Moorreesburg
dorp in die munisipaliteit Swartland From Wikipedia, the free encyclopedia
dorp in die munisipaliteit Swartland From Wikipedia, the free encyclopedia
Moorreesburg is 'n dorp in die munisipaliteit Swartland, provinsie Wes-Kaap (Suid-Afrika). Dit is ongeveer halfpad tussen Piketberg en Malmesbury geleë. Die dorp is die ekonomiese sentrum van die omliggende landboustreek, waar veral koring en hawer verbou word. Moorreesburg beskik oor 'n aantal landboukundige geriewe soos koringmeule en graansilo's. Die plaaslike koringmuseum behandel die streek se hoofproduk.
Moorreesburg | |
---|---|
Dorp | |
Treinstasie in Moorreesburg | |
Koördinate: 33°09′S 18°40′O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distrik | Weskus |
Munisipaliteit | Swartland |
Stigting | 1882 |
Oppervlak | |
• Totaal | 27,8 km2 (10,7 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 12 877 |
• Digtheid | 463/km2 (1 200/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 22.5% |
• Indiërs/Asiërs | 0.2% |
• Bruin mense | 70.1% |
• Swart mense | 6.7% |
• Ander | 0.4% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 92.0% |
• Xhosa | 3.5% |
• Engels | 2.2% |
• Ander | 2.3% |
Poskode (strate) | 7310 |
Poskode (posbusse) | 7310 |
Skakelkode | 022 |
Webwerf | http://moorreesburg.net/ |
Moorreesburg is in 1890 as 'n kerkgemeente op die plaas Hooikraal gestig en genoem na ds. J.C. le Febre Moorrees, die vader van prof. Adriaan Moorrees. In 1898 het dit 'n munisipaliteit geword. Met die nuwe munisipale herindeling van 2000 het dit deel van Swartland geword.
Munisipaliteit (1) — Die munisipale raad het op 'n stadium 'n skynheraldiese "wapen" gebruik wat 'n anker, 'n ramskop, 'n keper en 'n graansilo uitbeeld.
Munisipaliteit (2) — Teen 1966, het die raad 'n heraldiese wapen in gebruik geneem: Deurgesny, 'n golwende dwarsbalk belaai met 'n staande merinoram vergesel in die skildhoof van twee Morekoppe en in die skildvoet van 'n koringgerf. Die helmteken was twee gekruiste visse en die wapenspreuk "Domine dirige nos".
Munisipaliteit (3) — 'n Nuwe wapen is in 1983 by die Buro vir Heraldiek geregistreer : Verhoogd gekanteeld deursnede van rooi en goud, in die skildhoof 'n staande silwer merinoram, op 'n verhoogde gewelfde swart skildvoet, 'n goue koringgerf. Die helmteken was twee regopgeplaaste rooi visse met goue vinne. Die wapenspreuk het onveranderd gebly.[2]
Kommandant Schoeman (voorheen uit die Kommando van Theron) vertel op Vogelstruisfontein vir Kommandant Ockie T. de Villiers hoe hulle die Kakies 'n streep getrek het. Omdat daar 'n groot mag uit Moorreesburg op pad was Piketberg toe, moes die Boere uit Piketberg onttrek. Toe Maritz sien dat hierdie groot versterking uit Moorreesburg op pad was, het hy geweet dat hierdie dorp nou byna geheel en al sonder garnisoen moet wees; so te sê weerloos. Die Engelse het waarskynlik gedink Maritz sou deur hierdie groot opkoms en aantog afgeskrik word en vlug.[3]
Met 'n jakkalsdraai, jaag Maritz juis Moorreesburg toe. Omdat die vyand naby was, moes alles vinnig geskied. By hul aankoms op Moorreesburg stuur Schoeman een van sy adjudante met 'n wit vlag die dorp in, om die Engelse soldate wat agtergebly het aan te raai om oor te gee. Dié gee oor, maar op een voorwaarde: dat Maritz hulle sou trakteer. Dit doen hy ook met liefde. Die agt Kakies wat op Moorreesburg agtergebly het word sommer gou vriende met die Boere. Hulle word eenmaal trakteer, en toe nog 'n rondte, en kort voor lank was hul so koringdronk dat die Kakies nie eens agtergekom het toe die Boerekommando vertrek nie. Toe die Engelse mag uit Piketberg terugkeer, kom hulle op hierdie petalje af, en moes hul makkers uit hul roes wakker maak.[3]
