From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Zimbabwiese nasionale rugbyspan (Engels: Zimbabwe national rugby union team) is die nasionale rugbyspan wat Zimbabwe in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Zimbabwe geadministreer deur die Zimbabwiese Rugbyunie (Zimbabwe Rugby Union, ZRU) wat in 1895 gestig is. Hulle dra die bynaam Sables, genoem na die swartwitpens (Engels: sable antelope). Zimbabwe word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Zimbabwiese rugbyspan is tans (Julie 2024) 28ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Saam met Ivoorkus en Kenia is Zimbabwe tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikarugbyspanne na die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Namibiese Welwitschias.
Zimbabwe | ||||
Unie | Zimbabwiese Rugbyunie (ZRU) | |||
Bynaam(e) | Sables (“die swartwitpense”) | |||
Embleem | Zimbabwiese voël | |||
Afrigter(s) | Piet Benade (sedert 2024) | |||
Kaptein(s) | Hilton Mudariki | |||
| ||||
Statistiek | ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | Brendon Dawson (20)[1] | |||
Meeste punte | Kennedy Tsimba (72)[2] | |||
Meeste drieë | Victor Olonga (8)[3] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
as Rhodesië Rhodesië 11–24 Britse Leeus (Bulawayo, Rhodesië; 30 Julie 1910) as Zimbabwe Kenia 24–34 Zimbabwe (Nairobi, Kenia; 23 Mei 1981) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Zimbabwe 130–10 Botswana (Bulawayo, Zimbabwe; 7 September 1996) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
Namibië 80–6 Zimbabwe (Windhoek, Namibië; 15 Augustus 2015) | ||||
Wêreldbeker | ||||
Verskynings | 2/10 (Eerste in 1987) | |||
Beste uitslag | Laaste in groep 1987 en 1991 | |||
Unie webwerf | ||||
www.zimbabwerugby.com |
Rugby het aan die einde van die 19de eeu onder “wit” setlaars begin versprei, terwyl die inheemse bevolking aanvanklik meestal uitgesluit was. Die Britse kolonie Suid-Rhodesië (en die in 1965 eensydig vir onafhanklik verklaarde Rhodesië) was oor dekades heen in die buurland Suid-Afrika se speelprogram geïntegreerd en het gereeld toerende oorsese nasionale spanne gehuisves. Die onafhanklike en volgens internasionale reg erkende Zimbabwe het in 1981 sy eerste toetswedstryd teen Kenia gespeel. Zimbabwe het al aan twee rugbywêreldbekertoernooie deelgeneem, maar sowel in 1987 as in 1991 al sy wedstryde in die groepfase verloor. As gevolg van dié land se ekonomiese agteruitgang het ook die inheemse rugbysport se vlak afgeneem. Hulle het tydens die Afrikabeker twee titels ingepalm, drie keer in die tweede en twee keer in die vierde plek geëindig. Die Zimbabwiese span speel tradisioneel in groen-wit-gestreepte truie met wit broeke en groen-wit-gestreepte sokkies. Twee voormalige Zimbabwiese rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Die beheerliggaam vir rugby in Zimbabwe is die Zimbabwiese Rugbyunie (Engels: Zimbabwe Rugby Union, ZRU). Die Zimbabwiese Rugbyunie is in 1895 as die Rhodesiese Rugbyvoetbalunie (Rhodesia Rugby Football Union, RRFU) gestig, in 1980 hernoem en het sewe jaar later ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[5] Ook in 1987 het die Zimbabwiese Rugbyunie ’n lid geword van die kontinentale beheerliggaam Rugby Afrika.[6]
