From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Gereformeerde kerk Steynsburg is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die Noordoos-Kaapse dorp Steynsburg, wat deur die toedoen van die kerkraad gestig en na ouderling A.P.J. Steyn genoem is omdat hy die leiding in die stigting van die gemeente geneem het. Vanweë die gemeente se ywer vir die onderwys het dit veral tydens die eerste amper 80 jaar van sy bestaan tot omstreeks 1950 'n belangrike plek in die Gereformeerde kerkverband ingeneem.[1] 'n Skool met 100 leerders is hier geopen in 1875 en in 1905 'n skool vir Christelik-nasionale onderwys ('n teenvoeter vir die staat se verengelsingsbeleid) waaruit 'n onderwyskollege ontwikkel het.
Gereformeerde kerk Steynsburg | ||
Sluit in | Steynsburg Hofmeyr | |
Denominasie | Gereformeerde Kerk | |
Klassis | Burgersdorp | |
Huidige predikant(e) | Vakant | |
Belydende lidmate | 21 | |
Dooplidmate | 2 | |
Adres | H.v. Kerk- en Potgieterstraatstraat Steynsburg | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 7 Desember 1872 | |
Afgestig van | Burgersdorp | |
Eerste predikant | M.P.A. Coetsee jr. (1874–1883) |
In die omgewing van die huidige Karoodorp Steynsburg het 'n aantal lidmate van die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap en Burgersdorp gewoon. Die afstand na hulle tuisdorp was groot en met die oog op getroue kerklike meelewing het die behoefte aan 'n eie tuisdorp en kerkplek ál sterker geword. Ouderling A.P.J. Steyn van Middelburg, 'n broer van pres. Paul Kruger se moeder, was die siel van die onderneming. Hy was ongetwyfeld 'n man van besonderse bekwaamhede en groot invloed. Ds. J.A. van Rooy beskryf hom in sy latere herinneringe as "'n eerbiedwaardige gestalte, sy gelaat en hele liggaamsbou wys dat hy 'n oom is van President Kruger."
Dit is duidelik dat die mense van die omgewing vooraf met mekaar oorleg gepleeg het. 'n Eie organisasie begin vorm aanneem toe aan 'n kommissie van twee persone, die genoemde A.P.J. Steyn en L.S. van der Walt, opgedra word om grond te koop met die oog op die stigting van 'n nuwe dorp en 'n gemeente. Die plaas Grootvlei is aangekoop van twee eienaars. Die dorpsgrond ongeveer suid van die huidige spoorlyn is aangekoop van Andries van der Walt. Die deel hoofsaaklik noord van die treinspoor is gekoop van L.P. Vorster, grootvader van die latere ds. L.P. Vorster. Die grond vir 'n dorpsaanleg is gereed. Die begin van 'n dorp is egter ten nouste gekoppel aan die stigting van 'n nuwe gemeente. Daar word nie geredeneer oor waar nou presies die terrein en taak van die burgerlikes is en waar die van die kerk nie. Daar word nie geval oor allerlei tierlantyntjies van prosedures nie. Geen wonder nie dat ouderling Steyn op 16 Augustus 1872 die kerkraad van Middelburg nie versoek om 'n kommissie te benoem om 'n nuwe gemeente te stig nie, maar om die grens van die nuwe dorp te bepaal. Die kerkraad willig in en benoem die leraar ds. M.P.A. Coetzee sr., ouderling N. van der Walt en diakens J.H. van der Walt en J.J.A. Coetzee.
Ouderling A.P.J. Steyn laat nie gras onder sy voete groei nie. Op 30 Augustus 1872 kyk hy al weer die kerkraad van Burgersdorp in die oë. Die kerkraad word eenvoudig meegedeel dat 'n plaas gekoop is tussen Burgersdorp en Middelburg om 'n nuwe dorp te stig en hy versoek die kerkraad "om hem eene commissie te geven om de lijn tusschen dit dorp en het nieuw dorp te bepalen". Die amper outokratiese optrede van A.P.J. Steyn, en seker ook die nugtere voelhoring van ds. Jan Lion Cachet, dwing die kerkraad tot versigtigheid. Hulle benoem wel 'n kommissie, maar met die opdrag om eers met die kommissie van Middelburg hieroor te onderhandel, wat wel gedoen is.
Intussen moet die kerkraadslede, wie se wyke in die Steynsburgse wêreld geleë is, hulle lidmate pols of hulle wel ten gunste is van so 'n nuwe dorp. Die voorbereidende werk is gedoen. Die grens tussen die nuwe dorp en Middelburg is soos volg bepaal: "Brakrivier op tot Luisfontein, van daar naar Vlakfontein tot Zuurfontein en met den rand van Zuurberg naar Rietpoort." Op versoek van ouderling A.P.J. Steyn en diaken G.P.S. Venter benoem die kerkraad van Middelburg op sy vergadering van 9 November 1872 ook 'n kommissie om die gemeente te Steynsburg te stig, bestaande uit ds. M.P.A. Coetzee en ouderlinge N. van der Walt, J.C. van der Walt en D.P.J. Kruger.
Burgersdorp gaan nou meewerk. Op uitnodiging van Middelburg benoem die kerkraad op sy vergadering van 28 November 1872 ds. Dirk Postma en ouderling W. van Biljon om die stigting "der gemeente te Steynsburg" by te woon. Op versoek van lidmate uit die wyk van ouderling C. Buys om attestate, besluit die kerkraad dat hulle wel hulle name kan laat inskryf by eventuele stigting van 'n nuwe gemeente. Hier word dus voor die stigting van die gemeente in die notule van Burgersdorp al gepraat van die dorp Steynsburg. Dit is genoem na hom wat die leiding in die omgewing geneem het, A.P.J. Steyn. Met die oog op die samekoms van die belanghebbendes het diaken G.P.A. Venter die volgende kennisgewing rondgestuur: "Ik verzoek de gemeente om den 5 van December op Steynsburg te zijn om tien uur zal ons de stoelen in de kerk zetten. Vrydag den 6den van December zal vergadering zijn en ook om de gemeente in te schrijven en de 7 van December zal de gemeente gesticht worden en dan zal ons ook voorbereiding hebben, en den 8 van December zal ons Avondmaal hebben. Uw vrijwillige dienaar en Broeder Diaken G. P. A. Venter."
Die verrigtinge met die oog op gemeentestigting sou weldra begin. Die byeenkoms vind plaas in die plaashuis aangekoop van Andries van der Walt. Dit was geleë aan die voet van die rantjie naby die latere kragsentrale. Hier is ook 'n kerkgeboutjie opgerig waar voorlopig die dienste waargeneem sou word. Die geelhoutbalke wat in die eerste "kerkgeboutjie" diens gedoen het, is later ingemessel in 'n buitegebou op die plaas Fonteintjie, naby Teebus, wat met die gemeente se eeufeesviering in 1972 nog in gebruik was.
Op Vrydag 6 Desember 1872 vergader die kommissie van die kerkraad van Middelburg, onder wie se leiding die gemeentestigting sou plaasvind, op die bestemde plek. Die gedeputeerdes van Burgersdorp, ds. D. Postma en oudl. W. van Biljon, is ook aanwesig en word volle sittingsreg op die vergadering verleen. Verder is teenwoordig ds. P.J.J. Viljoen en teologiese student M.P.A. Coetsee (die latere ds. M.P.A. Coetsee jr.) Op Saterdag 7 Desember 1872 is die lidmate byeen nadat die kommissie van Burgersdorp plegtig die name van die lidmate uit die betrokke wyke van Burgersdorp oorgedra het aan die kommissie van Middelburg. Die lidmate verklaar dan eenstemming "dat zij die oudkerkeraadslede gaarne wil ontvangen als hare kerkeraad". Op die dag van stigting is 160 lidmate ingeskryf en die eerste naam in die lidmateregister is dié van Andries Petrus Johannes Steyn. Hiermee was die stigting van die Gereformeerde Kerk Steynsburg, op 7 Desember 1872 'n voldonge feit. Deur die "kerkgeboutjie" weergalm ter afsluiting van die verrigtinge Ps. 119:17.
Die kerkraad, bestaande uit ouderlinge A.P.J. Steyn en J.C. Buys en diakens G.P.S. Venter, J.H. Buys en L.J. Coetzee, vergader nog dieselfde dag 7 Desember 1872, onder voorsitterskap van ds. M.P.A. Coetsee sr. Die kerkraad begin om orde op sake te stel. Ds. Coetsee word verkies tot konsulent teen 'n vergoeding van £10 per kwartaal. Hy aanvaar dit. Die dienste word soos volg gereël: elke drie maande dienste deur die konsulent en elke 14 dae 'n leesdiens deur 'n ouderling. Tot eerste kassier is diaken G.P.S. Venter benoem. Die kerkraad besef 'n goeie verhouding moet met die staat gehandhaaf word en daarom word aan sy Eksellensie die Goewerneur asook aan die magistraat van Cradock kennis gegee van die stigting van die gemeente. Hulle gee ook kennis van die stigting aan die Algemene Korrespondent.
Op sy tweede vergadering (8 Maart 1873) word al besluit om die gemeente te pols oor die bou van 'n "hulpkerk" en om aandag te gee aan afbetaling van die skuld op die huidige gebou. Met instemming van die gemeente word besluit om 'n hulpkerk te bou en te kollekteer vir die bestaande skuld. Natuurlik moet die kerkraad ook pa staan vir sy ander kind, die toekomstige dorp. Die klerkraad het reeds op hierdie vergadering die voorwaardes vir die verkoop van erwe vasgestel. Iewers langs die pad is 'n "dorpscomitee" in die lewe geroep waarvan die lede op ’n openbare vergadering benoem is. Hulle moes die nodige stappe doen om die dorp aan te lê. Erwe is opgemeet deur landmeter Hopley en verkoop deur afslaer Kannemeyr. Dit alles het die kerkkas ten goede gekom, want die dorp is getransporteer op die naam van die Gereformeerde kerk Steynsburg.
Die dorpskomitee kom met 'n aanbeveling om 22 erwe te skenk aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die Gereformeerdes is jaloers op hulle monopolie. Dit is hulle dorp en hulle weier botweg om die erwe te gee. Later het hul hart tog sagter en broederliker geklop. Slegs ses maande later op 9 Januarie 1874 word besluit om wel die erwe te skenk en te transporteer sodra 'n gemeente van die NG Kerk gestig word. Die transport van die 22 erwe is op versoek van die NG gemeente Burgersdorp in 1874 gegee op voorwaarde dat geld wat daardeur ingevorder mag word, alleen ten bate van Steynsburg gebruik sal word.
Natuurlik is daar geen orrel nie. 'n Voorsanger in die persoon van B. Venter word benoem. 'n Sekere J. Venter was die eerste koster. Albei ontvang £8 per jaar. Met dié vergoeding was die Venters nie tevrede nie: Hulle wil onderskeidelik £12 en £15 per jaar hê en wen dié stryd. Ouderling A.P.J. Steyn het ’n Statebybel aan die gemeente geskenk.
Reeds op 19 Junie 1873 word besluit om 'n hulpkerk te bou van 70 x 40 voet. Naas 'n paar lede uit die kerkraad word die boukommissie uit die gemeente aangevul met: Johannes Coetzee (Strydpoort), Jacob Labuscagne (Strydpoort), Daniël du Plessis (Ouplaas) en Jacob Kruger (Vlakfontein). In Maart 1874 is die hulpkerk al klaar. Dit is gebou teen 'n koste van £828. Hierdie hulpkerk is later deur die staat aangekoop en het tot diep in die 20ste eeu gedien as landdroskantoor van Steynsburg.
Intussen moet die kerkraad ook toesien dat die sake van die dorp voortgaan. Op 10 Januarie 1874 word besluit om aansoek te doen vir 'n munisipaliteit, en drie maande later gee die kerkraad toestemming vir die oprigting van 'n markgebou. Die regulasies vir die instelling van 'n munisipaliteit is goedgekeur op 12 Junie 1874. Artikel 119 hiervan het gelui: "Die kerkraad van die Gereformeerde Kerk te Steynsburg sal die reg behou om op te meet en te verkoop volgens hulle kondisies sodanige erwe van die dorp Steynsburg en die inkomste sal gebruik word vir bogenoemde Geref. Kerk." Hierbenewens het die kerkraad ontvang van die geld wat betaal is vir gebruik van leiwater vir tuine. Onder hierdie omstandighede het die besitreg van die dorp vir die kerkraad 'n taamlike inkomste verseker.
