Nasionale vlag From Wikipedia, the free encyclopedia
Die vlag van die Republiek China (ook bekend as die vlag van Taiwan of die Blou lug, wit son en geheel rooi grond) is op 1 Januarie 1928 deur die Republiek China aanvaar en op 25 Oktober 1949 deur die Republiek China op Taiwan. Die vlag vertoon ’n enkele rooi baan met ’n blou skildhoek waarop ’n wit son met twaalf strale gesentreer is. Die skyf en driehoeke simboliseer die son en die sonstrale wat daaruit voortvloei.
Bynaam | 青天白日滿地紅, letterlik “Blou lug, wit son en geheel rooi grond” |
---|---|
Gebruik | Burgerlike- en Staatsvlag en Nasionale vaandel |
Verhouding | 2:3 |
Goedgekeur | 1894 (deur die “Herleef China Geselskap”, oorspronklike weergawe) 1906 (byvoeging van die rooi veld) 1 Januarie 1912 (vlootvaandel) 5 Mei 1921 (deur die Guangzhou-regering) 9 Desember 1928 (in vastelandse China) 25 Oktober 1945 (in Taiwan) |
Ontwerp | ’n Enkele rooi baan met ’n blou skildhoek waarop ’n wit son met twaalf strale gesentreer is. |
Ontwerp deur | Lu Haodong en Sun Yat-sen |
Vlag van die Republiek China | ||
Name (taalvariante) | ||
Tradisionele Chinees | 中華民國國旗 | |
Vereenvoudigde Chinees | 中华民国国旗 | |
Pinyin | Zhōnghuá Mínguó Guóqí | |
Betekenis | Republiek China-vlag |
Blou lug, wit son en geheel rooi grond | ||
Name (taalvariante) | ||
Tradisionele Chinees | 青天白日滿地紅 | |
Vereenvoudigde Chinees | 青天白日满地红 | |
Pinyin | Qīng Tiān, Bái Rì, Mǎn Dì Hóng | |
Betekenis | Blou lug, wit son en geheel rooi grond |
Die vlag is oorspronklik in 1894 deur die Anti-Qing-groepering, die “Herleef China Geselskap” ontwerp en die rooi baan is in 1906 deur Sun Yat-sen bygevoeg.
Die vlag is vir die eerste keer in 1912 as die Vlootvlag op die Chinese vasteland gebruik,[1] en is in 1928 deur die Kuomintang (KMT) tot die amptelike nasionale vlag van die Republiek China verklaar. Dit is vasgelê in artikel ses van die Grondwet van die Republiek China toe dit in 1947 gepromulgeer is. Die vlag word nie meer op die Chinese vasteland gebruik nie nadat die Volksrepubliek China in 1949 gestig is.
Aangesien die eilande van Taiwan en Penghu tot 1945 onder Japannese beheer was, is die vlag eers in 1945 aldaar gebruik toe die Republiek China beheer verkry het. Die vlag word nou oorwegend gebruik in Taiwan, Penghu, Kinmen, Matsu en ander afgeleë eilande waarheen die Republiek China verplaas is nadat hulle in 1949 tydens die Chinese Burgeroorlog verslaan is.
Die “Blou-lug-en-wit-son”-vlag van Lu Hao-tung is in 1895 in Hawaii bekendgestel. Die twaalf strale van die wit son stel die twaalf maande van en die twaalf tradisionele shichen ((zh) 時辰), ’n tradisionele tydeenheid wat gelykstaande aan twee uur is, voor. Sun Yat-sen het die “rooi grond” tot die vlag toegevoeg om die gestorte bloed van die revolusionêre magte wat hul lewens geoffer het om die Qing-dinastie omver te werp en die Republiek China op te rig, voor te stel. Die drie kleure tesame stem ooreen met die Drie Beginsels van die Volk: blou stel nasionalisme en vryheid voor, wit stel demokrasie en gelykheid voor en rooi stel die volk se lewensbestaan en broederskap voor.[2] President Chiang Kai-shek het op die Nasionale Dag in 1929 verklaar dat “so lank as die nasionale vlag met die blou lug, wit son en rooi grond oor die Chinese grond wapper, dit die onafhanklikheid en vryheid nakomelinge van die Huang-keiser sal simboliseer”.