Vanweë die swak strukture beskik Zimbabwe slegs oor ’n klein rugbyliga, die Super Six Rugby League met ses spanne.[7] Spelers met groter ambisies draf uit vir die keurspan Zimbabwe Goshawks wat aan die Suid-Afrikaanse Curriebeker deelneem en sy tuiswedstryde tydens dié toernooi in Kaapstad speel. Sedertdien is die meeste spelers van die Zimbabwiese nasionale span uit dié keurspan afkomstig of speel vir ander Suid-Afrikaanse spanne.[8] Van die ander spelers is veral in Europa aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die Zimbabwiese Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Zimbabwe oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[9] Die Zimbabwe Sevens is die Zimbabwiese sewesrugbyspan. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Die aantal skole wat rugby aanbied, is om historiese redes egter klein. Dit is veral privaat skole wat op die behoeftes van ’n klein hoër- en middelklas gemik is en deur die bevolkingsmeerderheid nie bekostig kan word nie.[10]
In 1890 het die Pionierskolom, ’n mag huursoldate wat deur Cecil John Rhodes en die British South Africa Company (BSAC) saamgestel is, vanuit die Kaapkolonie die gebiede noord van die Limpoporivier bereik. Die eerste rugbywedstryde is glo in dieselfde jaar in Fort Victoria beslis.[11] Toe die huursoldate gekies is, het die koloniale amptenare, wat hul opleiding hoofsaaklik aan Britse openbare skole ontvang het, groot waarde aan sportprestasies geheg. Hulle het daarin belanggestel om Britse balsporte in die nuwe kolonie te vestig. Dienooreenkomstig het rugby en krieket ’n prominente rol gespeel, aangesien hulle ’n ideale verbinding met die Verenigde Koninkryk sou vorm. Volgens die koloniste se siening het dié twee sportsoorte in ’n besondere mate “imperiale ideologieë van die Britte se mag en van manlikheid, wat uitgedruk is in sportprestasies” bevorder. In dié kolonie se beginjare, wat veral deur militêre konflikte (Jameson-inval, Matabele-opstand, Tweede Vryheidsoorlog) gekenmerk was, het die BSAC gepoog om deur gereelde sportverslae in die Suid-Afrikaanse en Britse pers ’n soort normaliteit voor te gee om die toestroming van nog setlaars aan te moedig.[12]
In 1894 is in Bulawayo die land se eerste twee rugbyklubs gestig, Queens en Bulawayo Athletic Club. Een Jaar later is die beheerliggaam Rhodesiese Rugbyvoetbalunie (Rhodesia Rugby Football Union, RRFU) gestig.[11] Dié beheerliggaam was aanvanklik slegs verantwoordelik vir die kolonie Suid-Rhodesië, maar later ook vir die protektorate Noord-Rhodesië en Njassaland. Rhodes het na ’n geruime tyd besef dat die BSAC alleen nie in staat was om die deur die setlaars verkiesde suidelike deel van Rhodesië doeltreffend te administreer nie. In 1897 het hy dus sy vriend William Henry Milton as administrateur van die gebied Masjonaland (van 1901 af ook van Matabeleland en dus van die hele Suid-Rhodesië) aangestel om ’n siviele administrasie te vestig. Milton het in 1874/75 vir die Engelse nasionale rugbyspan uitgedraf en was van 1889 tot 1892 kaptein van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan.[13] Tydens sy ampstermyn, wat tot 1914 geduur het, het hy onder meer strukture geskep vir sportaktiwiteite, byvoorbeeld deur die bekendstelling van skoolsport. Vir die setlaars was die beoefening van sport ’n belangrike manier vir sosiale akkulturasie, aangesien dit die interaksie tussen betreklik ver afgeleë nedersettings bevorder en tot die skepping van ’n eenvormige “wit” kultuur bygedra het. Die vorming van ’n uitsluitende setlaaridentiteit was glo noodsaaklik vir die handhawing van die oppergesag en beheer oor die veel groter inheemse bevolking.[14] Milton se rassistiese invloed was aansienlik en hy was meer as enige ander verantwoordelik vir die skepping van ’n gesegregeerde speelprogram. Gevolglik is rugby feitlik uitsluitlik deur “wit” mense gespeel.[15]