Die Boere het Moorreesburg dus vir 'n paar uur in besit geneem, maar het tog die tyd benut om alles wat nodig is te buit: onder meer die 8 gewere van die 8 Kakies, en verskeie perde. Boonop het 22 mans hul by die kommando aangesluit.[4]
Wat kort ná die Anglo-Boereoorlog (en die opening van die treinspoor op Moorreesburg op 9 September 1901) begin het as The African Compressed Fodder Company deur Alfred Marshall en Gustav Mauritz Ljungdahl, sou later uitgekoop word deur die meulenaar en sakeman Frederick John Collier (maar nie sonder die hulp van Charles Stevens nie). In 1910 kry Collier 'n nuwe vennoot by, Daniel Bolton Redler. Jungle Oats verskyn die eerste keer in 1920, die geesteskind van Collier. Twee harde stene maal nie, en Collier en Redler gaan uiteen, met Redler wat die fabriek behou, en 'n nuwe meul vanaf 1926 laat bou in Maitland. 'n Paar jaar ná Redler se afsterwe in 1940 word die eiendom deur die eksekuteur (mnr. Coulter) te koop aangebied aan Anglo American. Die hoofbaas, Ernest Oppenheimer, bied hierdie geleentheid aan Rudy Frankel van Frankel & Co., met dien verstande dat Anglo American sy aandeel daarin kry. Coulter aanvaar die aanbod van £425 000. The Tiger Oats Company (Incorporating the Cereal Manufacturing Co.) kry op 21 September 1944 die nuwe naam: Tiger Oats and National Milling Company Limited. Anglo American verkoop in 1958 sy aandele.
Die makro-ekonomiese klimaat, soos die verstedeliking en groter verbruikersbesteding rondom hierdie sentra, noop die openbare maatskappy (waaronder sy vis-, hoender-, veevoer-, bakkery- en selfs rekenaarvertakkings inbegrepe) om markgerig te dink en brandstof te besuinig tydens die oliekrisis. Dit bring mee dat Moorreesburg se Tiger Oats-fabriek al hoe meer op die randgebied beland. Oplaas sluit die fabriek teen die laat-1980's.
'n Afvaardiging uit die publiek het op 4 April 1911 die Stadsraad genader, met die wens om jaarliks 'n bydrae te maak vir 'n biblioteek. Die raad was hiervoor te vinde, en 'n openbare vergadering van belangstellendes is belê. Die besluit is geneem om 'n biblioteek te stig, en die Carnegie-biblioteek het in dieselfde jaar nog tot stand gekom. Die dryfkrag agter die stigting was die "bekende, statige miss Koch, 'n oujongdame" van die plaas Biesiesfontein.[5] Of so lui J.J. Lochner se paragraaf in NG Moorreesburg se eeufeesboek. Die ware toedrag van sake is baie meer omvangryk as mens eers die briewe onder oë kry.
Op 19 April 1907 is die eerste aansoek gerig aan die Skots-Amerikaanse filantroop, Andrew Carnegie, en het misluk. Reeds vir twee jaar lank (dus, vanaf 1905 of vroeër) is konserte in Moorreesburg en omstreke gehou om geld in te samel. Uit 'n arm gemeenskap kon slegs £30 bymekaar geskraap word. In hul pleidooi word ook uitgewei hoe die Moorreesburgers tot onlangs toe nog van die wêreld afgesny was, en maar die geringste opvoeding geniet het. Selfs al is die brandende begeerte van die platsak inwoners (te wete kleinboere, kramers en ambagsmanne) daar, kan mens mos nie bloed uit 'n klip tap nie. Dit sal 'n klein ewigheid duur voordat daardie biblioteekdroom eendag bewaarheid word.
Die eerste aansoek het moontlik misluk omrede die bedoelinge hopeloos te vaag omskryf was. Al het die poging misluk, bly hierdie korrespondensie by Carnegie geargiveer (en later, die Home Trust Co.).[6]
In Julie 1911 word 'n tweede poging aangewend. Die bewoording verander merkbaar.
