Frans-Polinesië
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Frans-Polinesië (Frans: Polynésie française, Tahitiaans: Porinetia Farani), die voormalige Frans-Oseanië, is ’n oorsese gebied van Frankryk in die Stille Oseaan en Oseanië wat tot Polinesië behoort. Frans-Polinesië bestaan uit 5 argipels met 118 geologies verspreide eilande en atolle. Dit het ’n oppervlakte van 4 167 km² in ’n gebied van 4 000 000 km² en het in 2012 ’n bevolking van 268 270 gehad.
| |||||
Nasionale leuse: Liberté, égalité, fraternité (Frans vir: "Vryheid, Gelykheid, Broederskap") | |||||
Volkslied: Marseillaise | |||||
Hoofstad | Papeete | ||||
Grootste stad | Faaa | ||||
Amptelike tale | Frans | ||||
Regering | Oorsese kollektiwiteit Emmanuel Macron Édouard Fritch René Bidal | ||||
Onafhanklikheid | 1842 1946 28 Maart 2003 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
4 167[1] km2 (173ste) 1 609 myl2 12 | ||||
Bevolking - 2022-skatting - 2016-sensus - Digtheid |
299 356 (175ste) 285 735[2] 76 / km2 (130ste) 197 / myl2 | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2008-skatting | ||||
Geldeenheid | CFP frank (XPF ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
(UTC-10, -9:30, -9) nie toegepas nie (UTC-10, -9:30, -9) | ||||
Internet-TLD | .pf | ||||
Skakelkode | +689 |
Frans-Polinesië lê noordoos van Nieu-Seeland, oos van die Cookeilande, suidoos van Kiribati en wes van die Pitcairneilande. Die hoofeiland is Tahiti, met die hoofstad en grootste stad Papeete. Die Mururoa-ringeiland is veral bekend vir Franse kernwapentoetse.
Die gebied word in vyf eilandgroepe verdeel: die Geselskapseilande (wat uit die Bowindse en Benedewindse Eilande bestaan), die Tuamotu-argipel, Gambier-, Marquesas- en Austraaleilande. Van die 118 eilande en atolle word 67 bewoon.
Tahiti, wat onder die Geselskapseilande val, is die digs bevolkte eiland en die setel van die gebied se hoofstad, Papeete. Dit het meer as 68% van die eilande se bevolking. Hoewel Clippertoneiland nie ’n integrale deel van die gebied is nie, is dit tot in 2007 van Frans-Polinesië af bestuur.
Ná die Groot Polinesiese Migrasie het Europese ontdekkingsreisigers Frans-Polinesië op verskeie geleenthede besoek. Handelaars en walvisvangers het ook die eilande aangedoen. Frankryk het die gebied in 1842 oorgeneem en ’n Franse protektoraat gestig met die naam Franse Nedersettings in Oseanië (Établissements français d'Océanie, EFO).
In 1946 het dit ’n oorsese gebied geword en het Polinesiërs stemreg gekry. In 1957 is die EFO hernoem tot Frans-Polinesië. Sedert 28 Maart 2003 is dit ’n oorsese kollektiwiteit van die Franse Republiek en in 2004 het dit administratiewe outonomiteit gekry.[4]
Vlag | Kaart | Naam | Aantal eilande | Oppervlakte (km²)* | Bevolking (2007) | Koördinate |
---|---|---|---|---|---|---|
Geselskapseilande | 13 eilande | 1 647 km² | 163 000 | 17°05′S 150°40′W | ||
Tuamotu-argipel | 76 ringeilande | 850 km² | 18 000 | 18°02′S 141°25′W | ||
Marquesaseilande | 10 eilande | 1 274 km² | 8 632 | 09°18′S 139°39′W | ||
Austraaleilande | 7 eilande | 148 km² | 6 669 | 21°48′S 154°41′W | ||
Gambiereilande | 26 eilande | 31 km² | 986 | 23°09′S 134°57′W |
Frans-Polinesië is een van die laaste plekke op aarde wat bewoon geraak het. Wetenskaplikes glo die Groot Polinesiese Migrasie het omstreeks 1500 v.C. plaasgevind toe Austronesiërs eilande in die suidelike Stille Oseaan gaan soek het deur sterre vir navigasie te gebruik. Die eerste eilande wat bewoon was, is die Marquesaseilande, omstreeks 200 v.C. Daarna het die Polinesiërs suidweswaarts migreer en die Geselskapseilande omstreeks 300 n.C. betrek.[5]
Kontak met die eerste Eurpeërs het in 1521 plaasgevind toe die ontdekkingsreisiger Ferdinand Magellaan, in diens van die Spaanse kroon, Puka Puka in die Tuamotu-argipel gesien het. In 1772 het die Nederlander Jacob Roggeveen op Bora Bora in die Geselskapseilande afgekom.
Die Britse ontdekkingsreisiger Samuel Wallis het Tahiti in 1767 besoek, die Fransman Louis Antoine de Bougainville in 1768 en die Brit James Cook in 1769.[5] In 1772 het die onderkoning van Peru, Manuel de Amat y Junient, ’n paar ekspedisies na Tahiti gereël onder aanvoering van Domingo de Bonechea, wat die eerste Europeër was wat al die groot eilande anderkant Tahiti verken het.[6] ’n Spaanse nedersetting is in 1774 vir ’n kort ruk gevestig[5] en kaarte het die naam Isla de Amat vertoon, ter ere van onderkoning Amat.
Christelike sendelinge het op die eilande begin aankom. Protestante van die Londense Sendinggenootskap het hulle in 1797 permanent in Polinesië gevestig.