Toe die spoorlyn in 1897 Bulawayo bereik het, het dit die vestiging van gereelde sportverhoudings met Suid-Afrika vergemaklik. In 1898 het vir die eerste keer ’n keurspan van die RRVU deelgeneem aan die Curriebeker, die Suid-Afrikaanse beheerliggame se kampioenskap. Die keurspan het bestaan uit spelers van die vyf grootste klubs in die land se twee belangrikste stede, Bulawayo en Salisbury (nou Harare). Met ’n gelykop teen Transvaal, asook oorwinnings oor Oostelike Provinsie en Oranje-Vrystaat het dit al die verwagtinge oortref. Daarna was die Rhodesiese rugby steeds blootgestel aan ’n sterk Suid-Afrikaanse invloed.[16] Toe die Suid-Afrikaanse nasionale span in 1906/07 deur Europa getoer het, het met Freddie Brooks ook ’n Rhodesiese setlaar deelgeneem, maar vir sy tuisland Engeland verskyn.[17] Dit was ’n voorbeeld van Rhodesië se tweespalt, wat van die suidelike buurland afhanklik was, maar nie deel wou word van die beplande Unie van Suid-Afrika nie. Die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (SARR) se voorstel om die Rhodesiese rugby heeltemal in die beheerliggaam Griekwaland-Wes te integreer, is in 1908 eenparig verwerp. Dié voorstel het die feit geïgnoreer dat onder die “wit”, meestal Brits-gebore Rhodesiërs intussen ’n nasionale gevoel ontwikkel het, wat van dié van die Afrikaanstalige Boere (wat binnekort die toekomstige staat sou oorheers) verskil het.[18]
Die RRVU het onafhanklik gebly, maar dit was as ’n deelbeheerliggaam van die SARR steeds in die Suid-Afrikaanse speelprogram geïntegreer. Die inkomste wat gegenereer is deur deelname aan die Curriebeker was van groot belang vir die uitbreiding van die Rhodesiese sportinfrastruktuur. Enersyds is Rhodesiërs onbeperk toegelaat om vir die nasionale span van die buurland te speel, andersyds was dit nou interessant vir oorsese spanne om ’n draai na Rhodesië te kom maak wanneer hulle Suid-Afrika besoek het. Die eerste “toetswedstryd” sonder toetswedstrydstatus is op 30 April 1910 beslis, toe die Britse Leeus (die vier Britse Tuislande se keurspan) tydens hul maandelange toer na Suid-Afrika Bulawayo besoek en met 24–11 geseëvier het.[19] Verdere besoeke deur die Leeus het tydens die 1924- en 1938-toere gevolg. Die Nieu-Seelandse All Blacks is in 1928 gehuisves, die Australiese Wallabies in 1933. Na ’n afwesigheid van meer as dertig jaar was die Rhodesiese span van 1947 af deurlopend betrokke in die Curriebeker se eerste afdeling.
Twee jaar later het die All Blacks weer Rhodesië besoek. Die gashere het op 27 Julie 1949 in Bulawayo ’n heeltemal verrassende 10–8-oorwinning aangeteken. Hoewel die Nieu-Seelanders weens die onlangs ingestelde apartheidwette sonder hul Maori-spelers moes klaarkom, is hulle as groot gunsteling beskou. Hulle is nogtans deur die Rhodesiërs se aanvallende speelstyl verras, wat met Salty du Rand en Ryk van Schoor oor twee Springbokspelers beskik het. Drie dae later het Rhodesië in Salisbury met ’n 3–3-gelykop bewys dat dit geen toeval was nie.[20] In 1953 kon hulle tydens die besoek deur die Australiërs nog ’n gelykop aanteken. Die Leeus is weer in 1955, 1962, 1968 en 1974 gehuisves, die Franse in 1958, 1964 en 1967, die Nieu-Seelanders in 1960 en 1970, die Australiërs in 1963 en 1969. Die gashere kon slegs in 1967 teen Frankryk ’n gelykop aanteken. Die Rhodesiërs het in 1965 teen Argentinië en in 1973 teen Italië geseëvier.
