From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Meteoroïde of meteoroïed is 'n klein stofdeeltjie, klip of stukkie ys wat deur die ruimte beweeg. Die sigbare pad van 'n meteoroïde wat ’n planeet se atmosfeer binnedring, word 'n meteoor genoem, of 'n verskietende ster in die volksmond. Wanneer 'n meteoroïde die aarde tref, word dit 'n meteoriet genoem. Wanneer daar baie meteore te sien is, vorm hulle 'n meteoorreën. Die woorde is afgelei van die Griekse woord meteōros ("hoog in die lug").
Sowat 15 000 ton meteoroïdes, ruimtestof en verskeie soorte afval dring die Aarde se atmosfeer jaarliks binne.[1]
Sedert 2011 definieer die Internasioanle Astronomiese Unie (IAU) ’n meteoroïde amptelik as "’n soliede voorwerp wat in die interplanetêre ruimte beweeg, aansienlik kleiner as ’n asteroïde en aansienlik groter as ’n atoom".[2][3] Soms word spesifieke groottes aangegee, soos ’n deursnee van tussen 100 µm en 10 m[4] of tussen 10 µm en 1 m.[5] Die Minor Planet Center gebruik nie die term "meteoroïde" nie.
Die samestelling van meteoroïdes kan vasgestel word deur middel van hul baan en die ligspektrum van die daaropvolgende meteoor. Hul invloed op radioseine verskaf ook inligting, wat veral bedags nuttig is wanneer hulle moeilik is om te sien. Meteoroïdes kan baie verskillende wentelbane hê en kom soms in groepe voor. Dit word dikwels verbind met ’n komeet; ander kom sporadies voor. Afval van strome meteoroïdes word soms in ander wentelbane versprei. Hul samestelling en digtheid wissel, van bros sneeu-agtige voorwerpe met ’n digtheid van omtrent ’n kwart van dié van ys,[6] tot digte rotse ryk aan nikkel en yster.
Meteoroïdes wentel om die son teen verskillende snelhede. Die vinnigstes beweeg teen sowat 42 kilometer per sekonde (km/s) deur die ruimte in die omgewing van die Aarde se wentelbaan. Die Aarde beweeg teen sowat 29 km/s. Wanneer meteoroïdes die Aarde reg van voor tref, kan hulle dus snelhede van tot 71 km/s bereik. Die gemiddelde snelheid is sowat 20 km/s.[7]
’n Meteoor is die sigbare baan van ’n meteoroïde wat die Aarde se atmosfeer binnegedring het. Hulle kom meestal in die mesosfeer voor, en die meeste se hoogte wissel tussen 75 km en 100 km.[8] Miljoene meteore kom elke dag in die Aarde se atmosfeer voor. Die meeste meteoroïdes wat dit veroorsaak, is omtrent so groot soos ’n skulp.
Meteore raak tussen sowat 65 en 120 km bo die Aarde sigbaar en disintegreer op hoogtes van 50 tot 95 km. Sowat die helfte kom bedags voor, maar hulle is snags meer sigbaar. Groter voorwerpe is sigbaar vanweë die atmosferiese druk (nie wrywing nie) wat dit verhit sodat dit gloei en ’n blink streep gas en gesmelte deeltjies vorm. Die meeste gloei vir sowat ’n sekonde.
Meteore kan in meteoorreëns voorkom wanneer die Aarde deur ’n spoor van afval beweeg wat deur ’n komeet agtergelaat is, of soms vind dit sporadies plaas sonder ’n spesifieke rede.
Soms word ander terme vir meteore gebruik na gelang van hul helderheid, soos "vuurbal" (helderder as enige van die planete of ’n sigbare magnitude van -4 of meer),[9] "bolied" (’n magnitude van -14 of helderder)[10] of superbolied (-17 of helderder).[10][11] Soms word die term bolied gebruik vir ’n vuurbal wat ontplof of ’n hoorbare klank skep.
’n Meteoriet is ’n deel van ’n meteoroïde of asteroïde wat deur die atmosfeer trek en die Aarde tref sonder dat dit vernietig word.[12] Gesmelte materiaal van die Aarde kan uit ’n impakkrater "spat" wanneer ’n meteoriet die grond tref. Dit vorm dan ’n "tektiet" wanneer dit afkoel wat dikwels verkeerdelik aangesien word vir ’n meteoriet.
Die lig wat ’n meteoor veroorsaak, kan verskillende kleure wees, na gelang van die chemiese samestelling van die meteoroïde en sy spoed deur die atmosfeer. Namate lae van die meteoroïde afgeruk en geïoniseer word, kan die kleur ook verander volgens die minerale wat ontbloot word. Van die moontlike kleure is: oranje/geel (natrium), geel (yster), blou/groen (koper), pers (kalium) en rooi (silikaat).
Daar word verskillende soorte meteoriet onderskei
Hoewel meteore reeds in antieke tye bekend was, is hulle nie voor vroeg in die 19de eeu as ’n astronomiese verskynsel beskou nie, maar as ’n atmosferiese verskynsel soos weerlig – dit is nie verbind met vreemde verhale van klippe wat uit die lug val nie. Thomas Jefferson het geskryf: "Ek sal eerder glo ’n Yankee-professor jok as dat klippe uit die hemel val."[20] Hy het verwys na die Yale-professor Benjamin Silliman se ondersoek na ’n 1807-meteoriet wat in Weston, Connecticut, geval het.[20] Silliman het geglo die meteoor het ’n kosmiese oorsprong gehad, maar sterrekundiges het nie veel aandag aan meteore gegee voor die skouspelagtige meteoorstorm van November 1833 nie.[21] Mense dwarsoor die Oos-VSA het duisende meteore gesien wat van ’n enkele punt in die lug gekom het. Waarnemers het opgemerk dat die uitstralingspunt saam met die sterre beweeg en in die sterrebeeld Leeu bly.[22]
Die sterrekundige Denison Olmsted het die storm intensief ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat dit ’n kosmiese oorsprong het. Ná die bestudering van historiese rekords het Heinrich Olbers voorspel dat die storm in 1867 sou terugkeer, en dit het sterrekundiges se aandag op die probleem gevestig. Hubert Newton se deegliker historiese werk het daartoe gelei dat die datum van die terugkeer tot 1866 vervroeg is, wat toe in die kol was.[21] Met Giovanni Schiaparelli se verbinding van die Leoniede (soos hulle nou genoem word) met die komeet Tempel-Tuttle, is die kosmiese oorsprong van meteore eindelik bevestig.[23]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.