Suid-Afrikaanse musikant From Wikipedia, the free encyclopedia
Anton Goosen (gebore 5 Maart 1946) is 'n Suid-Afrikaanse musikant. Goosen het meer suksesvolle liedjies (treffers) agter sy naam as enige ander Suid-Afrikaanse sanger. Sy treffers sluit in Silver de Lange, Boy van die suburbs, Byeboerwa en 'n Brief vir Simone. In 1979 het Anton die temamusiek vir die rolprent Pretoria O Pretoria! geskryf wat die oorspronklike weergawe van Kruidjie-roer-my-nie was, en sy eerste kommersieel suksesvolle opname was. Die eerste weergawe van Kruidjie-roer-my-nie is drie dae na die uitreiking daarvan verban.
Anton Goosen | |
---|---|
Ook bekend as | Liedjieboer |
Gebore | 5 Maart 1946 |
Genres | Afrikaans |
Beroep(e) | Sanger, liedjieskrywer |
Instrumente | Kitaar, stem |
Jare aktief | 1979 - nou |
Webwerf | antongoosen.co.za |
Anton Lodewyk Goosen is op 5 Maart 1946 op Middelburg in die Kaapprovinsie gebore. Hy is die seun van Anthonie en Marie Goosen. Sy pa was ’n ouditeur in die Poswese en het onder andere vir Noord-Vrystaat rugby gespeel. Hy bring sy eerste vyf lewensjare in die Oos-Kaap deur. Sy laerskoolloopbaan begin by die Volkskool in Kroonstad. Hier bly die gesin op ’n kleinhoewe. In standerd ses wil sy pa hê hy moet klavieropleiding kry, maar hy verkies rugby, ’n besluit wat hy later berou. Hy stig sy eerste rockorkes en sing hoofsaaklik Engelse liedjies terwyl hy nog op skool is, na aanleiding waarvan ’n skoolsielkundige in standerd nege hom meedeel dat daar vir hom geen toekoms in musiek is nie.[1]
Na skool studeer hy aan die Heidelbergse Onderwyskollege waar hy ’n Diploma in Psigopatologie vir spesiale onderrig vir verstandelik gestremde kinders verwerf. Dan word hy ’n onderwyser by Suidheuwels Laerskool en toe by Alberton English Medium Primary en daarna Afrikaanse onderwyser by St. Stithian's Preparatory School in Sandton in 1970 - 1974[2] en saans het hy in kroeë opgetree. In hierdie tyd skryf hy ’n musiekblyspel, Jantjie ko' huistoe, wat deur die leerlinge opgevoer word.[1] Tydens die era wat hy onderrig gegee het, het hy homself ook as 'n krieketskeidsregter vir Suid-Transvaal bekwaam.
In 1974 verlaat hy die onderwys en werk as deeltydse musiekresensent by die nuutgestigte Beeld en ook in dieselfde hoedanigheid onder die skuilnaam Jantjie Blom by Huisgenoot. Intussen gee hy ook kitaarklasse en pottebakkeryklasse.
As musiekresensent ontmoet hy vir Sonja Herholdt en sy begin om van sy liedjies op te neem, wat lei tot ’n baie suksesvolle werkverhouding wat bykans vyf jaar duur en baie treffers tot gevolg het, waarvan Jantjie die eerste was en ook treffers soos Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein, Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans en Oberammergau insluit. Hy skryf ook vir Carike Keuzenkamp (Hoeka toeka en Byeboerwa) en Laurika Rauch (Straattroebadoere en Atlantis). Beide Richard Clayderman en Francis Goya neem Waterblommetjies op.
Saam met Merwede van der Merwe werk hy as musiekadviseur en liedjieskrywer aan die opspraakwekkende televisieprogram, Musiek en Liriek, wat ’n nuwe standaard in Afrikaanse musiek daarstel en hom as huishoudelike naam in Suid-Afrika vestig. Hiernaas het Kruidjie-roer-my-nie die treffersparade begin klim. Die rubicon skeidslyn in Afrikaanse musiek is bereik en kort op sy hakke het David Kramer, Coenie de Villiers, Lucas Maree en Annelie van Rooyen gevolg.
