Remove ads
Plantgenus From Wikipedia, the free encyclopedia
Die aalwyn of aalwee (Aloe) is 'n monokotiele, dit wil sê 'n eensaadlobbige vetplant en behoort tot die plantfamilie bekend as die Asphodelaceae (aalwynfamilie). Die Afrikaanse naam is 'n verbastering van die Nederlandse "aloë". Die aalwyn is naverwant aan 'n aantal Suid-Afrikaanse plantgroepe, waaronder die genera Kniphofia (vuurpyle), Haworthia, Gasteria, Asparagus (katbos) en Allium (ui).
Aalwyn | |
---|---|
Klippiesaalwyn, Aloe succotrina | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Plantae |
Klade: | Tracheofiete |
Klade: | Angiospermae |
Klade: | Eensaadlobbiges |
Orde: | Asparagales |
Familie: | Asphodelaceae |
Subfamilie: | Asphodeloideae |
Tribus: | Aloeae |
Genus: | Aloe Carolus Linnaeus |
Spesies | |
Verspreiding van boomaalwyne in Suider-Afrika |
Daar is meer as 450 aalwynspesies wat oor Afrika en nabygeleë eilande soos Madagaskar versprei is. Sommige spesies word ook op die Arabiese Skiereiland en eilande in die Atlantiese Oseaan aangetref. Die wetenskaplike spesiename van aalwyne is soms beskrywend (Aloe longistyla - die aalwyn met die lang styl of Aloe candelabrum - die aalwyn met die kandelaarvorm ). Ander name verwys na plekke (Aloe branddraaiensis of Aloe transvaalensis), terwyl sommige na bekende plant - kundiges of ander persone vernoem is (Aloe bainesii of Aloe peglerae). Spesiename word tans nog onder sekere omstandighede verander, en bied op sigself 'n wye studieveld.
Aalwyne het groot, dik, blare wat wissel in kleur van grys tot heldergroen. Die blare het 'n wasagtige tekstuur en is goed aangepas vir die dorre klimaat waarin aalwyne aangetref word. Die klein, buisagtige blomme van die aalwyn is geel, oranje of rooi en groei in digte bloeiwyses.
Buiten die gebruik van aalwyne as dekoratiewe plante, word die plant ook gebruik vir die geneeskragtige eienskappe wat daaraan toegeskryf word. Hierdie plante word ook in rotstekeninge van die San aangetref en word reeds duisende jare lank verbou. Die Egiptiese Ebers-papirus uit ongeveer 1552 v.C. verwys na die aalwyn se medisinale eienskappe en die gebruik daarvan in die balsem van lyke.
Die meeste van Suid-Afrikaanse aalwyne is beskermde plante, dit wil sê dit is 'n oortreding om 'n aalwyn sonder toestemming van die Afdeling Natuurbewaring van die betrokke provinsie en die grondeienaar, uit die veld te verwyder. Selfs wanneer 'n boer natuurlike veld wil omploeg om landerye aan te lê, het hy ook die toestemming van die betrokke owerhede nodig indien daar beskermde plante in die gedrang kom.
Die nuutste plantklassifikasiestelsel, die APGII-stelsel van 2003, plaas aalwyne in die familie Asphodelaceae, waar dit in die verlede aan die leliefamilie, Liliaceae, behoort het.
In die 21ste eeu word 'n strenger verdeling op die genus toegepas, sodat vyf nuwe genera benewens die genus Aloe erken word. Dit is naamlik Aloiampelos, die sewe rankaalwyne, Aloidendron, die ses boomaalwyne, Aristaloe, die enkele baardaalwyn-spesie, Gonialoe, die drie patrysaalwyne, en genus Kumara, die twee waaieraalwyne.[1]
Daar is meer as 450 soorte aalwyne wat in verskeie soorte en vorms aangetref word: van klein, grasagtige plantjies tot bome met stamme van 18 m lank. Die bekendste aalwynspesies is waarskynlik Aloe vera en Aloe ferox. Hierdie plante is van groot ekonomiese waarde in Suid-Afrika.
