebiede talle klein nedersettings gestig. Teen die 6de tot die 3de eeu v.C. het in verskeie golwe Kelte geïmmigreer en met die Iberiërs gemeng. Naas die Kelte word ook die Lusitaniërs genoem, wat besondere weerstand ontbied het teen die Romeine en waarvan die Latynse landsnaam afgelei is.[16] Uit die vermenging van die Kelte met die inheemse kultuur het die Keltiberiërs ontstaan.
Van 450 v.C. af is die suidelike Iberiese Skiereiland deur Kartago gekoloniseer. Tot in 206 v.C. het die Romeine daarin geslaag om die Kartage te verdryf. Tydens die Tweede Puniese Oorlog, waarin talle Lusitaanse huursoldate vir Kartago geveg het, het Rome 'n teenaanval op die Iberiese Skiereiland geloods wat met 'n Romanisering gepaard gegaan het.[17] Aanvanklik is die Portugese gebied deur die Romeine as deel van die provinsie Hispania ulterior bestuur en van Augustus se bewind af onder die naam Lusitania, wat naas 'n groot deel van die huidige Portugal ook gebiede in die weste van die huidige Spanje ingesluit het. In Noord- en Noordoos-Portugal het die Romeine hewige weerstand in die gesig gestaar; eers in 19 v.C. kon hulle die gebied onderwerp. Daarna is die gebied sterk geromaniseer, stede is volgens Romeinse voorbeeld aangelê, Romeinse strate, villae en myne het ontstaan, en saam met die setlaars is Vulgêrlatyn, waaruit later Portugees ontstaan het, en die Christendom saamgebring.[18] Die Romeinse bewind het met die Volksverhuising geëindig; Suebe (van 409 af), Alane, Vandale en veral Wes-Gote (van 416 af) het binnegeval en op die gebied van die huidige Portugal kortstondige ryke gestig. Slegs die Suebe se ryk het ietwat langer bestaan, hul ryk rondom Braga is egter in 456 deur Teodorik II en in 585 vir 'n tweede keer deur Leovigild vernietig.[19]
In 711 het 'n Moorse leër onder Tariq ibn Zijad die Wes-Gotiese leër onder Roderik verslaan. Tot in 716 is die hele Wes-Gotiese Ryk deur die Omajjade verower, Lusitanië waarskynlik reeds in 713. Al-Andalus en veral die Emiraat, later Kalifaat Córdoba is deels deur uiters bekwame en suksesvolle heersers soos Abd al-Rahman I, Abd al-Rahman III en Al-Hakam II gelei en was een van die mees vooruitstrewende ryke van sy tyd. Ná sy verbrokkeling in verskeie Taifas het die grootste deel van Lusitanië aan die Taifa Badajoz behoort, die suidelikste deel aan Sevilla en aan ander klein koninkryke. Berberse setlaars het hulle gevestig, om klimaatsredes veral in die suide van die skiereiland. Die Moorse invloed op die Portugese kultuur en taal was sterk en blywend.[20]
Die Koninkryk Asturië was vir die More van geen belang nie. Hiervandaan het in die 9de eeu die Christelike Reconquista van die latere Portugal se gebied begin. In 868, tydens 'n fase van swakheid van die Emiraat Córdoba, is Portucale verower (Presúria) en in 879 Coimbra. Met die Presúria van Portucale deur Vímara Peres het in die gebied rondom Porto as deel van die Koninkryk Asturië-León 'n eerste Graafskap Portucale (Condado Portucalense) ontstaan. Nasate uit Vímara Peres se gesin het tot in 1071 oor dié streek geheers; Braga is herbou en die kasteel Guimarães is opgerig.[21] In 1071 is 'n rebellie deur die laaste graaf van Portucale, Nuno Mendes, teen die in 1065 tot koning van Galisië en Portugal gekroonde Garcia onderdruk. Die koning van León het teen 1095 Hendrik van Bourgondië met Portucale en Coimbra beleen. Die tweede Graafskap Portucale het ontstaan, wat ook Condado Portucalense genoem is, wat regstreeks gelei het tot die stigting van die onafhanklike Koninkryk Portugal.
