Asjantiryk
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Asjantiryk (Asante-Twi: Asanteman), ook gespel Ashanti of Asante, was van 1670 tot 1957 ’n Akanryk in wat nou Ghana is. Dit het uitgebrei van Asjanti na die hedendaagse Brong-Ahafo-, Sentrale, Oostelike, Groter Accra- en Westelike Streek van Ghana. Danksy die ryk se militêre mag, rykdom, argitektuur, gesofistikeerde hiërargie en kultuur is die Koninkryk Asjanti wyd bestudeer en het meer geskiedskrywings daaroor deur Europese, veral Britse, skrywers die lig gesien as oor enige ander inheemse kultuur van Afrika suid van die Sahara.[1]
| |||||
| |||||
Kaart van die Konkinkryk Asjanti | |||||
Hoofstad | Kumasi | ||||
Taal/Tale | Ashanti-Twi | ||||
Regering | Monargie | ||||
Koning | |||||
- 1670-1717 (eerste koning) |
Osei Tutu I | ||||
- 1888-1931 (13de koning) |
Prempeh I | ||||
- 1931-1957 (laaste koning van onafhanklike koninkryk) |
Prempeh II | ||||
- 1999-tans (Ashantistreek) |
Osei Tutu II | ||||
Historiese tydperk | 1670-1902 1935-1957 | ||||
- Gevestig | 1670 | ||||
- Onafhanklikheid van Denkyira | 1701 | ||||
- Britse kolonie | 1896 | ||||
- Selfregering | 1935 | ||||
- Politieke unie met Ghana as Asjanti | 1957 | ||||
- Ontbind | 1957 |
In die laat 17de eeu het die Asantehene (Asjantikoning) Osei Tutu I en sy raadgewer Okomfo Anokye die Koninkryk Asjanti gestig met die Goue Stoel van Asjanti as ’n verenigende simbool. Onder Osei Tutu het die gebied geweldig uitgebrei; hy het die weermag opgebou deur dit te herorganiseer en het ’n gedissiplineerde en paramilitêre weermag in ’n doeltreffende gevegsmag omskep.[1] In 1701 het die Asjantiweermag Denkyira verower en toegang tot die Golf van Guinee en die Atlantiese Seekus gekry. Hulle het met Europeërs aan die kus begin handel dryf in goud, ivoor, slawe en ander goedere.
In 1896 het ’n Britse ekspedisiemag in Kumasi aangekom. Ná verskeie oorloë met die Asjanti het Brittanje die gebied geannekseer. Die koning is afgesit en verban. Die Asjantiryk is ontbind en het die Britse Goudkuskolonie geword.
In 1935 is die Ashantiryk se selfregering en troon herstel. Toe die Goudkus in 1957 sy onafhanklikheid van Brittanje kry en Ghana word, het die Asjantiryk deel van dié land geword.
Vandag bestaan die Asjantiryk as ’n konstitusioneel beskermde, subnasionale kwasistaat[2] en tradisionele gesag in die Republiek van Ghana. Die huidige koning van Asjanti is Otumfuo Nana Osei Tutu II. Asjanti is die tuiste van die Bosumtwimeer, Ghana se enigste natuurlike meer. Die streek se huidige inkomste word hoofsaaklik verkry uit handel in goudstawe, kakao, kolaneute en landbou; woude is ook afgekap om broodwortels, mielies en jams te plant.[3]
Die naam Asante beteken "as gevolg van oorlog". Dit kom van die Twi-woorde ɔsa, "oorlog", en nti, "as gevolg van". Die naam het ontstaan vanweë die Asante se oorsprong as ’n koninkryk wat gestig is om teen die koninkryk van die Denkyiravolk te veg.
Die spelling Ashanti kom uit Britse verslae wat Asante getranskribeer het soos die Britte gehoor het dit uitgespreek word, as "as-hanti". Die koppelteken is eindelik uitgelaat en die naam Ashanti het oorgebly, met verskillende spellings, insluitende Ashantee, tot in die vroeë 20ste eeu.
