Die Eurasiese ekster of gewone ekster (Pica pica) is ’n lid van die familie kraaiagtiges wat in Europa, ’n groot deel van Asië en die Magreb voorkom. Dit is een van verskeie voëls in die familie wat eksters genoem word, en behoort tot die Holarktiese verspreiding van "monochrome" eksters. In Europa gebruik Engelssprekendes dikwels bloot die naam magpie ("ekster"), want die enigste ander een wat daar voorkom, is die Iberiese ekster (Cyanopica cooki), wat tot die Iberiese Skiereiland beperk is.
Eurasiese ekster | |
---|---|
Die nominaatsubspesie in Toulouse, Frankryk. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | Pica |
Spesie: | P. pica (Linnaeus, 1758) |
Binomiale naam | |
Pica pica | |
Subspesies | |
Sien teks. | |
Subspesies leucoptera melanotos pica fennorum asirensis bactriana hemileucoptera serica bottanensis camtschatica mauritanica |
Die Eurasiese ekster is een van die intelligentste voëls én niemenslike diere.[1] Die grootte van sy brein in verhouding tot sy lyf stem ooreen met dié van die sjimpansee, orang-oetang en mens.[2] Hulle is die enigste niesoogdierspesie wat hulself in ’n spieëltoets kan herken.[3] Eksters is ook al waargeneem waar hulle aan uitgebreide rourituele deelneem wat ooreenstem met menslike begrafnisse, insluitende die neerlê van graskranse.[4][5]
Taksonomie
Die ekster is deur die Switserse naturalis Conrad Gessner beskryf en geïllustreer in sy Historiae animalium van 1555.[6] In 1758 het Linnaeus die spesie ingesluit in sy Systema Naturae onder die binomiale naam Corvus pica.[7][8] Die Franse soöloog Mathurin Jacques Brisson het die voël in 1760 na ’n aparte genus, Pica, geskuif.[7][9][10] Dit is die klassieke Latynse naam vir dié ekster.[11]
Die geleidelike verskille onder eksters oor die groot geografiese verspreidingsgebied en die intergradasie van die verskillende subspesies lei daartoe dat die aanvaarding van die geografiese grense en die verskillende subspesies tussen geleerdes verskil. Die Internasionale Ornitologiese Kongres erken 10 subspesies (P. p. hemileucoptera is ingesluit in P. p. bactriana):[12]
- P. p. fennorum – Lönnberg, 1927: Noord-Skandinawië en Noordwes-Rusland
- P. p. pica – (Linnaeus, 1758): Britse Eilande en Suid-Skandinawië oos tot Rusland, suid tot die Middellandse See-gebied, insluitende die meeste eilande
- P. p. melanotos – A.E. Brehm, 1857: Iberiese Skiereiland
- P. p. mauritanica – Malherbe, 1845: Noord-Afrika (Marokko, Noord-Algerië en Tunisië) (soms beskou as ’n aparte spesie, die Magreb-ekster)
- P. p. asirensis – Bates, 1936: Suidwes-Saoedi-Arabië (soms beskou as ’n aparte spesie, die Asir-ekster)
- P. p. bactriana – Bonaparte, 1850: Siberië oos tot die Baikalmeer, suid tot die Kaukasus, Irak, Iran, Sentraal-Asië en Pakistan
- P. p. leucoptera – Gould, 1862: Suidoos-Rusland en Noordoos-China
- P. p. camtschatica – Stejneger, 1884: Noordelike See van Ochotsk en die Kamtsjatka-skiereiland in die Russiese Verre-Ooste
- P. p. serica – Gould, 1845: Oos- en Suid-China, Taiwan, Noord-Myanmar, Noord-Laos en Noord-Vietnam
- P. p. bottanensis – Delessert, 1840: Westelike Sentraal-China
Die ornitoloog Steve Madge behandel die geïsoleerde subspesie in Suidwes-Saoedi-Arabië in sy Handbook of Birds of the World as ’n aparte spesie, P. asirensis.[13] BirdLife International het ook dië voël sedert 2016 as ’n aparte spesie begin erken, saam met die Magreb-ekster (P. mauritanica).[14]
Beskrywing
Mannetjies van die nominaatsubspesie, P. p. pica, is 44-46 cm lank, waarvan die stert meer as die helfte uitmaak. Die vlerkspan is 52-62 cm.[15] Die kop, nek en bors is blinkswart met ’n metaalgroen en violet skynsel; die maag- en skouervere is wit; die vlerke is swart met groen of pers, en die primêre vliegvere het ’n wit binneweb wat sigbaar is wanneer die vlerke oopgesprei is. Die stert is swart met ’n groen en rooipers glans. Die bene en snawel is swart.[16] Die twee geslagte se vere lyk dieselfde, maar wyfies is effens kleiner. Die stertvere van albei geslagte is taamlik lank, sowat 12–28 cm. Mannetjies van die nominaatsubspesie weeg 210-272 g en wyfies 182-214 g. Jong voëls se vere het aanvanklik minder glans. Hul stert is baie korter as volwasse voëls s'n.[15]
Die Noordwes-Afrikaanse subspesie P. p. mauritanica het ’n kaal, blou vlek agter die oë, geen wit aan die lyf nie en ’n langer stert.[16] Die Suidwes-Arabiese subspesie P. p. asirensis het meer swart in die vere, geen wit aan die lyf nie en kleiner wit dele aan die primêre vliegvere.[13] Die Asiatiese subspesie P. p. bactriana het meer wit aan die primêre vliegvere en ’n prominente wit romp.[16]
Verspreiding en habitat
Die verspreidingsgebied van die ekster strek oor gematigde Eurasië, van Spanje en Ierland in die weste tot die Kamtsjatka-skiereiland en Taiwan in die ooste. Daar is ook bevolkings in Noordwes-Afrika en op Middellandse See-eilande.
Die voëls verkies oop veld met verspreide bome – hulle kom gewoonlik nie in boomlose gebiede of digte woude voor nie.[16] Hulle broei soms in groot getalle in stedelike gebiede soos parke en tuine.[17][18] Hulle word dikwels naby ’n middestad aangetref.[19]
Verwysings
Aangehaalde bron
Eksterne skakels
Wikiwand in your browser!
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.