staat van die Verenigde State van Amerika From Wikipedia, the free encyclopedia
Alabama (Engels: [ˌæləˈbæmə], ), amptelik die Deelstaat Alabama (Engels: State of Alabama), is 'n deelstaat in die suidooste van die Verenigde State. Met 'n bevolking van meer as 4,8 miljoen en 'n oppervlakte van 135 765 vierkante kilometer is dit die 30ste grootste en die 23ste mees bevolkte Amerikaanse deelstaat. Die hoofstad is Montgomery, maar byna 'n kwart van die bevolking is in die metropolitaanse gebied van Birmingham, die grootste stad in Alabama, saamgetrek.
Deelstaat Alabama | |||||
| |||||
Bynaam(e): The Heart of Dixie, The Yellowhammer State, The Cotton State (almal nie-amptelik) | |||||
Amptelike taal(e) | Engels | ||||
Hoofstad | Montgomery | ||||
Grootste stad | Birmingham | ||||
Area | 30ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 135 765 km2 | ||||
- Wydte | 306 km | ||||
- Lengte | 531 km | ||||
- Water | 4 338 km2 | ||||
- % water | 3,20 % | ||||
- Breedtegraad | 30° 11′ N tot 35° N | ||||
- Lengtegraad | 84° 53′ W tot 88° 28′ | ||||
Bevolking | 23ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 4 833 722 | ||||
- Digtheid | 36,8/km2 27ste in die V.S. | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | Berg Cheaha 734 m | ||||
- Gemiddeld | 152 m | ||||
- Laagste punt | Golf van Meksiko seevlak | ||||
Toetrede tot die Unie | 14 Desember 1819 (22ste) | ||||
Goewerneur | Kay Ivey (R) | ||||
Luitenant-Goewerneur | Will Ainsworth (R) | ||||
Wetgewer | Alabama Wetgewer | ||||
- Hoërhuis | Alabama Senaat | ||||
- Laerhuis | Alabama Huis van Verteenwoordigers | ||||
V.S. Senatore | Tommy Tuberville (R) Katie Britt (R) | ||||
Tydsone | Sentrale Standaardtyd: UTC-6 / UTC-5 | ||||
Afkortings | AL US-AL | ||||
Webblad | www.alabama.gov | ||||
Alabama word in die noorde deur Tennessee, in die ooste deur Georgia, in die suide deur Florida en die Golf van Meksiko, en in die weste deur Mississippi begrens. Hierdie ligging maak van Alabama die geografiese sentrum van die Amerikaanse Diep Suide.
Die deelstaat bestaan naas die kusgebied hoofsaaklik uit vlaktes waardeur die Tombigbee-, Black Warrior- en Alabamariviere vloei, asook dele van die Tennessee-vallei en Cumberland-plato in die noorde. Histories het Alabama veral bekend gestaan vir sy katoenplantasies en wit marmer-steengroewe.
Die kenmerkende diversiteit van sy landskappe, geologie en topografie gee 'n besondere karakter aan Alabama. Tussen die Appalache-bergreeks en die kusvlaktes van die Golf van Meksiko word van die rykste natuurlike flora- en faunahabitatte in die Verenigde State aangetref. Die Tennessee-riviervallei in die uiterste noorde van die deelstaat is danksy sy vrugbare grond uiters geskik vir landbou. Die ruwe bergterrein van die Appalache-reeks se suidoostelike uitlopers strek vanaf Noordoos-Alabama in suidwestelike rigting.
Die Black Belt, wat sy naam aan sy donker vrugbare grond te danke het en as hartland van die katoenbedryf 'n beslissende rol in die geskiedenis van Alabama gespeel het, is aan die voet van die bergreeks geleë. Suid daarvan word dennebosse en kusvlaktes aangetref wat tot by die mosbedekte eikeboom-landskap van Mobile, Alabama se belangrikste seehawe, en die wit sandstrande van die Golf van Meksiko strek.
Maar ondanks sy mineraalrykdomme en groot watervoorrade is Alabama vir die grootste deel van sy geskiedenis met armoede en ekonomiese agterlikheid verbind. Onafhanklikheidsgesinde grootgrondbesitters, wat slegs 'n klein persentasie van Alabama se blanke bevolking verteenwoordig en alle politieke, ekonomiese en kulturele invloede van buite afgeweer het, het daarin geslaag om swart bewoners as slawe op hulle katoenplantasies aan te hou en groot rykdom te versamel. Op die hoogtepunt van dié proses het hulle in 1861 saam met die heersende elites van ander suidelike deelstate die besluit geneem om die Unie te verlaat en as Gekonfedereerde State voort te gaan met 'n politieke en ekonomiese stelsel wat op die uitbuiting van swart mannekrag berus het.
Die gevolge was rampspoedig. Meer as 'n vyfde van die ekonomies aktiewe blanke mans het in die Amerikaanse Burgeroorlog gesneuwel, terwyl die opheffing van slawerny deur die seëvierende Noordstate honderde miljoene se kapitaal in die suidelike landbousektor vernietig het.
Nogtans het die Noorde uiteindelik nie daarin geslaag om sy politieke liberale strukture in die Suidstate te vestig nie. Konserwatiewe blankes het hul oorheersende invloed op Alabama se politieke en ekonomiese lewe herwin en hul eie stelsel van rasseskeiding gevestig wat tot in die sestigerjare van die 20ste eeu sou voortduur en waarin swart bewoners net soos armblankes van hul politieke regte ontneem is.
Dié stelsel, wat deur sommige waarnemers as 'n voortsetting van die Burgeroorlog beskryf is, is ook nie deur die proses van ekonomiese omwenteling en industrialisering geraak nie. Alabama se katoenmonokultuur het sy agteruitgang met die vestiging van nuwe nywerhede beleef, terwyl die swaartepunt van ekonomiese aktiwiteite van Mobile se hawe en ander nedersettings langs die groot riviere na nuwe stedelike sentra in die binneland verskuif het wat deur spoorweë met mekaar en ander dele van die VSA verbind is.
Met Alabama se nuwe grondwet, wat in 1901 afgekondig is, is alle politieke weerstand in landelike gebiede hardhandig verwyder en die ou konserwatiewe stelsel van blanke oorheersing, ras- en klasverdeling vasgeskryf. Die grootste deel van Afro-Amerikaners het, net soos baie armblankes en blankes uit die werkersklas, feitlik hul stemreg verloor.
In die 1960's het die Burgerregtebeweging protes teen die politieke wantoestande aangeteken. Maar eers deur die intervensie van die Amerikaanse Kongres, die federale regering en federale howe kon die stryd teen die politieke onreg momentum kry. Alabama se landbou en swaar nywerhede is in die proses in 'n krisis gedompel, terwyl die rassekonflik in groot stede soos Birmingham en Montgomery geleidelik handuit geruk het. Alabama se politieke leiers kon nie langer daarop aanspraak maak dat hulle die pad vir die ekonomiese vooruitgang en nasionale leierskap van die "Nuwe Suide" sou berei.
Ná dekades van agteruitgang en verval het Alabama in die laaste kwart van die 20ste eeu ekonomiese en politieke hernuwing beleef. Stede soos Huntsville, Birmingham, Montgomery en Mobile het volgehou met 'n nuwe groeifase namate steeds meer Afro-Amerikaners tot die hoofstroom van die politieke, ekonomiese en kulturele lewe toegetree het. Vandag floreer die deelstaat in die geglobaliseerde wêreldekonomie, terwyl 'n nuwe generasie van verligte entrepreneurs die pad na rasversoening, maatskaplike vooruitgang, sosiale geregtigheid en opvoedkundige modernisering definieer.[1]
Die Europees-Amerikaanse benaming van die deelstaat en die gelyknamige rivier is afgelei van die Alabama, 'n Indiaanse stam van die Muskogee-taalgroep wat oorspronklik hoër geleë gebiede naby die samevloeiing van die Coosa- en Tallapoosa-riviere bewoon het.[2] In die Alabama-taal word na 'n bewoner van die deelstaat as Albaamo verwys (ander vorme soos Albaama of Albàamo kom in plaaslike dialekte voor; die meervoudsvorm is Albaamaha).[3]
Die huidige mening is dat die Alabama-Indiane hul eie naam uit die verwante Choctaw-taal ontleen het.[4] Historiese bronne verskil ten opsigte van sy spelling. Die oudste dokumente, waarin dit as Alibamo voorkom, is drie verslae oor die ontdekkingsreis wat Hernando de Soto saam met Garcilaso de la Vega in 1540 onderneem het. Die Ridder van Elvas en Rodrigo Ranjel gee dit in hul transkripsies respektiewelik as Alibamu en Limamu weer. Reeds vanaf 1702 het Franse bronne na die stam as Alibamon verwys, terwyl die rivier se naam op Franse kaarte as Rivière des Alibamons aangedui word. Ander bekende historiese spellings sluit Alibamu, Alabamo, Albama, Alebamon, Alibama, Alibamou, Alabamu en Allibamou in.[5]
Die betekenis van die naam is moeilik om te bepaal. Volgens 'n artikel, wat in 1842 in die dagblad Jacksonville Republican verskyn het, kan dit as "Hier rus ons" vertaal word. Gedurende die 1850's het die Amerikaanse politikus, skrywer en digter Alexander Beaufort Meek hierdie stelling in sy werke oorgeneem sodat dit algemeen aanvaar is. Deskundiges, wat navorsing oor die Muskogee-tale doen, kon egter geen bewyse vind wat dié vertaling staaf nie.
