Huisgenoot
tydskrif From Wikipedia, the free encyclopedia
tydskrif From Wikipedia, the free encyclopedia
Huisgenoot is 'n weeklikse Afrikaanse gesinstydskrif. Dit het lank die hoogste sirkulasiesyfers van alle betaalde Suid-Afrikaanse tydskrifte gehad,[1] en is steeds die beste verkoper onder Afrikaanse tydskrifte. Sy susterstydskrif YOU, die Engelstalige weergawe, is ook onder die toptydskrifte. Nog 'n voormalige susterstydskrif, Drum, was op die swart mark gerig. Daar word geskat dat meer as twee miljoen mense weekliks Huisgenoot lees. Huisgenoot word deur Media24, 'n filiaalmaatskappy van Naspers, uitgegee en die inhoud bestaan uit 'n mengsel van ware drama, glansonderwerpe, mode en verbruikersake sowel as resepte, blokkiesraaisels, tuisprojekte en sport. Dit het ook 'n kinder- en tienerafdeling en elke week minstens een kortverhaal of ’n vervolgverhaal.
Huisgenoot | |
---|---|
Redakteur | Yvonne Beyers |
Redaksielede | Almari Wessels, Cyril Blackburn, Lara Atson, Charlea Sieberhagen-Grey, Hugo Loubser, Deon Lamprecht, Johannes de Villiers, Suzaan Hall e.a. |
Kategorieë | Algemene belang; gesinstydskrif |
Frekwensie | Weekliks |
Uitgewer | Media24 |
Totale Oplaag | 140 279 (ABC, 1e kwartaal 2021) |
Jaar gestig | 1916 |
Eerste uitgawe | 20 Mei 1916 |
Land | Suid-Afrika |
Taal | Afrikaans |
Webwerf | www |
Izelle Venter was van 1 Julie 2011 hoofredakteur van al drie publikasies, wat saam 'n sirkulasie van sowat 435 000 eksemplare per week gehad het in die eerste kwartaal van 2016.[2] Venter het Esmaré Weideman opgevolg wat aangestel is as uitvoerende hoof van Media24. Julia Viljoen het redakteur van Huisgenoot geword en sy is deur Henriëtte Loubser opgevolg.[3] Einde 2013 is die hoofredakteurspos afgeskaf. Yvonne Beyers is van 1 Junie 2017 af redakteur van die tydskrif.[4]
Daar is verskeie handelsmerkuitbreidings (afsonderlike tydskrifte oor onder meer brei, bak, blokraaie). Verder is 'n gewilde konsert, Skouspel, jaarliks tot in 2014 aangebied waar van die land se vooraanstaande Afrikaanse kunstenaars opgetree het. Dit is gewoonlik oor twee naweke by Sun City gehou. By 'n afsonderlike geleentheid word die gewildste sangers, akteurs, TV-programme ens. van die jaar vereer met 'n toekenning, Tempo.[5] 'n Jaarlikse Skouspel is ook in Kaapstad gehou.[6] In 2015 het Skouspel SuperSkouspel geword, 'n eenmalige konsert vir sowat 30 000 toeskouers in die FNB-stadion in Johannesburg. Dit is net in 2015 aangebied.
In Julie 2012 het Huisgenoot in samewerking met kykNET hul eie werklikheidsreeks, Saktyd, geloods.[7] Die reeks het vir Huisgenoot-aanhangers 'n agter-die-skerms-kykie gegee van wat dit verg om weekliks die land se mees gewilde tydskrif te vervaardig, terwyl dit ook 13 deelnemers uitgedaag het om 'n gesogte pos by die tydskrif te wen. Die uiteindelike wenner was Christiaan Boonzaier.
