From Wikipedia, the free encyclopedia
Wladimir Wladimirowitsj Majakofski (Russies: Владимир Владимирович Маяковский, wetenskaplike transliterasie Vladimir Vladimirovič Majakovskij; * 19 Julie 1893 in Bagdadi, goewernement Kutaissi, Russiese Ryk, tans Georgië; † 14 April 1930 in Moskou) was 'n Sowjet-Russiese digter en dramaturg wat as die leidende verteenwoordiger van die Futurisme in Rusland beskou word. As veelsydige kunstenaar het Majakofski naas gedigte ook tonele geskryf waarvoor hy ook die regie behartig het, as akteur in rolprente opgetree en redaksiewerk verrig vir die avantgarde-kunsjoernaal LEF wat hy saam met die digter en kritikus Osip Brik en sy vrou Lilja as 'n literêre platform vir Russiese dadaïsme en konstruktivisme in die lewe geroep het.
Wladimir Majakofski | |
---|---|
Wladimir Majakofski omstreeks 1925 | |
Gebore | Wladimir Wladimirowitsj Majakofski 19 Julie 1893 Bagdadi, goewernement Kutaissi, Russiese Ryk (tans Georgië) |
Sterf | 14 April 1930 (op 36) |
Nasionaliteit | Rusland (1893–1917) Sowjetunie (1922–1930) |
Beroep | Digter, dramaturg, kunstenaar en akteur |
Handtekening | |
Majakofski, wat hom ná die afsterwe van sy vader in 1906 in Moskou gevestig het, was aanvanklik 'n entoesiastiese aanhanger van die Russiese Rewolusie en die nuwe Sowjetbewind; sy werk sluit agitprop-plakkate vir die Kommunistiese Party tydens die Russiese Burgeroorlog en die Russiese Staatstelegraafagentskap in. Vanaf die laat 1920's het Majakofski egter begin om openlik kritiek uit te spreek teen negatiewe ontwikkelinge en misstande in die Sowjet-samelewing, veral die toenemende burokrasie, soos beskryf in sy satiries-fantasties-utopiese drama Клоп («Die weeluis», 1929).[1] Siekte en teleurstellings in sy privaat lewe het - net soos die kritiek en druk van die kant van literatuur-funksionarisse - 'n skaduwee oor sy lewe gegooi. Op 14 April 1930 het Majakofski sy eie lewe geneem.[2]
Josef Stalin het na Majakofski in 1935 verwys as die Sowjettydperk se "beste en mees begaafde digter".[3] Sy verheffing tot die Sowjetunie se kwasi-amptelike digter was vir westerse literatuurwetenskaplikes rede genoeg om Majakofski se werk grotendeels te ignoreer - ondanks sy sterk invloed op ander digters. Die eerste Majakofski-biografie, wat buite die Sowjetunie gepubliseer is, was Bengt Jangfeldt se Med livet som insats : berättelsen om Vladimir Majakovskij och hans krets wat in 2007 in Swede verskyn het en in 2015 in Engels vertaal is.[4]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.