Die skildhoek word dikwels as partyvlag van die KMT gebruik. Die vlag het bykomende simboliek ontwikkel weens die unieke en opspraakwekkende politieke status van Taiwan. Op een vlak verteenwoordig die vlag ’n duidelike simbool dat Taiwan nie deur dieselfde regering as die Volksrepubliek China geregeer word nie omdat hierdie vlag verskil van dié van die Volksrepubliek China.
Omdat die vlag voorheen regoor China gebruik is, het dit intussen ’n simbool geword van ’n voortsetting van die ideale van die Chinese nasionalisme en bewegings wat hulle vir Chinese hereniging beywer. Dit het ook ’n simbool geword van ’n historiese en huidige verbintenis met China. Daarbenewens is die vlag afgelei van die seël van die KMT, en die kleur van die skildhoek word ook met die partykleure vereenselwig.
Sommige Chinese sien die vlag as ’n uitdrukking van Chinese nasionalisme en trots, gepaardgaande met gelyklopende verwerping van die huidige kommunistiese regering. Die vlag simboliseer moontlik ook ’n identifisering met en bewondering vir die politieke ideë van Sun Yat-sen en sy Drie Beginsels van die Volk.
Dit is egter ironies dat, gegewe die verbintenis van die vlag met Chinese nasionalisme in teenstelling met Taiwannese onafhanklikheid, die vlag ’n onverwagte bondgenoot in die Volksrepubliek China gevind het. Die Volksrepubliek het onafhanklikheidsgroeperinge in Taiwan gekritiseer wat die vlag wil verander of afstand daarvan doen, en het geïmpliseer dat regstappe om so iets uit te voer negatiewe reaksie van die Volksrepubliek China sal ontlok.
Die teenwoordigheid van die vlag in Taiwan onderskei egter ook die feit dat Taiwan en die Republiek China se territoriale eilande elders onder jurisdiksie val van ’n land wat onderskei word van die Volksrepubliek China. Die hys van die Taiwannese vlag word selfs deur die uiterste ondersteuners van Taiwannese onafhanklikheid, soos die Taiwannese Solidariteitsunie, voorgestaan wanneer die lede die onderskeie en onafhanklik regeerde stelsels en gebiede van die Republiek China en die Volksrepubliek China beklemtoon.
Die spesifieke ontwerpe van die vlag word gevind in die “Wet op die nasionale vlag en embleem van die Republiek China” in 1928. Die verhouding van die vlag is 2:3 waarvan drie kwart rooi is en een kwart blou is met ’n wit twaalfpuntige son op. Elke sonstraal lê op 30 grade sodat die somtotaal van die strale op 360 uitkom. Binne die son is die blou sirkel die deursnee van die wit son gedeel deur vyftien.[3]
In latere jare is meer spesifikasies van die skildhoek (wat ook as die KMT se vlag gebruik is) in die wetboeke geskryf. In die skets wat in “Wet op die Party en Vervaardiging en Metodes van die Nasionale Vlag” (黨旗國旗之製造及使用辦法), is die son in groter detail geskets en wiskundige waardes is aan elke element van die vlag toegeken. In die wet het die skildhoek steeds ’n verhouding van 2:3 gehad maar die wiskundige waardes is gegee as 24x36 meter. Die deursnee van die son en strale is 6⁄8 van die hoogte van die skildhoek (in meter sal dit dus 18 wees). Die deursnee van die son sonder die strale is 1⁄4 van die wydte van die skildhoek, dus 9 meter. Die blou sirkel wat bo-oor die ’n gedeelte van die son en strale is, is ’n 1⁄15 van die son se deursnee, dus 0,6 meter. Die hoek van die strale en die aantal het nie verander nie.[4]
