From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Jura (Engels: Jurassic) is ’n geologiese periode van die Mesosoïese Era en strek van die einde van die Trias sowat 201,3 miljoen jaar gelede tot die begin van die Kryt sowat 145 miljoen jaar gelede. Die Jura is ook ’n chronostratigrafiese sisteem van die Mesosoïese erateem.
Periode/ sisteem |
Epog/ serie |
Tydsnede/ etage |
M. jaar gelede | |
---|---|---|---|---|
Kryt | Vroeg | Berriasium | jonger | |
Jura | Laat | Titonium | 145,0–152,1 | |
Kimmeridgium | 152,1–157,3 | |||
Oxfordium | 157,3–163,5 | |||
Middel | Callovium | 163,5–166,1 | ||
Batonium | 166,1–168,3 | |||
Bajosium | 168,3–170,3 | |||
Aalenium | 170,3–174,1 | |||
Vroeg | Toarsium | 174,1–182,7 | ||
Pliensbachium | 182,7–190,8 | |||
Sinemurium | 190,8–199,3 | |||
Hettangium | 199,3–201,3 | |||
Trias | Laat | Rhaetium | ouer | |
Die verdeling van die Jura (IKS). |
Die Jura is die middelste periode van die Mesosoïkum en is genoem na die Juragebergte in die Europese Alpe, waar kalksteenstrata uit die periode die eerste keer ontdek is.
Teen die begin van die Jura het die superkontinent Pangea uitmekaar begin dryf en twee landmassas, Laurasië in die noorde en Gondwana in die suide, gevorm. Dit het die kuslyn verleng en die kontinentale klimaat verander van droog tot vogtig, en baie van die woestyne van die Trias is vervang deur reënwoude. Daar was geen yskappe by die pole nie.
Die Jura het begin met die Trias-Jura-uitwissing. Die einde van die periode het egter geen duidelike, definitiewe grens met die Kryt nie; dit is die enigste grens tussen geologiese periodes wat amptelik ongedefinieer is.
Op die land het die dierelewe verander van die Trias se oorheersende Dinosauromorpha en Crocodylomorpha tot een wat slegs deur dinosourusse oorheers is. Die eerste voëls het ook in die Jura hulle verskyning gemaak nadat hulle uit ’n tak van die Theropoda ontwikkel het. Ander belangrike gebeurtenisse sluit in die verskyning van die eerste akkedisse en die evolusie van soogdiere.
In die oseane het seereptiele voorgekom soos Ichthyosauria en Plesiosauria, terwyl Pterosauria die oorheersende vlieënde gewerweldes was. Moderne haaie en rôe het die eerste keer in dié periode ontstaan en gediversifseer.
Die plantegroei het meestal uit varings en naaksadiges, insluitende naaldbome, bestaan. Baie moderne groepe het ook hulle verskyning gemaak.
Die chronostratigrafiese term "Jura" kom van die Juragebergte, 'n beboste bergreeks wat hoofsaaklik aan die grens tussen Frankryk en Switserland loop. Die naam kom van die Kelties vir "beboste berg", en is deur Latyn as 'n naam van 'n plek ontleen. Dit het later in Juria en eindelik Jura ontwikkel.
Tydens 'n toer van die streek in 1795 het die Duitse naturalis Alexander von Humboldt die koolstofdeposito's in die Juragebergte herken as geologies verskillend van die Triasoue Muschelkalk van Suid-Duitsland, maar hy het verkeerdelik afgelei dat hulle ouer is. Hy het dit toe in 1799 Jura-Kalkstein ("Jura-kalksteen) genoem.[1]
In 1829 het die Franse naturalis Alexandre Brongniart 'n boek gepubliseer met die naam Beskrywing van die Terreine wat die Kors van die Aarde uitmaak of Essay oor die Struktuur van die Bekende Grondgebiede van die Aarde. Hierin gebruik hy die frase terrains jurassiques wanneer hy 'n vergelyking tref tussen die "Jura-Kalkstein" van Humboldt en kalksteen van Brittanje van dieselfde ouderdom. So het hy die term wat later "Jura" geword het, geskep en gepubliseer.[2][1]
Die Duitse geoloog Leopold von Buch het in 1839 die drievoudige verdeling van die Jura daargestel: van die oudste tot die jongste die Swart, Bruin en Wit Jura.[3]
Die Franse paleontoloog Alcide d'Orbigny het in geskrifte tussen 1842 en 1852 die Jura in 10 stadiums verdeel, gebaseer op ammoniete en ander fossiele in Engeland en Frankryk. Sewe word steeds gebruik, maar nie een het sy oorspronklike definisie behou nie. Die Duitse paleontoloog Albert Oppel het in sy studies tussen 1856 en 1858 d'Orbigny se oorspronklike skema verander en die stadiums verder in biostratigrafiese sones verdeel, hoofsaaklik gebaseer op ammoniete. Die meeste van die moderne stadiums van die Jura is in 1962 by die Colloque du Jurassique à Luxembourg geformaliseer.[1]
Die periode Jura word in drie epogs verdeel: Vroeg, Middel en Laat. Net so word die Jura in stratigrafie verdeel in die series Onderste, Middelste en Boonste Jura. Geoloë verdeel die rotse van die Jura in 'n stratigrafiese stel eenhede wat etages genoem word, wat elk gevorm het tydens ooreenstemmende geologiese tydperke bekend as tydsnedes of tye.
