Oorlog tussen die Boererepublieke en Groot-Brittanje (1899-1902) From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog (Engels: Second Boer War), was 'n oorlog tussen die Boererepublieke van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek aan die een kant en die Britse Ryk aan die ander kant wat tussen 11 Oktober 1899 en 31 Mei 1902 in Suider-Afrika, Swaziland ingesluit, gewoed het.[7] Minder algemene name in omgang wat in die letterkunde gebruik word is die Engelse Oorlog[8] en die Driejarige Oorlog.[9]
Tweede Vryheidsoorlog | |||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Deel van die Anglo-Boereoorloë | |||||||||
Kloksgewys van links: Boere in aksie by die Slag van Colenso, die Britse 17de Lansiers wat 'n aanval by Elandsrivier hou, Britse Generaal Redvers Buller wat Ladysmith binnegaan na die beleg, Boere wat by die Beleg van Mafeking veg, Koninklike Kanadese Troepe tydens die Slag van Paardeberg, en Boere teenwoordig by die Slag van Spioenkop. | |||||||||
| |||||||||
Strydende partye | |||||||||
Britse Ryk | Oranje-Vrystaat Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) Buitelandse vrywilligers: Groter kragte Kleiner kragte | ||||||||
Aanvoerders | |||||||||
Lord Salisbury Lord Milner Lord Roberts Sir Redvers Buller Lord Kitchener Wilfrid Laurier Frederick Borden Cecil John Rhodes |
Paul Kruger Louis Botha Schalk W. Burger Koos de la Rey Marthinus Steyn Christiaan de Wet Piet Cronje Piet Joubert | ||||||||
Sterkte | |||||||||
Britse regulêre: 347 000 Koloniale kragte: 103 000–153 000[3] |
88 000 (25 000 Transvaal- en 15 000 Vrystaat-Boere aan die begin van die oorlog) (insluitende buitelandse vrywilligers en Kaapse Boere)[3] | ||||||||
Ongevalle en verliese | |||||||||
Militêre ongevalle 7 894 gesneuweldes 13 250 dood deur siekte 934 vermis 22 828 gewondes[4][5] 44 906 totaal ongevalle |
Militêre ongevalle 9 098 gesneuweldes (4 000 in bestry) (24 000 Boere-gevangenes oorsee gestuur)[3] | ||||||||
Burgerlike ongevalle: 27 927 Boere burgerlikes, wat in konsentrasiekampe gesterf het, plus 'n onbekende aantal swart-Afrikaners (107 000 was geïnterneer).[6] |
Die Tweede Vryheidsoorlog, ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog, oftewel die Anglo-Boereoorlog, het vanaf Oktober 1899 tot Mei 1902 geduur. In hierdie oorlog het die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, te staan gekom teen die Britse Ryk. Die hele gebied waarop hierdie oorlog plaasgevind het vorm vandag deel van die Republiek van Suid-Afrika.
Oor die sowat twee en 'n half jaar wat die oorlog geduur het, het dit Brittanje nagenoeg 200 miljoen pond, 448 435 Britse- en Rykssoldate en sowat 20 000 Britse lewens gekos om 'n "Boererebellie" te bemeester.
Aan die kant van die Boererepublieke was die koste van die oorlog baie hoog. Elke republiek se ekonomie is totaal en al vernietig deur die Verskroeideaardebeleid wat deur die Britse generaals toegepas is. Toe die Boere by die Vrede van Vereeniging hul wapens neerlê, het baie as hoofrede vir hul oorgawe die lyding van hul vroue en kinders aangevoer. Ongeveer 5 000 Boere het in die oorlog gesneuwel, en minstens 26 000 Vrouens en kinders en 12 000 Afrikane het hul lewe in konsentrasiekampe verloor, meestal kinders onder 16 jaar, hoofsaaklik as gevolg van die swak kos-voorsiening, 'n tekort aan behoorlike sanitasie en swak skuiling. Ook aan die Britse kant het die meeste soldate weens die swak organisasievernuf van militêre bewindhebbers nie op slagvelde gesneuwel nie, maar aan siekte beswyk.
Die oorsaak van die oorlog is steeds omstrede. Aan die Britse kant was dit 'n polemiek vanaf die oomblik dat dit uitgebreek het. Anti-imperialiste, asook Marxiste, het die oorlog as 'n produk van 'n kapitalistiese sameswering gesien wat daarop gemik was om, deur middel van brute krag, die diamant- en goudvelde van die Vrystaat en Transvaal te bekom.
Moderne interpretasies sien Britse beleid as gekaap deur radikale imperialiste soos Cecil John Rhodes en lord Alfred Milner, wat gevrees het dat die nuut gevonde rykdom van die Boererepublieke die droom van 'n Britse Suid-Afrika sou ontspoor. Die drang na vryheid het die Boererepublieke in staat gestel om hulself teen Britse oorheersing te beskerm en om hul eie onafhanklike buitelandse beleid te volg, wat die deur kon oopmaak vir Duitse beheer van die belangrike Kaapse roete na Indië.
