From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Uit Afrika-teorie of Enkele-oorsprongteorie is die mees algemeen aanvaarde model wat die geografiese oorsprong en vroeë migrasie van die moderne mens beskryf. Die model sluit in die ontdekking in 2010 van genetiese bewyse van ’n vermenging van die moderne Homo sapiens met archaïese mense.[2] Daar was net spekulasies daaroor tot in die 1980's, toe die teorie versterk is deur ’n studie van hedendaagse mitochondriale DNS, gekombineer met bewyse gebaseer op fisieke antropologie van archaïse fossiele.
Genetiese studies en fossiele bewyse toon dat Archaïese Homo sapiens net in Afrika in die moderne mens ontwikkel het, tussen 200 000 en 60 000 jaar gelede,[3] dat die lede van een tak van Homo sapiens Afrika tussen sowat 125 000 en 60 000 jaar gelede verlaat het en dat hierdie mense mettertyd vroeëre bevolkings soos die Neanderdallers en Homo erectus vervang het.[4] Die datum van die vroegste suksesvolle migrasie uit Afrika (die vroegste migrante met oorlewende nasate) word gewoonlik volgens genetiese gegewens geraam op sowat 60 000 jaar gelede, hoewel dit tot 125 000 jaar gelede al kon gewees het volgens Arabiese argeolgiese vondste van gereedskap.[5] Volgens ’n 2013-verslag is ’n voorheen onbekende linie gevind wat die beraamde datum van die laaste gemeenskaplike voorsaat vervroeg tot sowat 338 000 jaar gelede.[6]
Die enkele-oorsprongteorie van die moderne mens in Oos-Afrika is die mees algemeen aanvaarde teorie onder wetenskaplikes.[7][8][9][10][11] Verskillende teorie bestaan oor of daar een of meer uittogte was.
Die gewildste ander teorie is die "multistreek-oorsprongteorie", waarvolgens ’n vlaag mense vroeër uit Afrika gemigreer het en in verskeie streke van die wêreld met plaaslike Homo erectus-bevolkings verbaster het. Die meeste aanhangers van dié teorie beskou Afrika steeds as ’n groot oorsprong van menslike genetiese diversiteit, maar dink verbastering het ’n groter rol gespeel.[12][13]
Genetiese toetse het in die laaste dekade getoon verskeie uitgestorwe archaïese mense kon met die moderne Homo sapiens verbaster het. Hierdie spesies het na bewering hul genetiese stempel op die mens afgedruk in streke regoor die wêreld: Neanderdallers op alle mense behalwe dié suid van die Sahara, Denisova-hominiene in Australasië, en ’n mate van verbastering kon plaasgevind het tussen mense suid van die Sahara en ’n tot nog toe onbekende hominien (moontlik nasate van die antieke spesie Homo heidelbergensis). Daar is egter gevind die mate van verbastering was relatief klein (1-10%), en ander studies toon die teenwoordigheid van Neanderdaller- en ander archaïese gene in die moderne mens kan die gevolg wees van ’n gemeenskaplike voorsaat 500 000 tot 800 000 jaar gelede.[14][15][16]
Met die ontwikkeling van antropologie in die vroeë 19de eeu het geleerdes in ’n groot mate verskil oor die mens se ontwikkeling. Dié soos Johann Friedrich Blumenbach en James Cowles Prichard het geglo verskeie menslike rasse het sedert die Skepping uit een volk ontwikkel (monogenisme). Hul teenstanders soos Louis Agassiz en Josiah C. Nott was voorstanders van poligenisme, of die aparte ontwikkeling van verskillende menslike rasse deur die transmutasie van ape, met geen gemeenskaplike voorsaat nie.
Charles Darwin was die eerste persoon wat ’n gemeenskaplike afstamming van organismes voorgestel het, en een van die eerstes wat gemeen het alle mense het gemeenskaplike voorsate wat in Afrika gewoon het.[17] Hy het eerste die Uit Afrika-teorie voorgestel nadat hy die gedrag van Afrika-ape bestudeer het. Die anatoom Thomas Huxley het dit ondersteun en ook geglo daar is ’n nou verband tussen Afrika-ape en mense.[18] Een van sy teenstanders was die Duitse bioloog Ernst Haeckel, wat gemeen het mense is nader verwant aan die primate van Suidoos-Asië.[19][20]
In Descent of Man het Darwin voorgestel mense het afgestam van ape wat nog klein breine gehad het maar regop geloop het sodat hul hande vry kon wees vir gebruike wat intelligensie begunstig. Hy het geglo die vroeë ape van Afrika is na verwant aan die gorilla en sjimpansee, en aangesien dié spesies die mens se naaste verwante is, is dit meer waarskynlik dat die mens se voorsate in Afrika as elders gewoon het. Hy het egter ook erken Dryopithecus, ’n aap wat amper so groot soos die mens en naby verwant aan die Hylobatidae (langarmape) was, het tydens die Mioseentydperk in Europa bestaan en dat groot migrasies sedertdien kon plaasgevind het.[21]
Die voorspelling was betekenisvol, want in 1871 was daar feitlik geen fossiele van antieke hominiede beskikbaar nie. Byna 50 jaar later is Darwin se teorie gesteun deur vondste van talle fossiele van hominiede met klein breine in verskeie streke van Afrika.