Ná nog 4 jare se onverdrote ywer is daar in 1911 nou altesaam £73 ingesamel, en ook maar net omdat 'n parlementslid £25 tot die fonds bygedra het; dáársonder, het die £30 nie eens verdubbel nie. Die gemeenskap het eenvoudig nie die geld of die middele nie.
Hierdie keer word daar spesifiek gelet op die gegewe data wat verlang word, naamlik: die bevolkingstal wat voordeel sal trek uit 'n biblioteek en die impak daarvan; presies wat die wetgewing van die Kaapkolonie behels; [lower-alpha 1] hoeveel die regering bereid is om by te dra; of daar grond beskikbaar is; en wie verantwoordelik gaan wees vir die instandhouding van die biblioteek.
Nou gaan dit ook nie meer gewoon net om arm plattelanders nie, nee, maar Suid-Afrikaners én Britte wat vir die hawermoutfabriek werk wat bevoordeel sal word. Die bevolking in die streek tel 3 000 mense, wat eweneens by die biblioteek sal baatvind. Die munisipaliteit en die staat sal gesamentlik £100 per jaar betaal vir die instandhouding. Die NG Kerk het grond gratis beskikbaar gestel: 100 x 100 voet. En die gewenste bedrag word uitdruklik op papier gestel vir die oprigting van 'n biblioteek: £1 500. Hierdie brief is op 10 Julie 1911 geskryf.
Verder het Maria D. Koch (die sekretaresse van die biblioteekkomitee) ook strategies die troefkaart gespeel: as die woord van 'n stadsklerk, die burgemeester, die dorpsraad en die predikant nie 'n geldmagnaat kan oortuig nie, beroep sy haar op die hoogste gesag, naamlik die Minister van Opvoeding, François Stephanus Malan, om 'n goeie woordjie vir haar te doen. Dit doen hy ook.
Dit het die gewenste uitwerking. In 'n brief, gedagteken 21 Augustus 1911, word die aansoek toegestaan. J.P. du Toit, die voorsitter van die biblioteekkomitee, word deur hierdie brief daarvan in kennis gestel. £1 500 word bewillig slegs vir die oprigting van die gebou. Die voorgestelde planne kan maar gestuur word.
Daar was twee voorgestelde planne: een wat slegs die boukoste sal dek (£1 500), die ander bouplan 'n bietjie goedkoper, om £300 aan boeke te bestee. Dit word so beskryf in die brief van 19 September 1911.
Koch skryf op 22 September 1911 ook haar eie persoonlike brief aan Carnegie, waarin sy hom bedank, en doen ook 'n ontboeseming wat die biblioteek vir haar as mens beteken. Interessant genoeg word in hierdie brief gesê die komitee het al twee keer vantevore probeer ("and now when for the third time we've appealed to you for help").
Die bouplanne word uiteindelik in Oktober versend, soos 'n brief gedateer 23 Oktober 1911 dit stel.
Die £1 500-skenking word in die November 1911-uitgawe van The Library Journal aangeteken.[7]
Op 20 November 1911 kom die brief vanaf Carnegie se kantoor terug: daar is hopeloos te veel ingeboude afskortings by die planne ingeteken wat die koste omhoog jaag. 'n Paar los boekrakke kan ewe gemaklik en goedkoper 'n paar privaathoekies inrig. Een groot vertrek sonder enige afskortings is daarom veel beter gepas. Ook skort daar papierwerk rakende die aankope van die erf en of die munisipaliteit hom sal onderneem om die biblioteek te onderhou.
Presies twee maande verloop, voordat Koch die volgende brief op 20 Januarie 1912 skryf. Die planne is ondertussen hersien en word nou versend. Sy laat egter ook nie na om te noem dat die nodige dokumente al die vorige jaar die 10de Julie ingedien is nie. Nietemin stuur sy die nodige brief saam.
Op 20 Februarie 1912 is die planne goedgekeur en die biblioteekkomitee word gevra om Home Trust Co. in Hoboken, New Jersey te kontak. Carnegie gee Home Trust Co. op 5 Maart 1912 die opdrag om die geldsake te behartig.
Byna 'n anderhalfjaar gaan verby. Maar uiteindelik word daardie briefie tog op 'n wintersdag op 24 Julie 1913 geskryf: die Carnegie-biblioteek is op Vrydag, 20 Junie 1913 op Moorreesburg geopen, en deur niemand anders nie, as die Minister van Opvoeding, F.S. Malan, self. 'n Noenmaal is gehou en al die hoëlui van die streek was teenwoordig. Koch het wel nog net een laaste klein versoekie: 'n foto van Carnegie om in die biblioteek op te hang.