Tussen die 10de en 12de eeu het die etniese Akanvolk na die woudgordel van Suid-Ghana migreer en verskeie Akanstate gestig:
Voordat Asjanti kontak met Europeërs gehad het, het handel met ander Afrikastate floreer danksy Asjanti se goudrykdom. Handel met die Portugese het al in die 15de eeu begin.[4] Toe die goudmyne in die Sahel ophou produseer, het die Koninkryk Asjanti die hoofspeler in die goudhandel geword[3] en die Asjanti het ryk geword uit hulle goud.[3]
Die Asjanti is ’n subgroep van die Akanvolk; as politieke organisasie was dit aanvanklik gesentreer om clans met ’n hoofman, of Amanhene, aan die hoof.[5][6] Een clan, die Oyoko, het hulle in die gebied van Asjanti se subtropiese woud gevestig met Kumasi as hoofsentrum.[7] Die Asjanti het skatpligtiges geword van ’n ander Akanstaat, Denkyira, maar in die middel 17de eeu het die Oyoko onder hoofman Oti Akenten die Asjanticlans in ’n losse konfederasie teen die Denkyira begin verenig.[8]
Die instelling van die Goue Stoel (Sika dwa) was ’n manier van sentralisasie onder Osei Tutu. Volgens legende is ’n vergadering van al die clanhoofmanne van die Asjanti-nedersettings belê net voor hulle hulle onafhanklik van die Denkyira verklaar het. Op hierdie vergadering het Okomfo Anokye, die hoofpriester en raadgewer van Osei Tutu, die Goue Stoel uit die hemel laat neerdaal. Dit het op Osei Tutu se skoot beland. Okomfo Anokye het die stoel verklaar tot simbool van die nuwe Asjanti-unie (die Koninkryk Asjanti), en trou is aan die stoel gesweer, asook aan Osei Tutu as die Asantehene. Die nuut gestigte koninkryk het daarna oorlog teen die Denkyira verklaar en hulle verslaan.[9] Die stoel is steeds heilig vir die Asjantivolk, want daar word geglo dit bevat die Sunsum – die gees of siel van die Asjanti.
In die 1670's het die hoof van die Oyokoclan, Osei Tutu, deur diplomasie en oorlogvoering nog ’n vinnige konsolidasie van Akanvolke begin.[10] Hy en Anokye het ’n koalisie van invloedryke stadstate teen die Denkyira gelei en hulle met die Slag van Feyiase verslaan. Hulle het hulle finale onafhanklikheid in 1701 afgekondig. Die twee mans het ander stadstate daarna oorrreed of gedwing om trou aan Kumasi, die Asjanti se hoofstad, te sweer. Van die begin af het Osei Tutu en Anokye die Asjanti se gebied uitgebrei en ’n imperialistiese buitelandse beleid gevolg.
Osei Tutu het voortgegaan met die sentralisasie van die naburige Akangroepe, en het die mag van die regstelsel in die gesentraliseerde regering uitgebrei. Die losse federasie van stadstate het gegroei tot ’n koninkryk en eindelik ’n gebeidsryk wat sy grense bly uitbrei het. Nuwe gebiede wat verower is, het die keuse gehad om by die ryk aan te sluit of skatpligtige state te word.[11] Opoku Ware I, Osei Tutu se opvolger, het die grense verder uitgebrei en ’n groot deel van die hedendaagse Ghana verower.[12]
Europeërs het in die 15de eeu in die kusstreek van die Golf van Guinee kontak met die Asjanti gemaak. Dit het gelei tot handel in goud, ivoor, slawe en ander goedere met veral die Portugese. Op 15 Mei 1817 het die Engelsman Thomas Bowdich in Kumasi aangekom. Hy het ’n paar maande gebly, was beïndruk en het met sy terugkeer na Engeland ’n boek, Mission from Cape Coast Castle to Ashantee, geskryf[13] Joseph Dupuis, die eerste Britse konsul in Kumasi, het op 23 Maart 1820 in die hoofstad gearriveer. Bowdich en Dupuis het albei ’n verdrag met die Asantehene gesluit.
