From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Meteoriet is 'n soliede stuk afval uit die ruimte van 'n voorwerp soos 'n komeet, asteroïde of meteoroïde wat in die buitenste ruim ontstaan, sy reis deur die atmosfeer oorleef en die oppervlak van 'n planeet of maan tref. Wanneer die oorspronklike voorwerp die atmosfeer binnegaan, veroorsaak verskeie faktore soos wrywing, druk en chemiese wisselwerkings dat die atmosferiese gasse die liggaam laat verhit en energie laat uitstraal. Dit word dan 'n meteoor en vorm 'n vuurbal, of wat algemeen 'n "verskietende ster" genoem word. Sterrekundiges noem die helderste vuurballe boliede. Sodra dit op die groter liggaam se oppervlak beland, word die meteoor 'n meteoriet.
Meteoriete wissel baie in grootte. Vir geoloë is 'n bolied 'n meteoriet wat groot genoeg is om 'n slagkrater te laat.[2]
Meteoriete is tradisioneel in drie breë kategorieë ingedeel: steenmeteoriete, wat klippe is en hoofsaaklik uit silikaatminerale bestaan; ystermeteoriete, wat hoofsaaklik uit ysternikkel bestaan; en steen-ystermeteoriete, wat groot hoeveelhede metaal én klip bevat.
Moderne klassifikasiestelsels verdeel meteoriete in groepe volgens hulle struktuur, chemiese en isotopiese samestelling en mineralogie. Meteoriete kleiner as 2 mm word as "mikrometeoriete" geklassifiseer. Buiteaardse meteoriete is al op die Maan en Mars gevind.[3][4]
Die meeste meteoroïdes disintegreer wanneer hulle die Aarde se atmosfeer binnedring. Vyf tot 10 per jaar word waargeneem wat die Aarde tref.[5] Net 'n paar meteoriete is groot genoeg om 'n groot slagkrater te vorm. Die meeste bereik die oppervlak teen hulle terminale snelheid en veroorsaak hoogstens 'n klein gat.
Groot meteoroïdes kan die Aarde tref met 'n aansienlike breuk van hulle ontsnapsnelheid en 'n hipersnelheidsslagkrater agterlaat. Die soort krater sal afhang van die grootte, snelheid, samestelling, graad van fragmentasie en die invallende hoek. Die krag van sulke botsings het die potensiaal om groot verwoesting te saai.[6][7]
Die gereeldste hipersnelheidskratervorming op Aarde word veroorsaak deur ystermeteoroïdes, wat die grootste kans het om ongeskonde deur die atmosfeer te klief. In teenstelling daarmee word relatief groot steen- of ysliggame soos klein komete of asteroïdes, van tot miljoene tonne, in die atmosfeer uiteengeskeur en maak hulle nie groot slagkraters nie.[8] Hoewel sulke voorvalle ongewoon is, kan hulle 'n aansienlike skudding veroorsaak; die bekende Toengoeska-voorval is moontlik die gevolg van so 'n gebeurtenis.
Baie groot steenvoorwerpe met 'n deursnee van honderde meters en 'n gewig van tien miljoene tonne kan die oppervlak bereik en groot kraters veroorsaak, maar is baie skaars. Sulke voorvalle het gewoonlik so baie energie dat die voorwerp heeltemal vernietig word en geen meteoriet agterlaat nie. (Die heel eerste voorbeeld van 'n steenmeteoriet wat 'n groot krater veroorsaak het, die Morokweng-slagkrater in Suid-Afrika, is in Mei 2006 aangemeld.)[9]
Verskeie verskynsels is aangeteken waar ooggetuies 'n meteoriet sien val het wat te klein was om 'n hipersnelheidskrater te veroorsaak.[10] Die vuurbal wat gevorm word wanneer 'n meteoroïde deur die atmosfeer trek, kan baie helder wees en net so 'n skerp lig soos die Son veroorsaak, hoewel die meeste baie dowwer is en dalk nie eens in die dag gesien sal word nie. Verskeie kleure is aangemeld, insluitende geel, groen en rooi.