Alabama dra geen amptelike bynaam nie, maar dikwels is of word na die deelstaat verwys as die Heart of Dixie, The Yellowhammer State ('n naam wat van die gelyknamige staatsvoël afgelei is) en die Cotton State.
Die bynaam The Heart of Dixie is eers in die 1950's vir bemarkingsdoeleindes deur Alabama se Handelskamer bedink, maar het uiteindelik so gewild geraak dat dit vanaf 1955 op die deelstaat se nommerplate verskyn het. Tussen 2002 en 2009 was die amptelike leuse op Alabama se nommerplate Stars Fell on Alabama. Dit het sy oorsprong in 'n jazz-treffer gehad wat in 1934 deur Frank Perkins gekomponeer is. Mitchell Perish het die lirieke geskryf. Die huidige leuse op nommerplate is Sweet Home Alabama.[6]
Met 'n oppervlakte van 135 765 km² is Alabama die 30ste grootste deelstaat van die Verenigde State. Waterliggame beslaan sowat 3,2 persent van die oppervlakte – die 23ste hoogste persentasie in die Unie – en sluit die tweede grootste binnelandse waterwegstelsel met 'n totale lengte van 2 100 km in.
Noord-Alabama word deur bergagtige terrein gekenmerk. Die Tennesseerivier het hier 'n groot vallei deur die landskap gesny en talle stroompies, riviere, bergpieke en mere gevorm. Suid hiervan strek saggies golwende vlaktes met weilande en 'n effense afwaartse helling na die Mississippirivier en die Golf van Meksiko.
Noord-Alabama word – van noord na suid – in vier streke verdeel: die Highland Rim, die Cumberland-plato, die Appalache- of Alabama-rug- en -vallei, en die Piedmont Upland.
Die Highland Rim, waarvan die Tennessee-riviervallei deel uitmaak, is danksy die vrugbare grond van die vallei uiters geskik vir landbou. Die Cumberland-plato is 'n hoogland wat uit sandsteen gevorm is en opmerklike eenvormigheid toon. Dit strek langs die westelike kant van die Appalache vanaf Kentucky suidwaarts tot Alabama, op 'n gemiddelde hoogte van 1300 voet.
Die Appalache-rug en -vallei met ryk afsettings van steenkool, ystererts en kalksteen is suid van die plato geleë. Die gebied, wat deur die Coosarivier gedreineer word, het tot 'n beduidende sentrum van die staalbedryf ontwikkel. Die Coosa was oorspronklik berug vir sy stroomversnellings, maar is in die vroeë 20ste eeu gedeeltelik opgedam om hidroëlektriese krag vir Alabama se snelgroeiende nywerhede op te wek. Die heuwelagtige Piedmont Upland met sy vrugbare valleie is die mees suidelike landskap van Noord-Alabama. Die Piedmont is nóg 'n landskapsvorm wat vanaf Alabama noordwaarts oor groot dele van die Ooskus tot New Jersey strek. In Alabama is die Piedmont se landboupotensiaal al lank ontsluit. Cheaha Mountain, op 2407 voet bo seevlak die hoogste piek in die deelstaat, is hier geleë.
Noordoos-Alabama word deur die mees suidelike dele van die Appalache oorheers, 'n groot bergreeks wat langs die Amerikaanse Ooskus noordooswaarts tot Maine strek. Suid van die Appalache-reeks begin die landskap verander in 'n terrein met sandsteenriwwe, diep groen valleie en die kronkelende bergpieke van die Beaver Creek Mountains. Sand- en kalksteenontginning het diep spore gelaat nadat mynbouondernemings dele van die riwwe en heuwels opgeblaas en steil rooi kleiwande agtergelaat het. Belangrike nedersettings in hierdie streek is Gadsden, Scottsboro, Anniston en Fort Payne.
Verder wes strek vlaktes en 'n saggies golwende heuwellandskap waarin riviere en bergstroompies op plekke diep ravyne gesny het. Beduidende nedersettings in die streek is Huntsville, Florence, Decatur en Madison. Natural Bridge in die gelyknamige privaat natuurpark in Winston County, Noordwes-Alabama is die langste natuurlike rotsboog oos van die Rotsgebergte. Die spanwydte van hierdie natuurmonument, wat uit sandsteen en ystererts gevorm is, beloop 148 voet. Sy begaanbare rotspad is 33 voet wyd en agt voet dik. Bo-op die rotsbrug word die oorblyfsels van 'n gefossileerde boom aangetref wat sowat vier miljoen jaar oud is. Weens versekeringsredes mag toeriste nie op die rotsformasie klim nie.
Een van die opvallendste kenmerke van Noord-Alabama is die rykdom aan waterliggame. Riviere, stroompies, mere en watervalle is volop in dié landsdeel, maar dit is die breë Tennesseerivier wat die meeste aandag by inheemses en toeriste trek. Die rivier vloei in weswaartse rigting om naby die grens met die westelike buurstaat, wat sy naam dra, 'n skielike noordwaartse draai te maak. Daar is geen natuurlike mere in Alabama nie, maar ingenieurs het die Tennesseewater op plekke opgedam om reservoirs en mere vir ontspanningsdoeleindes te skep, waaronder Lake Guntersville en die Wheeler- en Wilsonmere wat gewild by bootsportentoesiaste en hengelaars is.
In Noordoos-Alabama het die Tennessee se syriviere hul pad deur rotsagtige pieke en kalkwande gesny om 'n uitgebreide netwerk van grotte, natuurlike waterbronne en watervalle te skep, waaronder die DeSoto-waterval naby Fort Payne op 'n hoogte van 100 voet. Die nabygeleë DeSoto-grotte is in 1540 deur die Spaanse ontdekkingsreisiger Hernando de Soto ontdek. Die grotte, wat reeds 2000 jaar gelede as Indiaanse begraafplaas gedien het, is gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog vir mynboudoeleindes ontsluit om buskruit te vervaardig. Later, tydens die Prohibisie van die 1920's toe die stook en verkoop van alkoholiese dranke deur federale wette verbied is, het plaaslike stokers – sogenaamde bootleggers – hul onwettige drankvoorrade hier gestoor.
Die bekendste grotte is Cathedral Caverns buite Woodville, die Rickwood-grotte noord van Warrior en Russell Cave buite Bridgeport. Russell Cave het bekendheid as argeologiese vindplek verwerf. Van die artefakte, wat hier ontdek is, is meer as 10 000 jaar oud.
Suid-Alabama se uitgestrekte plat weilande en digte dennebosse kontrasteer met die golwende heuwellandskappe van die noorde. 'n Groot deel van Suid-Alabama word deur die kusvlaktes van die oostelike Golf van Meksiko beslaan – 'n landskap van sandstrande, moeraslande en sanderige kleigrond wat van die Golfkus noordwaarts tot Sentraal-Alabama strek. Die deelstaat se sogenaamde Black Belt – 'n breë gordel van klam donker kleigrond, wat vanuit die kusvlakte in westelike en oostelike rigting strek, vorm met sy uiters vrugbare grond die belangrikste landboustreek in Alabama. Die streek was vroeër die hartland van Alabama se katoenbedryf waar groot plantasies ontstaan het.
Nóg 'n vrugbare landboustreek met kenmerkende donker grond, die Mobile-Tensaw-rivierdelta, is in die uiterste suidweste van Alabama geleë. Oor duisende van jare het die Mobile- en Tensaw-riviere gedurende oorstromings vrugbare modder na dié lang strook gespoel wat in dik lae langs die oorstroomde oewergebiede gedeponeer. Hoe verder suid, hoe meer moerasse en bayous word in die landskap aangetref. Hierdie ondiep waterweë, waarin bome groei, word gevorm wanneer riviere laer geleë gebiede tydens oorstromings onder water sit. Dikwels staan die water hier langdurig sodat die betrokke velde dwarsdeur die jaar met water oorstroom is. Digte riet, varings en rankplante gee aan die moerasland die voorkoms van 'n ondeurdringbare oerwoud.