Slawerny was histories ’n tradisie in die Asjantiryk – die slawe was hoofsaaklik hulle vyande wat hulle in oorloë gevange geneem het. Die lot van die slawe het gewissel van die reg om rykdom te versamel en in sy eienaar se familie in te trou tot om geoffer te word in begrafnisseremonies. Die Asjanti het geglo ’n eienaar se slawe moet hom na die hiernamaals volg. Slawe kon soms ander slawe besit of aansoek om ’n nuwe eienaar doen as hy gevoel het sy eienaar behandel hom uiters sleg.[14][15]
Die moderne Asjanti verwerp die idee dat slawe sleg behandel is.[16] Hulle voer aan iemand wat sy slawe mishandel het, is deur die gemeenskap geminag en lê klem daarop dat die slawe kon trou, en dat hulle kinders vry gebore is.[17]
As ’n eienaar ’n vroulike slaaf begeerlik gevind het, mag hy met haar getrou het. Soms het mans dit verkies weens die Asjanti se matriargale stelsel. Kinders is beskou as gebore in die ma se clan en het die status van dié clan verkry. Die vrou is deur haar familie beskerm en haar ouer broer was gewoonlik ’n mentor vir haar kinders. As ’n man met ’n slaaf getrou het, was daar nie ’n familie wat haar kon bevoordeel nie en het hy volle beheer oor sy kinders gehad.
In Januarie 1896 het ’n Britse ekspedisiemag onder bevel van Robert Baden-Powell in Kumasi aangekom.[18] Die Asantehene het die Asjanti aangesê om nie weerstand te bied nie, want hy was bang vir ’n volksmoord. Kort daaarna het goewerneur William Maxwell ook in Kumasi aangekom.
Brittanje het die gebiede van die Asjanti en die Fante geannekseer. Asantehene Prempeh I is afgesit en gevange geneem, en hy en ander Asjantileiers is na die Seychelle verban. Die Asjantiryk is ontbind. Die Britte het die gebied van die Koninkryk Asjanti en die kusstreke amptelik verklaar tot die Goudkuskolonie. ’n Britse resident is aangestel en kort daarna is ’n fort by Kumasi gebou.
As ’n finale weerstand het die lede van die Asjantihof wat nie verban is nie, ’n aanval teen die resident in die Kumasifort geloods. Dit is gelei deur die Asjantikoningin Yaa Asantewaa, die koninginmoeder van Ejisu. Die Asjanti en die Britte was van 28 Maart tot laat in September 1900 in ’n stryd gewikkel wat as die Oorlog van die Goue Stoel bekend geword het. Die Britte het eindelik geseëvier; hulle het Asantewaa en ander leiers ook na die Seychelle verban. In Januarie 1902 het die Britte finaal ’n protektoraat in die koninkryk afgekondig.
Die Ashantiryk se selfregering is op 31 Januarie 1935 herstel en koning Prempeh II is op die troon teruggeplaas. Toe Ghana sy onafhanklikheid van Brittanje in 1957 verkry, het die Asjantiryk ’n politieke unie met dié land gevorm.
Die Asjantiregering was geskoei op ’n gesofistikeerde burokrasie in Kumasi, met aparte departemente om die staat se sake te hanteer. Veral die departement van buitelandse sake is noemenswaardig; dit was klein, maar het aparte afdelings gehad vir betrekkinge met Brittanje, Frankryk, Nederland en Arabië. Kenners van Asjanti se geskiedenis soos Larry Yarak en Ivor Wilks Wilkes verskil oor die mag van die burokrasie in vergelyking met dié van die Asantehene, maar stem saam dit was ’n hoogs ontwikkelde regering met ’n skeiding van magte.