Brittanje het daarop aangedring dat die Britse onderdane, wat op die goudmyne in die Witwatersrand werk, stemreg moes kry. Hulle kon egter automaties stemreg verwerf as hulle vir vyf jaar Transvaalse burgerskap gehad het. President Paul Kruger van die Transvaal moes na talle samesprekings tot die konklusie kom wat tot sy volgende uitspraak gely het: "Hulle wil nie stemreg hê nie, hulle wil ons land hê". President Marthinus Steyn van die Vrystaat het hom by Kruger geskaar en die lot van die Vrystaat as dieselfde as die lot van die Transvaal beskryf.
Ondanks die verslegtende verhouding tussen Kaapstad en die Boererepublieke in die laaste dekade van die 19de eeu, was die Britte merkbaar swak voorberei vir oorlog aan die vooraand daarvan. Die vernederende nederlaag aan die hande van die Boere by die Slag van Majuba in die Eerste Vryheidsoorlog ten spyt, is die Boererepublieke nie as ernstige teenstander geag nie. Britse militêre intelligensie het gereken dat die Boere slegs 3 000 man in die veld sou kon plaas om kleinskaalse klopjagte in die Kaap en Natal uit te voer, terwyl hulle uiteindelik daartoe in staat was om sowat 30 000 berede manskappe in Natal alleen aan te wend. Die Britse opperbevelhebber, lord Wolseley, het geglo (en die Britse oorlogsminister, lord Lansdowne, het saamgestem) dat 'n garnisoen van 20 000 Britse soldate genoeg sou wees om die Republieke aan te durf.
In 1895, ná die Jameson-inval, was Pres. Kruger seker dat Brittanje op oorlog ingestel was. Hy het 'n klein staande leër op die been gebring en sy administrasie versterk deur knap, jong Afrikaners soos Jan Christian Smuts aan te stel. Daar is probeer om steun vir die Boere in Europa te werf, maar geen tasbare steun is verleen nie. Die twee klein republieke het alleen teen die magtigste ryk in die wêreld gestaan. Toe Pres. Kruger gevra is hoekom hy teen so 'n oormag veg, was sy antwoord: " 'n Man sal nie 'n leeu aanval met 'n mes in sy hand nie, maar net 'n lafaard sal nie met alle mag veg as die leeu hom aanval nie." Die Boererepublieke het wel daarin geslaag om Duitse Mausergewere en Franse Creuzot "Long Tom"-langafstandkanonne te bekom. Die Russiese tsaar het 'n paar veldambulanse voorsien en die Transvaal se artilleriekorps is deur Duitsers opgelei.
Die eerste skote in die oorlog het op 12 Oktober 1899 geklap nadat Brittanje die ultimatum van die Boererepublieke verwerp het. Die Boere het tot die aanval oorgegaan en 'n strook van 160 km in die Kaapkolonie ingeneem terwyl hulle in Natal tot teenaan die Tugelarivier gevorder het. Mafeking en Kimberley het Britse eilande in 'n Boergedomineerde veld geword, terwyl die Britse garnisoen in Natal by Ladysmith vasgekeer en beleër is. Die Britse leër het in verskeie veldslae tweede gekom. Op 11 Desember is 'n frontaanval deur Britse soldate wat deur artillerievuur ondersteun is, afgemaai deur Boere wat hulself in loopgrawe ingegrawe het by Magersfontein naby Kimberley. Op 15 Desember by Colenso het 4 000 Boere, ingegrawe in die hoogtes op die Noordelike oewer van die Tugela, 'n aanval van 16 000 Britte afgeweer wat wou deurbreek na Ladysmith. Hierdie vyf dae is deur die Britse magte die Swart Week genoem. In hierdie tydperk het hulle 7 000 manskappe verloor en geen positiewe strategiese resultate gekry nie.
Smuts sou egter later melding maak van die "konserwatiewe kortsigtigheid" van die ouer geslag van generaals, wat "die gulde geleentheid" van oorwinning laat wegglip het. Britse troepe het deur Kaapstad en Durban ingestroom. Onder die opperbevel van lord Roberts, wat generaal Kitchener as stafhoof gehad het, het die Britse versterkings vinnig na die front beweeg en die beleërde dorpe ontset. Hulle het 4 000 man onder generaal Piet Cronje by Paardeberg gevange geneem en Bloemfontein op 13 Maart 1900, Johannesburg op 5 Mei en Pretoria op 6 Junie ingeneem.