Die gemeente het sy kinderskoene ontgroei. Die dorp en gemeenskap raak ál meer gevestig. 'n Doeltreffender kerkgebou binne die dorpsgebied is betrek. Dit alles gee meer moed maar terselfdertyd 'n sterker gevoel van selfstandigheid. Dit openbaar hom in die behoefte aan 'n eie predikant, wat lei tot die beroeping van prop. M.P.A. Coetsee op 13 Junie 1874.
M.P.A. Coetsee was die seun van ds. Petrus Coetsee van die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap, later van Lydenburg; daarom is hy gewoonlik aangedui as "junior", want sy vader was ook M.P.A. Op 2 Augustus 1874 is prop. Coetsee bevestig as die eerste predikant van Steynsburg. Onder sy leiding het die jong gemeente voorspoedig voortgegaan. Eers is 'n nuwe pastorie gebou en later 'n nuwe kerkgebou. Die besluit tot die bou van die kerkgebou is op 28 Februarie 1879 geneem en op 4 September 1880 is die gebou in gebruik geneem toe ds. Coetsee self die rede gehou het.
In dié tyd is ernstige aandag geskenk aan die sending, sodat die kerkraad op 6 November 1874 besluit het om grond te gee vir 'n kerkgebou vir die bruin mense, waar 'n vrugbare sendingveld was. 'n Versoek dat die kerkraad toesig moes hou oor die bruin Christene is geredelik toegestem.
In 1874 is 'n munisipaliteit op versoek van die kerkraad ingestel, maar aangesien die dorp self aan die Gereformeerde Kerk behoort het, was daar dikwels spanning tussen die kerkraad en die munisipaliteit. Onder leiding van ds. Coetsee het die onderwys ernstige aandag geniet en in die persoon van broeder J.C. van Rooy is 'n goeie Christelike onderwyser gevind. Daar is ook gereelde sangoefeninge gehou. In 1883 het ds. Coetsee 'n beroep aangeneem na Burgersdorp. Hier het hy 'n belangrike rol in kerklike sake gespeel, sodat hy selfs voorsitter van die Kuratore van die Teologiese Skool was, en toe 'n opvolger van prof. Postma gekies moes word, was sy naam ook op die groslys van kandidate. In 1892 het hy egter sekere besware teen die Gereformeerde Kerk ontwikkel en sy bediening neergelê en aansoek gedoen om as predikant van die NG Kerk toegelaat te word.
Ds. Coetsee staan in die geskiedenis bekend as 'n man met besondere intellektuele gawes. Uit die gang van gebeure tydens sy bediening is dit ook duidelik dat hy met groot seën in sy eerste gemeente gearbei het. Hy is beroep met 'n traktement van £335. Later is dit aangevul met 12 mud meel en 36 hamels. Die gemeente het ten minste gesorg dat hulle leraar genoeg Karoo-vleis gehad het om te verorber met lekker boerebrood daarby. Met sy koms moet natuurlik ook 'n pastorie gebou word. Dit word onmiddellik aangepak. Daar is nie baie fieterjasies oor planne, spesifikasies, hoeveelheidslyste ens. nie. Die kerkraad besluit net: oppervlakte 40 vt. x 54 vt. Hoogte van mure 14 vt. Dikte van buitemure 1 vt. 6 dm. Onder toesig van 'n boukommissie is die werk voltooi. Die predikant is nou goed gevestig en die werk kan rustig voortgaan.
Tot ná die middel van die 20ste eeu is in die gemeente Steynsburg sitplekke in die kerkgebou verhuur. Dit het baie sonde en ergernis veroorsaak. Baie ure is op kerkraadsvergaderinge hieraan afgestaan. Veel tyd is in beslag geneem vir 'n deeglike administrasie hiervan. Die wortel van hierdie onverkwiklike stukkie geskiedenis lê by 'n kerkraadsbesluit van 6 November 1874 dat sitplekke verhuur sal word teen 5 sjielings per jaar. Die sogenaamde "hulpkerk", later ook genoem 'n "noodkerk", met sy verhuurde sitplekke en al het te klein geword. Van tyd tot tyd het die bou van 'n nuwe kerk die aandag van die kerkraad geniet. Op 28 Februarie 1879 besluit die kerkraad met volle steun van die gemeente om nou daadwerklik oor te gaan tot die bou van 'n nuwe kerk.
Op 2 Augustus 1879 is die hoeksteen gelê deur prof. Dirk Postma. Dit was 'n plegtige geleentheid en volledig beskryf in De Maandbode van 1 September 1879. Vanaf die "noodkerk" was daar 'n plegtige prosessie na die plek van die hoeksteenlegging. So lui die verslag: "Opdat het heengaan naar den steen sticktelijk zoude geschieden las Z. Eerw. (ds. Coetsee) voor de orde welke men verzocht werd te volgen: nl. 1 de bouwmeesters, 2 de leden der bouwcommissie, 3 leeraren 4 de kerkraden, 5 Municipaliteit en vrederechter, 6de gemeente en andere vrienden." Ná die steenlegging is kort toesprake gelewer deur prof. Postma, ds. W.J. Snyman, ds. Rossouw van die NG kerk, en ds. M.P.A. Coetsee, die plaaslike predikant. De Maandbode beskryf dit as "een blijde dag" vir die gemeente. Die verrigtinge is afgesluit met Ps. 72:11: "Zijn naam moet eeuwig eer ontvangen! Men loov Hem vroeg en, spâ! De wereld hoor, en volg mijn zangen met Amen, Amen, na."
Die plegtige ingebruikneming het plaasgevind op 4 September 1880. Hierdie kerkgebou is in die dertigerjare van die 20ste eeu herbou tot die teenswoordige gebou. Die ingebruiknemingsplegtigheid of soos dit toe genoem is, "de inwyding", is volledig beskryf in De Maandbode van 1 Oktober 1880. Weereens was daar 'n stoet wat vanaf die "noodkerk" gestap het na die nuwe kerkgebou terwyl hulle Ps. 100:3 en 4 gesing het. Die inwydingsrede is gehou deur die plaaslike predikant, ds. M.P.A. Coetsee jr. Die gemeente het ruim en vrywilliglik geoffer. As boumeesters het opgetree W.M. Reid en seun en August Beitel. Hout, yster, deure en vensters is vanaf Port Elizabeth bekom waarmee 'n sekere John Roscher baie gehelp het. Die gebou het £3 170 gekos en by die ingebruikneming was dit geheel afbetaal.
Naas ds. Cachet het by die geleentheid, hetsy in Woordbediening of 'n kort toespraak, ook opgetree prof. Dirk Postma, ds. L.J. du Plessis van Colesberg, ds. M.P.A. Coetsee sr. en prof. Marthinus Postma. Die verslag sluit af met die mededeling: "De opkomst was groot en de kerk by elken dienst vol, soms meer dan vol. Wij meenen te mogen zeggen, dat het aangename dagen waren. Mochten ze gezegend worden."
Op 6 November 1874 dien ouderling A.P.J. Steyn 'n versoek in namens die bruin mense om 'n stuk grond met die oog op die oprigting van 'n kerkgebou. Die kerkraad het dit toegestaan. Hierdie oop hand gee die moedergemeente 'n geopende vir sendingwerk onder die bruin mense. 'n Brief is aan die kerkraad gerig wat soos volg lui: Steynsburg, 14 Nov. 1874. Waarde die Jaakkenes ons verzoek u met een woord van is blief dat u oovei ons zonden zien en ons onder u nemen want wij zijn Herderloos en zonder leeraar en wij zijn ook begeerrag om die zuiver Woord van God te Hooren en ons Hoop dat u oover ons zal ontfermen en ons onder u nemen. Want wij vra Hulp van u en een die evangelie van Markus en die 16 Hoofdstukke en van die 15 vs daar staan geschrijf en hij zeide tot hen gaat heen in de geheele wereld predikt Het evangelie aan alle creaturen ons is vyftien maanen den (?) wat het vra. Willem Maton."
Die kerkraad het eenparig en "met ware blydschap" sy leraar toestemming verleen om daar te gaan preek. Volgens verslag aan die Algemene Vergadering April 1875 is die Woord bedien onder die bruin mense. Hierdie werk het egter doodgeloop. Aan die Algemene Vergadering 1878 word gerapporteer dat daar nie meer onder die bruin mense gearbei word nie. Die meeste het weggetrek en onder die oorgeblewenes het die NG Kerk gewerk.
Op 10 Januarie 1874 het die kerkraad, seker onder die indruk daarvan dat hy onmoontlik alles kan behartig in 'n dorp, aansoek gedoen vir die instelling van 'n munisipaliteit. Die regulasies het onder meer gehandel oor waterregte waarvan die inkomste tussen kerk en "commissarissen" verdeel sou word, asook oor die reg om stene te maak en klippe te breek. Die verhouding tussen die twee base, kerkraad en munisipaliteit, was soms maar baie gespanne, tot so 'n mate dat die kerkraad in 1882 selfs wetsadvies moes inwin oor 'n water- en weiveldkwessie met die munisipaliteit. Hierbenewens het die kerkraad moeite en moeilikheid gehad met allerlei en nog wat. Die kerkraad moet besluit oor watervore, damme, begraafplaastariewe, oor slagterslisensies ens. Aangesien die water komende van die dam vir drinkwater gebruik word, dwing dit die kerkraad om te besluit: "dat het baden in denzelven en het wasschen in de watervoor strengelijk verboden moet worden". Oortreders sal met £5 beboet word. Intussen het die kerkraad weer 30 erwe opgemeet en het so 'n inkomste uit die verkoop van erwe, water en graftes die kerkkas ten goede gekom.
Die wortels vir die later sterker ontplooide stryd vir Christelike onderwys op Steynsburg moet in die bedieningstyd van ds. Coetzee gesoek word. Meester J.C. van Rooy het in die vroeë bestaan van die gemeente baanbrekerswerk gedoen. Dit is juis ook hierdie meester Van Rooy wat in 1875 met 'n sangvereniging begin. Die kerkraad is agterdogtig en hou nie van hierdie nuwe dinge nie. Hulle stel die kerkgebou tot beskikking van die sangvereniging maar onder voorwaarde dat die vereniging aanspreeklik gehou word vir "alle ongeregeldheden die plaats nemen gedurende het zingen, en de toegang blijft open voor den kerkeraad".
In 1875 skenk iemand 'n "muziek" aan die gemeente. Dit moes na drie maande weer verwyder word en terug gegee word aan die skenker "omdat het speelen by den godsdienst niet in de smaak van allen was." Steynsburg is seker die enigste gemeente in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika waar daar nog tot onlangs elke Sondagaand met Nagmaal 'n bid-en-dankstond gehou is. Die predikant lewer 'n kort boodskap en 'n ouderling en lidmaat uit die gemeente gaan om die beurt voor met 'n psalmvers en gebed. Hierdie gebruik gaan sover terug soos 3 Oktober 1878 toe die kerkraad besluit het om met elke Nagmaal 'n biduur te hou.
Op 'n keer, toe die Sinode in Pretoria sou sit, gee die kerkraad vroegtydig opdrag om osse te probeer vind om die Sinode by te woon. As die kerkraad in 1878 deurgedruk het en 'n "kerkwagen" gekoop het soos hy oorweeg het, was dit nie nou met die oog op die Sinode nodig om een sjieling per dag huur te betaal vir 'n "wagen" nie. Osse is ook gevind. Natuurlik is die boere bevrees dat hulle osse in die slag kan bly op so 'n lang skof na Transvaal. Die kerkraad stel gerus deur te besluit dat £5 vir 'n os betaal sal word wat die hoë vereistes nie sal oorleef nie. 'n Paar osse het dan ook langs die pad in die slag gebly en gelukkig was die eienaars, aldus die notule van 1 Desember 1882, by gebrek aan geld in die kerkkas, bereid om 'n bietjie te wag vir hul skadevergoeding.
