From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Gereformeerde kerk Potchefstroom-Noord was die naasoudste gemeente van die GKSA in Potchefstroom, maar nadat die Gereformeerde kerk Noordbrug se getal belydende lidmate in 2011 afgeneem het tot 168 en dié van Potchefstroom-Noord tot 379, het die gemeente in daardie jaar saamgesmelt as die Gereformeerde kerk Potchefstroom-Die Bult. Einde 2015 het die nuwe gemeente se belydende lidmate 638 getel, 91 meer as die samestellende dele vier jaar vantevore.
Die Gereformeerde kerk Potchefstroom-Noord, digby die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, was jare lank een van die bekender Gereformeerde gemeentes omdat ’n magdom studente met die jare hul geestelike tuiste hier gevind het. Vroeër jare was ook ’n groot aantal Weermaglede lidmate van dié gemeente.
Potchefstroom-Noord het in 1949 van die Gereformeerde kerk Potchefstroom afgestig en aanvanklik haar eredienste gehou in die skoolsaal van die nabygeleë Potchefstroom Gimnasium, maar heel gou het die gemeente begin beplan aan ’n eie kerkgebou. Daar was struikelblokke kenmerkend van enige nuwe gemeente wat haar eie kerkgebou beplan, onder meer die koste, maar in die geval van Potchefstroom-Noord was daar ander, unieke faktore wat die beplanning bemoeilik het, want die kerkraad het byvoorbeeld oorweeg of die gemeente haar eie kerkgebou moes hê of nie liewer gebruik moes maak van die Gereformeerde Kerk se sinodesaal nie, wat later opgerig sou word.
Tog het die gemeente besluit om ’n eie kerkgebou op te rig en dié gebou is eindelik so beplan dat dit ook vir sinodale doeleindes gebruik sou kon word. Ná herhaalde samesprekings met die Kuratorium van die Teologiese Skool en ook met die argitek, Gerard Moerdyk, is die sketsplanne afgehandel. Die tender van die bouaannemer T.H. Bolton is aanvaar.
Die kerkgebou se hoeksteen is op 2 Februarie 1952 deur dr. S.P. van der Walt gelê. 18 Oktober 1952 was ’n groot dag vir die gemeente en Kerk wat toe is die geboue van die Teologiese Skool en die Administratiewe Buro en die Gereformeerde kerk Potchefstroom-Noord in gebruik geneem. Dié kerkgebou is dekades lank vir die oggend- sowel as die aanddiens gebruik en in die jongste jare ook vir ’n "internasionale" (Engelse) diens laat soggens. Nes die samewerking tussen die verskillende instellings in een straatblok met die jare besonder vrugbaar wa, het die destydse PU vir CHO se musiekdepartement mooi met die gemeente saamgewerk tydens die installering van die orrel.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.