Die sedert 1953 bestaande Sentraal-Afrikaanse Federasie is tien jaar later ontbind, waarmee die RRVU sy verantwoordelikheid vir die nuwe onafhanklike lande Zambië en Malawi kwyt was. Die “wit” minderheid van Suid-Rhodesië het destyds oor ’n groot mate aan selfregering beskik en hulle wou hul bevoorregte posisie behou, wat vir die Britte weens die toenemende dekolonisasie egter onaanvaarbaar was. Nadat onderhandelinge oor die “swart” meerderheid se politieke gelykstelling misluk het, het die regering onder Ian Smith op 11 November 1965 eensydig Rhodesië se onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verklaar. Die Britse regering onder Harold Wilson het dié gebeurtenis as ’n opstandige daad bestempel en talle pogings op internasionale vlak aangewend om die Rhodesiese regering enige internasionale legitimiteit te ontsê. Dit het spoedig die sportwêreld ingesluit en van 1967 af het die Britse regering aangevoer dat verbindinge op sportvlak ’n vorm van “ondersteuning vir die onwettige regime in Rhodesië” sou wees. Dit sou egter nog sewe jaar neem voordat die Rhodesiese rugbyspan heeltemal geboikot is.[21]
Die boikotpogings was nie op die rasseskeiding as sulks gemik nie, dit was egter uitdruklik gefokus op die onwettigheid van die Smith-administrasie. In teenstelling met Suid-Afrika was die diskriminasie van die bevolkingsmeerderheid in Rhodesië nie op ’n staatsbepaalde en georganiseerde apartheid gegrond nie, veral as sulks in Rhodesië weens ’n gebrek aan die nodige veiligheidsmagte in elk geval nie afdwingbaar was nie. Dit was eerder ’n uitdrukking van uitsluiting op sosiale en ekonomiese vlak. Op die gebied van sport het dit op verskillende maniere gemanifesteer. Sportsoorte wat duur toerusting en fasiliteite of spesiale afrigtingsmetodes vereis het, is oorheers deur die gegoede “wit” setlaargemeenskap, terwyl baie “swart” Rhodesiërs uitgesluit was bloot weens ’n gebrek aan finansiële middele. In sportsoorte sonder sulke vereistes was reeds sedert die 1950’s ’n wegval van skeidende hindernisse waarneembaar, wat veral die geval in sokker en atletiek was. Daarenteen het sportsoorte soos krieket en rugby, wie se beheerliggame noue verbindings met hul Suid-Afrikaanse eweknieë gehandhaaf het, ’n hoë mate aan segregasie getoon.[14]
Ná die sluiting van die Lancasterhuis-ooreenkoms het die land op 18 April 1980 sy onafhanklikheid verkry en is hernoem in Zimbabwe wat ook die einde van die “wit” minderheidsheerskappy ingelui het. Dienooreenkomstig het die Rhodesiese Rugbyvoetbalunie (Rhodesia Rugby Football Union) sy naam verander in Zimbabwiese Rugbyunie (Zimbabwe Rugby Union, ZRU). Vanweë die groot internasionale druk om die Suid-Afrikaanse apartheidsregime te boikot, het die ZRU al sy verbindings met die SARR afgebreek en aan die Curriebeker asook ander toernooie onttrek. In ruil daarvoor is die ZRU in die internasionale strukture ingesluit. In September en Oktober dieselfde jaar het die nuwe nasionale span ’n toer vir ses wedstryde aangepak en teen verskillende Engelse deelbeheerliggame gespeel. Onder andere het hulle in ’n wedstryd teen die graafskap Surrey se span op die Londense Twickenham gespeel.[22] Die Zimbabwiese nasionale span het sy eerste toetswedstryd op 7 Julie 1981 in Nairobi teen Kenia gespeel en met 34–24 gewen. As eerste nie-Afrikaspan is Roemenië in 1982 vir twee wedstryde in Bulawayo gehuisves en hulle het in albei wedstryde naelskraapse oorwinnings aangeteken. In 1983 en 1984 kon Zimbabwe elk ’n oorwinning oor Spanje aanteken, in 1985 het hulle naelskraapse nederlae teen Italië, Portugal en Spanje gely. Op 29 Junie 1986 het Richard Tsimba tydens die 26–19-tuisoorwinning oor die Sowjetunie in Harare rugbygeskiedenis gemaak as die eerste “swart” speler vir Zimbabwe.[23]