Ligflitse kan ontstaan terwyl die voorwerp opbreek. Ontploffings, knalgeluide en rommelings word dikwels gehoor tydens die val van 'n meteoriet. Dit kan veroorsaak word deur supersoniese knalle sowel as skokgolwe wat deur fragmentasie meegebring word. Nadat die vuurbal deur die atmosfeer getrek het, word 'n stofspoor soms minute lank gesien.
Omdat meteoriete verhit word wanneer hulle die atmosfeer binnekom, smelt hulle oppervlakke en ondervind hulle erosie. Hulle kan tydens dié proses in verskillende vorms gegraveer word. As die meteoriet sy oriëntasie behou terwyl hy val en nie tol nie, kan dit 'n keëlvorm kry. As dit snelheid verloor, kan die gesmelte oppervlaklaag in 'n fusiekors verhard. Op die meeste meteoriete is dit swart.
Meteoroïdes wat in die atmosfeer disintegreer, kan as meteorietreëns neerval, wat skaars is. Die gebied waaroor 'n meteorietreën neerstort, word sy verstrooiingsveld genoem. Verstrooiingsvelde het gewoonlik 'n elliptiese vorm, met 'n hoofas parallel met die vlugrigting. In die meeste gevalle word die grootste meteoriete in 'n reën op die verste afstand in die verstrooiingsveld aangetref.[11]
Die meeste meteoriete is steenmeteoriete, wat as chondriete en achondriete geklassifsieer word. Net sowat 6% van meteoriete is yster- of gemengde meteoriete. Die moderne klassifikasie van meteoriete is ingewikkeld. Krot et al. (2007)[12] som dit op.
Sowat 86% van meteoriete is chondriete,[13][14][15] wat genoem is na die klein, ronde deeltjies wat hulle bevat. Dié deeltjies, of chondrules, bestaan hoofsaaklik uit silikaatminerale wat lyk of hulle gesmelt het terwyl hulle vry in die ruimte rondgedryf het. Sekere soorte chondriete bevat ook klein hoeveelhede organiese materiaal, insluitende aminosure, en presolêre korrels. Chondriete is gewoonlik sowat 4,55 miljard jaar oud en verteenwoordig vermoedelik materiaal van die asteroïdegordel wat nooit met groter liggame versmelt het nie. Nes komete, is chondrietasteroïdes van die oudste en primitiefste materiale in die sonnestelsel. Chondriete word dikwels beskou as die "boustene van die planete".
Sowat 8% van meteoriete is achondriete, wat beteken hulle bevat nie chondrules nie. Van hulle is soortgelyk aan stollingsgesteentes op Aarde. Die meeste achondriete is ook antieke rotse en verteenwoordig vermoedelik korsmateriaal of gedifferensieerde planetesimale. Een groot familie achondriete (die HED-meteoriete) het dalk op Vesta ontstaan, hoewel dié bewering betwis word.[16][17] Ander kom van ongeïdentifiseerde asteroïdes. Twee klein groepe achondriete is spesiaal, omdat hulle jonger is en nie lyk of hulle in die asteroïdegordel ontstaan het nie. Een van dié groepe kom van die Maan af en sluit rotse in soortgelyk aan dié wat die Apollo- en Loena-ruimteprogram na die Aarde teruggebring het. Die ander groep is feitlik vir seker van Mars af en is die enigste materiaal van ander planete wat deur die mens teruggebring is Aarde toe.
Sowat 5% van meteoriete wat gesien val is, is ystermeteoriete, wat bestaan uit ysternikkelallooie. Die meeste ystermeteoriete kom vermoedelik van die kern van planetesimale wat eens gesmelt was. Soos met die Aarde, het die digter metaal van die silkaatmateriaal geskei, na die middel van die planetesimaal afgesak en sy kern gevorm. Nadat die planetesimaal gestol het, het dit opgebreek in 'n botsing met 'n ander planetesimaal. Vanweë die min ystermeteoriete wat geval het in gebiede soos Antarktika, waar die meeste meteoriete wat val gevind kan word, is dit moontlik dat die persentasie ystermeteoriete wat val minder as 5% is.[18][19]
Die oorblywende 1% van meteoriete is steen-ystermeteoriete. Hulle is 'n mengsel van ysternikkel en silikaatmateriale. Die twee hoofgroepe is pallasiete en mesosideriete.
