Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 95 stellings is 'n lys van stellings wat in 1517 deur Martin Luther, professor van morele teologie aan die Universiteit van Wittenberg in Duitsland, geskryf is. Luther het op 31 Oktober 1517, 'n dag voor die Feesdag van Allerheilige, die 95 stellings teen een of meer kerkdeure in Wittenberg vasgespyker, en hierdie datum word gesien as die begin van die Protestantse Hervorming. Die 95 stellings het die Rooms-Katolieke leer oor saligheid in etlike verklarings weerlê, en Luther het dit gestaaf met redenasies en die aanhaal van bybeltekste. Die dokument, wat in Latyn opgestel is, was 'n uitnodiging tot 'n debat onder sy mede-akademici, getiteld Redestryd oor die Krag en Doeltreffendheid van Aflate. Hierdie debat het blykbaar nooit plaasgevind nie, omdat die stellings gou in die volkstaal, Duits, vertaal en versprei is, sodat die omstreke in beroering gekom het.[1] Teen jaareinde het Caspar Nützel reeds gedrukte Duitstalige kopieë van die stellings uit Leipzig, Neurenberg, Basel en moontlik Augsburg versprei.[2]
Die bekendmaking van die 95 stellings is aangehelp deur die drukkuns en was die eerste salvo van 'n bittere geloofstryd en 'n kettingreaksie van Wes-Europese omwentelinge.[3] Die stellings het wel kerklike teologie aangespreek, maar as newe-effek is die kerk se finansieringspolitiek onder die loep gebring. Die Rooms-Katolieke Kerk se reaksie was om die stellings en Luther se latere geskrifte met opbouende onverdraagsaamheid te verwerp. By Augsburg in 1518 en Worms in 1521 is Luther onder groot druk geplaas om sy corpus met inbegrip van die stellings terug te trek, en sy ekskommunikasie is kort daarop bekendgemaak.
Die publiek en hul leraars is geprikkel om aan uiteenlopende teologiese oortuigings uiting te gee, en etlike humaniste het by die nuwe gedagtes aanklank gevind. Daar was egter ook Erasmus, Zasius, Reuchlin en Wimpheling wat nie van hul bestaande oortuigings afgewyk het nie.[4] Prinse en keurvorse is genoop om nuwe alliansies te vorm soos die Schmalkaldiese bond, 'n teenvoeter vir Rooms-Katolieke keiserlike magte wat die ou orde met geweld wou afdwing. Verskillende oorloë het uit die twispunt voortgevloei: die Kleinboeroorlog, Schmalkaldiese oorlog en uiteindelik die Dertigjarige oorlog, waar teologiese voor politieke oorwegings gewyk het.
Die 95 stellings het nog nie 'n omvattende uiteensetting van Protestantse leer gebied nie. Die reformatoriese sleutelbegrip van "regverdiging uit geloof alleen" is wel by implikasie aangeraak,[5] maar in hoofsaak het die stellings gewentel om Luther se vroeë sienings oor aflate en boetedoening. Die afskaffing van hierdie biegpraktyke onder Protestante het die weg gebaan vir die beëindiging van etlike ander gebruike van die middeleeuse Christendom.[1]
In die sakrament van boetedoening het Christene hulle sondes beken en vryspraak daarvoor ontvang. Genoegdoening of restitusie was 'n inherente aspek van die sakrament, en het die betaling van boetes behels. Benewens kon 'n werklik berouvolle persoon wat sy sondes beken, deelse, of selfs plenêre (d.i. volle) vrywaring van tydelike straf in die vagevuur ontvang deur die aankoop van 'n aflaat.[1] Dit het aankopers of hul gestorwe familielede egter nie toegang tot die hemel belowe, of selfs vergifnis van sondes nie, maar sou slegs bestrawwing in die vagevuur verkort. Die kerk het dit toegestaan vir sekere goeie werke, en dit was nie altyd te koop nie.[6] Die jubileum-aflate wat Luther se aandag getrek het, was van die plenêre soort.
