Remove ads
land in die Suidelike Halfrond From Wikipedia, the free encyclopedia
Australië (Engels: Australia, [əˈstreɪliə, ɒ-], ), amptelik die Gemenebes Australië (Commonwealth of Australia[11]), is 'n grondwetlike monargie in die Suidelike Halfrond. Australië is die sesde grootste land ter wêreld en die enigste wat 'n hele vasteland beslaan – die Australiese kontinent (die wêreld se oudste, kleinste, droogste en platste vasteland[12]). Australië se staatsgebied sluit daarnaas die eiland Tasmanië en 'n aantal ander eilande in die Indiese Oseaan, die Stille Oseaan en die Suidelike Oseaan in. Australië se buurlande is Indonesië, Oos-Timor en Papoea-Nieu-Guinee in die noorde, die Salomonseilande, Vanuatu en Nieu-Kaledonië in die noordooste en Nieu-Seeland in die suidooste. Dit is 'n grondwetlike monargie en 'n lid van die Britse Statebond.[13]
| |||||
Volkslied: Advance Australia Fair[1][2][3] (Engels vir: "Vooruit, pragtige, gelukkige Australië") Koninklike volkslied: God Save the King (Engels vir: "God beskerm die koning") | |||||
Hoofstad | Canberra | ||||
Grootste stad | Sydney | ||||
Amptelike tale | Geen op federale vlak nie Engels (de facto) | ||||
Regering | Federale parlementêre grondwetlike monargie Charles III Sam Mostyn Anthony Albanese Richard Marles | ||||
Onafhanklikheid | van die Verenigde Koninkryk 1 Januarie 1901 11 Desember 1931 9 Oktober 1942 3 Maart 1986 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
7 741 220[4] km2 (7de) 2 988 902 myl2 1,79 (2015)[5] | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2021-sensus - Digtheid |
27 302 038[6] (54ste) 25 890 773[7] 3,5 / km2 (192ste) 9,1 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,946[9] (10de) – baie hoog | ||||
Gini (2018) | 34,3[10](6de) – medium | ||||
Geldeenheid | Dollar ($) (AUD ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
verskeie1 (UTC+8 tot +10,5) verskeie1 (UTC+8 tot +11,5) | ||||
Internet-TLD | .au | ||||
Skakelkode | +61 | ||||
1. Daar is drie tydsones in Australië: oostelike (DST+10), sentrale (DST+9:30) en westelike (DST+8). Sommige gedele gebruik 'n nieamptelike "sentrale-westelike" sone (DST+8:45). |
'n Groot deel van dié land is woestynagtig en plat. Die vrugbare deel is 'n vlakte in die suidooste, waar die meeste van sy inwoners die hoogs verstedelikte ooskus bevolk. Die Australiese vasteland word egter reeds vir meer as 42 000 jaar deur Australiese Inboorlinge bewoon. Na verskeie besoeke deur Europese ontdekkingsreisigers en handelaars in die 17de eeu, is die oostelike helfte van Australië in 1770 deur Groot-Brittanje opgeëis en oorspronklik deur wettelik gestrafte oortreders as deel van die kolonie van Nieu-Suid-Wallis gevestig, beginnende op 26 Januarie 1788. Soos die bevolking gegroei het en nuwe areas ontdek is, is vyf ander selfregerende Britse kolonies tydens die 19de eeu gevestig.
Op 1 Januarie 1901 het die ses kolonies saam 'n federasie geword en die Australiese Gemenebes is gevorm. Sedertdien het Australië 'n stabiele liberale demokratiese politieke stelsel gehandhaaf en bly dit steeds 'n lidstaat van die Britse Statebond wat die Britse monarg as staatshoof erken. Die hoofstad van Australië is Canberra, wat geleë is in die Australiese Hoofstadgebied (Australian Capital Territory). Die bevolking van 26 miljoen is gekonsentreerd in die vastelandse staatshoofstede Sydney, Melbourne, Brisbane, Perth en Adelaide.
Die naam "Australië" is afgelei van die Latyn Australis wat "Suidelik" beteken. Legendes van 'n "onbekende land van die suide" (terra australis incognita) was sedert Romeinse tye algemeen in Middeleeuse aardrykskunde, maar was nie op enige werklike kennis van die kontinent gebaseer nie.
Die eerste gebruik van die woord "Australië" in Engels is in 1625 gedokumenteer: die woorde "A note of Australia del Espiritu Santo, written by Master Hakluyt" in die boek Hakluytus Posthumus wat deur Samuel Purchas gepubliseer is.[14] Die Nederlandse byvoeglike vorm, "Australische", is deur die offisiere van die V.O.C. in Djakarta (toe Batavia) in 1638 gebruik om na die nuut-ontdekte land in die Suide te verwys.
"Australia" is in 1693 in 'n vertaling van Les Aventures de Jacques Sadeur dans la Découverte et le Voyage de la Terre Australe gebruik, 'n Franse roman uit 1692 deur Gabriel de Foigny (onder die pennaam Jacques Sadeur).[15] Alexander Dalrymple het dit daarna in 1771 gebruik in An Historical Collection of Voyages and Discoveries in the South Pacific Ocean om na die gehele Suidelike Pasifiese streek te verwys. In 1793 het George Shaw en Sir James Smith Zoology and Botany of New Holland gepubliseer, waarin hulle verwys na "the vast island, or rather continent, of Australia, Australasia or New Holland".
Die naam is gewild gemaak deur die 1814-werk, A Voyage to Terra Australis, deur die navigator Matthey Flinders, die eerste aangetekende persoon wat om Australië geseil het. Ten spyte van die titel, wat die siening van die Britse admiraalskap weerspieël het, het Flinders die term "Australia" in sy boek gebruik. Die boek was baie gewild en het die term in die volksmond geplaas.
Die goewerneur van Nieu-Suid-Wallis, Lachlan Macquarie, het die naam daarna in sy versendings na Engeland gebruik en op 12 Desember 1817 het hy aan die Koloniale Kantoor aanbeveel dat dit amptelik in gebruik geneem word.[16] In 1824 het die Admiraalskap ingestem dat die kontinent amptelik as "Australia" bekend sal staan.[17] Die eerste kaart waarop die woord "Australië" voorkom is in 1824 in Sint Petersburg gepubliseer. Dit is in Krusenstern se "Atlas de l'Ocean Pacifique".[18]
Die woord "Australia" word in Australiese Engels uitgespreek as /ə.ˈstɹæɪ.ljə, -liː.ə, -jə/.[19]
Daar word beraam dat die eerste menslike bewoning van Australië tussen ongeveer 42 000 en 48 000 jaar gelede plaasgevind het.[20] Hierdie eerste Australiërs was moontlik die voorouers van die huidige inheemse Australiese volke en het moontlik oor landbrûe en ander seekruisings vanaf die huidige Suidoos-Asië oorgesteek. Meeste van hierdie mense was jagter-versamelaars met 'n ingewikkelde mondelinge kultuur en spirituele waardes wat gebaseer was op 'n eerbied vir dié land en 'n geloof in die Droomtyd. Die Torres Strait-eilandbewoners, wat aan die Melanesiese etniese groep behoort, het die Torres Strait-eilande en die ver-noordelike dele van Queensland bewoon: hulle kulturele gebruike is en bly egter steeds onderskeidelik van die Australiese inboorlinge (ook bekend as die Aborigines).