Etages kan wêreldwyd of streeksgewys verdeel word. Globale etages word deur die Internasionale Kommissie vir Stratigrafie bekragtig.[1] Die tydsnedes/etages van die Jura kan regs heel bo gesien word.[4]
Die stratigrafie van die Jura is hoofsaaklik gebaseer op die gebruik van ammoniete as indeksfossiele. Die eerste verskyningsdatum van spesifieke taksons van ammoniete word gebruik om die begin van etages aan te dui, asook kleiner tydperke in etages, bekend as "ammonietsones". Hulle word soms weer verder verdeel in subsones. Globale stratigrafie is gebaseer op Europese standaard-ammonietsones.[1]
Die oudste deel van die Juraperiode is histories die Lias genoem. Dit stem rofweg ooreen met die Vroeë Jura, maar sluit ook 'n deel van die vroeëre etage Rhaetium in. Die etage Hettangium is in 1864 deur die Switserse paleontoloog Eugène Renevier genoem na Hettange-Grande in Noordoos-Frankryk.[1] Die begin van die Hettangium, en dus die Jura as geheel, word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Psiloceras spelae tirolicum in die Kendlbach-formasie by Kuhjoch.[5]
Die etage Sinemurium is in 1842 die eerste keer deur Alcide d'Orbigny gedefinieer en gebruik. Die naam kom van die Franse dorp Semur-en-Auxois, naby Dijon. Die begin van die etage word bepaal deur die eerste verskyning van die ammoniet Vermiceras quantoxense.[1][6]
Albert Oppel het die Pliensbachium in 1858 genoem na die dorp Pliensbach, naby Stuttgart, Duitsland. Die begin daarvan word bepaal deur die eerste verskyning van die ammoniet Bifericeras donovani.[7]
Die etage Toarsium is genoem na die dorp Thouars (Latyn: Toarcium) in die Loirevallei in Frankryk. Die grens is die eerste verskyning van ammoniete wat tot die subgenus Eodactylites behoort.[8]
Die Aalenium is genoem na die stad Aalen in Duitsland. Dit is in 1864 deur die Switserse geoloog Karl Mayer-Eymar gedefinieer. Die begin daarvan word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Leioceras opalinum.[9]
Alcide d'Orbigny het die etage Bajosium na die dorp Bayeux (Latyn: Bajoce) in Normandië, Frankryk, genoem. Die begin daarvan word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Hyperlioceras mundum.[10]
Die Batonium is in 1843 deur die Belgiese geoloog d'Omalius d'Halloy na die stad Bath, Engeland, genoem. Die begin word gedefinieer as die eerste verskyning van die ammoniet Gonolkites convergens, aan die begin van die Zigzagiceras zigzag-ammonietsone.[11]
Die Callovium se naam kom van die Latynse weergawe van die dorp Kellaways in England, en is in 1852 deur Alcide d'Orbigny benoem. Die begin daarvan is die eerste verskyning van die ammoniete wat tot die genus Kepplerites behoort.[12]
Die Oxfordium is in 1844 deur Alcide d'Orbigny genoem na die stad Oxford in Engeland, met verwysing na die Oxford-klei. Die onderste grens is die eerste verskyning van die ammoniet Quenstedtoceras mariae. Daaropvolgende voorstelle was die eerste verskyning van Cardioceras redcliffense as die begin van die etage.[1][12]
Die dorp Kimmeridge aan die kus van Dorset, Engeland, is die oorsprong van die naam Kimmeridgium. Die etage is in 1842 deur Alcide d'Orbigny bedink, met verwysing na die Kimmeridge-klei. Die onderste grens word gedefinieer as die eerste verskyning van ammoniete van die Bauhini- en Baylei-sone.[12]
Die Titonium is in 1865 deur Albert Oppel in wetenskaplike geskrifte begin gebruik. Die naam is ongewoon onder die name van geologiese etages, want dit kom uit die Griekse mitologie en is nie 'n pleknaam nie. Titonos was die seun van Laomedon van Troje en het verlief geraak op Eos, die Griekse godin van die daeraad. Albert Oppel het haar naam vir die etage gekies omdat die Titonium begin het met die daeraad van die Kryt-periode. Die begin daarvan word beskou as die eerste verskyning van die ammonietgenus Gravesia.[12]
Die boonste grens van die Jura is tans ongedefinieer; die grens tussen die Jura en die Kryt is die enigste stelselgrens sonder 'n definisie. Calpionellids, 'n enigmatiese groep planktonprotiste wat vir 'n kort ruk van die laat Jura tot die vroeë Perm volop was, is voorgestel as die beste kandidate vir die vasstelling van die Jura-Kryt-grens.[13] Veral die eerste verskyning van Calpionella alpina is voorgestel as die definisie van die begin van die Kryt.[14]
