From Wikipedia, the free encyclopedia
Hermann Kallenbach (Žemaičių Naumiestis, Russiese Ryk [nou deel van Litaue], 1 Maart 1871 – 22 Maart 1945) was 'n Suid-Afrikaanse argitek en sakeman van Duits-Joodse afkoms wat vir die ontwerp van sommige van die mooiste NG kerke in Suid-Afrika verantwoordelik was. Hy het in vennootskap met A. Reynolds tussen omstreeks 1904 en 1908 NG kerke in die destydse Transvaal, Vrystaat en Kaapland ontwerp, onder meer vir die NG gemeente Jeppestown, wat as een van die aantreklikste kerke van enige genootskap in Johannesburg beskou word,[3] op Laingsburg, Barkly-Oos en Riversdal. Ander geboue wat hy ontwerp het, sluit die Joodse sinagoge in Benoni[4] en Krugersdorp, die Lewis & Marks-gebou (1937) in Johannesburg se middestad en die Langlaagte-weeshuis in.
Hermann Kallenbach | |
---|---|
Hermann Kallenbach | |
Gebore | Hermann Kallenbach 1 Maart 1871 Žemaičių Naumiestis, Russiese Ryk (nou deel van Litaue) |
Sterf | 22 Maart 1945 |
Nasionaliteit | Duits, Suid-Afrikaans |
Beroep | Argitek |
Eggenoot | Ongetroud |
Kinders | Geen |
Ouer(s) | Kalman Leib Kallenbach en Rachel (nooiensvan onbekend) |
Kallenbach is Žemaičių Naumiestis, Russiese Ryk (nou Litaue), gebore as die derde oudste van die sewe kinders van die Hebreeuse onderwyser Kalman Leib Kallenbach en sy vrou, Rachel. Hy ontvang sy onderwys aan die Tilsit-kollege in Duitsland van 1882 tot 1890. Hy studeer argitektuur in Strelitz, Stuttgart en München en verrig sy militêre diens met die Koninklike Ingenieurs in München van Oktober 1894 tot Oktober 1985. In 1896 kom hy na Suid-Afrika in vestig hom in Johannesburg. Blykbaar het twee van sy broers hom hierheen vergesel. Kort ná sy aankoms het hy ’n vennootskap gesluit met ene Philips. Die plan vir die Maurice-gebou (1897) is deur die vennote opgestel en onderteken.
Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog verlaat Kallenbach Johannesburg en gaan na Durban, waar hy talle geboue ontwerp het, waarvan die belangrikste die Koenig-gebou (voltooi in 1903) was en later die St. Andrew-gebou genoem is.
Omstreeks 1903 keer Kallenbach terug na die Goudstad, waar hy in vennootskap was met Philips, maar ná 1903 blykbaar met A. Reynolds. Sekere geboue van dié vennootskap dateer van 1903. Hulle het kantore gehad in Durban, Johannesburg en Pretoria. Baie min is vandag nog oor Reynolds bekend. Hy was omstreeks 1899 blykbaar in vennootskap met G.G. Fleming, maar teen 1903 met Kallenbach. Tydens die Tweede vryheidsoorlog het hy die Goudstad verlaat en teen 1903 nog daar gewoon. Terug in Johannesburg het hy in Van Beekstraat in die weste van die middestad (naby die huidige Ellispark-stadion) gaan woon en in vennootskap met Kallenbach gebly tot omstreeks 1907, waarna geen rekords oor hom behoue gebly het nie.[5]
Volgens die Indian Opinion van 28 Januarie 1955 het Kallenbach Mohandas Gandhi in 1904 ontmoet (ander bronne vermeld 1906). Gandhi het ’n perseel by Kallenbach in Pretoria gehuur. Hul vriendskap het ’n belangrike deel van Kallenbach se lewe geword en Gandhi se geskrifte bied die enigste karaktersketse van Kallenbach wat tot dusver aan die lig gekom het. Gandhi skryf Kallenbach was baie lief vir weelde en uitspattigheid. Hy het luukseartikels ingevoer en later met grond en dorpsontwikkeling gespekuleer. Dis hoe dit gebeur het dat Kallenbach-rylaan in Linksfield Ridge, Johannesburg, na hom genoem is. Hy het glo ook dié voorstad besit en self daar gewoon. Hy was blykbaar verantwoordelik vir die bou van Munro-rylaan en het Sylviapas met behulp van enige arbeiders gebou. Danksy sy rykdom het Kallenbach die vryheid gehad om aandag aan al sy ander belange te skenk en het hy bedrewe vennote aangestel wat moes omsien na sy argiteksfirma.
