Thailand (Thai: ประเทศไทย, Prathet Thai, [pra.tʰêːt tʰaj], ), amptelik die Koninkryk Thailand (ราชอาณาจักรไทย, Ratcha-anachak Thai, [râːt.t͡ɕʰa.ʔaː.naː.t͡ɕàk tʰaj], ), is 'n land in Suidoos-Asië met 'n oppervlakte van 513 120 km² en 'n bevolking van byna 70 miljoen. Thailand word ook Siam (สยาม, Sayam, [sa.jǎːm]) genoem, wat die land se amptelike naam was tot 23 Junie 1939. Die woord "Thai" beteken "vry" in die Thaise taal. Die hoofstad en grootste stad van Thailand is Bangkok.
| |||||
Nasionale leuse: ชาติ ศาสนา พระมหากษัตริย์ (tr.: Chat, Satsana, Phra Maha Kasat) (Thai vir: "Nasie, godsdiens, koning") | |||||
Volkslied: เพลงชาติไทย (tr.: Phleng Chat Thai) Koninklike volkslied: สรรเสริญพระบารมี (tr.: Sansoen Phra Barami) | |||||
Hoofstad | Bangkok | ||||
Grootste stad | Bangkok | ||||
Amptelike tale | Thai[1] | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike monargie Maha Vajiralongkorn Paetongtarn Shinawatra | ||||
Onafhanklikheid Vorming • Koninkryk Sukhothai • Koninkryk Ayutthaya • Koninkryk Thonburi • Koninkryk Rattanakosin • Grondwetlike monargie • Huidige grondwet |
1238–1448 1351–1767 1767–1782 6 April 1782 24 Junie 1932 6 April 2017[2] | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
513 120[1] km2 (53ste) 198 117 myl2 0,4 | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2010-sensus - Digtheid |
69 920 998[1] (20ste) 64 785 909[3] 136,3 / km2 (88ste) 352,9 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,803[5] (66ste) – baie hoog | ||||
Gini (2021) | 34,9[6] – medium | ||||
Geldeenheid | Baht (฿) (THB ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
ICT (UTC+7) nie toegepas nie (UTC+7) | ||||
Internet-TLD | .th | ||||
Skakelkode | +66 |
'n Burger van Thailand word gewoonlik geïdentifiseer as 'n "Thai" of "Siamees" (verouderd), wat streng gesproke slegs na etniese Thais verwys. Meeste Thais is Theravada-Boeddhiste van Thai-afkoms, maar die land het ook 'n beduidende aantal minderhede, veral Han-Chinese, maar ook Moslemse Maleiers in die suide.
Thailand is in die sentrum van die Indo-Chinese Skiereiland geleë. Dit grens in die ooste aan Laos en Kambodja, in die suide aan die Golf van Thailand en Maleisië en in die weste aan die Andamanse See (deel van die Indiese Oseaan se Golf van Bengale) en Mianmar (vroeër Birma). Wes van Thailand is die Andaman- en Nicobar-eilande geleë wat aan Indië behoort en in die suidweste is die Indonesiese eiland Soematra geleë. Daarbenewens deel Thailand 'n maritieme grens met Viëtnam in die Golf van Thailand.
Thailand se hoofnywerhede is vervaardiging, landbou en toerisme. Dit word as 'n nuut-geïndustrialiseerde land beskou en is 'n lidland van die streekorganisasie ASEAN.
Etimologie
Die land se amptelike naam was "Siam" tot en met 23 Junie 1939,[7][8] maar dit het weer as "Siam" bekend gestaan tussen 1945 en 11 Mei 1949, voor dit weer deur 'n amptelike bekendmaking verander is na Thailand (Thai: Prathet Thai). Reeds voor die amptelike naamsverandering het Thais na hulle land verwys as Muang Thai. Die woord "Thai" (ไทย) is afgelei van die woord "Tai" (ไท), wat in Thai "vryheid" beteken.[9] Thai is ook die naam van die grootste etniese groep in Thailand.
Siam
Die land is deur sy inwoners nog altyd Mueang Thai genoem. Voor 1949 is na die land deur buitestaanders gewoonlik verwys as Siam (Thai: สยาม, sayam, [sajǎːm], ook gespel Siem, Syâm of Syâma). Die woord Siam is dalk van Pali afkomstig (suvaṇṇabhūmi, "land van goud") of Sanskrit श्याम (śyāma, "donker") of Mon ရာမည (rhmañña, "vreemdeling"). Die name Shan en A-hom blyk variante van dieselfde woord te wees. Die woord Śyâma is waarskynlik nie die oorsprong nie, maar 'n kunsmatige aanpassing oor die jare heen.[10] 'n Ander idee is dat die naam van Chinese afkomstig is: "Ayutthaya het na vore gekom as 'n oorheersende sentrum laat in die 14de eeu. Die Chinese het hierdie streek Xian genoem wat die Portugese herskep het na Siam.[11] 'n Verdere moontlikheid is dat Mon-pratende mense wat suid migreer het hulself syem genoem het, soos die inheemse Mon-Khmer-pratende inwoners van die Maleise Skiereiland.
