From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Tongaanse nasionale rugbyspan (Engels: Tonga national rugby union team; Tongaans: timi feohi ʻakapulu fakafonua ʻa Tonga) is die nasionale rugbyspan wat Tonga in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Tonga geadministreer deur die Tongaanse Rugbyunie (Tonga Rugby Union, TRU) wat in 1923 gestig is. Tonga word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Tongaanse rugbyspan is tans (September 2024) 16de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Die span neem deel aan die jaarlikse Stille Oseaan-nasiesbeker, saam met Fidji, Japan en Samoa. Tonga is ’n lid van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Fidji; Samoa was tot in 2009 ook ’n lid, maar hulle het hulself onttrek.[5]
Tonga | ||||
Unie | Tongaanse Rugbyunie (TRU) | |||
Bynaam(e) | ʻIkale Tahi | |||
Embleem | die wit duif | |||
Stadion | Teufaiva Sportstadion, Nukuʻalofa | |||
Kapasiteit | 10 000 | |||
Afrigter(s) | Tevita Tu’ifua (sedert 2024) | |||
Kaptein(s) | Ben Tameifuna | |||
|
||||
Statistiek | ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | Sonatane Takulua (58)[1] | |||
Meeste toetspunte | Kurt Morath (340)[2] | |||
Meeste drieë | Sonatane Takulua en Fetu’u Vainikolo (17 elk)[3] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
Tonga 9–6 Fidji (Apia, Samoa; 15 Augustus 1924) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Tonga 119–0 Korea (Nukuʻalofa, Tonga; 22 Maart 2003) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
Nieu-Seeland 102–0 Tonga (Albany, Nieu-Seeland; 16 Junie 2000) Nieu-Seeland 102–0 Tonga (Auckland, Nieu-Seeland; 3 Julie 2021) | ||||
Wêreldbeker | ||||
Verskynings | 9/10 (Eerste in 1987) | |||
Beste uitslag | Eerste rondte, derde in groep 1995, 1999, 2007 en 2011 | |||
Unie webwerf | ||||
www.tongarugbyunion.org |
Tonga het in 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Fidji gespeel. Tonga, Fidji en Samoa speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Stille Oseaan-nasiesbeker (tot in 2005 Stille Oseaan-drienasies), waarin Tonga tot dusver een titel gewen het. Tonga se bynaam is ʻIkale Tahi (Tongaans vir: “seearend”) en hulle speel tradisioneel in rooi truie met wit broeke. Die Sipi Tau-oorlogsdans word voor elke toetswedstryd deur die Tongaanse span uitgevoer. Die oorlogsdans dateer uit die land se oorloë met naburige eilande.[6]
Tonga het tot dusver vir nege van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en net die Rugbywêreldbeker 1991 in die destydse Vyfnasies misgeloop. Hul beste prestasie tot dusver was die derde plek in hulle groepe in onderskeidelik 1995, 1999, 2007 en 2011.
Die beheerliggaam vir rugby in Tonga is die Tongaanse Rugbyunie (Engels: Tonga Rugby Union, TRU). Die Tongaanse Rugbyunie is in 1923 gestig en het in 1987, net voor die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[7] Daarbenewens het die Tongaanse Rugbyunie in 2000 ’n stigtingslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby) geword.[8]
Naas die amptelike nasionale span roep die Tongaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Tonga A is die tweede nasionale span van Tonga en hulle neem aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi deel. Die Tonga Sevens is die Tongaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en die Statebondspele deel. Nes ander rugbylande beskik Tonga oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[9] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.
As deel van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie het die beheerliggaam van 2004 wedstryde gereël van die Stille Oseaan-eilanders, ’n gemeensame keurspan van die drie Stille Oseaan-eilandstate Fidji, Samoa en Tonga. Aangesien die Stille Oseaan-eilanders nie die gewenste inkomste vir die beheerliggame gegenereer het nie, het die Samoaanse beheerliggaam dié samewerking in 2009 beëindig.[10] Sedert 2022 word die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) in die internasionale Superrugbytoernooi verteenwoordig deur die gesamentlike professionele span Moana Pasifika, wat aan dié toernooi deelneem saam met spanne uit Australië, Nieu-Seeland en een uit Fidji.[11]
Tonga is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.[6] Met ’n bevolking van sowat 100 000 is die keuring van talentvolle spelers in vergelyking met ander lande baie klein, maar Tonga behoort konstant aan die 15 beste spanne wêreldwyd en hulle is redelik mededingend. Dié land ly egter onder ’n groot uitvloei aan talent, aangesien baie spelers in die professionele ligas in Australië, Nieu-Seeland, Europa of Japan speel en deur die onderskeie land ingeburger word. Volgens Wêreldrugby se reëls is ’n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van ’n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit net drie jaar).[12] Van die bekendste spelers met ’n Tongaanse herkoms is Israel Folau, Toutai Kefu, Sekope Kepu, Viliami Ofahengaue, Wycliff Palu en George Smith (vir Australië), Doug Howlett en Jonah Lomu (vir Nieu-Seeland), Billy en Mako Vunipola (vir Engeland) asook Taulupe Faletau (vir Wallis).
