From Wikipedia, the free encyclopedia
Alexander VIII was die 241ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1689 tot 1691. Hy is veral bekend vir sy nepotisme en die verryking van die Ottoboni-familie. Hy het die probleme tussen die Vatikaan en koning Lodewyk XIV besleg.
Pous Alexander VIII | |
---|---|
Geboortenaam | Pietro Vito Ottoboni |
Pontifikaat begin | 6 Oktober 1689 |
Pontifikaat eindig | 1 Februarie 1691 |
Voorganger | Innocentius XI |
Opvolger | Innocentius XII |
Gebore | 22 April 1610 Venesië, Republiek van Venesië |
Sterf | 1 Februarie 1691 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Alexander |
Pous Alexander VIII[1][2] is gebore as Pietro Vito Ottoboni op 22 April 1610 in Venesië, Republiek van Venesië. Hy was die seun van ’n edelman Marco Ottoboni, kanselier van die Republiek en sy vrou Vittoria Tornielli. Hy was ’n briljante student aan die Universiteit van Padua en kry ’n doktorsgraad in siviele en kerkreg in 1627. Pous Urbanus VIII maak hom goewerneur van Terni, Rieti en Spoleto. Hy dien vir veertien jaar as die ouditeur van die Heilige Roomse Rota. Deur die versoek van die Republiek van Venesië, stel Pous Innocentius X hom aan as kardinaal-priester op 19 Februarie 1652. Op 7 Desember 1654 word hy biskop van Brescia in die Venesiese Republiek en datarius in Rome. Op 6 Oktober 1689 volg hy Pous Innocentius XI op en word gekroon op 16 Oktober 1689 deur kardinaal Francesco Maidalchini. Hy regeer tot sy dood op 1 Februarie 1691 en word opgevolg deur Pous Innocentius XII. Die naam ‘Alexander’ beteken 'kryger'.
Die ambassadeur van koning Lodewyk XIV verkry die verkiesing van Pous Alexander VIII[3] toe hy reeds 80-jaar oud was en hy was slegs sestien maande lank pous. Na maande se onderhandelinge het Alexander tog die Galliese Vryhede veroordeel op 4 Augustus 1690. Lodewyk se posisie was egter so haglik dat hy tog in 1690 die pouslike gebiede by Avignon en Venaissin teruggegee het en ook toegegee het oor die asielreg van die Franse ambassade in Rome.
Liefdadigheidswerke en nepotisme het die skatkis van die Vatikaan gou leeggemaak. Sy 22-jarige neef Pietro word kardinaal, ’n ander neef Marco hertog van Fiano en neef Antonio word generaal. Hy het die belasting van die armes in die Pouslike Staat verminder, maar het sy eie familie verryk. Venesië kry subsidies, sewe galeie en 2000 voetsoldate vir die veldtog in Albanië teen die Turke.
Hy veroordeel die leer van filosofiese sonde op 24 Augustus 1690 en in dieselfde jaar het hy ook Johannes van God heilig verklaar.
Die biblioteek van die Vatikaan word aansienlik uitgebrei met die versameling manuskripte en boeke van koningin Christina van Swede.
Na sy dood op 1 Februarie 1691 word hy begrawe in die Sint Pieterskerk in ’n graftombe ontwerp deur graaf Arrigo di. San Martino en gebeeldhou deur Angelo de' Rossi en Guiseppi Bertosi.
Pous Alexander VIII het 14 nuwe kardinale aangestel in drie konsistories.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.