Namibië
republiek in Suider-Afrika / From Wikipedia, the free encyclopedia
Namibië (Duits: Namibia, [naˈmiːbi̯a]; Engels: Namibia, [nəˈmɪbiə], [næˈmɪbiə], luister (hulp·inligting)), amptelik die Republiek van Namibië (Engels: Republic of Namibia; Duits: Republik Namibia, luister (hulp·inligting)), is ’n republiek in Suider-Afrika waarvan die westelike grens die Atlantiese Oseaan is. Die land grens ook aan Angola en Zambië in die noorde, Botswana in die ooste en Suid-Afrika in die ooste en suide. Hoewel dit nie aan Zimbabwe grens nie, is Namibië deur 200 m van die Zambezirivier se rivierbedding van Zimbabwe geskei (dit is waar die grens met Zambië en Botswana is). Volgens ander menings ontmoet die grense van die vier lande Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe op een enkele punt en sal vervolgens die enigste internasionale vierlandepunt wêreldwyd vorm.[17] Namibië land het op 21 Maart 1990 onafhanklikheid van Suid-Afrika gekry na afloop van die Namibiese Onafhanklikheidsoorlog. Die hoofstad en grootste stad is Windhoek. Namibië is ’n lidland van die Afrika-unie, Gemeenskaplike Monetêre Gebied, Suider-Afrikaanse Doeane-unie, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, Britse Statebond en die Verenigde Nasies. Namibië geniet ’n hoë politieke, ekonomiese en sosiale stabiliteit.[18]
| |||||
Nasionale leuse: Unity, Liberty, Justice (Engels vir: "Eenheid, Vryheid, Geregtigheid") | |||||
Volkslied: Namibia, Land of the Brave (Engels vir: "Namibië, Land van die Dapper") | |||||
Hoofstad | Windhoek | ||||
Grootste stad | Windhoek | ||||
Amptelike tale | Engelsa Nasionale tale: Afrikaans (lingua franca), Duits, Herero, Kwangali, Lozi, Nama, Oshiwambo, Tswana | ||||
Regering | Unitêre semi-presidensiële grondwetlike republiek[9][10] Nangolo Mbumba Netumbo Nandi-Ndaitwah Saara Kuugongelwa John Mutorwa | ||||
Onafhanklikheid • Huidige grondwet • Erken |
van Suid-Afrika 9 Februarie 1990 21 Maart 1990 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
825 615 km2 (34ste) 318 772 myl2 feitlik geen | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2017-sensus - Digtheid |
2 777 232[11] (141ste) 2 606 971[12] 3,2 / km2 (235ste) 8,3 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,615[14] (139ste) – medium | ||||
Gini (2015) | 59,1[15] – hoog | ||||
Geldeenheid | Dollar (NAD ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
SAT (UTC+2) nie toegepas nie (UTC+2) | ||||
Internet-TLD | .na | ||||
Skakelkode | +264 | ||||
aDuits en Afrikaans was ook amptelike tale tot onafhanklikheid in 1990. Die meerderheid van die bevolking praat Afrikaans as ’n tweede taal, terwyl Oshiwambo die moedertaal van die helfte van die bevolking is. Duits is die moedertaal van sowat 32% van die blanke inwoners, terwyl net 3,4% Engels as huistaal praat.[16] |
Die naam "Namibië" is afgelei van die Namibwoestyn, wat die hele kusgebied van dié land beslaan. Dit is as ’n neutrale naam ná dié land se onafhanklikheid gekies om ’n moontlike benadeling van een van die Namibiese volke te voorkom. Mburumba Karina word as Namibië se naamgewer beskou.[19]
Namibië is die droogste land in Afrika suid van die Sahara[20] en is sedert die vroegste tye deur Boesmans, Damaras en Namas bewoon. Omtrent die 14de eeu n.C. het immigrerende Bantoes tydens die Bantoemigrasie die gebied bereik. Sedertdien vorm die Bantoegroepe, waarvan die Ovambo's die grootste is, die dominante bevolkingsgroep en sedert die laat 19de eeu vorm hulle die bevolkingsmeerderheid.
In 1878 het die Britse Kaapkolonie die hawe van Walvisbaai en die aflandige Pikkewyn-eilande geannekseer; met die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 het hulle ’n integrale deel van dié unie geword. In 1884 het die grootste deel van Namibië as Duits-Suidwes-Afrika ’n protektoraat (Schutzgebiet) van die Duitse Keiserryk geword. Die Duitsers het met die ontwikkeling van die infrastruktuur en landbou begin. Dit het en ’n Duitse kolonie gebly tot aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, nadat die Duitse troepe tydens die Suidwes-Afrika-veldtog in 1915 deur die Suid-Afrikaanse Leër verslaan is. In 1920 het die Volkebond die mandaat aan die Verenigde Koninkryk onder die administrasie van Suid-Afrika oorgedra. Vervolgens het Suid-Afrika sy wette, insluitende die rasseklassifikasies en reëls, Suidwes-Afrika opgelê. Vanaf 1948, toe die Nasionale Party tydens die algemene verkiesing van 1948 ’n meerderheid behaal het, het Suid-Afrika sy Apartheidswette ook op die destydse Suidwes-Afrika toegepas.
In die laat 20ste eeu het opstande en eise deur Afrikaleiers wat vir die Namibiese onafhanklikheid gepleit het, daartoe gelei dat die Verenigde Nasies in 1966 direkte verantwoordelikheid vir die gebied aanvaar het, maar Suidwes-Afrika het de facto onder Suid-Afrikaanse gesag gebly. Die VN het in 1973 SWAPO as die amptelike verteenwoordiger van die Namibiërs erken; dié party is deur die Ovambo's oorheers, wat die grootste deel van die bevolking vorm. Na interne konflikte het Suid-Afrika in 1985 ’n tussentydse administrasie in Namibië ingestel. Namibië het in 1990 volle onafhanklikheid van Suid-Afrika verkry, met die uitsondering van Walvisbaai en die Pikkewyn-eilande wat tot 1994 onder Suid-Afrikaanse beheer gebly het.
Namibië het ’n bevolking van 2,7 miljoen en is ’n parlementêre demokrasie met ’n veelpartystelsel. Landbou, veeteelt, toerisme en mynbou – insluitend die myn van diamante, uraan, goud, silwer en onedele metale – vorm die ruggraat van die Namibiese ekonomie. Gegewe die teenwoordigheid van die onherbergsame Namibwoestyn is Namibië een van die ylbevolkste lande ter wêreld. Ongeveer die helfte van die bevolking leef onder die internasionale broodlyn en die land is swaar getref deur die Vigs-epidemie met 15% van die volwasse bevolking wat teen 2007 besmet was.