soewereine staat geleë by die samevloeiing van Wes-, Sentraal- en Suid-Asië From Wikipedia, the free encyclopedia
Afghanistan, ook Afganistan (Dari: افغانستان, Afġānestān, [avɣɒnesˈtɒn]; Pasjtoe: افغانستان, Afġānistān, [avɣɒnisˈtɒn, ab-]), amptelik die Islamitiese Republiek Afghanistan (Pasjtoe: د افغانستان اسلامي جمهوریت, Da Afġānistān Islāmī Jumhoryat; Dari: جمهوری اسلامی افغانستان, Jomhūrīyyeh Eslāmīyyeh Afġānestān), is 'n landingeslote land in die hartjie van Asië. Die hoofstad en grootste stad is Kaboel. Die land het godsdienstige, taalkundige en geografiese konneksies met die meeste van sy buurlande. Afghanistan word begrens deur Iran in die weste, Pakistan in die suide en ooste, Turkmenistan, Oesbekistan en Tadjikistan in die noorde, en die Volksrepubliek China in die mees oostelike deel van die land. Die agtervoegsel ـستان (-stān) is 'n Persiese woord en beteken "die plek van" en herinner ook aan die sinoniem (en verwante) Sanskrit-woord sthāna स्थान.[8] Afghanistan beteken dus "land van die Afghane".
| |||||
Nasionale leuse: لا إله إلا الله، محمد رسول الله Lā ʾilāha ʾillāl–lāh, Muhammadun rasūl allāh (Arabies vir: "Daar is geen god behalwe Allah; Mohammed is die boodskapper van Allah") (Sjahada) | |||||
Volkslied: ملی سرود Millī Surūd (Pasjtoe) سرود ملی Sorūde Mellī (Dari) | |||||
Hoofstad | Kaboel | ||||
Grootste stad | Kaboel | ||||
Amptelike tale | Pasjtoe en Dari[1] | ||||
Regering | Unitêre voorlopige teokraties Islamitiese emiraat Hibatullah Akhundzada Hasan Akhund (waarnemend) | ||||
Onafhanklikheid Onafhanklikheid • Hotak-ryk • Durrani-ryk • Emiraat Afghanistan • Erken • Koninkryk • Republiek • Islamietiese republiek • Herstel van Islamitiese Emiraat |
April 1709 Oktober 1747 1823 19 Augustus 1919 9 Junie 1926 17 Julie 1973 26 Januarie 2004 15 Augustus 2021 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
652 864[2] km2 (40ste) 252 072 myl2 feitlik niks | ||||
Bevolking - 2016-skatting - 1979-sensus - Digtheid |
34 656 032[3] (40ste) 15,5 miljoen[4] 49,88 / km2 (150ste) 129,2 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2018-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2018-skatting | ||||
MOI (2014) | 0,465[6] (171ste) – laag | ||||
Gini (2008) | 29[7] – laag | ||||
Geldeenheid | Afghani (AFN ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
D† (UTC+04:30) nie toegepas nie (UTC+04:30) | ||||
Internet-TLD | .af, افغانستان. | ||||
Skakelkode | +93 |
Afghanistan is 'n kruispad tussen die Ooste en die Weste en was die antieke middelpunt van handel en migrasie. Dit het ’n belangrike geostrategiese ligging, omdat dit Suid-Asië, Sentraal-Asië en die Midde-Ooste met mekaar verbind. Afghanistan is ’n kultureel gemengde nasie: Belangrike etniese groepe sluit in Pasjtoene, Tadjiks, Hasara en Oesbeke.
Alhoewel Afghanistan groot heerserryke en baie handel beleef het oor twee millennia, was die gebied se heterogene groepe nie in 'n enkele politiese entiteit saamgesnoer voor die bewind van Ahmad Sjah Durrani nie. Durrani stig die monargie in 1747 wat oor die land heers tot 1973. Die laaste Sjah was Zahir Sjah. Die Islam het 'n sleutelrol gespeel in die geskiedenis van Afghanistan (en ander lande in die omliggende streek).
Tydens Afghanistan se uitgestrekte geskiedenis het die land verskeie indringers en veroweraars gesien, terwyl plaaslike entiteite die omliggende, uitgestrekte streke ingeval het om self ryke te vorm. In die middel van die agtiende eeu het Ahmad Sjah Durrani ’n groot ryk geskep, met die hoofstad by Kandahar. Vervolgens is meeste van die gebiede afgestaan aan voormalig nabygeleë lande. In die 19de eeu het Afganistan ’n bufferstaat geword in Die Groot Spel, die mededinging wat tussen die Britse Ryk en Russiese Ryk geheers het. Op 19 Augustus 1919, ná die derde Anglo-Afghaanse oorlog, herwin die land volle onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk oor sy buitelandse sake.