In die Staatskoerant van 17 Augustus 1984 word die Ou Carnegie/Biblioteekgebou tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Die proklamasie lui so (in die Afrikaanse kolom, tikfoute ingesluit):[8]
Op die tweetalige kennisgewing verskyn die volgende (en veel bondiger) Afrikaanse bewoording:
Hierdie gebou, ontwerp deur die argitek N.T. Cowin, is in Geproklameer 1984 |
In 1967 word 'n gebou in die Rosenhofgebied opgerig, wat die gesondheidskliniek, behuisingskantoor en biblioteek gehuisves het. Die gesondheidskliniek skuif in 1994 na die gesondheidsentrum op die dorp. Later skuif die behuisingskantoor na die kliniekafdeling van die ou gebou, met die ou ruimte van die behuisingskantoor wat leegstaan. In 1995 besluit die munisipaliteit om die biblioteek met hierdie beskikbare ruimte te vergroot. Nadat die middelmuur uitgebreek is (die verbreking het R12 000 beloop), is die rakke verskuif, die matte gelê, nuwe gordyne opgehang. Ook die biblioteek se oprit is geteer, en teen 1996 vind mens ook 'n nuwe uitgelegte tuintjie voor die gebou.[9]
In die Kaapse Bibliotekaris van November/Desember 1996 word die bouplan van die nuwe Rosenhof Biblioteek afgedruk.[9]
Die vloeroppervlakte het 62 m² beslaan. Die voorraad boeke was 5 342, die kunsafdrukke 13, die videokassette 20, die musiekkassette 6. Die ledetal onder die volwassenes was maar gering (295), maar die kinders was 690. Die jaarlikse sirkulasiesyfer in 1995 was 24 180.[9]
Die bibliotekaresse, mev. M. Marais, was sedert 1977 in die biblioteek werksaam. Die leerlinge van die Laurie Hugo Primêre Skool, maar ook van Skoonspruit Sekondêr (van Malmesbury) en Steynville (Piketberg) is hier bedien, veral nadat die skoolleerplan met die koms van die nuwe demokratiese bewind verander het en meer inligting deur naslaanwerk van buite ingewin moes word. Die biblioteek is later met 'n fotostaatmasjien toegerus, wat die druk by die munisipale kantore verminder het. Die tydskrifsirkulasie was betreklik hoog vir so 'n kleinerige biblioteek: 605 vir 1995.[9]
In 2002 word bekend gemaak die Provinsiale Wes-Kaapse Biblioteekdiens het 'n subsidie van R2 100 000 toegestaan vir die bou en oprigting van 'n nuwe openbare biblioteek op Moorreesburg. Die nuwe biblioteek vervang sodoende die Carnegie-biblioteek, asook die biblioteek te Rosenhof.[10]
Die nuutgeboude Moorreesburg Openbare Biblioteek is in Maart 2004 geopen.[11] In die November/Desember 2004-uitgawe van die Kaapse Bibliotekaris word die nuwe biblioteek baie kortliks opgesom. Wat hier opval is die "pragtige donkerhout afwerkings met 'n besondere interessante toonbank", maar ook: "die hoë plafon dra by tot die besondere atmosfeer". Daar staan ook kindermeubels in vrolike kleure in die kinderafdeling wat met die donker hout van die boekrakke kontrasteer en by die volwasse kant nooi 'n ruim leesarea die gebruikers om in die biblioteek te vertoef. Verder word nog 'n bietjie detail verskaf: Die amptelike opening was op 30 Maart 2004. Die boekvoorraad staan op 21 000. Die biblioteek beskik oor 'n "stewige" ledetal van 3 042 mense. Die jaarlikse sirkulasie is 85 901 keer wat boeke uitgeneem of hernieu is. Die totale oppervlak van die biblioteek beslaan 643 m². Daar is 5 personeellede werksaam. En die argitekte van die gebou was Winston Lederie en Corrie de Swardt.[12]
In 2004 word die syfers van die nuwe biblioteekgebou (open Maart 2004) en die einde van Rosenhof (sluit Maart 2004) soos volg verstrek:[13]
|
Boeksirkulasie (2004) |
Totale |
Tydskrif-sirkulasie | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Volwassenes | Kinders | |||||||||
Afrikaanse fiksie |
Engelse fiksie |
Xhosa- fiksie |
Vaklektuur/ niefiksie |
Afrikaanse fiksie |
Engelse fiksie |
Xhosa- fiksie |
Vaklektuur/ niefiksie | |||
Moorreesburg | 62 179 | 12 344 | 0 | 7 291 | 16 483 | 7 345 | 0 | 2 019 | 107 661 | 3 002 |
Rosenhof | 2 337 | 66 | 0 | 119 | 815 | 160 | 0 | 46 | 3 543 | 641 |
Die syfers toon ook die gevoelige knou wat die Covid-19-grendeltydperk die sirkulasiesyfers van die Moorreesburg Openbare Biblioteek toegedien het.
