militêre offensief wat op 24 Februarie 2022 begin, deel van die Russies-Oekraïnse Oorlog From Wikipedia, the free encyclopedia
Op 24 Februarie 2022 het Rusland 'n grootskaalse inval begin in Oekraïne, een van sy buurlande in die suidweste. Volgens vroeë berigte is dit die grootste konvensionele-oorlogvoeringsoperasie in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog.[21][22] Dit is 'n groot toename in die vyandelikheid tussen die twee lande, wat sedert 2014 duur.
Hierdie artikel dokumenteer 'n aktuele gebeurtenis. Inligting kan vinnig verander namate die gebeurtenis ontvou, en die eerste nuusberigte mag onbetroubaar wees. Die nuutste wysigings aan hierdie artikel mag verouderd wees. |
Russiese inval in Oekraïne, 2022 | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
Deel van Die Russiese oorlog teen Oekraïne | |||||||
Deurlopend beheer deur die Oekraïne Tans beset of beheer deur Rusland Voorheen deur Rusland beset of Oekraïens-besette Russiese gebiede | |||||||
| |||||||
Strydende partye | |||||||
Rusland VR Donetsk VR Loehansk Steun: Belarus |
Oekraïne Steun: NAVO | ||||||
Aanvoerders | |||||||
Wladimir Poetin Michail Misjoestin Sergei Lawrof Aleksandr Dvornikov Sergej Sjojgoe Valeri Gerasimov Denis Poesjilin Wladimir Pasjkof Leonid Pasetsjnik Sergei Koslof |
Wolodimir Zelenski Denis Sjmihal Waleri Zaloezjni Dmytro Koeleba Oleksii Danilov Oleksii Reznikov Serhiy Sjaptala Roeslan Chomtsjak | ||||||
Sterkte | |||||||
1 013 000 soldate; 2 000 000 reserviste,[1] waarvan 175 000 – 190 000 troepe in Oekraïne[2][3] | 255 000 soldate, 1 000 000 reserviste, 20 000 vrywilligers[4] | ||||||
Ongevalle en verliese | |||||||
Volgens Rusland (22 Maart) 9 861 dood Materiële verliese |
Volgens Oekraïne (16 April): 2 500-3 000 dood, 10 000 gewond[13] Volgens Rusland (2 Maart): Materiële verliese | ||||||
Aantal burgerlike slagoffers volgens die OHCHR (13 Mei): 3 573 burgerlike sterftes, 3 816 gewond (reële syfers, maar na skatting aansienlik hoër) [18] Aantal Oekraïense vlugtelinge volgens die UNHCR (13 Mei): |
Die veldtog is voorafgegaan deur 'n langdurige versterking van die Russiese militêre teenwoordigheid sedert vroeg in 2021 en eise deur Rusland dat Oekraïne nie by Navo aansluit nie.[23] In die dae voor die inval het Rusland die selfverklaarde volksrepublieke Donetsk en Loehansk in die streek die Donbas (Oekraïens: Донба́с, Donbas; Russies: Донба́сс, Donbass) van Oos-Oekraïne erken, en dit is gevolg deur die instroming van die Russiese weermag na die streek op 21 Februarie 2022. Op 22 Februarie het die Russiese federale raad president Wladimir Poetin eenparig die reg gegee om militêre mag buite Rusland te gebruik.
Op 24 Februarie omstreeks 03:00 UTC (06:00 Moskoutyd, UTC+3) het Poetin 'n militêre operasie in Oos-Oekraïne aangekondig. Minute later het missiele begin val op plekke dwarsoor die land, insluitende Oekraïne se hoofstad, Kijif. Die Oekraïense grensdiens het bevestig dat die grensposte met Rusland en Belarus aangeval word.[24][25] Grondmagte het Oekraïne omstreeks 05:00 UTC binnegegaan, twee uur nadat die missielaanvalle begin het.[26] Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het gereageer deur krygswet af te kondig, diplomatieke bande met Rusland te verbreek en algemene mobilisasie aan te kondig.