Koning Mongkut (aan bewind 1851–1868) se handtekening het SPPM gelees vir Somdet Phra Poramenthra Maha of Latyn: Mongkut Rex Siamensium ("Mongkut, Koning van die Siamese"). Dit het amptelike status aan die naam Siam gegee tot 24 Junie 1939, toe die landsnaam verander is na "Thailand".[12] "Thailand" het van 1946 tot 1948 terug geval na Siam, nadat dit weer terug verander is na "Thailand" tot vandag.
Thailand
Volgens George Cœdès beteken Thai (ไทย) "vrye man" in Thais, "om die Thaise te onderskei van die inboorlinge wat in die Thaise samelewing as slawe bestaan".[13] 'n Bekende Thaise geleerde argumenteer dat Thai (ไท) eenvoudig "mense" of "menswees" beteken, aangesien sy ondersoeke wys dat in sommige landelike gebiede die woord "Thai" gebruik is pleks van die algemene Thai-woord khon (น) vir mense.[14] Volgens Michel Ferlus het die etnonieme Thai-Tai (of Thay-Tay) ontwikkel van die etimon *k(ə)ri: ("menswees") deur die volgende ketting: *kəri: > *kəli: > *kədi:/*kədaj > *di:/*daj > *dajA (Proto-Suidwestelike Tai) > tʰajA2 (in Thai en Lao) of > tajA2 (in die ander Suidwestelike en Sentrale Tai-tale soos klassifiseer deur Li Fangkuei).[15] Michel Ferlus se werk is gebaseer op eenvoudige reëls van fonetiese veranderinge wat in die Sinofeer waarneembaar is en vir die meeste deel deur William H. Baxter (1992) ondersoek is.[16]
Terwyl Thais na hul land met die beleefde vorm prathet Thai (ประเทศไทย) wil verwys, gebruik hulle algemeen veral die term mueang Thai (เมืองไทย) of net Thai; die woord mueang, wat oorspronklik na 'n stadstaat verwys het, is veral gebruik om na 'n stad te verwys as die sentrum van 'n gebied. Ratcha Anachak Thai (ราชอาณาจักรไทย) beteken "Koninkryk Thailand" of "Koninkryk Thai". Etimologies bestaan dit uit: ratcha (Sanskrit: राजन्, rājan, "koning, koninklik, ryk"); -ana- (Pali: āṇā "gesag, bevel, mag", op sy beurt afgelei van Sanskrit आज्ञा, ājñā, met dieselfde betekenis) -chak (van Sanskrit चक्र, cakra- "wiel", 'n simbool van mag en heerskappy). Die Thaise Volkslied (เพลงชาติ), geskryf deur Luang Saranupraphan gedurende die 1930's, verwys na die Thaise nasie as prathet Thai (ประเทศไทย). Die eerste reël van die volkslied lees: prathet thai ruam lueat nuea chat chuea thai (ประเทศไทยรวมเลือดเนื้อชาติเชื้อไทย), "Thailand is die eenheid van Thaise vlees en bloed".
Geskiedenis
Verskeie inheemse kulture het reeds sedert die tyd van die Ban Chiang-kultuur (ongeveer 2000 v.C.), in Thailand bestaan. As gevolg van die land se geografiese ligging is die kultuur van Thailand nog altyd sterk deur Indië, China en ander buurkulture van Suidoos-Asië beïnvloed. Boeddhisme is vir die eerste keer in die 5de eeu in die Chaopraya-bekken in die vorm van Indiese gode ingevoer; waarskynlik sonder goed gedefinieerde sektes en tradisies. In die 12de eeu het monnike uit Sri Lanka egter die Theravada-vorm van Boeddhisme na Thailand gebring waar dit vinnig floreer het.[17] Die eerste Siamese/Thai-staat word tradisioneel as die Boeddhistiese Koninkryk Sukhothai beskou. Dié koninkryk was 'n vroeë koninkryk in die omgewing van die stad Sukhotai in Noordsentraal-Thailand, wat van 1238 tot 1438 bestaan het.
Die koninkryk se mag is later oorskadu deur die groter Siamese Koninkryk Ayutthaya wat in die middel van die 14de eeu gestig is. Dié koninkryk was geleë om die huidige stad Ayutthaya in die gelyknamige provinsie in Sentraal-Thailand. Na die Siamese magte Angkor in 1431 geplunder het, is baie van die Khmer-ryk en sy Hindoe-gewoontes na Ayutthaya teruggeneem, en is baie van die gewoontes en rituele in die kultuur van Siam aangeneem.
Na Ayuthaya in 1767 deur die Burmese verower is, was Thonburi vir 'n kort periode die hoofstad van Thailand, onder leiding van Koning Taksin die Grote. Die huidige era van Thailand se geskiedenis het in 1782 begin, na die instelling van Bangkok as die hoofstad van die Chakri-dinastie, onder leiding van Koning Rama die Grote.
