Suid-Afrikaanse skrywer en uitgewer (1931–2016) From Wikipedia, the free encyclopedia
Leon Rousseau (1931–2016) was ’n uitgewer en saam met Koos Human medestigter van die uitgewersfirma Human & Rousseau. As Afrikaanse skrywer word hy veral bekend vir sy wetenskapfiksie-reeks oor Fritz Deelman en sy biografie oor Eugène Marais, “Die groot verlange”, waarmee hy die CNA-prys verwerf.
Leon Rousseau | |
---|---|
Gebore | Leon Gerdener Rousseau 5 Maart 1931 |
Sterf | 24 Februarie 2016 (op 84) |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Skrywer, uitgewer |
Bekend vir | Stigterslid van Human & Rousseau |
Eggenoot | Winifred Louise Schumann (1954–1977) Marieka Strauss Pienaar |
Kinders | Pierre, Chris, Louise, Leontine, Marie-Louise |
Geloof | Nederduits Gereformeerde |
Leon Gerdener Rousseau is op 5 Maart 1931 in Kaapstad gebore as die jongste kind van Pierre Daniël Rousseau en Elisabeth Anna Luise Gerdener. Pierre Etienne Rousseau, sy broer en die stigter van Sasol, is 21 jaar ouer as hy en sy jongste suster is 13 jaar ouer as hy. Sy voornaam kry hy van kmdt. Lion Cachet, onder wie sy pa in die Anglo-Boereoorlog geveg het. Sy moeder se oupagrootjie is ds. M.C. Vos, wat in 1819 sy herinneringe in briefvorm opgeteken en na sy vriend ds. S. van Breuningen gestuur het wat dit in 1824 in Amsterdam in druk laat verskyn het onder die titel: Merkwaardig Verhaal aangaande het leven en de lotgevallen van Michiel Christiaan Vos, als predikant der Hervormde Christelijke Gemeente op onderscheidene plaatsen in Nederland, Afrika en Azië; van zijne jeugd af tot den tijd van zijn Emeritusschap: door hem zelven in den jare 1819 briefsgewijze aan eene vriend medegedeeld.
Sy grootvader aan vaderskant was ds. P.D. Rossouw, predikant van die NG gemeentes Uniondale, Steynsburg, Franschhoek en Fraserburg (waar hy in 1896 oorlede is). Reeds op 4 Oktober 1878 het 'n brief van ds. Rossouw in Die Afrikaanse Patriot verskyn waarin hy die publikasie van preke in Afrikaans in die blad bepleit het. Skaars drie maande later, op 10 Januarie 1879, het Die Afrikaanse Patriot dan ook 'n Afrikaanse preek van ds. Rossouw gepubliseer, die heel eerste keer dat 'n Afrikaanse preek in druk verskyn het.[1] Sy Afrikaanse preke is in 1881 in boekvorm uitgegee onder die titel "Godsdienstige stukke". Ds. Rossouw het self sy kinders as Rousseau gedoop; vandaar Leon Rousseau en sy vader se van. Sy moeder, Elisabeth Anna Luise (née Gerdener, 1887–1966), was 'n jonger suster van die teoloog en geskiedskrywer prof. dr. G.B.A. Gerdener.[2] Die kleurryke politikus Theo Gerdener was 'n neef van Rousseau.
Hy word groot in Oranjezicht in Kaapstad en gaan skool aan die Laerskool Jan van Riebeeck. Na standerd ses (destyds die laaste standerd van die laerskool) is hy vir twee jaar na die Hoërskool Gimnasium in die Paarl, waar hy in die koshuis bly. Hy keer daarna terug na Kaapstad en die Hoërskool Jan van Riebeeck, waar hy in 1947 in die eerste klas matrikuleer. Op skool was hy groot vriende met Erni Grosskopf, seun van die skrywer E.B. Grosskopf.