Sy vennootskap met A.M. Kennedy het waarskynlik in 1903 begin. Kennedy het Suid-Afrika in 1913 vir Kanada verlaat. Saam het hulle die NG kerke in Jeppestown en op Riversdal, Laingsburg, Barkly-Oos en Thaba Nchu ontwerp. Teen dié tyd was Kallenbach sterk verbind tot die Indiese burgerregtebeweging, wat waarskynlik beteken het Kennedy was hoofsaaklik verantwoordelik daarvoor om die firma te bestuur. Omstreeks 1909 het hy die Phoenix-plaas gekoop en in 1910 grond naby Lawley buite Johannesburg, waarna hy net die plaas aan Satyagraha geskenk het. Kallenbach het dit Tolstoy Farm genoem ter ere van Leo Tolstoi met wie hy gekorrespondeer het en vir wie hy groot agting gehad het. Op die plaas het Kallenbach onderrig aan onder andere Gandhi gegee vervaardiging van sandale, wat hy geleer het by Trappistemonnike wat hy tydens die Driejarige Oorlog ontmoet het by Marianhill in Natal.[6]
Kallenbach het deurgaans die belangrikheid van ’n fikse, gesonde lewe beklemtoon. Hy was ’n vrugte-eter en in ’n sekere stadium van sy lewe het ene Sandor hom leer boks. Nog ontwrigting van sy argiteksfirma was toe hy in November 1913 in hegtenis geneem is op Newcastle vir sy deelname aan ’n protesoptog. Hy is ná etlike weke vrygelaat nadat die koloniale sekretaris in Londen tussenbeide getree het.
Die vennote Kallenbach en Kennedy het ingeskryf vir die wedstryd vir die ontwerp van die nuwe sinagoge in Wolmaransstraat, Johannesburg, omstreeks 1911, maar die wenner was T. Schaerer. Nietemin het Kallenbach die opdrag gekry vir die ontwerp van die Griekse Ortodokse kerk van St. Konstantyn die Grote (1912–1913) in dieselfde straat en het hy waarskynlik dieselfde of soortgelyke ontwerpe vir albei geboue voorgelê, aangesien albei geboue in ’n Bisantynse styl ontwerp is en ’n reuse-koepel het.
Omstreeks 1906 was die plan deur Kallenbach en Reynolds vir die nuwe meisieskoshuis van die Langlaagte-weeshuis reeds geruime tyd gemaak. Die ontwerp was vir 'n gebou wat 150 meisies sou kon huisves. Dit sou 150 voet lank en 75 breed wees, uit twee verdiepings bestaan en £11 000 kos. Ds. Abraham Kriel was nie van plan om meer as £4 500 aan die gebou te bestee nie. Kallenbach het verklaar dat hy daarvoor geen kans sien nie, maar hy was gewillig om sy vergoeding te ontvang volgens die kontant-uitgawe aan die gebou. Die werk is nie aan 'n kontrakteur toevertrou nie, maar werkslui is daarvoor aangestel, onder toesig van J. Overbeek, die weeshuistimmerman. Twee hoekstene vir dié gebou is op 4 September 1907 gelê deur mev. genl. Piet Joubert en ds. H.S. Bosman onderskeidelik. Die naam Talita Kumi is aan die gebou gegee.
By voltooiing het ds. Kriel aan die argitek meegedeel die boukoste was £4 550 13s. 10d. Kallenbach het uitgeroep: "That's a miracle!" Alles is gebou ooreenkomstig die argitek se plan tot in die fynste besonderhede. Op die dag van die gebou se opening was daar 'n groot skare teenwoordig. Kallenbach het die sleutel aan ds. Kriel oorhandig en 'n kort toespraak gelewer. Onder meer hy gesê: "Toe ds. Kriel dit verklaar het dat hy nie wou bou vir die som deur ons genoem nie, en dat hy self die werk in hande sou neem, het ek dit ten sterkste afgekeur, aangesien dit meer werk en verantwoordelikheid op ds. Kriel se skouers en op dié van die argitekte sou werp. Maar ons het hom tog ondersteun omdat ons geweet het wat hy vir die inrigting oor het." (Ds. Kriel en Kallenbach is terloops albei op 1 Maart gebore, onderskeidelik in 1850 en 1871.)
In 1914 verlaat Kallenbach Suid-Afrika saam met Gandhi en sy vrou. Kallenbach wou hulle na Indië vergesel, maar is verhoed deur die Britse owerheid weens sy Duitse herkoms omdat die Eerste Wêreldoorlog toe al aan die gang moes gewees het. Gandhi het hieroor geskryf: “Dit was baie swaar om afskeid van mnr. Kallenbach te neem, maar ek kon sien dat sy pyn groter as myne was. As hy Indië toe kon gekom het, sou hy vandag die eenvoudige lewe van ’n boer of wewer gelei het. Nou is hy in Suid-Afrika waar hy sy ou lewe lei van flinke handel as argitek.”