Aan die hoof van die magstruktuur was die Asantehene, die koning van Asjanti. Hy is op die Goue Stoel gekroon, want dit het die mag van die koning gesimboliseer. Die Asantehene het geweldig baie mag gehad, maar was nie ’n absolute monarg nie. Hy het aansienlike regs- en uitvoerende magte met die burokrasie gedeel. Hy was egter die enigste persoon in Asjanti wat die doodsvonnis kon uitspreek in die geval van ’n misdaad. In oorlogstyd was hy die opperbevelvoerder van die weermag, hoewel die departement van oorlog in die 19de eeu al hoe meer oorlogsake hanteer het. Osei Kwadwo (1764-1777) het die stelsel begin om sentrale amptenare volgens hulle vermoëns aan te stel en nie volgens hulle herkoms nie.[19]
Die Asantehene is nes al die ander hoofmanne gekies. Die senior vroulike lid van die koninklike lyn het verkiesbare mans benoem. Sy het dan met mans en vroue van daardie familie samesprekings gevoer. Die finale kandidaat is daarna gekies. Die benoeming is na ’n raad van hoofde gestuur wat ander families van die dorp of distrik verteenwoordig het. Hulle het die benoeming aan ’n volksvergadering voorgelê. As die volk die benoeming verwerp het, het die proses oorbegin. As dit aanvaar is, het die nuwe koning op die Goue Stoel gaan sit en ’n plegtige eed afgelê aan die aardgodin en sy voorouers dat hy sy pligte eerbaar sal uitvoer en homself en sy lewe sal opoffer ter wille van die staat. ’n Groot seremonie is daarna gehou.
In dié hiërargiese stelsel het elke hoof trou aan die een bo hom gesweer: van die dorpe se hoofmanne tot die koning, en dié het trou aan die staat gesweer. Die regeringshoofde het die mag van die koning beperk en getoets. Die koning se mag was onder meer godsdienstig van aard: Hy was ’n simbool van die mense – die lewendes, afgestorwenes en dié wat nog gebore moes word. As die koning iets sou doen wat die ander hoofde of die volk nie goedgekeur het nie, sou hy moontlik van die troon gesit word.
Hoewel ouer mans ’n soort monopolie op politieke mag gehad het, het Asjanti ’n organisasie van jong mans, die nmerante, ingestel wat eers deur die ouer leiers geraadplaag moes word voordat hulle ’n besluit neem.
Onder die Asantehene was daar die obirempon (letterlik "groot man") van elke dorp, die houer van plaaslike mag. Hy is deur die Asantehene persoonlik gekies en was gewoonlik van ’n adellike familie en verwant aan die Asantehene. Hulle het ’n groot mate van wetgewende mag in hulle streek gehad. Benewens die hantering van administratiewe en ekonomiese sake, het hulle ook as hoofregters gedien.
Die huidige woning van die Asantehene is die Manhyiapaleis, wat die Britte in 1925 gebou en aan Prempeh I geskenk het toe hy uit bannelingskap terugkeer.
Die oorspronklike paleis in Kumasi is in 1875 deur die Britte afgebrand. Volgens Europese weergawes was die gebou enorm en ryklik versier. In 1819 het die Engelse reisiger en skrywer Thomas Edward Bowdich die paleis beskryf as
... ’n ontsaglike gebou met ’n verskeidenheid ovaal howe en vierkante, met entablemente wat ryklig versier is met opsigtelike waaier- en traliewerk van Egiptiese voorkoms. Hulle het stelle kamers bo hulle, met klein vensters van hout wat fyn afgewerk is, en sommige het rame oorgetrek met dun goud. Die vierkante het ’n groot kamer aan elke kant wat voor oop is, met twee steunpilare . . . ’n Slotgordyn met gevlegde rottang hang daarvoor, en in elke kamer het ons stoele gesien met goud gebosseleer, en beddens van sy met regalieë daarop gestrooi.[20]
Die volgende illustrasies kom uit Bowdich se boek Mission from Cape Coast Castle to Ashantee, wat hy geskryf het nadat hy ’n paar maande in Kumasi deurgebring het:
Die Asjantistaat was eintlik ’n teokrasie. Dit was geskoei op godsdienstige eerder as sekulêre of regsbeginsels. Wat die meeste state as misdade beskou, het die Asjanti as sondes beskou. Antisosiale gedrag was oneerbiedig teenoor die voorouers en net sekondêr skadelik vir die gemeenskap. As die koning nie sulke dade gestraf het nie, het hy die voorouers en gode kwaad gemaak. Die straf vir sommige misdade (sondes) was die dood, maar die doodstraf is selde opgelê; algemener strawwe was verbanning of tronkstraf.