In Maart 2015 het Nasa-wetenskaplikes berig komplekse organiese verbindings wat in DNS en RNS aangetref word, is in die laboratorium gevorm onder buiteruimtoestande met die gebruik van chemikalieë soos pirimidien, wat in meteoriete voorkom. Pirimidien en polisikliese aromatiese koolwaterstowwe kon gevorm gewees het in rooireuse of in interstellêre stof en gaswolke, volgens die wetenskaplikes.[20]
In Januarie 2018 het navorsers ontdek 4,5 miljard jaar oue mateoriete wat op Aarde ontdek is, bevat vloeibare water en organiese stowwe van prebiotiese kompleks wat bestanddele van lewe kan wees.[21][22]
In November 2019 het wetenskaplikes berig hulle het vir die eerste keer suikermolekules bespeur in meteoriete, insluitende ribose, wat daarop dui dat chemiese prosesse op asteroïdes sommige verbindings kan produseer wat noodsaaklik vir lewe is.[23][24]
In April 2022 het 'n Japannese groep berig hulle het adenien (A), timien (T), guanien (G), sitosien (C) en urasiel (U) in koolstofryke meteoriete gevind. Dié verbindings is boustene van DNS en RNS, die genetiese kode van alle lewe op Aarde. Dié verbindings het ook spontaan voorgekom in 'n laboratoriumopset wat toestande in die buitenste ruim nageboots het.[25][26]
Die meeste meteoriete dateer uit die vroeë sonnestelsel en is verreweg die oudste bestaande materiaal op Aarde. Ontledings van aardverwering weens water, sout, suurstof, ensovoorts word gebruik om die graad van wysiging te bepaal wat 'n meteoriet ondergaan het. Verskeie kwalitatiewe verweringsaanduidings is toegepas op Antarktiese en woestynvoorbeelde.[27]
Die algemeenste verweringskale wat gebruik word, vir gewone chondriete, wissel van W0 (ongerepte staat) tot W6 (kwaai verandering).
"Fossiele" meteoriete word soms deur geoloë ontdek. Hulle is die kwaai verweerde oorblyfsels van meteoriete wat in die verre verlede op Aarde geval en goed genoeg in sedimentneerslae bewaar gebly het dat hulle deur mineralogiese en geochemiese studies herken kan word. Die Thorsberg-kalkgroefsteen in Swede het meer as 100 fossiele meteoriete uit die Ordovisium opgelewer, waarvan byna almal kwaai verweerde L-chondriete is wat steeds onder 'n petrografiese mikroskoop soos die oorspronklike meteoriete lyk, maar waarvan feitlik al die oorspronklike materiaal vervang is deur aardse sekondêre mineralisasie.
Die bewys van hulle buiteaardse oorsprong word deels gedemonstreer deur isotopiese ontledings van oorblywende edelgesteentekorrels, 'n mineraal wat algemeen in meteoriete is, onoplosbaar in water is en in staat is om chemies onveranderd te bly in aardse verweringstoestande. Wetenskaplikes glo dié meteoriete, wat ook in Rusland en China ontdek is, het almal dieselfde bron: 'n botsing wat iewers tussen Mars en Jupiter voorgekom het.[28][29][30][31] Een van dié fossiele meteoriete, wat Österplana 065 gedoop is, verteenwoordig oënskynlik 'n sekere soort meteoriet wat "uitgesterf" het in die sin dat dit nie meer op die Aarde val nie, omdat die moederliggaam al heeltemal uitgewis is uit die reservoir van naby-aarde-voorwerpe.[32]
'n "Meteorietval", ook genoem 'n "waargenome val", is 'n meteoriet wat die Aarde tref nadat mense of toestelle die val waargeneem het. Enige ander meteoriet word 'n "meteorietvonds" genoem.[33][34] Daar is meer as 1 100 aangetekende valle wat in algemeen gebruikte databasisse voorkom.[35][36][37] Van die meeste is daar monsters in moderne versamelings. Teen Januarie 2019 het die Meteorietbulletindatabasis 1 180 bevestigde valle bevat.[35]
Die meeste meteorietvalle word versamel op grond van ooggetuieverslae van die vuurbal of die impak van die voorwerp op die grond, of albei. Hoewel die moontlikheid dat 'n meteoriet die Aarde kan tref dus oral in die wêreld ewe groot is, is geverifieerde meteorietvalle geneig om gekonsentreerd te wees in gebiede met hoër bevolkingsdigthede soos Europa, Japan en Noord-Indië.
