Gujarati's
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Gujarati's (Gujarati: ગુજરાતી) is 'n Indo-Ariese etniese groep wat Gujarati as moedertaal praat en inheems is aan die Indiese deelstaat Gujarati. Gujarati's is prominent in ondernemerskap en sakeonderneming, en persoonlikhede soos Mahatma Gandhi en Vallabhbhai Patel het 'n histories-belangrike rol in die stryd teen Brits-Indië vir Indiese onafhanklikheid gespeel.[15][16][17][18] Die stigter van Pakistan, Muhammad Ali Jinnah, was ook 'n Gujarati. In die huidige tyd is die hedendaagse Indiese eerste minister, Narendra Modi, en Indië se welvarendste man, Mukesh Ambani, ook Gujarati's.
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Gujarati.
Gujarati's | |
---|---|
Totale bevolking: | ca. 60 miljoen[1] |
Belangrike bevolkings in: | Indië 55 492 554[2] Pakistan 1 000 000–3 000 000[3][4] |
Taal: | Gujarati |
Geloofsoortuiging: | Meerderheid: Hindoeïsme Minderhede: Islam • Christendom • Djainisme |
Verwante etniese groepe: | Ander Indo-Ariërs soos Bengale, Marathi's, Punjabi's, Rohingia, Sindhi's en Singalese |
Ondanks aansienlike migrasie hoofsaaklik om ekonomiese redes, bly die meeste Gujarati's in die Indiese deelstaat Gujarat.[19] Daarbenewens vorm Gujarati's 'n belangrike deel van die naburige metropolitaanse gebied van Mumbai, asook die uniegebiede Daman en Diu en Dadra Nagar Haveli, albei is voormalige Portugese kolonies.[20] Daar is ook groot Gujarati-immigrantegemeenskappe in ander dele van Indië, veral in groot stede soos Mumbai,[21] Delhi, Kolkata, Madras, Bangalore[22] en ander metropolitaanse gebiede soos Kollam en Kochi in Kerala.[23][24] Regdeur die geskiedenis[25] het Gujarati's as die grootste handelaars, nyweraars en ondernemers van Indië bekend geword,[26][27][28][29] en het as gevolg daarvan oor die hele wêreld, veral na ander dele van die Britse Ryk soos Fidji, Hongkong, Nieu-Seeland, Oos-Afrika en lande van Suider-Afrika, migreer.[30] Diasporas en transnasionale netwerke in baie van hierdie lande is meer as 'n honderd jaar oud.[31][32] In onlangse dekades het groter getalle Gujarati's na Engelssprekende lande soos die Verenigde Koninkryk, Australië, Kanada en die Verenigde State migreer.[33][34] In Suid-Afrika bly sowat 300 000 Gujarati's en behoort tot die Indiese Suid-Afrikaners met hul sentrum Durban in KwaZulu-Natal.