Vanaf 1948 studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy aan die einde van 1950 sy B.A.-graad verwerf, waarna hy vir vier maande tandheelkunde bestudeer aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Hierdie studie staak hy egter en hy begin daarna vir vyf jaar tot 1956 ’n loopbaan in joernalistiek by Die Burger. By die koerant is hy in hierdie tyd om die beurt verslaggewer, vertaler, subredakteur en skrywer van die “Van alle kante”-rubriek. In Oktober 1956 verlaat hy die koerant om vryskutwerk te doen.
In 1959 begin hy en Koos Human die uitgewery Human & Rousseau. Van sy bekendste werke is die jeugreeks Fritz Deelman. In 1974 publiseer hy die biografie van Eugène Marais, Die groot verlange, waarvoor hy in 1975 die CNA-prys ontvang.[3] Die Storieman-reeks het in 1983 begin toe hy ’n eksemplaar van die Britse Storyteller in die CNA gesien het. Die eerste oplaag van 35 000 van Storieman Deel 1 het binne 18 maande uitverkoop. Kassette is met ’n karton aan die boeke vasgeheg. Benewens algemene skryfwerk begin hy ook om boeke te skryf (die “Fritz Deelman”-reeks) en redigeer boeke vir Tafelberg-Uitgewers. So ontmoet hy vir Gerrit van Zyl (die skrywer Gerrie Radlof), wie se boeke hy namens Tafelberg-Uitgewers redigeer. Hulle begin saam ’n onderneming deur ’n bankrot persagentskap, Afritopics, te koop. Hulle verander die naam en vestig sodoende die vertaalburo en reklame-agentskap, Uniale Persdiens, met kantore in die Volkskas-gebou in Adderleystraat. Na ’n ruk koop hy vir Gerrit van Zyl uit en maak sy geld hoofsaaklik deur buitelandse foto’s en artikels aan plaaslike blaaie te verkoop en deur vryskutwerk.
Net nadat hy in die sestigerjare begin met ’n biografie oor Eugène Marais, is hy in ’n ernstige motorongeluk betrokke waarin ’n senuwee in sy linkerarm afgesny is, wat sy tikvermoë permanent belemmer. Rousseau het baie Engelstalige kinderboeke na Afrikaans vertaal: Madeleine se redding (Ludwig Bemelmans, 1972), Charlotte se web (E.B. White, 1980) en Die kat kom kuier (Dr. Seuss). Wanneer Human en Rousseau in 1977 deur Nasionale Pers gekoop word, begin hy in 1979 sy eie uitgewery, naamlik Ibis-pers. In 1980 het hy ’n ernstige hartaanval, maar herstel weer en stig dan in 1982 naas Ibis die nuwe uitgewery, Rubicon Pers. Die bekendste uitgawes van sy nuwe uitgewery is die “Storieman”-reeks, bestaande uit boeke en klankkassette (later CD’s).
In Kaapstad woon hy op ’n stadium in Leinster Hall, ’n herehuis wat lank in die besit van die Hofmeyr-familie was en in 1983 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Daarna woon hy onder meer in Kampsbaai en dan langs Zeekoevlei in die Suid-Skiereiland, waarna hy in April 2005 na Jeffreysbaai in die Oos-Kaap verhuis om naby twee van sy dogters te woon. Hy was lid van die Afrikaanse tak van die internasionale skrywersorganisasie PEN.
Hy trou in 1954 met Winifred Louise Schumann, maar hulle is in 1977 geskei. Uit hierdie huwelik word vier kinders, twee seuns en twee dogters, gebore. Na sy egskeiding trou hy weer, hierdie keer met Marieka Strauss Pienaar (kleindogter van E.B. Grosskopf asook 'n broerskind van die VP-leier adv. J.G.N. Strauss) en een kind, die dogter Marie-Louise, word uit hierdie huwelik gebore. Op 1 Oktober 2008 trou hy met die digter Marié Blomerus en hulle woon in haar huis in Mossiestraat in Silverton in Pretoria. Hy trek egter later weer terug na Jeffreysbaai. Leon is op 24 Februarie 2016 in Jeffreysbaai oorlede. Rousseau, wat op Jeffreysbaai afgetree het, is oorleef deur sy kinders Pierre, Chris, Louise, Leontine en Marie-Louise, en agt kleinkinders. Sy gedenkdiens is op 4 Maart 2016 in Constantia, Kaapstad, gehou.