Verder suidwaarts gaan die diepgroen moeraslandskap oor in die strandlandskap van die Baai van Mobile en die Golfkus. Twee lang en smal eilande langs Alabama se Golfkus – Pleasure-eiland en Dauphin-eiland – is oorblyfsels van 'n vroeëre skiereiland wat oorspronklik vanaf die sandstrande wyd in die Golf van Meksiko gestrek het.
Talle riviere – waaronder Tombigbee, Alabama, Mobile, Tenswa en Chattahoochee – deurstroom Suid-Alabama se uitgestrekte landskappe. Net soos in die geval met die Tennesseerivier in die noorde het ook langs Suid-Alabama se rivierlope talle damme en mensgemaakte mere ontstaan, waaronder Lake Eufaula en die Walter F. George Reservoir aan die Chattahoochee-rivier en die William Dannelly Reservoir aan die Alabamarivier.
Die Baai van Mobile is een van Alabama se natuurwonders. Hierdie riviermonding met 'n lengte van 32 myl en 'n maksimale wydte van 23 myl vorm die poort na Alabama se uitgestrekte rivierstelsels wat as belangrike waterweë dien. Die baai se bekken word deur rifeilande, tussentyse moerasse en sipressevleilande, asook oesterriwwe gekenmerk. Die Baai van Mobile vermeng soutwater van die Golf van Meksiko met die varswater van die sesde grootste rivierstelsel van die Verenigde State.[7]
Hierdie unieke ekosisteem, wat deur industriële afvalwater en kunsmis, houtontginning en ander menslike aktiwiteite bedreig word, is die habitat van plant- en dierspesies wat vir hul oorlewing op 'n spesifieke mengsel van vars- en soutwater aangewese is.
Alabama se breedtegraadligging – volgens die Koppen-klassifikasiestelsel maak dit deel uit van die vogtige subtropiese sone – en die nabyheid van die Golf van Meksiko bepaal die deelstaat se warm en vogtige klimaat met 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 18 °C (64 °F), maar ook sy dikwels uiterste weerstoestande met tornado's en orkane wat hier gereeld voorkom. In die algemeen word Alabama se klimaat gekenmerk deur matige winters, baie warm somers en relatief hoë neerslae wat dwarsdeur die jaar val. Sneeuvalle kom slegs in enkele bergstreke in die noorde voor.
Die deelstaat se gematigde klimaat is 'n beslissende faktor vir twee van sy belangrikste ekonomiese bedrywe – landbou en toerisme. Gedurende die wintermaande is Alabama se Golfkus 'n gewilde vakansiebestemming vir bewoners van die noordelike Verenigde State. Die aangename ervaring van relatief warm winterdae dra daartoe by dat baie toeriste Alabama later as hul aftreeplek kies.
Gemiddelde temperature in die suide van die deelstaat is ietwat hoër as in Noord-Alabama, en die suide kry ook meer reën. Die groeiseisoen vir landbouprodukte is in Suid-Alabama met 250 tot 300 dae per jaar aansienlik langer as in die noordelike landsdele met 200 dae. Die verskil tussen noorde en suide ten opsigte van temperature en neerslae is grotendeels aan die invloed van die Golf van Meksiko te danke. Hierdie uitgestrekte warm waterliggaam is nie net 'n bron van atmosferiese vogtigheid nie, maar absorbeer en stoor ook dwarsdeur die jaar groot hoeveelhede sonenergie. Die Golf oefen sodoende 'n matigende invloed op temperatuurpatrone in Alabama se kusgebiede uit.
Veral die noordelike en sentrale gedeeltes van Alabama, waar warm en vogtige lugmassas vanuit die Golf van Meksiko met droë, koue lug uit die noorde vermeng, word gedurende die twee jaarlikse tornadoseisoene in die lente (Maart en April) en herfs (November) deur tientalle tornado's getref. Buitengewone warm weer en 'n onnatuurlike groenerige skynsel in die hemel is vir Alabamers onmisbare tekens dat 'n verwoestende werwelstorm in aantog is.
Alabama is nie langs die sogenaamde Tornadolaan of Tornado Alley geleë soos deelstate in die Groot Vlaktes nie, en word deur minder tornado's getref, maar dit is Alabama en Mississippi (naas Texas met sy groter bevolking) waar tornado's die mees verwoestende spoor agterlaat en ook die meeste menselewens eis. So word in die omgangstaal na die tornado-streke van die Amerikaanse Suidooste, wat die laer Mississippi-vallei in Arkansas, Alabama en Mississippi insluit, ook as Dixie Alley verwys. Alabama word dertiende geranglys volgens die jaarlikse getal tornado's, maar dit is hier waar die derde hoogste aantal slagoffers aangeteken word, veral omdat dit deur meer F5-tornado's getref word – die sterkste kategorie van werwelstorms.[8]
'n Reeks faktore dra by tot die relatief hoë aantal tornado-slagoffers in Alabama: die groot persentasie inwoners wat in woonwaparke gehuisves word; die groter bevolkingsdigtheid (veral in vergelyking met deelstate in die Midweste); die laer persentasie woonhuise wat met ondergrondse tornadoskuilings toegerus is; die groot aantal nagtelike tornado's wat inwoners tydens slaap verras; en die bergagtige, beboste terrein in Noord- en Sentraal-Alabama waar tornado's hul pad soms onbemerk kan volg.
Die eerste menslike gemeenskappe wat hulle in die huidige Alabama gevestig het, was halfnomadiese Paleo-Indiane. Hulle het tussen 13 000 en 7 900 v.C. na die gebied van die huidige Verenigde State gemigreer en hulle sowat 12 000 jaar gelede in klein groepe langs die oewers van die Tennesseerivier gevestig. Hul migrasiepatrone en hul natuurgebaseerde lewensbestaan as jagters, vissers en versamelaars van wildgroeiende groente en vrugte is deur die seisoene bepaal.
'n Tweede immigrasiegolf, dié van Argaïese Indiane, het vanaf 2000 v.C. gevolg en tot omstreeks 500 v.C. voortgeduur. Argaïese Indiane het baie spore gelaat, so in die Russell Cave ('n grot waar klein groepe Indiane oorwinter het), in die Tennessee- en Tombigbee-riviervalleie en op Dauphin-eiland waar hulle groot hope mosselskulpe agtergelaat het – 'n verwysing na een van hul stapelkosse.
Sommige van hierdie vroeë gemeenskappe het geleidelik begin om groter en meer permanente nedersettings te vestig en hul omgewing te ontbos om akkers en boorde aan te lê waar hulle groente en vrugte verbou het. Dié beskawing, wat ook as Mississippi-beskawing bekend staan, het omstreeks 1300 n.C. sy bloeitydperk beleef – net twee eeue voordat die eerste Europese verkenners die gebied binnegedring het. Een van hul nedersettings het sowat drieduisend inwoners gehuisves en word onder die grootstes in die destydse Noord-Amerika gereken.
Sy bewoners het groot hoeveelhede sandsakke oor groot afstande op hul rûens gedra om reusagtige heuwels te bou wat as fondament vir die woonhuise van hul leiers of as grafheuwels gedien het. Dié heuwels het daarnaas ook 'n belangrike rol as uitkykpunte oor die nabygeleë Black Warrior-rivier en ander meer afgeleë gebiede in die omgewing gespeel van waar vyandelike stamme die nedersetting moontlik kon aanval. 'n Beskermingswal met 'n hoogte van twaalf voet en 'n lengte van een myl is gebou om die dorp te beveilig.
26 van die oorspronklike mensgemaakte heuwels het in Sentraal-Alabama bewaar gebly en kan tans in die Moundville Argeologiese Park besigtig word. Dit is die grootste voorbeeld van 'n permanente Indiaanse nedersetting in die hele Amerikaanse Suide.[9]
Meer Indiaanse nedersettings het ontstaan na mate ander stamme na die gebied gemigreer het, waaronder Creek, Cherokee, Choctaw, Chickasaw, Apalachicola, Koasati, Mobilian, Osochi, Sawokli, Tohome, Tuskegee, Muskogee en die naamgewende Alibamu. Hul stamleiers sou later met die eerste Europese verkenners in aanraking kom – soms op 'n vreedsame manier, maar dikwels in gewapende konflikte.
In 1519 het 'n Spaanse ekspedisie onder leiding van Alonso Álvarez de Piñeda die Baai van Mobile binnegevaar. Die Spanjaarde het min belang in die onbekende vasteland gestel; hulle was eerder op soek na 'n makilke seeroete vanuit die Golf van Meksiko na Asië. Daarnaas het hulle die Golfkus gekarteer. Geen historiese beskrywing oor die ekspedisie se landing in die huidige Alabama is oorgelewer nie, maar hulle word as die eerste Europeërs beskou wat die plaaslike Golfkus met hul eie oë aanskou het.
