From Wikipedia, the free encyclopedia
Die NG gemeente Kestell is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Vrystaatse Sinode en wel in die Ring van Bethlehem, waarin dit die oudste gemeente is ná die inlywing van die gemeente Bethlehem by Bethlehem-Wes.
Volgens Ons gemeentelike feesalbum van 1952 verleen die ligging van die dorp Kestell, tussen Bethlehem en Harrismith, 'n pragtige uitsig oor die majestueuse Drakensberge. Die dorp en gemeente is albei in die jaar 1905 gestig, laasgenoemde op 16 Augustus, en het die naam Kestell gekry ter ere van die volksvader ds. (later dr.) J.D. Kestell, vroeër predikant van Harrismith. Volgens Ons Kerk Album het ds. Kestell dié eer gekry omdat hy "door zijn optrede in den laasten oorlog een plaats heeft veroverd in de harten van het Afrikaner Volk". Kestell was die vierde van die 13 NG gemeentes wat in die eerste dekade ná die Driejarige Oorlog in die Oranje-Vrystaat gestig is.
Die plase wat met die oog op die aanlê van die dorp aangekoop is, Geluk en Mooifontein, was die eiendom van Adriaan en Johannes Bezuidenhout, seuns van Daniel Bezuidenhout, die held van Bloukrans. Toe die Oostelike Ringskommissie alhier met die oog op die stigting van die gemeente vergader het, het 'n stormwind die groot vergadertent omgewaai terwyl die verrigtinge aan die gang was en die byeenkoms moes in 'n sinkwinkel voortgesit word. Aan die einde van die vergadering het die voorsitter, ds. J.H. Enslin van Vrede, die wens uitgespreek dat die gemeente, wat tydens 'n storm gestig is, baie kalmte mag geniet! Tot konsulent van die nuwe gemeente is ds. J. Rabie van Harrismith benoem.
In Ons Kerk Album skryf ds. E.J.P Enslin die pas gestigte gemeente die eerste keer op Saterdag 23 en Sondag 24 September bymekaargekom in 'n groot tent wat behoort het die "Jongelings Vereeniging te Bethlehem". Die Sondag het die eerste Nagmaalsviering plaasgevind in dié geleende tent.
Op stoflike gebied moes die jong gemeente tydens sy wordingsjare hard worstel om die mas op te haal, aangesien die Tweede Vryheidsoorlog groot verwoesting en verarming meegebring het. Dadelik het die gemeente besluit om 'n noodkerk op te rig, 'n boukommissie is aangestel en die werk aan die bekwame boumeester G. Zwillaume opgedra (volgens Ons gemeentelike feesalbum was sy van Gillaume. Ten spyte van swaarkry is moedig voortgebeur en so kon die noodkerk reeds op 7 Julie 1906 sonder skuld ingewy word. Hierdie gebou het later as kerksaal gedien.
Die pastorie, 'n stewige klipgebou, is in November 1907 ingewy, en by hierdie geleentheid was onder andere ook oudpres. M.T. Steyn en prof. J.I. Marais van die Kweekskool teenwoordig. Ter ondersteuning van die Helpmekaarfonds, wat ná die Rebellie in die lewe geroep is, het die gemeente ruim bygedra. Ook die Griep-Weesfonds is hartlik ondersteun.
In 1928 het die gemeente 'n groot mylpaal bereik toe die sierlike nuwe kerk, deur Gerard Moerdijk ontwerp, op 31 Maart ingewy kon word. Benewens die orrel, wat deur die susters van die gemeente geskenk is, was die koste £18 000. Ná die koms van ds. J.J. le Roux in 1941 kon die skuld eindelik gedelg word. Tydens sy bediening van agt jaar op Kestell is 'n doelmatige kerkkoshuis, wat honderd skoliere huisves, ten koste van £22 000 opgerig en op 21 Januarie 1948 in gebruik geneem. Ons gemeentelike feesalbum kon in 1952 berig: "Die gemeente beleef tans 'n tydperk van voorspoed, waarvoor alle lof die Here toekom. In 1951 was die Dankofferopbrengs £3 650."
Op 26 September 1906 is ds. E.J.P. Smit as eerste leraar bevestig en hy het die gemeente 34 jaar lank met groot ywer en veel seën bearbei. Hy het in 1941 sy emeritaat aanvaar. Sy opvolger, ds. J.J. le Roux, voorheen van 1929 af NG gemeente Clarens se leraar, het die gemeente tot 1949 bearbei, toe hy vertrek het na die nuwe gemeente Parys-Oos, sy derde werkkring in die Vrystaat. Ds. P.D. Lückhoff is op 4 Februarie 1950 as die gemeente se derde leraar bevestig nadat hy van 1947 af leraar van die gemeente Bulawayo was. In 1959 het hy na Taaibosspruit vertrek as daardie gemeente se eerste leraar en van daar is hy in 1963 na Carletonville. Prop. J.C. Erasmus is in 1968 as die gemeente se leraar verwelkom, maar hy het reeds in 1972 'n beroep na Pretoria-Oos aanvaar.
Leraars:
Jaartal | Dooplidmate | Belydende lidmate |
---|---|---|
1915 | 1 000 | 900 |
1931 | 913 | 1 120 |
1949 | 758 | 1 136 |
1960 | 566 | 989 |
1972 | 353 | 849 |
1979 | 450 | 900 |
1985 | 375 | 775 |
1990 | 320 | 728 |
2000 | 200 | 501 |
2010 | 101 | 421 |
2015 | 94 | 365 |
Kestell het nog nooit 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gehad nie, maar ressorteer onder die Gereformeerde kerk Harrismith, wat in 1938 gestig is. Dié gemeente se lidmaattalle vir enkele jare lyk as volg:
Jaartal | Dooplidmate | Belydende lidmate |
---|---|---|
1959 | 35 | 49 |
1998 | 63 | 109 |
2002 | 45 | 90 |
2015 | 12 | 75 |
Die Nederduitsch Hervormde Kerk se naaste gemeente is Bethlehem, wat op 29 September 1962 gestig is en buiten Kestell ook Clarens, Fouriesburg, Paul Roux, Arlington en Lindley insluit. Die gemeente het in 2015 64 belydende en 12 dooplidmate gehad, vergeleke met 201 en 120 in 1989. Harrismith se NH gemeente in in 1982 gestig, maar het in 2014 ontbind. Die ander Vrystaatse NH gemeentes wat nie meer bestaan nie (tot einde 2014), is Allanridge (1955–2009), St. Helena (1950–2010), Vrede (1905–2013) en Welkom (1967–2010).
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.