Die kleure van die nasionale vlag is donkerrooi, wit en donkerblou. Die KMT-party gebruik slers wit en donkerblou en albei vlae word met ’n goue entversiering gekroon.[5] Die wet lys geen spesifieke kleurgewingsproses, soos Pantone, om die vlag te skep of skets nie. Ander publikasies, soos die Album des pavillons nationaux et des marques distinctive, gee benaderings vir Pantone-kleure. Die donkerblou kleur is Pantone 310c en die donkerrooi is Pantone 186c.[6] Album des pavillons verskaf ook die benaderde CMYK-kleure vir die vlag; donkerblou is 100-45-0-10 en donkerrooi is 0-90-75-5.[6]
Die volgende kleurbenaderings word hieronder weergegee
Kleurskema | Donkerblou | Donkerrooi | Wit | |||
---|---|---|---|---|---|---|
RGB | 0, 0, 149 | 254, 0, 0 | 255, 255, 255 | |||
Pantone | 310c | 186c | 284c | |||
CMYK | 100-45-0-10 | 0-90-75-5 | 0-0-0-0 | |||
Heksadesimaal | 000095 | FE0000 | FFFFFF |
Die eerste nasionale vlag van Taiwan is vir die eerste maal in 1663 gedurende die Koninkryk van Tungning gebruik. Dit was ’n eenvoudige wit vlag met die karakter “鄭” (zhèng) in ’n rooi sirkel in die middel van die wit vlag gehad. Die vlag van die Qing-dinastie is ook van 1683 tot 1895 gebruik toe die Republiek van Formosa verklaar is. Die vlag van Formosa het ’n tier op ’n eenvoudige blou met asuurwolke daaronder bevat.
Gedurende die Japannese oorheersing van Taiwan (1895 tot 1945) is die vlag van Japan op die eiland gebruik. Terselfdertyd is die “Vyfkleurvlag” deur die voorlopige senaat van die regering van die Republiek China wat op 1 Januarie 1912 gestig is, as nasionale vlag gekies. Die “18-stervlag” is deur die weermag aanvaar[7] en die moderne vlag is as ’n vlootvaandel aanvaar.[8] Sun Yat-senhet egter nie die vyfkleurvlag as geskik geag nie en het geredeneer dat die horisontale orde ’n hiërargie of klassestelsel veronderstel het wat gedurende die dinastiese tyd gegeld het.
Na die teruggawe deur Japan van Taiwan aan China in 1945, is die vlag in Artikel Ses van die 1947-grondwet van die Republiek China gespesifiseer. Na die Chinese Burgeroorlog in 1949 het die regering van Chiang Kai-shek die soewereine onafhanklike land van die Republiek China na die eiland van Taiwan verskuif. Op die Chinese vasteland het die kommunistiese magte van Mao Zedong die Volksrepubliek China gestig en hul eie vlag aanvaar. Op 23 Oktober 1954 is die Wet op die Nasionale Embleem en Nasionale Vlag van die Republiek China (中華民國|國徽|國旗法) deur die wetgewende Yuan gepromulgeer om die grootte, mates, verhouding, vervaardiging en bestuur van die vlag te spesifiseer.[9]
Hoewel openbare vertoning van die vlag van die Republiek China in die algemeen raar is en in die Volksrepubliek tot arrestasie kan lei, was Kambodja die eerste land wat die vertoon daarvan amptelik onwettig verklaar het. In Februarie 2017 het die Eerste Minister, Hun Sen, ’n verbod op die vertoon van die vlag in Kambodja aangekondig as deel van sy toewyding aan die Een-Chinabeleid.[10][11]
Onder politieke toesig van die Kuomintang het die vlag in die vroeë jare van die republiek dieselfde belangrikheid as die Kuomintang se partyvlag gehad. ’n Muur het bestaan waarop die Kuomintang-vlag op linkerkant en die nasionale vlag op regterkant vertoon is, elk teen ’n hoek gedraai met ’n portret van Sun Yat-sen, Vader van die Nasie, in die middel. Vir die spitsberade wat tydens die Chinese Burgeroorlog tussen die Kuomintang en die Kommunistiese Party van China plaasgevind het, is die vlag in gelyke stand met dié van die Chinese Sowjetrepubliek (Jiangxi Sowjet) vertoon. Die vlagwet het later die horisontale vertoon van die vlag met die portret van Sun Yat-sen in die middel van die rooi veld gespesifiseer. Hierdie vlag word in talle regeringsgeboue in Taiwan aangetref en dit is ook die vlag wat vertoon word wanneer die president en adjunkpresident van die Republiek China ingesweer word.
