Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Gereformeerde kerk Molteno is, hoewel dit reeds in 1903 gestig is, slegs die 12de oudste van die 17 gemeentes in die GKSA se Klassis Burgersdorp. Weens die gedurige wegtrek van lidmate uit die Noordoos-Kaap, tradisioneel die hartland van die Gereformeerde kerkverband, het hier in 2015 net 29 belydende en drie dooplidmate oorgebly sodat Molteno toe die derde kleinste gemeente in dié Klassis was en die kleinste in die Noordoos-Kaap.
Gereformeerde kerk Molteno | ||
Sluit in | Molteno | |
Klassis | Burgersdorp | |
Huidige predikant(e) | Wouter Ten Haaf (hulpdiens) | |
In kombinasie met | Steynsburg | |
Belydende lidmate | 22 | |
Dooplidmate | 3 | |
Adres | Smithstraat 71 Molteno Oos-Kaap | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 1903 | |
Afgestig van | Burgersdorp | |
Eerste predikant | J.H. Kruger (1907–1911) |
Lidmate van Molteno was eers deel van die eerste Gereformeerde gemeente wat ds. Dirk Postma in die Kaapkolonie gestig het, naamlik Burgersdorp in Januarie 1860. Weens die groot afstand tussen Molteno en Burgersdorp was dit vir die lidmate op en om Molteno moeilik om eredienste op Burgersdorp by te woon. So het hulle saam met die lidmate van die NG Kerk ’n poging aangewend om ’n kerkgebou te bekom. Gereformeerdes het die reg gehad om vier maal per jaar in dié vorige gebou van die NG gemeente Molteno byeen te kom.
In September 1876 is ’n boukommissie aangewys met die oog op die bou van ’n eie kerk en in Maart die volgende jaar is die nuwe kerk in gebruik geneem.
In Mei 1903, pas ’n jaar ná die einde van die Tweede Vryheidsoorlog wat ook hier gewoed het, het die Gereformeerde kerk Molteno van Burgersdorp afgestig. Heel gou is ’n boukommissie benoem wat in September daardie jaar aanbeveel het dat ’n nuwe kerk gebou word. Die geraamde koste sou £1 385 wees, waarvan broeder A.J. van der Walt sr. £850 sou bydra en oudl. J.J. van Straaten £550. J.C. de Klerk en J.A. Greyling is as boumeesters benoem. Prof. Jan Lion Cachet het die nuwe kerk se hoeksteen op 24 Oktober 1903 onthul. Die skilder, skrywer en amateur-geskiedkundige Johannes Meintjes, wat op Molteno grootgeword het en in later jare lank in die distrik gewoon het, skryf: "(Dit) is 'n onpretensieuse gebou van wit gepleisterde baksteen, met voor- en -agtergewels wat met houtwerk versier is. Die gebou is ook oor 'n lang periode as skool gebruik, want die Gereformeerde gemeente is betreklik klein en dit was soms oor lang periodes 'n gesukkel om 'n predikant te kry."[1]
In 1930 is die huidige kerkbanke in gebruik geneem. ’n Jaar later is die losstaande kerkklok opgerig. In 1940 het die gemeente die geld in die orrelfonds gebruik om ’n orrel van die Gereformeerde kerk Steynsburg aan te koop. Op ’n gemeentevergadering in November 1956 is besluit om die harmonium, wat in 1906 aangekoop is, aan die Gereformeerde kerk Uitenhage te skenk. Die huidige orrel is in Augustus 1960 aangekoop toe Molteno nog ’n volle 101 belydende en 58 dooplidmate gehad het.
Gedurende die eerste vier jaar van die gemeente se bestaan het naburige predikante die lidmate bedien. In 1907 het Molteno (335 lidmate), Sterkstroom (164) en Elliot (293) in kombinasie getree en is hulle bedien deur ds. J.H. Kruger, wat op Sterkstroom gesetel was. Die ideaal van ’n eie predikant wat op Molteno sou woon, is reeds op 24 Mei 1912 verwesenlik met die bevestiging van prop. J.P.J. Snyman. In 1913 is die pastorie voltooi en betrek.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.