Die Kimmeridge-klei en ekwivalente is die grootste bronrots vir die Noordsee-olie.[15] Die Arabiese Intrabankbekken, wat tydens die Middel- en Laat Jura neergelê is, is die terrein van die wêreld se grootste oliereserwes, insluitende die Ghawarveld, die wêreld se grootste olieveld.[16]
Die Jura-oue Sargelu-[17] en Naokelekan-formasies[18] is groot bronrotse vir oliereserwes in Irak. Meer as 1 500 gigaton Jurasteenkoolreserwes word in Noordwes-China aangetref, hoofsaaklik in die Turpan-Hami- en Ordos-bekken.[19]
Groot slagkraters sluit in die Morokweng-slagkrater, 'n inpakstruktuur met 'n deursnee van 70 km onder die Kalahariwoestyn in noordelike Suid-Afrika. Dit dateer van die Titonium, sowat 146,06 ± 0,16 miljoen jaar gelede.[20]
Nog 'n groot slagkrater is die Poetsjezj-Katoenki-krater, met 'n deursnee van 40 km, onder Nizjni Nowgorod-oblast in Wes-Rusland. Die impak dateer van die Sinemurium, 195,9 ± 1,0 miljoen jaar gelede.[21]
Aan die begin van die Jura was die hele landmassa van die Aarde verenig in die superkontinent Pangea. Dié het in die Vroeë Jura begin opbreek in die noordelike superkontinent, Laurasië, en die suidelike superkontinent, Gondwana.[22] Die eerste skeuring was tussen Noord-Amerika en Afrika, in die Vroeë Jura.[23]
Gedurende die Jura het die noordelike Atlantiese Oseaan relatief smal gebly, terwyl die suidelike Atlantiese Oseaan eers in die Kryt ontstaan het.[24][23] Die kontinente was omring deur Panthalassa, met die Tetisoseaan tussen Gondwana en Asië. Aan die einde van die Trias het die seevlakke gestyg en die grootste dele van Sentraal- en Wes-Europa is oorvloei. Dit het verander in 'n argipel eilande wat deur vlak seë omring was.[25]
Gedurende die Jura was die noord- en suidpool met oseane bedek.[22] Aan die begin van die Vroeë Jura was die Boreale Oseaan verbind aan die Proto- Atlantiese Oseaan deur die "Wikingkorridor", of Transkontinentale Laurasiese Seekanaal, van 'n paar honderd kilometer breed.[26][27] Tydens die Callovium het die Toergai- Epikontinentale See gevorm, en dit het 'n seegrens tussen Europa en Asië gevorm.[28]
Madagaskar en Antarktika het in die laat Vroeë Jura van Afrika begin wegdryf saam met die uitbarsting van die Karoo-Ferrar- groot vulkaniese provinsies, en dit het die westelike Indiese Oseaan geopen en die verbrokkeling van Gondwana begin.[29][30]
Aan die begin van die Jura was Noord- en Suid-Amerika nog verbind, maar teen die begin van die Laat Jura het hulle van mekaar weggedryf en die Karibiese Seekanaal, ook bekend as die Spaans-Amerikaanse Korridor, gevorm wat die Noord-Atalantiese Oseaan met Oos-Panthalassa verbind het. Paleontologiese data dui daarop dat die seekanaal sedert die Vroeë Jura oop kon gewees het.[31]
In die Vroeë Jura, sowat 190 miljoen jaar gelede, het die Pasifiese Plaat ontstaan by die driedubbele aansluiting van die Farallon-, Phoenix- en Izanagiplaat, die drie belangrikste seeplate van Panthalassa. Die voorheen stabiele driedubbele aansluiting het verander in 'n onstabiele rangskikking wat aan alle kante omring was deur oorgangsfoute weens 'n kinkel in een van die plaatgrense. Dit het daartoe gelei dat die Pasifiese Plaat in die middel van die aansluiting ontstaan het.[32] In die Middel- tot vroeë Laat Jura het die Sundanceseekanaal, 'n vlak binnelandse see, die grootste deel van Noord-Amerika bedek.[33]
Die eustatiese seevlak (die afstand van die middel van die Aarde tot die seeoppervlak) was na raming in die Hettangium en Sinemurium naby die huidige vlakke, en het in die Sinemurium tot die Pliensbachium verskeie tiene meters gestyg en in die laat Pliensbachium weer gedaal tot die huidige vlak. Dit lyk of daar in die Toarsium 'n geleidelike styging tot 'n maksimum van ~75 m bo die huidige vlak was. In die laaste deel van die Toarsium het die seevlak weer eens met verskeie tiene meters gedaal. Dit het daarna, op die grens tussen die Kimmeridgium en Titoniumn, weer gestyg tot 'n moontlike 140 meter bo die huidige vlak totdat dit weer gedaal het.