Rusland het tydens die inval 'n noordelike front vanaf Belarus gerig op Kijif geloods. Terselfde tyd het Rusland 'n noordoostelike frontaanval gerig op die stad Charkif; en 'n suidoostelike front gedeel in twee afsonderlike fronte, naamlik 'n suidelike front vanaf die Krim en 'n afsonderlike suidoostelike front wat na die stede Loehansk en Donetsk geloods is.[27][28] Op 8 April het die Russiese ministerie van verdediging aangekondig dat alle troepe en afdelings wat in die suidoostelike Oekraïne ontplooi is, sal verenig onder generaal Aleksandr Dvornikof, wat beheer geneem het van gekombineerde militêre operasies, insluitend die herontplooide magte wat oorspronklik aan die noordelike en noordoostelike fronte toegewys is, en daarna onttrek is en hertoegewys is in die tweede fase aan die suidoostelike front.[29] Teen 17 April is vordering aan die suidoostelike front belemmer deur oorblywende troepe wat aanhou uithou in die Azovstal-yster- en staalwerke in Marioepol. [30] Op 19 April het Rusland 'n hernieude inval oor 'n 500 kilometer lange front geloods wat strek van Charkif na Donetsk en Loehansk, met gelyktydige missielaanvalle weer gerig op Kijif in die noorde en Lwif in die weste van Oekraïne.[31]
Verskeie lande oor die wêreld heen het die inval veroordeel en onmiddellik sanksies teen Rusland ingestel.[32] In Rusland is massa-inhegtenisnemings uitgevoer by protesoptogte teen die oorlog.[33][34] Voor en tydens die inval het sommige lidlande van Navo Oekraïne voorsien van wapens en ander hulpmiddels.[35] Poetin het Rusland se kernmagte op 27 Februarie op 'n gereedheidsgrondslag geplaas na aanleiding van nuwe sanksies en "aggressiewe stellings".[36] Dit het spanning tussen die Weste en Rusland en die vrees vir 'n kernoorlog verhoog.[37]
Die inval het Europa se grootste vlugtelingskrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak. Miljoene mense het al uit Oekraïne gevlug,[38][39][40] veral na Pole, maar ook na Hongarye, Roemenië, Moldowa en Slowakye.[41] Vlugtelinge is hoofsaaklik vroue en kinders, omdat die regering mans tussen die ouderdomme van 18 en 60 jaar verbied het om die land te verlaat.[42][43][44]
Ná die ontbinding van die Sowjetunie in 1991 het Rusland en Oekraïne noue bande behou. In 1994 het Oekraïne ingestem om weg te doen met sy kernarsenaal en die Boedapest-memorandum te onderteken op voorwaarde dat Rusland, Brittanje en die VSA versekering sou verskaf teen geweldsbedreigings van sy territoriale integriteit en vir sy politieke onafhanklikheid. Vyf jaar later was Rusland een van die ondertekenaars van die Manifes vir Europese Sekuriteit, wat "die inherente reg van elke deelnemende staat herbevestig het om vry te wees om sy sekuriteitsmaatreëls te kies of verander, insluitende verdrae van bondsgenootskappe, soos wat dit ontwikkel".[45]
In 2004 is Wiktor Janoekowitsj, toe die eerste minister, verklaar as wenner van die presidentsverkiesing, waarin 'n groot knoeiery volgens die hooggeregshof van Oekraïne plaasgevind het.[46] Die uitslag het 'n groot openbare reaksie en steun ontlok vir die opposisiekandidaat, Wiktor Joesjtsjenko, wat die uitslag bevraagteken het. In die oproerige maande van die rewolusie het kandidaat Joesjtsjenko skielik ernstig siek geword, en verskillende onafhanklike doktersgroepe het bevind hy is met dioksien (TCDD) vegiftig.[47][48] Joesjtsjenko het Russiese betrokkenheid sterk vermoed.[49] Dit alles het eindelik tot die vreedsame Oranje Rewolusie gelei wat Joesjtsjenko en Joelia Timosjenko aan die bewind geplaas het, terwyl Janoekowitsj leier van die opposisie geword het.[50]
In 2008 het die Russiese president Poetin hom uitgespreek teen Oekraïne se moontlike toelating tot Navo.[51][52] In 2009 het die Roemeense ontleder Iulian Chifu en sy medeskrywers die opinie uitgespreek dat Rusland, met betrekking tot Oekraïne, 'n opgedateerde weergawe van die Brezjnef-leerstelling navolg waarvolgens die soewereiniteit van Oekraïne nie groter kan wees as dié van die Warskouverdragslande voor die verval van die Sowjet-invloedsfeer in die laat 1980's en vroeë 1990's nie.[53]
In 2009 het Janoekowitsj aangekondig hy gaan hom in 2010 weer as president verkiesbaar stel. Hy het gewen en is in 2010 beëdig.
Ná weke van protesoptogte as deel van die Euromaidan-beweging (2013-2014) het die pro-Russiese president Janoekowitsj en die leiers van die Oekraïense parlementêre opposisie op 21 Februarie 2014 'n ooreenkoms onderteken vir 'n vroeë verkiesing. Die volgende dag het Janoekowitsj uit Kijif gevlug weens 'n beskuldigingstem wat hom van sy mag as president sou stroop.[54] Leiers van die Russiessprekende oostelike streke van Oekraïne het hulle lojaliteit teenoor Janoekowitsj bevestig,[55] en dit het gelei tot die pro-Russiese onrus in 2014 in Oekraïne.[56]
Die onrus is gevolg deur die anneksasie van die Krim deur Rusland in Maart 2014 en die oorlog in die Donbas, wat in April 2014 begin het met die skepping van die Russies gesteunde kwasistate Donetsk- en Loehansk-volksrepubliek.[57][58]