In 1540 het die Spanjaard Hernando de Soto die huidige deelstaat se binneland as eerste Europeër verken. Saam met enkele honderd soldate het de Soto die gebied vanuit die noordooste in suidelike rigting – deels te voet, deels per vlot verken. Die dryfkrag agter sy ekspedisie was nie strewe na geografiese inligting nie, maar die gier na goud. De Soto en sy mans was so oortuig daarvan dat hulle hier op goudskatte sou afkom dat hulle op hul pad dikwels Indiane gedwing of selfs verslaaf het om hulle die pad na die beweerde goudplekke te wys en die ekspedisie van die benodigde voorrade te voorsien.
Die inheemse bevolking was ontsteld oor die Spanjaarde se gedrag, en hoe meer nuus oor die Europeërs se brutaliteit versprei is, hoe meer het die Indiane hulle met argwaan en vyandigheid bejeën. In Oktober 1540 het die Spanjaarde verder suidwaarts beweeg en kennis gemaak met Tuscaloosa, die stamhoof van die Mobilian-Indiane. Tuscaloosa, 'n buitengewoon groot man van omstreeks veertig jaar wat vanweë sy dapperheid as die "Swart Kryger" bekend gestaan het, het ingestem om die Spaanse ekspedisie te beskerm en saam met hulle suidwaarts te trek. Nogtans het sommige van stamlede na Mauvila (soms ook getranskribeer as Mabila), 'n Mobilian-nedersetting noord van die huidige Mobile, uitgestuur om stamlede daar oor de Soto se aankoms te waarsku.
Toe die ekspedisie Mauvila bereik het, het Tuscaloosa, wat homself toenemend as 'n gyselaar in Spaanse hande beskou het, gevlug. Die Spanjaarde het vinnig besef dat duisende van Tuscaloosa se krygers, asook talle lede van ander stamme, in die dorp op hulle gewag het. Tuscaloosa het de Soto gewaarsku dat hy die plek liewer sou verlaat. Maar nadat een van de Soto se mans 'n hoogstaande Indiaanse stamhoof aangeval het, het een van die grootste slagte gedurende de Soto se ekspedisie losgebars waartydens die Spaanse verkenner gewond is.
Die grootste deel van de Soto se leër het die dorp nie saam met hul aanvoerder betree nie, maar sodra hulle die geraas van die slag waargeneem het, het hulle begin om die dorp se beskermingswal af te breek. In die slag, wat nege ure geduur het, het meer as 11 000 van Tuscaloosa se krygers, maar slegs 82 Spanjaarde omgekom. Die nedersetting is aan die brand gesteek, en volgens oorlewerings het Tuscaloosa in die vlamme gesterf.
De Soto het die grootste deel van sy voorrade, waaronder geneesmiddels en kos, in die slag kwytgeraak, en vervolgens het sy mans begin om kos en ander benodigdhede in die omgewende Indiaanse nedersettings te steel. Alhoewel de Soto verneem het dat sy skepe, volgelaai met kosvoorrade, in die nabyheid op hom gewag het, het gerugte oor 'n beweerde muitery – sommige van sy soldate was blykbaar van voorneme om sonder hom terug na Spanje te seil – hom 'n ander besluit laat neem. So het hy die bevel gegee om weer noordwaarts te trek.
Nuus oor die slag van Mauvila het egter al vinnig in die streek versprei, en die Spaanse ekspedisie is genoodsaak om vegtend voort te beweeg. Uiteindelik het de Sotoi die Mississippirivier bereik en dit oorgesteek om sy soektog na goud voort te sit. Hy sou egter nooit op enige goudvondse afkom nie. In 1542 het de Soto na die Mississippi teruggekeer waar hy in die ouderdom van 42 oorlede is.
Meer as 'n anderhalf eeu ná de Soto se ekspedisie het twee Frans-Kanadese broers, Pierre Le Moyne d'Iberville en Jean-Baptiste Le Moyne de Bienville, in 1702 aan die oewer van die Mobilerivier die eerste Europese nedersetting in die huidige Alabama gestig wat hulle Fort Louis genoem het. Nadat die nedersetting in 1711 deur verwoestende oorstromings van die omgewing afgesny is, het die Franse setlaars hul dorp sowat 27 myl rivierafwaarts na die plek van die huidige stad Mobile verskuif. Die broers het die nuwe nedersetting La Mobile genoem, en dit het elf jaar lank as administratiewe setel van Frans-Louisiana gedien voordat die regeringsetel na Nouvelle-Orléans (tans New Orleans) verskuif is.
Die Indiaanse bevolking het in hierdie tydperk swaar gekry, veral omdat hulle hoegenaamd nie immuun was teen die verskeidenheid siektes wat deur die Europeërs sedert de Soto se ekspedisie in die gebied versprei is nie. So het die passasiers aan boord die Franse skip Pélican, wat in 1702 onder meer 23 Franse vroue na die kolonie geneem het, tydens hul seereis Havana-hawe op Kuba aangedoen waar hulle geelkoors opgedoen het. Duisende Indiane het weens dié en ander aansteeklike siektes gesterf. Om hul kans op oorlewing te vergroot, het Indiaanse gemeenskappe vanaf die 18de eeu hulle in nuwe en groter stameenhede en nedersetings saamgesluit. Die belangrikste stamgroepe was die Cherokee in die noorde, die Creek in die mid-Atlantiese en suidoostelike streke, die Chickasaw in die noordweste en die Choctaw in die suidweste.
In die volgende jare is die streek in toenemende mate deur oorloë geraak wat Europese moondhede in Noord-Amerika teen mekaar gevoer het, waaronder die Franse en Indiaanse Oorlog (1756–1763) waartydens Alabama deel van die omstrede gebiede uitgemaak het. Tussen 1765 en 1780 het die gebied van die huidige deelstaat onder Britse bewind gekom. Toe die dertien oorspronklike Amerikaanse kolonies in 1783 hul onafhanklikheid van die Britse Kroon verwerf het, het Noord-Alabama onder die gesag van die nuutgestigte Verenigde State gekom, terwyl die suide as kolonie in Spaanse hande gebly het. In 1795 het die Verenigde State die grootste deel van die huidige Alabama van Spanje gekoop, en slegs die Golfkus en die gebied rondom Mobile het nog onder Spaanse bewind gestaan.
Toe die Britte in 1812 op verskeie plekke hul laaste oorlog teen die Amerikaners gevoer het, het ook Alabama in die konflik verstrengel geraak. Die Verenigde State het druk op die laaste Spaanse besittings langs Alabama se Golfkus uitgeoefen. In April 1813 het die Amerikaners daarin geslaag om gebiede in Wes-Florida, wat tussen die Pearl- en Perdido-riviere geleë was, te annekseer. In dieselfde maand het die Spaanse bewindhebbers in Mobile gekapituleer. Dié stad se strategies belangrike seehawe het Britse begeertes gewek, en een jaar later het Britse magte 'n poging onderneem om die gebied te verower. Hul aanval op Fort Bowyer op Mobile Point het egter misluk. Ook met hul tweede aanval, hierdie keer op New Orleans, was vir die Britse troepe geen sukses beskore nie.
Die Britte het vervolgens weer ooswaarts beweeg en in September 1815 'n tweede aanval op Fort Bowyer geloods. Alhoewel hulle daarin geslaag het om die vesting in te neem, het hulle kort daarna verneem dat die oorlog al verby was en die fort weer ontruim. Die Creek-Indiane het die Britse betrokkenheid in die streek as 'n kans gesien om die vloed blanke setlaars, wat hul stamgebied binnegedring het, te stuit. Hopende dat hul steun vir die Britse saak ook hul eie sou kon bevorder, het hulle orals in Alabama aanvalle geloods in 'n opstand wat later as die Creek-Indiaanse Oorlog sou bekend staan. Die opstand het met 'n rebellie in Fort Mims in Baldwin County begin waartydens alle blanke setlaars in die fort dood is.
Amerikaanse en Creek-magte, wat tussen 1813 en 1814 by veldslagte dwarsdeur Alabama betrokke was, het groot verliese gely. Die Indiane was egter verdeeld ten opsigte van hul verdere strategie – sommige was ten gunste van 'n vredesooreenkoms, anders was bereid om die stryd vir hul land voort te sit. Die Amerikaanse generaal Andrew Jackson het voordeel getrek uit die Creek se slegte militêre organiasiestruktuur. Nadat hy die Creek-stamgebied binnegeval het, het hy in 1814 'n beslissende oorwinning naby Horseshoe Bend in die huidige Daviston behaal.
Op 9 Augustus 1814 is die Creek gedwing om twintig miljoen akkers se land aan die Amerikaanse regering af te staan. Ná die verdrywing van die Creek en ander stamme uit hul gebiede het meer as die helfte van die huidige Alabama oopgestaan vir kolonisasie deur blanke setlaars.