Goosen het 'n rock-grondslag gelê vir nuwe opkomende kunstenaars om te volg. In 1983 doen Goosen die regie van Wildebeest, die eerste Afrikaanse rock-album. In 1981 verskyn Liedjieboer - ghitaarkoorde en liriek by Tafelberg Uitgewers.
Hy onderneem uitgebreide toere voor vol sale regdeur Suid-Afrika en Namibië en verkope van sy albums en kortspelers is baie goed. Hy onderneem ook toere deur die Kongo, België, Nederland, Spanje, Australië, Namibië en Mosambiek en tree ook 13 keer in Londen op.
Ook as regisseur bewys hy homself deur sy produksie in 1994 van Koos Kombuis se eerste album, Elke boemelaar se droom, en die CD van liedjies in 2000 van Breyten Breytenbach se gedigte, Om te Breyten. Sy opname van Danzer - 'n duet met Lucky Dube, op die Danzer-album behaal gelyktydig die nommer een-posisie op die Radio 5fm treffersparade asook Radio Metro.
In 1968 neem hy en sy sangmaat, Erika Lundi, twee kortspelers op, Manina en Lady Ann onder die sangnaam Anton en Michelle, en vervaardig 'n Engelse langspeler wat nooit uitgereik is nie.
Sy eerste langspeler, Anton sing, verskyn in 1972. Dit is nie merkwaardig nie en bevat hoofsaaklik sy opnames van ander se liedjies. Hy reik in 1979 sy langspeler (Boy van die suburbs) uit, wat die eerste is deur ’n skrywer-sanger in Afrikaans. Die liedjie Blommetjie gedenk aan my op hierdie album word allerweë beskou as die eerste rockliedjie in Afrikaans. Hiernaas is Anton bestempel as die "Vader van Afrikaanse rock-musiek".
Hierna volg verskeie verdere albums, insluitende Tweede Laan 28 (1980), Liedjieboer (1981), Jors Troelie (1982), Tussen twee rooi mure (1983), Lappiesland (1985), Liedjieboer innie city/stad (1987), Winde van verandering (1989) Danzer (1992), Bushrock (1995), Vis innie Bos (2002) Anton en Vrinne Live in die Staatsteater (2004) Groen Blomme-projek (2006), Padkos (2017) en 40 Jaar liedjieboer innie langpad (2019).
Met die opname van sy Bushrock-album het Goosen daarin geslaag om 'n unieke boere-marimbaklank te skep met vermengings van kulturele style. Riviersonderend en Putonnerwater - twee versameling albums word ook in die tyd uitgereik, met enkele nuwe werk soos Die Seewater is blou en sy toonsetting van Ingrid Jonker se Hemel vol blou Akkers.
In 1985 sluit hy ’n opnamekontrak met Peter Gallo op ’n melkbottel en ’n handdruk. In 1989 slaan Goosen 'n nuwe rigting in: saam met Lucas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk stig hy die groep Kommissie van Ondersoek - 'n tong-in-die-kies verwysing na die vele kommissies wat die Nasionale Party tydens hul bewind saamgestel het. In die laat negentigs neem Anton tyd om homself te herontdek. Hy bou sy huis klaar en reis deur Afrika. In 1999 begin hy weer met lewendige optredes, en 'n nuwe geslag wat nog kinders was toe Anton begin het met sy musiekloopbaan kom na vore. Sy musiek het generasies oorbrug. In 1999 weier Goosen 'n toekenning van die ATKV omdat hulle ook mense beloon wie se werk hoofsaaklik uit vertaalde Engelse liedjies bestaan. Hy voer die stryd teen vertaling en sangers wat op verhoë verskyn met voorafopgeneemde klank.