Op 14 September 2020 het die Oekraïense president Wolodimir Zelenski Oekraïne se nuwe nasionale sekuriteitstrategie goedgekeur "wat voorsiening maak vir die ontwikkeling van 'n bondgenootskap met Navo met die oog op lidmaatskap van Navo".[59][60] Op 24 Maart 2021 het Zelenski 'n verdrag onderteken wat die strategie goedkeur vir "die ontsetting en reïntegrasie van die tydelik besette gebied Krim en stad Sewastopol".[61]
In Julie 2021 het Poetin 'n essay gepubliseer met die titel "Oor die historiese eenheid van die Russe en Oekraïners", waarin hy sy mening herbevestig dat die Russe en Oekraïners "een volk" is.[62] Die Amerikaanse historikus Timothy Snyder het Poetin se idees as imperialisme beskryf.[63] Die Britse joernalis Edward Lucas het gemeen dit is historiese revisionisme.[64] Ander waarnemers het die Russiese leierskap daarvan beskuldig dat hulle 'n verwronge siening van moderne Oekraïne en sy geskiedenis het.[65][66][67]
Rusland het gesê moontlike lidmaatskap van Oekraïne van Navo en die uitbreiding van Navo in die algemeen bedreig sy nasionale sekuriteit.[68][69]
Op sy beurt het Oekraïne en ander Europese lande wat aan Rusland grens, Poetin daarvan beskuldig dat hy Russiese irredentisme probeer beoefen en van aggressiewe militaristise beleide.[70][71][72]
Die konflik het begin met 'n groot militêre opbou, aanvanklik van Maart tot April 2021 en daarna weer van Oktober 2021 tot Februarie 2022. Tydens laasgenoemde het Rusland eise aan die VSA en Navo gestel dat Oekraïne nie by Navo aansluit nie, sowel as dat Navo-soldate en militêre uitrusting in Oos-Europa verminder word.[74] Rusland het gedreig met 'n niegespesifiseerde militêre reaksie as Navo 'n "agressiewe toon" bly handhaaf.[75]
Ondanks die Russiese militêre opbou het Russiese amptenare maande lank ontken dat Rusland enige plan het om Oekraïne binne te val.[76][77] Op 12 November 2021 het Dmitri Peskof, Poetin se woordvoerder, aan verslaggewers gesê "Rusland bedreig niemand. Die beweging van troepe op ons gebied behoort niemand rede tot kommer te gee nie."[76][77] Op 28 November 2021 het Peskof gesê "Rusland het nooit enige plan gehad om enigiemand aan te val nie, dit het nie nou planne nie en sal nooit sulke planne hê nie ... Rusland is 'n vreedsame land, wat goeie betrekkinge met sy buurlande wil handhaaf."[76] Op 12 Desember 2021 het hy gesê spanning jeens Oekraïne "word geskep om Rusland verder te demoniseer en hom as 'n moontlike aggressor uit te beeld".[76]
Op 19 Januarie 2022 het die Russiese onderminister van buitelandse sake gesê "Rusland wil nie enige aksie van 'n aggressiewe aard hê of daaraan deelneem nie. Ons sal nie wat ook al in Oekraïne aanval, inval, binnedring of begin nie."[76] Op 12 Februarie 2022 het die Kremlin se raadgewer oor buitelandse sake besprekings oor die "sogenaamde beplande Russiese inval" as "histerie" beskryf.[76][77]
Op 9 Desember 2021 het president Poetin gepraat van diskriminasie teen Russiessprekendes buite Rusland en gesê: "Ek moet sê, Russofobie is die eerste tree tot volksmoord. Ek en jy weet wat in die Donbas gebeur. Dit lyk beslis baie soos volksmoord."[79][80] Rusland het ook die Oekraïense taalwet veroordeel.[81] Op 15 Februarie 2022 het Poetin aan die pers gesê: "Wat in die Donbas gebeur, is beslis volksmoord."[82] Nuusmedia het daarop gewys dat die Oekraïense president Zelenski self 'n Russiessprekende is, ondanks Poetin se aantygings van 'n volksmoord op Russiessprekendes.[83]
Rusland se aantygings van volksmoord is wyd as vals verwerp.[84] Verskeie internasionale organisasies, insluitende die VN se hoëkommissaris vir menseregte en die Raad van Europa, kon geen bewyse vir die Russiese bewerings vind nie.[85][86][87][88] Die Europese Kommissie het dit as Russiese waninligting afgemaak.[89] Die Amerikaanse ambassade in Oekraïne het dit as "laakbare onwaarheid" beskryf,[90] terwyl die woordvoerder Ned Price van die Amerikaanse departement van buitelandse sake gesê het Moskou maak sulke bewerings as 'n verskoning om Oekraïne in te val.[82]
In 'n nasionalistiese toespraak op 21 Februarie het Poetin ook beweer die "Oekraïense gemeenskap" het "neonazisties" geword, sonder om bewyse te lewer, en gesê Rusland se doel is "om Oekraïne te denazifiseer".[91][92]
President Zelenski is egter Joods en drie lede van sy familie het in die Holocaust gesterf.[93]
Gevegte in die Donbas het aansienlik toegeneem sedert 17 Februarie 2022. Op 21 Februarie, ná die erkenning van die Donetsk- en Loehansk-republieke, het Poetin gelas dat Russiese troepe na die Donbas gestuur word in wat hy 'n "vredehandhawingsending" genoem het.[94] Rusland het gesê vyf Oekraïense saboteurs wat die grens na Rusland oorgesteek het, is vermoor. Dit is verwerp deur die Oekraïense minister van buitelandse sake, Dmitro Koeleba.[95] Later het verskeie nuusmedia berig Russiese magte gaan die Donbas binne.[96][97] Die ingryping is deur die VN se Veiligheidsraad veroordeel en Rusland het geen steun gekry nie.[98]
Op 22 Februarie het die Amerikaanse president, Joe Biden, gesê dit was "die begin van 'n Russiese inval in Oekraïne". Volgens Navo se sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, en die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het "verdere indringing" plaasgevind. Die Oekraïense minister van buitelandse sake, Koeleba, het verklaar: "Daar is nie iets soos 'n klein, middelmatige of groot inval nie. 'n Inval is 'n inval."