Voordat Mississippi op 10 Desember 1817 as nuwe deelstaat erken is, is die ylbevolkte oostelike helfte van die gebied van die nuwe staat geskei en deur die Amerikaanse Kongres op 3 Maart 1817 amptelik as Alabama-gebied (Alabama Territory) geproklameer. St. Stephens is as administratiewe setel aangewys en het dié funksie tot en met 1819 vervul. Old St. Stephens is tans een van Alabama se vroeëre verlate deelstaathoofstede.
Vervolgens het die Kongres Huntsville as gasheer- en tydelike deelstaathoofstad van Alabama se eerste grondwetlike vergadering aangewys. In Julie 1819 het bewoners van verskillende sosiale en maatskaplike agtergronde, waaronder ervare staatsmanne soos John W. Walker en grenspioniers soos Samuel Dale, hier in 'n leegstaande winkelgebou vergader om 'n grondwet vir Alabama op te stel en te aanvaar. In die finale dokument het afgevaardigdes elemente van ekonomiese selfbelang en republikeinse idealisme met mekaar gekombineer. So is enersyds slawerny wettig verklaar en andersyds openbare grond vir die oprigting van opvoedkundige instellings beskikbaar gestel.
Afgevaardigdes het met hul ontwerp ook ten gunste van 'n minder restriktiewe regstelsel gestem – byvoorbeeld in vergelyking met ander suidelike deelstate soos Mississippi en Louisiana waar beperkings op die stemreg vir mans geplaas is en skuldenaars 'n tronkstraf opgelê kon word.[10]
Met dié nuwe grondwet is Alabama op 14 Desember 1819 as 22ste deelstaat tot die Unie toegelaat en William Wyatt Bibb as sy eerste goewerneur verkies. Die regeringsetel is in die volgende jaar na Cahaba, 'n nedersetting in Dallas County, verskuif. In die beginjare het welvarende katoenplanters uit Georgia en die twee Carolinas hulle in die deelstaat gevestig en hul slawegebaseerde ekonomiese stelsel saamgebring. In die vrugbare Black Belt en Tennesseevallei-streke het uitgestrekte katoenplantasies ontstaan.
Alhoewel die Indiaanse bevolking die lot van slawerny gespaar is, is hulle deur die golf van blanke setlaars gaandeweg verdring. Om meer landbougrond vir blankes beskikbaar te stel, het die Amerikaanse regering in 1838 begin om meer as 16 000 Cherokee en lede van ander stamme van hul land in Alabama en aangrensende deelstate te verdryf. 23 Mei van dié jaar is as sperdatum vir die vrywillige verhuising bepaal, en die owerheid het verwag dat het die Indiaanse bevolking die bevel betyds sou nakom.
Toe dit duidelik was dat nie alle Indiane hul stamgebiede op dié datum ontruim het nie, het president Martin van Buren 'n spesiale militêre eenheid van enkele duisend soldate onder bevel van generaal Winfield Scott in die lewe geroep om die Indiane met militêre geweld van hul land te verdryf. Mense is met wapengeweld na besondere kampe geneem en daarna gedwing om per voet oor 'n afstand van 1 200 myl na sogenaamde "Indianegebiede" in die huidige deelstaat Oklahoma te marsjeer. Die ontberinge tydens hierdie Trail of Tears, soos dit later genoem is, was so groot dat tussen 2 000 en 6 000 mense op die "Pad van Trane" oorlede is.
Op 13 Julie 1995 het die regering van Alabama 'n wet onderteken waarvolgens die snelweg U.S. Highway 72, wat in oos-westelike rigting deur Noord-Alabama loop (onder meer deur die stede Huntsville, Madison, Decatur en Florence) as die Alabama Trail of Tears Corridor aangewys is. Die National Park Service het dié roete in 1996 as deel van die amptelike "Pad van Trane" erken en dit by sy lys van historiese roetes gevoeg.[11]
Ook ander mense se drome is in die beginjare van die deelstaat vernietig. Planters en boere was oorspronklik van plan om van Alabama 'n nuwe cotton empire of katoenryk te maak, maar was uiteindelik in die greep van 'n reeks vernietigende droogtes. Alabama se ekonomie is daarnaas deur finansiële krisisse geteister. Weens 'n nasionale depressie, wat in 1837 begin het, was goewerneur Benjamin Fitzpatrick in 1843 genoodsaak om Alabama se staatsbank te sluit. Deposante het hul geld verloor, en selfs welvarende boere en sakemanne het skielik sonder 'n sent gesit. Om sake te vererger, is die deelstaat in dié periode deur 'n geelkoorsepidemie geteister wat honderde slagoffers dwarsoor Alabama geëis het.
Voor die Amerikaanse Burgeroorlog was 95 persent van Alabama se blanke bevolking in landelike gebiede saamgetrek waar die meeste van hulle op eie plase geboer het. Ofskoon die plaaslike landboubedryf in die 19de eeu deur katoen oorheers is, het boere ook mielies, sorghum, hawer en groente verbou en varke en beeste geteel. Omstreeks 1860 het tagtig persent van boere in die deelstaat die eienaars van die landbougrond wat hulle bewerk het. Slegs sowat 'n derde van blanke deelstaatbewoners het slawe aangehou.
Die aantal slawe het nogtans binne enkele dekades dramaties toegeneem. Terwyl daar volgens die sensus van 1820 85 451 blankes en 41 879 swart slawe was, het die getal slawe in 1860 reeds 435 080 of 45 persent van die deelstaatbevolking beloop. Welvarende planters, wat vyftig of meer slawe op hul plantasies aangehou het, het in dié jaar minder as een persent van Alabama se blanke bevolking verteenwoordig, maar desondanks was 28 persent van die deelstaat se rykdom in hul hande. Daarnaas het hulle 'n kwart van die setels in die wetgewende vergadering ingeneem.
Alhoewel die grootste deel van Alabama se bevolking en rykdom in die noorde van die deelstaat saamgetrek was, het plantasiebesitters in die Black Belt-streek om koalisies met die deelstaat se nyweraars te smee sodat hulle voor en ná die Burgeroorlog beslissende invloed op die deelstaat se politieke lewe kon uitoefen. Hulle was die drywende krag agter Alabama se afskeiding van die Unie en sy toetreding tot die nuutgestigte Gekonfedereerde State. Die meeste boere het dié besluit uiteindelik gesteun, veral uit vrees vir die gevolge wat 'n afskaffing van slawerny vir Alabama se landbousektor sou inhou.
Nogtans het sowat 2 500 by die Noordstate se leër aangesluit om teen Gekonfedereerde magte te veg. 'n Verdere geskatte 8 000 tot 10 000 mans het die Unie se saak as verkenners gesteun, uit die Gekonfedereerde leër gedeserteer of daarin geslaag om diensplig te ontvlug.[12]
In Januarie 1861 het Alabama hom van die Verenigde State afgeskei en kort daarna aangesluit by die Gekonfedereerde State van Amerika. In Alabama se senaatskamer te Montgomery het verteenwoordigers van die betrokke Suidstate 'n staatkundige grondslag aan hul nuwe konfederasie gegee, en vervolgens is Jefferson Davis op die trappe voor Alabama se kapitool ingesweer as president van die Gekonfedereerde State. Nog tot in Mei het Montgomery as gekonfedereerde hoofstad gedien voordat die regeringsetel na Richmond in Virginië verskuif is.
'n Meerderheid van die bevolking het die stigting van die Konfederasie goedgekeur, en die entoesiasme, waarmee tot die oorlog teen die Unie toegetree is, het baie Unioniste in Alabama na die ander kamp laat wissel, veral nadat Uniemagte die Suide binnegeval het. Alabama het as die nuwe Gekonfedereerde State se broodmandjie en wapensmidswinkel gedien.
In die eerste drie jaar van die Amerikaanse Burgeroorlog was Alabama ver genoeg van die oorlogstonele af geleë sodat dit, behalwe vir die besette Tennesseevallei, net enkele kere deur aanvalle van Unie magte geraak is. Alabama se boere en veetelers het die Gekonfedereerde magte van groot hoeveelhede mielies, vark- en beesvleis voorsien. As 'n belangrike produsent van ystererts kon die deelstaat daarnaas ook sy swaar nywerhede vir die Gekonfedereerde saak inspan om kanonne, swaarde, vuurwapens, ammunisie en metaalonderdele vir oorlogskepe te vervaardig. In die somer van 1864 het die klein Gekonfedereerde vloot egter in Mobilebaai 'n verpletterende nederlaag teen die oormagtige Noordstatevloot gely.