Jaar | Boeksirkulasie | Totaal |
| |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Volwassenes | Kinders | |||||||||
Afrikaanse fiksie |
Engelse fiksie |
Xhosa- fiksie |
Vaklektuur/ niefiksie |
Afrikaanse fiksie |
Engelse fiksie |
Xhosa- fiksie |
Vaklektuur/ niefiksie | |||
April 2022 tot Maart 2023[14] | 17 607 | 3 921 | 0 | 827 | 4 213 | 1 558 | 0 | 497 | 28 623 | 845 |
April 2021 tot Maart 2022[15] | 14 701 | 3 493 | 0 | 559 | 2 357 | 1 196 | 0 | 191 | 22 497 | 985 |
April 2020 tot Maart 2021[16]
(Covid-tydperk) |
10 842 | 2 136 | 2 | 461 | 1 356 | 664 | 2 | 129 | 15 592 | 851 |
Kalenderjaar 2019[17] | 39 081 | 6 411 | 2 | 3 537 | 6 268 | 2 184 | 64 | 16 666 | 74 213 | 3 987 |
Kalenderjaar 2018[18] | 41 089 | 6 256 | 2 | 5 540 | 7 566 | 2 539 | 18 | 26 065 | 89 075 | 5 963 |
Kalenderjaar 2017[19] | 37 222 | 5 968 | 9 | 2 951 | 7 368 | 2 392 | 1 | 14 810 | 70 721 | 4 222 |
Kalenderjaar 2016[20] | 43 278 | 7 051 | 9 | 3 502 | 10 123 | 3 468 | 10 | 8 922 | 76 363 | 4 691 |
Kalenderjaar 2015[21] | 46 975 | 7 155 | 1 | 3 586 | 10 127 | 3 825 | 27 | 3 035 | 74 731 | 4 063 |
Kalenderjaar 2014[22] | 52 218 | 6 910 | 13 | 4 304 | 10 233 | 3 640 | 9 | 6 077 | 83 404 | 4 119 |
Kalenderjaar 2013[23] | 52 853 | 7 192 | 31 | 4 721 | 12 166 | 3 664 | 29 | 4 252 | 84 908 | 4 386 |
Kalenderjaar 2012[24] | 54 477 | 8 588 | 2 | 4 411 | 11 569 | 3 866 | 16 | 2 383 | 85 312 | 4 364 |
Kalenderjaar 2011[25] | 57 938 | 9 154 | 31 | 5 392 | 14 993 | 4 408 | 36 | 3 718 | 95 670 | 4 284 |
Kalenderjaar 2010 | - | - | - | - | - | - | - | - | - | - |
Kalenderjaar 2009[26] | 58 149 | 9 590 | 51 | 5 666 | 13 791 | 4 468 | 5 | 2 688 | 94 408 | 4 511 |
Kalenderjaar 2008[26] | 54 813 | 11 214 | 0 | 5 604 | 13 852 | 4565 | 0 | 1 808 | 91 856 | 4 219 |
Kalenderjaar 2007[27] | 54 313 | 11 087 | 0 | 5 676 | 14 755 | 5 173 | 0 | 1 778 | 92 782 | 4 600 |
Kalenderjaar 2006[27] | 60 375 | 12 202 | 0 | 7 390 | 16 497 | 5 319 | 0 | 2 045 | 103 828 | 4 752 |
Op 17 Augustus 2021 is staatsbefondsde e-boeke en luisterboeke deur die Libby-toepassingsprogram vir elke Wes-Kaapse biblioteeklid beskikbaar gestel.[28][29] Sover dit die Moorreesburg Openbare Biblioteek aangaan: die statistiek rakende die uitneem van e-boeke en luisterboeke, deur die Overdrive/Libby-toepassing, toon 'n baie geleidelike opgang.