Daar is 'n aantal ander plante waarna daar ook soms as "aalwyne" verwys word, alhoewel hulle dit nie in werklikheid is nie, soos gasterias en haworthias. Ook die Noord-Amerikaanse agawe's word soms die "Amerikaanse aalwyn" genoem.
Elke aalwynspesie het sy eiesoortige behoeftes wat grondsoort, reënval, son en hitte betref. Sommige spesies wat minder gespesialiseerd en meer aanpasbaar is, is oor groot dele van Afrika versprei en is baie gewild as tuinplante .
'n Goeie voorbeeld hiervan is die kransaalwyn, Aloe arborescens (die spesienaam beteken "word 'n boom", hoewel 'n digte bosvorm die algemene vorm is).
Die Afrikaanse algemene of gewilde name is baie keer misleidend, want name soos kransaalwyn, word afhangende van die landstreek, aan heelparty verskillende spesies toegeken. Op die oomblik spog ons met die aalwyn as deel van die Suid-Afrikaanse landskap, maar dié toedrag van sake is vinnig besig om te verander. Die verdwyning van ons aalwyne kan maklik toegeskryf word aan die bedrywighede van versamelaars of vernietigende veldbrande. Hoewel hierdie faktore 'n onteenseglike bydrae lewer, veral by die skaarser aalwynspesies soos Aloe peglerae, is die eintlike faktore:
Met enkele uitsonderings is alle Suid-Afrikaanse aalwyne beskermde plante, dit wil sê dit is 'n oortreding om 'n aalwyn sonder toestemming van die Afdeling Natuurbewaring van die betrokke provinsie en die grondeienaar, uit die veld te verwyder .
Selfs wanneer 'n boer natuurlike veld wil omploeg om landerye aan te lê, het hy ook die toestemming van die betrokke owerhede nodig sodra daar beskermde plante in die gedrang kom. Omdat aalwyne goed aard in hul natuurlike omgewing, pas hulle besonder moeilik aan wanneer hulle uit hul natuurlike omgewing verwyder word om in tuine of parke aangeplant te word. Die plant begin dan geleidelik kwyn en gaan uiteindelik dood. Aalwyne wat van saad gekweek word, het 'n groter kans op oorlewing omdat die plantjies hulle van kleins af by ander omstandighede kan aanpas. Elke aalwyn het nogtans spesifieke behoeftes waarvan die kweker kennis behoort te dra.
Daar is ongeveer 145 verskillende inheemse aalwynspesies in Suid-Afrika. Aalwyne word van seevlak tot 2000 m bo seespieël aangetref, dikwels in woestyntoestande waar dit soms vir jare nie reën nie, en is dan hoofsaaklik afhanklik van dou en mis wat deur hulle vlak wortels opgeneem word. Maar hulle aard ook in die somer- en winterreënvalstreke met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 1 250 tot 1 750 mm. Baie aalwyne verkies klipperige of rotsagtige rantjies of hoogtes, omrede vogtigheid langer onder die klippe behoue bly, die grond beter dreineer, en sommige rotsformasies meer voedingstowwe tot die grond bydra as wat op gelyktes of vlaktes aangetref word. Wind of water versprei die sade oor vlaktes en heuwels, maar die sade wat tussen klippe en beskutte plekke lê, kry beter vastrapplek en meer vog as op ander dele waar die sade of nooit ontkiem nie, of vroeg doodgaan.
Sommige aalwyne groei tussen bosse (Aloe pluridens en Aloe rupestris) waar hulle kaal stamme teen die son beskerm kan word, terwyl andere soos Aloe marlothii hul eie stamme met droë blare beskerm. Aalwyne se plantkleur wissel van donker- en heldergroen, tot grysgroen of blougrys, met of sonder spikkels en strepe, en met of sonder 'n swart, bruin, rooi of pienk blaarrand. Sommige plante verkleur tydens droogtetye of in kouer maande tot roes- of pienkrooi, terwyl ander se blare tot 'n tiende van hul volle lengte verdroog. Die blomkleur kan wit, roomkleur, oranje, geel, pienk, rooi of selfs groen, en verskillende kombinasies van hierdie kleure, wees.