Die eerste aangetekende Europese waarneming van die Australiese vasteland was deur die Nederlandse navigator, Willem Janszoon, wat die kus van Cape York skiereiland in 1606 waargeneem het. Tydens die 17de eeu het die Nederlanders die hele westelike en noordelike kuslyne gekarteer en die gebied Nieu-Holland genoem, alhoewel hulle geen poging gemaak het om hulself in die gebied te vestig nie. In 1770 het James Cook langs die oostelike kus geseil en dit gekarteer: hy het dit Nieu-Suid-Wallis genoem en dit vir Groot-Brittanje opgeëis.
Die Britse kroonkolonie, Nieu-Suid-Wallis, het begin met 'n nedersetting by Port Jackson wat op 26 Januarie 1788 deur kaptein Arthur Phillip gevestig is. Hierdie datum het later Australië se nasionale dag, Australië Dag, geword. Van Diemensland, die huidige Tasmanië, is in 1803 gevestig en het in 1825 'n aparte kolonie geword. Die Verenigde Koninkryk het die westelike deel van Australië in 1829 amptelik geëis.
Aparte kolonies is gevorm uit dele van Nieu-Suid-Wallis: Suid-Australië in 1836, Victoria in 1851 en Queensland in 1859. Die Noordelike Gebied ("Northern Territory") is in 1911 gestig toe dit van Suid-Australië geskei het. Suid-Australië is as 'n "vrye provinsie" gestig, met ander woorde dit was nooit 'n strafregtelike kolonie nie. Victoria en Wes-Australië is eweneens deur vrye setlaars gestig, maar het later vervoerde gevangenes aanvaar.[21][22]
Die vervoer van gevangenes na Nieu-Suid-Wallis is in 1848 gestaak nadat plaaslike setlaars 'n veldtog teen die praktyk gevoer het.[23]
Die bevolking van die Australiese inboorlinge was 'n beraamde 350 000 in die tyd van die Europese vestiging,[24] maar het sterk afgeneem in die 150 jaar na die aankoms van die setlaars. Hierdie afname was hoofsaaklik te wyte aan besmetlike siektes gekombineer met geforseerde verskuiwing van nedersettings en kulturele disintegrasie.[25] Die verwydering van kinders van hulle families mag ook tot die daling van die inheemse bevolking bygedra het.
Sulke interpretasies van die Inboorlinge se geskiedenis word deur sommige regsgesinde kommentators teengestaan en beskryf as oordrewe, of versin vir politiese of ideologiese redes.[26] Die debat staan in Australië bekend as die "History Wars" ("Geskiedenisoorloë"). Na die 1967 referendum het die federale regering die gesag verkry om beleid te implementeer en wette te maak wat op die Inboorlinge van toepassing was. Tradisionele eienaarsreg van land ("native title") is eers in 1992 erken, toe die hooggeregshof (tydens die saak Mabo v Queensland (No 2)) die idee van Australië as terra nullius ("leë land") tydens die tyd van Europese nedersetting omgekeer het.
In die 1850's het 'n goudloop in Australië begin en die Eureka Stockade-rebellie teen mynlisensiefooie in 1854 is 'n vroeë voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid. Tussen 1855 en 1890 het die ses kolonies elk verantwoordelike bestuur verkry en het hulle hulle eie sake self bestuur, alhoewel hulle deel van die Britse Ryk gebly het. Die Koloniale Amp (Colonial Office) in Londen het wel die beheer van sommige sake behou, soos buitelandse sake, verdediging en internasionale verskeping.
Ná 'n dekade van beplanning, konsultasie en stemmery, is die federasie van die kolonies op 1 Januarie 1901 behaal en die Gemenebes Australië is as 'n dominium (vrygewes) van die Britse Ryk gevorm. Die Federale Hoofstadgebied ("Federal Capital Territory"), later hernoem as die Australiese Hoofstadgebied (ACT, "Australian Capital Territory"), is in 1911 gevorm uit 'n nuwe deel van Nieu-Suid-Wallis om 'n nuwe ligging te bied vir die voorgestelde nuwe federale hoofstad, Canberra (Melbourne het tussen 1901 en 1927 as tydelike setel van die regering gedien terwyl Canberra gebou is).
Beheer van die Noordelike Gebied ("Northern Territory") is van die Suid-Australiese regering na die Statebond verskuif in 1911. Australië het vrywilliglik aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem.[27]
Die Statuut van Westminster van 1931 het meeste van die wetlike skakels tussen Australië en die Verenigde Koninkryk formeel beëindig toe dit in 1942 deur Australië aangeneem is. Die skok van die Verenigde Koninkryk se nederlaag teen Asië in 1942 en die bedreiging deur 'n Japannese inval het veroorsaak dat Australië hom tot die Verenigde State gekeer het vir bondgenootskap en beskerming. Sedert 1951 is Australië ook 'n militêre bondgenoot van die Verenigde State onder die Anzus-verdrag (die verdrag sluit ook Nieu-Seeland in).
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Australië immigrasie vanuit Europa aangemoedig en sedert die 1970's, na die afkondiging van die Racial Discrimination Act ("Rassediskriminasiewet"), word immigrasie vanuit Asië en ander nie-Europese dele van die wêreld ook aangemoedig. As gevolg hiervan het Australië se demografie, kultuur en selfbeeld opmerklik verander.
Die laaste grondwetlike bande tussen Australië en die Verenigde Koninkryk is in 1986 verbreek met die Australië-wet van 1986, wat enige Britse rol in die regering van die Australiese State beëindig het, asook regterlike apèlle aan die Britse Geheime Raad.[28]
'n Voorstel om na 'n republikeinse staatsvorm oor te skakel en die Britse monarg as staatshoof deur 'n president te vervang, wat deur die Parlement aangestel word, is in 1999 deur Australiese kiesers met 'n meerderheid van minder as 5% verwerp.[29] Sedert die verkiesing van die regering onder eerste minister Gough Whitlam in 1972, is daar 'n toenemende fokus op die nasie se toekoms as deel van die Stille Oseaangebied.
Australië se 7 741 220 km² vasteland[4] is op die Indo-Australiese plaat geleë. Dié land word omring deur die Suidelike Oseaan en die Stille Oseaan en word van Asië geskei deur die Timor- en die Arafirassee en die Tasmansee. Australië se kuslyn beloop 34 218 kilometer (dit sluit nie die kuslyne van eksterne gebiede in nie)[30] en het aanspraak op 'n Eksklusiewe Ekonomiese Sone (EES) van 8 148 250 kilometer². Hierdie EES sluit nie die Australiese Antarktiese Gebied in nie.