Reeds Hendrik van Boergondië se seun, Alfons I, het in 1127 met ondersteuning van die plaaslike kleinadel (infanções) ná die dood van Hendrik in opstand gekom teen sy eie moeder, wie 'n in die huwelik met 'n Galisiese prins getree het. Nadat hy die Slag van Ourique kon wen, het hy baie aan aansien gewen, waarvolgens hy in 1143 met toestemming van Alfons VII van León en Kastilië die koninklike titel aangeneem het. In 1166 het León sy aanspraak op Portucale laat vaar, waarmee formele onafhanklikheid bereik is. Die heersers uit die Huis van Boergondië het daarna gestreef om hul gebied suidwaarts uit te brei en hulle het waarskynlik daarop gemik om hul mag oor die hele Lusitanië uit te brei. Kastilië het dit egter verhinder. Tot in 1250 is die Reconquista met die verowering van die Algarve, onder sterk deelname van buitelandse ridders en ridderordes, afgesluit.[22]
In 1383 het die Portugese Huis van Boergondië uitgesterf. 'n Buite-egtelike seun, Johann von Aviz het homself tot koning uitgeroep, kon Kastiliaanse aansprake op die Portugese troon in die Slag van Aljubarrota (in 1385) afweer en het 'n tweede Portugese dinastie gestig, die Huis van Aviz. Onder die konings van Aviz (veral Emmanuel I – hy was aan bewind van 1495 tot 1521) het Portugal 'n leidende Europese handels- en seemag geword en 'n alliansie met Engeland gesluit (Verdrag van Windsor). Hendrik die Seevaarder (1394–1460) het ontdekkingsreise langs die Wes-Afrikakus geïnisieer, wat die grondslag gevorm het van die Portugese Ryk, aanvanklik in Afrika, later in Suid-Amerika (Brasilië) asook Asië (Portugees-Indië, Ceylon, Malakka, Macau, Formosa, Oos-Timor e. a.) en die Europese uitbreiding. Die land het in 'n groot moondheid ontwikkel en veral danksy die inkomste uit die Indiese handel een van die rykste Europese nasies geword. Die land se kultuur het ook opgebloei (Luís de Camões).
In 1580 het die Huis van Aviz uitgesterf en Portugal het om dinastiese redes aan die Spaanse Huis van Habsburg (Iberiese Unie) geval. Die Spanjaarde was tot in 1640 aan bewind; Portugal het sy onafhanklikheid verloor, is gereguleer tot 'n Spaanse provinsie en was dele van sy koloniale ryk kwyt. In 1640 het die hertog van Braganza 'n adellike opstand aangevoer teen die Spaanse heerskappy en homself as Johannes IV tot koning uitgeroep. Hy het die voorlaaste Portugese dinastie gestig, die Huis van Braganza. In sy buitelandse en ekonomiese beleid het die land meer en meer afhanklik geword van Engeland (die Anglo-Portugese Ooreenkoms is die oudste steeds bestaande bilaterale vriendskapsooreenkoms en reeds in 1373 onderteken;[23] die Verdrag van Methuen in 1703). In 1755 het 'n aardbewing groot dele van die hoofstad Lissabon vernietig. Onder die eerste minister en hervormer Marquês de Pombal is die stad heropgebou en die land met deels drastiese metodes in 'n verligte absolutistiese staat omgeskep. Tydens die Sewejarige Oorlog het Spanje en Frankryk in 1761 die land aangeval, Pombal het die opperbevel oor die verenigde Portugese en Britse troepe aan Willem van Schaumburg-Lippe oorhandig. Willem kon die aanval stuit en sodoende Portugal se onafhanklikheid verdedig, waarna die land 'n party in die Verdrag van Parys was. In die daaropvolgende jare het hy die Portugese weermag grondig hervorm en langs die Spaanse grens die kasteel Elvas oprig. In 1807 het Napoleontiese troepe die land beset; die koninklike gesin moes na Brasilië vlug. Nadat die Franse met Britse hulp verdryf is, het die Liberale Rewolusie uitgebreek, die land het vir die eerste keer in sy geskiedenis 'n grondwet gekry (in 1821). Die daaropvolgende geveg tussen aanhangers van absolutisme en ondersteuners van 'n grondwetlike monargie is eers in 1834 met laasgenoemde se oorwinning in die Liberale Oorlog beslis. Op 7 September 1822 het Brasilië onder keiser Pedro I onafhanklik geword van Portugal.
Die tydperk ná die einde van die Liberale Oorlog is deur die konflik tussen regse en linkse liberaliste (Cartiste en Setembriste) gekenmerk. In 1853 het met koningin Maria II die Huis van Braganza in 'n direkte lyn uitgesterf, oor die huwelik van die koningin met Ferdinand II uit die Sakse-Koburg en Gotha het die Portugese taak van hierdie Duitse adellike huis die troon oorgeneem (tot in 1910). Die finale fase van die monarge was gekenmerk deur 'n groot armoede, 'n geringe opvoeding (80 persent van die Portugese was ongeletterd), algemene ekonomiese probleme (staatsbankrotskap in 1891) en deur republikeinse opstande wat in staatskrisisse uitgeloop het. Onder João Franco is die koninklike salarisse verder verhoog en die monargie se reputasie is verswak deur die sigbare teenstrydigheid tussen verpletterde staatsfinansies aan die een kant en die luukse, buitensporige leefstyl van die regerende familie aan die ander kant.[24] In 1908 is koning Karel I en sy seun, troonopvolger Lodewyk Filips, tydens 'n koetsrit geskiet. Slegs die seun Emanuel het dié sluipmoord oorleef.