In die laaste fase van die oorlog het die Unietroepe in die lente van 1865 'n spoor van verwoesting agtergelaat toe hulle deur Tuscaloosa, Selma en Montgomery beweeg het. Hul hoofteiken was Selma, een van die Konfederasie se nywerheidspilpunte, waar die verwoestings byna so erg was soos in Richmond of Atlanta. Byna 100 000 mans uit Alabama het in die Gekonfedereerde leër gedien, van wie sowat 'n tiende gedros het, veral na die verpletterende neerlae van Julie 1863, maar ook as gevolg van die droogte en hongersnood wat die Suidstate in die laaste oorlogsjare geteister het. Die aantal slagoffers in Alabama gedurende die vier jaar van oorlogsvoering is op minstens 25 000 beraam. Naas sowat 5 000 swart inwoners het ook enkele duisend blankes in die geledere van die Unie-leër geveg.[13]
Ná die oorlog het Alabama gedurende die sogenaamde Reconstruction- of heropboutydperk drie jaar lank onder militêre bewind gestaan voordat dit in 1868 weer tot die Unie toegelaat is. Die openbare lewe is deur ideologiese en partypolitieke verdeeldheid oorheers. Veral in Noord-Alabama het Unioniste hulle aangetrokke gevoel tot die Union League en die Republikeinse Party, wat ook deur swart inwoners dwarsoor die deelstaat gesteun is. Baie bekende plantasiebesitters uit die geledere van die Republikeine, na wie hul Demokratiese opponente as scalawags verwys het, is as Kongresafgevaardigdes en lede van Alabama se deelstaatparlement verkies.
Daarnaas het ook kleiner getalle blanke migrante uit die Noordstate, wat in die volksmond carpetbaggers genoem is, 'n leidende rol in die Republikeinse Party van Alabama gespeel en talle leiersposte gevul. Hulle was dikwels idealisme-gedrewe, maar is deur politieke teenstanders gewoonlik van opportunistiese politiekery beskuldig.
In die meeste verkiesings, wat tussen 1866 en 1876 gehou is, het Republikeinse kandidate baie goed gevaar, ook omdat baie vroeëre aanhangers van die Gekonfedereerde regering volgens 'n besluit van die Amerikaanse Kongres tydelik van hul stemreg ontneem is. Nog tot in die 1880's het Republikeinse politici 'n belangrike rol in plaaslike regerings gespeel, onder wie ook baie swart Amerikaners.
Die politieke gelykstelling van swartes en hul aktiewe betrokkenheid by die openbare lewe, veral as lede van die Republikeinse Party, het vanaf die 1880's tot toenemende verdeeldheid in die geledere van dié party gelei. So het die meerderheid van die scalawag-vleuel van die Republikeinse Party swart politici met wantroue bejeën, terwyl aanhangers en politici van die Demokratiese Party kragte saamgesnoer het om Republikeinse en swart politieke invloed terug te dring.
Onder hul nuwe naam Conservative Democratic Party – en danksy die steun deur die Ku Klux Klan – het die Demokrate in November 1874 daarin geslaag om weer die goewerneursetel te verower en nog in die volgende jaar 'n nuwe, meer behoudende grondwet vir die deelstaat af te kondig. Kort voor lank is Republikeinse politici stelselmatig op alle regeringsvlakke uit hul poste verdryf.[14]
Swartes het gaandeweg op nuwe terreine van maatskaplike verandering begin fokus en hul eie instellings soos swart kerkgemeentes begin vestig. Alhoewel die meeste swart Alabamers nie oor noemenswaardige finansiële bronne beskik het nie en 'n heenkome as plaaswerkers of ongeskoolde fabriekarbeiders moes vind, het enkeles landbougrond gekoop, besighede gevestig of opleiding in professionele beroepe ontvang.
Versnelde industrialisering vanaf 1880 het nuwe ekonomiese geleenthede vir benadeelde blankes en swartes geskep. Terwyl die landbousektor steeds 'n belangrike bydrae tot die deelstaatekonomie gelewer het en katoenverbouing selfs in periodes van dalende wêreldmarkpryse oorheersend was in dié bedryf, het ook mynbou, vervoer en nywerhede met rasse skrede gegroei. Alabama se spoornetwerk is in die volgende drie dekades uitgebrei van 1 800 tot 5 200 myl, terwyl Birmingham, wat eers in 1871 geïnkorporeer is, met sy yster-, staal-, tekstiel- en spoorwegnywerhede asook sy steenkool- en ysterertsmynbou op groot skaal kapitaal en mannekrag van dwarsoor die VSA en selfs uit Europa aangetrek het. In die vroeë 20ste eeu het Birmingham se bevolking die 100 000-kerf verbygesteek en dié stad tot die derde grootste in die Amerikaanse Suide laat groei.
Lae lone en haglike werks- en lewensomstandighede het armblankes net soos swartes sowel in stedelike omgewings asook op die platteland gemarginaliseer. Boere, plaaswerkers en fabrieksarbeiders het kragte saamgespan en by organisasies aangesluit wat gestry het vir hul saak en hul regte – die Knights of Labor, die United Mine Workers, die Farmers' Alliance en, gedurende die depressie van die 1890's, die Jefferson Democratic (Populist) Party. Ook baie aanhangers van die Republikeinse Party het by dié protesbeweging aangesluit. In 1892 en 1894 het konserwatiewe Demokrate verkiesings gemanipuleer om 'n oorwinning van die Populist-party te verhinder.
Namate die kultuur van korrupsie in die politieke lewe van Alabama verdiep het, het steeds meer maatskaplike groepe aangedring op politieke hervormings. Ironies genoeg het die nuwe deelstaat-grondwet, wat in 1901 as deel van 'n hervormingspakket afgekondig is, byna alle swart kiesers en baie armblankes feitlik van hul stemreg ontneem. 'n Grondwetlike vergadering, wat uitsluitlik uit blanke mans (en merendeels konserwatiewe Demokrate, advokate en sakemanne) bestaan het, het politieke magstrukture ingrypend verander deur besluitnemingsbevoegdhede, wat oorspronklik deur die deelstaat se 67 administratiewe distrikte uitgeoefen is, na die Staatskapitool in Montgomery te delegeer. Daarnaas is belastingtariewe vir eiendomme verlaag en die politieke invloed van groot grondbesitters en nyweraars in Birmingham aansienlik vergroot.
Plantasie-eienaars, wat aangewese was op groot skare ongeskoolde plaaswerkers, en nyweraars, wat belanggestel het in 'n mannekragbron van laaggekwalifiseerde en slegbetaalde fabrieksarbeiders, was minder geneigd om die uitbou van openbare skole, volksgesondheid of enige openbare instelling in diens van die bevolking te bevorder. Die samelewing, wat hulle met die nuwe grondwet van Alabama wou vasskryf, het sy wortels in agterlike 19de eeuse konserwatisme en rassisme gehad.
Nadat swart Alabamers uit die politieke lewe geëlimineer is en ras geen belangrike kwessie meer was nie, het ook die blanke bevolking begin verdeel langs die lyne van klas, beroepsopleiding en ekonomiese status. Terwyl die werkersklas in vakbonde saamgespan het, het geestelikes, onderwysers, maatskaplike werkers, vroulike aktiviste (onder wie Helen Keller wat later op internasionale vlak vir die saak van fisies gestremdes sou stry) en selfs politici hulle vir 'n verskeidenheid hervormings beywer. So is veldtogte gevoer teen kinderarbeid, die misbruik van tronkgevangenes as huurarbeiders, prostitusie en die verkoop van alkoholiese dranke.
Hulle het verder gepleit vir verbeterde onderwys- en psigiatriese instellings, die verskaffing van gesondheidssorg en vrouestemreg. Konserwatiewe Demokrate het kragte saamgespan om enige hervormings te keer. Terwyl enkele eise verwesenlik is, het konserwatiewes meestal daarin geslaag om die status quo te verdedig. Die politieke verdeeldheid oor hervormings het voortgeduur tot in die 1950's en 1960's toe die raskwessie weer kop begin uitsteek het in politieke debatte.
Die ekonomiese en maatskaplike omwentelinge ná die Burgeroorlog was in Alabama, net soos in die ander Suidstate, dramaties genoeg om na die streek voortaan as die "Nuwe Suide" te verwys. Dié term, wat in 1874 deur Henry W. Grady, 'n hoofredakteur van die dagblad Atlanta Constitution, geskep is, verwys na die proses van versnelde industrialisering in 'n voorheen oorwegend agrariese samelewing. Grady was, net soos ander invloedryke waarnemers in die Suide, optimisties oor die ekonomiese potensiaal wat deur middel van grootskaale beleggings en die ontginning van natuurlike hulpbronne ontsluit sou kon word.
