Viëtnam
From Wikipedia, the free encyclopedia
Viëtnam (Viëtnamees: Việt Nam, [viət˨ næm˧], luister (hulp·inligting), letterlik: "Viët van die suide"), amptelik die Sosialistiese Republiek Viëtnam (Cộng hòa xã hội chủ nghĩa Việt Nam, luister (hulp·inligting)), is 'n sosialistiese republiek in Suidoos-Asië. Dit beslaan 'n oppervlakte van 331 210 km² en het 'n bevolking van 105 758 975 in 2024 gehad. Die hoofstad is sedert die hereniging van Noord- en Suid-Viëtnam in 1976 Hanoi en die grootste stad is Ho Chi Minh-stad (voorheen Saigon). Van die ander nedersettings sluit in Can Tho, Da Nang, Dong Hoi, Hai Phong, My Thuy, Nha Trang en Vung Tau.
| |||||
Nasionale leuse: Độc lập – Tự do – Hạnh phúc (Viëtnamees vir: "Onafhanklikheid – Vryheid – Geluk") | |||||
Volkslied: Tiến Quân Ca (Viëtnamees vir: "Weermagmars") | |||||
Hoofstad | Hanoi | ||||
Grootste stad | Ho Chi Minh-stad | ||||
Amptelike tale | Viëtnamees | ||||
Regering | Unitêre Marxisties-Leninistiese enkelparty sosialistiese republiek Nguyễn Phú Trọng Tô Lâm Võ Thị Ánh Xuân Phạm Minh Chính | ||||
Onafhanklikheid | van Frankryk 2 September 1945 21 Julie 1954 30 April 1975 2 Julie 1976[1] 1 Januarie 2014 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
331 210[2] km2 (67ste) 127 881 myl2 6,4[3] | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2019-sensus - Digtheid |
105 758 975[2] (16de) 96 208 984 319 / km2 (49ste) 827 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,726[5] (107de) – hoog | ||||
Gini (2022) | 36,1[6] – medium | ||||
Geldeenheid | đồng (₫)[7] (VND ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
Indo-China-tyd (UTC+7) nie toegepas nie (UTC+7) | ||||
Internet-TLD | .vn | ||||
Skakelkode | +84 |
Viëtnam is die mees oostelike land van Indo-China. Dit is oos van Kambodja en Laos, suid van die Volksrepubliek China en op weskus van die Suid-Chinese See geleë. Daarbenewens deel Viëtnam in die Suid-Chinese See maritieme grense met Filippyne, Maleisië en Indonesië in die ooste en suide, asook Thailand in die Golf van Thailand in die weste. Viëtnam word geografies deur twee riviere gekenmerk: Die Rooirivier in die noorde wat in die Golf van Tonkin uitmond en die die Mekongrivier in die suide wat in die Suid-Chinese See vloei. In die sentrale dele oorheers 'n hoogland die landskap. Phu Quoc is die grootste eiland en is in die Golf van Thailand in die suidweste van Viëtnam geleë.
Die noordelike deel van Viëtnam was vir meer as een millennium deel van die Chinese Keiserryk, vanaf 111 v.C. tot 939 n.C. 'n Onafhanklike Viëtnamese staat is ná die Viëtnamese oorwinning in die Slag van Bạch Đằng-rivier in 939 gestig. Verskeie opeenvolgende keiserlike dinasties het in Viëtnam floreer, toe die land geografies en polities binne-in Suidoos-Asië uitgebrei het, totdat die Indo-China-skiereiland in die middel van die 19de eeu deur Frankryk gekoloniseer is. Ná 'n Japannese besetting in die 1940's het die Viëtnamese teen die Franse heerskap in die Eerste Indo-China-oorlog geveg. Op 2 September 1945 het president Hồ Chí Minh Viëtnam se onafhanklikheid onder die nuwe naam Demokratiese Republiek Viëtnam van Frankryk verklaar. In 1954 het die Viëtnamese die Franse in die Slag van Dien Bien Phu tussen Maart en Mei 1954 oorwin. Vervolgens is Viëtnam polities in twee mededingende state verdeel, Noord-Viëtnam (amptelik die Demokratiese Republiek Viëtnam, hoofstad Hanoi) en Suid-Viëtnam (amptelik die Republiek Viëtnam, hoofstad Saigon). Die konflik tussen die twee Viëtnamese state het vererger en tot die Viëtnamoorlog met swaar gewapende inmenging van die Verenigde State aan die Suid-Viëtnamese kant tussen 1965 en 1973 gelei. Die oorlog het met die Noord-Viëtnamese oorwinning in 1975 geëindig. Vervolgens is Viëtnam onder 'n kommunistiese regering verenig, maar het arm en polities geïsoleer gebly. In 1986 het die Kommunistiese Party van Viëtnam (CPV) 'n reeks ekonomiese en politieke hervormings geloods wat tot Viëtnam se integrasie in die wêreldekonomie gelei het. Viëtnam sou na verwagting in 2020 'n ontwikkelde land gewees het.[8]
Teen 2010 het Viëtnam diplomatieke betrekkinge met 178 lande aangeknoop. Sedert 2000 is Viëtnam se ekonomiese groeikoers onder die hoogste wêreldwyd en in 2011 het dit die hoogste Global Growth Generators Index onder elf vername ekonomieë gehad. Die suksesvolle ekonomiese hervormings het in 2007 tot Viëtnam se toetreding tot die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) gelei. Viëtnam is 'n lidland van die ASEAN, APEC en die Francophonie (OIF). Vietnam Airlines is die nasionale vlagdraerlugredery met sy spilpunt op Tan Son Nhat Internasionale Lughawe naby Ho Chi Minh-stad. Daarbenewens beskik Viëtnam oor twee lae-koste lugrederye: Bamboo Airways en VietJet Air. In onlangse jare het Viëtnam veral onder internasionale toeriste gewild geraak met Unesco-wêrelderfenisgebiede soos die Phong Nha-Ke Bang Nasionale Park en die Sitadel van die Ho-dinastie.
Viëtnam se amptelike taal is Viëtnamees en die Viëtnamese vorm die titulêre nasie van die land. Daarbenewens word ander tale soos Hakka, Kantonees, Khmer en Lao deur minderhede soos Khmer en Thai gebesig. Die land is ook bekend vir sy Viëtnamese kookkuns met geregte soos Phở, 'n tradisionele noedelsoep.