Gedurende 2002 word die stryd tot 'n punt bedryf onder leiding van Steve Hofmeyr wat Goosen hoofsaaklik op Litnet hieroor getakel het, dit het ook later in koerante verskyn. Goosen is veral bekend daarvoor om ander kunstenaars hul eie paaie te help volg, as gevolg hiervan is Anton en Vrinne gebore by die Volksjol tydens die Volksbladfees toe Valiant Swart en Karen Zoid by Anton en Beeskraal op die verhoog aansluit vir 'n vertoning. Dit het gelei tot vele Anton en Vrinne-vertonings regoor Suid-Afrika, insluitend 'n vieruur lange vertoning in die Staatsteater met sy Bushrock-orkes en verskeie kunstenaarsvriende soos wyle Gito Baloi, Sonja Herholdt, Ollie Viljoen, dDisselblom, Gian Groen, André Swiegers, Alta Joubert, Charlie Smith van Beeskraal, Stean van der Walt, Dozi, Theuns Jordaan ensovoorts. In 2003 word 'n suksesvolle album van hierdie vertoning uitgereik.
Anton se tweede liriekalbum, Hitte van die teerpad, het die lig gesien in 2005, die album is 'n oorsig van sy loopbaan, staaltjies en verhale. Dieselfde jaar reik hy ook die album Groen Blomme, uit waar hy met verskeie jong kunstenaars kragte smee. Die titel Groen Blomme verwys na die jong, talentvolle kunstenaars wat saam met Anton aan die album gewerk het, onder andere Gian Groen, Jan Blohm en Klopjag. Vanaf 2002 tot 2008 doen Anton en sy Bushrock-orkes 'n jaarlikse toer na die Verenigde Koninkryk en in 2007 tree hulle ook in België, Nederland. In 2008 reik Goosen 'n drie dubbel albums uit om sy 33 jaar in die musiekbedryf te vier. In 2009 het hy ook sy eie musiekprogram op Whale Coast FM: Pampoene oppie dak.
Sedert 2012 behartig hy die vervaardiging vir dertien weke sy eie radioprogram op Radiosondergrense, Liedjieboer-rumoer, waarin hy sy keuse van wêreldmusiek speel (kultus tematiese musiek).[3][4] Dit word opgevolg met nog vier reekse en die vyfde reeks is in April 2016 uitgesaai. In April 2017 bied Anton die sesde RSG Liedjieboer-rumoer-reeks aan- hierdie keer oor die musiek en werk van die Nobelpryswenner, Bob Dylan. In Julie 2013 verskyn sy liedjie Viva Madiba wat in agt tale op die album In homage to the Madiba Legacy deur onder andere Gloria Bosman, Rebecca Malope, Dozi, Charlize Berg en andere opgeneem is. In 2015 skryf hy die temalied vir Koos Roets se rolprent, 'n Pawpaw vir my Darling wat in Januarie 2016 begin vertoon het. Dit was 'n onmiddellike treffer en was dadelik op verskeie treffersparades.
In Maart 2019 het Anton weer Musiek en Liriek-40 jaar later laat herleef by die Woordfees in Stellenbosch in die Spier-amfiteater. Die volgende maand, April, was dit weer tyd vir 'n Anton en Vrinne konsert, vergesel deur die Soweto String Quartet, Sonja Herholdt, Early B, Lynelle Kenned en die Bushrock-orkes onder leiding van Melissa van der Spuy, by die Artscape Teater in Kaapstad. Hierdie vertoning is ook verfilm deur kykNET vir 'n opname vir televisiekykers.
Hy is waarskynlik die eerste gewilde Afrikaanse sanger wat ernstig protes aanteken teen die vergrype van die apartheidsbeleid en die regering van die dag. In 1979 skryf hy die musiek vir die rolprent Pretoria O Pretoria en die temamusiek word binne drie dae na uitreiking verbied deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. Die liedjie Winde van Verandering word ook onmiddellik deur die SAUK verban. Die liedjie het die geskiedkundige gebeure van 2 Februarie 1990 vooruit geloop.