In Alabama het die politieke en sosiale veranderinge inderdaad gepaard gegaan met die vestiging van nuwe myn- en nywerheidsbedrywe, die groei van stedelike sentra en vooruitgang in die onderwyssektor. Die haglike werksomstandighede in die landbou- en ander bedrywe, soos die uitbuiting van kwesbare plaas- en fabriekarbeiders, het aanleiding gegee tot die stigting van vakbonde. Rasdiskriminasie is in die sogenaamde Jim Crow-wette verskans – volgens 'n beleid wat eufemisties "aparte, maar gelyke" ontwikkeling en regte vir almal belowe het.
Maar Alabama se geografiese ligging in die hartland van die Diep Suide, asook sy gebrek aan geskoolde mannekrag, kapitaal en opleidingsgeriewe het veroorsaak dat die deelstaat ekonomies en tegnologies nie tred kon hou met die res van die land – en nie eens met ander gebiede in die Suide nie. Nogtans kon Alabama voordeel trek uit sy oorvloed natuurlike hulpbronne wat die deelstaat aanloklik gemaak het vir beleggings.[15]
Jefferson County is die enigste streek in Noord-Amerika waar ryk afsettings van steenkool, ystererts en kalksteen – die basisprodukte vir staalvervaardiging – naby mekaar ontgin kan word. In die dekade tussen 1880 en 1890 het die nuut gevestigde yster- en staalbedryf die oorheersende nywerheidsektor van Alabama geword. In 1889 was die plaaslike ysterertsbedryf reeds die tweede grootste in die hele Verenigde State. Anders as katoen, die belangrikste produk voor die oorlog, is Alabama se ystererts nie vir verdere verwerking na die Noordstate of na Europa verskeep nie, maar gebruik om plaaslike nywerhede te ontwikkel.
Katoenvervaardiging het danksy die vestiging van nuwe meule sterk groei ervaar, en vir die eerste keer kon ook katoensade verwerk tot waardevolle neweprodukte soos olie, seep, mis en veevoedsel. Koring-, meel- en wolmeule het dieselfde snelle groei getoon. Hulle is, naas 'n verskeidenheid ander fabrieke wat boumateriaal, dranke, besems, meubels en ander goedere vervaardig het, in Birmingham, Alabama se nuwe spilpunt van handel en nywerhede, gevestig.
Terwyl net 'n relatief klein persentasie van Alabama se bevolking deur die toenemende industrialisering en verstedeliking geraak is, het op die platteland, waar negentig persent van alle inwoners steeds op plase gevestig is, menslike drama's afgespeel. Katoenvervaardiging het sy vooroorlogse vlak weer teen die 1880's bereik, maar markpryse het in die 1880's en 1890's voortlopend gedaal. Die werks- en lewensomstandighede vir plattelandse Alabamers het dus ná die Heropboufase hoegenaamd nie verbeter nie. Die oorgrote aanbod van ongeskoolde mannekrag en die gebrek aan kredietfasiliteite, waarmee vrygelate slawe en armblankes 'n kans sou kry om hul eie grond te koop, het die opkoms van 'n huurboerdery- en deelsaaierstelsel bevorder wat in baie opsigte nouliks van vooroorlogse slawerny verskil het. Grondbesitters het nie oor die finansiële middele beskik om ekonomies lewensvatbare lone te betaal. So het hulle hul grond òf aan huurboere verhuur of plaasarbeiders toegelaat om die grond as deelsaaiers te bewerk en 'n deel van hul inkomste aan die eienaar af te staan.
Hierdie soort ekonomiese afhanklikhede het nie alleen tussen grondbesitters en boere bestaan nie, maar dikwels ook tussen boere en krediteurs wat lewensmiddele, sade, mis en ander benodigde goedere beskikbaar gestel en met 'n deel van die latere inkomste betaal is. Huurboerdery en deelsaaiery het beteken dat die meeste plaaswerkers aan uitbuiting blootgestel is en onder 'n skuldlas gebuk gegaan het wat hulle nooit sou kon afbetaal nie. Sommige boere en deelsaaiers het saamgesluit om belangegroepe soos Grange, Agricultural Wheel, Farmers' Alliance en Sharecroppers' Union in die lewe te roep wat vir hervorming van die landboustelsel gepleit het. Die Farmers' Alliance het beskeie sukses behaal – so is spoorvervoerkoste verlaag en die Departement van Landbou en Nywerhede gevestig wat die boerderygemeenskap ondersteun het. Die Universiteit van Auburn en die Tuskegee-instituut het landboukundige kurrikula begin aanbied wat ook bestuursonderwys vir boere ingesluit het.
Die uitbreiding van vervoerinfrastruktuur was 'n verdere sleutelfaktor wat bygedra het tot Alabama se industrialisering in die Nuwe Suide-tydperk. 'n Spoorlyn, wat Mobile met Nashville verbind het (met stasies in Montgomery en Birmingham), is in 1872 voltooi. 'n Verdere spoorlyn, wat Meridian in Mississippi met Chattanooga in Tennesse verbind het, het eweneens deur Birmingham geloop. In 1900 het drie belangrike spoorlynstelsels – die Suidelike Spoorwegstelsel (Southern Railway system), die Atlantiese Kusspoorlyn (Atlantic Coastal Line) en die Kuslyn (Seaboard Line) – die deelstaat deurkruis. Destyds was meer as 4 000 myl se spoorlyne in bedryf.
Passasiers en goedere is daarnaas ook op Alabama se waterweë vervoer. Verbeterde stoombote (tradisionele sywiel-stoombote is geleidelik vervang deur nuut ontwikkelde agterboegwielbote) en die opgradering van Mobile se seehawe deur grootskeepse baggerwerk in 1876 en 1888 het watervervoer meer lewensvatbaar gemaak.
Tussen 1915 en 1970 is die swart bevolking in die Diep Suide deur 'n massiewe bevolkingverskuiwing geraak – die Groot Migrasie van sowat 5,5 swart Amerikaners na die noorde en weste van die land. In hierdie tydperk, toe die Verenigde State se politieke, ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe 'n ingrypende verandering ervaar het, het veral swart bewoners van Birmingham, Montgomery en Florence hulle elders in die VSA gevestig – onder wie die ouers van Jesse Owens (1913−1980), die befaamde atleet en wenner van vier goue medaljes tydens die Olimpiese Spele van 1936 in Berlyn, deelsaaiers uit Oakville wat met hulle tien kinders na Ohio verhuis het.
Die oorgrote meerderheid van Alabama se bevolking is nakomelinge van blanke Europese setlaars, onder wie 'n groot persentasie immigrante van die Britse Eilande, wat gedurende die 19de eeu vanuit aangrensende gebiede in die ooste en noorde na die huidige deelstaatgebied gestroom het. Afro-Amerikaners verteenwoordig sowat 'n kwart van die totale bevolking en is oorwegend nasate van slawe uit Afrika. Daar is relatief klein groepe van ander etniese minderhede en buitelanders. Die mees onlangse immigrantegroepe is Hispanics of Latyns-Amerikaners (tans sowat twee persent van die bevolking) en Asiate. Die meeste bewoners is aanhangers van Christelik-Protestantse kerke, waaronder 'n groot persentasie Baptiste en Metodiste.
Nog tot in die 20ste eeu het Alabama 'n sterk landelike karakter gehad. Bevolkingsgetalle in die tradisionele katoenstreke van die Black Belt het daarna dekades lank afgeneem namate inwoners na die snel groeiende stedelike sentra gemigreer het. Vandag word die grootste deel van die deelstaatbevolking in stedelike en voorstedelike gebiede gevestig. Die vinnige groei van binnestedelike bevolkings het in die vroeë 21ste eeu begin verstadig, alhoewel regenerasie ná dekades van verval die middestede weer aantreklik gemaak het as woonkwartiere. Die metropolitaanse gebiede rondom Mobile, Montgomery, Birmingham en Huntsville ervaar steeds snelle bevolkingsgroei.
In vergelyking met ander deelstate het in Alabama min verstedelikte gebiede ontstaan. Die vyf grootste munisipaliteite is Birmingham, Montgomery, Mobile, Huntsville en Tuscaloosa. Vir die sensus van 2000 is Alabama in twaalf metropolitaanse en dertien mikropolitaanse statistieke gebiede onderverdeel. Die eersgenoemdes huisves meer as sewentig persent van die totale bevolking. Die grootste metropolitaanse statistieke gebied (metropolitan statistical area, MSA) is Birmingham-Hoover wat oor sewe administratiewe distrikte (counties) strek – Blount, Bibb, Chilton, Jefferson, Shelby, St. Clair en Walker.
Alabama was in 2000 die 26ste mees digbevolkte deelstaat in die VSA met 87,6 inwoners per vierkante myl. Slegs in drie ander suidelike deelstate – Arkansas, Mississippi en Texas – was die bevolkingsdigtheid nog laer. 361 munisipaliteite het 'n bevolking van minder as 5 000 gehad, en in 401 munisipaliteite het die bevolkingsgetal nie die 10 000-kerf oorskry nie.