Die vlag het ’n alomteenwoordigheid in Taiwan. Die hys en stryk van die vlag geskied seremonieel en word deur die Vlagvolkslied begelei, terwyl die aanwesiges die vlag met die regterhand teen die regter wenkbrou groet. Van skoolkinders word tradisioneel verwag om soggens aan seremonies deel te neem wanneer die vlag begelei deur die Nasionale Volkslied van die Republiek China gehys word. Voordat die Krygswet in 1987 in Taiwan opgehef is, is van alle vaartuigbestuurders verwag om te stop wanneer hulle ’n vlagseremonie teëkom.
Die vlag van die Republiek China word tydens internasionale byeenkomste, waaraan die Volksrepubliek China deelneem, min vertoon, veral as gevolg die Volksrepubliek China se sterk druk oor die politieke status van Taiwan en die gepaardgaande minimale invloed van die Republiek China in hierdie kringe. Pleks daarvan word die Republiek China gewoonlik met ’n pseudoniem (dikwels “Chinese Taipei”) aangekondig en in tydens Olimpiese Spele gebruik dit sy eie vlag, die Chinese Taipei-vlag. Dit omdat die Internasionale Olimpiese Komitee die Volksrepubliek se standpunt erken, waarvolgens die Republiek China ’n ontbinde entiteit en die Republiek China op Taiwan onwettig is. Die verbanning raak ook toeskouers — tydens die tafeltenniseindstryd gedurende die Olimpiese Somerspele 1996 in Atlanta is ’n Taiwanese student in hegtenis geneem nadat hy met die vlag van die Republiek China gewaai het.[12]
Aan die begin van die 21ste eeu het die simboliek van die vlag egter begin verander, nadat die verhoudings tussen die Kuomintang in Taiwan en die Kommunistiese Party van China verbeter het. Die vlag van die Republiek China begin nou om die voorheen en moontlike toekomstige verenigde China te simboliseer, en vervolgens het die Volksrepubliek China dit duidelik gemaak dat ’n verandering van die vlag ’n groot provokasie ten gunste van Taiwanese onafhanklikheid sal wees. Die dubbelsinnigheid rondom die vlag het tydens die besoek van die Kuomintang se voorsitter, Lien Chan, aan die vastelandse China in April 2005 ontstaan, toe die vlag gedurende seremonies ter eerbetoning van Sun Yat-sen in aanwesigheid van ampsdraers uit beide die Republiek China en die Volksrepubliek China vertoon is. Een plek in die vastelandse China waar die Wit-Son-vlag steeds opvallend vertoon word is die mosaïek binne die Sun Yat-sen-mausoleum in Nanjing.
Die gebruik van die vlag in Taiwan weerspieël sy omstrede simboliek. Alhoewel ondersteuners van ’n Taiwanese onafhanklikheid soos die vroeëre president Chen Shui-bian die vlag tydens amptelike staatsverpligtinge gebruik en gegroet het, word dit tydens politieke veldtogte van die Demokratiese Progressiewe Party nooit vertoon nie. Dit is nie net omdat die vlag met die vastelandse China verbind word nie, maar ook weens die insluiting van Kuomintang se party-embleme op die vlag. Daar teenoor word die vlag tydens politieke veldtogte van die Kuomintang baie opvallend gebruik. Hierdie onderskeidelike gebruik raak selfs die kleure wat tydens politieke optogte gebruik word. Optogte van die Kuomintang gebruik veral die kleure van die vlag, met meer blou as rooi, terwyl tydens optogte van die onafhanklikheidsgesinde partye veral groen gebruik word, maar nóg blou nóg rooi.
Verskeie ondersteuners van ’n Taiwanese onafhanklikheid soos die vroeëre president Lee Teng-hui het al vir ’n verwydering van die huidige vlag gepleit, en daar bestaan verskeie ontwerpe vir ’n spesifiek Taiwanese vlag. Die vooruitsigte oor ’n verandering van die vlag is egter nie hoog nie, aangesien die verandering van die vlag ’n grondwetlike verandering eis; die huidige vlag geniet ’n groot ondersteuning onder Kuomintang-aanhangers en in ’n minder mate gewildheid onder moderate ondersteuners van ’n Taiwanese onafhanklikheid; en omdat ’n verandering aan die vlag tot politieke spanning met die Volksrepubliek sal kan lei. Gedurende die 2004-verkiesings is vir ’n kort rukkie voorgestel dat indien die groen koalisie die verkiesings sal wen, hulle die Kuomintang sal kan dwing om hul politieke kenteken in een van die vlag afwykende te laat verander. Dié voorstel het tot enkele dae se kontroversie gelei, maar het spoedig in vergetelheid geraak.