Op 3 Oktober 1910 is die republikeinse parlementslid Miguel Bombarda in onduidelike omstandighede vermoor. In die daaropvolgende nag het in Lissabon rewolusionêre opstande uitgebreek. 'n Spoedig saamgestelde voorlopige regering het op 5 Oktober 1910 die republiek uitgeroep; koning Emanuel II het in Engelse ballingskap gegaan.[24] Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die jong Republiek Portugal in 1914 materiële steun en die ontplooiing van troepe aan die Verenigde Koninkryk toegesê. Alhoewel die land amptelik neutraal was, het die Portugese regering sy betrokkenheid by die Eerste Wêreldoorlog geregverdig met 'n ou alliansieooreenkoms tussen die twee lande wat in 1912 hernu is.[25]
In Maart 1916 het die land aan die kant van die Entente die Eerste Wêreldoorlog toegetree. Portugal het by tye tot 56 500 soldate gemobiliseer. Tydens die Vierde Slag van Ypres het die ekspedisiemag op 'n enkele dag amper 7 500 mans (gesneuweldes, vermiste, krygsgevangenes en gewondes) tydens 'n Duitse offensief verloor.[26] Portugese troepe het ook in Afrika geveg en deelgeneem aan beide die Oos-Afrika- en die Suidwes-Afrika-veldtog.
In die Eerste Republiek (tot in 1926) was daar algemene politieke onbestendigheid en chaotiese toestande. Dit is gekenmerk deur monargistiese en kommunisties opstande, staatsgreeppogings (onder andere deur Sidónio Pais in 1917) en swak, gereeld veranderende regerings sonder 'n parlementêre meerderheid. In 1926 het die weermag 'n staatsgreep uitgevoer en die eerste republiek beëindig. Onder die militêre het 'n burgerlike, António de Oliveira Salazar, van 1928 af minister van finansies, van 1932 af eerste minister, die magtigste geword. Hy het van 1933 af die Estado Novo ("die nuwe staat") geïmplementeer, 'n outoritêre regime met fascistiese neigings, 'n eenheidsparty (Nasionale Unie), staatsjeug en geheime polisie (Polícia Internacional e de Defesa do Estado, PIDE). Die diktator het met sy Katoliek-outoritêre en antidemokratiese ideologie die projek van 'n "standestaat" nagejaag.
Volgens die dekreet Nr. 19694 op 5 Mei 1931 het vroue die aktiewe en passiewe stemreg verkry onder die voorwaarde dat hulle dat hulle minstens hoërskool voltooi het; daarteenoor moes mans slegs kon lees en skryf.[27][28] Volgens Adams het hierdie klousule 'n baie ingeperkte stemreg vir hoogs opgeleide vroue tot gevolg gehad.[29] Met die kieswet D.L. 24631 van 6 November 1934 het almal wat kon lees en skryf die nasionale stemreg ontvang.[27][28] Sommige beperkings in die vrouestemreg in sekere verkiesings het egter van krag gebly tot in 1968.[27][28]
In sy buitelandse beleid het Salazar moue bande met Brittanje aangeknoop, terwyl hy in die Spaanse Burgeroorlog met die nasionale Spaanse magte gesimpatiseer en slim tussen die blokke gemaneuvreer het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die land neutraal gebly, die belangrike grondstof wolfram aan albei kante voorsien en was dit die operasiegebied van talle oorlogspartye se geheime agente. Salazar, wat van die begin af 'n geallieerde oorwinning verwag en Franco van 'n Spaanse neutraliteit help oortuig het, het in herfs 1943 uiteindelik die oprigting van Geallieerde militêre basisse op die Asore toegelaat.
In 1949 was Portugal 'n stigtingslid van die NAVO. Van 1960 af – die Jaar van Afrika, waartydens 18 lande hul onafhanklikheid verkry het – het die koloniale oorlog uitgebreek, wat in Afrika (Angola, Mosambiek, Guinee-Bissau) kwaai gevoer is (Angolese Oorlog vir Onafhanklikheid en Mosambiekse Vryheidsoorlog). Hierdie oorloë was selfs deel van 'n groter oorlogstoneel, naamlik die Rhodesiese Bosoorlog en die Suid-Afrikaanse Grensoorlog, albei was op hul beurt weer deel van die Koue Oorlog met Portugal en Suid-Afrika aan dieselfde kant. Die offisier Henrique Galvão se poging om die Salazar-bewind met die ontvoering van die passasierskip Santa Maria in Januarie 1961 in die Karibiese See te beëindig, het misluk, hoewel die Santa-Maria-saak internasionale aandag getrek het. In 1968 moes Salazar om gesondheidsredes bedank. Sy opvolger, Marcelo Caetano, kon nie tot besluit kom oor fundamentele hervormings nie. Vanweë die koloniale oorlog het Portugal toenemend internasionaal geïsoleer geraak, die kostes van die oorlog het gelei tot 'n groeiende staatskuld en inflasie.
Leidende militêrs het erken dat Portugal die koloniale oorlog nie kon wen nie. Weens die regering se onvermoë om 'n oplossing vir dié probleem te vind, het linkse militêre offisiere in die nag van 25 April 1974 'n staatsgreep uitgevoer. Die bevolking se algemene ontevredenheid met die diktatuur, verskerp deur die beginnende ekonomiese krisis (veroorsaak deur die eerste oliekrisis in 1973), het daartoe gelei dat groot dele van die bevolking met die opstandige offisiere gesimpatiseer het. Die algemene volksopstand, die Angelierrewolusie, het die Estado Novo spoedig omvergewerp. Die Portugese rewolusie se kenteken was rooi angeliers wat deur die bevolking in die opstandige soldate se geweerlope gesit is.