Vanaf April (dus, eintlik 17 Augustus) 2021 tot Maart 2022 is die e-boeke 103 keer uitgeneem, en luisterboeke 0 keer. In dieselfde tydperk het die lede van die Malmesbury Openbare Biblioteek die e-boeke 331 keer uitgeneem, en die luisterboeke 4 keer. Vergeleke hiermee, het die lede van die Bredasdorp Openbare Biblioteek in die Overberg in dieselfde tydperk 656 keer luisterboeke uitgeneem, asook 35 keer die luisterboeke.[15]
April 2022 tot Maart 2023 toon dit duidelik: onbekend is onbemind. Wat sirkulasiesyfers van e-boeke en luisterboeke aanbetref, is Moorreesburg se syfers vir e-boeke 259 keer en luisterboeke 31 keer, en Malmesbury s'n 743 en 50 keer onderskeidelik. Elkeen van hierdie Swartlandse dorpe word nog in die skadu gestel deur die Bredasdorp Openbare Biblioteek, wie se lede die provinsiale e-boeke 1 582 keer uitgeneem het, en luisterboeke 164 keer.[14]
Tydperk |
Overdrive/Libby-sirkulasie | |||||
---|---|---|---|---|---|---|
Moorreesburg
(Swartland) |
Malmesbury
(Swartland) |
Bredasdorp
(Overberg) | ||||
E-boeke | Luisterboeke | E-boeke | Luisterboeke | E-boeke | Luisterboeke | |
April 2022 tot Maart 2023 | 259 | 31 | 743 | 50 | 1 582 | 164 |
April 2021 tot Maart 2022 | 103 | 0 | 331 | 4 | 656 | 35 |
Die Koringbedryfmuseum is in Piketbergweg geleë,[30][31] die amptelike adres is Hoofstraat 134.[32]
Hier word trekkers, ploeë, êe, saai-, sny- en dorsmasjiene, asook ander landbouimplemente en -metodes deur die eeue heen uitgestal. Hieronder tel tewens handskuurstene, meulstene, perdemeule, tot sover terug as die primitiewe skuurklippe. So ook meelsakke, knapsakke, swepe waarmee trekdiere in die perdemeulens aangedryf is, weegskale, siwwe, sense en sekels. Daarmee saam ook gerei wat by broodbak benodig is, soos siwwe, broodpanne en skoppe waarmee brode uit die bakoond gehaal is.[33] Buitekant word 'n bakoond aangetref.[lower-alpha 2]
J. Fick van Caledon het in die 1957-1958-seisoen lid van die Koringraad geword en hom vir 'n koringmuseum beywer, maar daarvan het dadels gekom.[34]
Sowat 'n dekade later, omstreeks 1967,[lower-alpha 3][35] skiet 'n soortgelyke gedagte by die Weskus-Ontwikkelingsvereniging wortel. Dit is nie genotuleer wie presies die vader van die gedagte was nie,[36] maar algou word die "aanvoerder" of "stukrag" van die koringbedryfmuseum P.S. Marais, Lid van die Volksraad (LV) van Moorreesburg.[34][36] Die bestuursvergadering van die Weskus-Ontwikkelingsvereniging het op 8 November 1967 plaasgevind, en daar is op Moorreesburg besluit, omrede die dorp in die hartjie van die koringstreek geleë is.[35][37] By hierdie vergadering is die museumbestuur gekies. Die voorsitter, Jan Kotzé (van Boesakskraal, Vredenburg), rig 'n brief op 12 Februarie 1968 aan die Stadsraad van Moorreesburg om te verneem of daar 'n geskikte terrein en/of gebou sal wees vir die museum.[36]
Wat nou volg, is twee uiteenlopende datums wat glad nie strook nie.