Die Groot Koraalrif, die wêreld se grootste koraalrif, is 'n kort afstand vanaf die noordoostelike kus geleë en strek oor 2000 km. Mount Augustus, geleë in Wes-Australië, word as die wêreld se grootste monoliet beskou.[31] Met 'n hoogte van 2 228 meter is Mount Kosciuszko, deel van die Groot Skeidingsgebergte en die Australiese Alpe, die hoogste berg op die Australiese vasteland, alhoewel Mawson Peak, op die afgeleë Heard Island, hoër strek met 'n hoogte van 2 745 meter. Naby Mount Kosciuszko is Mount Townsend geleë, met 'n hoogte van 2 209 meter die tweede hoogste berg op die Australiese vasteland.
Die grootste deel van Australië is woestynagtig en deels dor. Australië is ook die platste kontinent, dit het die oudste en onvrugbaarste grond en is die droogste bewoonde vasteland. Slegs die suidoostelike en suidwestelike hoeke van die kontinent het 'n matige klimaat. Die grootste deel van die bevolking woon langs die matige suidoostelike kuslyn.
Die landskappe van die noordelike deel van dié land, met 'n tropiese klimaat, bestaan uit reënwoude, boslande, grasvelde, manglietmoerasse en woestyn. Die klimaat word aansienlik beïnvloed deur seestrome, asook El Niño se suidelike swaaiing (wat met periodiese droogtes gepaard gaan) en die seisoenale tropiese laagdrukstelsel wat siklone in Noord-Australië teweegbring.[32][33]
Alhoewel Australië grotendeels dor en woestynagtig is, dek dit tog 'n verskeidenheid habitatte, van alpynse heides tot tropiese reënwoude, en word dit as 'n mega-diverse land herken. Vanweë die kontinent se ouderdom en die daaropvolgende lae vlakke van vrugbaarheid, asook die sterk wisselende weerpatrone en die langtermynse geografiese isolering, is baie van Australië se biota (die fauna en flora) uniek en divers. Ongeveer 85% van Australië se bloeiende (blomdraende) plante, 84% van die soogdiere, meer as 45% van die voëls en 89% van die matige-sone, langslandige visse is endemies aan dié land.[34]
Baie van Australië se ekostreke en die spesies wat in hierdie streke woonagtig is, word deur menslike aktiwiteite en ingevoerde, buitelandse plante en dierspesies bedreig. Die federale Environment Protection and Biodiversity Conservation Act 1999 ("Omgewingsbeskerming en Bewaring van Biodiversiteit Akte 1999") is 'n wettige raamwerk vir die beskerming van bedreigde spesies. Talle beskermde areas is geskep onder die nasionale Biodiversity Action Plan ("Biodiversiteit aksieplan") om unieke ekostelsels te beskerm en te bewaar. 64 moeraslande is onder die Ramsar-konvensie geregistreer en 16 Wêrelderfenisgebiede is vasgestel. Australië is 13de op die Environmental sustainability index se ranglys.[35]
Meeste Australiese houtagtige plantspesies is immergroen en baie van hulle is aangepas aan veldbrande en droogte, soos die verskeie soorte eucalyptusse en akasias. Australië het 'n ryk verskeidenheid peulgewasse wat floreer in arm grond as gevolg van die simbiose met Risobium-bakterieë en swamwortels. Voorbeelde van bekende Australiese fauna is Monotremata soos die eendbekdier en die mierystervark; talle buideldiere soos die kangaroe, koala, en buidelmuis en voëls soos die emoe en kookaburra. Die dingo (die Australiese wildehond) is ingevoer deur Austronesiese mense wat met die Australiese Inboorlinge handel gedryf het ongeveer 3000 v.C.[36] Baie plant- en dierspesies het uitgesterf na die eerste menslike setlaars hulle daar gevestig het; ander, soos die buidelwolf, het uitgesterf sedert die Europese setlaars hulle daar gevestig het.[37][38]
Sedert 1788 was die primêre basis van die Australiese kultuur die Anglo-Keltiese kultuur, alhoewel onderskeibare Australiese kenmerke uit die omgewing en die inheemse kultuur ontwikkel het. Oor die afgelope 50 jaar was Australiese kultuur ook sterk deur Amerikaanse popkultuur beïnvloed (veral televisieprogramme en rolprente), asook grootskaalse immigrasie vanuit nie-Engelssprekende lande en Australië se Asiatiese bure. Die energie en oorspronklikheid van Australiese kuns – letterkunde, rolprente, opera, musiek, skilderwerk, teater, dans en kunshandwerke – het internasionale erkenning behaal.
Australië het 'n lang geskiedenis van visuele kunste, beginnende met die rots- en basskilderings van dié land se inheemse volke. Sedert die Europese vestiging is die Australiese landskap 'n gewilde tema in kunswerke, soos gesien kan word in die werke van (onder andere) Arthur Streeton, Arthur Boyd en Albert Namatjira. Die tradisies van die inheemse Australiërs word hoofsaaklik mondelings oorgedra en is nou verbind met seremoniële aktiwiteite en verhale oor die Droomtyd. Die musiek, dans en kuns van die Aborigines het ook 'n kennelike invloed op eietydse Australiese visuele en uitvoerende kunste. Australië het 'n aktiewe tradisie van musiek, ballet en teater: baie van die uitvoerende kunste-maatskappye ontvang openbare fondse deur die federale regering se Raad vir die Kunste. Daar is 'n simfonieorkes in elke hoofstad en 'n nasionale operamaatskappy, Opera Australia, wat bekendheid verwerf het danksy die beroemde operasangeres, dame Joan Sutherland.
Australiese letterkunde word ook deur die landskap beïnvloed: die werke van skrywers soos Banjo Paterson en Henry Lawson beskryf die ervaringe in die Australiese bosveld. Die karakter van 'n koloniale Australië, soos uitgebeeld in vroeë letterkunde, resoneer met moderne Australië en dié land se waarneembare beklemtoning van egalisme, kameraadskap en anti-outoritarisme. Patrick White was in 1973 die Nobelprys vir Letterkunde toegeken: hy is tot sover ook die enigste Australiër wat hierdie prestasie behaal het en hy word erken as een van die belangrikste Engelstalige skrywers van die 20ste eeu. Australiese Engels is een van die groot weergawes van die Engelse taal: die spelling en grammatika is hoofsaaklik gebaseer op Britse Engels, maar bestaan binne-in 'n volkstaal wat unieke woorde en frases bevat; sommige hiervan word vandag ook in Standaardengels gekry.
