From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Maori's (Maori: Māori, [ˈmaːɔɾi] ) is die inheemse Polinesiese bevolking van Nieu-Seeland (Aotearoa). Hulle het oorspronklik tussen rofweg 1320 and 1350 in verskillende immigrasiegolwe vanuit Oos-Polinesië na Nieu-Seeland gekom.[6]
Maori's | |
---|---|
Maori's voer 'n haka uit (2012). | |
Totale bevolking: | omstreeks 750 000 |
Belangrike bevolkings in: | Nieu-Seeland 598 605 (2013-sensus)[1] Australië 155 000 (2011-skatting)[2] |
Taal: | Māori, Engels |
Geloofsoortuiging: | Christendom, Māori-godsdienste |
Verwante etniese groepe: | Ander Polinesiese volke, Austronesiese volke |
Deur eeue van afsondering het die Maori's hulle eie unieke kultuur en taal, 'n ryk mitologie, unieke ambagte en uitvoerende kunsvorme ontwikkel wat verskil van dié van ander Oos-Polinesiese kulture. Hulle het 'n stamgebaseerde samelewing volgens hul Polinesiese tradisies gevorm. Danksy ingevoerde plantspesies en kultivars het hulle landbou in Nieu-Seeland beoefen. Ná 1450 het 'n krygerkultuur met versterkte nedersettings ontstaan.
Van die vroeëre Maori's het na die Chathameilande migreer, waar hulle afstammelinge Nieu-Seeland se ander inheemse Polinesiese groep, die Moriori, geword het.[7]
Aanvanklike kontak tussen die Maori's en Europeërs, wat in die 18de eeu begin het, het gewissel van voordelige handel tot dodelike geweld; die Maori's het baie tegnologieë van die nuwe aankomelinge aangeneem. Ná die ondertekeing van die Verdrag van Waitangi in 1840 het die twee kulture vir 'n generasie saamgewoon. Stygende spanning oor betwiste grondverkope het tot konflik in die 1860's gelei, asook groot beslagleggings op grond, waarop die Maori's met sterk weerstand gereageer het. Ná die nietigheidsverklaring van die verdrag in 1877 is die Maori's noodgedwonge in baie aspekte van die Westerse kultuur opgeneem. Sosiale omwentelings en epidemies van siektes wat na Nieu-Seeland gebring is, het talle Maori's uitgewis en hulle getalle het drasties afgeneem. Teen die begin van die 20ste eeu het die Maori-bevolking begin herstel. 'n Ernstige poging is aangewend om hulle aansien in die groter Nieu-Seelandse bevolking te verbeter en sosiale regverdigheid daar te stel.
Tradisionele Maori-kultuur het daardeur 'n aansienlike herlewing ondergaan, wat verder onderskraag is deur 'n Maori-protesbeweging wat in die 1960's ontstaan het. Tog is die ekonomiese en sosiale hindernisse wat die Maori's in die gesig staar buite verhouding groot. Hulle het ook 'n laer lewensverwagting en inkomste as ander etniese groepe in Nieu-Seeland. Verder ondervind hulle meer misdaad en gesondheidsprobleme en groter opvoedkundige onderprestasie.
In die sensus van 2018 het 775 836 mense in Nieu-Seeland as Maori's geïdentifiseer, wat 16,5 persent van die nasionale bevolking is. Hulle is die land se grootste etniese groep naas die Europese Nieu-Seelanders (Pākehā). Daarbenewens woon meer as 140 000 Maori's in Australië. Die taal Maori word in 'n mate deur sowat 'n vyfde van alle Maori's gepraat, wat 3 persent van die totale bevolking is. Maori's is aktief in alle sfere van die Nieu-Seelandse kultuur en gemeenskap, met onafhanklike verteenwoordiging op gebiede soos die media, politiek en sport.
