From Wikipedia, the free encyclopedia
Innocentius XI was die 240ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1676 tot 1689. Hy is veral bekend weens sy asketiese lewe, die stryd teen die Turke en sy struwelinge met die Franse koning Lodewyk XIV.
Pous Innocentius XI | |
---|---|
Geboortenaam | Benedetto Odescalchi |
Pontifikaat begin | 21 September 1676 |
Pontifikaat eindig | 12 Augustus 1689 |
Voorganger | Clemens X |
Opvolger | Alexander VIII |
Gebore | 16 Mei 1611 Como, Italië |
Sterf | 12 Augustus 1689 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Innocentius |
Pous Innocentius XI[1] is gebore as Benedetto Odescalchi op 16 Mei 1611 in Como, Italië. Sy pa was Livio Odescalchi 'n edelman van Como en sy ma was Paola Castelli Giovannelli van Gandino. Sy pa is oorlede in 1626 en Benedetto het begin studeer in die geesteswetenskappe by die Jesuïte in Como en later in Genua. Die Odescalchi's was entrepreneurs. In 1619 begin Benedetto se broer saam met drie van sy ooms 'n bank wat gou uitgroei tot 'n belangrike finansier. In 1626 begin Benedetto ook vir die bank werk en doen besigheid met die vernaamste Europese stede soos Neurenburg, Milaan, Krakau en Rome. Iewers tussen 1632 en 1636 gaan Benedetto eers na Rome en dan na Napels waar hy publieke reg studeer. Op 15 Mei 1640 word hy apostoliese protonotarius en later president van die Apostoliese Kamer. Op 6 Maart 1645 stel Pous Innocentius X hom aan as kardinaal-diaken van Santi Cosma e Damiano. Die pous stuur hom as legaat na Ferrara. Op 4 April 1650 word Odescalchi biskop van Novara en op 21 April 1659 kardinaal-priester van San Onofrio. Hy word camerlengo van die kollege van kardinale op 12 Januarie 1660. Op 21 September 1676 volg hy Pous Clemens X op en word gekroon op 4 Oktober 1676 deur kardinaal Francesco Maidalchini. Hy regeer tot sy dood op 12 Augustus 1689 en word opgevolg deur Pous Alexander VIII. Die naam ‘Innocentius’ beteken 'onskuldige'.
Odescalchi[2] was reeds 'n sterk pouslike kandidaat met die dood van Pous Clemens IX maar die Franse het hulle veto teen hom gebruik. Met die dood van Pous Clemens X wou die Franse weer so maak, maar die oortuiging van die ander kardinale en die volk van Rome het daartoe gelei dat die Franse kardinale teësinnig ingestem het dat Odescalchi pous word. Hy word op 12 September 1676 verkies en neem die naam Innocentius XI aan.
Onmiddellik na sy kroning begin Innocentius om die uitgawes van die kurie te besnoei. Hy het ook streng reëls teen nepotisme afgekondig. Hy het self spaarsamig gelewe en die kardinale aangespoor om sy voorbeeld te volg. Hy het die begrotingstekort van 170 000 scudi teruggebring na 'n klein oorskot. Hy het sowel die geestelikes as die leke opgeroep tot 'n hoë morele lewensstandaard. Op 12 Februarie 1679 het hy die teaters in Rome gesluit omdat hulle sentrums van immoraliteit geword het. Op 2 Maart 1679 veroordeel hy die 65 stellings van die Jesuïtiese kasuïste (wat reeds deur Pascal verwerp is), in die bul "Sanctissimus Dominus". Hy het veral te velde getrek teen die "stricte mentalis" (heimlike voorbehoud) wat kullery sonder spesifieke leuens goedgekeur het.
Op 20 November 1687 publiseer hy die bul "Coelestis Pastor" waarin die stellings van Miguel de Molinos as kettery en godslasterlik beskryf word.
Innocentius was baie sensitief teenoor die Jode in die Kerklike Staat. In 1685 dwing hy Venesië om Joodse gevangenes van Francesco Morisini vry te laat. Hy het ook gedwonge doop ontmoedige hoewel hy nie praktyk heeltemal kon uitroei nie. Op 30 Oktober 1682 het hy egter 'n edik uitgevaardig waarin die Jode van Rome verbied is om geld uit te leen. Dit sou sy eie familie-bank ten goede gekom. Die toepassing van die edik is twee keer uitgestel.
Pous Innocentius was 'n entoesiastiese ondersteuner van die Heilige Liga. Op 31 Maart 1683 slaag hy daarin om die Poolse koning Jan Sobieski en die Duitse keiser Leopold I in 'n verdedigingsverdrag saam te bind. Op 12 September 1683 slaag hulle daarin om Wene te ontset van die Turke. Innocentius het Oostenryk en Hongarye se oorlog teen die Turke met miljoene scudi gesteun en geleef om die ontsetting van Belgrado op 6 September 1688 te beleef.