Op 14 Mei 1974 is 'n nuwe verkiesingswet goedgekeur (Wet 3/74, Artikel 4, Nommer 1).[30] Ná die Dekreetwet Nommer 621-A/74, Artikel 1.1 van 15 November 1974 was vir die grondwetgewende vergadering Portugese burgers stemgeregtig wat op 28 Februar 1975 18 jaar of ouer was.[30] Vir die eerste keer in die Portugese geskiedenis is daarmee die algemene stemreg ingevoer en in die daaropvolgende jaar gebruik: In April 1975 is die lede verkies van die grondwetgewende vergadering wat die grondwet van 1976 uitgevaardig het.[30] Dit is op 2 Junie 1976 goedgekeur[28] en daarmee vir alle verkiesings die gelyke stemreg vir beide vroue en mans in die grondwet opgeneem.[27] Die nuwe leiers het aan die Portugese kolonies onafhanklikheid toegestaan (1974/1975); Macau is in 1999 aan die Volksrepubliek China oorhandig.
Die eerste jare ná die rewolusie is oorheers deur die konflik tussen 'n meer konserwatiewe stroming (onder generaal Spínola) en 'n sosialistiese vleuel (onder hoofman Otelo Saraiva de Carvalho) binne die MFA (Movimento das Forças Armadas – "Weermagbeweging"), die vereniging van die opstandige offisiere. Aanvanklik het dit geblyk asof die sosialistiese stroming sou kon wen, nasionaliserings en grondhervormings is uitgevoer. Die grondwet van 1976 het die oorgang na sosialisme as die staat se doelwit bepaal.
Nadat die gematigde generaal Eanes die eerste presidentsverkiesings in 1976 volgens die nuwe grondwet teen Otelo Saraiva de Carvalho verrassend maklik kon wen, is die pad vir die land se terugkeer na 'n parlementêre demokrasie volgens Europese waardes gebaan. Eanes en die voorsitter van die Sosialistiese Party, Mário Soares (eerste minister van 1976 tot 1978 en van 1983 tot 1985, president van 1986 tot 1996), het die land in 1986 na die Europese Gemeenskap (EG, nou die Europese Unie) geneem.
In 1979 het vir die eerste keer sedert die Angelierrewolusie 'n regse politieke stroming weer die parlementsverkiesing gewen, naamlik die regerings onder Francisco Sá Carneiro en Francisco Pinto Balsemão. Die regering kon met die sosialistiese opposisie ooreenkom op 'n grondwetlike wysiging, waarmee die sosialistiese oorblyfsels verwyder is wat ná die Angelierrewolusie in die grondwet geskryf is. Die grondwetlike wysiging het in 1982 in werking getree en die voorheen belangrike rewolusionêre raad is met 'n Konstitusionele Hof na die voorbeeld van ander demokratiese lande vervang. In 1985 het Aníbal Cavaco Silva eerste minister geword. Sy konserwatiewe Sosiaal-Demokratiese Party (Partido Social Democrata, PSD) het tydens die verkiesings in 1987 'n groot oorwinning behaal; vir die eerste keer kon 'n party 'n volstrekte meerderheid wen. Cavaco Silva het tot in 1995 as eerste minister gedien. Hy het 'n neoliberale ekonomiese beleid nagestreef en die nasionaliserings uit die tydperk van die Angelierrewolusie teruggeneem. Van 1995 tot 2002 was die Sosialiste onder António Guterres weer aan bewind. In 2002 is die euro as geldeenheid ingevoer.
Tydens die parlementsverkiesings op 17 Maart 2002 het die regses weer aan bewind gekom. Met 'n kiesersopkoms van 62,3 persent het die konserwatiewe onder José Manuel Barroso 'n relatiewe stemmeerderheid van 40,1 persent ontvang, gevolg deur die Sosialistiese Party (Partido Socialista, PS) en die regskonserwatiewe Demokratiese en Sosiale Sentrum – Volksparty (Centro Democrático e Social – Partido Popular, CDS-PP) met onderskeidelik 37,9 en 8,8 persent. Met laasgenoemde party het Barroso 'n koalisieregering gevorm, waarin die populistiese voorsitter van die CDS-PP, Paulo Portas, minister van verdediging was en die CDS-PP ook die departemente justisie asook arbeid en sosiale sake oorgeneem het. Die sosialiste het egter aaneenlopend die president van die land gestel, aangesien Soares in 1996 deur die sosialis Jorge Sampaio opgevolg is.
In Julie 2004 is Barroso deur die Europese Raad genomineer om Romano Prodi op te volg as president van die Europese Unie se Kommissie. Sy opvolger as eerste minister het Pedro Santana Lopes geword, wat egter slegs kortstondig aan bewind was, aangesien president Sampaio reeds in November die parlement ontbind en vir Februarie 2005 nuwe verkiesings aangekondig het, waartydens die Sosialistiese Party met 121 van 230 setels vir die eerste keer in die geskiedenis 'n volstrekte meerderheid kon inpalm. Hul kandidaat José Sócrates is op 12 Maart 2005 ingesweer as nuwe eerste minister.