Australië het twee openbare uitsaaikorporasies, die Australian Broadcasting Corporation (ABC) en die multikulturele Special Broadcasting Service (SBS). Verder het dié land ook drie kommersiële televisienetwerke, 'n aantal betaaltelevisiedienste en verskeie openbare, niewinsgewende televisie- en radiostasies. Australië se rolprentindustrie het beide kritieke en kommersiële sukses behaal. Elke groot stad het daaglikse koerante en daar is twee nasionale daaglikse koerante: The Australian en The Australian Financial Review. Volgens Verslaggewers Sonder Grense (VSG) was Australië in 2006 35ste op 'n lys van lande gerangskik volgens vryheid van die pers. Die lae posisie word toegeskryf aan die beperkte diversiteit van kommersiële media-eienaarskap in Australië; veral is meeste Australiese publikasies onder die beheer van die News Corporation en John Fairfax Holdings.
Sport speel 'n baie belangrike rol in die Australiese kultuur en word ondersteun deur 'n klimaat wat buitemuurse aktiwiteite begunstig; 24% Australiërs ouer as 15 neem gereeld deel aan georganiseerde sportaktiwiteite.[39] Op internasionale vlak het Australië veral sterk spanne in krieket, hokkie, netbal, rugby league en rugby en het hulle ook sterk mededingers in fietsry, roei en swem. Ander sporte wat op nasionale vlak gespeel word sluit Australiese voetbal, perdewedrenne, sokker en motorwedrenne in. Australië het as een van net vyf nasies ook aan elke Olimpiese Somerspele van die moderne era deelgeneem (behalwe vir die Olimpiese Somerspele 1980 in Moskou wat deur verskeie Westerse lande geboikot is),[40] asook aan elke Statebondspele. Dié land het ook as gasheer van die Olimpiese Somerspele 1956 (in Melbourne) en die Olimpiese Somerspele 2000 (in Sydney) opgetree en is sedert 2000 onder die top vyf medaljewenners. Verder sal die Olimpiese Somerspele 2032 in Brisbane aangebied word. Australië was ook die gasheer van die Britse Rykspele 1938 (in Sydney), die Britse Ryk en Statebondspele 1962 (in Perth), die Statebondspele 1982 (in Brisbane), die Statebondspele 2006 (in Melbourne) en die Statebondspele 2018 (in Goudkus). Ander groot internasionale gebeurtenisse wat dikwels in Australië gehou word sluit die Australiese Ope in, een van die vier Grand Slam-tennistoernooie, asook jaarlikse internasionale krieketwedstryde (soos Die As) en die Formule Een Australiese Grand Prix. Korporatiewe en regeringsborge vir baie sporte en topatlete is algemeen in Australië. Uitgesaaide sport is gewild: van die gewildste televisieprogramme sluit die Olimpiese Somerspele en die eindwedstryde van plaaslike en internasionale rugby- en voetbaltoernooie in.[41]
Die Australiese nasionale krieketspan speel sedert 1877 krieket op internasionale vlak en hulle het vir elke krieketwêreldbekertoernooi gekwalifiseer. Hulle het dié toernooi tot dusver ses keer (in 1987, 1999, 2003, 2007, 2015 en 2023) gewen, meer as enige ander land.[42] Australië is ook 'n tweemalige wenner van die Kampioenetrofee, in 2006 en 2009. Saam met Nieu-Seeland het Australië ook twee krieketwêreldbekertoernooie aangebied: in 1992 en 2015. Die As word as die tradisionele en belangrikste toekenning in internasionale krieket beskou en word sedert 1882/83 tussen Engeland en Australië uitgespeel. Tydens die T20I-wêreldbeker 2021 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate het Australië sy eerste T20I-wêreldbekertitel ingepalm, nadat hulle in die eindstryd Nieu-Seeland met agt paaltjies verslaan het.[43] Australië het opgetree as gasheer van die T20I-wêreldbeker 2022 wat deur Engeland gewen is en hulle sal saam met Nieu-Seeland die T20I-wêreldbeker 2028 aanbied.[44] Nadat Australië in die Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023-eindstryd Indië met 209 lopies verslaan het, het hulle die eerste span geword om al die IKR-trofeë in te palm.[45]
Die Australiese nasionale rugbyspan het aan elke rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem en dié toernooi tot dusver twee keer gewen (in 1991 en 1999), wat hulle die derde suksesvolste span net ná Nieu-Seeland se All Blacks en Suid-Afrika se Springbokke maak.[46] In Australië is ook twee rugbywêreldbekertoernooie beslis: Die Rugbywêreldbeker 1987 (saam met Nieu-Seeland) en die Rugbywêreldbeker 2003 (op sy eie). Hulle sal ook die Rugbywêreldbeker 2027 aanbied.[47] Daarbenewens ding die Wallabies jaarliks by die Rugbykampioenskap met die nasionale rugbyspanne van Argentinië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika mee. As deel van die Rugbykampioenskap word die Bledisloebeker teen Nieu-Seeland en die Mandela Uitdaagplaat teen Suid-Afrika jaarliks gespeel. Tydens die jaarlikse Superrugby-klubkampioenskap speel vyf Australiese rugbyspanne (Brumbies, Melbourne Rebels, Reds, Waratahs en Western Force) teen vyf spanne uit Nieu-Seeland, asook een span uit Fidji en 'n saamgestelde span vir Stille Oseaan-eilande.[48]
Sokker is die gewildste klubsport (volgens aantal deelnemers) in Australië[49][50] en sedert 1 Januarie 2006 ding die Australiese nasionale sokkerspan, bekend as die Socceroos, in die AFC se Asiatiese Bekertoernooi mee. Hulle het die trofee tot dusver een keer gewen, tydens die tuistoernooi van 2015. Tot die aansluiting by die AFC in 2006 kon Australië die Oseaniënasiesbeker vier keer wen, die meeste titels net ná die Nieu-Seelandse All Whites. Die Socceroos het tot dusver aan ses FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooie deelgeneem (in 1974, 2006, 2010, 2014, 2018 en 2022) en tydens die 2022-toernooi in Katar die agtste eindrondte gehaal, maar hulle is deur Argentinië met 2–1 verslaan. Saam met Nieu-Seeland het Australië opgetree as gasheer van die Sokker-Vrouewêreldbeker 2023.