In die Vroeë Jura het die wêreld se oseane verander van 'n aragonietsee- tot 'n kalsietsee-chemie, met 'n voorkeur vir die oplossing van aragoniet en die neerslag van kalsiet.[34] Die vermeerdering van kalkagtige plankton in die Middel-Jura het die chemie van die see verander, met die neerslag van biogemineraliseerde plankton op die seebodem wat as 'n buffer gedien het teen groot CO2-vrystellings.[35]
Die klimaat van die Jura was oor die algemeen warmer as vandag s'n (sowat 5-10 °C warmer), met die koolstofdioksied in die aardatmosfeer wat waarskynlik sowat vier keer meer was. Koue tussenposes het egter in dié tyd voorgekom en die andersins warm kweekhuisklimaat onderbreek.[36] Woude het waarskynlik naby die pole gegroei waar hulle warm somers en koue, soms sneeuryke winters ondervind het. Dit is onwaarskynlik dat daar ysplate was, aangesien die hoë somertemperature die versameling van sneeu voorkom het. Daar kon egter gletsers gewees het.[37] Druipstene en glendoniete in Noordoos-Siberië in die Vroeë en Middel-Jura dui op koue winters.[38]
Die diep oseane was waarskynlik 8 °C warmer as vandag, en koraalriwwe het 10° verder suid en noord gegroei. Die Intertropiese Konvergensiesone het waarskynlik oor die oseane voorgekom en gelei tot groot gebiede woestyn en struiklande by die laer breedtegrade 40° N en S van die ewenaar. Tropiese reënwoude en toendrabiome was waarskynlik skaars of afwesig.[37]
In die Jura het Pangea se megamoesonwinde, wat die voorafgaande Perm en Trias gekenmerk het, ook afgeneem.[39] Afwisselings in die voorkoms van veldbrande in die Jura is beheer deur die 405 000-jaar-eksentrisiteitsiklus.[40] Danksy die opbreking van Pangea is die hidrouliese siklus gedurende die Jura aansienlik verbeter.[41]
Die begin van die Jura is waarskynlik gekenmerk deur 'n termiese opbloei wat ooreenstem met die Trias-Jura-uitwissing en die uitbarsting van die Sentraal-Atlantiese vulkaniese provinsie. In die eerste deel van die Jura was daar die Vroeë Jura se koel tussenpose, tussen 199 miljoen en 183 miljoen jaar gelede.[38] Daar is voorgestel ysvorming was teenwoordig in die Noordelike Halfrond tydens beide die vroeë[42] en laaste deel van die Pliensbachium.[43][44] Wêreldwye temperature het met sowat 4-8 °C gestyg tussen die vroeë deel van die Toarsium en die einde van die etage sowat 174 miljoen jaar gelede.[38] Tydens die warm tussenpose van die Toarsium was oseaanoppervlakke waarskynlik warmer as 30 °C, en ekwatoriale en subtropiese (30°N-30°S) streke was waarskynlik uiters droog, met temperature in die binneland van Pangea waarskynlik hoër as 40 °C. Dié warm tussenpose is gevolg deur die Middel-Jura se koel tussenpose tussen 174 miljoen en 164 miljoen jaar gelede.[38] Dit kon afgewissel gewees het deur kort ystussenposes.[45][46]
'n Kortstondige ystydperk het moontlik in die laat Bajosium voorgekom.[47] Tussen die Callovium en Oxfordium was daar 'n wêreldwye afkoeling,[48] moontlik selfs 'n ystydperk.[49] Dit is gevolg deur 'n warm tussenpose in die Kimmeridgium, tussen 164 miljoen en 150 miljoen jaar gelede.[38] Volgens die verspreiding van fossielhout was dit een van die natste tydperke van die Jura.[50]
Die einde van die Jura word gekenmerk deur die Titonium se koel tussenpose, wat 150 miljoen jaar gelede begin en tot in die Vroeë Kryt geduur het.[38]
Naaldbome het 'n groot deel van die flora van die Jura uitgemaak. In die Laat Trias en die Jura was daar 'n groot diversifikasie van naaldbome, met die meeste moderne naaldboomgroepe wat teen die einde van die Jura in die fossielrekord verskyn het nadat hulle uit hulle Voltziales-voorouers ontwikkel het.[51]
Naaldbome van die familie Araucariaceae het in die Vroeë Jura hulle verskyning gemaak en lede van die moderne genus Araucaria was teen die Middel-Jura in albei halfrondes wydverspreid.[52][53]