Zimbabwe was een van die 16 spanne wat deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) uitgenooi is om aan die eerste rugbywêreldbekertoernooi in 1987 in Australië en Nieu-Seeland deel te neem. Daarmee gepaard gegaan het die Zimbabwiese beheerliggaam se aansluiting by die voorheen redelik eksklusiewe IRVR. Zimbabwe is pleks van Suid-Afrika, wat vanweë sy voortgesette apartheidsbeleid nie in aanmerking gekom het nie, as enigste Afrikaverteenwoordiger uitgenooi. In die eerste wedstryd teen Roemenië was Zimbabwe met 20–21 op die punt van ’n oorwinning, waartydens Richard Tsimba twee drieë gedruk het. Daarop het twee swak nederlae teen Skotland (met 21–60) en Frankryk (met 12–70) gevolg. Met hul laaste plek is die Zimbabwiërs reeds in die groepfase uitgeskakel.[24] Ook in 1987 het die ZRU by die een jaar vroeër gestigte kontinentale beheerliggaam Confédération Africaine de Rugby (Confederation of African Rugby, nou Rugby Afrika) aangesluit. In 1988 het Zimbabwe twee toetswedstryde teen Skotland, in 1989 twee keer teen Spanje en een keer elk teen Roemenië en Italië verloor. Tydens die eerste rugbywêreldbekerkwalifisering het Zimbabwe al die drie wedstryde in die Afrikagroep teen die Ivoorkus, Marokko en Tunisië gewen en vir die Rugbywêreldbeker 1991 gekwalifiseer. In voorbereiding op dié toernooi het die nasionale span vyf agtereenvolgende toetswedstryde teen Namibië gespeel en al daardie wedstryde verloor. Die hooftoernooi is in die destydse Vyfnasies aangebied. Terwyl in 1987 slegs een “swart” speler vir die span uitgedraf het, was dit vier jaar later immers vier.[25] Zimbabwe het drie swak nederlae teen Ierland (met 11–55), Skotland (met 12–51) en Japan (met 8–52) gely.[26]
Ná die rugbywêreldbekertoernooi het sekere sleutelspelers van die “goue generasie” hulleself onttrek en die sedert Junie 1991 volgehoue reeks nederlae het vir amper twee jaar aangehou. Met Namibië en later Kenia het Zimbabwe twee ernstige aanspraakmakers om die plek as naasbeste span van die vasteland na Suid-Afrika gekry. Die in die 1990’s beginnende ekonomiese agteruitgang van die land, veroorsaak deur die toenemend outokratiese bewind van president Robert Mugabe, het ook gelei tot ’n afname in die spelgehalte. Baie spelers is gedwing om die land om ekonomiese of politieke redes te verlaat en hul brood elders te verdien. Rugby se professionalisering wat in 1995 deur die IRVR moontlik gemaak is, het hierdie tendens verder versterk, veral omdat die Zimbabwiese liga net nie mededingend was nie. ’n Voorbeeld hiervoor is Kennedy Tsimba (Richard se broer), wat aanvanklik vir Zimbabwe gespeel het, maar na Suid-Afrika gegaan en ’n suksesvolle professionele loopbaan aangepak het.[27]
Kort nadat hulle die Walliesers gehuisves het, het die Zimbabwiërs in Julie 1993 in die eerste rondte van die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering begin. Ná oorwinnings oor Arabië en Kenia het hulle, ondanks ’n nederlaag teen Namibië, die tweede rondte in Junie 1994 gehaal. Die span het Marokko verslaan, maar hulle is deur Namibië en Ivoorkus geklop, waardeur hulle die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika misgeloop het.[28] Tydens die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering moes die Zimbabwiërs in April 1998 eers in die derde rondte begin, waar hulle Tunisië verslaan het en deur Namibië geklop is. Aan die einde was al drie spanne gelyk op punte met die Zimbabwiërs wat weens hul beter punteverskil die vierde rondte gehaal het. In September dieselfde jaar het hulle Ivoorkus geklop, maar ná nederlae teen Marokko en Namibië die hooftoernooi misgeloop.[29]
Die toenemende verswakking van die nasionale span het tot gevolg gehad dat min van die beste spanne daarin belang gestel het om hulle te huisves of Zimbabwe te besoek. In 1998 sou Wallis vir amper een en ’n half dekade die laaste oorsese opponent wees. Ook in Afrika was die Zimbabwiërs byna nie meer mededingend nie; onder andere het hulle tydens die eerste Afrikabeker 2000 al hul vier wedstryde verloor, een jaar later drie van vier. Tydens die Afrikabeker 2002, wat deel was van die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering, het Zimbabwe in die suidelike eerste rondte in die laaste plek geëindig. Later die dekade het die span in die Afrikatoernooi verder gegly, toe hulle in 2004 vir die eerste keer deur Madagaskar verslaan en deur Namibië verneder is. Ondanks ’n oorwinning oor Uganda is hulle ook in 2005 reeds in die eerste rondte uitgeskakel. In Junie dieselfde jaar het Zimbabwe tydens die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering Senegal verslaan, maar hulle het teen die latere eerste rondte-wenner Ivoorkus verloor en hulle is ook in die uitspeelwedstryd om die tweede plek deur Uganda geklop.
