primaatgenus From Wikipedia, the free encyclopedia
Gorillas is ape van die gelyknamige genus, Gorilla, en is die grootste oorlewende primate. Hulle hou merendeels op die grond, is hoofsaaklik plantvretend en bewoon die woude van Sentraal-Afrika. Die genus word in twee spesies onderverdeel, en in óf vier óf vyf subspesies. Die DNS van gorillas stem besonder baie met die mens s’n ooreen, naamlik tussen 95 en 99%, en naas die sjimpansee en bonobo is hulle is die naaste verwant aan die mens.
Gorilla | |
---|---|
Westelike gorilla (Gorilla gorilla) | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Superfamilie: | |
Familie: | |
Subfamilie: | |
Tribus: | Gorillini |
Genus: | Gorilla (I. Geoffroy, 1852) |
Spesies | |
Gorilla gorilla | |
██ Westelike gorilla
██ Oostelike gorilla | |
Sinonieme | |
|
Die naam "gorilla" kom van die eerste naam wat in 1847 deur die Amerikaanse dokter en sendeling Thomas Staughton Savage en die natuurnavorser Jeffries Wyman aan die westelike gorilla gegee is, naamlik Troglodytes gorilla.[1] Dit is afgelei van die Griekse Γόριλλαι ("stam harige vroue") wat omstreeks 480 v.C. deur ’n Kartaagse seevaarder beskryf is nadat hy moontlik die gebied besoek het wat later Sierra Leone sou word.[2]
Die naaste verwante aan die gorilla is die sjimpansee en die mens, en al die Hominidae sowat 7 miljoen jaar van die laaste gemeenskaplike voorsaat afgeskei het.[3] Menslike geenreekse verskil gemiddeld net 1,6% van dié van gorillas.[4] Tot onlangs is die gorilla as ’n enkele spesie met drie subspesies beskou: die westelike laeland-, oostelike laeland- en berggorilla.[5][6] Daar bestaan nou egter konsensus dat daar twee spesies met twee subspesies elk bestaan. Meer onlangs was daar voorstelle dat die een spesie ’n derde subspesie het. Die verskillende spesies en subspesies het ontstaan uit ’n enkele soort gorilla tydens die ystydperk, waarna hulle woudhabitats gekrimp en hulle van mekaar geïsoleerd geraak het.[7]
Primatoloë ondersoek steeds die verband tussen verskillende gorillabevolkings.[5] Die spesies en subspesies wat hier onder genoem word, is dié waaroor die meeste wetenskaplikes saamstem.
Taksonomie van die genus Gorilla |
---|
|
Die voorgestelde derde subspesie van Gorilla beringei, wat nog nie ’n subspesienaam het nie, is die Bwindi-bevolking van berggorilla, soms genoem die Bwindi-gorilla.
Sommige verskille tussen die gorillas sluit in grootte, haarkleur, lengte, kultuur en gesigbreedte.[7] Daar is vermoedelik meer as 100 000 westelike laelandgorillas in die natuur oor en 4 000 in dieretuine; en 4 000 oostelike laelandgorillas in die natuur en 24 in dieretuine. Berggorillas word die meeste bedreig, met sowat 620 oorblywendes in die natuur en geen in dieretuine nie.[7]
Gorillas loop op hul kneukels, maar soms ook vir kort entjies op twee voete wanneer hulle kos dra of in verdedigende situasies.[8] Mannetjies in die natuur weeg 135 tot 180 kg en is 1,7 tot 1,8 m lank, met ’n armspan van tot 2,6 m; wyfies weeg 68 tot 113 kg en is korter as mannetjies.[9] Gesette gorillas in aanhouding kan tot 270 kg weeg.[10] Gorillas se onderkake steek verder vorentoe as hul bokake en mannetjies het ’n prominente sagittale kam.
Die oostelike gorilla het donkerder hare as die westelike gorilla, en die berggorilla is die donkerste. Laasgenoemde het ook die digste pels. Die westelike laelandgorilla kan bruin of grys wees, met ’n rooierige voorkop. Gorillas in die laelande is skraler as die swaargeboude berggorillas. Die oostelike gorilla het ook ’n langer gesig en breër bors as die westelike gorilla.[11]
Gorillas kom kol-kol voor. Die woongebiede van die twee spesies word geskei deur die Kongorivier en sy sytakke.