Ná 'n verbintenis van ongeveer agt en 'n half jaar aan die gemeente, aanvaar ds. Coetsee, begin 1883, 'n beroep na die Burgersdorp. Sy bedieningstyd in die gemeente was van grondliggende betekenis. Hy het geseënd gearbei. Daar was groot waardering vir sy werk en toegeneentheid teenoor sy persoon. By sy losmaking het die kerkraad onder meer verklaar "dat het hun bitter smart Z. Eerw. te moeten loslaten daar wij niet alleen innig aan Z. Eerw. gehecht zijn en zijnen dienst op hoogen prijs stellen maar hij ook is onze eerste leeraar, sedert wij eene selfstandige gemeente zijn geworden." Die fondamentstene is heg en suiwer gelê. Die gemeente het gegroei van 160 belydende lidmate by stigting tot 451 volgens die Almanak van 1884. Op die voorpunt van aktiwiteite verskyn dikwels die naam van ouderling A.P.J. Steyn. Op hierdie fondament is voortgebou en die gemeente sou in die loop van jare deur 'n unieke plek inneem binne die kerkverband van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.
Jan Lion Cachet het in 1861 vanuit Nederland in Suid-Afrika aangekom as 'n onderwyser. In 1865 het hy op Rustenburg vir predikant begin studeer onder Ieiding van ds. Dirk Postma, destyds predikant van die plaaslike Gereformeerde kerk. In 1868 is hy toegelaat tot die bediening en is beroep as predikant van Rustenburg, aangesien ds. Postma in 1866 na Burgersdorp vertrek het tesame met sy leerling Cachet. In 1869 is hy as tweede predikant van Burgersdorp aangewys om saam met ds. Postma as dosent van die Teologiese Skool op te tree. In 1875 het hy 'n beroep na Philipstown aangeneem en vandaar is hy in 1883 na Steynsburg. Blykbaar was sy gesondheid in dié tyd nie te goed nie, want in 1886 is hy met ses maande siekteverlof na Nederland en ná sy terugkoms moes hy weer weens siekte verligting kry ten opsigte van sy dienswerk in die gemeente.
Die tagtigerjare van die 19de eeu was 'n tyd van ernstige geldnood en in die gemeente Steynsburg is dit ook so ervaar. Ds. Cachet het begin met reorganisasie in Steynsburg en orde op sake probeer bring in sekere dinge. So het hy byvoorbeeld die ooreenkoms tussen die kerkraad en die munisipaliteit hersien en sekere moeilike punte uit die weggeruim. Onder sy leiding het die kerkraad en gemeente ingewillig om die dorp Steynsburg aan die munisipaliteit te verkoop, moontlik net om ontslae te raak van die moeilikhede wat daaruit gedurig vir die kerkraad voortgespruit het.
Afgesien van die gereelde predikantswerk in die gemeente, het ds. Cachet ook aandag geskenk aan die jongmense deur middel van 'n debatsvereniging wat gestig is. Hy het ook aandag geskenk aan die lidmate wat woonagtig was in die distrik Maraisburg (Hofmeyr) en daar gereeld dienste gaan waarneem, wat die begin was van die latere gemeente Hofmeyr. Net soos tydens sy bediening in Philipstown het hy ook as predikant van Steynsburg in noue verbinding gebly met die lidmate van Angola (op Humpata). In 1892 het die Kuratore van die Teologiese Skool hom aangewys as waarnemende teologiese professor en met die toestemming van sy kerkraad het hy dit aanvaar onder voorwaarde dat hy elke 14 dae die dienste op Steynsburg moes kom waarneem, wat hy ook gedoen het. In 1894 is hy benoem tot professor in die teologie en sodoende het sy verbinding met Steynsburg 'n end gekry. As teologiese professor het hy gedien totdat hy in 1911 afgetree het in Potchefstroom en kort daarna is hy oorlede.
Ds. Jan Lion Cachet van Philipstown is beroep en ná aanvaarding bevestig op 12 Augustus 1883. Teen hierdie tyd was ds. Cachet al 'n ervare predikant. Sy verblyf in Steynsburg was om gesondheidsredes blykbaar nie van die aangenaamste nie. Aan die begin van 1886 het hy vanweë swak gesondheid ses maande verlof van die kerkraad gevra met die oog op 'n besoek aan Nederland. Dit is toegestaan met verlies van traktement. Elf lidmate het hieroor baie ongelukkig gevoel. Dit is bespreek op 'n vergadering van die gemeente. Die gevoelens het daar so hoog geloop dat 'n aantal lidmate in opgewondenheid uitgestap het waarna die voorsitter die vergadering maar gesluit het. Later is sy agterstallige traktement tog betaal ná aftrekking van koste in verband met dienste. Ná sy terugkeer uit Nederland moes hy aan die einde van 1886 weereens weens swak gesondheid tegemoet gekom word ten opsigte van sy dienste. Onder dié omstandighede moes dit vir ds. Cachet ook nie aangenaam gewees het nie om te sien met hoe 'n gesukkel sy agterstallige traktement ingevorder word. Met 'n laaste paaiement van 66 skape, 2 mud koring en £23.11.9 het hy hom tevrede verklaar en is die saak as afgehandel beskou.
Die jare tagtig van die 19de eeu is oor die algemeen gekenmerk deur 'n besonderse geldskaarste. Spore hiervan is te bemerk in die gemeente van Steynsburg. Ds. Cachet het begin deur goeie orde op sake te stel. Hy het die transporte van eiendomme behorende aan die kerkraad opgespoor. Hy het onmiddellik pogings aangewend om die kerkskuld van £600 te verminder en het ook daarin geslaag. Daar is moeite ondervind om die predikant se vergoeding byeen te kry. In 'n stadium is £55 van die waterkas maar by die traktementskas gevoeg. Die pos van voorsanger is afgeskaf en die koster se salaris is verminder na 15 sjielings per maand. 'n Deeglike kontrak is met die koster gesluit. Sy taak was onder meer die handhawing van "orde met alle bescheidenheid". Stoflik was daar in 'n ander opsig tog vooruitgang. Die kerkraad het beter voorsiening gemaak vir vervoer van die leraar en van afgevaardigdes na meerdere vergaderings. In elke wyk is 'n perd vir die kerk gekollekteer en is 'n wa en 'n paar tuie vir die kerkraad gekoop. Om die wa te betaal is van elke wyk 17 ooie gevra terwyl besluit is: die dorpswyke sal die "break betalen". Eindelik was ook die kerkkas volgens die notule van 7 Junie 1890 in 'n gunstiger posisie as gevolg van 'n raming van een twintigste van die inkomste.
Dis te verstane dat die kerkraad naderhand van die dorp wat hy aangelê het en waarvan hy kaart en transport gehad het, ontslae wou raak. Die watervoor en waterregte en verkoop van erwe en invordering van gelde, het soveel sonde en ergernis gegee dat dit 'n groot las geword het. Dan was daar nog die probleem van "boetebosches uit te roeien". In 'n stadium is die kerkraad deur 'n sekere A. Distin selfs gekonfronteer met die prospekteerwette. Hy wou naamlik op die dorpsgrond begin soek na steenkool. Van die Engelsman se steenkoolsoekery het blykbaar niks gekom nie.
Aan die begin van sy bediening het Cachet die kontrak met die munisipaliteit deeglik hersien. Ten opsigte van hierdie verhouding is die skaafplekke blykbaar uitgeskakel. Miskien het dit ook 'n gunstige klimaat geskep vir die onderhandelinge wat sou volg. Op sy vergadering van 28 Februarie 1891 besluit die kerkraad, op voorstel van ds. Cachet, om met die munisipaliteit te onderhandel oor oorname van die regte van die kerkraad. Nadat die gemeente hom ook ten gunste daarvan uitgespreek het om die dorp met dorpsgrond aan die munisipaliteit te verkoop, is verder gegaan met die onderhandelinge. In 1892 is die transaksie beklink toe die dorp met die weiveld aan die munisipaliteit verkoop is vir die skamele bedrag van £750. Die kerkraad wou blykbaar net ontslae wees van al die onnodige sorge van die afgelope jare. Die voordeel wat daaruit te haal was, was van minder belang. Dit was die einde van 'n tydperk wat vir die kerkraad wel baie kopseer besorg het maar tog ook groot voordele ingehou het. Die geld, deur die verkoop van erwe ingesamel, het die kerkkas goed te pas gekom. Dit het die kerkraad ook in staat gestel om goed te doen aan andere, byvoorbeeld die erwe geskenk aan die NG Kerk asook 'n tweede skenking in 1890 van 'n erf aan die bruin gemeente van die NG Kerk.
In 1890 is die eerste Jongeliedevereniging in die gemeente gestig. Die kerkraad het die nuwe ontwikkeling onder die jeug met 'n mate van agterdog bejeën. Hulle wou die jongmense aan geen gevaar blootstel nie. Die kerkraad besluit op 6 September 1890 dat die vergaderinge van jongelinge "zoo veel mogelijk by daglicht gehouden worden en als dit niet mogelijk is zoo vroeg mogelijk in den avond". Hulle was baie bang vir die donker. In ds. Cachet se bedieningstyd is ook 'n begin gemaak met afsonderlike dienste op Maraisburg (Hofmeyr). Daar is in 'n stadium selfs gedink in terme van 'n eie gebou daar.
Dit is baie duidelik dat Cachet as kerkman en volksman 'n wyer perspektief gehad het. Hy het verder gesien as net sy gemeentelike grense. Die kerkraad het onder sy leiding voortdurend aandag gegee aan die trekboere na Angola, en aan die Teologiese Skool. In verband met die trekboere is selfs 'n kommissie benoem om hulle belange te behartig veral in die vorm van geldelike ondersteuning.
Vanaf begin 1892 is ds. Cachet deur die kuratore benoem as deeltydse waarnemende professor aan die Teologiese Skool. Die kerkraad het dit toegestaan op voorwaarde dat hy al om die 14 dae in Steynsburg die dienste sal waarneem. Dit het vanselfsprekend hoë eise aan sy liggaamskragte gestel. In hierdie tyd sou hy ook 'n ander beproewing deurgaan. Uit die geskiedenis is dit wel bekend dat daar by die benoeming van Cachet as waarnemende professor, spanning ontstaan het tussen hom en ds. M.P.A. Coetsee jr. Teen hierdie agtergrond moet 'n beskuldiging gesien word van D.C. Coetsee, 'n broer van genoemde M.P.A. Coetsee, dat ds. Cachet 'n vrymesselaar is. Die kerkraad het ondersoek ingestel en op die mededeling van ds. Cachet dat ds. M.P.A. Coetsee sr. hom op die Sinode van Reddersburg om vergewing gevra het vir die valse beskuldiging, het die kerkraad die saak as afgedaan beskou.
In 1894 aanvaar ds. Cachet die benoeming as voltydse professor aan die Teologiese Skool Burgersdorp. Die bedieningstyd van ds. Cachet was wel geseënd, al was dit nie van sy gelukkigste jare in die bediening nie. Sonder spanning het dit nie verloop nie. Die vraag kan gevra word of Cachet met sy ruimer kulturele belangstelling vir volk en taal en met sy tipies Hollandse persoonlikheid en agtergrond, wel maklik kontak gekry het met die gewone boeremense. Blykbaar het daardie intieme kontak, ten minste hier in die gemeente Steynsburg, ontbreek.
Die bedieningstyd van albei die volgende predikante was van korte duur en daar het ook niks van besondere betekenis in die gemeente gebeur het. Ds. Dirk Postma jr. van Petrusburg is beroep ná die vertrek van ds. Cachet. Op 20 Oktober 1894 is hy in die gemeente bevestig. 'n Mens kom onder die indruk van sy ywer vir die jeug van die gemeente. Die reorganisasie van die katkisasie het onmiddellik sy aandag geniet. Katkisasietyd is verskuif na elke Saterdagmiddag om drieuur en die eerste Saterdag van die maand is gebruik vir hersiening. Die dominee het nog nie moeilikheid gehad met rugbywedstryde ens. op 'n Saterdagmiddag nie. Sondagmôre ná die diens is gebruik vir Bybeloefeninge met die jeug. Ouderlinge sou voortaan om die beurt die belydeniskatkisasie bywoon. Die werksaamhede van die Jongeliedevereniging is ook voortaan meer toegespits op Bybelstudie. Elke 14 dae is op Saterdagaand ook sangoefening gehou, veral toegespits op die Psalms wat die Sondag in die erediens gesing sou word.