Die Afrikabeker 2006 het ook teleurstellend verloop, toe die Zimbabwiërs in hul groep met Madagaskar en Zambië in die laaste plek geëindig het. Ook in 2007 het hulle die eerste rondte agter Madagaskar en die Suid-Afrikaanse amateurspan in die laaste plek afgesluit. In 2008 het hulle in die eerste rondte van die Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering hul laagtepunt bereik, toe die Senegalese span geweier het om Harare te besoek. Vanweë die toenemende hiperinflasie en gefreesde onluste ná die omstrede presidentsverkiesing het hulle bekommernisse rakende hul veiligheid uitgespreek.[30] Voorheen het ook Botswana se jeugspanne ’n beplande besoek aan Zimbabwe gekanselleer.[31] Zimbabwe moes in 2009 aan die tweederangse CAR Development Trophy-toernooi deelneem en ná oorwinnings oor Madagaskar, Mauritius en Botswana het hulle die eerste plek beklee, waarmee hulle regstreekse promosie gehaal het.[32]
Aan die begin van die 2010’s het die span weer ’n opwaartse neiging getoon. Tydens die Afrikabeker 2012 in Tunisië het die Zimbabwiërs hul grootste sukses tot nou toe aangeteken. Op die 30–14-halfeindstrydoorwinning oor Tunisië het die 22–18-eindstrydoorwinning oor Uganda gevolg. Vir die eerste keer ooit kon Zimbabwe die Afrikabeker beklink, hoewel die rekordwenner Namibië nie aan die toernooi deelgeneem het nie,[33] só ook in die daaropvolgende jaar, toe Zimbabwe die eindstryd teen die Keniane met 17–29 verloor het.[34] In 2014 het Zimbabwe in die Malgassiese hoofstad Antananarivo aan die Afrika-eindtoernooi van die Rugbywêreldbeker 2015-kwalifisering deelgeneem (wat gelyktydig die Afrikabeker 2014 was), waar hulle met hul tweede plek die regstreekse kwalifisering vir die hooftoernooi naelskraap misgeloop het; hul swakker punteverskil was beslissend. Tydens ’n interkontinentale uitspeeltoernooi is die laaste plek beslis. Zimbabwe het in Krasnojarsk teen Rusland te staan gekom, naelskraap met 15–23 verloor en sodoende sy derde hooftoernooi misgeloop.[35] In dieselfde jaar het dit duidelik geword, dat die koloniale verlede steeds nie oorkom is nie. Die spanbestuurder Losson Mtongwiza het in ’n interne memorandum, wat aan die media oorhandig is, beweer dat ’n “magtige wit groep” binne die ZRU steeds “swart” amptenare van belangrike posisies uitsluit. Dit het glo in verwagting van ’n finansieel lonende deelname aan die rugbywêreldbekertoernooi gebeur.[36]
Van 2012 tot 2016 het Zimbabwe drie keer deelgeneem aan die Nasiesbeker, ’n interkontinentale toernooi vir spanne van die tweede en derde vlak; hul beste prestasie was die derde plek in 2016. Ook tydens die Afrikabeker 2015 het Zimbabwe die tweede plek behaal, dié keer agter Namibië. Daarteenoor het die kontinentalen toernooie tussen 2016 en 2018 teleurstellend verloop, waardeur hulle versuim het om vir die Rugbywêreldbeker 2019 te kwalifiseer. Nadat die toernooi twee keer vanweë die wêreldwye Covid-19-pandemie gekanselleer is, het die Zimbabwiërs wel deelgeneem aan die Afrikabeker 2021/22, wat by uitsteek oor twee jaar gestrek het. Die eerste rondte, wat in 2021 in Harare beslis is, het met twee maklike oorwinnings oor Burkina Faso afgeskop en die Zimbabwiërs het die uitklopfase gehaal. Om epidemiologiese redes is dit in Julie 2022 in die Franse stede Marseille en Aix-en-Provence beslis. Ná hul kwarteindstrydoorwinning oor Ivoorkus is hulle in die halfeindstryd deur Namibië verslaan en het sodoende ook versuim om vir die Rugbywêreldbeker 2023 te kwalifiseer.[37]