Europese moondhede het in die 16de eeu na Thailand begin reis. Ondanks die druk wat deur Europa uitgeoefen is, is Thailand die enigste Suidoos-Asiatiese land wat nooit deur 'n Europese mag gekoloniseer is nie. Die twee hoofredes hiervoor is dat Thailand 'n lang reeks suksesvolle leiers in die 1800's gehad het en dat dit die vyandigheid en spanning tussen die Franse en Britte uitgebuit het. As gevolg hiervan het die land 'n bufferstaat tussen dele van Suidoos-Asië wat deur die twee kompeterende Europese koloniale magte gekoloniseer is geword. Die invloed van 'n nabygeleë Britse kolonie het egter gelei tot baie hervormings in die 19de eeu en groot toegewings aan Britse handelsbelangstellings. 'n Voorbeeld hiervan was die verlies van die drie suidelike provinsies, wat later Maleisië se drie noordelike deelstate sou word. Vervolgens is die onafhanklike Thailand in die weste deur Brits-Indië, in die ooste deur Frans-Indo-China en in die suide deur Brits-Malaya begrens.
'n Niegeweldadige rewolusie in 1932 het gelei tot 'n nuwe grondwetlike monargie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Thailand geallieerd met Japan, maar het na die oorlog 'n bondgenoot van die Verenigde State van Amerika geword en onder meer aan die Korea-oorlog en die Viëtnamoorlog deelgeneem. Na 'n reeks staatsgrepe het Thailand in die 1980's begin nader beweeg aan 'n demokrasie. Op 13 Oktober 2016 is Thailand se monarg, Bhumibol Adulyadej op die ouderdom van 88 oorlede. Hy was ook bekend as Rama IX en die wêreld se langsdienende staatshoof.
In 1997 is Thailand getref deur die Asiatiese finansiële krisis en die geldeenheid van Thailand, die baht, het vir 'n kort periode daaronder gely: voor 1997 was VS$1 gelykstaande aan 25 baht, maar tydens die krises was $1 gelykstaande 56 baht. Sedertdien het die baht egter sterker geword en, in Augustus 2024, was $1 gelyk aan 34,63 baht.
Die amptelike kalender wat in Thailand gebruik word is gebaseer op die Oostelike weergawe van die Boeddhistiese kalender wat die Gregoriaanse kalender met 543 jaar voorloop. Die jaar 2024 n.C. staan byvoorbeeld in Thailand bekend as 2567 BE.
Die onlangse jare is veral gekenmerk deur grenskonflikte met die buurland Kambodja rondom die Prasat Preah Vihear wat in 2008 deur Unesco as wêrelderfenis gelys is.[18] In Suid-Thailand pleit etniese Maleiers al sedert jare vir 'n vereniging met Maleisië.
Geografie
Thailand is die 50ste grootste land in die wêreld met 'n oppervlakte van 513 120 km². Dit kan vergelyk word met die grootte van Jemen en is ietwat groter as Spanje.
Groot stede sluit in die hoofstad Bangkok, Chiang Mai, Hat Yai, Nakhon Ratchasima, Nonthaburi, Pak Kret, Surat Thani en Udon Thani.
Thailand het verskeie gebiede wat geografies van mekaar verskil; hierdie gebiede kom ook min of meer ooreen met die onderskeie provinsies van die land. Die noorde van die land is bergagtig, met die piek van die berg, Doi Inthanon, as die hoogste punt met 'n hoogte van 2576 m. Die noordooste bestaan uit die Khorat-plato en strek oor 'n area van 155 000 km². Die plato word in die ooste deur die Mekongrivier begrens. In die weste vorm die Salweenrivier vir 'n kort stukkie die grens tot Mianmar. Die middel van die land word oorheers deur die hoofsaaklik plat Chao Phraya-riviervallei, wat inloop by die Golf van Thailand. Die suide bestaan uit die dun landengte wat breër word nader aan die Maleise Skiereiland.
Die plaaslike klimaat is tropies en word gekenmerk deur moesons: reënerige seisoene wat etlike maande aanhou. Vanaf die middel van Mei tot September is daar 'n reënerige, wolkerige dog warm suidwestelike moeson en 'n droër, koel noordoostelike moeson van November tot die middel van Maart. Die suidelike landengte is altyd warm en bedompig.
Demografie
Thailand se bevolking word oorheers deur verskeie Tai-sprekende mense. Die talrykste is die Sentrale Thai, die Noordoostelike Thai (ook genoem "Isan" of "Lao": twee verskillende, dog nou-verwante dialekte) en die Suidelike Thai. Die Sentrale Thai is al lank die heersende taal rakende politiek, ekonomie en kultuur, alhoewel die taal se moedertaalsprekers slegs 'n derde van die land se bevolking uitmaak (die moedertaalsprekers van Noordoostelike Thai vorm die meerderheid). Baie mense is egter tans daartoe in staat om Sentrale Thai, asook hulle eie dialekte te kan praat, danksy die onderrigstelsel en die beweging na 'n nasionale identiteit.
Die grootste groep nie-Thai mense is die Han-Chinese wat 'n belangrike geskiedkundige rol in die ekonomie van die land gespeel het. Die meeste Chinese het hulself geheel en al by die Thai gemeenskap geïntegreer en dit is slegs die minderheid wat steeds in die Chinese buurt Yaowarat Road in Bangkok bly. Ander etniese groepe sluit in die Maleiers in die suide en die Mon, die Khmer en verskeie bergvolke (waaronder die Padaungstam, wat bestaan uit mense van die Kayan, 'n klein etniese groep waarvan sommige lede in die 1990's uit Mianmar na Thailand gevlug het). Na die einde van die Viëtnamoorlog het baie Viëtnamese vlugtelinge hulle in Thailand gevestig, hoofsaaklik in die noordoostelike streke. Van die ander etniese minderhede sluit onder meer Bamar en Hakka in.
