Rohingia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Rohingia (Birmaans: ရိုဟင်ဂျာ, rui hang gya, [ɹòhɪ̀ɴd͡ʑà]; Bengaals: রোহিঙ্গা, Rohingga, [ɹohiŋɡa])[19] is 'n naam wat staatlose Bengaalse en merendeels Islamitiese bevolkingsgroepe in Mianmar gekies het om uitdrukking te gee aan hul etniese en godsdienstige identiteit – as minderheid in 'n oorwegend Boeddhistiese land. Die Rohingia is hoofsaaklik aanhangers van Soennitiese Islam, met 'n klein minderheid Hindoes.
Rohingia | |
---|---|
Verplaaste Rohingia-mense in die Rakhine-deelstaat, Mianmar | |
Totale bevolking: | 1 547 778[1]–2 000 000+[2] |
Belangrike bevolkings in: | Bangladesj 900 000+[3][4] (September 2017) Saoedi-Arabië 400 000[5] (2015) |
Taal: | Rohingia (Bengaals) |
Geloofsoortuiging: | Meerderheid Soennitiese Islam Minderheid Hindoeïsme |
Verwante etniese groepe: | Ander Indo-Ariërs soos Bengale, Gujarati's, Marathi's, Punjabi's, Sindhi's en Singalese |
Militêre operasies in gebiede, wat deur Islamitiese bevolkings bewoon word, is reeds sedert Birma (die latere Mianmar) se onafhanklikwording gereeld deur die land se strydmagte onderneem. In Augustus 2017 het die situasie geëskaleer nadat die rebellegroep Arakan Rohingya Salvation Army (ARSA) die verantwoordelikheid aanvaar het vir meerdere terreuraanvalle wat gelyktydig gepleeg en waarin sewentig mense dood is – onder wie twaalf lede van Mianmar se strydmag.[23] Mianmar se gewapende magte het daarna 'n grootskaalse teenoffensief begin en Rohingia-gebiede aangeval.[24] Volgens Amnesty International het ARSA-terroriste op 25 en 26 Augustus 2018 ook tientalle Hindoes- mans, vroue en kinders – in aanvalle op die dorpe Ah Nauk Kha Maung, Ye Bauk Kyar en Myo Thu Gyi vermoor.[25]
Die terreuraanvalle word as 'n poging van militante Moslems beskou om 'n vreedsame oplossing van die konflik in die deelstaat Rakhine te dwarsboom. Hulle is gepleeg net een dag nadat die regering van Mianmar voorstelle vir 'n vreedsame oplossing vir die konflik, soos gemaak deur 'n kommissie onder voorsitterskap van die vroeëre sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Kofi Annan, verwelkom en aanvaar het.[26] Die Rohingia-konflik blyk egter nie die enigste binnelandse konflik in Mianmar te wees nie. Die land selfs word sedert sy onafhanklikheid in 1948 deur die wêreld se langsdurende burgeroorlog geteister, wat nie net Moslems raak nie, maar ook Animiste, Boeddhiste, Hindoes en selfs Christelike minderhede. Byvoorbeeld is die Boeddhistiese Karenvolk sedert 1948 in 'n grootskaalse konflik met die sentrale regering betrokke. Van die ander konflikte tussen inheemse bevolkingsgroepe en die sentrale regering sluit in Kachin, Kayah, Kayin en Shan.[27][28][29]