Ongetwyfeld sy belangrikste werk is die biografie [4]“Die groot verlange”[5] oor die digter en natuurwetenskaplike[6] Eugène N. Marais, wat hierdie komplekse persoonlikheid in sy vele fasette belig.[7] Die boek bevat die resultaat van indringende navorsing oor baie jare,[8] insluitende voorheen onbeskikbare materiaal wat hy van die digter se enigste seun verkry.[9] Hierdie boek oefen groot invloed uit op die metode van latere biografie-skrywers,[10] veral deur sy self opgesette oogmerke van leesbaarheid en waarheidsgetrouheid. “Die groot verlange” verower in 1974 die C.N.A.-prys en hy vertaal dit ook in Engels as[11] “The dark stream”. Benewens hierdie biografie is hy redakteur van Marais se “Versamelde werke” en skryf hy “Eugène Marais and the Darwin syndrome”. Hierin wy hy uit oor Marais as natuurwetenskaplike en vergelyk Marais se ontdekkings in die diereryk met dié van Charles Darwin. Die skrywer toon aan dat Marais se beroemdheid wêreldwyd sou gestrek het indien “The soul of the ape” gepubliseer is direk na voltooiing daarvan in 1919 en nie eers in 1969 nie, aangesien Marais dan verseker die eerste sou gewees het wat hierdie verreikende insigte bekend gemaak het. In[12] “Die dowwe spoor van Eugène Marais” (aanvanklik in een band gepubliseer saam met “Eugène Marais and the Darwin syndrome” bespreek hy inligting wat ná publikasie van die biografie bekend geword het, asook die verhouding tussen Marais en sy seun.[13][14][15][16]
Die mynveld van evolusionêre teorie, godsdiens en filosofie is die tema in[17] “Die groot avontuur”,[18] wat aan die leser ’n maklik leesbare voëlvlug oor die begin van lewe op aarde en die ontwikkeling daarna gee.[19] Vir hierdie boek is dit duidelik dat hy baie wyd gelees het [20] en hy lewer dan ’n groot bydrae tot die populêr-wetenskaplike Afrikaanse werke oor hierdie grootse onderwerp. In 2007 word “Die groot avontuur” met die Recht Malan-prys vir nie-fiksie bekroon. In 1992 begewe hy hom op die politieke gebied met sy boek “’n Toevlug in die Weste”, waarin hy voor die koms van demokrasie ’n billike verdeling van die land bepleit. “PER 80” is ’n gedenkalbum vir sy broer Pierre Etienne Rousseau, die stigter van Sasol.
Sy gedigte “Kypielied” en “Marietjie van die Kaap” word opgeneem in die versamelbundel “Nuwe verset”, wat hy in samewerking met Daniël Hugo en Phil du Plessis saamstel. Hy skryf ook die handboek vir ouers, “Gee u kind ’n voorsprong”. Hy vertaal ’n groot aantal werke in Afrikaans, meestal kinder- en jeugboeke, maar ook ’n paar boeke vir volwassenes. Hierdie vertalings sluit in Thomas Pakenham se “The Boer war”, “Die kort en maklike pad na effektiewe redevoering” van Dale Carnegie en “Die vyfde ruiter” deur Larry Collins en Dominique Lapierre.
