From Wikipedia, the free encyclopedia
Sjaria (Arabies: شريعة, IFA: ʃaˈriːʕa) is die godsdienswette vir Islamgelowiges[1] en kom uit die Koran en hadit. Die term kom van die Arabiese woord sharīʿah, wat beteken ’n stel morele en godsdienstige wette wat van godsdiensprofesieë kom in teenstelling met menslike wette.[2][3][4]
Sjaria behandel baie onderwerpe, soos misdaad, politiek, huwelikskontrakte, godsdiensvoorskrifte en ekonomie, asook persoonlike sake soos seks, higiëne, dieet, gebed, etiket en die vas. Die navolging van sjaria het histories gedien as ’n kenmerkende eienskap van die Moslem-geloof.[5] In sy strengste definisie word sjaria in Islam beskou as die onfeilbare wette van Allah.[6]
Daar is twee hoofbronne vir sjaria: die Koran en hadit (menings en lewensvoorbeelde van Mohammed).[7] Vir onderwerpe en sake wat nie direk in dié bronne behandel word nie, word sjaria afgelei. Die afleidings verskil tussen die verskillende groepe in Islam (hoofsaaklik Soennisme en Sjiisme), en verskeie regsgeleerdheidskole soos Hanafi, Maliki, Sjafii, Hanbali en Jafari.[8][9] Die sjaria in hierdie skole is hiërargies afgelei deur middel van een of meer van die volgende riglyne: die konsensus van Mohammed se metgeselle, na analogie van die primêre bronne, wette wat volgens Islamitiese juriste in die belang van die Islam is en gebruike.[8]
Sjaria is ’n belangrike bron van wetgewing in baie Moslemlande, waar die regering die meeste of sommige van die kode toepas. Hulle sluit in Saoedi-Arabië, Soedan, Iran, Irak, Afganistan, Pakistan, Broenei, die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Jemen en Mauritanië. In dié lande word strawwe wat deur sjaria voorgeskyf word, dikwels steeds toegepas, soos onthoofding, lyfstraf en steniging – binne of buite die wet.[10][11] Daar is omstredenheid oor wat sommige mense beskou as ’n beweging deur verskeie Islamitiese groepe om sjaria oor die wêreld heen toe te pas, wat al tot geweld[12][13][14][15][16] en selfs oorlog gelei het.[17][18][19] Moslems in die meeste lande erken wel dele van sjaria vir persoonlike sake.[20][21]
Die idees van misdaad, die regsproses en straf wat in sjaria vervat is, verskil van dié in sekulêre wette.[22][23] Dit lei soms tot omstredenheid oor of sjaria versoenbaar is met sekulêre regeringsvorme, vroue- en menseregte en vryheid van denke.[24][25][26]
Fikh is die menslike begrip van die sjaria[27] en die Islamitiese regswetenskap.[28] Dit behandel die nakoming van rituele, morele waardes en sosiale wetgewing in Islam.
Fikh word deur Islamitiese regsgeleerdes (oelama) uitgebrei en ontwikkel deur die interpretasie (ijtihad) van die Koran en hadit. Dit word deur die beslissings (fatwa) van Islamitiese regsgeleerdes geïmplementeer. Terwyl die Koran en hadit as onfeilbaar beskou word, kan fikh-standaarde van geval tot geval wissel.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.