'n Klein getal meteorietvalle is al waargeneem met outomatiese kameras en herwin nadat die valplek uitgewerk is. Die eerste een was die Přibram-meteoriet in 1959 in Tsjeggo-Slowakye (nou Tsjeggië).[38] In dié geval het twee kameras wat gebruik is om meteore af te neem, die vuurbal gefotografeer. Die foto's is gebruik om die ligging van die val te bereken, maar ook om vir die eerste keer 'n akurate wentelbaan vir 'n herwinde meteoriet te bereken.
Ander lande het daarna geoutomatiseerde waarnemingsprogramme daargestel met die doel om vallende meteoriete te bestudeer. Een daarvan was die Prairie-netwerk, wat van 1963 tot 1975 deur die Smithsonian- Astrofisiese Sterrewag in die middeweste van Amerika bedryf is. Dié program het die val van die Lost City-chondriet waargeneem en wetenskaplikes in staat gestel om dit te herwin en sy wentelbaan te bereken.[39] Nog 'n program in Kanada, die Meteorite Observation and Recovery Project, is van 1971 tot 1985 bedryf. Dit het ook 'n enkele meteoriet, Innisfree, in 1977 waargeneem.[40] Eindelik het waarnemings deur die European Fireball Network, 'n uitspruitsel uit die een in Tsjeggo-Slowakye, gelei tot die ontdekking en wentelbaanberekening van die Neuschwanstein-meteoriet in 2002.[41] Nasa het 'n geoutomatiseerde program wat meteore bespeur en verskeie parameters daarvan bereken.[42]
Tot die 20ste eeu is net 'n paar honderd meteorietvondste ontdek. Meer as 80% daarvan was yster- en steen-ystermeteoriete, wat maklik van die plaaslike gesteentes uitgeken kon word. Tot vandag word net 'n paar steenmeteoriete per jaar aangemeld wat as "toevallige" vondste beskou kan word. Die feit dat daar nou meer as 30 000 meteorietvondste in die wêreld se versamelings is, is te danke aan die Amerikaanse meteoorkundige Harvey H. Nininger se ontdekking dat daar baie meer meteoriete op die Aarde se oppervlak is as wat voorheen gedink is.
