From Wikipedia, the free encyclopedia
Die NG gemeente Sydenham is in 1946 gestig as die sesde gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die stad Port Elizabeth. Weens veranderende vestigingspatrone van NG lidmate in die stad het die gemeente se lidmate van 1 682 in 1973 afgeneem tot 211 in 2013 en 203 in 2015. Die kerkgebou is by Uitenhageweg 15, Sydenham.
Die eerste aparte diens in die nuwe gemeente Sydenham, wat met sowat 800 lede afgestig is van die NG gemeente Port Elizabeth-Noord, is op 2 Junie 1946 in 'n koeistal gehou. Dié diens is waargeneem deur ds. J.J. Jordaan, ook die eerste leraar van die jong gemeente. In die oggend het 197 en in die aand 258 siele in die koeistal vergader om na die woorde van die prediker te luister. Op daardie eerste Sondag het die gesamentlike kollektes £12.2.3 bedra. Namate nuwe lidmate hulle by die gemeente aangesluit het, moes sommige dikwels buite onder die bome staan terwyl hulle na die preek geluister het. Dit het hulle egter nie afgeskrik nie en die gemeente het in die beginjare met rasse skrede vermeerder.
Op 18 Februarie 1946 het die kerkraad eenparig besluit om 'n nuwe kerk te bou op 'n stuk grond wat van die stadsraad verkry is deur ruiling vir 'n sekere stuk kerkeiendom aan te gaan. Op 30 November 1946 is die eerste sooi vir die bou van die nuwe kerk deur Dorothea Korkie in die ouderdom van 88 jaar omgekeer. Saam met haar het ook twee ander bejaarde vroue van die gemeente, Marie van Dyk (79) en Martha Carolina Roux (74), elk 'n sooi omgespit.
Die hoeksteen van die nuwe gebou is op Sondag 15 Junie 1947 deur ds. J.J. Jordaan gelê. As uitgangspunt vir die plegtigheid het hy sy woorde uit Ps. 71:3 geput, "Wees vir my 'n Rots om in te woon", wat dan ook op die hoeksteen van die kerkgebou gegraveer is. Ds. Jordaan het tydens die bou van die kerk minstens 'n kwartier elke werksdag self 'n deeltjie van die bouwerk verrig. Soms was dit met 'n hamer en beitel en dikwels 'n ingewikkelde skrynwerkerstakie. So het hy onverbiddelik en pligsgetrou voortgegaan totdat die inwydingsdag op 31 Januarie 1948 eindelik aangebreek het.
Teen 2015, toe die belydende lidmate net 203 getel het vergeleke met 332 vyf jaar vantevore, was daar sprake dat die gemeente by 'n buurgemeente ingelyf en die gebou gesloop sou word om plek te maak vir 'n pakhuis. Die kerk is met die jare gevandaliseer en het vervalle geraak. Dit is egter waarskynlik van sloping gered toe belangstellendes dit opgeknap en ’n skuiling aan die haweloses in die omgewing gebied het. Shaun Luyt, stigter van die Happiness Foundation, het aan die Port Elizabethse dagblad The Herald gesê daar was in ’n stadium 'n moontlikheid dat die gemeente sou ontbind en 'n ander gebou in die kerk se plek opgerig sou word.
Die Happiness Foundation het aangebied om die kerk te verf. Luyt en sy span het besluit om iets te doen vir die gemeente deur op sosiale media vir skenkings te vra. Mense het onder meer verf, plante en klere geborg, terwyl Luyt die tuin help opknap het.
Vyf haweloses wat naby die kerk woon, het hul hulp aangebied met die tuinmaak, skoonmaak en verwery. Minstens een het danksy dié projek weer ’n dak oor haar kop gekry. Binne twee weke het die span die kerk verfraai en die gemeente nuwe hoop vir die toekoms gegee. Lidmate en belangstellendes het op Sondag 26 Julie 2015 ’n spesiale dankdiens gehou om die opknapping van die kerkgebou te vier.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.