Ginkgoales, waarvan die enigste oorlewende spesie Ginkgo biloba is, was uiteenlopender gedurende die Jura: Hulle was onder die belangrikste komponente van Eurasiese flora en was by 'n wye verskeidenheid klimaatstoestande aangepas.[54]
Broodbome het die hoogtepunt van hulle diversiteit in die Jura en Kryt beleef.[55] Hoewel die Mesosoïkum soms die "tydperk van die broodbome" genoem word, was broodbome vermoedelik 'n relatief klein deel van die Middel-Mesosoïkum se flora.[56] Die Nilssoniales was algemener en is dikwels as broodbome of hulle verwante beskou. Daar is egter bevind hulle was 'n afsonderlike plant en het uitgesterf.[57]
Die verwantskap tussen Mesosoïese en moderne broodbome is twyfelagtig,[56] en geen broodbome van die Jura behoort tot enige van die twee moderne groepe nie. Ook wydverspreid in die Jura was die uitgestorwe Ctenis-lyn, wat lyk of dit ver verwant was aan moderne broodbome.[58]
Hoewel daar 'n paar bewerings is, lyk dit nie of daar aanvaarde fossielrekords uit die Jura is van blomplante, wat vandag 90% van plante uitmaak, nie. Dit lyk volgens fossiele of die groep in die daaropvolgende Kryt gediversifiseer het.[59]
Daar was verskeie families varings in die Jura,[60][61] maar daar is geen rekord van Polypodiales, wat vandag 80% van varings uitmaak, nie; dit lyk of hulle in die Kryt gediversifiseer het.[62] Die Cyatheales, die groep wat die meeste moderne boomvarings bevat, het in die Laat Juta hulle verskyning gemaak.
Die Trias-Jura-uitwissing het die verskeidenheid van Pseudosuchia uitgedun en die Crocodylomorpha, wat in die vroeë Laat Jura ontstaan het, was die enigste groep wat oorleef het. Alle ander groepe het uitgesterf.[63]
Skilpaaie (Testudinata) het gedurende die Jura gediversifiseer. Skilpaaie uit die Jura het tot twee meer gevorderde klades, die Mesochelydia en Perichelydia, behoort.[64] Die voorsate van die Mesochelydia was vermoedelik waterskilpaaie, terwyl dié van die Testudinata waarskynlik landskilpaaie was.[65] Die moderne groepe skilpaaie (Testudines, Pleurodira en Cryptodira) het aan die begin van die laat Jura gediversifiseer.[64]
Rhynchocephalia, waarvan die enigste lewende verteenwoordiger die tuatara) is, het aan die begin van die Jura wêreldwyd versprei[66] en was die oorheersende groep klein reptiele tydens die Jura.[67] Hulle het die grootste morfologiese diversiteit van hulle evolusionêre geskiedenis in die Jura bereik en 'n groot verskeidenheid lewenstyle gehad, insluitende die akwatiese pleurosourides met lang, slangagtige lywe en kort ledemate, die gespesialiseerde, plantvretende Eilenodontinae en die Sapheosauria, wat breë tandplate gehad het wat op die eet van harde skelette dui.[68]
Die laaste gemeenskaplike voorsaat van lewende Squamata (wat akkedisse en slange insluit) het sowat 190 miljoen jaar gelede tydens die Vroeë Jura gelewe, terwyl groot skeidings tussen moderne Squamata-lyne na raming in die Vroeë tot Middel-Jura plaasgevind het.[69]
Plesiosauria het aan die einde van die Trias (Rhaetium) ontstaan. Teen die einde van dié periode het alle ander Sauropterygia uitgesterf. Minstens ses lyne van Plesiosauria het die Trias-Jura-grens oorgesteek.[70]
Plesiosauria was reeds in die Vroeë Jura uiteenlopend. Die vroeë spesimens het gewoonlik klein liggame gehad, wat tot in die Toarsium in grootte toegeneem het.[71] Plesiosauria het in die Jura varswateromgewings oorgeneem, en oorblyfsels van Pleisosauria met klein liggame is in die varswaterneerslae van China en Australië ontdek.[72][73]
Pterosauria het in die Laat Trias vir die eerste keer verskyn. Hulle was vermoedelik visvretend.[74] Anurognathidae, wat in die Middel-Jua vir die eerste keer ontstaan het, was waarskynlik insekvreters.[74]
