Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Paulus III was die 220ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1534 tot 1549. Hy het pouslike troon bestyg in die era na die plundering van Rome in 1527 en die begin van die Reformasie. Tydens sy bewind begin die Kontrareformasie met die stigting van nuwe ordes soos die Jesuïete. Hy roep die Konsilie van Trente byeen in 1545. Hy was 'n beskermheer van die kunste en het veral nepotisme gebruik om sy mag en die van sy familie uit te brei.
Pous Paulus III | |
---|---|
Geboortenaam | Alessandro Farnese |
Pontifikaat begin | 13 Oktober 1534 |
Pontifikaat eindig | 10 November 1549 |
Voorganger | Clemens VII |
Opvolger | Julius III |
Gebore | 29 Februarie 1468 Canino, Italië |
Sterf | 10 November 1549 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Paulus |
Pous Paulus III[1] is gebore as Alessandro Farnese op 29 Februarie 1468 in Canino, Italië. Hy was die oudste seun van Pier Luigi Farnese en sy vrou Giovanna Caetani. Guillia (die skone) Farnese was sy suster en Pous Bonifatius VIII was ook 'n lid van die Caetani familie. Die Farnese familie was reeds belangrik toe hy aan die bewind gekom het, maar hy het die rykdom en aansien van die familie aansienlik versterk. Alessandro word opgelei aan die Universiteit van Pisa en aan die hof van Lorenzo de' Medici. Op 20 September 1493 benoem Pous Alexander VI hom as kardinaal. Op 28 Maart 1509 word hy biskop van Parma, op 15 Junie 1519 biskop van Frascati waar hy op 2 Julie 1519 as biskop gewy word. Op 9 Desember 1523 word hy biskop van Palestrina, op 29 Desember 1523 biskop van Sabina en op 20 Mei 1524 biskop van Porto en Santa Rufina. Onder Pous Clemens VII word hy op 15 Junie 1524 kardinaal-biskop van Ostia en dekaan van die kollege van kardinale. Op 13 Oktober 1534 volg hy Pous Clemens VII op en word gekroon op 3 November 1534 deur kardinaal Innocenzo Cibo. Hy regeer tot sy dood op 10 November 1549 en word opgevolg deur Pous Julius III. Die naam ‘Paulus’ beteken 'die kleintjie'.
Pous Paulus III[2] het vier buite-egtelike kinders gehad voordat hy pous geword het. Die kind van sy minnares Silvia Ruffini, Pier Luigi Farnese het hy hertog van Parma gemaak. Die drie ander se name was Ranuccio, Constanza en Paolo. By sy eerste optrede as pous op 18 Desember 1534 benoem hy sy kleinseuns Alessandro Farnese en Guido Ascano Sforza tot kardinaal hoewel hulle slegs veertien en sestien jaar oud was.
Tydens pous Paulus se bewind het Michelangelo die "Laaste Oordeel' in die Sixtynse kapel in 1541 voltooi. Hy het ook die Farnese paleis in die sentrum van Rome laat bou. Aanvanklik was Antonio da Sang junior die argitek, maar later het Michelangelo oorgeneem en die bouwerk is deur Giacomo della Porta voltooi. Hy het ook die "Villa Farnese" in Caprarola laat bou. Hy gee ook aan Michelangelo die opdrag vir sy fresko's "Kruisiging van Petrus" en "Bekering van Paulus". Die Venesiese skilder Titiaan skilder in 1543 'n portret van die pous en ook die bekende portret van die pous met sy kleinseuns kardinaal Alessandro en hertog Ottavio Farnese. Hy gee Michelangelo opdrag om die bronsbeeld van keiser Marcus Aurelius na die Capitoline heuwel te verskuif, waar dit die middelpunt van die piazza Campidoglio sou word.
Op 2 Junie 1536 vaardig die pous 'n bul uit om 'n konsilie in Mantua in 1537 byeen te roep. Die Duitse Protestante state wou egter nie deelneem en die hertog van Mantua het sake ook bemoeilik. Die pous het die konsilie eers vir 'n jaar uitgestel en later heeltemal afgestel. Op 29 Mei 1537 publiseer Paulus die bul "Sublimus Dei" teen die praktyk om die inheemse volke van die Amerikas (Indiane) tot slawe te maak. In 1536 stel die pous 'n kommissie aan wat die kerk se administrasie ondersoek het. In 1537 publiseer die kommissie sy verslag "Concilium de emendenda ecclesia". Dit het groot wantoestande in die kurie, die kerkadministrasie en publieke aanbidding aan die kaak gestel. Hoewel die pous probeer het om die toestande te verbeter, het dit geen of weinig gevolg gehad nie. Op 21 Julie 1542 stig pous Paulus III deur sy bul "Licet ab initio" die "Congregatio Romanae et Universalis Inquisitiones" wat die Inkwisisie sentraliseer.
Die pous wou sy kleinseun Ottavio Farnese graag hertog van Camerino maak. Hy het die hertogdom in 1540 ontneem van die hertog van Urbino. Hy het ook die belasting druk skerp verhoog. Dit het aanleiding gegee tot oproerigheid in die kerklike staat. Perugia wou onafhanklik word, maar word onderdruk deur Paulus se seun Pier Luigi Farnese. Die burgers van Colonna is verslaan en Ascanio is onder die pouslike ban geplaas.
Op 27 September 1540 is die orde van die Jesuïete onder leiding van Ignatius van Loyola goedgekeur met die bul "Regimini militantis ecclesiae". Die orde sou late 'n baie groot invloed kry in die kontrareformasie.
Op aandrang van keiser Karel V het die pous kardinaal Morone na Hagenau en Worms gestuur vir samesprekings in 1540. In 1541 het kardinaal Contarini die konferensie van Regensburg gelei. Die bekende frase "slegs deur geloof word ons gered" is deur Contarini en die konferensie vasgelê. Dit het egter ook die Roomse leer oor "goeie werke" bevat. In Rome het die konsistorie van 27 Mei 1541 dit verwerp en Martin Luther wou dit ook nie aanvaar nie omdat dit nie aangedui het dat die Kerk voorheen sou fouteer het. Dit het tot die finale breuk met die Protestantisme gelei. Die keiser het egter nog nie opgegee nie en opnuut aangedring op 'n konsilie. Op 15 Maart 1545 na verskeie vertragings word die konsilie van Trente uiteindelik byeengeroep deur die bul "Laetere Hierusalem". Die eerste sessie van die konsilie het op 13 Desember 1545 plaasgevind en die laaste op 13 Maart 1547.
Die keiser het volgehou om Protestantisme te onderdruk. In Keulen het die pous Hermann von Wied geëkskommunikeer op 16 April 1546 en die keiser het Hermann gedwing om af te tree in Februarie 1547. Die Protestante stede van die Schmalkaldiese Liga is onderdruk en met sy oorwinning in die Slag van Muhlberg op 24 April 1547 het Karel die suide van Duitsland grotendeels herwin vir die Katolisisme
Op 17 Desember 1537 plaas die pous koning Hendrik VIII van Engeland onder 'n interdik, wat aanleiding gee tot die totstandkoming van die Anglikaanse Kerk.
Pous Paulus III het 71 nuwe kardinale aangestel in 12 konsistories.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.