Die koning het in alle gevalle die doodstraf voltrek of versag. Hierdie versagting van die oorspronklike vonnis is dikwels deur middel van omkoopgeld verkry; dit is beskou as ’n inkomste vir die staat. Die versagting van die doodstraf het veel gereelder voorgekom as teregstellings.
Die Asjanti het ’n afkeer van selfmoord gehad; dit is as moord beskou. Iemand wat selfmoord gepleeg het, se liggaam is onthoof – die gebruiklike straf vir moord. Selfmoord is beskou as ’n minagting van die hof, want net die koning mag ’n Asjanti doodgemaak het.
In ’n moordverhoor moes opset bewys word. As bevind is dit was sonder voorbedagde rade, moes die aangeklaagde vergoeding aan die oorledene se familie betaal. Dade benewens moord waarvoor die doodstraf opgelê kon word, sluit in bloedskande, seks met ’n vrou wat menstrueer, die verkragting van ’n getroude vrou en owerspel met die vrou van ’n hoofman of koning. Die doodstraf kon ook opgelê word vir aanvalle op of beledigings teenoor ’n hoofman, die hof of die koning. Beoefenaars van heksery en toordery het ook die doodstraf gekry, maar is nie onthoof nie omdat hulle bloed nie mag gevloei het nie. Hulle is verwurg, verbrand of verdrink.
Die Asjantiryk was een van ’n reeks koninkryke aan die kus. Dit het berge en groot stukke bewerkbare grond gehad.[21] Die suidelike deel het klam, halfbladwisselende woude gehad, terwyl die Guinee-savanne die noordelike deel bedek het. Die Guinee-savanne bestaan uit lae, bladwisselende en brandbestande bome. Oewerwoude het ook aan die Aframrivier en strome van die savannesone voorgekom. Daar grond van die woude én savanne was bruingrys, sanderige kleigrond.[21]
Die fauna was hoofsaaklik hoenders, skape, bokke, eende, kalkoene, hase, tarentale, vis en die ystervark, wat die nasionale simbool van die ryk was. Sowat 30 soorte floraspesies het voorgekom, wat bome, struike en ornamentele plante ingesluit het. Hierdie plante en diere het ook op die erwe van huise voorgekom.[21]
Die Asjantiryk het ook riviergoud, kakao en kolaneute gehad en die bewoners het met die Portugese en ander lande handel gedryf.[22]
Die Asjanti het hulle landerye voorberei deur dit af te brand voor die begin van die reënseisoen en dit met ysterskoffels te bewerk. Landerye is vir ’n paar jaar braak laat lê, gewoonlik ná twee tot vier jaar van gewasse aanplant. Gewasse het ingesluit meelpiesangs, jams, broodwortels, mielies, bone, uie, patats, grondboontjies, tamaties en baie soorte vrugte. Baie van die groentesoorte kon twee keer per jaar geoes word. Bier is van palmwyn, mielies en manna gemaak en was baie gewild; palmolie het baie gebruike in die huis gehad.
Die infrastruktuur soos padvervoer en kommunikasie is deur die Asjantiryk in stand gehou met onder meer ’n padnetwerk na die Nigerrivier en ander handelstede.[23][24]
Die Asjanti het die fontomfrom uitgevind (dit is ’n "pratende trom") asook die Akantrom. Hulle kon boodskappe vinnig oor meer as 200 km stuur. Asante-Twi, die taal van die Asjantivolk, is tonaal en groter betekenis kan deur klanktone oorgedra word. Die tromme het hierdie tone en frase-aksente nageboots sodat die geoefende oor die volle betekenis van ’n sin kon verstaan. Die tromme is gebruik om vergaderings tussen hoofmanne te belê, mense tot oorlog op te roep, oor gevare te waarsku en die dood van belangrike figure te verkondig.
Die Asjanti het ’n bevolkingsgeskiedenis gehad van stelselmatige sentralisasie. Osei Tutu en sy opvolgers het ’n beleid van politieke en kulturele versmelting gevolg. Dit het egter ’n verbond van verskeie groot stadstate gebly wat die soewereiniteit van die heerser van Kumasi en die Asjantiryk erken het.