Dinosourusse, wat in die Laat Trias morfologies gediversifseer het, het in die Vroeë Jura 'n toename in uiteenlopendheid en getalle beleef ná die einde van die Trias-Jura-uitwissing en die uitsterwing van ander reptielgroepe. Hulle het in aard-ekostelsels die oorheersende gewerweldes geword.[75][76]
Gevorderde Theropoda wat tot Neotheropoda behoort het, het in die Laat Trias die eerste keer verskyn. Basale neoteropodes het tot in die Vroeë Jura oorleef, maar het in die Middel-Jura uitgesterf.[77] Die vroegste Averostra het in die Vroeë Jura verskyn, vanaf die vroeë Sinemurium (199,3-197,5 miljoen jaar gelede) van Italië.[78] Die ongewone Ceratosauria-genus Limusaurus van die laat Jura van China het plante gevreet[79] en was die vroegste bekende teropode wat afgewyk het van sy voorouers se vleisdieet.[80]
Die oudste lid van Allosauroidea was vermoedelik die Asfaltovenator van die Middel-Jura van Suid-Amerika.[81]Coelurosauria het in die Middel-Jura die eerste keer verskyn, insluitende die vroeë Tyrannosauridae soos Proceratosaurus uit die Bathonium van Brittanje.[82]
Scansoriopterygidae, 'n groep klein, geveerde Coelurosauria met vlermuisagtige vlerke vir sweef is bekend uit die Middel- en Laat Jura van China.[83] Die oudste rekord van Troodontidae is vermoedelik Hesperornithoides uit die Laat Jura van Noord-Amerika.
Die vroegste Avialae, wat voëls en hulle voorsate insluit, het in die Middel- tot Laat Jura hulle verskyning gemaak. Hulle is verteenwoordig deur die Archaeopteryx uit die Laat Jura van Duitsland. Avialae behoort tot die klade Paraves in Coelurosauria, wat ook Dromaeosauria en Troodontidae insluit.
Die vroegste definitiewe Ornithischia het in die Vroeë Jura verskyn. Hulle is verteenwoordig deur basale ornitiskiums soos Lesothosaurus, Heterodontosauridae en vroeë lede van Thyreophora. Die vroegste lede van Ankylosauria en Stegosauria het in die Middel-Jura verskyn.[84] Die basale Neornithischia Kulindadromeus uit die Middel-Jura van Rusland dui aan dat minstens sommige ornitiskiums met protovere bedek was.[85]
Sauropoda het tydens die Jura die oorheersende groot plantvreters in aard-ekosisteme geword.[86] Sommige souropodes van die Jura het reusagtig geword en was die grootste organismes wat ooit op land gelewe het.[87]
Basale, tweepotige Sauropodomorpha het tot in die Vroeë Jura bestaan, maar het aan die begin van die Middel-Jura uitgesterf.[86] Vierpotige souropodomorfe het in die Laat Trias verskyn. Die vierpotige Ledumahadi uit die Vroeë Jura van Suid-Afrika het 'n geraamde gewig van 12 ton gehad, veel groter as ander bekende basale souropodomorfe.[88]
Die uiteenlopendheid van Temnospondyli, wat as klein amfibieë beskou word, het in die Laat Trias progressief afgeneem, met net Brachyopoidea wat tot in die Jura en daarna oorleef het.[89] Lede van dié familie is bekend van deposito's uit die Jura in Asië.[90] Moderne Lissamphibia het in die Jura begin diversifiseer. Die Prosalirus van die Vroeë Jura is vermoedelik die eerste verwant van die padda wat soos moderne paddas kon hop.[91]
Moderne kroongroeppaddas soos Enneabatrachus en Rhadinosteus het in die Laat Jura verskyn.[92] Hoewel die eerste salamanderlyn amfibieë uit die Trias bekend is,[93] het moderne kroongroepsalamanders en hulle verwante die eerste keer in die Middel- tot Laat Jura in Eurasië verskyn.
Mammaliaformes, insluitende soogdiere, het aan die einde van die Trias uit die Cynodontia ontwikkel en baie in die Jura gediversifiseer.[94] Hoewel die meeste Mammalaliaformes van die Jura slegs van geïsoleerde tande en kakebeenfragmente bekend is, het oorblyfsels wat besonder goed bewaar is, 'n verskeidenheid leefstyle onthul.[94] Die Docodonta Castorocauda was by lewe in die water aangepas, nes die eendbekdier en otter.[95] Sommige lede van Haramiyida[96] en ander diere[97] het 'n vlieghuid gehad soos vlieënde eekhorings en kon deur die lug sweef.