Volgens die 2000-sensus is 95% van Thailand se bevolking Theravada-Boeddhiste. Die Moslems is die tweede grootste groep met 4,6%. Moslems woon dikwels in verskillende gemeenskappe as die ander gelowe. Die bevolking in die suidelik punt van Thailand bestaan hoofsaaklik uit etniese Maleiers, wat meestal in die suide gekonsentreer is en 'n sterk meerderheid in vier provinsies vorm. Christene, hoofsaaklik Rooms-Katolieke, verteenwoordig 0,75% van die land se bevolking. Daar is ook 'n klein gemeenskappe van Sikhs en Hindoes in die land se stede.
Die nasionale taal van Thailand is Thai, maar daar bestaan ook baie etniese en streeksdialekte, asook ander areas waar mense hoofsaaklik Isan of van die Mon-Khmer tale praat. Thai besit ook sy eie alfabet, wat drasties verskil van die Latynse alfabet wat onder andere deur Westerse tale gebruik word. Engels word tans in skole geleer, alhoewel die aantal sprekers wat dit kan spreek nog in die minderheid is. Daarbenewens word in Thailand tale soos Hakka, Khmer, Maleis en Min gebesig.
Kultuur
Theravada-Boeddhisme is die oudste oorlewende Boeddhistiese beweging en maak 'n belangrike deel van moderne Thai-geloof en identiteit uit. In die praktyk het Thai-Boeddhisme deur die jare ontwikkel en sluit vandag baie streeksgelowe in wat oorspronklik van, onder ander, animisme (die geloof dat elke liggaam 'n afsonderlike gees het) en die aanbidding van mens se voorvaders. Islam is die heersende geloof in die mees suidelike dele van Thailand.
Thailand bevat ook 'n aantal verskillende etniese groepe. Hierdie groepe hou 'n onderskeidelike tradisionele manier van lewe in stand, ten spyte van die sterk invloed van die Thai-kultuur. Sommige van hierdie groepe word ook in Mianmar, Laos, Kambodja en Maleisië aangetref. Etniese Chinese maak ook 'n aansienlike deel van die Thai-gemeenskap uit, veral in en om Bangkok. Hulle suksesvolle integrasie in die Thai-gemeenskap het beteken dat lede van hierdie groep dit reggekry het om magtige ekonomiese en politiese posisies te beklee, soos die voormalige eerste minister Thaksin Shinawatra wat van Chinese afkoms is. Shinawatra was die staatshoof van 2001 tot 19 September 2006, toe hy omvergegooi is deur 'n militêre staatsgreep.
Soos die meeste ander Asiatiese kulture is respek vir 'n mens se voorvaders 'n noodsaaklike deel van die spirituele praktyk in Thailand. Die inwoners is baie gasvrye en vrygewig, maar hulle respekteer ook die sosiale hiërargie. Senioriteit is 'n belangrike konsep in Thai-kultuur. Die ouer familielede het altyd die gesag rakende familiebesluite of seremonies.
Die tradisionele manier van groet is die wai: wanneer twee persone mekaar ontmoet, sal die jongste persoon sy oop hande saamsit met die palms na mekaar en die vingers na bo (soos vir gebed). Die persoon sal sy hoof voor-oor buig om die vingerpunte te raak. Die ouer persoon sal dan die gebaar na-aap. Die gebaar gaan ook gewoonlik gepaard met die gesproke groet "Sawasdee Krup" vir manlike sprekers en "Sawasdee Ca" vir vroulike sprekers. Hoe hoër die hande in verband met die gesig gehou word, hoe meer respek betoon 'n persoon. Voor kinders na skool gaan, wai hulle hul ouers as 'n teken van respek en herhaal die gebaar wanneer hulle weer tuis kom.
Tradisionele taboes sluit in die aanraking van 'n ander persoon se kop of om met die voete na iets te wys: die kop word beskou as die heiligste deel van die liggaam en die voete as die vuilste. Dit word ook as beledigend beskou om bo-oor 'n persoon of kos te trap. Die Thai-kultuur, net soos baie ander Asiatiese kulture, word egter sterk deur die Weste beïnvloed en sommige tradisionele taboes is besig om mettertyd te verdwyn.
Die kookkuns van Thailand meng vyf basissmake: soet, pikant, suur, bitter en sout. 'n Paar algemene bestanddele wat in Thaise kookkuns gebruik word, sluit in knoffel, rooirissies, lemmetjiesap, sitroengras en vissous. Die stapelvoedsel in Thailand is rys, veral 'n soort jasmynrys (bekend as "Hom Mali"-rys), wat by amper elke maaltyd ingesluit word. Thailand is die wêreld se grootste uitvoerder van rys en die bevolking van Thailand nuttig jaarliks meer as 100 kg rys per persoon.[19] Die Internasionale Rys Navorsingsinstituut (IRRI) in Filippyne bevat meer as 5000 verskillende soorte rys uit Thailand in hul rysgenebank.[20]
Letterkunde en gedrukte media
Boeke en ander dokumente is die mees geëerde wêreldse voorwerpe en dit word daarop neergekyk as 'n persoon 'n boek oor 'n tafelblad laat gly of op die vloer plaas.