Kallenbach het etlike jare in Brittanje vertoef, waar hy ’n geesgenoot van Olive Schreiner was. Dit blyk uit ’n uittreksel uit ’n biografie oor haar waarin sy melding maak van “Hermann Kallenbach, ’n Duitse sakeman, het hom gevestig aan die Witwatersrand om 1896. ’n Vennoot van Gandhi wat gekorrespondeer het met Tolstoi en glo aan vegetarianisme.” Hy het Schreiner tydens haar verblyf in Londen gehelp met haar dieet en takies vir haar verrig, veral terwyl sy ongesteld was. Kallenbach is geruime tyd tydens die Oorlog aangehou in die aanhoudingskamp vir vreemdelinge in Douglas op die Eiland Man.
Dis nie seker wanneer hy na Suid-Afrika teruggekeer het nie, maar hy word weer vermeld in die 1921-uitgawe van die United Transvaal Directory, hoewel nie as argitek nie. Al het sy vriendskap met Gandhi voortgeduur, blyk dit dat Kallenbach in Johannesburg teruggekeer het na sy beroepslewe en Sionisme. Die Rand Daily Mail skryf op 26 Maart 1945: "Hy was ’n Sionis, maar vir hom was dit nie ’n negatiewe verskynsel nie. Vir hom was die moderne Palestina ’n etiese en maatskaplike proefneming met ’n boodskap vir die Jodedom en die wêreld."
Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het Kallenbach A.M. Kennedy oorreed om Kanada te verlaat en die ou vennootskap omstreeks 1921 te hervat. Luidens gerugte was Kallenbach die sakeman in die vennootskap wat die werk ingebring het, gerugsteun deur Kennedy se sterkpunte in die kantoor. Van ongeveer 1923/’24 het die vennote heelwat geboue in Durban, Pretoria en Johannesburg ontwerp. In 1928 het A.S. Furner by die firma aangesluit. Argitektonies gesproke was die firma se rykste jare tussen 1928 en Kallenbach se dood in 1945 omdat Furner ’n begaafde ontwerper was wat bewus was tendense in moderne argitektuur wêreldwyd.
Kallenbach se laaste buitelandse besoek was aan Indië en Gandhi in 1945. Tydens dié besoek het Gandhi Kallenbach probeer oorreed om die Nazi-holocaust te vergewe, maar Kallenbach het gesê hy kon dit nie doen nie. In die 1940’s het hy ’n eenvoudige baksteenhuis vir die Gandhi-familie wat nog in Phoenix gewoon het, ontwerp en is enkele weke later oorlede. Sy biblioteek van sowat 5 000 boeke is in 1955 na die Universiteit van Jerusalem gestuur soos hy in sy testament versoek het en die grootste deel van sy rykdom is tot voordeel van Israel bemaak.
'n Biografie oor Hermann Kallenbach, geskryf deur Isa Sarid, die dogter van sy susterskind Hanna Lazar en Christian Bartolf, skets Kallenbach se persoonlikheid en sy vriendskap met Gandhi breedvoerig. In sy boek, Great Soul: Mahatma Gandhi and his struggles with India, haal Joseph Lelyveld die kultuurhistorikus Tripid Suhrud aan waar hy beweer: "Hulle as 'n paartjie." Dié stelling het tot omstredenheid aanleiding gegee. Nietemin dui Gandhi se briefwisseling met Kallenbach op die diep wedersydse respek wat die twee vir mekaar gehad het en hoe hulle mekaar se idees beïnvloed het. Lelyveld het later gesê sy bedoeling was nooit om die vriendskap in 'n seksuele lig te beskryf nie. In Julie 2012 het die Indiese regering die Gandhi-Kallenbach-argief vir meer as $1,2 miljoen op 'n veiling deur Sotheby's aangekoop.[7]
In 2012 het die skrywer en fotograaf Shimon Lev in sy boek Soulmates: The The Story of Mahatma Gandhi and Hermann Kallenbach die verhouding uitgebeeld tussen die twee idealiste en Gandhi se houding jeens Zionisme.
In die rolprent van 1982 oor Gandhi se lewe deur die regisseur Richard Attenborough en skrywer John Briley het Günther Maria Halmer (as Gunter Maria Halmer) die rol van Kallenbach vertolk.[8] Die hoofrolle is vertolk deur Ben Kingsley, John Gielgud en Candice Bergen.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.