Die aardvarkagtige soogdier Fruitafossor was waarskynlik 'n spesialis van koloniale insekte, soortgelyk aan die ietermago.[98] Die vroegste rekords van multituberkulate, van die langs lewende en suksesvolste ordes soogdiere, is uit die Middel-Jura bekend.[99]
Theria, wat vandag verteenwoordig word deur plasenta- en buideldiere, se vroegste rekords kom uit die Vroeë Jura.[100] Dié dier, Juramaia, is besonder gevorderd vir sy ouderdom, want ander lede van Theria is eers uit die Vroeë Kryt bekend.[101]
Die laaste bekende spesies van Conodonta, 'n klas kaaklose vis waarvan die harde, tandagtige elemente sleutelindeksfossiele is, het eindelik in die vroeë Jura uitgesterf ná 'n evolusionêre geskiedenis van meer as 300 miljoen jaar.[102] Die Conodonta is aan die einde van die Trias deur net 'n handvol spesies verteenwoordig en getalle het progressief afgeneem deur die Middel- en Laat Trias.[103]
Longvisse (Dipnoi) was in die Jura in albei halfrondes in varswateromgewings teenwoordig.[104] Sommige studies het voorgestel die laaste gemeenskaplike voorouer van alle moderne longvisse het tydens die Jura gelewe.[105] Mawsoniidae, 'n see- en varswaterselakant wat in die Trias die eerste keer in Noord-Amerika verskyn het, het teen die einde van die Jura na Europa en Suid-Amerika uitgebrei.[106]
Die seevis Latimeriidae, wat die lewende selakante van die genus Latimeria bevat, was ook in die Jura teenwoordig nadat hulle in die Trias ontstaan het. Hulle kom in 'n paar rekords uit die Jura van Europa voor.[107]
Straalvinvisse (Actinopterygii) het 'n groot deel uitgemaak van varswater- en mariene ekostelsels van die Jura. Argaïese "Palaeonisciformes", wat in die Trias in beide mariene en varswaterhabitats algemeen was, het gedurende die Jura minder geraak en is in 'n groot mate deur primitiewer Actinopterygii-lyne vervang.[108] Die oudste bekende Acipenseriformes, die groep wat moderne steure bevat, kom uit die Vroeë Jura.[109]
Tydens die Jura was die Ginglymodi, waarvan die enigste lewende lid die geep (Lepisosteidae) is, uiteenlopend in beide varswater- en mariene omgewings. Die oudste bekende verteenwoordigers van anatomies moderne gepe het in die Laat Jura verskyn.[110]
In die Vroeë Jura was die haaiagtige Hybodontiformes, wat die oorheersende groep kraakbeenvisse (Chondrichthyes) tydens die voorafgaande Trias verteenwoordig het, algemeen in beide mariene en varswateromgewings; teen die Laat Jura het die Hybodontiformes egter 'n klein komponent van die meeste mariene gemeenskappe geword. Hulle is in 'n groot mate deur moderne Neoselachii vervang, maar het algemeen in varswater- en beperkte mariene omgewings gebly.[111][112]
Die Neoselachii, wat alle lewende haaie en rôe insluit, het aan die begin van die Vroeë Jura versprei.[113]
Dit lyk of daar 'n groot uitsterwing van insekte by die grens tussen die Trias en Jura was.[114] Baie belangrike terreine met insekfossiele is bekend uit die Jura van Eurasië, waarvan die belangrikstes die Karabastau-formasie van Kazachstan en die verskeie Yanliao-biotaneerslae in Binne-Mongolië, China, is. Die uiteenlopendheid van insekte het stagneer deur die hele Vroeë en Middel-Jura, maar in die laaste derde van die Jura het aansienlik meer insekte ontstaan terwyl die uitsterwingstempo dieselfde gebly het.[115]
Die toenemende diversiteit van insekte in die Middel- tot Laat Jura stem ooreen met die aansienlike toename in die diversiteit van insekmonddele.[116]
In die Middel- tot Laat Jura was daar 'n groot diversifikasie van kewers.[117] Snuitkewers het in die Middel- tot Laat Jura in die fossielrekord begin verskyn, meer het vermoedelik in die Laat Trias tot vroeë Jura ontstaan.[118]
Die oudste bekende Lepidoptera (vlinders), die groep wat skoenlappers en motte insluit, is bekend van die Trias-Jura-grens.[119] Moderne verteenwoordigers van beide naaldekokers en waterjuffers het ook in die Jura verskyn.[120]
Hoewel moderne verteenwoordigers eers uit die Kainosoïkum bekend is, is ektoparasitiese insekte, wat vermoedelik vlooie verteenwoordig en tot die familie Pseudopulicidae behoort, bekend van die Middel-Jura van Asië. Diè insekte het aansienlik van moderne vlooie verskil en was groter.[121][122] Parasitoid-perdebye (Apocrita) het in die Vroeë Jura hulle verskyning gemaak en het daarna wydverspreid voorgekom.[123]
Spinnekoppe het in die Jura gediversifiseer.[124] Seppo koponeni van die Vroeë Jura verteenwoordig dalk 'n stamgroep van Palpimanoidea, wat ook sluipmoordspinnekoppe genoem word.[125] Die enigste skerpioen uit die Jura is Liassoscorpionides uit die Vroeë Jura van Duitsland.[126]
In die uitwissing aan die einde van die Trias het 46-72% van alle mariene genusse uitgesterf. Die uitwerking van die uitsterwing was die grootste by die tropiese breedtegrade en erger in Panthalassa as die Tetis- of Boreale Oseaan. Tropiese rif-ekostelsels het in die voorval ineengestort en sou nie herstel tot veel later in die Jura nie.