Thai-letterkunde word sterk deur die Indiese kultuur beïnvloed. Dié invloed is veral merkbaar in die vroeë letterkunde, waar die meeste verhale met gode en ander wesens uit die Boeddhistiese en Hindoeïstiese mitologie gevul is. Een van die bekendste werke in Thai-letterkunde is die epiese "Ramakien". Die werk is gebaseer op die antieke teks "Ramayana" wat aan die einde van die 18de eeu deur Koning Phra Phuttayodfa Chulalok (Rama I) uitgebrei is. Sedertdien het die opvolgende konings baie bygedra tot die kultuur en letterkunde van Thailand.
Aan die begin van die 20ste eeu het poësie ongewild geraak, terwyl prosa meer aansien geniet het. In die 1950's het talle bekende outeurs talryke bekende boeke geproduseer. Van die noemenswaardigste skrywers van moderne Thai-letterkunde sluit in Mae Anong, die latere eerste minister, Kukrit Pramoj en Pira Sudham.
Die samelewing van Thailand is in die afgelope jare deur die wyd-verkrygbare, meertalige media beïnvloed. Daar is talle Engelse, Thai en Chinese koerante beskikbaar en die meeste gewilde Thai-tydskrifte gebruik Engelse opskrifte in 'n poging om "sjiek" voor te kom. Meeste groot besighede in Bangkok bedryf hul sake in Engels, selfs onder Thaisprekers, as 'n simbool van hul opgevoede, hoë-kring status. Thailand is die land in Suidoos-Asië met die grootste koerantmark, met 'n beraamde daaglikse sirkulasie van ten minste 13 miljoen eksemplare in 2003.
Musiek
Alhoewel Thailand nooit deur Westerse magte gekoloniseer is nie, het popmusiek en ander vorms van Europese en Amerikaanse musiek baie invloedryk geword. Die twee gewildste style tradisionele musiek is "luk thung" en "mor lam", terwyl die etniese minderhede ook steeds hul tradisionele musiekvorms behou het.
"Luk thung" (Thai: ลูกทุ่ง; letterlik "kind van die velde") is kort vir "pleng luk thung" (Thai: เพลงลูกทุ่ง – "lied van 'n kind van die velde"). "Luk thung"-liedjies weerkaats oor die algemeen die teëspoed van die alledaagse lewe tussen die plattelandse armes. Die liedjies neig na 'n stadige tempo en die sangers gebruik 'n uitdrukkende sangstyl met 'n groot deel vibrato.
Die styl het ontwikkel in die eerste helfte van die 20ste eeu, alhoewel die term, "luk thung", vir die eerste keer in die 1960's gebruik is. Ponsri Woranut en Suraphol Sombatcharoen was van dié genre se eerste groot sterre en het invloede van Latyns-Amerika, Japan, Indonesië, Maleisië en veral Amerikaanse rolprentklankbane en volkmusiek, asook jodel. Die genre het ook 'n herlewing ervaar na die begin van die eerste "luk thung"-radiostasie in 1997.
"Mor lam" is 'n antieke vorm van Lao-sang in beide Lao en Isan. Die term beteken "kundige sang" of "kundige sanger", afhangende van die konteks waarin die term gebruik word.
Die kenmerk van "mor lam" is die gebruike van 'n buigsame melodie wat by die tonale klanke van die lirieke aangepas word. Volgens tradisie is die oorspronklike melodie ontwikkel vir die toonsetting van tradisionele "gaun"-gedigte. Die sang word ook oor die algemeen begelei deur 'n "khene", 'n soort mondfluitjie wat van riet gemaak is, alhoewel moderne elektriese instrumente ook tans gebruik word. Tans is die tempo van die musiek vinnig, alhoewel dit vroeër deur 'n stadiger tempo gekenmerk was. Volgehoue kenmerke sluit in 'n sterk ritmiese begeleiding, vokale spronge en 'n sangstyl wat 'n geselstrant aanneem, vergelykbaar met Amerikaanse kletsrymmusiek.
Algemene temas sluit in onbeantwoorde liefde en die struikelblokke in die lewens van die plattelandse Isan en Laos, vermeng met droë humor. In die areas van herkoms maak "mor lam"-opvoerings 'n belangrike deel van feeste en plegtighede uit. Die musiek is tans ook gewild in ander dele van die land, te danke aan die verspreiding van trekarbeiders vir wie die musiek 'n belangrike kulturele skakel na hul tuiste bly.
Skoolstelsel
In Thailand is 'n totale skoolloopbaan van nege jaar verpligtend. Volgens Unesco is slegs 3% van die bevolking ongeletterd, wat Thailand op dieselfde vlak as lande in die Europese Unie plaas.
Bywoning van die ses-jaar-lange laerskool is verpligtend en in beginsel gratis, alhoewel leerlinge oor die afgelope paar jaar meer en meer vir hulle eie onderrigmateriaal en skooluniforms vir die verskillende weeksdae moes betaal. Die onderrigmetodes is nie gelyk aan die metodes wat in die Weste as standaard beskou word nie. Kinders word min aangemoedig om verantwoordelikheid te neem vir hul studies en selfstandig te leer. Die nosie van gesag word eerder, soos ook in die res van die land, ook hier bevorder. Alhoewel lyfstraf reeds 'n aantal jare nie meer toegelaat word nie, is gesagsgedrewe leermetodes steeds algemeen.