Die woord māori beteken in Maori "normaal", "natuurlik" of "gewoon". In legendes en mondelinge tradisies word dit gebruik om sterflinge (tāngata māori) te onderskei van gode en geeste.[8] Wai māori beteken ook "vars water", in teenstelling met sout water. Daar is verwante woorde in die meeste Polinesiese tale wat almal stam van die Proto-Polinesiese *ma(a)qoli, wat "waar, werklik" beteken.[9][10]
Die Maori's gebruik die woord Māori om hulleself te beskryf in stamverband. Hulle gebruik dikwels die term tangata whenua (letterlik "volk van die land") om hulle verhouding met 'n sekere stuk grond uit te druk; 'n stam kan die tangata whenua in een streek wees, maar nie in 'n ander nie.[11]
Die amptelike definisie van "Maori" vir verkiesingsdoeleindes het mettertyd verander. Voor 1974 het die regering dokumente van herkoms vereis om dié status te bewys en net mense met minstens 50% Maori-herkoms kon kies waar hulle wou stem. Van 1974 kan 'n mens self kies met wie jy kultureel identifiseer. Van 1986 word soms vir ander doeleindes die een of ander vorm van bewys van herkoms vereis, maar geen minimum persentasie Maori-herkoms nie.[12]
Geen geloofbare bewyse bestaan dat daar enigiemand in Nieu-Seeland gewoon het voor die Maori's nie. Daar is egter baie oortuigende argeologiese, linguistieke en antropologiese bewyse dat die eerste setlaars van Polinesië af migreer het en die Maori's geword het.[13][14] Daar is bewyse dat hulle herkoms (as deel van die groter groep Austronesiese volke) van 5 000 jaar gelede dateer, van die inheemse volke van Taiwan. Polinesiërs het hulle in 'n groot gebied gevestig wat insluit Samoa, Tahiti, Hawaii, Paaseiland – en eindelik Nieu-Seeland.[15]
Daar kon 'n bietjie verkenning en vestiging gewees het voor die uitbarsting van die berg Tarawera omstreeks 1315, na aanleiding van die ontdekking van bene van Polinesiese rotte en skulpe met rotknaagmerke.[16] Daar is ook bewyse gevind van wydverspreide bosbrande in die dekade of wat voor dit.[17][18] Die mees onlangse bewyse dui egter daarop dat die belangrikste vestiging deel van 'n beplande massamigrasie iewers tussen 1320 en 1350 was.[13] Dit stem breedweg ooreen met mondelinge Maori-tradisies, waarvolgens hulle voorvaders omstreeks 1350 in 'n paar groot kano's (waka) oor die see in die land aangekom het.[19][20]
Hulle het 'n groot impak op hulle omgewing gehad vanaf hulle eerste vestiging in Nieu-Seeland en op latere reise verder suid. Maori-verkenners was dalk die eerste mense wat Antarktika ontdek het.[21][22]
Die vroegste tydperk van die Maori's se vestiging, wat bekend is as die "Argaïese", "Moajagters-" of "kolonisasietydperk", dateer van omstreeks 1300 tot 1500. Die vroeë Maori-dieet het bestaan uit die vleis van die moa en ander groot voëls en robbe wat nooit tevore gejag is nie. Dié tydperk is bekend vir sy kenmerkende halssnoere[23] en die gebrek aan wapens en forte wat tipies van die latere "Klassieke tydperk" was.[24] Op die bekendste Argaïese vondsplek, Wairau Bar op Suideiland,[25] is bewyse van besetting van die 13de tot die 15de eeu.[26] Dit is die enigste terrein in Nieu-Seeland waar bene ontdek is van mense wat elders gebore is.[26]
Faktore wat gegeld het in die "Klassieke tydperk", toe daar die eerste kontak met Europeërs was, sluit in 'n aansienlik kouer tydperk van 1500 af,[27] asook die uitwissing van die mao en ander voedselspesies.[28][29]
Die Klassieke tydperk word gekenmerk deur fyn wapens en ornamente van groensteen, ryklik versierde oorlogskano's en wharenui (vergaderhuise).[30] Die Maori's het in outonome nedersettings gewoon in uitgebreide groepe met gemeenskaplike voorouers. Daar was landbougebiede en bronne vir jag, hengel en kos versamel. Gefortifiseerde pā is op strategiese plekke gebou vanweë oorlogvoering nou en dan oor verkeerde optredes of hulpbronne.[31][32][33] 'n Stereotipe van die Maori's as natuurlike vegters bestaan, maar oorlogvoering en gepaardgaande praktyke soos kannibalisme was nie 'n oorheersende deel van die Maori-kultuur nie.[34][35]
Omstreeks 1500 het 'n groep Maori's oos na die Chathameilande migreer en ontwikkel in 'n volk bekend as die Moriori,[36] met passifisme as 'n sleuteldeel van hulle kultuur.[37]