Op 23 Februarie het Rusland sy ambassade in Kijif begin ontruim en die Russiese vlag van die gebou verwyder.[99] Die webtuistes van die Oekraïense parlement en regering, sowel as bankwebtuistes, is deur kuberaanvalle lamgelê.[100]
Nog 'n vergadering van die VN se Veiligheidsraad is op 23-24 Februarie belê. Rusland het Oekraïne binnegeval tydens 'n noodvergadering van die raad om die krisis af te weer.[101] Die inval het plaasgevind terwyl Rusland die presidentskap van die Veiligheidsraad vir Februarie 2022 beklee het; die land het 'n vetomag as een van die vyf permanente lede.[101][102]
Op 24 Februarie, net voor 06:00 Moskoutyd (UTC+3), het Poetin aangekondig hy het besluit om 'n "spesiale militêre operasie" in Oos-Oekraïne te loods.[103][104][105] In sy toespraak het Poetin gesê daar is geen planne om Oekraïense gebied te beset nie en beweer hy ondersteun die reg van die volke van Oekraïne op selfbeskikking.[103] Hy het ook gesê Rusland beoog die "demilitarisasie en denazifisering" van Oekraïne – CNN en NBC het dié bewerings as "sonder gronde" en "vals" beskryf.[106][107][108] Dit is ook deur die Amerikaanse Holocaust-herdenkingsmuseum veroordeel.[109] Poetin het die lede van die Oekraïense magte gevra om hulle wapens neer te lê en terug te keer huis toe.[110][111][112]
Kort voor 07:00 (UTC+2) op die 24ste het Zelenski krygswet in Oekraïne afgekondig.[113] Later het hy die Oekraïense weermag opdrag gegee om die invallers "maksimum verliese toe te dien".[114] Zelenski het ook aangekondig dat diplomatieke betrekkinge met Rusland onmiddellik opgehef word.[115] Later dié dag het hy 'n algemene mobilisasie aangekondig.[116]
Om 10:00 (UTC+2) het die Oekraïense presidensiële administrasie aangekondig Russiese troepe het Oekraïne uit die noorde binnegeval (tot 5 km diep). Russiese troepe was bedrywig in Charkif-oblast en Tsjernihif-oblast, naby Soemi.[117] Om 10:30 (UTC+2) het die Oekraïense departement van verdediging aangekondig Russiese troepe in Tsjernihif-oblast is gekeer, 'n groot geveg was naby Charkif aan die gang, en Marioepol en Sjtsjastja is ten volle teruggewen.[118]
Die poging om Kijif oor te neem het ingesluit 'n aanval uit die suide van Belarus af aan die westeroewer van die Dniprorivier, skynbaar met die doel om Kijif uit die weste te omsingel. Dit word gesteun deur twee aparte spille van aanvalle vanuit Rusland aan die oosteroewer van die Dnipro: in die weste by Tsjernihif en in die ooste by Soemi. Met die oostelike spil van aanvalle is blykbaar probeer om Kijif uit die noordooste en ooste te omsingel.[119]
In die Slag van Tsjornobil het die Russe beheer oorgeneem van die spookdorpe Tsjornobil en Pripjat;[120] maar hulle vooruitgang is in die wiele gery deur sterk weerstand deur Oekraïne.[121]
Ná 'n deurbraak by Tsjornobil is die Russe teruggehou deur die Slag van Iwankif, 'n noordelike voorstad van Kijif. Russiese lugmagte het probeer om twee vliegvelde om Kijif oor te neem.[122][123] Daar was in dié eerste dae blykbaar 'n poging van Rusland om Kijif vinnig te beset met 'n infiltrasie deur die Spetsnaz (Spesiale Magte), ondersteun deur lugoperasies en 'n vinnige gemeganiseerde aanval uit die noorde, maar dit het nie geslaag nie.[124]
Teen vroeg in Maart was die Russiese opmars aan die westekant van die Dnipro beperk en is die Russe deur die Oekraïense verdediging gestuit.[119] Teen 5 Maart het 'n groot Russiese konvooi, van na berig word 64 km lank, min vordering in die rigting van Kijif gemaak;[125] die Londengebaseerde dinkskrum Royal United Services Institute (RUSI) beskou die Russiese optrede uit die noorde en ooste as "vertraag".[126] Vordering aan die Tsjernihif-spil het in 'n groot mate tot stilstand gekom toe die beleg van Tsjernihif begin. Rusland het die grootste vordering gemaak aan die Soemi-spil in die ooste. Die Russe het die Slag van Konotop gewen, terwyl die Slag van Soemi steeds aan die gang was. Russiese magte, wat van Soemi af met snelweë oor plat, swak verdedigde grondgebied beweeg het, het Browari, 'n oostelike voorstad van Kijif, bereik.[119] Russiese magte het ook van die noordweste van Kijif gevorder en Boetsja, Hostomel en Worzel teen 5 Maart verower.[127][128] Die posisie in Irpin was teen 9 Maart nog onseker.[129]