Die Stille Oseaan-eilandstate se beheerliggame is nie sterk genoeg om hierdie uitvloei aan talent stop te sit nie. Soms word die sistematiese stropery in ’n ironiese manier met die 19de eeuse Blackbirding vergelyk.[13] Tongane, wat hul eie land verteenwoordig, kan nie altyd vir hul nasionale span verskyn nie, aangesien veral Engelse klubs huiwerig is om spelers vir toetswedstryde beskikbaar te stel. Die professionele span Moana Pasifika, wat sedert 2022 aan die internasionale toernooi Superrugby deelneem, sal as ’n oplossing dien. In dié span, wat in die Nieu-Seelandse stad Auckland gesetel is, speel Tongane saam met Samoane en Nieu-Seelanders met ’n Polinesiese herkoms; dié span streef ’n verkieslik “Stille Oseaan”-karakter na.[14]
’n Tradisionele Tongaanse sportsoort, en los verwant aan rugby, was Kasivaki. Die speelveld was in ’n baai tussen twee koraalrotse geleë en twee spanne het onder water probeer om ’n 35 kg swaar ovale steen na die rots aan die oorkant te beweeg. Die spelers het Kasivaki uitgeoefen ter vermaak van persone in die hoërklas, om hul vaardighede, hul sterktes en vegkrag in die water te vertoon. Soms het spelers verdrink en derhalwe het koning George Tupou I dié spel in die 19de eeu verbied.[15]
Nadat Tonga in 1900 ’n Britse protektoraat geword het, het seelui en sendelinge die rugbysport ingevoer. Tongaanse adellikes wat rugby tydens hul studies aan die vername Newington College in Sydney leer ken het, was ook by die invoering van dié sport in Tonga betrokke. Reeds in 1909 was rugby deel van die kurrikulum aan die twee leidende skole in die land, die Tupou College en die Tonga College.[8] Rugby het vinnig die by verre gewildste sportsoort geword en is deur groot dele van die bevolking goed ontvang. Volgens Robert F. Dewey, ’n historikus aan die DePauw-universiteit, was rugby destyds ’n belangrike manier om die plaaslike trots en strydlustige manlikheid uit te druk. Nadat baie tradisionele rituele gedurende die koloniale tydperk verdwyn het, was rugby ’n goeie plaasvervanger vir die uitvoering van ou konflikte. Buitendien was die atletiese vaardighede van die inheemse spelers glo heel geskik vir die rugbyspel. ’n Soortgelyke ontwikkeling het in twee ander Stille Oseaan-eilandstate plaasgevind: Fidji en Samoa.[13]
In 1923 is die Tongaanse Rugbyvoetbalunie (Engels: Tonga Rugby Football Union, die huidige Tongaanse Rugbyunie (TRU) gestig en die volgende jaar het dié beheerliggaam vir die eerste keer ’n nasionale span saamgestel. Die eerste toetswedstryd is op 15 Augustus op neutrale bodem in die Samoaanse hoofstad Apia teen Fidji gespeel en met 0–6 verloor.[6] Volgens ’n legende is die wedstryd op ’n rugbyveld met ’n groot boom op die middellyn gespeel, maar destydse koerantberigte vermeld niks daarvan nie.[8] Die wedstryd het om 7 v.m. afgeskop om die Samoaanse toeskouers kans te gee om ná die wedstryd te gaan werk. Aansluitend het Tonga die Fidjiane vir ’n toer van nege wedstryde gehuisves. Die eerste tuiswedstryd in die hoofstad Nukuʻalofa het die Tongane met 9–6 gewen, die tweede is met 3–14 verloor en in die derde het hulle met 0–0 gelykop gespeel.[6][16] Einde Julie 1926 het Tonga vir die eerste keer Fidji en Wes-Samoa besoek.[17] In 1928 en 1932 het die Tongane weer die Stille Oseaan-buur Wes-Samoa besoek; met uitsondering van die jaar 1930 het Fidji en Tonga tussen 1924 en 1934 al om die twee jaar ’n toetsreeks van drie wedstryde teen mekaar gespeel, waarby meestal die Fidjiane geseëvier het.