Sedert die laat 1970's het Afghanistan gely onder 'n voortdurende en brutale burgerlike oorlog. In die tydperk het die land ook ingrypings ervaar in die vorm van die 1979 Sowjetse inval van Afghanistan en die 2001 Amerikaanse inval van Afghanistan, waartydens die heersende Taliban-regering omvergewerp is. In Desember 2001 het die Verenigde Nasies se sekuriteitsraad die stigting van die International Security Assistance Force ("Internasionale Sekuriteitsbystandsmag", ISAF) goedgekeur. Dié mag, wat bestaan uit NAVO-troepe, was aktief gewees in die bystand van die regering van President Hamid Karzai en sy pogings om gesag oor die land te vestig. In 2005 het die Verenigde State en Afghanistan 'n strategiese vennootskap onderteken wat beide nasies tot 'n langtermynverhouding bind. In die tussentyd is ongeveer VS$40 miljard reeds deur die internasionale gemeenskap aan die land besorg vir die heropbou van die land.
Op 14 April 2021 het die sekretaris-generaal van die NAVO, Jens Stoltenberg, gesê die alliansie het ingestem om sy troepe teen 1 Mei te begin onttrek.[9] Kort nadat die onttrekking van die NAVO-troepe begin het, het die Taliban 'n offensief teen die Afghaanse regering begin en vinnig gevorder weens die ineenstorting van die Afghaanse regeringsmagte.[10][11] Volgens 'n Amerikaanse intelligensieverslag sou die Afghaanse regering waarskynlik binne ses maande in duie stort nadat die NAVO sy onttrekking aan die land voltooi het.[12] Op 15 Augustus 2021, toe die Taliban weer 'n oorgrote meerderheid van die Afghaanse gebied beheer het, het die Taliban begin om die hoofstad Kaboel in te neem, met groot ontruimings van burgerlikes, regeringsamptenare en buitelandse diplomate wat deur die Amerikaansbeheerde Kabul Internasionale Lughawe uitgevoer is. Na bewering is die Taliban-vegters beveel om nie by burgerlike ontruimings in te meng nie, en om diegene wat die stad wou verlaat, toe te laat om dit te doen.[13]
Afghanistan se tradisionele sportsoort en nasionale sport is Boezkasji, 'n ruitersport, waarby om 'n dooie bok of kalf gestry word. Veral krieket en sokker is Afghanistan se gewildste sportsoorte. Ander gewilde sportsoorte sluit in basketbal, vlugbal, taekwondo en gewigoptel.[14] Afghanistan se sportkultuur word veral deur dié van naburige lande in Sentraal- en Suid-Asië beïnvloed.
Krieket is die enigste sport wat deur die Taliban toegelaat word en weens sy nabye ligging aan die krieketspelende lande van die Indiese subkontinent kon die Afghaanse krieket maklik groei. Die Afghaanse nasionale krieketspan is in 2001 gestig en het sedertdien 'n sterk groei ervaar. Afghanistan het aan die kwalifikasiewedstryde vir die Krieketwêreldbeker 2011 deelgeneem, maar hulle het die toernooi misgeloop; hulle het eindelik vir die toernooie van 2015, 2019 en 2023 gekwalifiseer. Op 22 Junie 2017 is aan Afghanistan en Ierland toetsstatus toegeken.[15] Ook ná die Taliban se hernude bewindsoorname in Augustus 2021 dra die nasionale krieketspan truie in die driekleurige vlag van die Islamitiese Republiek Afghanistan se kleure swart-rooi-groen en word die ou volkslied Milli Tharana steeds voor elke wedstryd opgevoer.[16] Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 het die span vir die eerste keer die halfeindstryd van 'n internasionale kriekettoernooi gehaal, maar hulle het teen Suid-Afrika vasgeval.[17]
Die Afghaanse nasionale sokkerspan ding sedert 1941 in internasionale sokker mee, maar hulle kon tot dusver nog nie vir 'n FIFA Sokker-Wêreldbeker kwalifiseer nie. In 2013 kon Afghanistan sy eerste internasionale trofee inpalm deur die SAFF kampioenskap te wen.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.