Sensus[51] | Bevolking | %± |
---|---|---|
1900 | 3 765 400 | – |
1910 | 4 525 100 | 20,2% |
1920 | 5 411 000 | 19,6% |
1930 | 6 501 000 | 20,1% |
1940 | 7 078 000 | 8,9% |
1950 | 8 307 000 | 17,4% |
1960 | 10 392 000 | 25,1% |
1970 | 12 663 000 | 21,9% |
1980 | 14 726 000 | 16,3% |
1990 | 17 169 000 | 16,6% |
2000 | 19 169 000 | 11,6% |
2010 | 20 971 000 | 9,4% |
Die meeste van die beraamde 27 miljoen Australiërs is afstammelinge van 19de- en 20ste-eeuse Europese setlaars, hoofsaaklik van die Britse Eilande. Met die ingang van 2006 was ongeveer 90% van Australië se bevolking van Europese afkoms. Australië se bevolking het sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog verviervoudig,[52] aangespoor deur dié land se ambisieuse immigrasieprogram. Na die Tweede Wêreldoorlog tot en met 2000 het amper 5,9 miljoen van die totale bevolking hulself as nuwe immigrante in dié land gevestig. Dit beteken dat byna twee uit elke sewe Australiërs oorsee gebore is.[53]
Die getal Suid-Afrikaanse immigrante het op 30 Junie 2011 157 630 beloop – 'n styging van 31 persent sedert 30 Junie 2006.[54] Suid-Afrikaners is tans die agtste grootste migrantegroep in dié land. 96 000 van hulle was in Augustus 2012 ekonomies aktief. Die werkloosheidsyfer van Suid-Afrikaanse immigrante (4,0 persent) was laer as die nasionale gemiddeld (5,1 persent).
Meeste immigrante beskik oor nodige vaardighede, maar die immigrasiekwota maak ook voorsiening vir immigrante se familielede en vlugtelinge. In 2001 was die meeste immigrante afkomstig van (in volgorde) die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland, Italië, Viëtnam en China.[39][55] Die belangrikste immigrantegroepe uit vastelandse Europa was in 2018 Italianers (916 121), Duitsers (898 674), Grieke (378 270), Pole (170 374) en Kroate (126 270).[56]
Na die afskaffing van die Wit Australië-beleid in 1973, is 'n aantal regeringsinisiatiewe gestig om rasseharmonie, gebaseer op 'n beleid van multikulturalisme, aan te moedig en te bevorder.[57] In 2005–06 het meer as 131 000 mense na Australië geëmigreer, hoofsaaklik uit Asië en Oseanië.[58] Die migrasiemikpunt vir 2006–07 was 144 000.[59][60]
In 2011 was die inheemse bevolking (die vastelandse Aborigines en die Torres Strait-eilandbewoners) 669 881 (3% van die bevolkingstotaal),[61] 'n aansienlike toename van die 2001-sensus, wat 'n inheemse bevolking van 410 003 aangetoon het. Inheemse Australiërs het hoër syfers van gevangenisneming en werkloosheid, laer vlakke onderrig en die lewensverwagting vir beide mans en vroue is 17 jaar minder as dié van ander Australiërs.[39]
Soos baie ander ontwikkelde lande, is Australië besig om 'n demografiese verskuiwing na 'n ouer bevolking te maak, met meer afgetredenes en minder mense van 'n werkersouderdom. 'n Groot aantal Australiërs (759 849 in 2002–2003[62]) woon buite hulle geboorteland.
Engels is die nieamptelike, nasionale taal[63] en word geskryf en gepraat in 'n onderskeibare weergawe van die Engelse taal, wat bekend staan as Australiese Engels. Volgens die 2001-sensus is Engels die enigste taal wat in omtrent 80% van die bevolking se huise gepraat word. Die tweede mees algemene taal wat tuis gepraat word is Chinees (2,1%), Italiaans (1,9%) en Grieks (1,4%). 'n Aansienlike gedeelte van die eerste en tweede generasie immigrante is tweetalig. Daar word geglo dat daar tussen 200 en 300 inheemse tale gepraat was teen die tyd wat dié land sy eerste kontak met Europa gemaak het. Van hierdie tale het slegs 70 oorleef, maar 50 daarvan word tans deur uitsterwing bedreig. Omtrent 50 000 (0,25%) van die bevolking het 'n inheemse taal as hul eerste taal. Australië het ook 'n gebaretaal, Auslan, wat die eerste taal van ongeveer 6500 dowe mense is.
Australië het geen staatsgodsdiens nie. Die 2006-sensus het vasgestel dat 64% van die Australiese bevolking hulself as Christelik beskou: 26% beskou hulself as Rooms-Katoliek en 19% as Anglikaans. 5% Australiërs is volgelinge van nie-Christelike gelowe en 19% is gekategoriseer onder "geen godsdiens" (dit sluit nieteïstiese gelowe soos humanisme, ateïsme, agnostisisme en redegeloof in) en 'n verdere 12% het geweier om te antwoord of het nie 'n antwoord gegee wat geïnterpreteer kon word nie. Soos in ander Westerse lande is aktiewe kerkbywoning aansienlik laer as die totaal godsdienstiges: weeklikse kerkbywoning is omtrent 1,5 miljoen, of 7,5% van die bevolking.[64]
Skoolbywoning is verplig vir kinders tussen die ouderdom van 6 en 15 jaar (tot 16 jaar in Suid-Australië en Tasmanië, en 17 jaar in Wes-Australië), wat bydra tot 'n beraamde volwasse geletterheidsyfer van 99%. Regeringsubsidies het die stigting van Australië se 38 universiteite ondersteun en alhoewel 'n aantal private universiteite ook gestig is, ontvang die meerderheid fondse van die regering. Daar is ambagtelike opleidingskolleges, wat op 'n staatstelsel gebaseer is, bekend as TAFE-institute ("Technical and Further Education"), en baie ambagte bied vakleerlingskappe om nuwe ambagsmanne en -vroue op te lei. Ongeveer 58% Australiërs tussen 25 en 64 jaar oud het ambagtelike of tersiêre kwalifikasies.[39] Australië se tersiêre slaagsyfer is 49%, die hoogste van al die OESO-lande. Die verhouding van internasionale tot plaaslike studente in tersiêre onderrig is ook die hoogste van al die OESO-lande.[65]
Die Gemenebes Australië is 'n grondwetlike monargie met 'n parlementêre regeringstelsel. Koning Charles III is die koning van Australië, 'n rol wat onderskei word van haar rol as monarg van die ander ryke in die Statebond. Die koning word op federale vlak deur die Goewerneur-generaal verteenwoordig en deur goewerneurs op 'n staatsvlak. Alhoewel die Australiese grondwet aansienlike uitvoerende gesag aan die goewerneur-generaal gee, word dit normaalweg slegs uitgeoefen na raad van die eerste minister van Australië. Die mees opmerklike uitoefening van die goewerneur-generaal se gesag sonder die aanwysing van die eerste minister was die afdanking van die Whitlam-regering tydens die Australiese grondwetlike krisis van 1975.[66]
Daar is drie liggame in die regering:
Die tweekamer-parlement bestaan uit die Koning, die Australiese Senaat (die opper kamer) van 76 senatore en 'n Huis van Verteenwoordigers (die laer kamer) van 151 lede. Lede van die laer kamer word verkies deur enkel-lid kiesafdelings, algemeen bekend as "kiesers" of "setels". Setels in die Huis van Verteenwoordigers word aan deelstate toegewys op basis van die bevolking en elke staat word 'n minimum van vyf setels gewaarborg. In die Senaat word elke staat deur 12 senatore verteenwoordig en die gebiede word deur twee senatore verteenwoordig. Verkiesings vir beide kamers word elke drie jaar gehou: senatore het oorvleuelende ses-jaar terme en slegs die helfte van die setels word in 'n verkiesing beskikbaar gemaak, tensy die siklus deur 'n dubbele ontbinding onderbreek word. Die party met die meerderheid ondersteuning in die Huis van Verteenwoordigers vorm die regering en dié party se leier word die eerste minister.