Op 22 Januarie 2006 het sowat 8,9 miljoen Portugese 'n nuwe president verkies. Die vorige president, die sosialis Jorge Sampaio, was ná twee ampstermyne nie beskikbaar vir herverkiesing nie. Reeds in die eerste stemming het die konserwatiewe kandidaat en voormalige eerste minister Aníbal Cavaco Silva (PSD) 'n volstrekte meerderheid van 50,6 persent by 'n kiesersopkoms van 62,6 persent teen vyf linkse kandidate behaal. Hy is deur 'n alliansie van die PSD en die CDS-PP ondersteun. Die 66-jarige professor in ekonomie, wat beskou word as die argitek van Portugal se ekonomiese opswaai tussen 1985 en 1995, het die eerste burgerlike president in Portugal sedert die Angelierrewolusie in 1974 geword. Hy is op 9 Maart 2006 vir 'n ampstermyn van vyf jaar ingesweer. Op 23 Januarie 2011 is Cavaco Silva herverkies.[31]
Die drastiese gevolge van die wêreldwye ekonomiese en finasiële krisis het die Verkiesingsveldtog tydens die parlementsverkiesings in 2009 oorheers. Hoewel die regerende Sosialiste 'n aansienlike aantal stemme verloor het en hul volstrekte meerderheid kwyt was, het hulle daarin geslaag om 'n relatiewe meerderheid te behaal. Daarmee het die regering Sócrates aan bewind gebly. Nadat die regering se spaarbeleid nie in die parlement goedgekeur is nie, het Sócrates op 23 Maart 2011 sy bedanking ingedien. In die daaropvolgende nuwe verkiesing het die Sosialiste 'n swak nederlaag gely. Vervolgens is op 15 Junie 2011 Pedro Passos Coelho, voorsitter van die met amper 40 persent van die stemme seëvierende liberaal-konserwatiewe Sosiaal-Demokratiese Party, tot nuwe eerste minister van Portugal benoem. Hy het 'n koalisieregering bestaande uit PSD en CDS-PP aangevoer, wat met 132 van 230 setels oor 'n stewige meerderheid beskik het.
Ná die parlementsverkiesings op 4 Oktober 2015 het die regerende party-alliansie Vorentoe Portugal (Portugal à Frente, PàF) die meeste stemme ontvang, maar sy volstrekte meerderheid verloor. Die vorige linkse opposisiepartye PS, Linksblok (Bloco de Esquerda, BE) en Eenheidsdemokratiese Koalisie (Coligação Democrática Unitária, CDU) het met 124 van die altesaam 230 setels oor 'n meerderheid beskik. Op 20 Oktober 2015 het António Costa (PS) vir president Anibal Cavaco Silva aangekondig om 'n linkse regering te vorm.[32] Cavaco Silva het egter aanvanklik die Sosialiste en Kommuniste se pogings gestuit om 'n regeringsalliansie te sluit en die sittende burgerlik-konserwatiewe eerste minister Pedro Passos Coelho opnuut tot regeringshoof benoem. In 'n televisietoespraak aan die nasie op die aand van 22 Oktober 2015 het Cavaco Silva dit geregverdig met bedagsaamheid teenoor die Europese Unie en die Euro[33] asook "finansiële instellings, beleggers en die markte".[34] Op 26 November 2015 is António Costa tot eerste minister benoem en hy het 'n afskaffing van die streng besuinigingsmaatreëls onder inagneming van die Europese Unie se voorwaardes belowe.[35] Op 24 Januarie 2016 is Marcelo Rebelo de Sousa (PSD) tot president verkies.[36] Ná die verkiesings in 2019 het hy op 26 Oktober 2019 'n minderheidsregering gevorm en ná die verkiesings in 2022 'n regering sonder 'n koalisievennoot. Portugal was in Junie 2021 die eerste land wie se ekonomiese stimulusprogram deur die Europese Kommissie goedgekeur is ná die ekonomiese ineenstorting as gevolg van die Corona-beperkings. Daarmee sal beleggings in omgewingsvriendelike produksieprosesse en digitalisering, asook in gesondheid, behuising en infrastruktuur vergemaklik word. Op 21 Maart 2024 is die konserwatiewe Luís Montenegro as Portugese eerste minister ingesweer.
Spanje, wat in die loop van die geskiedenis verskeie kere die historiese rol van "aartsvyand" gespeel het, is die enigste land waarmee Portugal 'n landgrens deel. Hierdie grens het – sedert die land in die 12de eeu 'n onafhanklike koninkryk geword het – grotendeels onveranderd gebly. Die grootste deel van die grens word deur bergreekse of twee riviere (Minho in die noorde en Guadiana in die suide) gevorm. Vroeë Portugese monarge het hierdie natuurlike grens verder versterk met 'n reeks ommuurde grensnedersettings waarvan sommige op heuwelpieke ontstaan het en van die grensstreek 'n skouspelagtige natuurtoneel met mensgemaakte elemente maak.