Teen die middel van die 20ste eeu het monogenisme al hoe groter steun gekry. In die 1980's het Allan Wilson saam met Rebecca L. Cann en Mark Stoneking gewerk aan die sogenaamde "Mitochondriale Eva"-hipotese. In sy poging om genetiese merkers te identifiseer om die geskiedenis van menslike evolusie na te speur, het hy begin fokus op mitochondriale DNS (mtDNS), gene wat in die sel voorkom, maar nie in die kern nie, en oorgedra word van ma na kind. Dié DNS-materiaal is belangrik, want dit muteer vinnig en dit is dus maklik om veranderings oor relatief kort tye te sien. Wilson het geglo deur verskille in die mtDNS te vergelyk, is dit moonrlik om die tyd en plek te voorspel dat die moderne mens die eerste keer ontwikkel het. Ná sy ontdekking dat menslike mtDNS geneties veel minder divers is as dié van sjimpansees, het hy afgelei die moderne menserasse het onlangs afgeskei van ’n enkele bevolking, terwyl ander menslike spesies soos die Neanderdallers en Homo erectus uitgesterf het. Hy en sy kollegas het die mtDNA van verskeie volke van verskillende rasse-agtergronde vergelyk en afgelei dat alle moderne mense sowat 150 000 jaar gelede ontwikkel het uit een ma in Afrika.[22] Met die ontwikkeling van argeogenetika in die 1990's, kon wetenskaplikes die datum van die "Uit Afrika"-migrasie redelik akkuraat bepaal.
Anatomies moderne mense het sowat 250 000 jaar gelede in Afrika ontstaan. Die vergroting van die brein en gebruik van beter gereedskap tussen 400 000 jaar gelede en die tweede tussenys-periode in die Middel-Pleistoseen (sowat 250 000 jaar gelede) verskaf bewyse van ’n oorgang van H. erectus na H. sapiens.[23] Volgens die Uit Afrika-teorie het migrasies uit Afrika plaasgevind waardeur H. erectus, wat Afrika vroeër verlaat het, vervang is.
Homo sapiens idaltu, wat in Ethiopië gevind is en sowat 160 000 jaar gelede geleef het,[24] is die oudste bekende anatomies moderne mense en word geklassifiseer as ’n uitgestorwe subspesie.[25] Fossiele van vroeë Homo sapiens is in Israel gevind en hul ouderdom word op sowat 80 000 tot 100 000 jaar garaam. Dit lyk egter of hierdie mense óf uitgesterf het óf 70 000 tot 80 000 jaar gelede teruggetrek het Afrika toe; hulle is moontlik vervang deur Neanderdallers wat suid getrek het uit kouer streke van die Ystydperk-Europa.[26]
Alle ander fossiele van moderne mense buite Afrika is jonger. Die oudste hiervan is uit 42 000 jaar gelede van die Mungomeer in Australië.[27][28] Die Tianyuangrot-oorblyfsels uit China is moontlik 38 000 tot 42 000 jaar oud. Hulle stem morfologies meer ooreen met moderne mense van tussen 17 000 en 19 000 jaar gelede uit Japan.[29][30]
Sowat 100 000 jaar gelede het meer gesofistikeerde tegnologie en kunswerke begin verskyn en teen 50 000 jaar gelede het moderne gedrag meer prominent geword. Gereedskap is ook van bene gemaak.[31][32]
Twee dele van die menslike genoom is baie nuttig in die ontsyfering van die menslike geskiedenis: mitochondriale DNS en die Y-chromosoom. Dit is die enigste twee dele van die genoom wat nie verander word deur die evolusiemeganismes wat diversiteit met elke generasie teweegbring nie; hulle word dus onveranderd oorgedra. Volgens die Uit Afrika-teorie het alle mense wat vandag leef, dieselfde mitochondria[33] oorgeërf van ’n vrou wat sowat 160 000 jaar gelede in Afrika gewoon het.[34][35] Sy is Mitochondriale Eva gedoop. Alle mans wat vandag leef, het hul Y-chromosoom oorgeërf van ’n man wat tussen 140 000 en 500 000 jaar gelede geleef het, moontlik in Afrika. Hy is Y-chromosomale Adam gedoop.