Op 21 Oktober 1900, het president Kruger, van Delagoabaai, vandag Maputo in Mosambiek, na Europa vertrek om steun vir die Boere se saak te probeer werf. Hy het meer as drie jaar later as banneling in Switserland gesterf. President Steyn het tot aan die einde van die oorlog saam met die Vrystaatse guerrillavegters in die veld gebly en die grootste bittereinder geword. Die Boere behaal baie groot sukses, maar die Engelse, word aanhoudend voorsien van nog ammunisie en soldate vanuit Engeland. Ook het Joiners, deurdat hulle die Britte van hulp voorsien het, die Republieke groot skade berokken. Op 24 Mei en 1 September het Brittanje die administrasie van onderskeidelik die Oranjerivierkolonie en die kolonie van Transvaal oorgeneem. Britse magte het al die infrastruktuur in Suid-Afrika soos die spoorlyne beheer en die 20 000 vegtende Boere wat oorgebly het, was feitelik heeltemal sonder steun.
Net ná die val van Pretoria het die Transvaalse militêre leierskorps onmiddellike oorgawe aanbeveel. President Steyn was woedend en het aan die Transvalers geskryf dat die ZAR die Vrystaatse burgers en Kaapse rebelle in 'n rampspoedige oorlog betrek het. "Wil die ZAR nou 'n skandelike en selfsugtige vrede sluit die oomblik dat die oorlog sy grense bereik? Wat die ZAR ook al doen, die Vrystaters sal tot die bitter einde veg." Die geveg is toe deur almal voortgesit.
Na die val van Pretoria was Machadodorp van 5 Junie tot 27 Agustus 1900 die setel van die Transvaalse regering. Daarna het die regering na Waterval-Onder en toe later na Nelspruit geskuif, waar besluit is dat pres. Kruger weens sy ouderdom na Europa moet gaan om die Boere se saak te bevorder.
In hierdie tydperk was die Boeregeneraals mense wat progressief was: kommersiële boere en professionele aambagslui. Hulle het net om een rede geveg: hul onafhanklikheid. Die bittereinders het guerillataktiek gevolg en in klein, beweeglike kommando's geveg. Hulle het treinspore gesaboteer, die voorrade van die Britse troepe onderskep en gevegte uitgelok en dan weer gevlug.
In hierdie tydperk was daar ook die joiners. Dit was Boere wat hoofsaaklik as spioene vir die Britte opgetree het in die laaste 18 maande van die oorlog. Daar is geskat dat 5 000 Boere teen April 1902 Britse oorheersing gunstig was. Party van hierdie Joiners het die Britse saak gesteun omdat hulle geglo het dat daar vir hulle 'n beter bedeling onder die Britte wag en dat hulle na hulle plase kon terugkeer en groot skade en leed kon vermy deur oor te gee of te "hensop".
Die Britse opperbevel het van twee taktieke gebruik gemaak om die bittereinders te beveg. Eerstens is linies blokhuise en doringdraad opgerig om Boerevegters uit die een distrik na die ander uit te sluit, om hulle sodoende saam te hok om gevang te word. Hierdie taktiek was baie duur en hoewel baie dramaties, kon dit geen groot gevegte tussen die Boere wat die prooi was en Britse jagters uitlok nie.
Die tweede taktiek wat gebruik was, die Verskroeideaardebeleid, het berus op, eerstens, die vernietiging van die Boere se plase; en tweedens die saam hokking en verhongering van Boerevrouens en kinders in konsentrasiekampe. Van die kampe wat verplaaste Boerefamilies moes huisves het reeds in Julie 1900 verskyn.
Die Britte het nie 'n totale oorlog gevoer waarin almal voor die voet geskiet is nie. Onderskeid is tussen vegtende en nievegtende Boere getref, alhoewel daar uitsonderings is. Van die einde van 1900 het Britse troepe voor die voet (behalwe waar daar hensoppers was) opstalle afgebrand en vee uitgewis. Verwoesting en chaos is oor amper die hele Vrystaat en Transvaal gesaai.
Kampe is opgerig om die gevange Boere vroue en kinders beter te kan beheer. Swart mense wat ook gevange geneem was, is in aparte kampe geplaas. Die plasing van die kampe was swak en die inwoners het onvoldoende (dikwels vergiftigde) voeding gekry. Uiterste lyding in haglike omstandighede het die inwoners van die kampe elke dag getreiter. Baie het gesterf, veral van buiktifus en masels. Die Britse publiek, plaaslik en in Brittanje, het eers bewus geraak van wat in die kampe gebeur toe Emily Hobhouse in Engeland toestemming gekry het om die kampe te besoek. Hobhouse het in Desember 1900 Engeland verlaat en in Mei 1901 teruggekeer. Voor haar vertrek het sy net kennis gedra van die Port Elizabeth-konsentrasiekamp. Sy is met afgryse vervul oor wat sy gesien het en sy het die publiek geskok met haar onthullings. Teen Oktober 1901 het die sterftesyfer tot 344 per 1000 in die kampe opgeskiet. Kinders onder vyf jaar oud het feitlik geen kans op oorlewing gehad nie. Teen die einde van 1901 het 'n kommissie van Engelse vroue, wat oorlogsondersteuners was, ook besoeke by die kampe afgelê. Hulle was net so geskok soos Hobhouse. Hulle het 'n aantal aanbevelings gemaak wat die dodetal skerp laat daal het.