Die Franse koning Lodewyk XIV het met die pous gebots oor die hegemonie oor die kerk in Frankryk. In 1673 brei die koning sy heerskappy oor die kerk uit na Languedoc, Guyenne, die Provence en Dauphiné. Alle pogings van Innocentius om Lodewyk van sy beleid te laat afsien was vrugteloos. Op 19 Maart 1682 laat die koning die Franse geestelikes die vier artikels van die Galliese Vryhede aanvaar. Op 11 April 1682 annuleer die pous die artikels en wyer erkenning aan al die biskoplike kandidate wat daaraan deelgeneem het. Die koning het die pous probeer paai deur die herroeping van die Edik van Nantes op 22 Oktober 1685 en die vervolging van Hugenote. Die pous was egter nie daarmee gedien nie en het steeds sy erkenning van die Franse biskoplike kandidate weerhou.
Innocentius het op 7 Mei 1685 die Franse koning verder die josie in gemaak deur die asielreg van die Franse ambassade in Rome op te hef. Hy het die nuwe Franse ambassadeur, die markies de Lavardin, laat weet dat hy nie erken sou word as hy nie die asielreg opgee nie. Lavardin het egter in November 1687 met 'n leër van 800 man Rome binnegetrek. Die pous het toe op 24 Desember 1687 die kerk van Sint Lodewyk, waar die ambassadeur die dienste bygewoon het, onder interdik geplaas.
In 1688 ontvang Innocentius 'n diplomatieke afvaardiging van Narai, die koning van Siam. Die afvaardiging onder leiding van Vader Guy Tachard en Ok-khun Chamnan begin diplomatieke betrekkinge met die Vatikaan en Frankryk.
Die spanning tussen die pous en die Franse koning het verhoog weens Innocentius se hantering van die aanstelling van die aartsbiskop van Keulen. Die twee kandidate was kardinaal Wilhelm Egon van Fürstenburg wat toe biskop van Straatsburg was en Joseph Clemens von Wittelsbach, 'n broer van Max Emanuel, keurvors van Beiere. Eersgenoemde was in die sakkie van die Franse koning en sy aanstelling as aartsbiskop van Keulen (wat ook 'n keurvors was), sou Lodewyk die mag oor Noordwes Duitsland gegee het. Joseph Clemens was die keuse van die keiser Leopold I en die ander Europese vorste behalwe koning Jacobus II van Engeland. Tydens die verkiesing op 19 Julie 1688 het nie een van die kandidate die vereiste aantal stemme gekry nie. Die pous moes die deurslag gee en hy het Joseph Clemens aangestel.
Koning Lodewyk XIV het teruggeslaan en besit geneem van die pouslike gebiede in Avignon, die pouslike nuntius gevange geneem en na 'n konsilie geappelleer. Hy het probeer om die Franse kerk heeltemal uit die mag van Rome te neem. Die pous het vasgestaan. Na die val van Jakobus II van Engeland het die Franse mag gekwyn en kort na die dood van Innocentius is die saak besleg in die voordeel van die Kerk.
Pous Innocentius XI het Ferdinando d'Adda as nuntius na die hof van koning Jacobus II van Engeland gestuur. Dit was die eerste pouslike gesant na Engeland in meer as 100 jaar. Die pous het egter nie Jakobus se hardhandige herstel van die Katolieke Kerk in Engeland goedgekeur nie, veral omdat Jakobus die Franse koning Lodewyk XIV, 'n groot vyand van die pous, gesteun het. Die pous het ook nie Jakobus gehelp toe Willem III van Oranje hom uit die kussings gelig het nie. Daar is onlangs (2007) deur twee Italiaanse skrywers Rita Monaldi en Francesco Sorti in die boek Imprimatur beweer dat die pous se familie van bankiers Willem sou gefinansier het. Geen verdere bewyse daarvoor kon gevind word nie.
Innocentius XI sterf op 12 Augustus 1689 na 'n lang siekte. Sy liggaam is begrawe in 'n tombe in die Vatikaan saam met Pous Pius X en Pous Johannes XXIII. Sy monument in die Sint Pieterskerk is ontwerp en gebeeldhou deur Pierre-Ėtienne Monnot.
Die proses van saligverklaring is begin in 1714 deur Pous Benedictus XIV en verder gevoer deur Pous Clemens XI en Pous Clemens XII. Franse teenstand en beskuldigings van Jansenisme het gelei tot opskorting in 1744. In die 20ste eeu is dit hervat en op 7 Oktober 1956 het Pous Pius XII Innocentius salig verklaar. Sy feesdag is 12 Augustus, sy sterfdag.
Pous Innocentius het 43 nuwe kardinale aangestel in twee konsistories.
Pous Innocentius XI word as salige vereer in die Rooms-Katolieke Kerk. Sy feesdag is op 12 Augustus. Hy is salig verklaar deur Pous Pius XII op 7 Oktober 1956.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.