Aloe albida is 'n miniatuuraalwyntjie wat omtrent 15 cm hoog word en dit blom vanaf Maart tot April en het klein, wit blommetjies met omgebuigde blombekkies dra. Dié spesie kom voor in die omgewing van Barberton.
Aloidendron barberae, voorheen Aloe bainesii, ook bekend as die Boomaalwyn, is die grootste Suid-Afrikaanse spesie. Dit word tot 20 m hoog met 'n stamdeursnee van 3m. Hierdie aalwyn groei in die bosagtige dele en klowe van Oos-Kaap, en met die kuslangs tot in Oos-Afrika.
Aloe ciliaris is uniek onder die Suid-Afrikaanse aalwyne omdat die chromosoomgetal 6n=42 is, en nie die normale 2n=14 nie. Dit veroorsaak dat geen kruising sover bekend met Aloe ciliaris bestaan nie. Sy natuurlike verspreidingsgebied is die Oos-Kaap, waar die plante met hulle dun, lang stammetjies van tot 3m die ondersteuning van die bosse in dié gebied goed kan gebruik.
Aloe cooperi is een van die sg. grasaalwyne waarvan die blare in die winter verdroog en in die lente weer uitgroei. Dié aalwyn is egter uniek in dié opsig dat dit oor 'n gebied van 2000m bo seespieël, tot by seevlak versprei is. 'n Tipiese kenmerk van die spesie is die lang blare wat in dwars deursnee V-vormig is.
Aloe modesta is ook 'n miniatuuraalwyntjie met lang, dun blare en valerige blommetjies, maar is die enigste aalwyn op die Afrika-kontinent waarvan die blom 'n soet geur het. Aloe modesta kom in 'n baie klein verspreidingsgebied in KwaZulu-Natal en Mpumalanga voor.
Aloe saundersiae is die kleinste Suid-Afrikaanse aalwyn. Die deursnee van die blaarroset is ongeveer 10 cm, en die ligpers blommetjie is selde hoër as 15cm.
Teoreties kan 'n mens enige twee aalwynspesies met mekaar kruis, mits die plante die normale chromosoomtelling van 2n=14 het. Sover bekend, is Aloe ciliaris (6n=42) die enigste Suid-Afrikaanse uitsondering. Aloe dawei (chromosoomtelling 4n=28), kruis wel met die meeste ander spesies, maar dié kruising, met 'n chromosoomtelling van 3n=21, kan nie verder kruis nie. Hierdie interessante aalwyn kom nie in Suid-Afrika voor nie.
Waar verskillende spesies saam in die veld voorkom en saam blom, vind natuurlike kruisings dikwels plaas. Die kruisingsprodukte, wat hibriede genoem word, is dikwels 'n verbetering op ouerplante wat blomkleur, blomtyd, blom- en groeikrag, en selfs weerstand teen koue en siektes betref. Kruising is selfs tussen sekere genera moontlik. Soms word natuurlike kruisings tussen 'n Gasteria- en aalwynspesie in die veld aangetref .'n Voorbeeld van natuurlike kruising is 'n aalwyn uit Oos-Kaapland wat vroeër as Aloe salmdyckiana bekend gestaan het. Wetenskaplikes het eers later besef dat dit 'n hibried, 'n kruising tussen twee spesies, nl. Aloe ferox en Aloe arborescens, is.
Enigeen kan ook sonder veel moeite sy eie kruisings maak deur die stuifmeel van een aalwynspesie op die ontwikkelde stempel van 'n ander te plaas - dis 'n takie wat in die natuur deur voëls en insekte gedoen word. Sodra die saad droog is, word dit geoes en gesaai en die plantjies grootgemaak.
Dit is taamlik maklik om kruisings uit te ken, omdat dit kenmerke van albei die ouerplante weerspieël. Daarom is dit ook moontlik om 'n plant met baie blomme, maar wat 'n swak kleur het, deur middel van kruising met 'n aalwyn met 'n sterk blomkleur te verbeter. Dié beginsel word gebruik by die teel van aalwynkultivars.
Die Republiek van Suid-Afrika is die setel van die internasionale registrasie-owerheid vir aalwynkultivars.