Ná die vertrek van ds. Cachet in 1894 is ds. Dirk Postma jr. beroep. Hy was die derde seun van prof. Dirk Postma en was toe reeds 'n aantal jare predikant, want hy het eers in Fauresmith gestaan en is vandaar na St Januario-Humpata (Angola) waar sy gesondheid sodanig agteruitgegaan het dat die Kerk sy broer, ds. Marthinus Postma, gestuur het om hom met sy gesin te gaan haal. In 1890 is hy weer na Fauresmith-Petrusburg beroep en vandaar na Steynsburg. Hy het hier net drie jaar gearbei. Hy was verantwoordelik vir belangrike veranderinge in die geestelike bearbeiding van die gemeente en die klem het hierin naas die bediening van die Woord, veral geval op die bearbeiding van die jeug van die gemeente. Die Jongeliedevereniging het bly voortbestaan, maar die klem het veral geval op Bybelstudie tydens die vergaderinge. Die katkisasies is op Saterdagmiddae gehou en Sondagmôres is na die eredienste Bybeloefeninge gehou met die jeug. In 1897 is hy beroep na Rustenburg waar hy gedien het tot 1905 toe hy die amp van predikant neergelê het. Terwyl hy nog predikant was in Angola het hy hom besonder beywer vir die onderwys van die kinders in daardie Rooms-Katolieke land en vir 'n tyd lank het hy self die onderwys behartig.
'n Besondere gebruik in die gemeente van Steynsburg wat vir baie jare stand gehou het, het in November 1894 sy oorsprong by ds. Postma. Die kerkraad het naamlik besluit dat die klok elke Saterdagaand om sesuur gelui sal word met die oog op die opskryf van die doopname van kinders.
Ds. Postma se vertrek het 'n onaangename nadraai gehad. Ds. Postma het by vertrek uit die gemeente die kerkraad 'n bedrag van £150 geskuld. Die kerkraad moes by herhaling uitstel gee vir afbetaling. Sommige voorstelle wat voor die kerkraad gedien het verraai 'n mate van ongeduld. Die bedrag is uiteindelik geheel deur ds. Postma terugbetaal.
Ds. Postma is opgevolg deur ds. Maarten Pelser van die Gereformeerde kerk Barkly-Oos. Op 27 November 1897 is hy in die gemeente gevestig. Die skaduwee van die oorlogsjare val ook oor die gemeente Steynsburg. Die gemeente leef met sy broeders en susters in die Noorde mee wat gewikkel is in 'n bloedige vryheidstryd. Hoewel die bedieningstyd van ds. Pelser gekenmerk word deur 'n kroniese tekort in die kerkkas en dit maar 'n voortdurende worsteling was om kop bo water te hou, was daar tog 'n oop hand vir hulle in die verdrukking. Die spesiale kollektes in die gemeente gehou, herinner hieraan: 'n kollekte vir gewondes, weduwees en wese van gesneuweldes in die oorlog. 'n Kollekte vir die krygsgevangenes. Twee kollektes vir Bybels aan die krygsgevangenes op Ceylon. Op sy vergadering van 24 November 1900 besluit die kerkraad om in elke wyk 'n kollektant te benoem om te kollekteer vir "onze verarmde Broeders en Zusters in de Republieken".
Martinus Pelser was een van die vyf studente wat tydens die oprigting van die Teologiese Skool in 1869 ingeskrywe is as student. Hy is in 1876 toegelaat as predikant en sy eerste gemeente was Aliwal-Noord. Vandaar is hy beroep na Ventersburg, waar hy gedien het van 1877 tot 1891. Terwyl hy predikant op Ventersburg was, is hy deur die instansies na Angola gestuur met die doel om die Afrikaners daar te oorreed om terug te trek, maar hy het nie heeltemal geslaag met sy sending nie. In 1891 is hy na Barkly-Oos beroep en in 1897 het hy die beroep na Steynsburg aangeneem. Toe hy dus na Steynsburg gekom het, was hy reeds 'n ervare predikant.
Hy was predikant van Steynsburg terwyl die Tweede Vryheidsoorlog gewoed het en toe volk en kerk in 'n staat van ontreddering verkeer het. Sy bedieningstyd hier is gekenmerk deur stoflike "gedruktheid", sodat dit 'n worsteling was om die kerklike finansies aan die gang te hou. Ds. Pelser het sy bedieningslewe in Steynsburg beëindig gesien onder 'n donker wolk van beproewing. Op 14 Februarie 1901 gee die kerkraad hom 'n maand verlof vanweë ongesteldheid in sy keel. Op sy vergadering van 12 April 1901 deel prof. Cachet die kerkraad mee dat ds. Pelser 'n gevaarlike keelkwaal het, ongetwyfeld was dit kanker. Hy sou nie weer in die gemeente optree nie. Op 7 Junie 1902 is hy oorlede en op Steynsburg begrawe.
Aan die begin van 1902 is ds. Pelser oorlede, maar as gevolg van omstandighede was dit eers vir die gemeente moontlik om teen die end van die jaar weer 'n predikant te beroep en toe is prof. P.C. Snyman van die Teologiese Skool op Burgersdorp beroep. Philippus Christoffel Snyman is op 16 Junie 1875 op Burgersdorp gebore as die seun van Willem Jacobus Snyman (later predikant van Venterstad) en Sophia Elizabeth Susara, gebore Snyman. In 1895 behaal hy die B.A.-graad as student van die Teologiese Skool en in 1898 lê hy die kandidaatseksamen in die teologie met goeie gevolg af en word beroepbaar gestel.
Reeds in 1897 is student Snyman saam met student J.A. du Plessis benoem as professore in die lettere aan die Teologiese Skool. Gedurende die Anglo-Boereoorlog was prof. Snyman dus verbonde aan die Teologiese Skool, maar toe Steynsburg hom in 1903 beroep, het hy die beroep hierheen aangeneem. Ten tyde van sy bevestiging in die amp was die saak van die verskuiwing van die Teologiese Skool ernstig onder bespreking en hy het dadelik saam met sy kerkraad en gemeente geywer om die Skool na Steynsburg verplaas te kry. 1n 1904 het die Algemene Sinode egter besluit dat die Skool na Potchefstroom verplaas moet word.
In sy gemeente het hy voortgegaan en besondere aandag geskenk aan die onderwyssaak en inderdaad daarin geslaag om Steynsburg 'n soort bakermat van CNO te maak. Aangesien die kerkgebou te klein was, is onder die Ieiding van ds. Snyman besluit om twee galerye in die bestaande gebou in te plan sodat daar meer sitplekke beskikbaar sou wees. Dit het meegebring dat die preekstoel ook verskuiwe moes word, en toe later 'n orrel geïnstalleer is, is die instrument regoor die preekstoel geplaas. In 1911 het hy studieverlof van sy kerkraad verkry en is hy met sy gesin na Nederland, waar hy in 1913 gepromoveer het tot doktor in die Godgeleerdheid met 'n proefskrif oor: "De profetie van Zefanja". Tydens sy verblyf in Nederland is hy benoem tot tweede teologiese professor aan die Teologiese Skool, maar hy het bedank vir die roeping. In 1914 is hy met sy gesin terugverwelkom in Steynsburg. Nie baie lank na sy terugkoms het hy baie ernstig siek geword en is hy in 1915 oorlede. Dit was 'n geweldige slag vir Steynsburg sowel as vir die hele Gereformeerde Kerk. Dr. Snyman was getroud met Gertruida Adriana van Rooy, dogter van die bekende onderwyser Johannes Cornelis van Rooy, en uit die huwelik is sewe kinders gebore van wie die oudste seun prof. W.J. Snyman was.
Dr. P.C. Snyman was die besielende vader en leidsman was van die kragtige CNO-aksie op Steynsburg. Geen geskiedenis van CNO in Suid-Afrika kan ooit geskryf word sonder om rekening te hou met die CNO-skole van Steynsburg en sonder om die naam van P.C. Snyman 'n voorste plek te gee op die ererol van CNO-stryders in Suid-Afrika nie.[2]
Hoewel ds. Pelser in Januarie 1902 oorlede is, sou die gemeente nie tot 'n beroep oorgaan voor die einde van die jaar nie. Die finansiële sake van die gemeente was blykbaar deurmekaar. Twee broeders is benoem om saam met die penningmeester 'n behoorlike en volledige finansiële verslag op te stel. Die kerkraad het eers op hierdie verslag gewag voordat tot 'n beroep oorgegaan sou word. Die einde van die jaar word toe prof. P.C. Snyman van die Teologiese Skool op Burgersdorp beroep. Sy hart trek na die bediening en hy aanvaar die beroep. Op 21 Februarie 1903 is hy in Steynsburg bevestig. 'n Verfrissende wind het begin waai. Sommer met die intrapslag beywer hy hom vir die verplasing van die Teologiese Skool na Steynsburg. Juis in dié tyd was die moontlike verplasing van die Teologiese Skool 'n brandende vraag. Die Sinode van 1904 sou oor die belangrike aangeleentheid 'n beslissing neem. In Steynsburg is druk gewerk. Ds. Snyman was saam met die kerkraad oortuig daarvan dat Steynsburg die aangewese plek is vir die Teologiese Skool. Uit die gemeente het spontaan aanbiedinge gekom. In Junie 1903 kon op die kerkraad gerapporteer word dat uit slegs vier wyke £309 (R618) vir die skool beloof is. 'n Beskrywingspunt word dan ook deurgestuur na die Sinode wat vra om 'n verplasing na Steynsburg. Die kerkraad van Steynsburg kom voor die Sinode met 'n aanloklike aanbod. Die Sinode het egter ten gunste van 'n verplasing na Potchefstroom besluit.
Onder ds. Snyman se besielende leiding het die gemeente nuwe lewe gekry en in veel opsigte is vooruitgang te bespeur. Die kerkgebou het te klein geword vir die lidmatetal. In 1906 is die gedagte op die kerkraad geopper dat twee galerye in die gebou aangebring moet word. Dit word werklikheid wanneer 'n galery teen die westelike muur, bokant die konsistorie, en een teen die oostelike muur aangebring word. Die preekstoel, wat teen die westelike muur gestaan het, is toe verskuif na die lang muur aan die noordekant. So het die preekstoel die plek gekry waar L.S. van der Vyver dit graag wou plaas volgens 'n voorstel voor 'n vergadering van die gemeente in 1903. Die galery aan die westelike muur is bestem vir die susters en die aan die oostekant vir die broeders van die gemeente. Die kerk is in die laat dertigerjare verander tot die huidige kerkgebou. Die susters begin ook roer aan die verkryging van 'n orrel. In 1907 word aan die susters toestemming verleen om geld vir 'n orrel in te samel. In 1911 is die orrel geïnstalleer teen die suidemuur reg voor die preekstoel. Dit is waar br. Faan van der Walt die orreltjie, op sy platform van 3 vt. 6 dm., vroeër jare bespeel het.
Uit die bedieningstyd van ds. Snyman dateer ook die aparte vergadering van die diakens. Daarmee is in 1911 begin. Dit is opmerklik dat so vroeg soos November 1912 die moontlikheid van 'n kollekte onder die diens al bespreek is. Dit is geopper in die vergadering van die diakens. Die kerkraad het dit egter by die bespreking gelaat. Tydens die oorlogsjare en met die oorlyde van ds. Pelser is die dienste op Maraisburg (Hofmeyr) 'n tyd lank onderbreek. Ds. Snyman het weer daarmee begin en die arbeid was so geseënd dat 'n selfstandige gemeente in 1914 gestig is. Daar was geseënde lewe en voorspoed en ywer in die Steynsburgse gemeente. D
Tussen predikant en gemeente was daar 'n vertroulike en liefdevolle verhouding. Dit was so na moontlik aan die ideale verhouding. Dit spreek ook weer uit die verlening van studieverlof vir twee jaar in die buiteland met behoud van volle traktement. Dit het begin op 1 Januarie 1912. Tydens sy afwesigheid van twee jaar is die gemeente bedien deur ds. Willem Postma van Bloemfontein en deur ds. T. Hamersma. Sonder 'n vaste predikant het dit van die gemeente nogal veel gevra om die Sinode van 1913 te ontvang. Dit is geharde mense met ondernemingsgees; daarom het dit alles vlot verloop. In afstand ver van mekaar geskei, was die leraar met sy gesin en die gemeente Steynsburg in die geloof en liefde tog naby mekaar. 'n Brief van hulle leraar in die vreemde word ook aan die gemeente voorgelees. Toe die kerkraad in 1913 verneem dat hy 'n beroep as professor aan die Teologiese Skool te Potchefstroom nie aanvaar het nie, stuur hulle aan hom 'n geskenk in Nederland.