Op 25 Maart het die Oekraïense teenoffensief in Kijif daartoe gelei dat verskeie dorpe, insluitend Makariv[130] oos en wes van Kijif herower is.[131] As deel van 'n algemene terugtog van Russiese magte noord van Kijif, sowel as aanvalle op Russiese formasies deur die Oekraïense weermag, het Russiese troepe in die Boetsja-gebied teen die einde van Maart noord teruggetrek. Oekraïense magte het die stad op 1 April binnegegaan.[132] Oekraïne het beweer dat hulle die hele streek rondom Kijif, insluitend Irpin, Boetsja en Hostomel, teen 2 April herower, met bewyse van oorlogsmisdade wat in Boetsja ontbloot is.[133] Op 6 April het NAVO se sekretaris-generaal Jens Stoltenberg gesê dat die Russiese "terugtrekking, hervoorsiening en herontplooiing" van hul troepe uit die Kijif-gebied geïnterpreteer moet word as 'n uitbreiding van Poetin se planne vir sy militêre optrede teen die Oekraïne, deur sy magte te herontplooi en te konsentreer op Oos-Oekraïne en Marioepol binne die volgende twee weke, as 'n voorloper van die verdere uitbreiding van Poetin se optrede teen die res van Oekraïne.[134]
In die noordooste het Russiese troepe Charkif en Soemi probeer binneval. Albei is sowat 35 km van die Russiese grens af.[135][136] Volgens die Oekraïense weermag het hul die Slag van Konotop op 25 Februarie verloor.[137] In die Slag van Charkif het Russiese tenks sterk weerstand ondervind. Op 28 Februarie het verskeie missiele die stad getref en dit het 'n aantal lewens geëis. Die slag is deur die Oekraïense presidensiële raadgewer beskryf as die "Stalingrad van die 21ste eeu".[138] In die Slag van Soemi het intense stedelike oorlogvoering plaasgevind.[139][140]
Op die oggend van 25 Februarie het Russiese magte van die Donetsk-gebied in die ooste na Marioepol beweeg en Oekraïense magte naby die dorp Pawlopil teengekom, waar hulle verslaan is.[141] Die Russiese vloot het na berig word die aand van 25 Februarie 'n aanval op die kuslyn van die See van Azof geloods, 70 km wes van Marioepol.[142][143] Op 1 Maart het Denis Pusjilin, hoof van die Volksrepubliek Donetsk, aangekondig die republiek se magte het die nabygeleë stad Wolnowacha feitlik heeltemal omsingel en hulle sou binnekort dieselfde met Marioepol doen.[144] Op 2 Maart is Russiese soldate weggekeer van Sjewjerodonetsk tydens die Slag van Sjewjerodonetsk.[145]
Op 24 Februarie het Russiese troepe beheer geneem van die Noord-Krimkanaal, waarna die Krim se watertoevoer herstel is. Dit was sedert 2014 afgesny.[146] Die beleg van Marioepol het ook begin toe die gevegte ooswaarts na dié stad verskuif het. Die front is toe met die Donbas verbind.[147] Op 1 Maart het Russiese magte begin voorberei om hulle aanval op Melitopol en ander stede te hervat. Daarmee het die Slag van Melitopol begin.[148] Iwan Fedorof, die burgemeester, het later gesê die Russe het die stad beset.[149]
Ander Russiese magte het op 26 Februarie van die Krim af noordwaarts beweeg en 'n eenheid het die Zaporizjzja-kernaanleg genader.[150][151] Op 28 Februarie het hulle die beleg van Enerhodar begin in 'n poging om beheer van die kernaanleg oor te neem.[152] 'n Brand het tydens die geweergevegte uitgebreek.[153] Volgens die Internasionale Atoomenergieagentskap is noodsaaklike toerusting nie beskadig nie.[154] Teen 4 Maart is die Zaporizjzja-kernaanleg deur Russiese magte beset. Hoewel brande steeds aangemeld is, was daar geen bestralingslekkasie nie.[155]
'n Derde spil van aanvalle, uit die Krim, het noordweswaarts beweeg waar Russiese magte brûe oor die Dnipro oorgeneem het.[156] Op 2 Maart het Russiese troepe die Slag van Cherson gewen. Dit was die eerste groot stad wat in die aanval beset is.[157] Russiese troepe het toe na Mikolajif beweeg, wat tussen Cherson en Odesa lê. Op 4 Maart het Oekraïense verdedigers 'n aanval in die Slag van Mikolajif afgeweer en die Koelbakino-lugbasis teruggewen.[158]
Op 2 Maart het Oekraïense magte begn met 'n aanval in die rigting van Horlifka in Donetsk-oblast. Die stad word sedert 2014 deur die Volksrepubliek Donetsk beheer.