Die noorde van Portugal word deur 'n relatief koel en vogtige klimaat gekenmerk en bestaan uit twee historiese provinsies of landskappe: Minho in die noordweste, wat na die gelyknamige rivier genoem is, is een van die digbevolkste gebiede van die land. Sy grootste stede is Braga en Viana do Castelo. Minho is danksy die aangename klimaat 'n pragtige tuinlandskap, en die wingerde, wat teen die hellings van Minho se riviervalleie aangelê is, lewer die beroemde portwyn en Vinho Verde op. Ook verskillende soorte groente aard goed in die gebied. Minho se natuurlike flora is 'n mengsel van spesies uit die gematigde en subtropiese klimaatsones. Afhangende van die ligging bo seevlak gedy hier eike of kastaiings, denne- en olyfbome.
Die gewes Trás-os-Montes (letterlik: "Agter die berge") is die bergagtige binneland van Noord-Portugal, wat deur koue winters en baie warm somers gekenmerk word. Die plantegroei raak hier steeds kariger, hoe nader 'n mens by die Spaanse grens kom.
Baie riviere, waaronder die Rio Minho en Rio Douro, deursny die bergmassiewe van Minho en Trás-os-Montes. Die noorde van Portugal spog met die Nasionale Peneda-Gerêspark, die belangrikste natuurbewaringsgebied van die land. Hier vind 'n mens nog oorblyfsels van natuurlike bosse, waarin onder meer steeneike groei.
Sentraal-Portugal word deur heuwelland en berggebiede oorheers. Die Serra da Estrela-gebergte beskik selfs oor skioorde. Die belangrikste landskappe is Beira, Ribatejo (die Tejo-vlakte, wat ook die Tuin van Lissabon genoem word), Estremadura en die Tejo-monding aan die Atlantiese Oseaan. Die hele gewes is uiters vrugbaar en baie geskik vir wynbou – 'n tradisie, wat hier reeds deur die Romeine ingevoer is. Ander belangrike landbougewasse is graan, rys, sonneblomme en groente.
Die Tejorivier verdeel Sentraal-Portugal in twee helftes. Oorstromings, wat in die Ribatejo vroeër gereeld voorgekom het, word nou danksy 'n groot aantal damme verhoed. Die belangrikste stede van Sentraal-Portugal is Lissabon, Aveiro, Sintra, Coimbra, Viseu, Leiria, Castelo Branco en Santarém.
Die suide van Portugal word in drie landskappe verdeel – Terras do Sado, Alentejo en Algarve. Suid-Portugal bestaan hoofsaaklik uit vlaktes en heuwelagtige gebiede met 'n baie droë en warm klimaat. Alentejo, wat vroeër as Portugal se belangrikste graanstreek bekend gestaan het, is tans 'n yl bevolkte gebied, wat steeds meer van sy jong mense verloor deur migrasie na stedelike sentrums.
Die gebied word nou deur uitgestrekte graanlande met olywe en kurkeike oorheers. Portugal is die belangrikste verskaffer van kurk, wat uit die bas van kurkeike verkry word. Wyn en sonneblomme is die hoofsaaklike landbouprodukte. Die weivelde, wat in die lente met 'n blommeprag spog, speel 'n groot rol vir die plaaslike skaapteelt. Droogtes het in die afgelope jare tot groot verliese vir die landbousektor gelei en die gebied ervaar 'n ernstige ekonomiese agteruitgang as gevolg hiervan. 'n Aantal damme word tans opgerig om die nypende watertekort te verlig.
Alhoewel steeds meer eucalyptusbome in die suide aangeplant word, bly hierdie uitheemse plantasies omstrede, aangesien hulle baie kwesbaar is vir bosbrande. In die suidelike kusgebiede word veral dennebome aangetref en 'n aantal palmsoorte, wat behalwe vir die dwergpalm uitheems is.
Algarve is Portugal se mees suidelike streek. Hierdie kusgebied het 'n belangrike internasionale toeristebestemming geword, wat met rotsagtige kuslandskappe en lang sandstrande spog. Die belangrikste stede is Portalegre, Évora, Beja, Faro en Lagos. Die belangrikste rivier in Algarve is die Rio Guadiana, wat gedeeltelik ook die grens met Spanje vorm. Die flora in die gebied, veral vetplante (sukkulente), is goed by hitte en droogtes aangepas.
Twee eilandgroepe in die Atlantiese Oseaan maak deel uit van Portugal: Madeira ("Houteiland", Portugees amptelik Arquipélago da Madeira) met 'n oppervlak van 795 vierkante kilometer en die Asore ("Hawikseilande", Portugees amptelik Arquipélago dos Açores) met 'n oppervlak van 2 352 vierkante kilometer is albei van vulkaniese oorsprong. Portugal se hoogste bergpiek, die vulkaankeël Montanha do Pico (2 351 meter), verrys op die Asore. Die Madeiraeilandgroep se flora word deur tropiese en subtropiese spesies gekenmerk.