Kruisings wat met geselekteerde ouerplante onder beheerde toestande gedoen word, word gekeur vir kultivarstatus. Só 'n plant word dan tot in die fynste besonderhede beskryf en kry 'n noemnaam soos bv. Oom At , wat dan nie 'n wetenskaplike naam is nie.
Elke eksemplaar van 'n spesifieke kultivar moet deel wees van die oorspronklike kloon, en moet deur middel van steggies of mikrokulture vegetatief in 'n laboratorium voortgeplant word om honderd persent identies te wees.
Aalwynsap word dikwels vir medisinale gebruike ingespan. Die jel-agtige sap wat in die vet blare gevind word, kan byvoorbeeld as noodhulpmiddel by brandwonde gebruik word. Dit is egter nie raadsaam om willekeurige aalwyne self vir medisinale doeleindes te gebruik nie: sommige spesies, soos Aloe venenosa, is giftig, terwyl sensitiewe persone newe-effekte ervaar van sommige spesies, soos Aloe barbadensis, wat oor die algemeen as veilig beskou word.
Aloe vera word al duisende jare vir medisinale gebruik gekweek – tot so 'n mate dat die plant se presiese gebied van oorsprong onbekend . Die Egiptiese Ebers-papirus uit ongeveer 1552 v.C. verwys na die aalwyn se medisinale eienskappe en die gebruik daarvan in die balsem van lyke. Die Griekse plantkundige Dioskorides (41 – 68 n.C.) het die uitwendige gebruik van aalwyn vir wonde, aambeie, maagswere en haarverlies aanbeveel, asook die inwendige gebruik daarvan as 'n lakseermiddel.
Byna alle aalwynspesies bevat 'n galbitter geel sap wat uit die blare getap kan word. Die sap loop uit die blare as hulle gesny word en word stadigaan hard in die lug. In antieke Egipte en Babilon is hierdie sap as 'n purgeermiddel aangewend vir beide mens en dier.
In Suid-Afrika word veral die sap van die bitteraalwyn (Aloe ferox) getap in die omgewing van Herbertsdale, Albertinia en Mosselbaai. Die plant se groen blare word stomp afgesny en in 'n kring om 'n gat opmekaar gestapel, sodat die sap in 'n houer in die gat in kan drup. Die druk van die swaar blare opmekaar is genoeg om die sap uit te pers. Die versamelde sap word dan verhit en geroer tot dit styf en dik is. Dit word dan uitgegiet en verhard, waarna dit gereed is om te verwerk.
Aalwyne word van seevlak tot 2000 m bo seespieël aangetref, dikwels in woestyntoestande waar dit soms vir jare nie reën nie. Dit is dan hoofsaaklik afhanklik van dou en mis wat deur hulle vlak wortels opgeneem word.
Maar hulle aard ook in die somer en winterreënvalstreke met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 1 250 tot 1750 mm. Baie aalwyne verkies klipperige of rotsagtige rantjies of hoogtes, omrede vogtigheid langer onder die klippe behoue bly, die grond beter dreineer, en sommige rotsformasies meer voedingstowwe tot die grond bydra as wat op gelyktes of vlaktes aangetref word. Wind of water versprei die sade oor vlaktes en heuwels, maar die sade wat tussen klippe en beskutte plekke lê, kry beter vastrapplek en meer vog as op ander dele waar die sade of nooit ontkiem nie, of vroeg doodgaan.
Omdat aalwyne goed aard in hul natuurlike omgewing, pas baie besonder moeilik aan wanneer hulle uit hul natuurlike omgewing verwyder word om in tuine of parke aangeplant te word. Die plant begin dan geleidelik kwyn en gaan uiteindelik dood. Aalwyne wat van saad gekweek word, het 'n groter kans op oorlewing omdat die plantjies hulle van kleins af by ander omstandighede kan aanpas. Elke aalwyn het nogtans spesifieke behoeftes waarvan die kweker kennis behoort te dra.