Richter en die toerismewebwerf van 2017 (inligting wat ook in 'n Netwerk24-artikel van 2019 herhaal is)[37] voer aan die aankoop van die ou NG Sendingkerk (erf nr. 589) het op 3 Mei 1968 geskied.[34][35]
Lochner verskaf 'n ander datum, om enkele redes. Op 30 Mei 1968 ontmoet dr. J. Op'thof, sekretaris van kultuursake, en bovermelde P.S. Marais, en daar word toe eers besluit op die ou NG Sendingkerk wat as museum ingerig moet word. Die Stadsraad het op aanbeveling van die Departement van Gemeenskapsbou die Sendingkerk van die Sendingkerkraad teen R2 000 gekoop, en dié koop is deur die betrokke departement op 24 Oktober 1968 bekragtig.[36]
Die voorsitter van die eerste vergadering van die Museumkomitee (op 4 November 1968), P.S.M. Hanekom, het onder meer die inisiatief geneem om die oudhede in te samel.[36]
In die Staatskoerant van 2 Oktober[36] 1970[33][35][37][34][36][30] word die museum, deur die administrateur F.D. Conradie[36] , geproklameer tot volwaardige provinsiale museum.[34][36][30] Amptelik is die Koringbedryfmuseum egter Proklamasie 294 van 22 September 1970.[38][33]
Omrede die grond rondom die museum te klein was vir die ontwikkeling, het die NG Moedergemeente Moorreesburg se Kerkraad die hele terrein rondom die museum ook geskenk.[36]
Die eerste kurator, R.S. Baard, is op 1 April 1972 aangestel.[36]
Die gebou is ook in 1972 teen 'n bedrag van R4 495 gerestoureer en omhein.[35][36][37]
Op die groot oesfees, gehou tydens die naweek 13-15 Oktober 1972, is naburige dorpe ook betrek. Uitstallings is gehou van oudhede, maar ook 'n optog van sierwaens en ander voorstellings is aangebied. Die Saterdag, 14 Oktober, het die administrateur, A.H. Vosloo, sy rol as feesredenaar beklee. Die Sondag, 15 Oktober, is die verrigtinge afgesluit met 'n kerkdiens wat deur moderator J.D. Vorster gelei is.[36]
Dit sou egter nog 6 jaar duur voordat die museum kon open.
In 1974 het die hooftegnikus van museumdienste, J.R. Laenen, 'n aanvang geneem om die uitstallings te beplan, en hiervoor het hy die hulp van Gawie Fagan, die argitek, in 1975 benodig. Die skaalmodel wat voorgestel is, was nog teen 1979 presies waar dit was, grootliks te wyte aan die gebrek aan fondse. Daarom was die uitstallings nog beknop; die groot werktuie moes vir eers elders bewaar word. Spesiale melding word ook gemaak van S.P. (Faan) du Toit wat die restourasie van die oudhede gedoen het.[36]
Uiteindelik is die museum op Vrydag, 10 Februarie 1978[33][30][35][37][39] amptelik geopen deur O.A. Saaiman, Lid van die Uitvoerende Komitee (LUK),[36][35][37] in medewerking van dr. Hey en E. Hayden.[36]
1979 is begin met die uitbreiding van die terrein; 'n byvoeging is 'n staalskuur om die groot toonstukke en plaasimplemente te huisves, soos die houtploeë, losgooiersnymasjien, van die eerste trekkers en stropers wat in Suid-Afrika ingevoer is, selfbindmasjiene, blikdorsmasjiene en 'n Frick-ghwanosaaimasjien.[33] Teen 1994 het die Koringbedryfmuseum drie skure as uitstalruimtes gehad.[40]
Die hooftema van die die museum is: 'Om die koringbedryf in al sy variante vorme van die koms van Jan van Riebeeck uit te beeld'.[30][35][33][37]
Die leuse van die museum lui by die opening: "Ons erfenis is vir ons mooi."[34]
Volgens Richter het Sasko R45 000 vir die oprigting van 'n koringmuseum op Moorreesburg bewillig;[34] 'n byskrif in Die Burger van 1 September 1993, op bl. 7, sê spesifiek: Die Koringbedryfmuseum het onlangs 'n stewige hupstoot gekry toe SASKO in die Paarl R50 000 aan die museum geskenk het[41]
Van die beskikbare besoeksyfer koolstofdateer uit 'n 2002/2003-jaarverslag: 4 792 besoekers in een jaar se tyd.[42]