Lesse word oral in klaskamers aangebied, met 'n onderwyser wat vooraan staan en die leerlinge onderrig. Daar is ook 'n aantal Christelike skole en skole vir buitelanders. Enige onderrig na primêre skool is nie meer gratis nie. Beide die onderwysers en die leerlinge dra uniforms. Onderwysers dra ook verskillende borsspelde en skouerdekorasies om hulle amp, funksie en dienstyd te toon. 'n Pet vorm ook deel van die uniform.
Thailand is moontlik die enigste land waar padvindery deel van die kurrikulum is. Al die leerlinge van 'n skool gaan op 'n bepaalde dag van die week in hul padvinder-uniforms skool toe. Dit is ook algemeen dat normale onderrig nie op sulke dae plaasvind nie.
Sport
Thai-boks, "Muay Thai", is die nasionale sport van Thailand en die inheemse vegkuns staan bekend as "Muay". In die verlede was Mauy aan koninklike soldate Muay geleer, vir die geval wat hulle hulself ongewapen op die slagveld bevind. Na die soldate van die weermag afgetree het, het hulle dikwels Boeddhistiese monnike geword en by die tempels gaan woon. Die inwoners van Thailand se lewens is nou verbind met Boeddhisme en tempels: seuns word dikwels daarheen gestuur om opleiding as monnike te ontvang. "Muay" is ook een van die vakke wat by die tempels aangebied word.[21]
Ongeveer 100–200 jaar gelede het westerse magte gepoog om die meeste Suidoos-Asiatiese lande te verower. In hierdie tyd was Muay as selfverdediging geleer en nie slegs as vegtegniek vir gebruik in die oorlog nie. Muay-kompetisies was baie gewild in Thailand, maar die sport was baie gevaarlik en sommige deelnemers het gesterf tydens kompetisies. Die vrees vir die gevare wat die sport inhou, asook die vrees dat die wêreld nie so 'n gevaarlike sport sal aanvaar nie, het veroorsaak dat die sport ontwikkel het tot "Muay Thai". Die nuwe vorm het wapens en gevaarlike bewegings uitgesluit, wat gelei tot die verhoging van standaarde van die sport. Dit is nou ook algemeen dat deelnemers bokshandskoene dra, soos gebruik deur westerse boksers, in plaas van die tradisionele "Kaad chuek" ("handverband"), om deelnemers van beserings te beskerm.
Muay Thai het wêreldwye gewildheid bereik in die 1990's. Alhoewel soortgelyke vegkunste in ander Suidoos-Asiatiese lande bestaan, word Muay Thai gekenmerk as 'n volkontaksport. Sokker is tans 'n mededinger om die titel vir gewildste sport in Thailand en dit is algemeen vir aanhangers van die sport om die nuutste wedstryde van hul gunsteling-westerse spanne op televisie te kyk of soortgelyke sokkeruitrustings te dra. Bangkok Bravo FC staan bekend as die sokkerklub met die langste naam in die wêreld. Die vlieg van vlieërs is ook 'n gewilde tydverdryf en was in die verlede 'n kompeterende sport.[22]
Rugby is ook 'n groeiende sport in Thailand en die Thaise nasionale rugbyspan is 73ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[23] Thailand was die eerste land wat in 2005 'n internasionale 80 weltergewig rugbytoernooi gehuisves het.[24] Aan die nasionale plaaslike Thaise rugbytoernooi (TRU) neem verskeie universiteits- en diensspanne soos Chulalongkorn Universiteit, Mahasarakham Universiteit, Kasetsart Universiteit, Prince of Songkla Universiteit, Thammasat Universiteit, Rangsit Universiteit, Koninklike Thaise Polisie, Koninklike Thaise Weermag, Koninklike Thaise Vloot en Koninklike Thaise Lugmag. Plaaslike sportklubs, wat aan die TRU deelneem, sluit ook in die Britse Klub Bangkok, Southerners Sportsklub (Bangkok) en die Koninklike Bangkok Sportklub.