Groot was die vreugde toe hy in die begin van 1914 as doktor in die teologie in die gemeente terug ontvang kon word uit die buiteland. Ouderling N. van der Walt is met sy volle gesin na Kaapstad om dr. Snyman en sy gesin namens die kerkraad en gemeente te ontmoet en te verwelkom. In Steynsburg is op 15 Januarie 1914 'n spesiale vergadering gehou om reëlings te tref vir die ontvangs. Enkele broeders het hom en die gesin op die stasie ontmoet terwyl die res van die gemeente by die pastorie gewag het. Daar aangekom is aan hom 'n verwelkomingsadres oorhandig. Groot was die vreugde toe hy enkele maande later vir 'n beroep na Reddersburg bedank het. Dit is duidelik dat hy met innige bande gebind was aan die gemeente Steynsburg, wat hom en gesin met groot welwillendheid en liefde gedra het.
In April 1915 word hy siek en Sondag 9 Mei het die siekte, longontsteking volgens Die Kerkblad van 15 Mei 1915, 'n ernstige wending geneem. Die gemeente was bekommerd: "Die hele dag stond er gedurig 'n schare van verslagen belangstellenden om de pastorie. Angstig werd elk bericht uit de ziekekamer afgewacht en steeds hoger klom de vrees bij iedere slechte tijding." Die middag kwart voor vyf het hy in die geloof heengegaan, slegs vyf weke ná sy vader, ds. W.J. Snyman. Die gemeente, aldus 'n verslag in genoemde Kerkblad, was stom van verslaenheid. Hy is egter in veel wyer kring waardeer en gerespekteer. Hy het met sy innemendheid en terselfdertyd met 'n onwrikbare standvastigheid 'n warm plek verower in die hart van elkeen met wie hy in aanraking gekom het. Op Dinsdag 11 Mei om 2 nm. is hy begrawe. Die begrafnisrede is waargeneem deur ds. J.G.H. van der Walt met as teks Matt. 14:12. Op treffende wyse het hy die treurende familie, vriende en gemeente opgeroep: "Gaat heen en boodschapt het Jezus. Zeg aan Hem: onze leeraar, onze leidsman, onze vertrooster, onze raadgever is weg. Er is niemand op aarde die ons verlies kan vergoeden. Here Jezus, neem Gij die ledige plaats in. Giet olie der vertroosting in die bloedende wonde."
Gevoelvol het ds. I.D. Krüger vertolk wat in die hart van 'n treurende skare omgegaan het: "Wij kunnen 't niet geloven … Heere, hebt Gij hem dan niet een groot werk te doen gegeven? Hebt Gij hem dan niet geroepen … met zoveel kennis en beleid … hebt Gij zijn werk dan niet goedgekeurd gezegend en uitgebreid. Hebt Gij dan geen onverbrekelijke band tussen zijn gemeente en hem gelegd. En, Heere, nou scheurt Gij de geliefde herder en leeraar zo plotseling weg … en de school … was dit kind uit hem geboren dan niet naar Uw … het hele lichaam Uwer kerk in dit land … gaat in het zwart. Heere wij treuren en vragen Uw antwoord: hoe zal het gaan met Uw werk? Niet door kracht, noch door geweld, maar door mijn Geest zal het geschieden (Sag. 4:6b) God is groot en wij begrijpen Hem niet. Hy gebruikt ons zolang het Hem behaagt."
Die groot stoet grafwaarts, oor die 1 300 mense, was 'n bewys van "hoe hoog de overledene geschat was en hoe bemind. Ontroering was op aller gelaat te lezen". Ds. S.P. Malherbe van die plaaslike NG gemeente het by die graf van sy heengaan getuig as 'n verlies vir al sy vriende en die maatskappy. Dr. Snyman was 'n kragtige persoonlikheid, 'n nougesette herder en leraar vir sy gemeente. In die omgang was hy vriendelik sonder 'n sweem van hoogmoed of selfverheffing. In Die Post, 'n blaadjie van Steynsburg, het iemand van hom getuig: Hy was 'n Christen in woord en daad en as sodanig sal hy bly voortleef in die herinnering van 'n ieder wat hom geken het. 'n Dr. Snyman-fonds ter bevordering van CNO is in die lewe geroep. Onuitwisbaar is sy naam vervleg met die kerk- en kultuurgeskiedenis van Suid-Afrika.
Casparus Jan Hendrik de Wet is op 23 Maart 1887 op Ladybrand gebore as die derde jongste kind van Johannes Marthinus de Wet en Lasya Christina Kruger. Op 13-jarige leeftyd is hy saam met sy ouer broers op kommando, maar is nie toegelaat tot die gevegslinies nie. Aan die begin van 1901 is hy gevang en na St. Helena gestuur. Albei sy ouers is gedurende die oorlog oorlede. Vir sy skoolonderrig is hy na die Blouvlei-skool, distrik Wellington, en van daar na Franschhoek waar hy in 1908 gematrikuleer het. In 1911 het hy sy B.A.-graad behaal aan die Victoria College op Stellenbosch. Hy was van plan om vir predikant van die NG Kerk te studeer, maar het in 1912 hom laat inskrywe as student van die Teologiese Skool op Potchefstroom. In 1915 het hy in die kandidaatseksamen in die teologie geslaag en is toe beroepbaar gestel in die Gereformeerde Kerk.
As proponent is hy na Steynsburg beroep waar hy in 1916 in die amp bevestig is. As predikant het hy met groot ywer die bedieningswerk aangepak en veral deur sy prediking die gemeente gestig. Onder sy leiding is begin met gereelde herdenking van die Hervorming en besondere aandag is ook geskenk aan die katkisasie. Hy het ook groot ywer aan die dag gelê vir die insameling van gelde vir die Teologiese Skool-jubileumfonds, waardeur die 50-jarige bestaan van die Teologiese Skool in 1919 herdenk sou word. 'n Bedrag van R1 900 is in die gemeente vir die doel ingesamel.
In 1919 is hy met toestemming van sy kerkraad na Europa vir verdere studie en in 1921 het hy die doktorsgraad verwerf met 'n proefskrif oor: Die Kollegiale Kerkreg. Gedurende die afwesigheid van dr. en mev. De Wet is 'n nuwe pastorie gebou, sodat na hulle terugkoms die gesin dié gebou betrek het. In 1923 is hy beroep na Bloemfontein waar hulle nie lank was nie, want in 1924 is hy tot professor aan die Teologiese Skool benoem. Vanaf 1925 het hy daar gearbei, totdat hy in 1946 as gevolg van 'n leergeding teen hom, sy bedanking ingedien het as professor en ook as lidmaat van die Gereformeerde Kerk. In 1958 is hy oorlede. Nog tydens sy studiejare is hy getroud met die weduwee Maria Magdalena Wessels, gebore Wentzel, en uit die huwelik is vier seuns en een dogter gebore. In 1943 is sy eerste vrou oorlede, en toe is hy later met mej. A.S.M. Erasmus getroud, wat hom oorleef het.
Op die kerkraadsvergadering van 26 Februarie 1916 word gemeld dat prop. C.J.H. de Wet die beroep na die gemeente aanvaar het. Vanaf 1916 tot by sy vertrek in 1923 het hy met groot seën in die gemeente gearbei. Dit is so sprekend van dié vurige patriot dat op sy voorstel die notule in die toekoms in Afrikaans geskryf sal word. So is die kerkraadsvergadering van 26 Augustus 1916 in Afrikaans genotuleer. J.P. Kruger was die skrywer daarvan. Op dieselfde vergadering is besluit om 'n kollekte te hou vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans.
In dr. De Wet se bedieningstyd het alles het normaal in die gemeente verloop. Die jong predikant was vol ywer. Nuwe dinge is aangepak. 'n Hervormingsfees word jaarliks die eerste Sondag in November gevier; kerkgeskiedenis ontvang meer aandag in die katkisasie: die preekbundel "Lig op my pad" word versprei; die diakens word opgedra om te kollekteer vir die Vrye Universiteit Amsterdam. Die jong predikant se visie kring wyer uit as die onmiddellike omgewing. Dit is die krisistyd in die lewe van die Teologiese Skool. In 1917 besoek prof. J.D. du Toit die gemeente ten behoewe van die Jubileumfonds en daar word besluit om onmiddellik die hand aan die ploeg te slaan. Later kon rapporteer word dat 'n bedrag van plus minus R1 900 hiervoor ingesamel is.
In Februarie 1919 vertrek ds. De Wet met verlof na Nederland met die oog op verdere studie. Dit is opmerklik dat oudl. A.J. Buys in 1920 al op die kerkraad kerkbou ter sprake gebring het. Dit is uiteindelik vir 'n onbepaalde tyd uitgestel. Die saadjie is egter geplant en dit sou in die laat dertigerjare eers sy vrug oplewer.
Teen die helfte van 1921 het ds. De Wet uit die buiteland teruggekeer met 'n doktorsgraad agter sy naam. 'n Gesellige ontvangs is vir hom gereël en sy traktement word verhoog. Die gemeente is vol ondernemingsgees. Die kerkraad koop 'n erf aan van 'n mnr. Crooks en besluit om 'n nuwe pastorie te bou tot groot vreugde van die pastoriegesin. In die kerkgebou word gasligte aangebring. 'n Spesiale kollekte word gehou vir die gemeente Johannesburg, wat in 'n "benarde toestand" verkeer, aldus die notule. Die blik word wyer uitgeslaan as besluit word om via die Algemene Vergadering die Sinode te versoek om die wenslikheid te oorweeg dat die Gereformeerde Kerk konsentreer op een groot sendingstasie. Weereens word 'n kollekte gehou vir die Afrikaanse Bybelvertaling en vir die bediening in Angola. Dit is duidelik, alles verloop geseënd in die gemeente: 'n gemeente wat bereid is om te offer, 'n predikant wat hulle elke Sondag met die kragtigste prediking voed en opvoer tot hoë hoogtes.
Die gemeente is geskud toe hulle jong, besonder begaafde dominee 'n beroep ontvang na Bloemfontein. Die gemeente het geglo hy sou dit nie aanneem nie, want hulle het hom studieverlof toegestaan, sy traktement verhoog en boonop 'n nuwe pastorie gebou. So het die redenasies wat gegrens het aan ligte verwyte, baie jare daarna nog voortgeleef in die gemeente. Maar die begaafde jongman aanvaar die beroep na Bloemfontein en in September 1923 neem hy afskeid van die gemeente. Die geslag wat onder sy bediening verkeer het, het lankal in die gemeente Steynsburg uitgesterf. In hulle nagedagtenis en deur hulle oorlewering in die nagedagtenis van die geslag wat gevolg het, was die naam De Wet sinoniem met prediker. Vir Steynsburg was die vurige besielde redenaar wat so diep kon grawe in die geheimenisse van die Woord, 'n kolos sonder weerga. Dekades ná sy vertrek is nog gepraat oor sy afskeidspreek. Die gemeente het altyd met verwagting uitgesien na 'n besoek van hom.
Douw Gerbrand Venter is op 19 Februarie 1891 op Burgersdorp gebore as seun van mnr. en mev. J.P. Venter van die plaas Klipfontein. In 1911 het hy in die matrikulasie-eksamen geslaag en vanaf 1912 tot 1917 aan die Teologiese Skool studeer, waar hy sy kandidaatseksamen in die teologie met sukses afgelê het en beroepbaar gestel is. In 1918 is hy op Lichtenburg in die amp bevestig en in 1920 het die egpaar verhuis na Lindley, waar hy tot 1924 gearbei het, toe hy 'n beroep na Steynsburg aangeneem het. Hier het hy 23 jaar gearbei, die langste tydperk van al Steynsburg se predikante in die eerste eeu van die gemeente se bestaan.