Op 24 Februarie het Russiese magte die Chuhuiv-lugmagbasis aangeval,[159] wat Bayraktar TB2 hommeltuie gehuisves het. Die aanval het skade aan brandstofbergingsareas en infrastruktuur veroorsaak.[160] Die volgende dag is die Millerowo-lugbasis deur Russiese magte aangeval.[161] Tydens die Zjitomir-lughawe-aanval op 27 Februarie is berig dat Rusland 9K720 Iskander-missielstelsels, geleë in Belarus, gebruik het om die burgerlike Zjitomir-lughawe aan te val.[162][163] Baie Oekraïense lugverdedigingsfasiliteite is volledig of gedeeltelik vernietig in die eerste dae van die inval deur Russiese lugaanvalle.[164]
Rusland het op 5 Maart minstens tien vliegtuie verloor.[165] Op 6 Maart het die Algemene Staf van die Gewapende Magte van Oekraïne berig dat 88 Russiese vliegtuie vernietig is sedert die oorlog begin het.[166]'n Anonieme senior Amerikaanse verdedigingsbeampte het egter op 7 Maart aan Reuters gesê dat Rusland steeds die "oorgrote meerderheid" van sy vegvliegtuie en helikopters wat naby die Oekraïne versamel is, beskikbaar het om te vlieg.[167] Na die eerste maand van die inval het Justin Bronk, 'n Britse militêre waarnemer, die Russiese vliegtuigverliese by 15 vastevlerkvliegtuie en 35 helikopters getel, maar het opgemerk dat die ware totaal beslis hoër was.[168] Daarteenoor, volgens die Verenigde State, was 49 Oekraïnse vegvliegtuie teen 18 Maart verlore. [169]
Op 13 Maart het Russiese magte verskeie kruisermissielaanvalle uitgevoer op 'n militêre opleidingsfasiliteit in Yavoriw, Lviv Oblast, naby die Poolse grens. Plaaslike goewerneur Maksym Kozytskyy het berig dat ten minste 35 mense in die aanvalle dood is.[170][171] Die swak prestasie van die Russiese Lugmag word deur The Economist toegeskryf aan Rusland se onvermoë om die Oekraïne se mediumafstand-grond-tot-lugmissiel-batterye (SAM) te onderdruk, Rusland se gebrek aan presisiegeleide bomme, tesame met Oekraïense middelafstand-SAM-stellings wat vliegtuie te dwing om laag te vlieg, wat hulle kwesbaar maak vir Stinger en ander skouergelanseer grond-tot-lug-missiele, en gebrek aan opleiding en vliegure vir Russiese vlieëniers wat hulle onervare maak vir die tipe nabygrondondersteuningsmissies tipies van moderne lugmagte.[172]
Oekraïne lê aan die Swartsee, wat slegs toegang het deur die Turkse Bosporus- en Dardanelle-strate. Op 28 Februarie het Turkye die Montreux-konvensie van 1936 in werking gestel en die seestraat afgeseël vir Russiese oorlogskepe wat nie geregistreer is as tuisbasisse in die Swartsee nie en nie na hul hawens van oorsprong terugkeer nie. Dit het die deurgang van vier Russiese vlootvaartuie deur die Turkse Straat verhinder.[173][174][175]
Op 24 Februarie het die Oekraïense staatsgrenswagdiens omstreeks 18:00 plaaslike tyd aangekondig 'n aanval deur Russiese skepe op Zmijini-eiland (Slangeiland) het begin.[176] Die Russiese kruiser Moskwa en patrollieboot Wasili Bikof het die eiland gebombardeer.[177] Toe die Russiese oorlogskip homself identifiseer en die Oekraïense soldate op die eiland beveel om oor te gee, was hulle antwoord: "Russiese oorlogskip, fok weg!" ("Русский военный корабль, иди нахуй!", Roesski wojenni korabl, idi nachoei!)[178][179] Ná die bombardement het Russiese soldate geland en beheer van die eiland oorgeneem.[180] Die 13 soldate wat die eiland verdedig het, is gevange geneem. Opnames van die opmerking is wyd op die internet versprei; dit het sedertdien 'n uitroep van die Oekraïense weermag geword, sowel as van burgerlikes wat teen die inval betoog.
Rusland het op 26 Februarie verklaar dat Amerikaanse hommeltuie inligting aan die Oekraïense vloot verskaf om Russiese oorlogskepe in die Swartsee te help teiken, wat die VSA ontken het.[181]
Op 3 Maart het 'n foto blykbaar die Oekraïense fregat Hetman Sahaidatsjni, vlagskip van die Oekraïense Vloot, gewys waar hy gedeeltelik gesink in 'n hawe lê.[182][183] Die volgende dag het die Oekraïense minister van verdediging bevestig dat die Hetman Sahaidatsjni in Mikolajif gekelder is om te voorkom dat Russiese magte dit oorneem.[184][185] Op 14 Maart het die Russiese bron RT berig dat die Russiese Weermag ongeveer 'n dosyn Oekraïense skepe in Berdiansk oorgeneem het, insluitend die Polnocny-klas landingskip Yuri Olefirenko.[186]
Frigatte van die Swartseevloot, die Admiraal Makarof, Admiraal Grigorovich en Admiraal Essen het deelgeneem aan die Russiese inval in die Oekraïne, wat 'n Oekraïense olieraffinadery en brandstofdepots in die voorstede van Odesa geteiken het met missiele wat vanaf die skepe se Bastion-P-stelsel afgevuur is.[187]
Op 13 April is die Russiese geleide missielkruiser Moskwa, die vlagskip van die Swartseevloot, deur twee Oekraïense R-360 Neptune-teenskip-kruisermissiele getref, wat die skip aan die brand gesteek het. Moskwa het later 'n ammunisie-ontploffing weens die brande opgedoen. Die Russiese Ministerie van Verdediging het gesê die skip is ernstig beskadig nadat 'n brand 'n ammunisie-ontploffing veroorsaak het, sonder enige verwysing na 'n Oekraïense aanval. Die volgende dag, na 'n poging om dit aan wal te sleep, het Russiese amptenare bevestig dat die skip gesink het.[188]