Nininger se strategie was om na meteoriete te soek op die Groot Vlaktes van die Verenigde State, waar die grond grootliks bewerk is en min rotse voorkom. Tussen die laat 1920's en die 1950's het hy deur die gebied gereis en plaaslike inwoners opgevoed oor hoe meteoriete lyk en wat hulle moet doen as hulle dink hulle een gevind het terwyl hulle byvoorbeeld 'n land bewerk. Die gevolg was die ontdekking van meer as 200 nuwe meteoriete, hoofsaaklik steenmeteoriete.[43]
In die laat 1960's was Roosevelt County, Nieu-Mexiko, 'n besonder goeie plek om meteoriete te vind. Ná die ontdekking van 'n paar in 1967 het 'n openbare bewusmakingsveldtog daartoe gelei dat byna 100 nuwe spesimens in die volgende paar jaar ontdek is, baie deur een mens, Ivan Wilson. Byna 140 meteoriete is sedert 1967 in die streek ontdek. Die aarde daar was oorspronklik bedek deur 'n vlak laag los grond bo-op 'n harde grondlaag. Tydens 'n tydperk van groot stofstorms in die 1930's is die los grond weggewaai en enige rotse en meteoriete wat teenwoordig was, is op die oppervlak ontbloot.[44]
Van die middel 1960's af het amateurmeteorietjagters die droë dele van die Suidwes-VSA begin deursoek.[45] Tot op datum is duisende meteoriete herwin van droë meerbodems en ander dele van 'n paar woestyne. Belangrike vondste sluit in die Old Woman-meteoriet van drie ton en die verstrooiingsvelde van die Franconia- en Gold Basin-meteoriet; honderde kilogramme meteoriete is uit elk van hulle herwin.[46][47][48]
'n Paar meteoriete is tussen 1912 en 1964 op Antarktika gevind. In 1969 het 'n Japannese ekspedisie nege meteoriete in 'n ysveld naby die Yamato-berge ontdek. Met dié ontdekking het dit duidelik geword dat die beweging van yslae meteoriete in sekere gebiede laat ophoop.[49]
Nadat 'n dosyn ander spesimens in 1973 op dieselfde plek gevind is, is 'n Japannese ekspedisie in 1974 gestuur om na nog meteoriete te soek. Die span het byna 700 ontdek.[50]
Kort daarna het die VSA sy eie program, die Antarctic Search for Meteorites (ANSMET)-program, begin om na meteoriete op Antarktika te soek. Hulle het al met die Transantarktiese Berge aan die ander kant van die kontinent langs gewerk.[51] Europese spanne het ook stelselmatige soektogte uitgevoer. Die eerste was met 'n konsortium bekend as EUROMET in die 1990/'91-seisoen. 'n Ander een was die Italiaanse Programma Nazionale di Ricerche in Antartide.[52]
'n Chinese span soek sedert 2000 na meteoriete. Die Koreaanse program KOREAMET is in 2007 van stapel gestuur en het 'n paar meteoriete versamel.[53] Die gesamentlike poging van al dié ekspedisies het gelei tot die ontdekking van 23 000 geklassifiseerde meteoriete sedert 1974, met duisende wat nog geklassifiseer moet word.[54]
In die tyd toe konsentrasies meteoriete op die koue Antarktika ontdek is, het versamelaar ook uitgevind talle meteoriete kom in die warm woestyne van Australië voor. Verskeie dosyne meteoriete was reeds gevind in die Nullarbor-streek van Wes- en Suid-Australië. In stelselmatige soektogte tussen omstreeks 1971 en vandag is nog 500 ontdek.[55]
Die rede dat die meteoriete hier ontdek word, is dat die omgewing 'n plat vlakte is wat deur kalksteen bedek word. In die uiters droë klimaat was daar tienduisende jare lank relatief min verwering en sedimentasie op die oppervlak, en dit het meteoriete laat versamel sonder dat dit begrawe of vernietig is. Die donker meteoriete kan maklik uitgeken word tussen die kalksteenklippe, wat 'n heel ander voorkoms het.