Portugal het 'n gematigde klimaat met matige temperatuurskommelinge – die noorde van die land het 'n seeklimaat wat deur die Golfstroom beïnvloed word, terwyl Sentraal-Portugal deur droë somers en matige winters gekenmerk word. Die winters is veral in die gebied rondom die hawestad Porto dikwels nat. Die lente begin in Februarie en is gewoonlik matig warm, en alhoewel die kwik tydens die Portugese somer duidelik styg, ervaar die land nie baie hoë temperature soos talle Spaanse geweste nie.
Ten opsigte van sy gemiddelde jaarlikse temperatuur word Lissabon as die warmste stad in Europa beskou, maar vanweë die matige temperatuurskommelinge word hier geen hoë uiterstes aangeteken nie. Daarenteen staan die provinsie Alentejo vir sy hoë somer- en die Serra da Estrela vir sy sneeu en winterkoue bekend. Die Algarve-kusstreek het die meeste sonskynure in Europa, tog kan temperature in die herfs- en winterseisoen danksy die invloed van die Atlantiese Oseaan veral in die koeler nagte duidelik daal.
Portugal is ten opsigte van sy inheemse bevolking 'n homogene land. Portugees is die moedertaal van die oorgrote meerderheid van die inwoners, met die uitsondering van die dorpe van Miranda do Douro, waar Mirandes, 'n Asturiese dialek, as omgangstaal gebruik word. Mirandes word as minderheidstaal erken.[1]
Die meeste Portugese is Rooms-Katolieke Christene (79,7%), met klein minderhede Protestante (2,2%), ander Christene (2,5%), ander godsdienste (1,1%) en ongebonde (14,5%).[1]
95% van die bevolking is etniese Portugese. Portugal is dekades lank deur emigrasie gekenmerk, en daar bestaan groot Portugese gemeenskappe in lande soos Frankryk en Suid-Afrika. Maar Portugal het reeds sedert die tydperk van die bevrydingsoorloë in sy voormalige kolonies 'n immigrasieland vir mense uit dié gebiede geword. Met Portugal se aansluiting by die Europese Unie en die vinnige ekonomiese groei het tienduisende immigrante uit Afrikalande soos Angola, Mosambiek en Kaap Verde, Suid-Amerika (Brasilië) en Oos-Europa (Rusland, Oekraïne en Moldowa) hulle in die land gevestig.[1]
Portugal, tradisioneel die armste land in Wes-Europa, het sedert sy toetreding tot die Europese Gemeenskap (die voorloper van die Europese Unie) in 1986 daarin geslaag om sy ekonomie te diversifiseer. In die volgende twee dekades het Portugese regerings talle staatsondernemings geprivatiseer en sleutelbedrywe soos finansiële dienste en telekommunikasie geliberaliseer. In 1999 het die land tot die Ekonomiese en Monetêre Unie toegetree. Saam met elf ander EU-lidstate het Portugal die Europese geldeenheid Euro op 1 Januarie 2002 as wettige betaalmiddel ingevoer.
Die Portugese ekonomie het gedurende die 1990's hoër groeisyfers getoon as die gemiddeld vir alle EU-lande, maar tussen 2001 en 2008 het die ekonomiese groei merkbaar afgeplat. Die wêreldwye finansiële krisis in 2008 het die Portugese ekonomie in die volgende jaar laat krimp. Tussen 2011 en 2013 is die land in 'n diep resessie gedompel nadat die regering, wat op buitelandse finansiële bystand deur die Europese Unie en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) aangewese was, op aandrang van dié twee instellings 'n beleid van besuiniging toegepas en belasting verhoog het. Binne 'n tydsbestek van drie jaar het Portugal EU- en IMF-lenings ter waarde van €78 miljard aangegaan.
Nadat Portugal die voorwaardes van die EU-IMF-reddingspakket nagekom het, het die Portugese ekonomie reeds in Mei 2014 vinnig genoeg herstel om die reddingsprogram op te skort. Stygende uitvoere en hoër besteding op privaat verbruik het met die herstelproses gehelp. Die groei van die bruto binnelandse produk (BBP) het in 2016 en 2017 versnel. Die werkloosheidsyfer was in 2017 met 9,7 persent nog relatief hoog, maar aansienlik laer as die rekordsyfer van 18 persent wat in 2013 aangeteken is. Die begrotingstekort het van 11,2 persent van die BBP in 2010 gedaal tot slegs 1,8 persent in 2017 – die laagste persentasie sedert die land se demokratiese regeringstelsel in 1974 herstel is. Die toerismesektor, 'n belangrike verskaffer van buitelandse valuta vir Portugal se toenemend diensgebaseerde ekonomie, het in 2017 met dubbelsyfers gegroei.
Nogtans gaan die land gebuk onder 'n hoë skuldlas wat in 2017 op 126,4 persent van die BBP (staatskuld); 124,9 persent van die BBP vir privaat ondernemings en 74,4 persent van die BBP vir privaat huishoudings beraam is. Die buitelandse skuldlas is ewe hoog met 92,5 persent van die BBP.