Daar is drie groot politieke partye: die Australiese Arbeidersparty, die Liberale Party en die Nasionale Party. Onafhanklike lede en verskeie kleiner partye het ook verteenwoordigheid in die Australiese parlement verkry, meesal in die opper huise. Sedert die 2022-verkiesing is die Arbeidersparty aan bewind in Canberra, onder leiding van die eerste minister Anthony Albanese. Anthony Albanese het die sittende eerste minister Scott Morrison tydens die 2022-verkiesing op 21 Mei 2022 verslaan en hy is vervolgens op 23 Mei as eerste minister ingesweer. Alle burgers wat 18 jaar en ouer is word verplig om aan elke staats-, gebied- en federale verkiesing deel te neem, behalwe in Suid-Australië.[67]
Australië bestaan uit ses deelstate, twee groot vastelandse gebiede en ander kleiner gebiede.
Die deelstate is:
Die twee groot vastelandse gebiede is die Noordelike Gebied en die Australiese Hoofstadgebied.
Die gebiede funksioneer in die meeste opsigte op dieselfde wyse as die deelstate, maar die Australiese Parlement kan enige van hulle wetgewings herroep. In kontras kan federale wetgewing staatwetgewing slegs in sekere gevalle geroep, soos uiteengesit in artikel 51 van die Australiese grondwet; alle oorblywende wetgewende gesag word deur die staatsparlemente behou, dit sluit gesag oor die hospitale, onderwys, polisie, regbank en plaaslike goewerment in.
Elke staat en gebied het ook sy eie wetgewende liggaam: 'n eenkamerstelsel in die Noordelike Gebied, die Australiese Hoofstadgebied en Queensland, en 'n tweekamerstelsel in die oorblywende deelstate. Die laer kamer staan bekend as die Wetgewende Vergadering (Huis van Vergadering in Suid-Australië en Tasmanië) en die opper kamer staan bekend as die Wetgewende Raad. Daar word na die regeringshoofde in elke staat en gebied as premiers en hoofministers (respektiewelik) verwys. Die Koning word in elke staat verteenwoordig deur 'n goewerneur; 'n administrateur in die Noordelike Gebied en 'n Goewerneur-generaal in die Hoofstadgebied het elk 'n soortgelyke rol.
Australië het ook 'n aantal kleiner gebiede: die federale regering bestuur 'n aparte area binne-in Nieu-Suid-Wallis, die Jervisbaaigebied, as 'n vlootbasis en seehawe vir die nasionale hoofstad. Australië het ook die volgende bewoonde eksterne gebiede: Norfolk-eiland, Kerseiland en Kokoseilande, en 'n aantal onbewoonde eksterne gebiede: die Ashmore- en Cartiereilande, die Koraalsee-eilande, die Heard- en McDonaldeilande en die Australies-Antarktiese Gebied.
Oor die afgelope dekades is Australië se buitelandse beleid sterk gestuur deur drie grondbeginsels:
Belangrike forums vir die samewerking met Asiaties-Pasifiese lande is die VSAN (Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies) en die Stille Oseaan-eilande Forum. In 2005 het Australië ná sy toetreding tot die Vriendskaps- en Samewerkingverdrag'n intreesetel by die Suid-Asië-konferensie verseker.
Australië is 'n daarnaas 'n lid van die Statebond, waarin die Gemenebesregeringshoofde se vergaderings die hoof forum vir samewerking bied. Australië het ook die liberalisering van internasionale handel met mening ondersteun: dié land het die vorming van die Cairns-groep en die ESASOG (Ekonomiese Samewerking in die Asië-Stille Oseaangebied) gelei en is 'n lid van OESO (Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling) en die WHO (Wêreldhandelsorganisasie). Australië is ook 'n stigtingslid van die Verenigde Nasies en handhaaf 'n internasionale bystandsprogram waardeur dié land hulp aan ongeveer 60 lande verleen. Die 2005–2006 begroting het A$2,5 miljard vir ontwikkelingshulp voorsien.
Australië se leër, die Australiese Verdedigingsmag, bestaan uit die "Koninklike Australiese Vloot" (RAN, Royal Australian Navy), die "Australiese Leër" (Australian Army) en die "Koninklike Australiese Lugmag" (RAAF, Royal Australian Air Force), wat gesamentlik uit omtrent 51 000 man bestaan.[68] Alle takke van die Verdedigingsmag was reeds betrokke in VN- en plaaslike vredehandhawing (mees onlangs in Oos-Timor, die Salomonseilande en Soedan), rampverligting en gewapende konflik, insluitende die Irak-oorlog in 2003. Die regering wys die hoof van die Verdedigingsmag uit een van die gewapende diensbedrywe aan; die huidige Hoof van die Verdedigingsmag is Lugmaghoof Angus Houston. In die 2006–2007 begroting is A$22 miljard aan verdediging bestee.[69]
Australië strewe daarna om die stabiliteit en veiligheid van die Asiaties-Pasifiese streek deur noue samewerking met Indonesië en ander Suidoos-Asiatiese lande te verseker en internasionale terrorisme te bestry. Dié land is 'n lid van die G20 en sedert 2010 ook van ASEM.
Australië het sowat 3 200 soldate vir vredesoperasies in die buiteland ontplooi, waaronder 1 550 in Afghanistan, 800 in die Midde-Ooste (oorwegend om operasies in Afghanistan te ondersteun), 80 op die Salomonseilande en troepe vir verskillende VN-missies.[70]
Australië het 'n welvarende, Westerse gemengde ekonomie met 'n per kapita bruto binnelandse produk (BBP) wat ietwat hoër is as dié van die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Frankryk ten opsigte van koopkragpariteit. Dié land is derde gelys in die Verenigde Nasies se 2006 Menslike Ontwikkelingsindeks en sesde in The Economist se wêreldwye lewenskwaliteitindeks in 2005. Die afwesigheid van 'n uitvoergeörienteerde vervaardigingsnywerheid is altyd as 'n groot swakheid in die Australiese ekonomie beskou. So word die Australiese ekonomie deur die dienstesektor oorheers wat byna 80 persent tot die BBP bydra.