Hoe uniek die museum is, bly 'n twispuntjie. Blykbaar is die Koringbedryfmuseum maar een van twee ter wêreld;[35][43] die ander een is die Hepburn Museum of Wheat in Saskatchewan, Kanada.[30] Nog vóór die millenniumwending is aangevoer dit was een van drie ter wêreld.[44][45][46] In daardie geval is die ander museum seker in Echallens, in die Kanton Vaud, Switserland geleë,[47] genaamd die Maison du blé et du pain (letterlik: Huis van Koring en Brood). Sy oorsprong begin met 'n koring- en broodfees in 1978.[48]
Hierdie getal (drie) word sonder veel uitbreiding net so herhaal op die toerismewebwerf van 2009[39], in 'n museumbrosjure van 2009[49], op die toerismewebwerf van 2023[50], en sowaar ook in die Amptelike Jaarboek 2022/2023.[51] Daar was in 2016 sprake van 'n Chinese Koringmuseum (小麦博物馆) wat in Jiaozuo, Henan, China geopen is;[52] hy is in 2024 wel nog in volle bedryf.[53]
Uit Nicolas-Louis de Lacaille se Journal historique du voyage au Cape de Bonne-Espérance (1751-53) is dit moeilik om vas te stel of hierdie Franse sterrekundige deur die gebied gereis het, wat later Moorreesburg se grense sou uitmaak. 11 September 1752 word die tog voortgesit vanaf Groenkloof (eiendom van mnr. Bestbier, wat De Lacaille vergesel het) na Piketberg. Daar is by "Nyle-Kraal" middagete geniet, en by "Schaffplaats Fonteyn" oorgeslaap. (nous allâmes dîner au Nyle-Kraal, & coucher à Schaffplaats Fonteyn [...]). Dîner kan sowel "aandete geniet" as "middagete geniet" beteken, maar dit lyk net onlogies om met die hele entourage van twee waens, ses perde, ses osse en agt slawe nog 20 kilometer af te lê in die aand.
R. Ravenhart vertaal die Engels met "we dined". Die Duitse vertaling gee: "Mittags speiseten wir zu Nyl-kraal und Abends nahmen wir unser Nachtquartier zu Schaafplatz-Fonteyn".[54]
R. Ravenhart glo "Nylen-Kraal" is eintlik Uylenkraal[lower-alpha 4] (33°12'53,4"S 18°23'38,0" O), wat in 1976 'n treinstasie is (sowat 26,5 kilometer suidwes van Moorreesburg), en Schaffplatz Fonteyn moes naby die "Koperberg" [eintlik Koperfontein!] treinstasie geleë gewees het.[55] Indien waar, is dit opmerklik hoe die treinspoor van 'n anderhalfeeu later deur dieselfde roete beïnvloed kon gewees het.[lower-alpha 5]
Schafplaatsfontein ( 33°06'14,7" S; 18°27'23,3" O ) lê klaar bietjie noordwes van Moorreesburg, maar is steeds 'n stywe entjie daarvandaan. Op die 12de September, om halfelf die oggend, is die Bergrivier bereik. En, omrede die winter pas verby was, is die rivier baie diep, maar nie juis breed nie (la riviere y est fort profonde, quoique peu large). Alles moes van die waens afgepak en oorgedra word, voordat die wa deur die beeste deurgetrek kon word. Toe De Lacaille klaar by Piketberg die baken opgestel en die nodige berekeninge gedoen het, gee hy ewe skielik weer antwoord op Riebeek-Kasteel.[56]
Maar iets veel interessanter sou omtrent 200 jaar later op 'n middag in Augustus 1951 gebeur, toe 'n klein meteoriet geval het. Die voorman en die aantal plaaswerkers het 'n entjie vanaf die plaaswoning op die plaas Leeuenkuil buite Moorreesburg gewerk, toe 'n geluid in die hemel hul aandag trek. Byna onmiddellik het 'n klip 'n entjie daarvandaan geval. Die voorman het eers versigtig probeer vasstel of dit nie 'n bom is nie, dit later opgetel en aan die plaaseienaar gegee. Die klip het so " 'n paar pond" geweeg. Mense was nogal opgewonde oor die gebeurtenis. Daar word vertel: die getroue ou huishulp het gesê sy gaan nou wegtrek, "omdat die Here self ons nou met klippe begin gooi."[57][9]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.