Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Innsbruck is die hoofstad van die deelstaat Tirol in die weste van Oostenryk. Dit lê in die Innriviervallei waar die Wipptal-(Sill)rivier in die Innrivier vloei, en verskaf toegang tot die Brennerpas, ongeveer 20 km suid van Innsbruck. Die stad word omring deur hoë berge, nl. die Nordkette (2 334 m) in die noorde, Patscherkofel (2 246 m) en Serles (2 716 m) in die suide.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Oostenryk |
Deelstaat | Tirol |
Koördinate | 47°16′N 11°23′O |
Stigting (eerste verwysing) | 1187 |
Stadstatus | 1187/1205 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 104,81 vk km |
Hoogte bo seevlak | 574 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2017) | 132 236 |
- Bevolkingsdigtheid | 1262/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Burgemeester | Georg Willi (GRÜNE) |
Amptelike Webwerf | www.innsbruck.at |
Innsbruck is 'n internasionaal bekende wintersportsentrum en het twee keer – in 1964 en 1976 – as gasheerstad van die Olimpiese Winterspele opgetree. Dit het ook die eerste Jeugwinterspele in 2012 aangebied. Die woord bruck kom van die Duitse woord Brücke wat brug beteken. Innsbruck beteken dus "Brug oor die Inn".
Daar is aanduidings van menslike lewe uit die vroeë Steentydperk. Die feit dat die pre-Romeinse plekname oorleef het is 'n teken dat die streek reeds oor 'n lang tydperk deur mense bewoon word. In die vierde eeu het die Romeine die fort Veldidena (die naam oorleef vandag in die voorstad Wilten) by Oenipons (Innsbruck) opgerig, om die openbare pad tussen Verona, Brenner en Augsburg te beskerm omdat dit ekonomies belangrik was.
Die eerste sprake van Innsbruck dateer terug na die naam Oeni Pontum of Oeni Pons wat Latyns is vir brug (pons) oor die Inn (Oenus), wat 'n belangrike oorsteekpunt van die Innrivier was. Die seël van die stad, asook die wapenskild bied 'n arendsblik van die Innbrug, 'n ontwerp wat sedert 1267 gebruik is. Die roete oor die Brennerpas was in daardie tyd 'n groot vervoer- en kommunikasieskakel tussen die noorde en die suide, en dit was die maklikste roete oor die Alpe. Die geld wat ingekom het d.m.v. 'n oorgangstasie het die stad in staat gestel om te bloei.
In 1429 het Innsbruck die hoofstad van Tirol geword en in die vyftiende eeu het die stad die middelpunt van Europese politiek en kultuur geword aangesien keiser Maximilian I in Innsbruck gebly het in die 1490's. Die stad het voordeel getrek uit die keiser se teenwoordigheid soos duidelik blyk uit die Hofkirche ("hofkerk"). 'n Begrafnisstandbeeld is beplan en gedeeltelik hier opgerig deur sy opvolgers. Die ensemble met 'n senotaaf en die bronsstandbeelde van regte en mitiese voorvaders van die Habsburgse keiser is een van die hoofkunsmonumente in Innsbruck.
In 1564 het die aartshertog van Oostenryk, Ferdinand II, die regering van Tirol oorgeneem en ander Oostenrykse besittings is vanaf Innsbruck beheer tot en met die 18de eeu. Ferdinand II het Schloss Ambras laat bou en sy unieke Renaissance-versamelings daar laat uitstal, wat deesdae deel uitmaak van Wenen se Kunshistoriese Museum. Tot en met 1665 het 'n stamvader van die Habsburgse vorstehuis oor Innsbruck regeer met 'n onafhanklike hof. In die 1620's is die eerste operahuis noord van die Alpe in Innsbruck (Dogona) gebou.
Die Universiteit is in 1669 gestig. Leopold I het, as vergoeding vir die hof van keiser, weer van Wenen regeer nadat die regering van die Habsburgse vorstehuis en die Tirolse stamvaders geëindig het.