Die belangrikste bedrywe in die dienstesektor is finansies, die bousektor en sakedienste. Die land- en mynbousektor se gesamentlike bydrae tot die BBP beloop sowat tien persent, maar desondanks kom ongeveer 70 persent van Australië se uitvoere uit hierdie twee sektore. Die bank- en mynbousektor, wat tesame sowat twintig persent van Australië se waardeskepping op hulle verenig, bied net 'n relatief klein aantal werksgeleenthede. So word nuwe werksgeleenthede veral in die kleinhandel-, mediese en boubedryf geskep. Groeiende bedrywe soos inligtings- en kommunikasietegnologie, elektroniese handel, bio-, nano- en geneeskundige tegnologie speel 'n steeds belangriker rol.
Die metropolitaanse gebiede van Sydney en Melbourne aan die ooskus dra die grootste deel tot Australië se waardeskepping by. Dié land se hoë per capita-waardeskepping, wat in 2012 51 659 A$ beloop het, en die hoë graad van verstedeliking maak van dié land 'n aantreklike mark vir verbruiksgoedere.
Bedryf (Syfers vir 2012) | Waardeskepping | % van BBP | % van Alle Werkgeleenthede |
---|---|---|---|
Mynbou | 139,647 miljard A$ | 10,3 | 2,3 |
Finansiële dienste | 137,549 miljard A$ | 10,2 | 3,9 |
Boubedryf | 107,749 miljard A$ | 8,0 | 9,4 |
Professionele dienste | 92,260 miljard A$ | 6,9 | 8,2 |
Mediese bedryf | 85,240 miljard A$ | 6,3 | 12,4 |
Openbare sektor | 71,421 miljard A$ | 5,3 | 7,3 |
Vervoerbedryf | 70,833 miljard A$ | 5,2 | 5,2 |
Kleinhandel | 63,573 miljard A$ | 4,7 | 11,2 |
Bron: Australian Bureau of Statistics
Die Australiese vervaardigingsbedryf se swak prestasie word veral aan hoë arbeidskoste toegeskryf. So het die nywerheidsektor se bydrae tot die ekonomie se waardeskepping van 25 persent in die 1960's gekrimp tot slegs 7 persent in 2012. In dié jaar het 12 persent van industriële ondernemings hul produksie gestaak.
Volgens die Australiese Buro vir Statistiek beloop arbeidskoste in die vervaardigingsbedryf tans 16 persent van die totale produksiekoste. Hul aandeel is betreklik hoog in die drukkery- (29%) en die meubelbedryf (27%), maar aansienlik laer in die metaal- (9%) en chemiese bedryf (14%).
Terwyl sowat sestig persent van alle nywerheidsgoedere plaaslik vervaardig word, speel invoere 'n steeds belangriker rol, veral in die masjienboubedryf (73%) en die tekstielbedryf (62%). Die persentasie plaaslik vervaardigde inhoud is veral hoog in die voedsel- en drankebedryf (87%) en die glas- en keramiese bedryf. Voedselverwerking lewer die grootste waardeskepping met 18 miljard A$, naas masjienbou (12 miljard A$) en metaalvervaardiging (11 miljard A$).
In die laat 19de en vroeë 20ste eeu het dit gelyk asof Australië sy eie lewensvatbare motorbedryf sou kon ontwikkel. So het die Shearer Agricultural Machinery Company in Suid-Australië reeds voor 1900 'n stoomwa ontwikkel, net soos sy mededinger Thomson in Melbourne. Enkele jare later, kort ná die stigting van die Australiese Gemenebes, het Tarrant met die vervaardiging van petrolgedrewe motorvoertuie begin. Vervaardigers was destyds optimisties oor die toekoms van motorvervaardiging in Australië en het 'n aantal pogings onderneem om die bedryf uit te brei. Maar hulle is van die begin af deur moeilikhede in die gesig gestaar. Die Australiese mark het veral vanweë sy relatief klein omvang en die groot afstande tussen die groter nedersettings groot uitdagings gebied. So was dit reeds in die vroeë 20ste eeu goedkoper om massavervaardigde motors van oorsee in te voer.
Australiërs was geesdriftig oor Amerikaans-vervaardigde motors soos Oldsmobile wat hulle aanvanklik slegs teen hoë pryse van katalogusse kon bestel, en hulle het dikwels in opstand gekom teen die eerste verkeersreëls. Omstreeks 1910 kon motorvoertuie danksy verbeterde bandtegnologie reeds 'n spoed van 90 km per uur bereik, terwyl munisipaliteite spoedbeperkings van 20 km per uur ingestel het. Net soos elders in die wêreld was perdewaens in hierdie tyd nog strawwe mededingers op paaie.
Holden, 'n naam wat later sinoniem met die Australiese motorbedryf geword het, was aanvanklik 'n Adelaide-gebaseerde koetsmaker en het eers in 1917 omgeskakel na bakwerke vir motorvoertuie. In 1922 het die onderneming reeds 555 bakwerke per maand vir verskillende motorbouers vervaardig. Die Amerikaanse vervaardiger Ford het in hierdie tydperk die eerste Australiese monteerfabriek vir sy massavervaardigde Model T geopen. Pryse het binnekort begin daal sodat middelklasgesinne hul eerste motor kon bekostig. Die Australiese motorbedryf het sy eerste bloeitydperk beleef.
Die depressie van die 1930's het die bedryf in 'n swaar krisis gedompel. Terwyl Holden in 1927 nog 21 000 motors op die Australiese mark kon verkoop, het hierdie syfer twee jaar later gedaal tot slegs 4 786.[71] Holden is deur bankrotskap gedreig en uiteindelik in 1931 vir slegs 1,75 miljoen Australiese pond deur die Amerikaanse motorreus General Motors (GM) oorgeneem. In 1936 is die eerste monteerfabriek vir motors in Port Melbourne, Victoria geopen.
Hierdie deurbraak was aan druk van regeringskant te danke – politici in Canberra het die plaaslike bedryf se afhanklikheid van ingevoerde onderdele gedurende die Tweede Wêreldoorlog as sorgwekkend beskou en met die oprigting van 'n nasionale motoraanleg gedreig. GM het onder die politieke druk geswig en begin om 'n Australiese sessilinder-motor, die Holden 48–215, te ontwikkel wat vanaf November 1948 vir die plaaslike mark vervaardig is. In die volgende jare is jaarliks 20 000 eksemplare vervaardig – die begin van Holden se suksesverhaal.
Die ander groot motorvervaardigers – naas GM-Holden het Ford, Chrysler en die Britse BMC oor aanlegte in Australië beskik – het eweneens begin om plaaslike inhoud te verhoog. Tot 95 persent van alle onderdele is plaaslik vervaardig (voorskrifte is later verslap tot 85 persent plaaslike inhoud). Hierdie beleid het Australië in krisistye onafhanklik van invoere gemaak, nuwe werksgeleenthede geskep en immigrante na dié land gelok. Sessilinder-voertuie was baie gewild in 'n land met groot afstande soos Australië en het vervolgens 'n standaard geword – tot die eerste oliekrisis in 1973. Ondanks invoer- en ander beskermende tariewe het Japanse viersilinder-motors sedertdien steeds meer aanklank by Australiese kopers gevind.
