Baikalmeer
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Baikalmeer (Russies: о́зеро Байка́л, Ozero Baykal, [ˈozʲɪrə bɐjˈkɑl], afgelei van die Boerjatiese Байгал нуур / Baygal nuur of "ryk meer", in Russies en ander Europese tale dikwels net Baikal genoem; Mongools: Байгал нуур, Baygal nuur, letterlik: "die natuurlike meer"[1]) is 'n meer in die suide van Siberië in die Asiatiese deel van die Russiese Federasie, naby die grens met Mongolië. Dit is die oudste en diepste varswatermeer ter wêreld.[2] Die meer het 'n maksimum diepte van 1 637 meter en is meer as 25 miljoen jaar gelede gevorm.[3]
Baikalmeer | |
---|---|
'n Sjamane-steen op die eiland Olchon | |
Kaart van die Baikalmeer (in Duits) | |
Koördinate: | 53°30′N 108°0′O |
Ligging: | Siberië, Rusland |
Soort: | Kontinentale skeur-meer |
Oppervlakte: | 31 722 km² (12 248 myl²) |
Gemiddelde diepte: | 744,4 m (2 442 vt) |
Maksimum diepte: | 1 642 m (5 387 vt) |
Volume: | 23 615,39 km³ (5 670 myl³) |
Lengte: | 636 km (395 myl) |
Breedte: | 79 km 49 myl) |
Opvangsgebied: | 571 000 km² |
Omtrek: | 2 100 km (1 300 myl) |
Invloei: | Selenga, Barguzin, Bo-Angara |
Uitvloei: | Angara |
Eiland/e: | Olchon |
Nedersettings: | Irkoetsk |
Gevries: | Januarie tot Mei |
Rangorde volgens volume: | 1ste |
Die Baikalmeer is 'n voorbeeld van hoe 'n tipiese sinkdal in 'n gematigde klimaat met water gevul raak as daar nie genoeg verdamping plaasvind om die invloei van water in die kom te balanseer nie. Omdat dit so ver van die see en van ander groot mere is, het dit 'n uiters interessante plante- en dierelewe. Minstens driekwart van die spesies wat hier aangetref word, is endemies, dit wil sê, inheems aan die Baikalmeer en word nêrens anders aangetref nie.
Die Baikalmeer strek oor meer as 31 720 vierkante kilometer, en sy waterinhoud (wat sowat twintig persent van die wêreld se varswatervoorraad verteenwoordig) is so groot dat dit vyftig jaar lank in die mensheid se drinkwaterbehoeftes sou kon voorsien.
Indien sy waterinhoud gelykmatig oor die aardbol verdeel sou word, sou dit twintig sentimeter hoog met water bedek wees. Die Russe verwys dan ook na die meer as die "Bron van die Planeet". Die Baikalmeer bevat meer water as al die Noord-Amerikaanse Groot Mere tesame.[4]
Die enigste rivier, wat water uit die Baikal afvoer, die Angara, loop na die Jenisej en mond in die Arktiese Oseaan se Karasee uit. Unesco het die Baikalmeergebied in 1996 as wêrelderfenisgebied gelys.[5]
Ten minste 18 spesies van sponsdiere is in die meer teenwoordig,[6] insluitende ongeveer 15 spesies van die endemiese familie Lubomirskiidae (die res is van die nie-endemiese familie Spongillidae).[7][8] Op die bodem naby die kus vorm sponse die grootste biomassa.[6] Lubomirskia baicalensis, Baikalospongia bacillifera, en B. intermedia is buitengewoon groot vir varswatersponse en kan meer as 1 m groot word.[6][9] Hierdie drie spesies is die algemeenste sponsspesies in die Baikalmeer.[6] Baikalospongia-spesies het gewoonlik kors- of tapytagtige strukture, terwyl L. baikalensis takagtige strukture het en in areas waar dit volop is soms onderwater-"woude" vorm.[10] Die meeste sponse in die meer is gewoonlik groen terwyl hulle lewendig is weens die teenwoordigheid van simbiotiese chlorofiete (zoochlorella), maar is soms bruin of geel.[11]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.