Die ryk het digte bevolkings gehad, en dit het die skepping van aansienlike stedelike sentrums moontlik gemaak.[21] Teen 1874 het die Asjanti oor ’n gebied van meer as 250 000 km2 met 3 miljoen mense regeer.[21]
In Kumasi en ander Asjanti-nedersettings het die ankobia, of spesiale polisie, gedien as die ryk se spesiale magte, lyfwagte van die Asantehene, intelligensiediens en onderdrukkers van rebellies.[23]
Die weermag het hoofsaaklik vuurwapens gebruik. Dit was tussen 80 000 en 200 000 man sterk en was een van die grootstes in Afrika.[25] Dit is beskryf as ’n geweldig georganiseerde weermag wat nie maklik deur swaarder wapens afgeskrik is nie.[26]
Volgens sommige historici het interne organisasie en leierskap ’n groot rol in hulle sukses gespeel.[27] Dit is veelseggend as in ag geneem word dat baie van die troepe uit verowerde volke gekom het, waarvan baie deur die ryk se lang geskiedenis in opstand gekom het.
Hoewel al die lede nie permanent was nie, was tienduisende soldate gewoonlik beskikbaar. Klein kaders van ervare lede het toesig gehou oor die groepe wat uit die platteland opgeroep is. Soldate is georganiseer in ’n voorste groep, hoofgroep, agterste groep en twee flanke. Dit het buigsaamheid verseker in die woudagtige streke waar die weermag gewoonlik aktief was. Die slagveld is gewoonlik genader deur kolomme wat bymekaargekom het, en die taktiek het ingesluit lokvalle en uitgebreide maneuvers deur die flanke. Mediese eenhede het die soldate ondersteun. Dié mag het die ryk meer as ’n eeu lank aansienlik uitgebrei en die Britte verskeie kere oorwin.[25]
Van 1806 tot 1896 was die Asjantiryk aaneenlopend in oorloë betrokke om sy gebied óf uit te brei óf te verdedig. Asjanti se krygsdade teen ander Afrikamagte het dit die belangrikste mag in die streek gemaak.
In 1806 het die Asjanti twee rebelleleiers deur Fantegrondgebied agtervolg, tot by die kus. Die Britte se weiering om die rebelle te oorhandig het gelei tot ’n aanval deur die Asjanti. Hulle was sterk genoeg dat die Britte een rebel oorhandig het; die ander een het ontsnap.[28]
In 1807 het onenigheid met die Fantevolk gelei tot die Asjanti-Fante-oorlog, wat die Asjanti onder Asantehene Osei Bonsu ("Osei die Walvis") gewen het.
In die Ga-Fante-oorlog van 1811 het ’n koalisie van Asjanti en Ga teen ’n verbond van Fante, Akwapim en Akim geveg. Die Asjanti het vroeg in die oorlog die oorhand oor die verbond gekry. Hulle kon dit egter nie volhou nie en moes aan die gebied onttrek, maar het ’n Britse fort verower.
In 1814 het die Asjanti ’n aanval op die Goudkus geloods, grootliks om toegang tot Europese handelaars te kry. In die daaropvolgende Asjanti-Akim-Akwapim-oorlog het die ryk teen ’n Akim-Akwapim-verbond te staan gekom. Ná verskeie gevegte, waarvan die Asjanti sommige gewen en sommige verloor het, het die oorlog tot ’n einde gekom. Hoewel die kleiner Akim-Akwapim-mag teen 1816 ’n paar belangrike gevegte gewen het, is die gebied deur die Asjanti verower.
Die eerste Anglo-Asjanti-oorlog het in 1823 plaasgevind. In dié gevegte het die Asjanti met ’n wisselende mate van sukses hulle man teen die Britte aan die kus gestaan. Die wortel van die probleem was die feit dat sir Charles MacCarthy in 1823 nie met die Asjanti wou onderhandel nie en hulle aangeval het. Die Asjanti het die aanval afgeweer en MacCarthy doodgemaak. Hulle het na die kus opgeruk, maar siektes het hulle gedwing om terug te val.