Die Tweede Wêreldoorlog het ’n meerjarige onderbreking van die internasionale speelprogram tot gevolg gehad. In 1947 het Tonga weer na Fidji en Wes-Samoa getoer. Terwyl hulle albei toetswedstryde in Fidji gewen het, het hulle hul eerste nederlaag teen Wes-Samoa gely.[18] Ná dié toer het die nasionale span veral om finansiële redes ’n verdere onderbreking van nege jaar gehad. Terwyl die Samoane Tonga in 1956 besoek het, het die Tongane in 1957 Wes-Samoa besoek. Tonga het tydens albei toere onoorwonne gebly. Tydens die 1958-toer van drie toetswedstryde na Fidji het hulle egter twee nederlae gely. Tot op daardie stadium was die internasionale kontakte op die onmiddellike Stille Oseaan-bure beperk. Dit het in 1960 verander, toe die Nieu-Seelandse Maori Nukuʻalofa besoek en met 16–27 verloor het; dit was die Maori se keurspan se enigste nederlaag tydens hul Oseaniese toer van nege wedstryde.[19]
Aan die eerste Suid-Stille Oseaan-spele 1963 in die Fidjiaanse hoofstad Suva het die Tongane deelgeneem. Met twee oorwinnings teen Wes-Samoa en twee nederlae teen Fidji het hulle in die tweede plek geëindig en sodoende die silwermedalje ingepalm.[20] In 1967 het hulle Fidji verwelkom en een jaar later het die teenbesoek plaasgevind; Fidji het albei toere van drie wedstryde elk beklink. In Augustus en September 1969 het die Tongane Nieu-Seeland vir die eerste keer besoek. Terwyl hulle nie toegelaat is om teen die All Blacks te speel nie het hulle in drie toetswedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori te staan gekom, waarvan hulle twee gewen het. Van die ander agt wedstryde teen plaaslike keurspanne het hulle drie gewen en in een gelykop gespeel.[21]
Ná ’n verdere onderbreking van drie jaar het die Tongane in Mei en Junie 1972 Wes-Samoa besoek en al die vier toetswedstryde gewen. ’n Jaar later het hulle hul eerste toer na Australië onderneem. Binne-in vyf weke het hulle in tien wedstryde gespeel. Op 11 Junie het Tonga in sy derde wedstryd in Sydney ’n verrassing behaal, toe hulle ’n hoogs aangeslane en sterbesaaide span van die stadbeheerliggaam Sydney Rugbyunie met 19–14 geklop het.[22] Op 23 Junie het hulle ook in Sydney in hul eerste toetswedstryd teen die Wallabies te staan gekom, maar hulle is deur die gasheer oorheers en met 30–12 verslaan. Sewe dae later het die Tongane in die tweede toetswedstryd in Brisbane ’n verrassende 16–11-oorwinning aangeteken, hul eerste teen een van die “groot” rugbylande. Die burgemeester van Brisbane het spontaan aangebied die span se verblyfkoste te betaal om ’n derde toetswedstryd moontlik te maak. Dit het egter nie gebeur nie, aangesien hulle op pad huis toe ’n wedstryd in Fidji gespeel het (waar hulle ’n nederlaag gely het).[23]
In September en Oktober 1975 het Tonga sy eerste toer buite Oseanië aangepak. Dit het elf wedstryde in die Verenigde Koninkryk en Kanada behels. Hulle het teen Britse plaaslike keurspanne net een oorwinning aangeteken. Albei wedstryde teen die nasionale spanne van Wallis en Skotland is nie as toetswedstryde erken nie en het in swak nederlae geëindig. Die eerste wedstryd teen die Kanadese nasionale span in Vancouver, wat in ’n maklike 40–14-oorwinning geëindig het, is wél as ’n toetswedstryd erken.[24] Die volgende langer toer het van Junie tot Augustus 1975 plaasgevind. Dit het in Wes-Samoa begin, waar hulle in vier toetswedstryde gespeel het. Twee het in nederlae geëindig; dit was die eerste nederlae teen dié span in amper drie dekades. Aansluitend het Tonga Nieu-Seeland besoek, waar hulle in nog twaalf wedstryde gespeel het. Onder andere is die twee toetswedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori verloor. In die ander tien wedstryde teen plaaslike spanne het Tonga agt oorwinnings aangeteken.[25] Tydens die Fidjiaanse toer in 1977 het hulle in al drie toetswedstryde nederlae gely, ook die wenrekord teen plaaslike spanne was negatief.[26]
Tydens die Suid-Stille Oseaan-spele 1979 in Suva het Tonga in die groepfase Wes-Samoa, die Salomonseilande en Tahiti geklop. Ná ’n maklike 58–3-oorwinning in die halfeindstryd teen Nieu-Kaledonië het die Tongane in die eindstryd Fidji ontmoet. Hulle het dié wedstryd naelskraap met 6–3 gewen en sodoende die goue medalje ingepalm, tot op hede hul beste prestasie.[27] In 1982 het die nuwe, jaarlikse Stille Oseaan-drienasiestoernooi gereelde wedstryde aan die drie voorste Stille Oseaan-rugbylande besorg en die vorige ongereelde wedersydse toere vervang. Die eerste drie toernooie het Tonga in die derde (en dus laaste) plek geëindig. Tydens die Suid-Stille Oseaan-spele 1983 in Apia het hul titelverdediging misluk. In die groepfase het Tonga Amerikaans-Samoa, die Cookeilande, Papoea-Nieu-Guinee en Tokelau geklop, maar hulle is deur die gasheer Wes-Samoa verslaan. Ook in die halfeindstryd is hulle deur Fidji geklop. Tonga het in die klein finale om die derde plek met 70–0 teen Nieu-Kaledonië gewen.[28]