Albrecht en sy ouer broer Joachim I (keurvors sedert 1499) van die Brandenburgse prinsehuis het onder die vernaamste ondersteuners van die pousdom in die Heilige Romeinse Ryk getel. Reeds in 1513, op ouderdom 23, het Albrecht van Brandenburg die episkopale administrateur van Halberstadt en die aartsbiskop van Maagdeburg geword. In 1514 sou hy ook aartsbiskop van Mainz word, en vanaf 1518 was hy ook kardinaal. Pouslike instemming tot sodanige opeenhoping van kerkampte is teen groot onkoste verkry, 14 000 gulde vir vierkiesing tot Maagdeburg en 10 000 vir Mainz, en volgens Angelus altesaam in die 30 000 gulde. Dit is deur die Augsburgse Fugger-bankiers voorgeskiet, en om sy skuld te delg het die aartsbiskop aan die sg. "Pietersaflaat" deelgeneem. Dit was 'n aflaatsubskripsie vir finansiering van die nuwe Sint Pieterskerk te Rome, wat reeds in 1506 deur pous Julius II gepubliseer is. Van 1500 tot 1517 was daar vyf uitgifte van aflate in Duitsland, en dié van 1515 is deur pous Leo met 'n pouslike bul vir aflaathandel in die Mark Brandenburg en die kerkprovinsies Mainz en Maagdeburg gemagtig. Aan Albrecht is 'n oktrooi van agt jaar toegestaan waarvolgens die helfte van die inkomste uit die jubileum-aflaat sy skuld sou delg, en die orige helfte die pous self toegeval het. Hierdie ooreenkoms is deur die prelaat Dr. Johannes Blankenfelde, seun van 'n voormalige koopman en burgemeester van Berlyn, bemiddel.[3]
Nou het aartsbiskop Albrecht gesoek na 'n vernuftige en welsprekende "algemene onderkommissaris van aflate" of commissarii apostolici et haereticae pravitatis Inquisitoris specialis. Johann Tetzel, wat reeds kon terugkyk op 'n veelbewoë lewe, en reeds vanaf 1504 as aflaatprediker opgetree het, het hieraan voldoen.[3] Aan hierdie dominikaanse monnik en prediker is volmag verleen om die aflaatbriewe te bemark. Hy het toe al reeds die publiek aangevuur met die woorde: "Sodra geld in die kas klingel, spring 'n siel uit die vagevuur in die hemel." Veral waar hy die saak van gestorwe familielede by sy bemarking betrek het, waar ook geen berou of boetedoening betrokke kon wees nie, het hy gewis die Rooms-Katolieke leer te buite gegaan. Daar was verder gerugte dat hy aflate verkoop het vir kwytskelding van skuld en vergifnis van toekomstige sondes, maar Tetzel en sy ondersteuners sou dit ontken.[6] Die pryslys vir enkele sondeaflate was nietemin bekend; vir kerkroof nege, doodslag sewe, heksery ses, en ouer-, broeder- of sustermoord vier gouddukate.[7]
Angelus sou Tetzel as 'n "losse booswig en egbreker" beskryf het, en Otto von Corvin (1812–1886) was eweneens baie onvleiend in sy "Pfaffenspiegel" van 1845, waar hy hom teken as 'n "onbeskaamde vet deugniet", "skurk" en "onwaardige monnik." Daar word vertel dat Tetzel in Innsbruck ter dood veroordeel is, en net danksy die voorspraak van Frederik III van Sakse vrygelaat is.[3]
Mense van Wittenberg het die grens na Jüterbog oorgesteek om aflate te koop. Sommige het begin twyfel aan die waarde van hul aankoop, en het met hul terugkeer vir Luther gevra om sy mening daaroor uit te spreek. Hy het geweier om die aflate se waarde te beaam en het instede voortgegaan om die stellings aan te bring waar die volgende dag baie mense vir 'n feesdag verwag is.[8] Hierdie feesdag was een van twee dae per jaar waartydens keurvors Frederik se relikwieë in die kasteelkerk besigtig kon word.[2] Dat Luther by al hierdie dokumente reeds sy familienaam van "Luder" na "Luther" verander het, getuig van sy nuutgevonde skriftuurlike en renaissance-humanistiese vrydenkendheid (vgl. Joh 8:31-32, 1 Kor 9:19 en Eleutherius, d.i. bevryd).[2]
Geskiedkundiges aanvaar oorwegend dat Luther wel 95 handgeskrewe stellings op die veelbesproke dag, 31 Oktober 1517, teen die kasteelkerk se deur gespyker het, en hierdie datum word gevier as Hervormingsdag. Tog het geen oorspronklike, en baie min gedrukte weergawes behoue gebly. Alhoewel Hieronymus Höltzel se Latynse weergawe slegs die jaartal 1517 toon, het Luther se medehervormer Philipp Melanchthon in 1546 geskryf dat dit wel op 31 Oktober vasgespyker is. Georg Rörer, Luther se skriba, het in 'n nota aangedui dat Luther die stellings aan elke kerk se deur geplaas het, maar die Rooms-Katolieke Luther-navorser Erwin Iserloh sou in 1961 aanvoer dat die kerkdeur-weergawe niks meer as 'n gewilde legende is nie.[9] Alternatiewelik sou die publikasie daarvan deur Luther se familielede, die Nesens, tot die verspreiding daarvan aanleiding gegee het.