Oekraïense burgerlikes het die Russiese inval weerstaan, aangesluit by die territoriale verdedigingseenhede, molotofbomme gemaak, kos geskenk, versperrings soos Tsjeggiese krimpvarkies gebou.[189] en gehelp om vlugtelinge te vervoer.[190] In reaksie op 'n oproep van die Oekraïne se vervoeragentskap, Ukravtodor, het burgerlikes padtekens uitmekaar gehaal of verander, tydelike versperrings gebou en paaie geblokkeer. Sosiale mediaberigte het spontane straatprotesaksies teen Russiese magte in besette nedersettings getoon, wat dikwels in mondelinge woordewisseling en fisieke teëstand met Russiese troepe ontwikkel het.[191]
In sommige gevalle het mense Russiese militêre voertuie fisies geblokkeer, wat hulle soms gedwing het om terug te trek.[191][192][193] Die Russiese soldate se reaksie op ongewapende burgerlike weerstand het gewissel van onwilligheid om die betogers te konfronteer[191] tot vuur in die lug of direk in skares.[194] Daar was massa-aanhoudings van Oekraïense betogers, en Oekraïense media het gerapporteer dat gedwonge verdwynings, skynteregstellings, gyselaarneming, buitegeregtelike moorde en seksuele geweld deur die Russiese weermag gepleeg is.[195]
Lidlande van Navo het tydens die opbou verdedigingswapens na Oekraïne gestuur.[196] Die Amerikaanse president, Joe Biden, het $260 miljoen se hulp laat goedkeur. Dit sluit verskeie soorte wapens, ammunisie en ander toerusting in.[197][198][199]
Ná die begin van die oorlog het België,[200] Tsjeggië,[201] Estland,[202][203] Frankryk, Griekeland,[204] Nederland, Portugal en Brittanje aangekondig dat hulle nog wapens sal stuur om die Oekraïense weermag en regering te help verdedig.[205] Op 24 Februarie het Pole militêre voorraad afgelewer.[206] Terwyl sommige van die 30 lidlande van Navo wapens gestuur het, het Navo as organisasie dit nie gedoen nie.[35]
Op 26 Februarie het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, aangekondig dat hy $350 miljoen se militêre hulp goedgekeur het, insluitende verskeie teenaanvalstelsels, wapens en ammunisie, lyfpantsers en verwante toerusting.[207]
Rusland beweer Amerikaanse hommeltuie het inligting aan die Oekraïense vloot verskaf om hulle te help om Russiese oorlogskepe in die Swartsee te teiken. Amerika ontken dit.[208]
Ook Denemarke, Swede, Noorweë en Finland het intussen wapens aan Oekraïne gestuur.
Buitelanders word ook betrek by die oorlog deur inisiatiewe soos die IT-leër van Oekraine, 'n vrywillige kuberoorlogvoeringsorganisasie wat aan die einde van Februarie 2022 geskep is om weerstand te bied teen die digitale indringing van Oekraïense inligting en die kuberruim ná die begin van die Russiese inval.[209][210]
Daar is ook 'n Internasionale Legioen van die Territoriale Verdedigingsmag van Oekraïne of die Oekraïense Vreemdelegioen as 'n militêre eenheid van die Oekraïense territoriale magte, geskep deur die Oekraïense regering op versoek van president Wolodimir Zelenski met die doel om te veg teen die Russiese inval[211]
Vanweë die volgehou militêre opbou aan die Oekraïense grens het baie naburige lande en hulporganisasies hulle weke voor die inval begin voorberei vir 'n moontlike massamigrasie. Die Oekraïense departement van verdediging het in Desember 2021 voorspel dat tussen 3 miljoen en 5 miljoen mens dalk kan vlug.[212]
Op 24 Februarie het die regering van Letland 'n plan goedgekeur om sowat 10 000 vlugtelinge uit Oekraïne te huisves,[213] en twee dae later het die eerste vlugtelinge begin aankom.[214]
Ana Revenco, die minister van binnelandse sake van Moldowa, het op 25 Februarie gesê meer as 15 800 Oekraïense burgers het die grens na dié land oorgesteek. Volgens Roemenië het sowat 10 000 Oekraïners sedert die begin van die inval die grens met dié land oorgesteek, maar net 11 van hulle het om vlugtelingstatus aansoek gedoen.[215]
Pole het Covid-19-migrasiemaatreëls opgehef in afwagting van 'n vloed vlugtelinge.[216] Op 26 Februarie het die Poolse minister Paweł Szefernaker gesê sowat 100 000 vlugtelinge het Pole reeds sedert die begin van die inval binnegekom.[217]
Ook Hongarye[218] en Bulgarye ondervind 'n toeloop van vlugtelinge.[219]
Op 27 Februarie het die VN se hoëkommissaris vir vlugtelinge gesê meer as 268 000 mense het sedert die begin van die inval uit Oekraïne gevlug. Pole beweer van hulle het 77 300 net op 26 Februarie na dié land gevlug.[220]
Kenners meen die inval in Oekraïne oortree die Handves van die Verenigde Nasies en is 'n aggressiemisdaad volgens die internasionale misdaadwet. Dié misdaad kan vervolg word.[221][222]
Op 25 Februarie het Amnestie Internasionaal gesê dit het onomstootlike bewyse dat Rusland die internasionale humanitêre wet oortree het, en dat sommige van sy aanvalle oorlogsmisdade kan wees.[223] Amnestie en Human Rights Watch het gesê Russiese magte het voor die voet aanvalle op burgerlike gebiede uitgevoer en onder meer hospitale getref.[224][225]
Volgens die goewerneur van Soemi-oblast is onder meer 'n kinderhuis en kindertuin in dié deelgebied getref. Daar was 'n beroep op die Internasionale Misdaadhof om die saak te ondersoek.[226]
Op 1 Maart het president Zelenski gesê daar is bewyse dat burgerlike gebiede geteiken is in 'n Russiese bomaanval op Charkif vroeër dié dag. Hy het dit as 'n oorlogsmisdaad beskryf.[227]
'n Diplomatieke krisis tussen Griekeland en Rusland het ontstaan nadat laasgenoemde se lugmag twee dorpe van Griekse minderhede naby Marioepol in Oekraïne gebombardeer en 10 Grieke gedood het. Griekeland het sterk protes aangeteken en die Russiese ambassadeur na die Griekse departement van buitelandse sake in Athene ontbied. Frankryk, Pole, Swede en ander lande het hulle meegevoel uitgespreek.