In Junie 1986 het die Walliese nasionale span deur die Suidelike Stille Oseaan getoer en die eerste span van buite Oseanië geword om teen Tonga te speel. Die toetswedstryd het die Tongane naelskraap met 7–15 verloor. ’n Massageveg het vroeg in dié wedstryd uitgebreek waarby byna al die spelers betrokke was. Tydens ’n onthaal ná die wedstryd is die Walliese kaptein, Phil Davies, gevra om ’n paar woorde in Wallies aan die versameldes te rig. Met ’n rustige stemtoon het hy onder andere gesê: “Dit is die ergste plek waar ek ooit was. Ek is bly ek kom hier weg en wil nooit weer hierheen kom nie. Julle is die vuilste span teen wie ek ooit gespeel het” – wat die Tongane natuurlik nie verstaan het nie.[29] Sowat ’n maand later het Tonga die Stille Oseaan-drienasiestoernooi 1986 beklink; dit was die enigste titeloorwinning in die beheerliggaam se geskiedenis.[30]
Weens hul voortgesette goeie prestasies teen sterker geagte spanne was Tonga in 1987 een van die 16 lande wat deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) uitgenooi is om aan die eerste rugbywêreldbekertoernooi in 1987 in Australië en Nieu-Seeland deel te neem. Daarmee het gepaard gegaan die Tongaanse beheerliggaam se aansluiting by die voorheen redelik eksklusiewe IRVR, waarvolgens amper alle wedstryde met die tradisionele rugbylande as toetswedstryde erken is. Tydens die Rugbywêreldbeker het Tonga al sy drie groepwedstryde teen Kanada (met 4–37), Wallis (met 16–29) en Ierland (met 9–32) verloor. Vervolgens het Tonga Groep 2 in die laaste plek afgesluit.[31] Ook tydens die twee daaropvolgende Stille Oseaan-drienasies het hulle geen oorwinning aangeteken nie. In April 1990 het die Tongane in Tokio aan ’n toernooi deelgeneem wat as wêreldbekerkwalifisering gedien het. Hulle het teen Japan met 16–28 en teen Wes-Samoa met 3–12 verloor. Ten spyte van hul 45–22-oorwinning teen Korea het hulle die Rugbywêreldbeker 1991 misgeloop – tot op hede die enigste toernooi.[32]
Tydens die Stille Oseaan-drienasies 1992 het Tonga sy eerste oorwinning in dié toernooi in ses jaar aangeteken. Die Stille Oseaan-drienasies 1993 het ook as wêreldbekerkwalifisering gedien. Gedurende die uitspeelwedstryde wat uit ’n tuis- en wegwedstryd teen Fidji bestaan het, het hulle met ’n totale telling van 34–26 vir die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika gekwalifiseer.[33] Tussen albei kwalifiseringwedstryde het die Tongane vir twee weke deur Australië getoer. Onder andere het hulle vir die eerste keer in twintig jaar teen die Wallabies te staan gekom en het met 52–14 swak verloor.[34] Tydens hul 1995-toer na Japan in Februarie het die Tongane albei toetswedstryde maklik gewen.[35] Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika het Tonga teen Frankryk en Skotland te staan gekom en swak nederlae met onderskeidelik 10–38 en 5–41 gely. In die laaste groepwedstryd, wat nie meer beslissend was nie, het hulle hul eerste rugbywêreldbekeroorwinning aangeteken, toe die Ivoorkus met 29–11 verslaan is.[36] ’n Tragiese ongeluk van die Ivoriaanse speler Max Brito het dié wedstryd oorskadu: In die derde speelminuut het hy ná ’n duikslag op die grond geval, ’n aantal spelers het op hom beland en hy het bewusteloos bly lê. Hy is dadelik na ’n hospitaal geneem waar sy lewe gered is, maar hy het van die nek af verlam gebly en is sedertdien aan ’n rolstoel gekluister.[37]
Nadat die IRVR in Augustus 1995 al die beperkinge rakende die spelersbetaling opgehef en daarmee die professionele tydperk van die rugbyspel ingelui het, was dit vir Tonga en die ander Stille Oseaan-eilandstate terselfdertyd vloek én seën. Aan die een kant kon die nasionale span professionele spelers insluit wat oorwegend by klubs in Nieu-Seeland, Australië, Europa en Japan gespeel het. Aan die ander kant het die beheerliggaam altyd met die risiko gesit dat hierdie spelers meer as drie jaar oorsee gebly het en volgens die IRVR se woonplekreël deur die onderskeie beheerliggame gekeur kon word, waarvolgens hulle nie meer vir die nasionale span beskikbaar was nie. Buitendien het die finansieel sterk mededingers die reeds min mededingende plaaslike amateurliga erg verswak.[38] Buitendien bestaan – nog duideliker as in Fidji en Samoa – ’n groot ekonomiese afhanklikheid van terugoorplasings deur rugbyspelers wat tydelik of permanent migreer het.[39]