Gedurende die Napoleontiese Oorloë is Tirol aan Beiere opgegee, 'n bondgenoot van Frankryk. Andreas Hofer het 'n Tiroolse landelike weermag gelei ná die oorwinning op die Berg Isel teen 'n saamgestelde weermag van Beierse en Franse magte, en het Innsbruck daarna die kern van sy bewind gemaak. Die saamgestelde weermag het later die Tiroolse burgermag omver gewerp en tot 1814 was Innsbruck deel van Beiere. Na die Weense Kongres is administrasie aan Oostenryk teruggegee. Die Tiroolse held, Andreas Hofer, is in Mantua tereggestel; sy oorskot is teruggestuur na Innsbruck in 1823 en in die Fransiskaanse kerk begrawe.
In 1938 is Oostenryk de facto deur Nazi-Duitsland geannekseer. Na hierdie anneksasie word in Duits dikwels as die Anschluss verwys. Tussen 1943 en 1945 het Innsbruck 21 lugaanvalle ondergaan en is die stad erg beskadig. Die KZ Innsbruck-Reichenau, 'n konsentrasiekamp was hier geleë.[1]
In 1929 is die eerste amptelike Oostenrykse Skaakkampioenskap is Innsbruck gehou. Die wenners was Erich Eliskases en Eduard Glass.
Jaar | 1900 | 1951 | 1961 | 1971 | 1981 | 1991 | 2001 | 2007 | 2014 |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Inwonertal[2] | 49 727 | 95 055 | 100 959 | 116 104 | 117 287 | 118 112 | 113 392 | 117 915 | 124 579 |
As gevolg van die hoogte bo seespieël en sy posisie in Sentraal-Europa (ver van die kus) het Innsbruck 'n hemiboreale (half-noordelike) klimaat. (Köppen-klimaatklassifikasie: Dfb). Winter is koud – kouer as in die meeste ander Eusopese stede – en dit sneeu. Winternagte kan ysig word met temperature tot so laag as -12°C.
Lente duur nie lank nie; dae begin warmer word, soos tot meer as 15°C, maar nagte bly koud tot ysig.
Somer is hoogs wisselvallig en onvoorspelbaar. Dae kan koel (17°C) en reënerig wees of sonnig en baie warm met temperature tot 34°C. In die somer, soos van 'n Alpynse klimaat verwag kan word, is die daaglikse temperatuurwisseling soms baie hoog, maar die nagte bly koel (12°C gemiddeld. maar daal soms tot 6°C).
Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 9°C.
Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar | ||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Gemiddelde daaglikse maksimum temperatuur (°C) | 1 | 4 | 11 | 16 | 21 | 24 | 26 | 24 | 21 | 14 | 8 | 2 | 14.3 | |
Gemiddelde daaglikse minimum temperatuur (°C) | -7 | -4 | -1 | 4 | 8 | 11 | 13 | 12 | 9 | 4 | 0 | -4 | 3.8 | |
Gemiddelde maandelikse reënval (mm) | 53 | 40 | 42 | 57 | 75 | 104 | 121 | 116 | 77 | 61 | 57 | 53 | ||
Bron: The Weather Channel |
Omdat Innsbruck 'n gewilde toeristebestemming is, word die volgende gebeurtenisse jaarliks geskeduleer:
Weens Innsbruck se ligging tussen hoë berge dien dit as die ideale plek vir ski in die winter en bergklimmery in die somer. Daar is verskeie ski-oorde om Innsbruck met die Nordkette wat deur 'n sweefspoor bedien word asook adissionele hysstoele. Ander nabygeleë ski-oorde sluit in Axamer Lizum, Patscherkofel, Igls, Seefeld, Tulfes en Stubai Vallei. Die bevrore terrein in die laasgenoemde maak dit selfs in die somermaande moontlik om te ski.
Die Olimpiese Winterspele is twee keer deur Innsbruck aangebied, eers in 1964 en toe weer in 1976 toe kiesers in Colorado 'n bindingsreferendum in 1972 verwerp het wat voorgestel het om die spele in Denver te borg. Die 1976 Olimpiese Winterspele was die laaste wat gehou is in die Duitssprekende Alpe (Oostenryk, Duitsland of Switserland).