Die eerste Europese ontdekkers in Nieu-Seeland was Abel Tasman in 1642, kaptein James Cook in 1769 en Marion du Fresne in 1772. Aanvanklike kontak was problematies en soms dodelik – vier van Tasman se manne is gedood en hy het waarskynlik minstens een Maori gedood, sonder dat hy voet aan wal gesit het.[38] Cook se manne het minstens agt Maori's binne drie dae van sy eerste landing gedood,[39][40] hoewel hy later goeie verhoudinge met die Maori's gehad het. Drie jaar later, ná 'n belowende begin, is Du Fresne en 26 van sy bemanningslede vermoor. Van die 1780's af het die Maori's ook toenemend met Europsese en Amerikaanse rob- en walvisjagters en Christelike sendelinge te doen gekry. Verhoudinge was meestal vreedsaam, hoewel 'n paar gewelddadige voorvalle plaasgevind het. Die ergste daarvan was die Boyd-slagting en daaropvolgende wraakaanvalle.[41]
Die eerste Europeërs het hulle in die vroeë 19de eeu in Nieu-Seeland gevestig en dit het gelei tot 'n uitgebreide uitruiling van kultuur en idees. Baie Maori's het Europeërs, wat hulle Pākehā genoem het, hooggeag en beskou as 'n manier om meer te wete te kom van Westerse kennis en tegnologie. Maori's het gou begin skryf om idees uit te ruil en baie van hulle mondelinge stories en gedigte is neergeskryf.[42] Die bekendstelling van die aartappel het die landbou gerevolusioneer en die aanskaffing van muskette (gewere)[43] deur die Maori's het 'n buitengewoon bloedige oorlogvoering tussen stamme tot gevolg gehad bekend as die Musketoorloë. Baie groepe is uitgewis en ander is uit hulle tradisionele gebiede verdryf.[44] Terselfdertyd het talle Maori's gesterf aan Eurasiese aansteeklike siektes, soos griep, pokke en masels, wat na raming 10 tot 50 persent van die Maori's uitgewis het.[45][46]
Teen 1839 het na raming tot 2 000 Europeërs in Nieu-Seeland gewoon[47] en Brittanje het ingewillig tot herhaalde versoeke van sendelinge en sommige Maori-hoofmanne om tussenbeide te tree. Die Britse regering het 'n vlootkaptein gestuur om 'n verdrag tussen die Britte en die Maori's op te stel, en die gevolg was die Verdrag van Waitangi, wat van Februarie 1840 af deur Brittanje en sowat 500 Maori-hoofmanne van oor die hele Nieu-Seeland onderteken is.[48][49] Die verdrag het aan die Maori's die regte van Britse onderdane toegeken en het hulle eiendomsregte en stamoutonomiteit verseker, in ruil daarvoor dat hulle Britse soewereiniteit en die anneksasie van Nieu-Seeland as 'n kolonie van die Britse Ryk aanvaar.[50] Baie dispute het egter oor aspekte van die verdrag ontstaan, insluitende verskillende woorde in die Engelse en Maori-weergawe, en misverstande weens verskillende kultuurbegrippe. Veral merkwaardig is dat soewereiniteit nie in die Maori-weergawe aan Brittanje afgestaan is nie.[51] In 'n hofsaak van 1877 is die verdrag nietig verklaar op grond daarvan dat die ondertekenaars "primitiewe barbare" was.[52][53]
Nogtans was verhoudinge tussen die Maori's en Europeërs in die vroeë koloniale tydperk hoofsaaklik vreedsaam. Baie Maori-groepe het besighede oopgemaak en kos en ander produkte aan plaaslike en oorsese markte verskaf. Wanneer geweld wel nou en dan uitgebreek het, was dit meestal beperk en is dit met 'n vredesverdrag beëindig. Teen die 1860's het stygende setlaarsyfers en spanning oor omstrede grondtransaksies egter gelei tot die Nieu-Seelandse Oorloë. Daarna het Brittanje beslag op stukke Maori-grond gelê as straf vir wat "rebellies" genoem is. Europese setlaars het hulle op die besette grond gevestig.[54] Kleiner botsings het hierna nog ontstaan en 'n inboorlinggrondhof is gestig om gemeenskaplike Maori-grond aan individuele eienaars oor te dra as 'n manier om grondverkope aan Europese setlaars te vergemaklik.[55]
Teen die laat 19de eeu was beide Pākehā en Maori's oortuig daarvan dat die Maori-bevolking sal ophou bestaan en in die Europese bevolking opgeneem sal word.[56] Van die laat 19de en vroeë 20ste eeu af is verskeie wette, beleide en praktyke aanvaar om die Maori's te dwing om by Pākehā-norme aan te pas. So is die onderdrukking van die taal Maori in skole[57] dikwels met lyfstraf afgedwing.[58] In die sensus van 1896 het Nieu-Seeland 'n Maori-bevolking van 42 113 en Europese bevolking van meer as 700 000 gehad.[59]
Die verval het nie voortgeduur nie en die Maori-bevolking het in die 20ste eeu begin herstel. Invloedryke Maori-politici was vasbeslote om die Maori-volk weer te laat herstel. Hulle het geglo die oplossing is 'n mate van assimilasie,[60] met die Maori's wat Europese praktyke soos Westerse medisyne en opvoeding aanvaar, terwyl hulle terselfdertyd tradisionele kultuurpraktyke beoefen.