Die eerste linie wat van Mitochondriale Eva vertak het, is haplogroep L0. Dié haplogroep word in groot mate aangetref in die Sanbevolking van Suider-Afrika, die Sandawe van Oos-Afrika en die Mbuti van die Kongobekken.[36][37]
Dié groepe het vroeg in die mens se geskiedenis vertak en het sedertdien geneties relatief geïsoleer gebly. Haplogroepe L1, L2 en L3 is afstammelinge van L1-6 en grootliks beperk tot Afrika. Die makro-haplogroepe M en N, wat die linies van die res van die wêreld buite Afrika is, stam van L3 af.
Teen sowat 70 000 jaar gelede het ’n deel van die L3-groep uit Oos-Afrika na die Nabye Ooste getrek. Volgens nuwe navorsing wat in 2012 gepubliseer is, kon die uittog tussen 90 000 en 130 000 jaar gelede al plaasgevind het.[38]
Sommige wetenskaplikes glo net ’n paar mense het Afrika in ’n enkele migrasie verlaat en daarna die res van die wêreld bevolk,[39] aangesien net afstammelinge van L3 buite Afrika aangetref word. Ander glo daar was verskeie migrasies.[40]
Daar word geskat uit ’n bevolking van tussen 2 000 en 5 000 individue in Afrika,[41] het net ’n klein groep van sowat 150 tot 1 000 mense die Rooisee oorgesteek.[42] Van al die linies wat in Afrika teenwoordig is, word net die vroulike afstammelinge van een linie, L3, buite Afrika aangetref. As daar meer as een migrasie was, sou verwag kon word daar is afstammelinge van meer as een linie buite Afrika. L3 se vroulike afstammelinge, haplogroepe M en N, word net in baie lae frekwensies in Afrika aangetref (hoewel haplogroep M1 baie antiek en gediversifiseerd in Noord- en Noordoos-Afrika is) en hulle lyk soos onlangse aankomelinge. Teorieë hiervoor is dat hierdie mutasies in Oos-Afrika plaasgevind het kort voor die uittog en dat hulle toe die dominante haplogroepe geword het ná die uittog, of dat die mutasies plaasgevind het kort ná die uittog uit Afrika.
Sommige wetenskaplikes glo daar was twee migrasies uit Afrika – die een het oor die Rooisee met die kus langs na Indië getrek (haplogroep M), terwyl die ander groep met haplogroep N die Nyl uit Oos-Afrika gevolg en noordwaarts tot in Asië getrek het. Hierdie groep het toe in verskillende rigtings vertak; sommige het na Europa getrek en ander na Asië. Dié hipotese probeer verduidelik hoekom haplogroep N oorheersend in Europa is en haplogroep M nie daar voorkom nie. Daar word gemeen bewyse van die migrasie kuslangs is vernietig met die styging in seevlakke tydens die Holoseentydperk.[43][44]
Die Rooisee was 50 000 jaar gelede baie vlakker en smaller. Hoewel die seestrate nooit heeltemal toe was nie, was hulle smal genoeg en het hulle dalk eilande tussenin gehad sodat mense dit met eenvoudige vlotte kon oorsteek.[45][46]
Van die Nabye Ooste af het haplogroep N teen 50 000 jaar gelede oos versprei na Suid-Asië, en 40 000 jaar gelede na Australië. Homo sapiens het toe vir die eerste keer ’n gebied bereik waar Homo erectus nooit was nie. Die Cro-Magnon-mense het Europa sowat 40 000 jaar gelede bereik, en Oos-Asië, Korea en Japan is teen 30 000 jaar gelede bereik. Daar is meningsverskille oor of migrasie na die Amerikas sowat 30 000 jaar gelede plaasgevind het of veel later, eers sowat 14 000 jaar gelede.[47]
Haplogroep M, wat oor die Rooisee getrek het, het sy grootste diversiteit in Indië, wat ’n aanduiding is dat die mutasie hier kon plaasgevind het.[48] Sowat 60% van die Indiese bevolking is van haplogroep M. Daar is bewyse dat dié groep van Indië ook met die kus van Thailand en Indonesië getrek het tot by Papoea-Nieu-Guinee.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.