Die westelike gorilla word in westelike sentraal-Afrika aangetref en die oostelike gorilla in oostelike sentraal-Afrika. Hoewel hulle oor ’n klein gebied voorkom, word hulle op verskeie hoogtes aangetref. Die berggorilla kom voor op hoogtes van 2 200 tot 4 300 m. Laelandgorillas word in digte woude en moerasse tot so laag as seevlak aangetref. Die westelike laelandgorillas kom voor in lande van westelike Sentraal-Afrika, en die oostelike laelandgorilla in die Demokratiese Republiek van die Kongo naby sy grens met Rwanda.[7]
’n Gorilla se dag word spandeer aan rusperiodes en reis- of vreetperiodes. Diëte wissel tussen spesies: berggorillas vreet meestal blare, stingels, murg en lote, terwyl vrugte ’n klein deel van hul dieet uitmaak.[12] Hul kos kom wydverspreid voor en nie indiwidue of groepe hoef met mekaar te wedywer nie. Hul blyplek strek oor gemiddeld 3 tot 15 km2 en hul bewegings is beperk tot tipies sowat 500 m per dag.[12]
Oostelike laelandgorillas het ’n meer uiteenlopende dieet, wat na gelang van die seisoen wissel. Blare en murg word algemeen gevreet, maar vrugte kan tot 25% van hul dieet uitmaak. Omdat vrugte minder algemeen voorkom, moet dié gorillas verder reis en hul blyplek wissel van 2,7 tot 6,5 km2. Hulle sal ook insekte, veral miere, vreet.[13] Westelike laelandgorillas vreet meer vrugte en kom dus meer wydverspreid voor.[14] Hulle kan tot 1 105 m per dag reis en hul byplekke wissel van 7 tot 14 km2.[14] Hulle vreet ook termiete en miere. Gorillas drink selde water omdat hulle sappige plante vreet wat soms met oggenddou bedek is.[15]
Een moontlike jagter van gorillas is die luiperd. Gorilla-reste is al gevind in luiperdmis, maar dit kan dalk oorblyfsels wees wat hulle gevreet het.[16] Wanneer ’n luiperd, mens of ander gorillas ’n groep aanval, sal een mannetjie die ander verdedig, selfs ten koste van sy eie lewe.[17]
Gorillas kom in troppe voor, wat dikwels bestaan uit een volwasse mannetjie, verskeie wyfies en hul nasate.[18][19][20] Troppe met meer as een mannetjie kom ook voor.[19] ’n Tipiese mannetjie, wat ook ’n silwerrug genoem word, is ouer as twaalf jaar. Die naam kom van die grys hare op die rug wat met volwassenheid gepaard gaan. Hulle het ook groot slagtande. Mannetjies en wyfies is albei geneig om die groep waarin hulle gebore is, te verlaat. Volwasse mannetjies verlaat dikwels die groep en vorm hul eie troppe deur wyfies te lok wat dan ook hul groep verlaat.
Berggorilla-mannetjies bly dikwels in hul geboortegroep en word ondergeskik aan die silwerrug. Wanneer die silwerrug doodgaan, kan die ander mannetjies dominant word en met die wyfies paar. Dié gedrag is nog nie onder oostelike laelandse gorillas opgemerk nie. In ’n trop met een mannetjie sal die wyfie en haar kleintjies ’n nuwe trop soek wanneer die mannetjie vrek.[21][22]
Die silwerrug is die middelpunt van die trop se aandag; hy neem al die besluite, ontlont konflik, bepaal die bewegings van die groep, lei die ander na plekke om kos te vind en neem verantwoordelikheid vir die veiligheid en welsyn van die groep. Jonger, ondergeskikte mannetjies, bekend as swartrûe, dien soms as hulpbeskerming. Swartrûe is gewoonlik tussen 8 en 12 jaar oud[20] en het nie grys hare op die rug nie. Hoewel mannetjies en wyfies sterk bande vorm, kom aggressiewe gedrag tussen hulle soms voor. Die verhouding tussen wyfies verskil; wyfies van dieselfde ma is gewoonlik vriendelik met mekaar, maar ander wyfies is dikwels aggressief teenoor mekaar.[18] Hulle kan baklei om die aandag van die mannetjie en ’n mannetjie kan tussenbeide tree.[23] Mannetjies het swak sosiale bande, maar dié van ’n trop wat net uit mannetjies bestaan is gewoonlik vriendelik met mekaar, versorg mekaar en speel saam,[20] en soms het hulle homoseksuele interaksies.[24]
Wyfies word volwasse op 10 tot 12 jaar (vroeër in aanhouding); mannetjies op 11 tot 13 jaar. Wyfies is agt en ’n half maande dragtig. Berggorillawyfies het op 10 jaar die eerste kleintjie en skenk daarna elke vier jaar die lewe.[25] Mannetjies kan vrugbaar wees voordat hulle volwassenheid bereik. Gorillas paar regdeur die jaar.[26]
Gorillas se kleintjies is kwesbaar en afhanklik en daarom is hul ma's belangrik vir hulle oorlewing.[27] 'n Mannetjie versorg nie die kleintjies nie, maar speel ’n rol om hulle met ander jong gorillas te laat sosialiseer.[28] Die silwerrug ondersteun ook die jong gorillas en beskerm hulle teen aggressiewe gedrag in die trop.[28]
Kleintjies bly in kontak met hul ma's vir die eerste vyf maande en die ma's bly naby die silwerrug vir beskerming.[28] Teen 12 maande beweeg kleintjies weg van die ma en op 18 tot 21 maande bestee hulle al hoe meer tyd weg van die ma af.[29] Hulle bereik ’n jeugdige ouderdom op drie jaar, en op ses jaar slaap hulle in ’n ander nes as die ma.[28]
’n Gorilla se verwagte lewensduur is tussen 35 en 40 jaar, hoewel hulle in dieretuine tot 50 jaar oud kan word.
Gorillas word as hoogs intelligent beskou. ’n Paar individue in aanhouding, soos Koko, het gebaretaal aangeleer. Nes ander grootape kan gorillas lag, treur, sterk familiebande smee, elementêre gereedskap maak en gebruik en oor die verlede en toekoms dink.[30] Sommige navorsers dink selfs hulle het spirituele gevoelens.[7] Hulle het kulture wat die bereiding van kos betref en sal individuele kleurvoorkeure toon.[7]
’n Gorilla se hand het ’n goeie greep en hulle kan eenvoudige gereedskap inspan, soos om 'n tak as ’n knuppel te gebruik. Die volgende waarnemings is in September 2005 gemaak deur ’n span onder Thomas Breuer. ’n Wyfie in ’n park in die Republiek van die Kongo is waargeneem terwyl sy ’n stok gebruik het om die diepte van die water te beproef toe sy ’n moeras oorsteek. Nog ’n wyfie het ’n boomstomp as ’n brug ingespan en ook as ’n stut gebruik terwyl sy visvang. Dit beteken dat al die groot ape een of ander vorm van gereedskap gebruik.[31] In September 2005 is ’n twee-en-’n-half jaar oue gorilla in ’n wildreservaat in die Republiek van die Kongo gesien waar hy kokosneute met klippe oopkap.[32]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.