Krieket is 'n ander groeiende sport en die Thaise nasionale vrouekrieketspan het in 2020 vir sy eerste T20I-wêreldbekertoernooi gekwalifiseer,[25] maar hulle het in die groepfase op die laaste plek geëindig. Daarteenoor is die Thaise nasionale manskrieketspan minder suksesvol, aangesien hulle nog nie vir 'n T20I-wêreldbekertoernooi kon kwalifiseer nie. Albei spanne geniet net soos alle ander krieketspanne van die Internasionale Krieketraad (IKR) se assosiaatlede Twintig20-status.[26]
Politiek en regering
Geskiedenis
Sedert die omverwerping van die absolute monargie in 1932 het Thailand reeds 17 grondwette en handveste gehad.[27][28] In hierdie tyd het die regeringsvorm gewissel van 'n militêre diktatorskap tot 'n verkose demokrasie, maar al die regerings het 'n erflike monarg as die hoof van die staat erken.[29][30]
1997 tot 2006
Die grondwet van 1997 was die eerste grondwet wat deur 'n verkose komitee opgestel is. Dié komitee was verkies op grond van gewildheid en daar word na dié grondwet verwys as die "Grondwet van die mense".[31]
Die grondwet van 1997 het 'n tweekamerstelsel geskep, bestaande uit 'n 500-sitplek Huis van Verteenwoordigers (สภาผู้แทนราษฎร, "sapha phutan ratsadon") en 'n 200-sitplek Senaat (วุฒิสภา, "wuthisapha"). Dit was ook die eerste keer in die geskiedenis wat beide huise direk verkies is. Baie menseregte word in die grondwet uitdruklik erken en maatstawwe is in plek gestel om die stabiliteit van verkose regerings te verbeter. Tydens die verkiesing van die Huis van Verteenwoordigers kon slegs een kandidaat met 'n stemmeerderheid per stemdistrik verkies word. Die Senaat was per provinsie verkies, waartydens 'n provinsie meer as een senator kon hê, afhangende van die provinsie se bevolkingsgrootte. Lede van die Huis van Verteenwoordigers dien vir 'n termyn van vier jaar, terwyl senators vir ses jaar dien.
Die hofstelsel (ศาล, "saan") het 'n grondwetlike hof ingesluit wat regspraak oor die grondwetlikheid van parlementêre aktes, koninklike verordenings en ander politieke sake gehad het.
Die algemene verkiesing in Januarie 2001 was die eerste verkiesing onder die 1997-grondwet, en daar is na verwys as die eerste korrupsie-vrye verkiesing in die geskiedenis van Thailand.[32] Die daaropvolgende regering was die eerste regering wat die volle vier-jaar termyn gedien het. Die verkiesings in 2005 het die grootste aantal stemmers getrek in die geskiedenis van Thailand en het 'n kenmerkende verlaging getoon in die aantal gekoopte stemme wat in vorige verkiesing opgemerk was.[33][34][35]
Aan die begin van 2006 het aansienlike druk van aantygings oor korrupsie daartoe gelei dat Thaksin Shinawatra 'n kitsverkiesing vereis, wat sou plaasvind vóór die geskeduleerde verkiesingsdatum. Die opposisie het die verkiesings geboikot en Thaksin was her-aangewys. Volgehoue, stygende druk het op 19 September 2006 tot 'n militêre staatsgreep gelei.
Ná die staatsgreep van 2006
'n Militêre junta, die Raad vir Nasionale Veiligheid ("Council for National Security"), het die verkose regering van Thaksin op 19 September 2006 omvergegooi. Koning Bhumibol Adulyadej het die dag na die staatsgreep die situasie bevestig met 'n koninklike verklaring. Die junta het die grondwet afgeskaf, die Parlement en die Geregshof ontbind, sommige lede van die regering aangehou en later verwyder, krygswet is verklaar en een van die Koning se privaatraadslede, Surayud Chulanont, as eerste minister aangestel. Die junta het 'n hoogs afgekorte oorgangsgrondwet opgestel en 'n paneel aangestel om 'n permanente grondwet te ontwerp. Die junta het ook 'n 250-lid wetgewende mag aangestel, waarna deur een kritiek verwys is as 'n "kamer van generale".[36][37] Die hoof van die junta was toegelaat om die eerste minister ter eniger tyd te verwyder. Die wetgewende mag was nie toegelaat om 'n mosie van wantroue in die Kabinet te lewer nie en die publiek was nie toegelaat om kommentaar op enige van die regte in te dien nie.[38]
Krygswet is in Januarie 2007 gedeeltelik herroep. Die junta hou egter aan om die media te sensor en word van 'n aantal menseregteskendings beskuldig. Die junta het ook alle politieke aktiwiteite en vergaderings tot Mei 2007 verban.
Thailand bly 'n aktiewe lid van die Association of Southeast Asian Nations (ASEAN).
Ekonomie
Thailand is 'n nuut geïndustrialiseerde land. Die term is 'n sosio-ekonomiese klassifisering wat gebruik word om te verwys na lande wat nog nie "eerste wêreld"-status bereik het nie, maar wat, in 'n makro-ekonomiese sin, reeds ander ontwikkelende lande verbygesteek het. Thailand het van 1985 tot 1995 die vinnigste groeikoers ter wêreld geniet, met 'n algemene koers van 9% per jaar. Die veranderings het egter verhoogde druk op Thailand se geldeenheid, die baht, uitgeoefen en 'n finansiële krisis in 1997 het swakhede in die finansiële sektor blootgestel. Na die baht vir 'n lang tydperk 'n vaste waarde gehad het van VS$1 vir 25 baht, het die Thai-regering die waarde van die baht vrygestel om deur die markkragte bepaal te word. As gevolg van die vrystelling het die baht egter in Januarie 1998 sy laagste waarde ooit behaal, toe VS$1 gelykstaande was aan 56 baht. Die ekonomie het ook in daardie jaar 10,2% van sy waarde verloor. Die ineenstorting het deel gevorm van die groter Asiatiese finansiële krisis.