Sommige aalwyne groei tussen bosse (Aloe pluridens en Aloe rupestris) waar hulle kaal stamme teen die son beskerm kan word, terwyl andere soos Aloe marlothii hul eie stamme met droë blare beskerm. Aalwyne se plantkleur wissel van donker- en heldergroen, tot grysgroen of blougrys, met of sonder spikkels en strepe, en met of sonder 'n swart. bruin, rooi of pienk blaarrand. Sommige plante verkleur tydens droogtetye of in kouer maande tot roes- of pienkrooi, terwyl ander se blare tot ’n tiende van hulle volle lengte verdroog. Die blomkleur kan wit, roomkleur, oranje, geel, pienk en selfs groen wees. Dit kan ook verskillende kombinasies van kleure wees.
Die aalwyn speel net soos enige ander plant 'n onmisbare rol in die ekologie. Aalwyne verskaf blyplek aan 'n verskeidenheid voëls en diere, veral in dele waar aalwyne die hoogste plante in die veld is. Mossies en ander voëls maak gereeld in groot aalwyne soos Aloe marlothii en Aloe ferox nes, terwyl 'n mens dikwels 'n reuse-familie voëlnes in kokerbome (Aloe dichotoma) in die droë dele van die Kaap sien.
'n Groot aalwynblaar bied ook 'n geskikte plek vir sommige duiwe se oop nessies, terwyl die droë blare en dorings beskerming bied teen die roofdiere.
Baie insekte is afhanklik van aalwyne vir hul voortbestaan. Afgesien van die droë blare wat beskerming bied teen vyande en die koue, vul die aalwyn 'n groot leemte as die kos skaars is. Omdat 'n groot aantal spesies in die wintermaande blom, beteken die soet nektar oorlewing vir duisende insekte, voëls en diere vir wie daar in dié tyd geen ander voedselbron beskikbaar is nie.
Die blare van die groter aalwynspesies vang ook reënwater op wat nie net vars water vir voëls en diere beteken nie, maar ook broeiplek vir insekte, soos muskiete, wat ondanks hul slegte naam, 'n onmisbare skakel in die voedselketting is.
Aalwyne is ook baie nuttig vir mens en dier. Wildsbokke, soos koedoes, eet soms soveel aalwynblare dat selfs hulle vleis bitter smaak. Moontlik help dit teen bosluise en ander bloedsuiende insekte wat nie baie van die bitter smaak hou nie.
Die blare van Aloe ferox en ander groot aalwyne kan gebruik word om konfyt van te maak, terwyl die jong blomlote van aalwyne soos Aloe cooperi in Oos-Transvaal en Noord-Natal as groente gekook en geëet word.
Jong veewagtertjies wat bedags die vee oppas, het dikwels die gewoonte om groot aalwynblomme te pluk en die soet nektar uit die blomme te suig. Die helderkleurige stuifmeel laat dit lyk asof die jong kêrel 'n breë, geel oor-tot-oor glimlag het.
Aalwyne se nektarproduksie is só oorvloedig dat byeboere sekere tye van die jaar heuning uithaal wat byna uitsluitlik van aalwynnektar gemaak is. Die volop stuifmeel help die bye met hul byewasproduksie, waarsonder die opberging van heuning nie moontlilk is nie.
Aalwyne word gereeld as natuurlike omheining vir statte en krale aangeplant. Spesies soos Aloe arborescens, Aloe marlothii en Aloe striatula is die bekendste aalwynsoorte wat hulle hiertoe leen.
Aalwyne kan ook as veevoer gebruik word. Ongelukkig het boerbokke baie min aanmoediging nodig om van die mineraalryke blare en blomme te vreet, en die voortbestaan van aalwyne op sekere plase word daardeur bedreig.
'n Mens kan selfs gronderosie met aalwyne bestry. Omdat die meeste grassoorte en bossies in die winter of doodgaan of deur veldbrande verwoes word, word aalwyne wat bv. in groepe aangeplant is of van nature in groepe staan, geensins beïnvloed nie.
Hulle is dan die laaste vesting teen wind en reën totdat die ander natuurlike plantegroei weer herstel het. Aalwyne soos Aloe davyana in Sentraal-Transvaal, Aloe ammophila in Limpopo en Aloe claviflora in die droë noordelike deel van Kaapland, is drie voorbeelde wat 'n aansienlike rol speel.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.