Portugal se hoofuitvoervennote is Spanje 25%, Frankryk 12%, Duitsland 11%, die Verenigde State 7% en die Verenigde Koninkryk 5% (in 2022). Portugal se hoofuitvoere is motors, kledingstukke, geraffineerde petroleum, motoronderdele/-toebehore en plastiekprodukte. Met weinig natuurlike hulpbronne om ekonomiese ontwikkeling te onderhou steun Portugal op ander lande vir meeste van sy grondstowwe; die land voer dus 'n verskeidenheid goedere in. Die land se hoofinvoervennote is Spanje 31%, Duitsland 11%, Frankryk 6%, die Volksrepubliek China 5% en Italië 5% (ook in 2022). Portugal se hoofinvoere is ruolie, motors, geraffineerde petroleum, aardgas en motoronderdele/-toebehore. Portugal se algehele grootste handelsvennote is almal EU-lidlande soos Spanje, Frankryk en Duitsland.[1]
Portugal word administratief onderverdeel in sewe streke (Noord-Portugal, Sentraal-Portugal, Wes en Taag-vallei, Groter Lissabon, Setúbal-skiereiland, Alentejo en Algarve), 18 distrikte (distritos), 308 distriksrade of munisipaliteite (municípios of concelhos), 3 092 siviele parogieë (freguesias) en twee outonome streke (regiões autónomas; die eilandgroepe Asore en Madeira). In stedelike gebiede en op eilande mag ander administratiewe eenhede gevestig word.
Streek | Hoofstad | Oppervlakte | Bevolking | ||
---|---|---|---|---|---|
1 | Noord-Portugal | Porto | 21 278 km² | 3 673 861 | |
2 | Sentraal-Portugaal | Coimbra | 22 636 km² | 1 695 635 | |
3 | Wes en Taag-vallei | Santarém | 9 839 km² | 852 583 | |
4 | Groter Lissabon | Lissabon | 1 580 km² | 2 126 578 | |
5 | Setúbal-skiereiland | Setúbal | 1 421 km² | 834 599 | |
6 | Alentejo | Évora | 27 329 km² | 474 701 | |
7 | Algarve | Faro | 4 997 km² | 484 122 | |
8 | Madeira | Funchal | 801 km² | 256 622 | |
9 | Asore | Ponta Delgada | 2 351 km² | 241 025 |
Distrik | Oppervlakte | Bevolking | Distrik | Oppervlakte | Bevolking | |||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|
1 | Lissabon | 2 761 km² | 2 355 867 | 10 | Guarda | 5 518 km² | 141 995 | |
2 | Leiria | 3 517 km² | 479 261 | 11 | Coimbra | 3 947 km² | 418 136 | |
3 | Santarém | 6 747 km² | 441 255 | 12 | Aveiro | 2 808 km² | 725 461 | |
4 | Setúbal | 5 064 km² | 902 863 | 13 | Viseu | 5 007 km² | 355 309 | |
5 | Beja | 10 225 km² | 148 881 | 14 | Bragança | 6 608 km² | 122 739 | |
6 | Faro | 4 960 km² | 484 122 | 15 | Vila Real | 4 328 km² | 185 086 | |
7 | Évora | 7 393 km² | 153 475 | 16 | Porto | 2 395 km² | 1 846 178 | |
8 | Portalegre | 6 065 km² | 104 081 | 17 | Braga | 2 673 km² | 863 547 | |
9 | Castelo Branco | 6 675 km² | 179 608 | 18 | Viana do Castelo | 2 255 km² | 234 215 |
Sokker is die gewildste sportsoort in Portugal. Die land se hoogste sokkerliga is die Primeira Liga wat deur die drie klubs FC Porto, Sporting CP en Benfica Lissabon oorheers word. Die oudste klub is Académica de Coimbra. Die Portugese nasionale sokkerspan, Seleção Nacional, het tydens die eindstryd van die Europese Sokkerkampioenskap 2016 die gasheerspan Frankryk geklop en sodoende sy eerste internasionale titel ingepalm. Daarbenewens het Portugal as naaswenner van die Europese Sokkerkampioenskap 2004 (in Portugal), derde tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966 en vierde tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2006 geëindig. Portugal se bekendste sokkerspeler is Cristiano Ronaldo. Portugal sal saam met Argentinië, Marokko, Paraguay, Spanje en Uruguay die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2030 aanbied.[39]
Daarbenewens geniet ander sportsoorte soos rolhokkie, basketbal, futsal, handbal en vlugbal ook sukses en gewildheid. Die Portugese nasionale rugbyspan kon vir die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk kwalifiseer, maar het laaste in die groepfase geëindig; hulle het ook vir die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk gekwalifiseer, waar hulle een oorwinning en gelykop elk in die groepfase kon aanteken. Hulle ding in die Europese Rugbykampioenskap met ander opkomende rugbyspanne mee. Die Estádio Universitário de Lisboa in Lissabon dien as hulle tuisstadion.
Portugal word as een van die beste gholf-bestemmings beskou.[40] Dit het verskeie toekennings deur die Wêreldgholftoekennings ontvang.[41] Portugal beskik met die Estoril-renbaan oor 'n motorsportrenbaan waar van 1984 tot 1996 die Portugese Grand Prix gejaag is.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.