Riwwe het by die grens tussen die Trias en Jura afgeneem, en het eers weer in die Laat Jura herstel. Dit sluit sponsdierriwwe en steenkoraalriwwe in. Riwwe het weer sterk afgeneem aan die einde van die Jura,[127] en dit het ook 'n afname in die diversiteit van Decapoda-, of tienpotige, skaaldiere tot gevolg gehad.[128]
Coccolithophore en Dinoflagellate, wat in die Trias begin verskyn het, het in die Vroeë en Middel-Jura versprei en prominente lede van die fitoplankton geword.[129] Die oudste bekende diatoom (kieselwier) is uit die Laat Jura van Thailand.[130]
Seelelies het in die Jura gediversifiseer en die hoogtepunt van hulle Mesosoïese uiteenlopendheid in die Laat Jura bereik, hoofsaaklik danksy die verspreiding van steellose vorme van die ordes Cyrtocrinida en Millericrinida.[131] Echinoidea (seekastaiings) het ook aan die begin van die Vroeë Jura aansienlike diversifikasie ondergaan, wat hoofsaaklik aangedryf is deur die verspreiding van onreëlmatige (asimmetriese) vorme. Die tempo van diversifikasie het in die Laat Jura aansienlik gedaal.[132]
Die Jura was 'n belangrike tyd vir die evolusie van tienpotiges (Decapoda).[128] Die eerste ware krappe is uit die Vroeë Jura bekend. Die meeste krappe uit die Jura is net bekend van harde borsstukke, en dit maak dit moeilik om hulle verwantskap te bepaal.[133]
Krappe was skaars in die Vroeë en Middel-Jura, maar het in die Laat Jura volop geraak namate hulle van hulle voorouers se slikkerige seebodemhabitat beweeg het na harde substratahabitats soos riwwe, waar hulle teen roofdiere beskerm was.[133][128]
Die uitsterwing aan die einde van die Trias het ernstige gevolge vir die tweekleppiges (Bivalvia) ingehou, maar die uitwerking was plek-plek en het min effek op hulle ekologiese diversiteit gehad.[134] Die getalle van die families het staties gebly, maar die genusse het deur die periode toegeneem.[135]
Ammoniete is verwoes in die uitsterwing aan die einde van die Trias, en net 'n handvol genusse het oorleef. Hulle het die voorouers geword van alle latere ammoniete van die Jura en Kryt. Ammoniete het ontploffend gediversifiseer in die Vroeë Jura, met vyf ordes wat in die Jura ontstaan het. Ammoniete is in die Jura in sowat 20 aparte provinsies en subprovinsies verdeel: die noordelike hoëliggingryk die Pan-Boreale Ryk, wat bestaan het uit die Arktiese, Noord-Panthalassa- en Noord-Atlantiese streek; en die ekwatoriaal-suidelike Pan-Tetis-ryk, wat die Tetis en die grootste deel van Panthalassa ingesluit het.[136]
Die oudste definitiewe rekords van die pylinkvisagtige Belemnitida is uit die vroegste Jura (Hettangium-Sinemurium) van Europa en Japan; hulle het in die Jura wêreldwyd versprei.[137] Belemnitida het in die vlak water gebly en het in die boonste 200 meter van die waterkolom op die kontinentale platte en in die sones naby die oseane voorgekom. Hulle was sleutelkomponente van die Jura se ekostelsels, beide as roofdiere en prooi.[138]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.