Sedert die 1960's het die Maori-kultuur 'n soort renaissance beleef,[61] wat saamval met aktivisme vir sosiale geregtigheid en 'n protesbeweging.[62]
Maori moes egter al hoe meer die knie voor Engels buig. Voorskoolse Maori-inrigtings is in 1982 gevestig om die taal te bevorder en sy agteruitgang te keer.[63] Twee Maori-televisiekanale saai in Maori uit,[64][65] terwyl 'n groet soos kia ora ("wees gesond") in Nieu-Seelandse Engels opgeneem is.[66]
Die regering se erkenning van die toenemende politieke mag van die Maori's en politieke aktivisme het gelei tot 'n beperkte hersiening van historiese grondbeslagleggings. In 1975 is die Waitangi-tribunaal daargestel om historiese griewe te ondersoek.[67] Sedert die 1990's het die Nieu-Seelandse regering baie eise oor die verdrag afgehandel. Teen Junie 2008 het die regering betalings van meer as 900 miljoen Nieu-Seelandse dollar gedoen, baie daarvan in die vorm van grondtransaksies.[68]
Die Maori-kultuur vorm 'n kenmerkende deel van die Nieu-Seelandse kultuur en danksy 'n groot diaspora en die opneem van Maori-motiewe in die gewilde kultuur word dit wêreldwyd aangetref.[69][70] Onder die Maori's, en in 'n mindere mate dwarsoor Nieu-Seeland, word die woord Māoritanga dikwels gebruik as min of meer 'n sinoniem vir die Maori-kultuur.
Māoritanga in die moderne tydperk word al hoe meer beïnvloed deur verstedeliking, groter kontak met Nieu-Seelanders van Europese afkoms 'n herlewing van tradisionele praktyke.
Tradisionele Maori-kuns speel 'n groot rol in Nieu-Seelandse kuns. Dit sluit in whakairo (houtsnywerk), raranga (weefwerk), kapa haka (groepoptrede), whaikōrero (redenaarskuns) en tā moko (tatoes), (whakapapa) van die Maori's. Kunstenaars volg dikwels die tegniek van hulle voorouers, maar in die 21ste eeu sluit Māoritanga ook kontemporêre kunste soos rolprente, televisie, poësie en die teater in.
Die Maori's se taal is bekend as te reo Māori, wat verkort word tot te reo (letterlik "die taal"). In die 1980's het regeringsgeborgde skole (Kura Kaupapa Māori) mense met Europese én Maori-herkoms in te reo begin onderrig om die taal van ondergang te red.[71]
Tikanga Māori is 'n stel kultuurwaardes, gebruike en praktyke. Dit sluit in begrippe oor wat heilig is, om jou gemeenskap te versorg, grondregte en ander verhoudings tussen mense en hulle omgewing.[72]
Die Maori's se kultuurgeskiedenis is onlosmaaklik verbind aan die kultuur van Polinesië as 'n geheel. Die Nieu-Seelandse eilandgroep vorm die suidwestelike hoek van die Polinesiese Driehoek, 'n groot deel van die Stille Oseaan met drie eilandgroepe by sy hoeke: die Hawaise Eilande, Rapa Nui (Paaseiland) en Nieu-Seeland (Aotearoa in Maori).[73]
Die beste plek vir enige Maori-kultuurgeleentheid is 'n marae, 'n ingeslote gebied waarop 'n wharenui (ltterlik "groot huis") staan. 'n Marae is die middelpunt van 'n groot deel van die Maori's se lewe. Gewoonlik word die taal Maori gebruik in seremonies en toesprake, hoewel vertalings en verduidelikings verskaf word as die belangrikste deelnemers nie Maori-sprekers is nie.