As herder en leraar het hy hom besonder onderskei en al die jare met seën hier gewerk. Maar hy het tog ook besondere aandag geskenk aan die jeugwerk in sy gemeente, sowel as dié van die hele Kaapland. In hierdie verband het katkisasies veral sy aandag geniet, maar ook die jong mense wat aan die Opleidingskollege op die dorp studeer het. Hy het ook baie aandag geskenk aan die onderwyssaak. Tydens sy bediening het die gemeente daartoe oorgegaan om die bestaande kerkgebou te verbou en in 1938 is 'n tender daarvoor aanvaar vir R11 670 en op 22 April 1939 is die kerkgebou in gebruik geneem. Aan die Sendingsaak het ds. Venter baie aandag gegee, veral ook as voorsitter van die Sendingdeputate van die Algemene Sinode. Ook plaaslik het hy geywer vir die sending en onder sy leiding het die gemeente onderneem om 'n sendingbuitepos in Soutpansberg te onderhou.
Ds. Venter het ook besondere aandag geskenk aan volks- en kultuursake en grootliks geywer vir die restourasie van die woonhuis waarin pres. Paul Kruger op Bulhoek, distrik Steynsburg, gebore is. Die huis is gerestoureer en tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die tyd van sy bediening was vir die CNO-inrigtings op Steynsburg in meer as een opsig krisisjare. Dit het veel van sy tyd en kragte geverg. Hy het egter onbaatsugtig gedien. In 1947 het hy 'n beroep na Krugersdorp aanvaar en in 1953 is hy benoem tot eerste voltydse redakteur van Die Kerkblad. Hy het die blad geredigeer tot 1958 toe hy uitgetree het. In Augustus 1968 is hy oorlede. Ds. Venter is met Johanna Margaretha Kruger van Venterstad getroud en uit die huwelik is drie seuns en een dogter gebore.
Nadat ds. C.W.M. du Toit en ds. D.N. Kotzé beroepe nie aanvaar het nie, is ds. D.G. Venter van Lindley beroep. Hy aanvaar dit en word bevestig op 23 Mei 1924. Van al die predikante wat in die gemeente gedien het, was sy bedieningstyd die langste, 1924–1947. Dit was besonder geseënd, en in meer as een opsig, 'n deurslaggewende tydperk in die lewe van die gemeente.
Vroeg in die twintigerjare van die 20ste eeu is daar al besin oor 'n moontlike vergroting van die kerkgebou. Op 5 Mei 1924 is al die moontlikheid geopper om die mure van die konsistorie uit te breek om meer plek te kry. Voorlopig is van die plan afgesien omdat die finansiële toestand van die gemeente dit nie toegelaat het nie. In 1928 word die hele aangeleentheid van kerkbou op 'n vaster voet geplaas, as die kerkraad besluit om te begin met die insameling van 'n boufonds en as 'n boukommissie benoem word wat bestaan het uit ds. D.G. Venter, broeders W.I. van Rooy, J.P. Duvenage, G.C.P. Labuscagne, N. Labuscagne en ouderlinge G.H.J. Kruger en N. van der Walt. Die depressiejare het die kerkraad en boukommissie gedwing om tydelik die pas te markeer. Alhoewel toestande op finansiële gebied sorgwekkend was, het die kerkraad tog die moed en geloof om op 15 November 1930 te besluit om langsaam te begin met geldinsameling vir vergroting van die kerkgebou. Die gemeente skep moed.
Op die vergadering van 19 Mei 1934 kan al dank teenoor die Here uitgespreek word, wat die gemeente na sorgwekkende tye stoflik ryklik geseën het. Diaken A.C. Kruger het selfs die moed om die insameling van 'n kerkboufonds nou kragtig ter hand te neem. Op 18 Augustus 1934 word dan besluit om vanaf begin 1935 te begin en nie te bou voordat twee derdes van die vereiste bedrag ingesamel is nie. In 1935 ontvang die boukommissie ook opdrag om solank aandag te gee aan bouplanne. Die insameling vir die boufonds verloop voorspoedig sodat in Julie 1936 gerapporteer kan word dat al bykans R9 700 daarvoor beloof is. Aan die samewerking en entoesiasme van die gemeente skort daar niks. Uiteindelik is dan ook in 1937 besluit om die ou kerk te herbou. Op 26 Februarie 1938 word die tender van mnr. Van Rooyen vir R11 670 aanvaar. 20 Augustus 1938 is 'n groot dag vir die gemeente toe die gedenksteen van die herboude kerkgebou gelê word. Die rede is gelewer deur ds. D.G. Venter. Ander predikante teenwoordig was die konsulent, ds. J.G.H. van der Walt, en ds. W.J. Snyman van Venterstad.
Op 22 April 1939 is die herboude kerkgebou in gebruik geneem. Vir die gemeente was dit 'n feesdag waarna oor baie jare uitgesien is. Uiteindelik kon die gemeente 'n sierlike en baie doelmatige kerkgebou betrek en kon die sang gelei word met 'n ewe doelmatige orrel. Dit is natuurlik die kerkgebou soos dit vandag nog te vind is op Steynsburg, 'n monument wat getuig van offervaardige, vaste en doelgerigte harte. Die gemeente het nog bouskuld gehad. Die offers van dankbaarheid het nie agterweë gebly nie. Mede deur die onvermoeide ywer van ds. Venter kon die laaste bouskuld in 1943 gedelg word.
Met die herboude kerkgebou is baie van die "ou" dinge met nuwes vervang. Die ou, hoë preekstoel met sy kappie wat teen die noorde-muur van die ou kerk gestaan het, is geskenk aan die NG sendinggemeente op Steynsburg. Die ou katedertjie waaragter menige ouderling se bewende broek met leesdienste verberg is, is geskenk aan die President Kruger-geboortehuis op Bulhoek. Die ou orreltjie waarop Faan van der Walt vanaf 22 September 1923 tot 19 November 1923 (?) die gemeentesang begelei het, is vir R130 verkoop aan die Gereformeerde kerk Molteno. En die houthamer wat op kerkraadsvergaderings gebruik word is in 1928 geskenk deur die bekende diaken Hans Aucamp, toe dosent aan die Normaalkollege.
Ds. D.G. Venter was baie jare lank voorsitter van die deputate vir sending van die Nasionale Sinode. Hy was diep onder die indruk van die roeping van die kerk om die evangelie uit te dra na die heidendom en was 'n ware sendingvriend. In 1928 toe begin is met die sending op Siloam neem die kerkraad onder sy leiding die leiding om in die gemeente vir die sending te kollekteer. Die mikpunt van R200 word gestel. Dit was die beginpunt van 'n voortdurende aandag aan die sending. Van tyd tot tyd is daarvoor gekollekteer. Volgens 'n beskrywingspunt wat die kerkraad in September 1929 na die Klassis gestuur het, het die behoefte in die gemeente geleef dat die sendingleraar, en daar was toe net een, naamlik ds. H. du Plessis, meer moet rondgaan onder die gemeentes. As uitvloeisel van die verlange besoek ds. Du Plessis die gemeente in 1931. Dit is die maer jare van die depressie. Hy spreek die gemeente toe oor die werk op Siloam. Diep onder die indruk van sy behoefte aan 'n geskikte voertuig besluit die kerkraad om van elke lidmaat vyf sent te kollekteer vir die doel. Geld was destyds bitter skaars. Nietemin, met die vyf sente is 'n bedrag van R21,80 ingesamel.
Die belange van die uitbreiding van die Kerk het die aandag van die kerkraad nooit ontglip nie. Dit is nie maar toevallig dat die vader van die Duvenage-fonds, ouderling J.P. Duvenage, vader van wyle ds. A. Duvenage, van die gemeente Steynsburg was nie. Sy bydrae was die begin van 'n vaste sendingfonds wat vandag nog vrugte dra vir die uitbreiding van Gods koninkryk. In 'n tyd toe sendingwerk nog 'n "stiefkind" was in die Gereformeerde kerkverband het ds. Venter daarin geslaag om die vuurtjie van belangstelling en inisiatief in die gemeente brandende te hou. Lank na sy vertrek sou dit eers ontdooi in 'n positiewe sendingaksie in eie omgewing.
Ds. D.G. Venter het baie beslis verder gekyk as net sy eie gemeentelike grense. Hy het vir 'n tyd lank ook enkele lidmate op Graaff-Reinet bedien. Hierbenewens het hy 'n oop oog gehad vir onderneminge in die kerkverband asook vir dit wat die uitbreiding van Gods koninkryk op breër maatskaplike en volksterrein gemaak het. Hy het ook daarin geslaag om die gemeente aan te wakker tot medewerkers en nie net om toeskouers te bly nie.
Iewers op die terrein van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys is in 'n vertrek 'n koperplaat aangebring wat herinner aan die bydrae van die gemeente vir die boufonds in die dertiger jare. 'n PUK-komitee het die voortou geneem. In verband hiermee het die destydse rektor, prof. Ferdinand Postma, die gemeente nie minder nie as vier keer besoek en wel in 1927 by geleentheid van 'n Teologiese Skool- en Universiteitsdag, in 1929, in 1930 en vir die laaste keer in 1939. Die herhaalde besoeke dui op 'n gulhartige en bemoedigende ontvangs. Aangeleenthede van die kerkverband soos Die Kerkblad en tehuise vir bejaardes en wese het die aandag en steun gekry wat dit verdien.
Ds. Venter het 'n voorliefde gehad vir die geskiedenis. Sy inlewing in die gemeente se verlede soos onder meer geblyk het by die sestigjarige feesviering in 1932, is 'n bewys hiervan. 'n Gedenkboek het by dié geleentheid die lig gesien. In 1942 is weereens, hoewel op veel kleiner skaal, die sewentigjarige bestaan van die gemeente gedenk. In lyn met hierdie belangstelling en inlewing in die verlede lê die beskrywingspunt wat die kerkraad in 1929 na die Sinode deurgestuur het, naamlik dat die Sinode versoek word om meer aandag aan die Argief van die Kerk te gee.
Sake in die volkslewe het voortdurend aandag geniet. Verteenwoordigers is gestuur na etlike volkskongresse. Die kerkraad het deur 'n verteenwoordiger deel gehad aan die reëlings van die Ossewafees in 1938. Ds. Venter kan beskou word as een van die vaders van die gedagte om die geboortehuis van pres. Kruger op Bulhoek te herbou en vir die nageslag te bewaar. So vroeg as Februarie 1926 rapporteer ds. Venter op die kerkraad dat die plaas Bulhoek deur J. du Plessis verkoop is en dat 1 morg uitgehou word vir die Gereformeerde Kerk. In Augustus 1927 kon rapporteer word dat die grond nou getransporteer is. Ds. Venter het hom voortdurend op die breë geboorteplekkomitee beywer vir die heropbou van die geboortehuis en vir die inrigting daarvan as 'n museum.
Die bedieningstyd van ds. Venter, die langste tydperk wat 'n predikant in die gemeente gestaan het, was besonder geseënd. Sy innemende herderlike sorg leef in die herinnering van die gemeente dankbaar voort. Sy besondere aandag aan die kind en die jeug is onuitwisbaar verbind aan sy nagedagtenis. In meer as een opsig was sy bedieningstyd vir die gemeente oorgangsjare. Dit het van 'n groot plattelandse gemeente met 'n sieletal van 1 022 in 1924, weens ontvolking van die platteland, gekwyn tot 'n sieletal van 665 in 1946. Ook ander sake het oorgangsjare en spanninge gebring. Baie jare lank was dit 'n strydpunt in die kerkraad of die kollekte in die erediens opgeneem moet word. Op die vergadering van 23 Februarie 1945 is uiteindelik ten gunste daarvan beslis. 'n Ander jare lange strydpunt wat soms hoë spanning meegebring het was die sogenaamde kleredrag van die ampsdraers. Die manel en die hoë keil het diep in ons mense se bloed vasgesit.
Met die vertrek van ds. Venter in Februarie 1947 na Krugersdorp is 'n verbintenis van 23 jaar beëindig. Intieme bande van liefde en toegeneentheid moes verbreek word. Hy het innig met die gemeente en die gemeenskap meegeleef.