Gedurende ’n optrede in Manchester in November 2013 het die sanger Deserts Chang die vlag van die Republiek China vir die gehoor gewys, wat tot protes van die Volksrepubliek en die kansellasie van haar optrede in Beijing gelei het.[13]
Eweneens in November 2015 het die sanger Chou Tzu-yu saam met die groep Twice in die Suid-Koreaanse televisieprogram My Little Television verskyn. Sy het haarself as ’n Taiwanese aangekondig en die vlag van die Republiek China saam met die vlag van Suid-Korea gewys. Die Japanese vlag is ook gewys om die nasionaliteit van ander groeplede te wys.[14] Alhoewel dit deur die Volksrepubliek skerp veroordeel is, het die Republiek China se raad vir vastelandse verhoudings gemeen dat hulle Chou se vertoning van die Republiek China se vlag as ’n patriotiese daad ondersteun. Die raad het by die vastelandse Taiwanese Sakekantoor sy protes ingedien en daarop aangedring dat die Chinese regering “sy privaatsektor weerhou”, aangesien dit die gevoelens van die Taiwanese volk “ernstig beseer het” en die wedersydse verhoudinge verder ernstig sal kan beskadig. Hulle het mense van weerskante die seestraat aangespoor “om die swaarverdiende vriendelike bande te koester”.[15]
’n Plaaslike raad in die Australiese stad Rockhampton het ’n Taiwanese Australiese gesin ontstel nadat hulle oor die kinders se handgeskilderde uitbeeldings van die Taiwannese vlag ’n veselglasbulbeeld geverf het wat, as deel van die driejaarlikse Beef Australia-vieringe op die rivieroewer, geplaas is.[16] Die Taiwanese broers en susters het twee vlae onder die ander vlae van Barramundi wat deur studente van die North Rockhampton State High School geverf is, geteken.[17] Die bul, wat voor die Doeanehuis geplaas is, is ontwerp om die multikulturele gemeenskap van die stad te simboliseer, maar die twee vlae is later deur oorverfing gesensor.[17] Rockhampton se plaaslike raad het erken dat hulle dit in ooreenstemming met die Australiese regering se Een-Chinabeleid gedoen het.[17] In die Australiese media is egter beweer dat dit gedoen is om te verhoed dat die Chinese afgevaardigdes wat Beef Australia besoek het, ontsteld kan raak, aangesien die Volksrepubliek China ’n belangrike invoerder van Australiese beesvleis is.[17][18] Taiwan News het dit as Australiese “koutou” (buiging) voor die Volksrepubliek China beskryf.[18]
Apple beperk volgens bewerings die stuur van die vlag van die Republiek China in iOs-toestelle as ’n emoji wanneer dié toestel se landskode China of die taalinstellings Chinees is.[19][20] Volgens die veiligheidsnavorser Patrick Wardle kan ’n fout in die vlagsensuurkode van die iOS-stelsel egter veroorsaak dat toestelle ineenstort.[21] Apple het die emoji wat die vlag van Taiwan verteenwoordig gedurende die proteste van 2019–20 in Hongkong weereens gesensor, nadat hulle dit uit die iOS-sleutelborde in Hongkong en Macau verwyder het.[22][23]
Volgens berigte het Taiwanese aanhangers die Chinese Taipei nasionale bofbalspan met die vorige vlag van Mianmar tydens baie internasionale toernooie soos die Olimpiese Somerspele 2008 in Beijing ondersteun; in die Volksrepubliek China is die openbare gebruik van die vlag van die Republiek China verbied.[24][25][26] Mianmar is ’n bondgenoot van die Volksrepubliek China en het in 2010 sy nasionale vlag verander.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.