Die land het later in 1998 'n herstellingsfase deurgegaan en die ekonomie het daardie selfde jaar met 4,2% gegroei en 'n verdere 4,4% gegroei in 2000. Die groei was grootliks te danke aan hul uitvoerhandel, wat met 20% in 2000 gestyg het. Die ekonomiese groei was ietwat gedemp in 2001, as gevolg van 'n verswakking in die wêreldwye ekonomie. Die groei is egter in die daaropvolgende jare hervat, danksy ekonomiese groei in die Volksrepubliek China en verskeie plaaslike ekonomie-stimuleringsprogramme deur die eerste minister Thaksin Shinawatra. Daar word ook na sy ekonomiese taktieke verwys as "Thaksinomics". Thailand het in 2003 en 2004 'n jaarlikse ekonomiese groei van net oor die 6% geniet, ondanks 'n verswakking in die wêreldwye ekonomie.[1]
Belegging het egter in 2006 gestagneer, na beleggers afgeskrik was deur die Thaksin-administrasie se politieke probleme. Die militêre staatsgreep in September 2006 het 'n nuwe ekonomiese span voorsien, onder leiding van die bestuurder van die voormalige sentrale bank. Die Thai Raad van Belegging het 'n daling van 27% in beleggingaansoeke tussen Januarie en November gerapporteer (in vergelyking met dieselfde tydperk van die vorige jaar). Uitvoerhandel het egter die hoogtes ingeskiet en het byna 17% gestyg in 2006.
Thailand voer jaarliks produkte met 'n gesamentlike waarde van meer as $105 miljard uit.[1] Van hulle grootste uitvoerprodukte sluit in rys, tekstiele en skoene, visprodukte, rubber, juwele, motorkarre, rekenaars en elektriese toestelle. Thailand is die wêreld se voorste uitvoerder van rys en voer jaarliks 6,5 ton verwerkte rys na lande regoor die wêreld uit. Rys is dus ook die belangrikste gewas in die land. Thailand het die hoogste persentasie van bewerkbare grond van al die nasies in die Groter Mekong Substreek: 27,25%.[39] Dié streek sluit onder ander die lande Viëtnam, Kambodja, Laos, Mianmar en die Yunnan-provinsie van die Volksrepubliek China in. Ongeveer 55% van die beskikbare grond word vir die produksie van rys gebruik.[19]
Belangrike bedrywe sluit in elektriese toestelle en onderdele, rekenaaronderdele en motorvoertuie. Toerisme verskaf ongeveer 5% van die ekonomie se bruto binnelandse produk.
Thailand se belangrikste natuurlike hulpbronne sluit in tin, rubber, aardgas, wolfram, tantaal, lood, vis, gips en bewerkbare landbougrond.
Toerisme
Toerisme is 'n belangrike ekonomiese faktor in Thailand. Dié industrie het 'n hupstoot gekry toe Amerikaanse soldate in die 1970's hier aangedoen het tydens ruspouses in die Viëtnamoorlog. In 2005 het die land ongeveer 13% buitelandse besoekers ontvang: 'n verhoging van 14% sedert 2004.
Volgens die Toerismeraad van Thailand is 65% van die land se besoekers vanuit Asië en die streke rondom die Stille Oseaan. Thailand ervaar sterk kompetisie met sy buurlande: Kambodja huisves die gewilde tempel Angkor Wat terwyl die stad Luang Prabang in Laos ook 'n uiters gewilde toeristebestemming is.
Ten spyte hiervan het Thailand 'n verskeidenheid trekpleisters, met onder ander duikplekke, strande, eksotiese eilande, argeologiese vondsplekke, museums, etniese en godsdienstige plekke en wêrelderfenisgebiede. Thailand beskik ook oor verskeie tempels van die Khmer-ryk soos die Sdok Kok Thom naby die grens met Kambodja.
Thailand besit die volgende Unesco-wêrelderfenisgebiede:[40]
- Ban Chiang – 'n argeologiese vondsplek.
- Die Dong Phaya Yen-bergreeks.
- Die Ayutthaya-park wat geleë is op die ruïnes van die antieke stad Ayutthaya.
- Die Sukhothai-park wat geleë is op die ruïnes van die antieke hoofstad Sukhothai.
- Die Thungyai- en Huai Kha Khaeng-wildreservate.
Die hoofstad van Thailand, Bangkok, is een van die gewildste toeristebestemmings in die wêreld: nommer drie volgens die tydskrif Travel and Leisure,[41] en die gewildste in Asië. Die stad spog met drie van die land se gewildste geskiedkundige plekke: Grand Palace (die eertydse woning van die koninklike familie) en die Boeddhistiese tempels Wat Pho en Wat Arun.
"Khaosan Road" is die naam van 'n kort straat in Bangkok wat tans bekend staan as die ghetto van rugsakstappers. Die straat huisves 'n aantal van Bangkok se goedkoper herberge en hotelle en baie toeriste gebruik die straat as 'n basis vir hul besoek aan die res van Thailand, aangesien daar gereëlde busdienste vanaf Khaosan Road na alle toeristebestemmings in Thailand loop.
Van die vernaamste internasionale lughawens vir toeriste in Thailand sluit in Don Mueang en Suvarnabhumi wat Bangkok bedien en Phuket Internasionale Lughawe op die toeriste-eiland Phuket. Thai Airways vorm Thailand se vlagdraerlugredery.
Verwysings
Bronnelys
Eksterne skakels
Wikiwand in your browser!
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.