Die tydskrif is in 1916 as die maandblad De Huisgenoot gestig (die eerste uitgawe het op 20 Mei daardie jaar verskyn) om 'n inkomstestroom vir Die Burger te verskaf en om die Afrikanerbevolking te voorsien van inspirasie, inligting en vermaak.[8] Die Huisgenoot was in die beginjare 'n belangrike bron van kennis oor geskiedenisonderwerpe, nie net Suid-Afrikaanse onderwerpe nie, maar ook gebeure uit die wêreldgeskiedenis en dit kon as "die volk se universiteit" beskou word.[9] Eugène Marais het byvoorbeeld vier artikels oor miere vir Die Huisgenoot geskryf.[10]
Die tydskrif is in sy beginjare sterk vereenselwig met die ontluikende Afrikanernasionalisme. Historiese figure is gereeld op die voorblad gebruik. Die eerste uitgawe het 'n foto van pres. Paul Kruger vertoon en die opvolgende uitgawe dié van pres. J.H. Brand (Julie 1916). Ander figure wat op die voorblad gepryk het, het genl. Piet Joubert (Augustus 1916), die volksdigter Jan F.E. Celliers (September 1916), Karel Trichardt (Oktober 1916), pres. F.W. Reitz (November 1916) en die Vader van Helpmekaar, ds. J.D. Kestell (Desember 1916) ingesluit.[8]
Huisgenoot het egter geleidelik ál meer markgerig geraak en die inhoud is ter wille van populêre smaak aangepas. In Oktober 1923 het Die Huisgenoot aangekondig dat dit in 'n weekblad sou verander. In dié uitgawe skryf die redakteur, prof. J.J. Smith, dat hoewel die "ernstige sy van die lewe" nie verwaarloos sal word nie, daar ook gepoog sal word "om iets vir die smaak van elke leser aan te bied" en "meer in voeling met die behoeftes en wense van die aangroeiende leserskring te bly".[8] Teen die laat 1940's het die tydskrif in die meeste van sy doelwitte geslaag, naamlik om in die middelpunt van die Afrikaanse kultuurlewe te staan, te help om Afrikaans as skryftaal te vestig, 'n leesgewoonte onder Afrikaners te kweek en om 'n platform te bied aan Afrikaanse skrywers en digters.[11]
Teen die 1950's en 1960's het filmsterre soos Audrey Hepburn (2 September 1960) en Ava Gardner (2 Desember 1960) pleks van landskappe of geskiedkundige figure op die voorblad gepryk. Gebeurtenisse soos Republiekwording in 1961 en die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd het egter heelwat publisiteit gekry. Die Nederlandserige titel De Huisgenoot is na die meer Afrikaanse Die Huisgenoot aangepas en in 1977 is die naam verder verkort tot Huisgenoot.[8]
Teen die laat 1970's was die tydskrif besig om uit voeling te raak met die veranderende kulturele norme van die Afrikanerbevolking, ook weens die invoer van televisie-uitsendings in 1976, en die leserstal het drasties gedaal. Teen 1978 was die tydskrif in 'n ernstige verknorsing en 'n nuwe redakteur, Niel Hammann, is aangestel. Hy het Huisgenoot in 'n meer populistiese en winsgedrewe rigting gestuur en die gewildheid en verkope het die hoogte ingeskiet – van 140 000 tot 500 000 kopieë per week. Hammann het hom veral op vroue, wat die primêre aankoper van tydskrifte is, se belangstellings toegespits. Die voorblaaie het sedertdien bekendes soos TV- en rolprentsterre, skoonheidspersoonlikhede soos Anneline Kriel en later Diana, prinses van Wallis, vertoon.[8][12]
Saam met sy Engelse susterstydskrif, YOU, is dit een van die suksesvolste tydskrifte in Suid-Afrika, hoewel Huisgenoot se sirkulasie ná die halfmiljoen-hoogtepunt deurentyd daal en in die vierde kwartaal van 2012 op 270 000 weekliks te staan gekom het, vergeleke met 283 000 in die ooreenstemmende kwartaal 'n jaar vantevore, 'n afname van 4,6%.[13] In die vierde kwartaal 2015 was die sirkulasie sowat 238 000. Huisgenoot se dalende verkope word egter gesien as tekenend van wat met die gedrukte media (koerante en tydskrifte) wêreldwyd gebeur. Die digitale revolusie met sy internet-toegang, wat behels dat inligting, vermaak en bowenal kommunikasie net 'n paar vingerdrukke ver is vir die mensemassa, verg besonderse pogings van joernaliste om gedrukte publikasies staande te hou. In die volgende afdeling word egter gesien hoe Huisgenoot ook by die tyd aanpas en die elektroniese uitdaging kaalvuis gepak het.
Huisgenoot het sy digitale gebruik vergroot met onder meer ’n iPad-uitgawe, e-magazine op Zinio, ’n webtuiste, ’n iPhone-toepassing en blaaie op Facebook (met meer as 275 000 aanhangers[14][15]), Twitter, YouTube en Mxit.
Sedert 2010 gebruik Huisgenoot ’n interaktiewe toepassing wat Microsoft Tag-tegnologie gebruik. Dit stel lesers in staat om na video's te kyk deur eenvoudig ’n strepieskode-ikoon te skandeer. Dié ikone kom regdeur die tydskrif voor.[16]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.