Op die Gereformeerde Kerk se Sinode van 1869 is 'n kommissie benoem om die daaropvolgende Sinode te adviseer oor die onderwys. Die verslag is op die Sinode van 1873 ter tafel gelê en het die veelseggende aanbeveling bevat dat kerkrade soveel moontlik gemeenteskole moes oprig. In ooreenstemming met dié Sinodebesluit het die Gereformeerde kerk Steynsburg onmiddellik ná sy stigting in 1872 doelgerig aandag gegee aan die oprigting van 'n Christelike skool. Vroeg in 1874, nog voor die gemeente 'n eie predikant gehad het, het die kerkraad die besluit van die Sinode van 1873 ter tafel geneem. 'n Kommissie is benoem om die onderwyssake in die gemeente te behartig.
Die bestaande skool op die jong dorpie was nie vir die kerkraad aanvaarbaar nie, want ouderling Steyn het gesê dat dit nie aanbeveel kon word nie. Op dieselfde vergadering op 9 Januarie 1874 het die kerkraad die moontlikheid bespreek van die oprigting van 'n skool op die dorp en kerkraadslede het opdrag gekry om die lidmate intussen oor die saak te pols en met die volgende nagmaal te rapporteer. Die konsulent-voorsitter, ds. M.P.A. (Petrus) Coetzee sr. van Middelburg, Kaap, het gevra die kerkraadslede moes intussen ook dink aan die stigting van 'n fonds waaruit die onderwysaksie gefinansier kon word.
Hulle het onmiddellik aan die werk gespring. Die vereiste bedrag om die skool te begin is op £220 bereken. Nadat die gemeente sy eerste predikant, ds. M.P.A. Coetsee jr., op 1 Augustus 1874 ontvang het, het sake in verband met die onderwys begin gestalte kry. Op die kerkraadsvergadering van 25 September 1874 is finaal besluit om 'n skool op te rig. Hoewel dit goed gegaan het en die skool goed bygewoon is, moes dit reeds aan die einde van 1875 sluit weens 'n gebrek aan geld. Dié skool het 'n jaar of wat later heropen in die kerkgebou as skoollokaal. Op 24 Februarie 1877 besluit die kerkraad om 'n skoolgebou op te rig en daar was ook sprake om die dienste van 'n tweede leerkrag te bekom. Die gebou is middel 1877 voltooi.
Toe die regering in 1879 'n staatsondersteunde skool op die dorp open, het die kerkraad gevoel dat dit met vrug ook deur die Gereformeerde kinders gebruik kon word, en is die stryd om die voorbestaan van die gemeenteskool vir eers gewonne gegee.
Die Tweede Vryheidsoorlog het vir Afrikaners rampspoedig geëindig, maar die veroweraar wou dit nie daar laat nie, want hy het geweet dat 'n volk nie so maklik vernietig word nie. Lord Alfred Milner het besluit om die onderwys in te span om die Afrikanernasie te onderploeg. Met sy verengelsingsbeleid in alle staatskole wou hy die kinders van hul taal en tradisies vervreem.
Ná die oorlog is die eentalig Engelse onderwysers wat vir die konsentrasiekampe ingevoer is, in die staatskole opgeneem. Skotse onderwysers is ook ingevoer en die hoofde van die groter skole was almal eentalig Engelssprekend. Met dié onderwysers wou die staat die kinders lojale Britse onderdane maak. Van moedertaalonderwys, eie geskiedenis en godsdiens het daar in dié staatskole baie min tereggekom.
Prop. P.C. Snyman is in 1903 as Steynsburg se Gereformeerde predikant bevestig. Hy was 'n jong man met besonderse gawes en 'n helder siening van onderwyssake. Die moontlikheid dat die Gereformeerde Kerk se Teologiese Kweekskool, met sy literêre afdeling, van Burgersdorp na Steynsburg verskuif kon word, was vir die jong predikant 'n wonderlike vooruitsig en natuurlik was hy diep teleurgesteld toe die Gereformeerde Kerk se Sinode van 1904 op Middelburg besluit om liewer die verplasing na Potchefstroom te maak, waar dit die voorloper was van wat later die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit sou word.
Dr. Snyman het al gedroom van 'n groot onderwysaksie op Steynsburg. Hy het hom egter nie deur dié wending van stryk laat bring nie. Hy was vasbeslote en doelgerig en het geglo in 'n beginselsaak waarop hy sy hart gesit het; daarom sou nie sy ideaal van 'n Christelik-nasionale onderwysaksie op Steynsburg sonder meer laat vaar nie. Hy was dan ook die siel van dié beweging op Steynsburg in die jare ná die Driejarige Oorlog. Danksy sy briljante verstand en geesdrif het dit wat eers bedoel was vir die kinders van Steynsburg, uiteindelik 'n belangrike bydrae gelewer tot die geskiedenis van CNO in die hele Suid-Afrika.
Die kerkraad het die moontlikheid van die oprigting van 'n CNO-skool op sy vergadering van 21 Mei 1904 bespreek. Die £1 000 wat mev. Van Rooy, weduwee van die eerste skoolmeester, geskenk het vir gebruik in geval die Teologiese Skool Steynsburg toe verskuif word, het geblyk van krag te bly vir enige Christelike skool wat moontlik op die dorp opgerig sou word. Die kerkraad het toe 'n kommissie benoem onder voorsitterskap van dr. Snyman om planne te beraam vir die oprigting van so 'n skool.
Dié kommissie het sy verslag op die vergadering van 1 Julie 1904 ter tafel gelê met 'n deeglike 10-punt-plan. Op 'n daaropvolgende gemeentevergadering is die verslag aanvaar en het die kerkraad opdrag gekry om 'n skoolgebou van sowat £600 op te rig. Hierdie gebou is teen April 1905 voltooi. Die eerste hoof was mnr. K. Bonsma van Pretoria en as assistente is Francina Lion Cachet aangestel. Sy kon die benoeming nie aanvaar nie en mej. A. Coetzee van die nabygeleë Venterstad het toe haar plek ingeneem. Omdat dit volgens ds. Snyman nie 'n suiwer kerkskool moes wees nie, maar 'n "vrye school voor heel de natie", het die skoolkommissie van die Gereformeerde gemeente samewerking met die NG gemeente Steynsburg gesoek.
Op 17 Julie 1905 het die skool met 60 leerlinge geopen, van wie 15 kleinkinders was van ou meester Johannes Cornelis van Rooy, stamvader van die Van Rooy-familie in Suid-Afrika. Weens die naoorlogse depressie en periodieke droogtes, was die eerste jare van die skool se bestaan 'n bitter stryd om die geldelike verpligtinge na te kom. Ondanks moeilikhede het die skool wel gaandeweg gegroei en in 1908 bereik hy 'n mylpaal toe die twee kandidate, met spesiale verlof van die skoolkommissie, die matrikulasie-eksamen aflê. Dié kandidate was Naomi Hennings en Joon van Rooy (1890–1964), later 'n rektor van die Potchefstroomse Universiteit, voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge en van die Afrikaner-Broederbond.[4]
Destyds het Steynsburg so 'n belangrike rol in CNO gespeel dat die tweede groot kongres oor CNO in Julie 1911, met die doel "weder enig leven te brengen onder de voorstanders van Vrij Christelik Onderwijs"[5] hier gehou is toe nuwe lewe in die beweging geblaas is. Nuwe Statute van ’n Vereniging vir Christelike Skoolonderwys is opgestel en ’n nuwe interprovinsiale hoofbestuur is op dié Steynsburgse kongres gekies.[6]
Omdat leerlinge van die laerskool mettertyd gevorder het tot op hoërskoolvlak, moes voorsiening vir sekondêre opleiding ook gemaak word en so het die Gimnasium in Januarie 1909 as hoërskool-afdeling van die CNO-skool geopen met groot luister in die teenwoordigheid van 'n aantal hoogwaardigheidsbekleërs. Die getal sekondêre leerlinge het geleidelik toegeneem en in 1911 was daar al 37, terwyl 15 kandidate in 1912 gematrikuleer het. Soos ds. Snyman dit voorsien het, was dit nie net kinders van die distrik Steynsburg wat die skool bygewoon het nie, maar uit al die Noordoostelike distrikte van Kaapland. Sodoende het die skool in 'n wesentlike behoefte voorsien.
Namate die skool gegroei het, is die behoefte aan onderwysers wat in die gees van die skool opgelei is, ál sterker gevoel. Die ondersteuners het besef dat CNO nie verder kon groei as daar nie 'n skool was waarin onderwysers daarvoor opgelei kon word nie.
Die kwekelinge het wel al in 1909 op Steynsburg opgedaag om as leerkragte opgelei te word. Ná die opleiding van die eerste man en twee vroue het omslagtige onderhandelinge met die Kaaplandse onderwysdepartement en administrateur vir die verkryging van 'n normaalskool, soos 'n onderwysopleidingskollege destyds geheet het, gevolg. Die kerkraad was egter versigtig met die stigting van die Normaal uit vrees dat die kerk die geldelike verpligtinge daaraan verbonde nie sou kon dra nie; daarom moes hy eers sekerheid ten opsigte van 'n subsidie van die onderwysdepartement kry.
Dit is in 1913 toegestaan, deels deur die welwillendheid van Kaapland se eerste administrateur, sir Frederick de Waal. Sy hoë dunk van die skoolhoof wat hy op Middelburg, waar hy prokureur was, goed geken het en daar reeds bewondering vir sy deursettingsvermoë gehad het, was 'n sterk oorweging by hom om die skool waar enigsins moontlik te help.
In Het Kerkblad, destyds die amptelike orgaan van die Gereformeerde Kerk, van 1 Augustus 1913 word die opening van die Normaal aan die begin van 1914 aangekondig en 'n beroep om studente gedoen. Aansoeke vir 'n onderwyser in opvoedkunde, houtwerk en tekene is ook gevra. Mnr. Hendrik Aucamp is in dié betrekking aangestel en saam met die hoof sou hy verantwoordelik wees vir die opleiding van onderwysers.
So betree die skool op Steynsburg sy derde fase as 'n kombinasie van 'n laerskool, 'n hoërskool en 'n normaal onder een hoof, mnr. H.J.J. van der Walt (sy bynaam was Lord John[7]), toe nog maar 28 jaar oud. Die dorpsraad van Steynsburg het 6 morge grond aan die Normaal geskenk, 'n terrein wat jare later eers benut sou word. Die Normaal is onder die beheer geplaas van 'n subkommissie van die Algemene Vergadering, die Gereformeerde Kerk se eweknie van die NG Kerk se Algemene Sinode. Die kommissie het deurgaans bestaan uit die predikante van die kerke op Steynsburg, Burgersdorp en Middelburg. Die administrateur van Kaapland moes een van die lede benoem en het altyd een van dié predikante sy keuse gemaak.
So begin die Normaal sy werksaamhede in 1914 met 31 kwekelinge. Van 1914 tot 1918 was talle later bekende onderwyslui aan die skool verbonde. Prof. J.C. Coetzee was later 'n bekende opvoedkundige en rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, asook mnr. J.A. Pretorius, later hoof van die Normaal, en mnr. P.J. van der Merwe, later hoof van die Hoërskool Paul Kruger op Steynsburg, is in 1917 benoem.
Die skool het in Junie 1918 met leedwese afskeid geneem van mnr. John van de Walt toe hy hoof geword het van die Albert Academy op Burgersdorp. Hy het daar gebly tot 1920 toe hy inspekteur van onderwys geword het, 'n betrekking wat hy beklee het tot en met sy dood in 1931. Sy vertrek was vir die skool 'n groot verlies en sy dood in die ouderdom van 45 jaar eweneens vir die onderwys in Kaapland.
Ná Van der Walt se vertrek in Junie 1918 is die skole en die Normaal geskei. Mnr. J.H. Aucamp het hoof van die Normaal geword en mnr. J.A. Pretorius, toe lid van die personeel van die Gimnasium, is aangestel as administratiewe hoof van die skool. In die praktyk sou die rektor van die Normaal beheer oor albei inrigtings hê met die hoof van die Gimnasium wat die rol van adjunkhoof sou vervul.