Tydens die Afrikabeker 2024 kon die Zimbabwiërs in die halfeindstryd ’n verrassende maklike oorwinning aanteken oor die rekordwenner Namibië (met 32–10), waarna hulle met ’n eindstrydoorwinning oor Algerië (met 29–3) hul tweede Afrikatitel kon inpalm.[38]
In Zimbabwe word rugby – net soos krieket, maar anders as sokker – tot vandag toe beskou as ’n deur “wit” mense oorheersde sport, wat hoogstens die middelklas betrek. Dit het die sosiale status van dié sportsoort in verskeie opsigte verswak, aangesien die nasionale span vir sy ontwikkeling vir ’n lang tydperk op Suid-Afrikaanse toernooie staat moes maak en die integrasie van minderbevoorregte dele van die samelewing eers ná 1980 aangepak kon word. ’n Ander probleem is die fokus op privaat skole, waardeur rugby vir die meeste kinders van laer sosiale klasse meestal ontoeganklik is. Ondanks die beskeie infrastruktuur en beperkte moontlikhede is die land tot op middelskoolvlak redelik mededingend. Daarna ontvang spelers egter min of geen salaris, waardeur klubrugby onderontwikkel en die plaaslike liga onaantreklik is. Baie talentvolle spelers gaan na die buiteland om hul loopbane voort te sit – veral na Suid-Afrika, maar ook na Europese lande.[14] Volgens Wêreldrugby se reëls is ’n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van ’n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit slegs drie jaar).[39] Besonder talentvolle juniorspelers word regstreeks gestroop en die land se swak ekonomiese situasie dra ook by tot die agteruitgang van Zimbabwiese rugby. [14]
Van die bekendste Zimbabwiese rugbyspelers tel onder dié uitgewekenes. Vir Suid-Afrika het onder andere Tonderai Chavhanga, Adrian Garvey, Ray Mordt, Tendai Mtawarira, Brian Mujati, Bobby Skinstad en Gary Teichmann uitgedraf.[40] David Pocock het vir Australië,[41] Takudzwa Ngwenya vir die Verenigde State,[42] Scott Gray vir Skotland,[43] Andy Marinos vir Wallis[44] en Edmoore Takaendesa vir Duitsland gespeel.[45]
Zimbabwe speel tradisioneel in ’n wit-groen-gestreepte trui met wit broeke en wit-groen-gestreepte sokkies. Dié kleurkombinasie stem ooreen met dié van die Rhodesiese span voor 1980. Hul alternatiewe trui is groen-swart met wit kleuraksente, swart broeke en swart-groen-gestreepte sokkies.
Die Zimbabwiese nasionale span se huidige truiverskaffer is die Australiese sporttoerustingvervaardiger BLK[46] en die truiborg is die Suid-Afrikaanse Nedbank.[47] Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken in die middel.
Die beheerliggaam Zimbabwiese Rugbyunie se kenteken toon ’n goue Zimbabwiese voël (die wapendier van die land) op ’n rooi ster, soos dit op die vlag van Zimbabwe verskyn. Die nasionale span se bynaam is Sables, ontleen aan die swartwitpens, wat in Engels sable antelope genoem word.