Die Tongane het gedurende Mei en Junie 1997 deur Suider-Afrika getoer. Onder andere het hulle een toetswedstryd elk teen Zimbabwe en Namibië gespeel en albei gewen. In hul eerste toetswedstryd teen die Suid-Afrikaanse Springbokke, die destydse wêreldkampioen, het hulle in Kaapstad egter met 10–74 ’n swak nederlaag gely.[40] Die Oseaniese rugbywêreldbekerkwalifisering is in September 1998 in Australië aangebied. Tonga is naelskraap deur Fidji en Samoa geklop en swak deur Australië. Aangesien die span tydens dié toernooi in die laaste plek geëindig en die regstreekse kwalifisering misgeloop het, moes hulle in Maart 1999 twee uitspeelwedstryde teen Georgië speel en Tonga het met ’n totale telling van 64–34 geseëvier. Aansluitend het hulle met twee maklike oorwinnings teen Korea en ’n totale telling van 140–41 vir die hooftoernooi gekwalifiseer.[41]
Gedurende somer 1999 het Tonga vir die eerste keer deelgeneem aan die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap, ’n toernooi vir die spanne in en rondom die Stille Oseaan, en die vyfde plek onder ses deelnemers beklee. In voorbereiding op die rugbywêreldbekertoernooi het Tonga in Junie 1999 Frankryk verwelkom en ’n verrassende 20–16-oorwinning behaal.[42] Vier maande later is die Rugbywêreldbeker 1999 in die destydse Vyfnasies aangebied. Hul eerste wedstryd teen die All Blacks het die Tongane soos verwag verloor (met 9–45). In die tweede groepwedstryd het hulle ’n naelskraapse 28–25-oorwinning teen Italië aangeteken. Aansluitend is hulle deur Engeland maklik met 10–101 verslaan, waarvolgens hulle in die derde plek geëindig het.[43]
Tydens die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap 2000 het Tonga die derde plek onder ses deelnemers beklee. Tussen die twee rondtes by dié toernooi het die Tongane op 16 Junie weg teen Nieu-Seeland gespeel en hulle is met 0–102 oorrompel; tot op hede is dit hul ergste nederlaag.[44] ’n Kort toer in November 2001 na die Verenigde Koninkryk, hul laaste oorsese toer volgens die ou tradisie, het in vier nederlae geëindig, onder andere teen die Skotse en Walliese nasionale spanne. Nadat die Tongane tydens die Stille Oseaan-drienasies 2002 die regstreekse rugbywêreldbekerkwalifisering versuim het, het hulle ’n verdere probeerslag nodig gehad. In Oktober en November 2002 het hulle albei wedstryde teen Papoea-Nieu-Guinee maklik gewen, met ’n totale telling van 131–26. In Maart 2003 het Tonga in die beslissende uitspeelwedstryde die Asiatiese verteenwoordiger Korea selfs meer oorheers en hulle met ’n totale telling van 194–0 oorrompel. Hul 119–0-oorwinning in die tweede wegwedstryd in Seoel is tot op hede die hoogste in die Tongaanse rugbygeskiedenis.[45] Die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië het egter teleurstellend verloop. Ná nederlae teen Italië (met 12–36), Wallis (met 20–27), Nieu-Seeland (met 7–91) en Kanada (met 7–24) het Tonga die laaste plek in sy groep beklee.[46]
In 2002 was die Tongaanse Rugbyunie een van die stigtingslede van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie wat die doelwit gehad het om die samewerking tussen die Stille Oseaan-rugbylande te verbeter. In 2004 het die lede die gesamentlike keurspan Stille Oseaan-eilanders byeengeroep, wat volgens die Britse en Ierse Leeus se voorbeeld al om die twee jaar pleks van die onderskeidelike nasionale span ’n aantal toetswedstryde teen die vername rugbylande gespeel het. Op mediumtermyn sou dié span homself vir ’n moontlike uitbreiding van die Super 12 of die Drienasiesreeks beskikbaar stel.[8] In altesaam elf wedstryde het hulle agt nederlae gely en drie oorwinnings aangeteken. In 2009 het die Samoaanse beheerliggaam die alliansie verlaat, aangesien hulle glo naas die sportiewe ook nie in die finansiële doelwitte geslaag het nie. Sedertdien het die Stille Oseaan-eilanders ondanks verskeie herlewingspogings nie meer byeengekom nie.[10] Nes die ander Stille Oseaan-rugbylande het Tonga toenemend gebuk gegaan onder die feit dat die beste spelers kontrakte by oorsese klubs onderteken het en vervolgens van hul onderskeie klubs afhanklik was. Dit en ander nadele het daartoe gelei dat die beheerliggame van Tonga, Fidji en Samoa in 2000 die kontinentale beheerliggaam Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby) van stapel gestuur het. Die FORU het vir ’n medebeslissingsreg by die IRR se uitvoerende raad aangeklop en dit is in 2004 toegestaan. Die meer as ’n dosyn lede moet egter twee setels deel en word dus steeds erg benadeel teenoor die “groot” rugbylande.[47]