Saam met St. Moritz, Switserland en Lake Placid, New York in die Verenigde State is dit een van die plekke wat twee maal die Olimpiese Winterspele aangebied het. Dit het ook die Paralimpiese Winterspele 1984 en 1988 aangebied.
Op 12 Desember 2008 is Innsbruck gekies as gasheerstad vir die Olimpiese Jeugwinterspele 2012 wat van 13 Januarie tot 22 Januarie 2012 plaasgevind het.[3]
Ander noemenswaardige gebeurtenisse in Innsbruck sluit die Air & Style Sneeuplank Wedstryd van 1994 tot 1999 en 2008 en die Yshokkie Wêreldkampioenskap in 2005. Tesame met die stad Seefeld het Innsbruck die Winter Universiade in 2005 aangebied. Innsbruck se Bergiselschanze is een van die heuwels vir die bekende Vierschanzentournee.
Innsbruck is die tuiste van die skooerklub FC Wacker Innsbruck, wat in die Oostenrykse Eerste Sokkerliga (tweede reeks) speel. FC Wacker Innsbruck se stadion, Tivoli Neu, is een van die agt stadions wat Euro 2008 aangebied het wat in Junie 2008 in Oostenryk en Switserland gespeel is.
Die stad het ook 'n Amerikaanse Voetbal eindronde, die Eurobowl XXII, tussen die Swarco Raiders Tirol en die Raiffeisen Vikings Vienna, aangebied.
Innsbruck is die kulturele en ekonomiese sentrum van Wes-Oostenryk en is een van die bekendste toeristesentra, met meer as 'n miljoen oornag verblyffasiliteite. Dit is ook 'n Universiteitstad.
In Innsbruck is daar ongeveer 78 000 werknemers en omtrent 8 000 werksplekke. 35 000 mense pendel daagliks na Innsbruck.
Toerisme is die belangrikste bron van inkomste vir die stadsraad, hoofsaaklik weens Innsbruck se middestad met die historiese geboue, die vriendelike omgewing en die uitgebreide sportsfasiliteite in die winter en somer.
Innsbruck is geleë langs die A12/A13 deurgang wat toegang tot die deurpad na Verona, Italië en München, Duitsland verskaf. Die A12 en A13 loop inmekaar naby Innsbruck, waar die A13 dan tot 'n einde kom.
Innsbruck Hauptbahnhof, die belangrikste spoorwegstasie van Innsbruck en Tirol, is een van die besigste treinstasies in Oostenryk. Italië en suid-Duitsland word verbind deur die Oostenrykse oos-wes spoorweg wat die suid-wes roete deur die Brennerpas oorkruis.
Die stad se tremnetwerk bestaan uit twee stadsbane en twee bane wat die omliggende gebied – die Innsbrucker Mittelgebirgsbahn – tot Igls en die Stubaitalbahn tot in die Stubaital tot en met Fulpmes – bedien. Die netwerk sal in die komende jare vergroot word om Hall in Tirol in die ooste en Völs in die weste te bereik. (Sodoende word 'n vorige trembaan wat in die laat 1960's gesluit is en Innsbruck en Solbad Hall (soos Hall in Tirol vroeër bekend was) verbind het, vervang. Die trolliebusdiens sal afgeskaf word soos die tremnetwerk vergroot word. Verskeie busroetes bedien die binnestad en omliggende areas. Aan die einde van 2007 is die Hungerburgbahn — 'n kabelspoorwegdiens na die Hungerburgbuurt — ingewy.
Innsbruck is die tuiste van die oudste gimnasium in wes-Oostenryk, die "Akademisches Gymnasium Innsbruck". Die skool is gestig in 1562 deur die Jesuïete en was die voorloper van die Universiteit wat in 1669 gestig is.
Innsbruck is die tuiste van verskeie Universiteite. Die bekendste is die Universiteit van Innsbruck (Leopold-Franzens-Universität), die Innsbruck Mediese Universiteit en die MCI Management Center Innsbruck.
Die uitslae van die 2006 plaaslike verkiesings was:
Innsbruck se Susterstede is:
|
|
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.