Koning Pomare II moes in 1803 na Moorea vlug; hy en sy onderdane is in 1812 gekersten. Franse Katolieke sendelinge het in 1834 op Tahiti begin aankom; hul verbanning in 1836 het daartoe gelei dat Frankryk in 1838 kanonneerbote daarheen gestuur het. In 1842 is Tahiti en Tahuata tot ’n Franse protektoraat verklaar om Katolieke sendelinge in staat te stel om onverhinderd te werk. Die hoofstad, Papeete, is in 1843 gestig. In 1880 het Frankryk Tahiti geannekseer en die status verander van ’n protektoraat na ’n kolonie.
Die verskillende eilandgroepe is eers in 1889 verenig met die vestiging van ’n Franse protektoraat.[7] In die 1880s het Frankryk beslag gelê op die Tuamotu-argipel, wat voorheen aan die Pomare-dinastie behoort het, sonder om dit amptelik te annekseer. Nadat dit Tahuata in 1842 ’n protektoraat gemaak het, het hulle al die Marquesaseilande as Frans beskou. In 1885 het Frankryk ’n goewerneur en algemene raad aangestel en so die administrasie vir ’n kolonie gevestig. Die eilande Rimatara en Rurutu het in 1888 vergeefs Britse beskerming gevra, en is dus in 1889 deur Frankryk geannekseer. Die gebied se eerste amptelike naam was Nedersettings in Oseanië, en in 1903 is dit verander na Franse Nedersettings in Oseanië.[8]
In 1946 het Polinesiërs Franse burgerskap gekry en die eilande se status is verander na oorsese gebiede; in 1957 is die naam verander na Frans-Polinesië.
In 1962 het Frankryk se vorige kerntoetsterrein, Algerië, onafhanklik geword en die Moruroa-atol in die Tuamotu-argipel is gekies as die nuwe toetsterrein; toetse is van 1974 af daar uitgevoer.[9] In 1977 is gedeeltelike interne outonomie aan Frans-Polinesië toegeken, en in 1984 is die outonomie uitgebrei. Frans-Polinesië het in 2003 ’n volle oorsese kollektiewe gebied van Frankryk geword.[10]
In September 1995 het Frankryk wydverspreide besware laat opklink toe hy kerntoetse by die Fangataufa-atol hervat ná ’n moratorium van drie jaar. Die laaste toets was op 27 Januarie 1996. Op 29 Januarie 1996 het Frankryk aangekondig hy sal nie meer kernwapens toets nie.[11]
Tussen 1946 en 2003 het Frans-Polinesië die status "oorsese gebied" (Frans: territoire d'outre-mer) gehad. In 2003 het dit ’n "oorsese kollektiewe gebied" (collectivité d'outre-mer) geword en in 2004 ’n "oorsese land binne die Republiek" (pays d'outre-mer au sein de la République, maar sonder ’n geregtelike aanpassing van sy status.
Frans-Polinesië het vyf administratiewe onderafdelings (subdivisions administratives):
Volgens die 2012-sensus was die bevolking 268 270, van wie 68,5% op Tahiti gewoon het.[12] Die stedelike gebied van Papeete het 133 627 inwoners gehad.
Met die 2007-sensus is 87,3% van mense wat in Frans-Polinesië gewoon het daar gebore, 9,3% in metropolitaanse Frankryk, 1,4% in oorsese Frankryk buite Frans-Polinesië en 2% in ander lande.[13]
Met die 1988-sensus, die laaste keer dat mense oor hul etnisiteit uitgevra is, was 66,5% van die bevolking etnies ongemengde Polinesiërs, 7,1% etnies gemengde Polinesiërs, 11,9% Europees (meestal Frans), 9,3% van gemengde Franse en Polinesiese herkoms en 4,7% Oos-Asiaties (meestal Chinees).[14]
1907 | 1911 | 1921 | 1926 | 1931 | 1936 | 1941 | 1946 | 1951 | 1956 | ||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
30 600 | 31 900 | 31 600 | 35 900 | 40 400 | 44 000 | 51 200 | 58 200 | 63 300 | 76 323 | ||||
1962 | 1971 | 1977 | 1983 | 1988 | 1996 | 2002 | 2007 | 2012 | 2016 | ||||
84 551 | 119 168 | 137 382 | 166 753 | 188 814 | 219 521 | 245 516 | 259 596 | 268 270 | 285 735[2] | ||||
Amptelike syfers van vorige sensusse.[12][15][16][17] |
Frans is die enigste ampstaal in Frans-Polinesië,[18] hoewel Tahitiaans en ander Polinesiese tale volgens ’n wet van 1996 "gepraat mag word". Op die vraag met die 2007-sensus watter taal die meeste tuis gepraat word, het 68,5% van die mense van 15 en ouer geantwoord Frans; 24,2% Tahitiaans; 2,6% Marquesaans; 1,5% Tuamotuaans; 1,3% een van die Australiese tale; 1% ’n Chinese dialek; en 0,9% ’n ander taal.[19]
Altesaam 94,7% van mense van 15 of ouer kon Frans praat, lees en skryf, terwyl net 2% geen kennis van die taal gehad het nie.[19] Altesaam 86,4% het die een of ander kennis van ’n Polinesiese taal gehad, terwyl 13,6% geen kennis gehad het nie.[19]
Die grootste deel van die bevolking is Christene: 54% behoort tot verskeie Protestantse kerke, veral die Maói Protestantse Kerk;[20] 30% is Rooms-Katoliek. Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae het in 2012 altesaam 21 884 lede gehad.[21] Daar was in 2014 sowat 3 000 Jehovah se Getuies in Tahiti.[22]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.