Twee groot Japanse vervaardigers, Toyota en Nissan, het ná onderhandelinge met die Australiese regering ingestem om plaaslike aanlegte op te rig. In Australië het hulle egter met hoër produksiekoste as in Japan en 'n stagnerende mark gesukkel. 'n Ander uitdaging was die groot getal motor- en onderdelevervaardigers op die klein Australiese mark. Teen die middel van die 1980's het vyf vervaardigers jaarliks 400 000 eenhede geproduseer. 'n Kwart van alle voertuie is deur Holden vervaardig wat in koöperasie met die Japanse motorbouer Isuzu ook 'n kompakmotor ontwikkel het.
In Desember 2013 het Holden bekendgemaak dat hulle hul vervaardigingsaanlegte in 2017 sal sluit. Toyota Australia sal dan die laaste oorblywende motorvervaardiger in Australië wees nadat Ford sy produksie al vroeër gestaak het. Holden se besluit beteken dat ook talle onderdelevervaardigers hul fabrieksdeure sal moet sluit, en dit plaas sodoende 'n vraagteken oor die toekoms van die plaaslike motorbedryf aangesien dit moontlik nie meer die kritiese massa vir sy handhawing sal hê nie. Tans verskaf die bedryf 6 600 werksgeleenthede in die deelstaat Suid-Australië en 33 000 in Victoria.[72] Die Australiese regering het reeds aangekondig dat geen verdere subsidies vir die bedryf beskikbaar gestel sal word nie. Ekonome verwys daarop dat motorvervaardiging in Australië moontlik nie meer lewensvatbaar sal wees nie.
In teenstelling met Holden, wat hulle hoofsaaklik op die binnelandse mark toegespits het en tot en met 2002 die grootste vervaardiger in dié land was, is Toyota se produksie uitvoergerig. Sewentig persent van plaaslikvervaardigde voertuie word na oorsese bestemmings uitgevoer. Holden was daarenteen steeds meer afhanklik van staatsubsidies.
Nog tot in die 1990's het die Australiese ekonomie ten opsigte van sy in- en uitvoere sterk op die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk gefokus. Intussen is ekonomiese aktiwiteite veral op die Pasifiese streek gerig. Terwyl vryehandelsooreenkomste met oorsese lande onderteken is, is daar enkele handelsgeskille met Asiatiese lande. So maak Japan die verlaging van invoertariewe vir Australiese landbouprodukte afhanklik van hoër motoruitvoere na Australië, terwyl die Volksrepubliek China in September 2013 'n invoerverbod op verkoelde vleis geplaas het om ekonomiese druk uit te oefen.[73]
Die belangrikste uitvoergoedere is steenkool, ystererts, goud, ruolie en olieprodukte en aardgas. Australië is daarnaas besig om sy kapasiteite vir die uitvoer van vloeibare aardgas te vergroot. Dié land is reeds sedert die middel van die 1980's die grootste steenkooluitvoerder ter wêreld. Australië se grootste uitvoermarkte sluit Japan, die Volksrepubliek China, die Verenigde State van Amerika, Suid-Korea en Nieu-Seeland in.[39]
Daar is tradisioneel 'n tekort op dié land se lopende rekening wat in die vroeë 21ste eeu jaarliks tussen twee en ses persent van die BBP beloop het en sowel met die skuldlas van privaat huishoudings asook omvangryke beleggings in mynbouprojekte verbind word. Die belangrikste invoergoedere naas ruolie en geraffineerde olie is voertuie en geneesmiddels.
Die Hawke-regering het die proses van ekonomiese hervorming aan die gang gesit deur die Australiese dollar vry te laat sweef in 1983 en die finansiële stelsel gedeeltelik te dereguleer.[74] Die John Howard-regering het die proses van mikro-ekonomiese hervorming voorgesit deur gedeeltelike deregulering van die arbeidsmark en die privatisering van besighede wat in staatsbesit was, met name die telekommunikasienywerheid.[75] Die indirekte belastingstelsel was aansienlik hervorm in Julie 2000 met die invoer van 'n 10% goedere- en inkomstebelasting, wat die swaar steun op persoonlike en maatskappybelasting – nog steeds 'n kenmerk van Australië se belastingstelsel – ietwat verminder het.
Met die ingang van Januarie 2007 was 10 033 480 mense ekonomies aktief met 'n werkloosheidskoers van 4,6%.[76] Sedert 1996 was inflasie tipies 2–3% en basisrentekoerse 5–6%.
Veldbrande is 'n natuurlike gebeurtenis in Australië wat jaarliks voorkom en uitgestrekte gebiede met weivelde en bosse vernietig, maar as gevolg van die veranderende wêreldklimaat het dié land merkbaar droër en warmer en geword en het hierdie soort brande intussen 'n ernstige bedreiging vir bewoonde gebiede geword. Die veldbrande, wat in Februarie 2009 in die deelstaat Victoria gewoed het, was die dodelikste ooit met meer as 200 slagoffers. Daarnaas is ook duisende woonhuise vernietig.
Stygende waterverbruik en die knellende droogte, waaronder dié land sedert 2004 gebuk gaan, stel uitdagings op ekologiese, politieke en ekonomiese gebied. Die lae reënval en beperkings, wat op besproeiing van landbougrond geplaas is, het 'n uiters negatiewe uitwerking op die landbousektor. Groot dele van dié land het al weens grondversouting onvrugbaar geword, terwyl die ekostelsel van die Murray-Darling-bekken – die grootste rivierstelsel in Australië – as gevolg van hoë waterverbruik ernstig beskadig is en op middeltermyn selfs deur uitdroging bedreig word. Die federale regering en die deelstate het in Julie 2008 'n gemeenskaplike reddingsplan ter waarde van 3,7 miljard AUS-$ vir die bekken aanvaar wat meer as 40 persent van dié land se landbougrond behels.
Die omvang en langdurigheid van die droogte word net soos die toenemende vernieting van die Groot Australiese Koraalrif langs die kuslyn van Queensland aan die globale klimaatsverandering toegeskryf. Aangesien Australië tans die grootste per capita-produsent van kweekhuisgasse is en die vorige eerste minister Kevin Rudd tydens sy verkiesingsveldtog na globale verwarming as die "grootste uitdaging vir die mensdom" verwys het, het die Australiese regering besluit om die storting van kweekhuisgasse tot 2020 met tussen 5 persent (op nasionale vlak) en 25 persent (binne die raamwerk van 'n internasionale ooreenkoms) te verminder. In 2011 sal 'n nasionale emissiehandelstelsel ingevoer word.[77]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.