In 2006 is die vorige Stille Oseaan-drienasies met die nuwe Stille Oseaan-nasiesbeker vervang. Die eerste toernooi (aanvanklik Stille Oseaan-vyfnasies genoem) het Tonga in die vierde plek onder vyf deelnemers afgesluit. Tydens die daaropvolgende rugbywêreldbekerkwalifisering het Tonga weer teen maklike spanne te staan gekom. Met twee maklike oorwinnings teen die Cookeilande in Junie en Julie 2006 het hulle tot die uitspeelwedstryd teen die Asiatiese verteenwoordiger gevorder. Hulle het weer teen Korea te staan gekom en hulle in Februarie 2007 met 83–3 geklop.[48] Die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk is tot op hede die suksesvolste in die Tongaanse rugbygeskiedenis. In die eerste wedstryd het hulle die Verenigde State met 25–15 geklop, maar hul 19–15-oorwinning teen die aartsvyand Samoa was selfs nog belangriker. Ná dié twee oorwinnings het Tonga teen die twee moeilikste spanne in hul groep te staan gekom. In albei wedstryde teen die Suid-Afrikaanse Springbokke (met 25–30) en Engeland (met 20–36) was die Tongane amper mededingend en het die gunstelinge byna verslaan. Veral hul naelskraapse uitslag teen die latere wêreldkampioen Suid-Afrika het heelwat opskudding veroorsaak. Tonga het sy groep in die derde plek afgesluit, waardeur hulle regstreeks vir die volgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer het.[49]
Tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2009 is vir ’n lang tydperk die laaste wedstryde in Nukuʻalofa gespeel, aangesien die Teufaiva Sportstadion in só ’n mate vervalle was, dat dit nie langer vir wedstryde geskik was nie. Die staat het nie die geld vir die dringend nodige opknapping gehad nie en in die hele Tonga was geen gelykwaardige plaasvervanger beskikbaar nie, waarvolgens vir die volgende jare al die tuiswedstryde in die buiteland gespeel moes word (hoofsaaklik in Nieu-Seeland en Fidji).[50] Tydens die eindjaarrugbytoetsreekse het hulle verskeie kere op neutrale grond in Europa teen die Verenigde State gespeel, aangesien beide spanne daar talle spelers kon inspan.
Ten spyte van die omstandighede kon die Tongane steeds redelik goed tred hou en hulle was soms in staat om vir die een of ander verrassing te sorg. Tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2011 het Tonga die eerste plek beklee, maar hulle is ná hul naelskraapse 27–28-nederlaag teen die Japanners van hul toernooititel ontneem.[51] Tydens die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland is die Tongane in hul eerste wedstryd deur die gasheer en latere wêreldkampioen met 41–10 verslaan. Daarop het ’n redelik onverwagse 20–25-nederlaag teen Kanada en ’n 31–18-oorwinning teen Japan gevolg. In hul laaste wedstryd het hulle in een van die grootste verrassings in die rugbywêreldbekergeskiedenis geslaag, toe hulle die absolute gunstelinge Frankryk met 19–14 geklop het.[52] Tonga het sy groep in die derde plek afgesluit, waardeur hulle weer regstreeks vir die volgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer het, terwyl Frankryk ondanks die nederlaag tot die kwarteindrondte gevorder en selfs as naaswenner geëindig het.[53]
Tydens die 2012 eindjaarrugbytoetsreeks een jaar later het Tonga die volgende verrassende oorwinning teen ’n vlak-een-span aangeteken, to hulle Skotland weg met 21–15 verslaan het, hul eerste oorwinning teen dié span.[54] Tydelik het Tonga weens sy goeie prestasies op Wêreldrugby se wêreldranglys die negende plek beklee, hul beste plasing tot op hede. Andersins het Tonga meer teen tweede vlak-spanne van buite Oseanië gespeel, waarby hul wenrekord redelik gebalanseerd was. Byvoorbeeld het hulle tydens ’n voorbereidingswedstryd op die rugbywêreldbekertoernooi in September 2015 hul eerste oorwinning teen Roemenië aangeteken. Die aansluitende Rugbywêreldbeker 2015 het redelik teleurstellend verloop. In hul eerste groepwedstryd is die Tongane deur die Georgiërs met 17–10 verslaan, in hulle tweede wedstryd het Tonga sy enigste oorwinning aangeteken, toe hulle Namibië met 35–21 geklop het. Hul eerste ontmoeting teen Argentinië het in ’n 16–45-nederlaag geëindig en in hul laaste wedstryd is Tonga deur die latere wêreldkampioen Nieu-Seeland oorheers (met 9–47). Tonga het in die vierde plek geëindig en sodoende die regstreekse kwalifisering vir die volgende toernooi misgeloop.[55]
Ook in die daaropvolgende jare was hul wenrekord teen tweede vlak-spanne amper gebalanseerd, terwyl verrassende oorwinnings teen “groot” rugbylande maar skaars was. ’n Uitsondering was ’n 19–17-wegoorwinnging teen Italië tydens die 2016 eindjaarrugbytoetsreeks (nadat laasgenoemde Suid-Afrika ’n week tevore verslaan het).[56] In 2017 kon die Teufaiva-stadion danksy finansiële ondersteuning deur die Nieu-Seelandse regering herstel word.[57] Die Walliesers het die vordering wat gemaak is as onvoldoende beskou en ’n beplande toetswedstryd teen die Tongane na Auckland laat verskuif.[58] Tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2017 het Fidji en Samoa egter Tonga besoek en vir die eerste tuiswedstryde in agt jaar gesorg.[57] Met ’n 30–26-oorwinning teen Samoa het Tonga vir die rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer. Besoeke deur ander spanne het egter nie plaasgevind nie, aangesien die stadion in Februarie 2018 deur ’n sikloon beskadig is en weer herstel moes word.[59]