Hoër lewensgehalte, die ontwikkeling van nuwe woon- en sakegebiede in voorstede en landelike streke en stygende brandstofpryse is die beslissende faktore van migrasiepatrone binne die deelstaat. So het die bevolkings van Birmingham, Huntsville en Tuscaloosa tussen 1990 en 2000 'n bevolkingsafname getoon namate meer inwoners vanuit digbeboude stadsgebiede na die voorstede verhuis het. In periodes van stygende brandstofpryse is dié proses omgekeer deur grootskaalse herontwikkelingsprojekte in of naby die sakekerne van groter nedersettings.
Die Poarch Band of the Creek Nation is die enigste oorblywende Indiaanse stam in Alabama wat nooit uit hul stamland verdryf is nie en ook op federale vlak as inheemse stam erken word. Hulle is nasate van 'n deel van die Creek-nasie wat oorspronklik groot dele van Alabama en Georgia bewoon het.[16] van Die Poarch bewoon al meer as driehonderd jaar 'n gebied buite Atmore, 'n nedersetting noordoos van Mobile.
Die Poarch vorm 'n soewereine nasie en beskik oor hul eie administrasie en mag hul eie verordeninge uitvaardig. Die stam het tans meer as 3 000 lede, waarvan 1 000 in die Poarch-reservaat.
Alabama is naby die hartland van die sogenaamde Bybelgordel van die Amerikaanse Suidstate geleë, en in die verlede is na die deelstaat dikwels as die "Bybelgordel se gespe" verwys. Sowat negentig persent van die bevolking glo in God, en die oorgrote meerderheid is daarvan oortuig die heelal sowat 10 000 jaar gelede in 'n enkele skeppingsdaad ontstaan het.[17] Deelstaatbewoners is trots op hulle godsdienstige oortuigings en hou daarvan om hulle met ander te deel. So is die persentasie aktiewe kerkgangers steeds aansienlik hoog. Van die aktiewe kerklidmate is meer as die helfte aanhangers van Baptistekerke, sowat tien persent is Metodiste en sowat vier persent Rooms-Katolieke.[18]
Kenmerkend is die oorheersende invloed wat aanhangers van Baptistekerke in die deelstaat se openbare lewe – politiek, ekonomie en onderwys – uitoefen. Sowat 'n kwart van die deelstaatbewoners en byna twee derdes van kerklidmate is aanhangers van Baptistekerke wat deel uitmaak van die Alabama Baptist State Convention (ABSC) – die hoogste persentasie van alle deelstate waarin die Southern Baptist Convention (SBC) as oorkoepelende liggaam optree.[19] Binne die sowat 3 000 gemeentes of congregations word 'n wye verskeidenheid strominge aangetref.
Deur die loop van die geskiedenis is baie politieke debatte op 'n Christelike grondslag gevoer. In die 1950's het Martin Luther King Jr. in sy preke in die Dexter Avenue-Baptistekerk in Montgomery felle kritiek op Alabama se destydse beleid van rasseskeiding gelewer. Meer onlangse kwessies, waarby Protestantse Christene in Alabama betrokke geraak het, was die debat oor die openbare vertoning van godsdienstige simbole in openbare ruimtes, waaronder skole en werkplekke, en 'n veldtog wat deur Christelike groepe gevoer is om die doodstraf in die deelstaat af te skaf.
Alhoewel Alabama steeds onder die armste Amerikaanse deelstate gereken word en die gemiddelde inkomste per huishouding betreklik minder is as die nasionale gemiddelde, is daar groot verskille binne die deelstaat en kontrasteer armoede in plattelandse streke met die hoogs ontwikkelde stedelike sentra. Hul ekonomiese welvaart het oorspronklik hoofsaaklik op swaar nywerhede berus, maar intussen speel ook die groeiende dienstesektor 'n belangrike rol.
Die tradisionele landelike ekonomie word met katoen verbind. Alhoewel katoenverbouing nog steeds 'n belangrike rol vir die plaaslike landbousektor speel (Alabama lewer tans met jaarliks 100 000 ton sowat vier persent van die nasionale produksie), het dié arbeidsintensiewe bedryf sterk gekrimp nadat katoenplase in die vroeë 20ste eeu 'n reeks misoeste moes deurstaan, veral sedert die bolkewerplaag (Anthonomus grandis) katoenoeste in 1915 begin vernietig het. Vanaf die 1940's het meganisering en die konsolidasie van landbougrond die gemiddelde oppervlakte per boerdery-eenheid merkbaar laat styg.
Diversifisering was 'n ander beduidende proses wat verandering in die landbou gebring het. Baie katoenvelde is nou vir bosbou en veeteelt gebruik nadat hout-, bees- en suiwelpryse gestyg het. Tans dra pluimveeteelt en die verbouing van grondboontjies, sojabone, sorghum en mielies naas katoen tot die stygende inkomste van plaaseenhede by. Die gemiddelde waarde van plase in Alabama het sedert die middel van die 20ste eeu vermenigvuldig, terwyl die aantal werknemers in die landbou en verwante sektore in dieselfde periode afgeneem het, net soos die bydrae van die bedryf tot die deelstaat se ekonomie.
Alabama het in die vroeë 21ste eeu die derde belangrikste verskaffer van jong braaihoenders na Georgia en Arkansas geword, met 'n nasionale markaandeel van meer as tien persent.[20] Ander belangrike veeteeltprodukte sluit hoendereiers, varkvleis, akwakultuurvisse en suiwelprodukte in. Die aandeel van graan en vrugte aan Alabama se landbouproduksie het tot sowat 'n vyfde gedaal. Die belangrikste graan- en vrugtesoorte naas die bogenoemdes is aartappels, patats, tamaties, waatlemoene, perskes, appels, nektariene, druiwe, aarbeie en bloubessies.
Alabama se ryk en maklik ontginbare afsettings van ystererts, steenkool en kalksteen was die basis vir die ontwikkeling van swaar nywerhede soos yster- en staalvervaardiging. Steenkool word sowel in oopmyne asook ondergronds ontgin. Plaaslike velde in noordelike Sentraal-Alabama lewer hoofsaaklik bitumineuse of sagte kool (vetkole) op. In westelike Sentraal-Alabama word steenkool veral gebruik om metaangas te produseer.
Kalksteen word in groewe in die omgewing van Birmingham en Huntsville ontgin. Dit vorm die grondstof vir die vervaardiging van sement en word daarnaas ook vir stabiele padbeddings gebruik. Ander belangrike minerale sluit Alabama se welbekende wit marmer in wat deesdae hoofsaaklik as marmerpoeier vir 'n groot verskeidenheid toepassings bemark word, onder meer as pigment vir die papierbedryf, sout, klei, sand en gruis. Naas marmer is die deelstaat ook 'n belangrike verskaffer van bauxiet op die Amerikaanse mark. Kommersiële olieontginning het teen die middel van die 1940's begin. Oliebronne en gasvelde word oorwegend in die kusgebiede aangetref.
Nogtans is dit hoofsaaklik termiese steenkoolkragsentrales wat in Alabama se kragbehoeftes voorsien. Sowat 'n kwart van die elektrisiteit word in kernkragaanlegte opgewek. Hidroëlektriese aanlegte, waaronder waterkragsentrales wat deur die Tennessee Valley Authority (TVA) bedryf word, is die derde belangrikste kragbron.
Alabama lok jaarliks meer as twintig miljoen toeriste. In 2006 het 22,3 miljoen besoekers $8,3 miljard in die deelstaat bestee. Die toerismebedryf bied tans sowat 162 000 werkgeleenthede. Die eerste toerismekantoor is in Oktober 1951 volgens 'n besluit van Alabama se deelstaatparlement gestig en het oorspronklik as die Bureau of Publicity and Information bekendgestaan. Die naam is intussen twee keer gewysig – in Mei 1984, toe dit hernoem is as Alabama Bureau of Tourism and Travel (ABBT), het dit departementele status verkry en is sy direkteur as kabinetslid in Alabama se deelstaatregering benoem. Sedert 2009 staan die kantoor, wat in Montgomery gesetel is en 'n personeel van meer as sestig in agt afdelings in diens het, bekend as die Alabama Tourism Department (ATD).[21]
Teen die begin van die 21ste eeu het in Alabama meer nuwe werkgeleenthede ontstaan as in die meeste ander deelstate, ondanks die krimpende getal werkers in die industriële sektor. In 2005 het Alabama se uitvoere vir die eerste keer die 10 miljard-kerf verbygesteek en in die volgende jaar nog eens stewige groei getoon, hoofsaaklik danksy uitvoere na Kanada, Duitsland, Mexiko, Japan en China. Motorvervaardiging het in 2007 'n nuwe rekordvlak bereik met byna een miljoen eenhede.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.