Ná 'n paar jaar van stryd en teleurstelling het onderhandelinge met die onderwysowerheid van Kaapland vrugte afgewerp, want in Junie 1924 smelt die hoërskoolafdeling van die Gimnasium en dié van die staatsondersteunde skool op Steynsburg saam. Ds. S.P. Malherbe was een van die mense wat hulle hiervoor beywer het. Dit het beteken dat die Gimnasium, wat soveel jare lank met opoffering deur die Gereformeerde Kerk vertroetel is, afgegee is. Die laer afdeling wat oorgebly het, het terselfdertyd 'n volwaardige staatskool geword sodat Steynsburg toe steeds twee laerskole sou hê. Die hoërskool wat later sou bekendstaan as die Hoërskool Paul Kruger, is plegtig geopen in Januarie 1925 met mnr. F.E. de Villiers as hoof en mnr. P.J. van der Merwe as een van die assistente.
Dit was die begin van die aftakeling van wat deur die Gereformeerde kerk Steynsburg met soveel opoffering en toewyding tot stand gebring is. Met weemoed en hartseer het sy ondersteuners toegesien hoedat die CNO-skool sy sekondêre afdeling afstaan en dat wat oorbly, 'n staatskool word. Tog het die gemeente nie opgehou om die Gimnasium (soos die Gereformeerde laer skool steeds bekendgestaan het) as sy troetelkind te beskou nie en was die kerkraad tot en met die sluiting daarvan in 1936 verantwoordelik vir 'n onderwyspos, die sogenaamde kerkpos.
Intussen kon die onderwysowerheid hom nie versoen met die gedagte dat 'n klein gemeenskap twee laerskole het wat mettertyd albei begin kwyn het nie. Uitgerekte en soms onaangename onderhandelinge het gevolg en eindelik uitgeloop op die amalgamasie van die twee laer skole in Junie 1936, ruim 12 jaar ná die hoërskole. Oor allerlei onbenullighede is gestry. Die voorstel van die skoolkommissie van die Gimnasium dat die geamalgameerde skool na wyle John van der Walt, skoolhoof en toe inspekteur van onderwys, moes heet, was vir hul kollegas van die ander skool onaanvaarbaar. Steynsburg kon so hulde gebring het aan iemand wat diep spore in die onderwys getrap het, maar moes toe genoeë neem met die naam Laerskool Unie.
Die skoolkommissie van die Gimnasium het op 19 Junie 1936 sy laaste vergadering gehou en die laaste formaliteite met 'n knop in die keel afgehandel. 'n Lang, moeisame pad met sy opdraandes en gelyktes het ten einde gekom. Dié skool se wel en wee was 31 jaar lank ten nouste met die Gereformeerde kerk van Steynsburg verbind. Ds. Douw Venter en Oubaas Bekker het die laaste notule as voorsitter en sekretaris geteken en daarna is die lede van die kommissie stil uiteen, diep onder die besef van wat alles noodwendig prysgegee is.
Met die oorname van die Normaal deur die onderwysdepartement in 1926 het die Gereformeerde Kerk sy laaste stigting aan die staat afgegee. Die geldelike las het vir die kerk, wie se lidmate reeds in 1913 van 'n hoogtepunt van 662 lidmate geleidelik begin afneem het, te swaar geword, te meer nog omdat 'n nuwe gebou dringende noodsaaklik geword het. Die onderwysdepartement het wel sy belofte met die oorname in dié verband gestand gedoen, want op 28 Oktober 1928 kon die Normaal afskeid neem van die ou "Pienk Skool" en die nuwe gebou betrek.
Hendrik Aucamp is einde 1931 bevorder tot inspekteur van skole en so is 'n belangrike skakel met die onderwysstryd op Steynsburg verbreek. Hy het 17 jaar in die onderwys op Steynsburg gestaan en gevorder van assistent tot hoof van die Normaal van 1918 af. Sy opvolger as mnr. J.A. Pretorius, wat toe hoof was van die sekondêre skool op Ugie.
Gedurende die jare dertig, ná die Groot Depressie, het die Normaal 'n bloeitydperk beleef wat ongelukkig ook vir die inrigting teëspoed voorstel het. Daar was kort voor lank 'n oorskot aan onderwysers sodat die departement die toelating van studente tot die onderwyskolleges moes beperk. Dié reëling was vir die Steynsburgse kollege noodlottig en het die begin van die einde ingelui. Van 60 studente wat aan die begin van 1934 aansoek om toelating gedoen het, kon net 20 ingeskryf word.
Teen 1938 het die omstandighede weer goed gelyk. Die personeel is in daardie jaar aansienlik uitgebrei en 'n derdejaarkursus in huishoudkunde is ingestel. Die Normaal het 'n rekordgetal studente gehad en die toekoms het so rooskleurig gelyk dat die daar ernstig gedink is aan die oprigting van 'n doeltreffende losieshuis vir studente.
Die Gereformeerde kerk Steynsburg het weer die leiding geneem, maar weens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog kon die Van Rooy-losieshuis eers in 1946 voltooi word, ongelukkig. Ná byna 'n halwe eeu kon die skenking van mev. Van Rooy eindelik aangewend word vir die doel waarvoor sy dit nagelaat het. Op die oog af het dit geblyk dat die Normaal se toekoms hiermee verstewig en verseker is, maar die tekens het ál duideliker begin word dat die voortbestaan van die inrigting aan die wankel was. Selfs die weelde van 'n eie losieshuis kon die Normaal nie red nie.
Ná 1938 het die studentetal van die kollege gaandeweg afgeneem tot daar in 1948 maar 18 studente was. Dit word aanvaar as die enigste enkele faktor wat tot die Normaal se sluiting aanleiding gegee word. Verskillende faktore was verantwoordelik vir die gebrek aan studente. Ongelukkig het die breë Gereformeerde Kerkverband en in die besonder die Gereformeerde lidmate van Kaapland groot skuld gehad aan die sluiting van die inrigting wat soveel jare lank die troetelkind van die Kerk was. Die Gereformeerde Kerk van Kaapland was die Normaal altyd goedgesind en het met die jare milde geldelike bydrae gelewer. Alle Gereformeerde ouers was egter nie ewe lojaal nie en baie Gereformeerde studente is by Steynsburg verby gestuur vir opleiding elders. So sal die sluiting van die laaste stigting van die CNO-beweging op Steynsburg, volgens M.D. van der Vyver in Gereformeerde Kerk Steynsburg 1872–1972, "altyd 'n aanklag wees teen die Gereformeerdes op wie se ondersteuning kragtens sy karakter en tradisies, die inrigting reg gehad het om op staat te maak, hoe ook al gepoog word om dit goed te praat".
Alle pogings om die kollege te red was vrugteloos en toe daar aan die begin van 1949 'n skrale 10 studente ingeskryf is, was dit die laaste aanleiding tot die finale vonnis. Die hoof, mnr. Pretorius, sou einde 1949 met pensioen uit die diens tree en begin 1950 sou geen nuwe studente ingeskryf word nie. Gedurende daardie jaar het die laaste groepie studente onder mnr. J. Aucamp hul studie afrond.
Einde 1950 is die deure finaal agter die oorblywende personeel en die laaste 10 studente toegetrek. Vir die studente was dit net die einde van hul studiejare. Vir dosente was dit die afsluiting van 'n bepaalde dienstydperk. Maar vir almal wat met die jare die stryd vir CNO op Steynsburg gevoer het, het 'n sluier geval oor 'n lang verlede van stryd met sy oorwinnings en neerlae.
Ná die sluiting van die Normaal was daar verskillende sake wat onmiddellike aandag vereis het. Die belangrikste twee was die verskillende fondse wat aangewend is en die Van Rooy-losieshuis. Dit was bloot formaliteit om vir die verskillende fondse 'n bestemming te kry. Twee, naamlik die Van Rooy- en Snyman-fonds, is oorgedra aan die kerkraad van Steynsburg, waarvan die rente vir toekenning aan teologiese studente en vir Gereformeerde leerlinge aan die Hoërskool Paul Kruger. Die Van Wyk-fonds is via die Partikuliere Sinode van Kaapland oorgedra aan die Potcefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, terwyl die Leningsfonds van die Gereformeerde Kerk van die Kaapprovinsie deur die Partikuliere Sinode van Kaapland en Suidwes-Afrika beheer is.
Minder maklik het dit met die Van Rooy-losieshuis gegaan. 'n Poging is aangewend om die gebou aan die Sinodale Diakonale deputate van die Gereformeerde Kerk te verkoop om as weeshuis ingerig te word, maar dit het misluk. Intussen het die Kaapse provinsiale administrasie onderneem om die volle bedrag van £10 150 vir die gebou aan die kerk te betaal. (Dit is nie bekend vir watter doel dié gebou hierna aangewend is nie.)
M.D. van der Vyver vra die vraag of dit alles te vergeefs was. "Oppervlakkig lyk dit of alles waarvoor geveg, geoffer en gebid is, in puin lê. Vir hulle wat die sluiting van die laaste CNO-vesting op Steynsburg beleef het, moes dit na die einde van die pad gelyk het." Hy sê egter dit was beslis nie geval nie, want al kon die sigbare tekens van die CNO-begewing op Steynsburg nie die toets van die tyd deurstaan nie, kan die invloed wat hiervandaan uitgedra is, nie gemeet word nie. Uit die plaaslike skole het beginselvaste manne en vroue gekom wat die Christelike nasionale gedagte wyer uitgedra het. Gedurende die 37 jaar van sy bestaan het die Normaal sowat 850 onderwysers gelewer wat ambassadeurs was van die beginsels waarvoor die inrigtings op Steynsburg gestaan het.
Na raming het die Gereformeerde kerk van Steynsburg ongeveer £30 000 aan sy CNO-skole bestee, die koste van die Van Rooy-losieshuis uitgesluit. Op Steynsburg is geskiedenis gemaak en sy skole het in ruim mate sy kwota aan mense verskaf wat op 'n wye front 'n besonderse bydrae van diens gelewer het. Die dorp het twee rektore van die Potchefstroomse Universiteit opgelewer, naamlik prof. Joon van Rooy (1950 tot 1953) en prof. H.J.J. (Hennie) Bingle (1964 tot 1977). Twee hoogleraars in geskiedenis aan dieselfde universiteit, proff. A.J.H.J. van der Walt en D.W. Krüger, was volbloed Steynsburgers. Drie seuns van Steynsburg was professore aan die Teologiese Skool van die Potchefstroomse Universiteit, by name proff. W.J. Snyman, S.J. van der Walt en G.C.P. van der Vyver, wat talle werke oor die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk geskryf het, onder meer die eerste biografie oor ds. Dirk Postma, die grondlegger van die Kerk.
Die Gereformeerde kerk van Steynsburg se bydrae tot die onderwys het nie in 1950 opgehou nie, want 'n volgende geslag het oorgeneem en 'n wakende oog gehou oor die onderwys en opvoeding hul kinders. In 1972, toe die Gereformeerde gemeente sy eeufees vier, was die hoof van sowel die Hoërskool Paul Kruger, mnr. S.C. van der Walt, as van die Laerskool Unie, mnr. F.P. Coetsee, lidmate van die Gereformeerde Kerk.
Nadat die gemeente se lidmaattal reeds in 1913 'n hoogtepunt bereik het, het dit, nes die wit inwonertal van die dorp en distrik, gedurig afgeneem. So het die dorp in 1970 817 wit inwoners gehad en die distrik 2 154.[9] In 2001 was die dorp se wit inwonertal 409[10] en in 2011 271.[11]
Jaartal | Belydende lidmate | Dooplidmate | Sieletal |
---|---|---|---|
1877 | 341 | – | – |
1887 | 403 | – | – |
1897 | 488 | 522 | 1010 |
1907 | 622 | 581 | 1203 |
1913 | 648 | 653 | 1315 |
1917 | 599 | 561 | 1209 |
1927 | 599 | 397 | 996 |
1937 | 553 | 316 | 869 |
1947 | 503 | 199 | 702 |
1957 | 399 | 124 | 503 |
1967 | 291 | 97 | 388 |
1972 | 262 | 108 | 370 |
1984 | 207 | 65 | 272 |
1991 | 166 | 54 | 220 |
1998 | 113 | 26 | 139 |
2002 | 91 | 14 | 105 |
2012 | 51 | 5 | 56 |
2014 | 49 | 6 | 55 |
2015 | 37 | 6 | 43 |
2016 | 34 | 5 | 39 |
2017 | 25 | 2 | 27 |
2019 | 27 | 4 | 31 |
2020 | 23 | 3 | 26 |
2022 | 21 | 2 | 23 |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.