In 1986-'87 het 'n Duitse span wat seismiese stasies geïnstalleer het terwyl hulle na olie geprospekteer het, omtrent 65 meteoriete op 'n plat woestynvlakte sowat 100 km suidoos van Dirj (Daraj), Libië, ontdek. 'n Paar jaar later het 'n woestyngeesdriftige foto's gesien van meteoriete wat op Antarktika deur wetenskaplikes herwin word, en hy was seker hy het soortgelyke verskynsels in Noord-Afrika gesien. In 1989 het hy sowat 100 meteoriete van verskillende terreine in Libië en Algerië herwin. Oor die volgende paar jaar het hy en ander nog minstens 400 gekry, gewoonlik op plekke wat as regs of hamadas bekend was: plat gebiede bedek met net klein klippies en min sand.[57] Donkerkleurige meteoriete kan maklik op sulke plekke uitgeken word. In die geval van verskeie meteorietvelde maak die ligkleurige geologie dit veral maklik om meteoriete te identifiseer.[58]
Hoewel meteoriete baie dekades lank kommersieel verkoop en deur die beoefenaars van stokperdjies versamel is, is die meeste tot met die vondste in die Sahara van die laat 1980's en vroeë 1990's aan museums of soortgelyke instellings verkoop waar hulle uitgestal en vir wetenskaplike navorsing beskikbaar gestel is. Die skielike beskikbaarheid van 'n groot aantal meteoriete wat op redelik begaanbare terreine gevind is (veral in vergelyking met Antarktika), het gelei tot 'n vinnige toename in die kommersiële versameling van meteoriete. Dié proses is verder versnel met die ontdekking in 1997 van meteoriete van Mars en die Maan in Libië. Teen die laat 1990's is privaat versamelingsekspedisies deur die hele Sahara van stapel gestuur. Spesimens van meteoriete wat op dié manier bekom is, beland steeds in navorsingsversamelings, maar die meeste word aan privaat versamelaars verkoop. Vanweë dié ekspedisies staan die getal goed beskrewe meteoriete wat in Algerië en Libië ontdek is, op meer as 500.[59]
Meteorietmarkte het in die laat 1990's in Noordwes-Afrika begin ontstaan, veral in Marokko, vanweë Westerse kommersialisme en 'n toenemende getal versamelaars. Die meteoriete is verskaf deur nomades en plaaslike inwoners wat die woestyne gefynkam het vir spesimens om te verkoop. Duisende meteoriete is so versprei, dikwels sonder inligting oor hoe, waar en wanneer hulle ontdek is. Hulle is sogenaamde "Noordwes-Afrika-meteoriete". Wanneer hulle geklassifiseer word, kry hulle die naam NWA (vir Noordwes-Afrika) gevolg deur 'n nommer.[60]
Daar word algemeen aanvaar NWA-meteoriete se oorsprong is in Marokko, Algerië, Wes-Sahara en Mali. Byna al dié meteoriete verlaat Afrika via Marokko. Talle belangrike meteoriete, insluitende van Mars en die Maan, is ontdek en het wetenskaplike deur dié roete bereik. Van hulle sluit in die Tissint-meteoriet en NWA 7034. Tissint was die eerste waargenome val van 'n Marsmeteoriet in meer as 50 jaar, en NWA 7034 is die oudste bekende meteoriet wat van Mars af kom.
In 1999 het meteorietjagters ontdek die woestyn in Suid- en Setraal-Oman is ook 'n goeie plek om spesimens te vind. Van middel 2009 af het die gruisvlaktes van die Dhofar- en die Al Wusta-streek in Oman sowat 5 000 meteoriete opgelewer. Onder hulle is baie meteoriete van Mars en die Maan, wat Oman 'n besonder belangrike gebied vir versamelaars en wetenskaplikes maak. Internasionale spanne wetenskaplikes van Oman en Europa het ook al meteoriete daar gesoek.
Die herwinning van meteoriete van Oman word tans deur 'n nasionale wet verbied, maar 'n aantal internasionale jagters verwyder steeds spesimens wat nou as nasionale skatte beskou word.
Meteoriete is al in die menslike kultuur as seremoniële en godsdienstige voorwerpe gebruik sedert die vroegste dae dat hulle ontdek is. Ook is oor hulle geskryf in verband met verskynsels in die lug en 'n bron van gevaar. Die oudste bekende ysterartefakte is nege klein krale wat uit meteorietyster gekap is. Hulle is in Noord-Egipte ontdek en dateer vir seker uit 3200 v.C.[61]
Hoewel die gebruik van die metaal wat in meteoriete voorkom, te vinde is in die mites van baie lande en kulture, waar die buiteruimtelike bron daarvan dikwels besef is, het wetenskaplike dokumentasie eers in die laaste paar eeue ontstaan.