Rusland het enige betrokkenheid ontken en beweer dit was die werk van die Oekraïense verregse militante groep die Azofbataljon. Athene het egter Moskou se bewering verwerp en aangekondig dit het bewyse van Russiese betrokkenheid.[228] Hierna het Griekeland se eerste minister, Kyriakos Mitsotakis, aangekondig dat sy land verdedigingstoerusting en humanitêre hulp aan Oekraïne gaan verleen.[229][204]
Uit Poetin se oogpunt het die aanval op Oekraïne nodig geword omdat Navo aanhou uitbrei en Rusland se grense nader. Boonop is Oekraïne histories deel van Rusland.
Poetin het op 24 Februarie in sy toespraak verwys na Westerse oorlogsdade teen Serwië, Irak en ander lande, asook na die Duitse aanval op die Sowjetunie in 1941 en het onder meer gesê:
Die Duitse uitsaaidiens Deutsche Welle het die stellings uit Poetin se toespraak aan 'n feitkontrole onderwerp. Die bewering dat die Navoblok ooswaarts uitbrei en dat die oorlogsmasjien die Russiese grense nader, is misleidend: Navo het weliswaar 14 Oos-Europese state erken sedert die ineenstorting van die Sowjetunie. Die organisasie het die logistieke voorbereidings vir troepversterkings ná 2014 getref in reaksie op die anneksasie van die Krim. Die Navotroepe in die streek (5 000 soldate) is egter heeltemal te swak om Rusland te bedreig (850 000 soldate).
Verder is Poetin se regverdiging verkeerd; dit is 'n saak van verdediging binne die betekenis van die Verenigde Nasies se handves. Daar is geen teken van 'n aanval deur Oekraïne nie. Inteendeel, Oekraïne het die afgelope weke alles gedoen om Rusland nie ’n verskoning te gee om homself te verdedig nie, volgens ’n aangehaalde navorser, Pia Furhop van die Duitse Instituut vir Internasionale Politiek en Veiligheid. Daar is ook geen bewyse van 'n volksmoord in Oekraïne waarvan Poetin gepraat het nie. Dit was immers net ’n “propaganda-narratief” deur Poetin dat hy Oekraïne moes “denazifiseer”. ’n Joodse kandidaat het die presidensiële verkiesing gewen, en in die laaste algemene verkiesing in 2019 het die verenigde front van die verregse partye slegs 2,15 persent van die stemme gekry.[231]
Poetin se essay Oor die historiese eenheid van die Russe en Oekraïners, waarvolgens Russe en Oekraïners een volk is, is in Julie 2021 gepubliseer.[102] Dit is geïnterpreteer as 'n aanduiding dat Poetin nie Oekraïne se staatskaping erken nie. Poetin se bewering dat die meerderheid van Oekraïne se grondgebied uit "geskenke" van Rusland bestaan, gaan ook in hierdie rigting. ’n Kaart het op Russiese staatstelevisie verskyn wat die ooreenstemmende skenkings van die individuele Russiese heersers wys. Stern.de som op dat Poetin en die Kremlin net 'n klein area in die middel as Oekraïne sien.[232]
Deutsche Welle se feitkontrole bestempel Poetin se bewering dat die moderne Oekraïne deur Rusland geskep is, as vals. Poetin het dit ook as 'n fout beskou dat Lenin die Oekraïense gebiede die status van 'n Sowjetrepubliek gegee het. Trouens, volgens Deutsche Welle, was daar egter twee jaar lank 'n onafhanklike Oekraïense nasionale staat voordat die Rooi Leër dit in 1920 binnegeval het. Die historikus Joachim von Puttkamer word aangehaal as verwysend na die “lang Oekraïense nasionale beweging”. Hy het dit "absurd" genoem dat Oekraïne 'n "kunsproduk van die Bolsjewiste" is.
Die feitkontrole noem Poetin se stelling dat Oekraïne nog nooit “stabiele tradisies van werklike staatskaping” gehad het nie, “misleidend”. Die feit dat die staat van 1918 nie lank bestaan het nie, was te wyte aan die inval deur Sowjet-Rusland. Volgens Guido Hausmann is dit waar dat wat nou Oekraïne is, dikwels aan ander lande behoort het. Dit geld insgelyks vir ander lande soos Duitsland. In die referendum oor Oekraïne se onafhanklikheid op 1 Desember 1991 het meer as 92 persent van Oekraïners vir onafhanklikheid gestem.[233]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.