Die mans, Britte en Boere, was verslae oor die vroue se dapperheid en wat hulle bereid was om te verduur vir die stryd om onafhanklikheid. Die vroue was onversetlik in hul aandrang dat hul mans en seuns vir onafhanklikheid moes voortveg. Sommige vroue het verklaar dat hulle verkies om hul huise te sien brand eerder as dat hul mans oorgee. Daar het 4 177 Boerevroue en 22 074 Boerekinders in die kampe gesterf. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is opgerig ter nagedagtenis van die Boervroue van die Tweede Vryheidsoorlog. Die Oorlogsmuseum is ook daar opgerig.
Teen die begin van 1902 het die Boeremagte gekrimp tot 10 000 Transvalers, 6 000 Vrystaters en 3 000 Kaapse rebelle. In Suidoos-Transvaal het 'n Zoeloemag 'n Boerelaer aangeval en 56 burgers doodgemaak. Terwyl die Boere wat gevange geneem is almal na oorsese krygsgevangene kampe weggestuur is deur die Britte, het die Boere die Britse krygsgevangenes vrygelaat nadat hulle van kos, skoene en in party gevalle klere gestroop is.
In Mei 1902 het 60 Boereleiers in Vereeniging vergader om oor vrede te besluit. Die Vrystaters was nog steeds gekant teen vrede, maar die swak gesondheid van Pres. Steyn het hul saak baie skade aangedoen. Die vredesvoorwaardes het ingesluit dat die Boere die Britse monarg erken as wettige heerser; Boere kon hul besittings, insluitend gewere vir verdediging, behou; en Nederlands sou in die skole van Transvaal en die Vrystaat as vak onderrig word mits die ouers dit verlang. Op 31 Mei het die vergadering met 54 stemme teen 6 besluit om hierdie voorwaardes te aanvaar.
Meer as 2,5 duisend buitelandse vrywilligers het in die Boere-leër geveg, insluitend die Nederlanders (650 mense), Duitsers (550 mense), Franse (400 mense), Amerikaners (300 mense), Russe (225 mense), Italianers (200 mense) , Noorweërs en Swede (150 mense). Die gewilde Russiese koerant New Time weerspieël die samelewing se simpatie met die Boere: “Direkte godsdienstige boere wat besluit het om die vryheid van die Vaderland met hul bloed te verdedig, sal altyd nader aan die hart van die Heilige Rusland wees as ons oorspronklike vyand – koue en selfsugtige Engeland. Deur ons diepe geloof in God, is die Boere ons broers ”(16 Oktober 1899, no. 8490).
Die eerste noemenswaardige groep Boerekrygsgevangenes wat deur die Engelse gevange geneem is, was dié wat tydens die Slag van Elandslaagte op 21 Oktober 1899 gevang is. Brittanje het hierdie krygsgevangenes aanvanklik op troepeskepe in Simonsbaai aangehou totdat krygsgevangekampe in Kaapstad en Simonstad voltooi is. In totaal sou ses krygsgevangekampe in Suid-Afrika tydens die oorlog opgerig word.[10] Die Engelse het gevoel dat daar 'n risiko in die aanhouding van teveel krygsgevangenes in Suid-Afrika was. Hulle het ook gevrees dat die krygsgevangenes deur die Boeremagte of simpatieke plaaslike inwoners bevry kon word. Hulle het dit reeds moeilik gevind om aan hulle eie troepe se behoeftes te voorsien, en wou nie die ekstra las dra deur addisionele voorrade vir die krygsgevangenes te stuur nie. Brittanje het dus besluit om die meerderheid van hulle oorsee te stuur.
Ongeveer 31 krygsgevangekampe is met gevolg tydens die oorlog in Britse kolonies oorsee opgerig.[10] Die eerste oorsese kampe buite Afrika, is op Sint Helena geopen, wat uiteindelik byna 5000 krygsgevangenes ontvang het. Ongeveer 5000 krygsgevangenes is na Ceylon gestuur. Ander is na Bermuda en Indië gestuur. Geen bewyse bestaan dat Boere-krygsgevangenes na die Gemenebes van die Britse Ryk soos Australië, Kanada of Nieu-Seeland gestuur is nie.[11]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.