Nadat die SAUK snuf in die neus gekry het, is die liedjie Winde van Verandering ontban en word dit ook 'n radiotreffer. In dieselfde jaar stel Anton die 19-jarige Ansie Kamfer, 'n politiese aktivis, as sy bestuurder aan. Sy vertroue in haar word beloon toe sy 'n jaar later Houtstok reël en daarin slaag om met haar eerste poging 22 000 mense by 'n Afrikaanse musiekkonsert te kry. Dit is tot op hede die grootste Afrikaanse musiekfees nog.
Na die verbanning in 1979 herskryf hy die lirieke van Pretoria O Pretoria en reik die liedjie weer uit onder die titel Kruidjie-roer-my-nie, wat sy eerste kommersiële treffer is, waarvan 40 000 eenhede verkoop is - op die B-kant van die kortspeler was Waterblommetjies, wat later ook 'n groot treffer was.
In dieselfde jaar reik hy sy eerste album uit, wat ook die eerste volledige Afrikaanse album ooit deur 'n sanger was wat sy eie liedjies in Afrikaans geskryf het. Die inspirasie hiervoor het gekom vanuit 'n gesprek met Chris Kritizinger, waar hy Anton aangemoedig het om 'n inheemse album te maak.
Die ATKV verbied Goosen om by hul verhoë op te tree nadat hy grappies tydens 'n crescendo-optrede in die Stadskouburg oor die nasionale vlag gemaak het, terwyl die liedjie Winde van verandering weens die politieke protes daarin deur die SAUK verbied word, maar ontban word kort voor die politieke veranderinge van 1990. Benewens beperkings op liedjies met politieke strekking verbied hulle ook Begrafnistyd in Zeerust en Boude en 'n rits ander omdat dit moontlik aanstoot kan gee aan sensitiewe luisteraars.
Liedjies soos Antjie Somers en Hanoverstraat is van die eerste Afrikaanse politiese liedjies oor gedwonge verhuising. Mpanzaville, opgeneem deur Laurika Rauch, dra sterk verwysings na die Soweto-onluste.
Tydens 'n kulturele konsert by UNISA het hy die gehoor geskok toe hy met 'n rock-orkes opdaag vir sy optrede. Sowat 300 van die 1 200 mense in die gehoor het uitgeloop tydens die trom-solo. In samewerking met onder andere Laurika Rauch, Koos du Plessis, Jannie du Toit, Louis van Rensburg en Clarabelle van Niekerk was Anton die voorloper van die musiek en lirekbeweging in 1979.
Hy vestig hom in 1987 op sy plasie Gansbaailapa naby die Hennopsrivier. Hier word hy vroeg in 2007 beroof en aangerand en kaal langs die pad agtergelaat. Dan trek hy na Kleinbaai naby Gansbaai in die Wes-Kaap, terwyl hy ’n kothuis naby Stellenbosch huur vir wanneer hy moet reis om op te tree. In 2012 skenk hy sy memorabilia (koerantuitknipsels, notas, briewe en lirieke) aan die dokumentasiesentrum vir musiek aan die Universiteit van Stellenbosch Domus, om studente in staat te stel om ’n studie van sy musiek te maak.
Hy is twee keer getroud en geskei. Sy eerste vrou, Antjie, het hy ontmoet terwyl hy aan die Heidelberg Onderwyskollege gestudeer het. Sy tweede vrou was Stephanie Pickover. Hy het twee dogters (Maríza en Moya), een uit elk van hierdie huwelike. In 2017 trou hy met Estie Geldenhuys by Manor House in Stanfordvallei.
Hy bundel die lirieke van sy liedjies in Liedjieboer en later in Hitte vannie teerpad,[5] - in Liedjieboer 1 en 2 is 38 van sy werke. Kenmerkend is die gebruik van volksvertellings en menslike situasies wat hy in ’n volkse idioom weergee.[6][7] Antjie Somers en Afrika word opgeneem in Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Van sy gedigte word ook opgeneem in versamelbundels soos Goudaar.