Luther wou die lys van stellings in Latyn oor die leer en praktyk van aflate gebruik as die grondslag vir 'n teologiese diskoers oor etlike kwelvrae rondom hierdie onderwerp. Die inhoud daarvan was nie sprekend van 'n radikale breuk met die Rooms-Katolieke Kerk nie, en Luther het later selde daarvan melding gemaak. Luther het immers tussen 1516 en 1521 twintig verskillende stellingstelle vir redevoering voorberei.[10] Ook het Andreas Karlstadt 'n stel van sulke stellings in April 1517 opgestel, wat meer radikaal as Luther s'n was.
Die stellings, alhoewel 'n besprekingsdokument, erken die pouslike instelling meer as 20 keer, en wel as deur Christus self geordineer. Die stellings doen egter afbreuk aan die pouslike waardigheid en gesag oor aflate. In stellings 25 tot 29 word die bestaan van die vagevuur erken alhoewel dit afwyk van tradisionele Rooms-Katolieke leer.[11] Alhoewel die 95 stellings die misbruik van aflate sterk aanval, was Luther nie in beginsel teen aflate gekant nie, aangesien sy stelling 73 lees: "Die pous bulder terreg teen diegene wat op iedere wyse strewe om die verkoop van aflate te ondermyn." Die bemarking daarvan, soos destyds deur Johann Tetzel aangevoor, het hy egter as 'n ernstige misbruik uitgewys. Die aanvangstellings getuig van Luther se nuwe insig in die betekenis van metanoia, 'n geestelike boetvaardigheid (vgl. Matt 4:17).
Op dieselde dag het Luther nog twee dokumente die lig laat sien, wat wel gedateer is. Die bekendste hiervan is die eerbiedige, dog dringende brief of beswaarskrif wat Luther aan die aartsbiskop Albrecht van Mainz gestuur het. Hierin het Luther die wanbegrippe uiteengesit wat deur Tetzel gepredik is, en hy het die aartsbiskop plegtig versoek om nuwe instruksies uit te ryk wat Tetzel onder bedwang sou bring. Die aartsbiskop het die brief aan die Universiteit van Mainz voorgelê vir 'n mening, en ook 'n afskrif na Rome gestuur.[2]
Hierin het Luther 'n bedekte stel afgetrap, want pous Leo en die aartsbiskop het soos reeds gemeld saam uit die verkope van aflate en kerkampte voordeel getrek. Die aartsbiskop was kronies by sy broers en bankiers in die skuld vir die aankoop van sy ampte, en die pous het 300 000 gulde of die helfte van die inkomste ontvang vir die verfraaiing van die pouslike hof en aanbou van die nuwe Sint Pieterskerk.[7] Albei was ook prelate wat danksy hul invloedryke families vinnige opgang in die kerk gemaak het.[3]
Die derde dokument was 'n kort verhandeling, getiteld Tractatus de indulgentiis per Doctorem Martinum ordinis s. Augustini Wittenbergae editus, oftewel "'n Verhandeling oor Aflate gepubliseer deur Doktor Martin van die Orde van Sint Augustinus te Wittenberg. Aan aartsbiskop Albrecht van Mainz, 31 Oktober 1517." Hierdie langvergete verhandeling van Luther is in die argiewe van Mainz opgespoor "tussen die papiere wat die korrespondensie tussen aartsbiskop Albrecht en die Mainz-universiteitsfakulteit van Desember 1517 bevat het." Dit is in 1907 deur F. Herrmann in die Tydskrif vir Kerkgeskiedenis (ZKG) gepubliseer.[12] Die Jesuïet en Luther-kenner Jared Wicks glo dat hierdie vroeë verhandeling van besondere historiese belang is:
Binne twee maande het Johann Tetzel gereageer met 'n oproep dat Luther op die brandstapel geplaas moet word vir kettery. Tetzel het verder die teoloog Konrad Wimpina gevra om (106) teenstellings teen Luther se werk op te stel,[3] wat onder meer die volgende stelling ingesluit het: "Christene behoort geleer te word dat die pous, by magte van sy jurisdiksie, bo die hele Rooms-Katolieke Kerk en sy rade verhewe is, en dat al diegene in ootmoed aan sy statute gehoorsaam moet wees."[1] Tetzel het hierdie stellings in Januarie 1518 in 'n redestryd voor 'n groot versameling geestelikes en monnike by die Universiteit van Frankfurt aan die Oder verdedig.[3][15] 800 gedrukte kopieë van hierdie redestryd is na Wittenberg versend om daar verkoop te word, maar universiteitstudente het dit by die boekverkoper afgeneem en verbrand. In Februarie 1518 het Roomse kerkowerhede geëis dat Luther se kloosterorde hom die swye oplê.[2]
Luther het begin vrees dat die situasie buite beheer was en dat hy in gevaar mog verkeer. Om sy teenstanders te paai het hy in Maart 1518 die "Preek oor Aflate en Genade" (Sermon von Ablass und Gnade) gepubliseer, wat nie die pous se gesag uitgedaag het nie.[10] Hierdie kort Duitstalige pamflet was vir leke toeganklik[14][16] en is weens die sukses daarvan 20 keer herdruk.[15] Tetzel het gereageer met 'n punt vir punt weerlegging daarvan, getiteld "Weerlegging van 'n Voorbarige Preek van Twintig Foutiewe Artikels," wat baie verwysings na die bybel en belangrike teoloë bevat het.[10] Sy pamflet was egter nie naastenby so gewild as Luther s'n nie. Luther se repliek op Tetzel se pamflet, getiteld "Rakende die Vryheid van die Preek oor Pouslike Aflate en Genade" was egter weereens 'n suksesvolle publikasie.[17]
Die vinnige verspreiding van die 95 stellings het Luther onkant gevang, sodat hy vier maande later, op 5 Maart 1518, aan Christoph von Scheurl sou skryf:
Toe Luther hoor dat Tetzel op sy sterfbed was, het hy 'n troosbrief aan hom geskryf. Hierin het hy Tetzel gevra om nie veronrus te voel nie, want "die saak het nie om jou ontwil ontstaan nie, en het tewens 'n heel ander pa gehad."[20] Tetzel is in 1519 dood in die Leipzigse dominikaanse klooster.[3] Hy het lae aansien geniet en is deur die publiek vermy, deels weens klaarblyklike valse gerugte oor hom wat deur Karl von Miltitz versprei is.
Luther is deur sy Augustynse opsiener, Johann von Staupitz, afgevaardig om te presideer oor redestryde wat in April 1518 by die Algemene Gemeente van Duitse Augustyne in Heidelberg gehou is.[2] Die ontwikkeling van Luther se gedagtes tot 'n teologie sou hier belangrike blootstelling kry, en die toekomstige hervormers Martin Bucer en Johannes Brenz was in die gehoor. Hier het Luther 40 stellings (28 teologies en 12 filosofies) van sy sg. Heidelbergse Redestryd verdedig. Die Rooms-Katolieke Kerk het daarop vir keurvors Frederik gevra om Luther aan hulle uit te lewer, maar die keurvors het keiser en pous teëgegaan deur te eis dat Luther op Duitse grondgebied verhoor word.[2] Von Staupitz het nou vir Luther vrygestel van sy eed van getrouheid aan die kloosterorde, sodat die keurvors voortaan sy enigste beskermheer was. Toe die Augsburgse verhoor (12-18 Oktober 1518) deur kardinaal Cajetan 'n dooiepunt bereik, was Luther wellig op die drumpel van arrestasie. Luther het egter middernagtelik weggeglip, en het presies 'n jaar na die vasspykering van sy 95 stellings weer in Wittenberg gearriveer.
Die formele Rooms-Katolieke teëwerping van Lutherse teologie en van sy siening oor boetedoening sou in die Teenreformasie met die Konsilie van Trente (1545–1563) bewoord word. Aldaar is boetedoening bevestig as een van die sewe Rooms-Katolieke sakramente, en as waarlik en behoorlik deur Christus verordineer as die versoeningsproses vir gelowiges met God, so dikwels as hulle na hul doop in sonde sou val.[5]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.