Tydens die Rugbywêreldbeker 2019 in Japan het Tonga soos vier jaar voorheen in die vierde plek geëindig en hulle is vroeg uitgeskakel. Hul eerste twee wedstryde teen Engeland (met 3–53) en Argentinië (met 12–28) het in redelik swak nederlae geëindig. In hul derde groepwedstryd het Tonga teen Frankryk amper weer ’n verrassing behaal: Nadat die Franse blykbaar met 17–0 goed voorgeloop het, het die Tongane dié voorsprong laat krimp en naelskraap met 21–23 verloor.[60] Hul 31–19-oorwinning teen die Verenigde State was nie meer van belang nie. As gevolg van die reisbeperkings tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie kon die Tongane amper vir twee jaar in geen wedstryd meer speel nie. Eers tydens die 2021 midjaarrugbytoetsreeks in Julie 2021 het hulle in ’n wegwedstryd teen die Nieu-Seelandse All Blacks gespeel. Weens hul gebreek aan speloefening het die erg verswakte Tongane ’n geskiedkundige 0–102-nederlaag gely, waardeur hul vorige ergste oorwinning uit 2000 teen dieselfde span egaliseer is.[61] Die eerste deel van die rugbywêreldbekerkwalifisering is weens die pandemie ook in Nieu-Seeland aangebied. Ná twee nederlae teen Samoa het in die Oseaniese uitspeelwedstryd ’n maklike oorwinning teen die Cookeilande gevolg; in Julie 2022 het hulle die uitspeelwedstryd teen die Asiatiese verteenwoordiger Hongkong gewen en sodoende vir die hooftoernooi gekwalifiseer.[62]
Aan die begin van 2022 het Wêreldrugby ’n nuwe reël geïmplementeer wat vir die Stille Oseaan-eilandstate as baie voordelig beskou word. Hiervolgens kan nasionale spelers van ’n “groot” rugbyland na ’n ander land oorskakel, ongeag die aantal toetswedstryde wat tot dusver gespeel is. Hiervoor moes 36 maande verloop het sedert die laaste toetswedstryd en die speler moet in die betrokke land gebore wees; ’n oorskakeling is ook moontlik met ’n ouer of grootouer wat daar gebore is. Vervolgens kon talle spelers met ’n Tongaanse, Fidjiaanse of Samoaanse herkoms tydens die Rugbywêreldbeker 2023 vir hul oorspronklike land speel.[63] Tydens die groepfase in Frankryk het Tonga swak nederlae teen Ierland (met 16–59), Skotland (met 17–45) en Suid-Afrika (18–45) gely, waarna hulle Roemenië (met 45–24) kon klop.[64]
Tonga speel tradisioneel in ’n rooi trui met wit kleuraksente, wit broeke en rooi sokkies. Hul alternatiewe trui is wit met rooi kleuraksente, rooi broeke en wit sokkies.
Die huidige truiverskaffer is sedert 2021 die Nieu-Seelandse maatskappy Force XV en die truiborg is ook sedert 2021 die Franse farmaseutiese maatskappy Flect’Expert.[65] Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken in die middel.
Die beheerliggaam Tongaanse Rugbyunie se kenteken toon ’n wit vredesduif met ’n olyftakkie in sy snawel, op ’n blou agtergrond voor ’n rooi kruis op ’n geel agtergrond. Die nasionale span se bynaam is ʻIkale Tahi, Tongaans vir “seearend”.
Sedert die 1970’s het die volgende truiverskaffers en -borge verskyn:
Tydperk | Verskaffer |
---|---|
1974–1980’s | Umbro |
1980’s–1999 | Canterbury |
2000–2002 | Carisbrook |
2003–2005 | Sekem |
2005–2008 | KooGa |
2008 | Samurai Sportswear |
2008–2010 | Aoniu |
2011–2012 | KooGa/BLK |
2012–2015 | Kukri |
2016–2020 | Mizuno |
Junie–November 2021 | Siomai Print |
sedert November 2021 | Force XV |
Soos baie ander groot Stille-Oseaan rugbylande voer Tonga ’n oorlogsdans voor hulle wedstryde uit, wat die Tongane Sipi Tau noem. Dié oorlogsdans het die doel om die opponent te intimideer en hulself aan te moedig. Voor die 19de eeu was oorlogsdanse in Tonga nie gebruiklik nie, aangesien praat tydens die slag as ’n teken van swakheid beskou is. Maar dan het die uit die naburige Franse oorsese gebied Wallis en Futuna afkomstige Kailao versprei en dit is deur die Tongae oorgeneem.[66] Die nasionale rugbyspan het oor die jare heen verskeie weergawes van die Sipi Tau gedans, maar dit is nie bekend wanneer dit vir die eerste keer gebruik is nie. Die huidige, sedert 1994 gebruikte weergawe is deur koning Taufaʻahau Tupou IV saamgestel.[67]
Een van die mees onvergeetlike uitvoerings in moderne tye van die Sipi Tau was tydens die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië, toe hulle teen die Nieu-Seelandse All Blacks te staan gekom het. Die All Blacks het hul tradisionele Haka uitgevoer toe Tonga gereageer het met hul Sipi Tau, terwyl die All Blacks nog met hul Haka besig was. Die spanne het meters van mekaar te staan gekom net voor die afskop.[68]
Tongaans | Afrikaans |
Teu ke tau! (leier) Ei! (leier) Te u peluki e molo mo e foueti taka, Ko Tonga pe mate ki he moto (leier) |
Maak gereed vir die stryd! (leier) Hey! hey! (leier) Losgemaal en losvoorspelers sal ek sny Laat knars! (leier) Dis hoe Tonga volgens sy leuse sterf |
Tonga se tuisstadion is die Teufaiva Sportstadion in die hoofstad Nukuʻalofa met ’n kapasiteit van 10 000. Sedert 1924 is hier amper elke tuiswedstryd aangebied.