Die Zimbabwiese nasionale span gebruik vir hul tuiswedstryde meestal een stadion elk in die hoofstad Harare en in die naasgrootste stad Bulawayo. As “seremoniële tuiste van die Zimbabwiese rugby” was die Police Grounds in Harare oor dekades heen die tuisstadion. Vanweë die oorwegend swak toestand van die grond (’n egte pawiljoen bestaan nie meer nie) is hier tussen 1997 en 2016 geen wedstryde aangebied nie. Die grond word nou oorwegend vir krieketwedstryde ingespan. Ander fasiliteite in die hoofstad is by die klubs Old Hararians en Old Georgians Sports Club geleë.[48] In Bulawayo, waar sowat een derde van al die tuiswedstryde beslis word, is die in 1938 geopende Hartsfield Rugby Grounds die enigste fasiliteit. Dit is die land se enigste stadion wat uitsluitlik vir rugbywedstryde gebruik word.[49]
Zimbabwe het 75 van sy 167 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 44,91%. Zimbabwe se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek in Julie 2024):[50]
Opponent | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
---|---|---|---|---|---|
Algerië | 2 | 1 | 1 | 0 | 50,00 |
Arabië | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
België | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Botswana | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Brasilië | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Burkina Faso | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Frankryk | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Hongkong | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Ierland | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Italië | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Ivoorkus | 5 | 3 | 2 | 0 | 60,00 |
Japan | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Kenia | 24 | 14 | 10 | 0 | 58,33 |
Madagaskar | 11 | 7 | 3 | 1 | 63,63 |
Marokko | 4 | 2 | 1 | 1 | 50,00 |
Mauritius | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Namibië | 33 | 3 | 30 | 0 | 9,09 |
Nederland | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Nigerië | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Oos-Afrika | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Papoea-Nieu-Guinee | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Portugal | 4 | 2 | 2 | 0 | 50,00 |
Roemenië | 4 | 0 | 4 | 0 | 0,00 |
Rusland | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Senegal | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Skotland | 4 | 0 | 4 | 0 | 0,00 |
Sowjetunie | 4 | 2 | 2 | 0 | 50,00 |
Spanje | 7 | 2 | 5 | 0 | 28,57 |
Tonga | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Tunisië | 7 | 5 | 2 | 0 | 71,43 |
Uganda | 16 | 11 | 5 | 0 | 68,75 |
Verenigde Arabiese Emirate | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Wallis | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Zambië | 10 | 8 | 2 | 0 | 80,00 |
Algeheel | 167 | 75 | 90 | 2 | 44,91 |
Die Zimbabwiese nasionale span het tot dusver aan twee rugbywêreldbekertoernooie deelgeneem. Hulle is tydens albei toernooie in die groepfase uitgeskakel.
Zimbabwe neem sedert 2000 aan die jaarlikse Afrikabeker deel. Hulle het die toernooi twee keer gewen.
Vanweë sy laat vestiging in 1981 het Zimbabwe gedurende die amateurtydperk min toere volgens die ou tradisie onderneem, aangesien dit teen die jaar 2000 tot ’n einde gekom het. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Europese spanne na Zimbabwe en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks reis die Zimbabwiërs na Europa. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Zimbabwe nie vir enige trofee teen sy opponente nie. Buite die Afrikabeker neem die span ook aan die sporadiese Victoriabeker deel, saam met die Oos-Afrikaanse lande Kenia, Uganda en Zambië. Wedstryde teen nie-Afrikaspanne is skaars.
Die volgende spelers het die Zimbabwiese span gevorm tydens die Afrikabeker 2021/22:[51]
|
|
Twee voormalige Zimbabwiese spelers is vir hul uitstekende prestasies in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem:[52]
Vervolgens die belangrikste statistieke van Zimbabwe se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.
(Korrek teen: April 2024)
|
|
|
|
Die volgende persone het al as hoofafrigters van die Zimbabwiese nasionale rugbyspan gedien:
Naam | Tydperk |
---|---|
Brian Murphy | 1987 |
Colin Osborne | 1988–1989 |
Ian Buchanan | 1990–1992 |
Colin Osborne | 1992–1996 |
John Knox | 1997–1998 |
Alex Nicholls (tussentyds) | 1998 |
Mark Donato | 1999–2001 |
Godwin Murambiwa | 2001–2003 |
Alex Nicholls (tussentyds) | 2003 |
Bright Chivandire | 2004 |
Chris Lampard | 2005–2006 |
Brendon Dawson | 2007–2010 |
Cyprian Mandongle (tussentyds) | 2011 |
Brendon Dawson | 2012–2014 |
Cyprian Mandongle | 2015–2017 |
Peter de Villiers | 2018–2019 |
Brendon Dawson | 2019–2023 |
Piet Benade | sedert 2024 |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.