Afrikaanse sanger From Wikipedia, the free encyclopedia
Jannie du Toit (gebore Johannes Hendrik du Toit, 13 Desember 1951 in Heidelberg) is 'n Afrikaanse sanger wat hom sedert 1971 besig hou met Afrikaanse musiek. Na Jannie se mening het die ligte Afrikaanse liedjies wat tot en met begin van die sewentigerjare gehoor kon word, nie aan Afrikaanse musiek reg laat geskied nie. Hy het dit gevolglik van sy universiteitsdae af as 'n uitdaging beskou om Afrikaanse musiek in verskillende genres te ontwikkel, deur aanwending van 'n goeie balans tussen die musiek en liriek.[1]
Jannie du Toit | |
---|---|
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Johannes Hendrik du Toit |
Gebore | 13 Desember 1951 Heidelberg, Gauteng |
Genres | Kabaret, kleinkuns |
Beroep(e) | Sanger |
Jare aktief | ~1971 – nou |
Etikette | Meesal in MS/SAMRO |
Webwerf |
Hy was lid van die sanggroep TRILOGIE van 1972 tot 1977 en begin met 'n sololoopbaan in 1979. Na voltooiing van sy leerklerkskap in die regsberoep word hy in 1981 deur prof. Chris Lamprecht by die Universiteit van Pretoria aangestel waar hy musiekblyspele skryf, onder andere in samewerking met prof Anna Neethling-Pohl. Hy werk van 1986 tot 2011 permanent saam met Christa Steyn. Hulle skryf saam en tree wêreldwyd in meer as twintig lande op. Van hulle bekendste verhoogproduksies is Blik en Snaar, Skadu's teen die muur, De Kleine Man en Jannie en die Tannie. Hulle laaste volledige verhoogproduksie is BREL IN BROOKLYN saam met Laurika Rauch en Sergio Zampolli in 2010.
Jannie skryf in die sewentigerjare sy eerste liedjies soos sy toonsetting van AG Visser se Rosa Rosarum (1972) asook sy eie Carmen optima de Stella (in Latyn), Seisoene saam met jou, Stadsgeluide, Lied van 'n Swerwer en 'n Liedjie vir jou wat die eerste keer tydens die "Musiek en Liriek"-konserte in die laat sewentigerjare gehoor is. Saam met Morg Jacobs en Andy Lubbe van Trilogie skryf hy verder Droom langs stille waters (waarmee Trilogie 'n "honorary mention prize" in die American Song Festival van 1976 gewen het), Min of Meer, Resitasie, Die wêreld is ons woning nie (toonsetting van 'n teks van Totius), Anitalief en ander liedjies wat Trilogie reeds tydens die toetsuitsendings van SATV in 1975 sing. In die tagtigs volg talle nuwe liedjies soos Drie-uur in die môre en 'n sewentigtal liedjies vir die musiekblyspele wat hy vir Tukkies geskryf het: Loeloeraai, Gansdans en RIP. Van dié liedjies het hy ook op sy solo-albums vrygestel – Troebadoer, My wens vir julle, Pantoffelregering. Saam met Christa Steyn skryf hy Vlieg Hoog, Afdraaipad, Ensemblespel, Die Liefde, Vra Maar, Die Vrou, Nogtans sal ek juig en vele meer. Jannie skryf ook nog tientalle liedjies soos Vrede Vanaand, Ons Twee, Volgende Winter, Leeuspruit. Verder word hy bekend vir videos van Madeleine (Jacques Brel), Gee ons Vrede, Die eggo van jou oë en Christa Steyn se verwerking van Pie Jesu saam met Coenie de Villiers en Chris Chameleon.
In 2011 vier hy 40 jaar van Afrikaanse musiek en sedert Christa Steyn se afsterwe in 2012 – na 'n jaarlange stryd teen kanker – werk hy veral saam met Susan Mouton (tjello), Clinton Zerf (verwerker), Coenraad Rall en Chanie Jonker (klavier), Theuns Botha (tromme), Lochner de Kock (in kookprogramme) en Thean Kotzé in die produksie Kiekies – Lucas se Liedjies.
In 2013 bied hy 'n verhoogprogram getitel Grys Areas saam met Renette Bouwer aan en neem ook Gisela de Villiers se lied Die Eggo van jou Oë saam met Gisela op. Daarna volg die verhoogproduksies Cordon Broers se Kossêrt saam met Lochner de Kock (2012), Doep is nie dood nie (2014), Grenzeloos Nederlands (2015), Bonjour Monsieur Brel (2016), Kiekies – Lucas se Liedjies (2016), Oesjaar (2018) en Die Eggo van jou oë wat gedebuteer het by Woordfees 2019.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.