Elf van sy albums bereik Goue status. In 1979 ontvang hy twee Sarie-toekennings, naamlik as Sanger van die Jaar en ook met Kruidjie-roer-my-nie as Liedjie van die Jaar. Hy weier ’n ATKV-toekenning in 1999 omdat hulle ook mense beloon wie se werk hoofsaaklik bestaan uit vertaalde Engelse liedjies.
In April 2001 kry hy die Sama-toekenning vir Beste Afrikaanse kontemporêre album met Om te Breyten. ’n Geraas-toekenning word in November 2001 aan hom gemaak vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek en in Mei 2002 verower hy sy tweede Sama-toekenning vir Beste Afrikaanse kontemporêre album met Vis innie bos, hierdie album is deur kritici beskou as die eerste suksesvolle wêreldklas musiek album in Afrikaans, hiermee breek Goosen weereens nuwe grond vir Afrikaans.
In April 2002 word hy aangestel as beskermheer van die Aardklopfees. Hy ontvang ’n toekenning vir lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek by die Huisgenoot-skouspel in September 2003. In Januarie 2004 word hy toegelaat tot die South African Rock Digest’s Hall of Fame.[2]
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer hom in 2009 met ’n eeufeesmedalje vir sy baanbrekerswerk in die kunste en in dieselfde jaar ontvang hy ’n Suid-Afrikaanse Musiekprys (Sama-toekenning) vir sy lewenswerk, saam met Yvonne Chaka Chaka. Saam het die twee kunstenaars, bygestaan deur die Lucky Dube-orkes, Pampoene oppie dak vir 'n gehoor van 6 000 grootliks andertaliges by Sun City gesing.
Die ATKV vereer hom in 2010 met ’n toekenning vir sy bydrae tot Afrikaans as liedjieskrywer. In 2011 vereer die Voortrekkerbeweging hom met ’n goue erepenning vir uitstekende jeugdiens.[8] In 2012 nader die musiekdepartement DOMUS van die Universiteit Stellenbosch, Anton om sy manuskripte, uitknipsels en werk oor die jare in hul argief te bewaar vir studente vir nagraadse studies.
Sy bydra tot Afrikaanse musiek word verteenwoordig deur die 19 Liedjies van Anton Goosen wat in die FAK Sangbundel Volume 2 wat einde 2012 uitgereik is, opgeneem is - dit is meer liedjies as enige ander liedjieskrywer in Afrikaans. Dit het ook die strydbyl tussen hom en ander instansies begrawe, aangesien die nuwe FAK Sangbundel hoofsaaklik uit inheemse Afrikaanse musiek bestaan en dus word hy genooi om by die gala-opening by die Voortrekkermonument op te tree.
Dit is meer liedjies as enige ander liedjieskrywer in Afrikaans. In Junie 2013 ontvang hy die Innibos trofee vir sy lewenslange bydra tot Afrikaanse musiek. In November 2013 is hy genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig met 'n vertoning en radio onderhoud by die 8ste Zentsuraren-fees (Festival against sencorship) in Bilbao, Spanje.
5 Maart 2016 vereer die Universiteit Stellenbosch se Woordfees hom met sy 70 ste verjaardag met ’n huldigingsprogram met onder andere David Kramer, Nick Turner, Robin Auld, Gert Vlok Nel, Gian Groen, Churchill Naude, Deon Meyer, Sonja Herholdt e.a. onder musikale regie van Schalk Joubert. 21 November 2016 het Dr D.J. Langner, Besturende Direkteur van die F.A.K., die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereningine, die prestige toekenning vir besondere kultuurprestasie aan Anton Goosen van Gansbaai toegeken vir sy lewenslange bydra tot die bevordering van Afrikaanse musiek by die amfitiater van die Voortrekker Monument in Pretoria. Sy “Blommetjie gedenk aan my” se liriek is terselfdertyd in die Liedjietuin van die F.A.K. onthul. Augustus 2019- Krone 6 in Grand West en Sun Arena. Sony/Select bekroon Anton as 'n legende.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.