Hulle was egter so suksesvol in daaropvolgende gevegte dat hulle in 1826 weer na die kus opgeruk het. Hulle het aanvanklik baie indrukwekkend geveg teen die groter Britse mag, wat alliansies met onder andere die Denkyirans gesluit het. Die nuwigheid van die Britse vuurpyle het die Asjanti egter gedwing om terug te trek.[29] In 1831 het ’n verdrag tot 30 jaar van vrede gelei, met die Prarivier wat as grens aanvaar is.
Met die uitsondering van ’n paar ligte skermutselings deur die Asjanti in 1853 and 1854 oor die Prarivier heen, het die vrede bewaar gebly totdat ’n groot Asjanti-afvaardiging in 1863 die rivier oorgesteek het terwyl hulle ’n vlugteling, Kwesi Gyana, agtervolg het. Daar was gevegte, met gesneuweldes aan albei kante, maar die goewerneur se versoek om versterkings van Engeland af is van die hand gewys en siektes het die Wes-Indiese troepe gedwing om terug te trek. Die oorlog het in 1864 op ’n dooie punt geëindig, met meer ongevalle aan albei kante wat deur siektes veroorsaak is as om enige ander rede.
In 1869 is ’n Europese sendelinggesin na Kumasi gebring. Hulle is gebruik as verskoning vir nog ’n oorlog in 1873. Die Britte het ook Asjantigrond oorgeneem waarop die Nederlanders aanspraak gemaak het. Die Asjanti het die nuwe Britse protektoraat aangeval. Generaal Garnet Wolseley is gestuur om teen die Asjanti te veg. Dit was ’n moderne oorlog, kompleet met persdekking (onder andere deur die bekende verslaggewer Henry Morton Stanley) en gedrukte militêre en mediese instruksies vir die troepe.[30] Die Britse regering het oproepe van die hand gewys om in te meng met Britse wapenvervaardigers wat vrylik wapens aan albei kante verkoop het.[31]
Al die Asjanti se pogings om te onderhandel het misluk. Wolseley het met 2 500 Britse soldate en ’n paar duisend Wes-Indiese en Afrikatroepe na Kumasi opgeruk. Die hoofstad is vir ’n kort ruk beset. Die Britte was beïndruk met die grootte van die paleis en met sy inhoud, wat "rye boeke in baie tale" ingesluit het.[32] Die Asjanti het die hoofstad ná ’n bloedige oorlog ontruim en die Britte het dit afgebrand.[33]
Die Britte en hulle bondgenote het aansienlike verliese gelei in die oorlog, onder andere talle soldate en hoë offisiere.[34] Op die ou end was die Asjanti egter nie opgewasse vir die Britse wapens nie. Die Asantehene het in Julie 1874 ’n verdrag met die Britte onderteken om die oorlog te beëindig.
In 1895 het die Asjanti ’n nieamptelike aanbod om ’n Britse protektoraat te word van die hand gewys. Die Asjanti wou Europese koloniale magte uit die ryk (en van sy goud af) hou, terwyl die Britte gretig was om die Asjantiryk eens en vir altyd te verower.
Hoewel hulle besig was met onderhandelings met die Asjanti om die ryk ’n Britse protektoraat te maak, het die Britte die vierde Anglo-Asjanti-oorlog in 1895 begin onder die voorwendsel dat die koning versuim het om die boetes te betaal wat die Britte ná die 1874-oorlog aan hom opgelê het. Die Britte het ’n oorwinning behaal en die Asjanti was genoodsaak om ’n verdrag te onderteken.
Die Asjanti is ’n matriargale gemeenskap waarin die lyn van afkoms deur die vroue loop.[35] In die Asjantiryk het dit grondregte en die erf van eiendom, ampte en titels ingesluit.[35] Hulle kon egter ook van die pa se familie erf,[35] maar dié familie was nie so belangrik nie.