Die tradisionele Maori-godsdiens het min afgewyk van sy tropiese, Oos-Polinesiese wortels op die eiland Hawaiki Nui. Daarvolgens word geglo alle dinge het lewenskrag, of mauri.[74] Die god Tangaroa was die personifikasie van die oseaan en die voorouer of oorsprong van alle visse; Tāne was die personifikasie van die woud en die oorsprong van voëls; en Rongo was die personifikasie van vreedsame bedrywighede en landbou, en die voorouer van gekweekte plante. In die vroeë 19de eeu het baie Maori's die Christelike geloof en sy begrippe aangeneem.[75]
Volgens die Wysigingswet op Maori-sake 1974 word 'n Maori gedefinieer as "'n persoon van die Maori-ras van Nieu-Seeland; en sluit enige afstammeling van so 'n persoon in".[76] Die Maori-bevolking is in die laat 18de eeu deur kaptein James Cook op 100 000 geraam. Die historikus Michael King stel voor 'n effens groter getal van 110 000 is realistieser.[77] In die laat 19de eeu het hulle getalle drasties afgeneem, tot so min as 42 000; moontlik weens die impak van Europese kolonisasie, insluitende nuwe siektes.[78] Daarna het die bevolking vinnig gegroei.
In die sensus van 2018 het 775 836 Nieu-Seelanders hulle as Maori's geïdentifiseer, wat sowat 16,5% van die land se algehele bevolking is. Dit is 177 234 (29,6%) meer mense as in die sensus van 2013 en 210 507 meer as in 2006. Die groot toename van 2013 tot 2018 was hoofsaaklik vanweë Statistieke Nieu-Seeland se toevoeging van etnisiteitsdata uit ander bronne (vorige sensusse, administratiewe data en toerekenings) tot die 2018-sensusdata om foute weens niereaksies reg te stel.[79]
Daar was 383 019 mans en 392 820 vroue, wat dui op 'n geslagsverhouding van 0,975 man per vrou. Die gemiddelde ouderdom was 25,4 jaar (in vergelyking met 37,4 jaar vir Nieu-Seeland as 'n geheel).[80] Altesaam 85,7% van Maori's het op Noordeiland gewoon en 14,2% op Suideiland.
Buite Nieu-Seeland bestaan 'n groot Maori-bevolking in Australië (sowat 155 000 in 2011).[2] Kleiner gemeenskappe woon ook in Brittanje (sowat 8 000), die VSA (tot 3 500) en Kanada (sowat 1 000).[3][4][5]
Geen | 53.5% | |||
Christendom | 29.9% | |||
Maori-godsdienste | 7.7% | |||
Ander | 1.4% | |||
Boeddhisme | 0.2% | |||
Islam | 0.1% | |||
Hindoeïsme | 0.1% | |||
Maori's se godsdiensverband[81] |
Tradisionele Maori-geloofsoortuigings se oorsprong lê in die Polinesiese kultuur. Begrippe soos tapu ("heilig"), mana ("gesag", "prestige") en wairua ("gees") beheer die alledaagse Maori-lewe en daar is ook baie Maori-godhede. Sommige Maori's volg vandag Christelike gelowe. Dit sluit 'n paar kerke en groepe in, soos Presbiterianisme, die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (Mormone), Maori-groepe soos Rātana en Ringatū,[82] asook die Katolieke, Metodiste- en Anglikaanse Kerk.[83][84]
Baie Maori's glo in tradisionele tradisies soos tapu. Sekere voorwerpe, gebiede of geboue is tapu (geestelik ontoeganklik) en moet noa (toeganklik) gemaak word deur 'n seremoniële daad.[85] Dit is byvoorbeeld algemene praktyk om 'n mens se skoene uit te trek voordat jy 'n wharenui binnegaan as 'n teken van respek aan die voorouers wat daar verteenwoordig word en spiritueel teenwoordig is.[86]
Nog 'n spirituele ritueel is hurihanga takapau (reiniging), wat beoefen word as 'n mens visvang om te verseker daar is geen tapu aan die vis nie.[87]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.