From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Gereformeerde kerk Elliot was ’n gemeente van die GKSA met sy middelpunt op die dorp Elliot in dié kerkverband se tradisionele hartland van die Noordoos-Kaap.
Gereformeerde Kerk Elliot | ||
Sluit in | Elliot Ida | |
Denominasie | Gereformeerde Kerk | |
Klassis | Klassis Boland | |
Huidige predikant(e) | Vakant | |
Belydende lidmate | 25 | |
Dooplidmate | 8 | |
Adres | Charterstraat Elliot | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 28 Januarie 1899 | |
Afgestig van | Barkly-Oos | |
Eerste predikant | J.H. Kruger 1907–1911 | |
Datum ingelyf | 1991 | |
Saamgesmelt met | Maclear |
Reeds in 1886 is ’n buitestasie in Temboeland, die gebied oorkant die suidelike Drakensberg, gestig. Dit was onder die toesig en bediening van die kerkraad van die Gereformeerde kerk Barkly-Oos. Op 28 Januarie 1899 is die Gereformeerde kerk Elliot as selfstandige gemeente afgestig. Toe het daar reeds ’n klein kerkgebou op die dorp gestaan wat ondanks sy grootte in lidmate se behoeftes voorsien het.
Op 13 April 1906 is oudl. S.C.J. van Niekerk opdrag gegee om ’n nuwe kerk op te rig. Dit was ’n tipiese saalkerk en het geen vensters aan die voorkant gehad nie. Ds. P.C. Snyman van die Gereformeerde kerk Steynsburg het die plegtigheid tydens die hoeksteenlegging op 6 Oktober 1906 waargeneem. Die skare het Psalm 118:11 gesing en ’n gebed is gedoen. Dié gebou is die volgende jaar in gebruik geneem. Die kerkgebou sou verhuur word teen £1.10 per maand, maar die bron meld nie deur wie aan wie nie.
In 1938 is ’n trap voor die kerkgebou aangebring en in 1955 is nuwe banke, ’n preekstoel, Nagmaaltafel en los stoele in gebruik geneem. Toe is al die ou banke verkoop.
Elliot hê in 1960 nog 88 belydende en 43 dooplidmate gehad vergeleke met Maclear se 32 en 19 en Barkly-Oos se 136 en 59. Nietemin was dit Elliot wat op 18 Augustus 1979 ontbind en ’n wyk van Barkly-Oos geword het. Van 1980 tot 1991 was daar ’n bedieningsooreekoms tussen Barkly-Oos, Elliot en Maclear. Daarna is ’n kombinasie-akte aanvaar en het Elliot ’n wyk geword van Maclear, waarvan die naam toe verander is na die Gereformeerde kerk Maclear-Elliot.
In 2010 (en waarskynlik vandag nog) is die kerkgebou op Elliot steeds twee Sondae per maand vir eredienste gebruik. Op 19 November 2006 het die plaaslike Gereformeerdes die honderdjarige herdenking van die hoeksteenlegging feestelik gevier en ’n gedenksteen onthul. Die ou traporrel staan vandag nog agterin die kerkgebou.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.