’n Asjantimeisie het gewoonlik net ná die puberteitseremonie verloof geraak.[35] Troues was nie vir hulle groot gebeurtenisse nie, maar ’n praktyk wat normaalweg op die puberteitseremonie gevolg het.[35] Laasgenoemde was belangrik, want dit het op die oorgang van kind na volwassene gedui.[35] Die bruidegom se familie het verskeie geskenke aan die bruid se familie gegee, nie as ’n "bruidsprys" nie, maar as teken van ’n ooreenkoms tussen die twee families.[35]
Die aansien van die families was hoofsaaklik polities van aard. Die koninklike familie was aan die bopunt van die hiërargie, gevolg deur die families van die hoofmanne van die verskillende gebiede. In elke gebied is die hoofman uit ’n spesifieke vroulike lyn gekies.
Opvoeding is gewoonlik plaaslik deur die Asjanti verskaf – vir hoër opvoeding is skole in Europa dikwels bygewoon.
Ouers was gewoonlik verdraagsaam teenoor kinders, want die kindertyd is as ’n gelukkige tydperk beskou en kinders kon nie vir hulle dade verantwoordelik gehou word nie totdat hulle puberteit bereik. Begrafnisdienste vir kinders was ook kleiner as die feeste wat vir volwassenes gehou is (met die doel om die siel te beheer). Kinders was onskadelik en daar was geen kommer oor hulle siele nie.
Die Asjanti was dol oor tweelinge in die koninklike familie, want hulle is beskou as ’n teken van geluk. Oor die algemeen sou tweelingseuns gewoonlik by die weermag aansluit en tweelingdogters was potensiële vroue vir ’n koning. As dit ’n seun en dogter was, was daar nie sulke vasgestelde loopbane nie. Vroue wat ’n drieling gehad het, is hooggeag omdat drie ’n gelukkige nommer was. Spesiale rituele is gehou vir die derde, sesde en negende kind.
Die vyfde kind kon verwag om ongelukkig te wees, want vyf was ’n ongelukkige nommer. Families met baie kinders is gerespekteer en vroue wat nie kinders kon hê nie, is bespot.
Die Asjanti het net vir meisies puberteitsrites gehou. Pa's het self hulle seuns voorgelig. Seuns se privaatheid is gerespekteer. Wanneer ’n meisie egter begin menstrueer het, het sy haar ma vertel en dié sou die goeie nuus vir die res van die dorp aankondig deur ’n ysterskoffel met ’n klip te kap.
Baie beperkings het vroue wat menstrueer in die gesig gestaar. Hulle is as onrein beskou. Hulle mag nie vir mans gekook of kos geëet het wat vir ’n man berei is nie. Hulle mag nie openbare geriewe gebruik het, die drumpel van ’n man se huis betree het of aan seremonies deelgeneem het nie. Hulle kon nie ’n eed aflê en geen eed kon vir of teen hulle afgelê word nie.
Die grootste seremonie in die Asjantiryk was die oproep van die geeste van die afgestorwenes met behulp van kos en drank en die vra van hulle guns vir almal se welsyn; dit is die Adae genoem. Die dag voor die Adae het Akantromme die seremonie aangekondig. Die hoofpriester het die seremonie waargeneem in die "stoelhuis", waarheen die voorvaders gekom het en waar hy vir hulle iets te ete en te drinke aangebied het. Die openbare seremonie het buite plaasgevind, waar almal gedans en gedreunsing het en tromme die lof van die voorvaders besing het.
Nog ’n groot seremonie was die Odwera. Dit is in September gehou en het ’n week of twee geduur. Dit was ’n tyd vir die reiniging van die gemeenskap van hul sondes en van die voorvaders en gode se grafte. Ná die offering van ’n swart hoender en ’n fees waaraan die lewendes én die dooies deelgeneem het, het ’n nuwe jaar begin waarin almal rein, sterk en gesond was.
Begrafnisseremonies was groot en raserig. Die oorledene is in sy beste klere uitgevat en toegerus met pakkies stofgoud (geld vir die hiernamaals), ornamente en kos vir die reis "met die heuwel op". Die persoon is gewoonlik binne 24 uur begrawe. Tot dan het die begrafnisgangers gedans, op tromme geslaan en gewere afgevuur. Daar is geglo ’n begrafnis is nie ’n hartseer gebeurtenis nie omdat mense in die hiernamaals met hulle voorvaders verenig sou word.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.