Meteoriete was dalk die bron van kultusaanbidding. Die kultus in die Tempel van Artemis in Efese, een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld, het moontlik ontstaan met die waarneming en herwinning van 'n meteoriet wat mense destyds geglo het vanaf Jupiter, die Romeinse hoofgod, uit die lug geval het.[62] Daar is verslae dat 'n heilige klip in die tempel 'n meteoriet kon gewees het.
Dikwels is aangeneem dat die Swart Steen in die muur van die Kaäba 'n meteoriet is, maar die min bewyse daarvoor is onoortuigend.[63][64]
Sommige Amerikaanse Indiane het meteoriete as seremoniële voorwerpe gebruik. In 1915 is 'n ystermeteoriet van 61 kg in 'n begraafplaas uit omstreeks 1100-1200 n.C. in Arizona ontdek wat met groot respek in 'n veredoek toegedraai was.[65] 'n Klein pallasiet (yster-steenmeteoriet) is in 'n erdewarepot gevind in 'n ou begraafplaas van Pojoaque Pueblo, Nieu-Mexiko. Niniger noem ook verskeie ander sulke gevalle.[65][66]
In die Middeleeuse China, tydens die Song-dinastie, het die wetenskaplike Shen Kuo in 1064 n.C. 'n meteorietval in Changzhou beskryf. Hy het berig 'n "harde lawaai wat soos donderweer geklink het, is in die lug gehoor; 'n reusester, amper soos die maan, het in die suidooste verskyn". Later is die krater gevind met die steeds warm meteoriet binne-in.[67]
Twee van die vroegste aangetekende meteorietvalle in Europa is die Elbogen- en Ensisheim-meteoriet (in onderskeidelik 1400 en 1492). Die Duitse fisikus Ernst Florens Chladni was die eerste persoon wat (in 1794) die idee geopper het dat meteoriete klippe is wat dalk nie van die Aarde af kom nie, maar vanuit die ruimte.[68] Sy boekie was getiteld Oor die oorsprong van die ystermassas wat deur Pallas gevind is en ander soortgelykes, en oor sommige verwante natuurverskynsels.[69] In die boekie gee hy al die beskikbare inligting oor verskeie meteorietvondste en -valle en kom hy tot die gevolgtrekking dat hulle hulle oorsprong in die buitenste ruim het. Die wetenskaplike gemeenskap van destyds het met weerstand en bespotting gereageer.[70]
Dit het amper 10 jaar geduur voor die oorsprong van meteoriete algemeen aanvaar is, danksy die werk van die Franse wetenskaplike Jean-Baptiste Biot en die Britse chemikus Edward Howard.[71] Biot se studie, wat deur die Franse Wetenskapakademie geïnisieer is, is begin ná die val van duisende meteoriete op 26 April 1803 uit die lug bo L'Aigle, Frankryk.[72][73][74]
In baie eerste- en tweedehandse verslae in die geskiedenis word vertel van meteoriete wat mense en diere doodgemaak het. Een voorbeeld is uit 1490 n.C. in China wat glo duisende mense doodgemaak het.[75] John Lewis het van dié verslae saamgestel en som dit so op: "Niemand in die aangetekende geskiedenis as al ooit in die teenwoordigheid van 'n meteoritikus of mediese dokter deur 'n meteoriet doodgemaak nie" en "resensente wat tot verregaande negatiewe gevolgtrekkings kom, haal gewoonlik nie een van die primêre publikasies aan waarin die ooggetuies van hulle ondervinding vertel nie, en gee geen bewyse dat hulle dit gelees het nie".[76]
Moderne verslae van skade deur meteoriete sluit in:
Meteoriete word gewoonlik (as dit prakties is) genoem na die plek waar hulle ontdek is, gewoonlik 'n dorp of geografiese verskynsel daar naby. Wanneer baie meteoriete op een plek ontdek word, kan die naam deur 'n syfer of letter gevolg word, soos Allan Hills 84001 of Dimmitt (b). Die naam wat die Meteoritiese Vereniging daaraan toeken, word deur wetenskaplikes en die meeste versamelaars gebruik.[81]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.