Tonga het 122 van sy 310 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 39,35%. Tonga se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek in September 2024):[69]
Opponent | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
---|---|---|---|---|---|
Amerikaans-Samoa | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Argentinië | 2 | 0 | 2 | 0 | 0,00 |
Australië | 4 | 1 | 3 | 0 | 25,00 |
Chili | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Cookeilande | 5 | 5 | 0 | 0 | 100,00 |
Engeland | 4 | 0 | 4 | 0 | 0,00 |
Fidji | 95 | 27 | 65 | 3 | 28,42 |
Frankryk | 6 | 2 | 4 | 0 | 33,33 |
Georgië | 7 | 2 | 5 | 0 | 28,57 |
Hongkong | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Ierland | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Italië | 6 | 2 | 4 | 0 | 33,33 |
Ivoorkus | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Japan | 19 | 9 | 10 | 0 | 47,37 |
Kanada | 11 | 6 | 5 | 0 | 54,54 |
Korea | 6 | 6 | 0 | 0 | 100,00 |
Namibië | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Nieu-Kaledonië | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Nieu-Seeland | 7 | 0 | 7 | 0 | 0,00 |
Nieu-Seelandse Maori | 12 | 4 | 8 | 0 | 33,33 |
Papoea-Nieu-Guinee | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Portugal | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Roemenië | 5 | 3 | 2 | 0 | 60,00 |
Samoa | 71 | 27 | 40 | 4 | 38,09 |
Skotland | 5 | 1 | 4 | 0 | 20,00 |
Spanje | 3 | 2 | 1 | 0 | 66,67 |
Suid-Afrika | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Tokelau | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Uruguay | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Verenigde State | 10 | 9 | 1 | 0 | 90,00 |
Wallis | 10 | 0 | 10 | 0 | 0,00 |
Zimbabwe | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Algeheel | 310 | 122 | 181 | 7 | 39,35 |
Tonga het tot dusver aan amper elke rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, met uitsondering van die Rugbywêreldbeker 1991 in die destydse Vyfnasies. Hul beste prestasie tot dusver was twee oorwinnings elk in 2007 en 2011.
Die Stille Oseaan-drienasies was van 1982 tot 2005 die tradisionele jaarlikse toernooi tussen die drie Stille Oseaan-rugbylande Fidji, Samoa en Tonga. Hulle het die toernooi een keer gewen: in 1986.
Tonga se enigste jaarlikse toernooi sedert 2006 is die Stille Oseaan-nasiesbeker, waartydens hulle teen Fidji en Samoa speel (soms word ook ander nasionale span genooi). Hul beste prestasie was die eerste plek tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2011, waarby Japan weens sy oorwinning teen Tonga met die toernooititel weggestap het.
Tonga het twee keer aan die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap deelgeneem en in 2000 die derde plek beklee.
Tonga het vier keer aan die Suid-Stille Oseaan-spele se rugbytoernooi deelgeneem en eenkeer gewen.
Gedurende die amateurtydperk het Tonga maandelange oorsese toere onderneem, waartydens hulle teen ander nasionale spanne, plaaslike saamgestelde spanne en klubspanne gespeel het. Eweneens het oorsese spanne na Tonga getoer. Teen die jaar 2000 het die oorsese toere volgens die ou tradisie tot ’n einde gekom, aangesien die professionalisering van die rugbyspel te min tyd vir toere oorlaat. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Europese spanne na Tonga en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks reis Tonga na Europa. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Tonga nie vir enige trofee teen sy opponente nie.
Die volgende spelers het die Tongaanse span gevorm tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2024:[70]
|
|
Tot dusver is nog geen Tongaanse speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.
Vervolgens die belangrikste statistieke van Tonga se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.
(Korrek teen September 2024)
|
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
Tonga het in 1985 met Fred Wolfgramm sy eerste afrigter benoem. Sedert 2024 dien die Tongaan Tevita Tu’ifua as Tongaanse hoofafrigter.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.