As skrywer maak hy aanvanklik naam vir homself deur sy wetenskapfiksie jeugreeks oor luitenant Fritz Deelman, ’n geheime agent wat werk by die Suid-Afrikaanse afdeling van die Internasionale Veiligheidspolisie. Dit is goed nagevorste wetenskapfiksie en toekomsverhale, met die held wat verskeie avonture deurmaak. Die aksie speel af in die toekomstige Suid-Afrika en bevat verskeie voorspellings oor tegnologie wat besonder juis uitgekom het, soos Fritz se beeldradio en oond wat kos bestraal, hoewel die persoonlike helikopter nog iewers in die toekoms lê. Die eerste verhaal in die reeks,[21] “Fritz Deelman en die swart eiland”, verskyn aanvanklik as ’n vervolgverhaal in Die Jongspan. Hierin jaag Fritz aan die begin weg vir ’n verkeerskonstabel en meld hy hom aan as ’n karakter wat nie deur reëls en regulasies gebonde voel nie. Saam met sy Franse makker vind hulle die wrak van die boot op die bodem van die see, maar nie die uraan waarna hulle soek nie. In stede daarvan moet hulle kragte meet met die inwoners van die Swart Eiland. Die tweede boek,[21] “Fritz Deelman en die skepe van Mars”, verskyn ook aanvanklik as ’n vervolgverhaal in Die Jongspan. Hierin kom die karakters van Loeki de Klerk, Fritz se vriendin, en generaal Heyns, sy bevelvoerder, by en hulle vorm hierna integrale bestanddele van die res van die reeks. Hierdie boek is geskryf jare voor die eerste bemande ruimtereis. Drie ruimtevaarders onderneem ’n reis na Mars, naamlik Fritz Deelman, professor Max Bode, die Duitse sterrekundige en dr. Fred Cagney, die Amerikaanse militêre deskundige. Die aarde se voortbestaan hang van die sukses van hulle missie af, want daar bestaan intelligente lewe op Mars en hulle het ’n ekspedisie van agtien ruimteskepe aarde toe gestuur met die doel om die uitwissing van die aarde te beplan. “Fritz Deelman en die Suidpoolbende” vertel die verhaal van die dwelm Satania, wat binne ’n maand ’n groot aantal inwoners in ses lande daaraan verslaaf maak. Fritz Deelman en Loeki de Klerk volg die spoor van onwettige jagters van spermwalvisse, wat die enigste bron is van ambergrys, wat op sy beurt weer noodsaaklik is vir die maak van Satania. Op Antarktika kom hulle teen ’n oormag te staan. Professor Niemeyer maak in “Fritz Deelman en die diepsee-duikbol” op Madagaskar die ontdekking van ’n kaart wat op edelmetaal gegraveer is en die ligging aandui van Lemuria, ’n land wat tienduisend jaar gelede met ongelooflike skatte in die Indiese Oseaan weggesink het. Die skurk Archimedes Levitopek neem professor Niemeyer gevange en kry ook vir Fritz Deelman in die hande, waarna hy vir Fritz dwing om duisende meter onder die see in ’n duikbol na die skatte te gaan soek. In “Fritz Deelman en die groen dood” bevind Fritz hom in die Amasonewoude, op die spoor van ’n verlore ras wat volgens gerugte na hulle antieke tempel teruggekeer het. Hy moet ook die raaisel oplos van die reusagtige spoor wat lyk soos die van ’n prehistoriese monster en die onbekende pylgif wat ’n hele ekspedisie uitgewis het. In “Fritz Deelman en die Gori Lama” ontvang Fritz onverwags ’n brief van sy vriendin Loeki, wat op besoek is aan die Ooste. Die skynbaar doodgewone brief is in kode geskryf en hy lei af dat Loeki hulp nodig het en dat ’n vooraanstaande Suid-Afrikaanse geleerde in doodsgevaar in Tibet verkeer. ’n Westerling kan slegs met lewensgevaar hiernatoe gaan. Kort na ontvangs van die brief oorleef Fritz ’n geheimsinnige ontploffing en vertrek hy na die Ooste om te gaan ondersoek instel. “Fritz Deelman en die woestynrowers” speel in die Saharawoestyn af, waar die Mohotoring staan wat toegang bied tot ’n skag wat ses kilometer onder die aarde ongekende skatte ontbloot. Die geheimsinnige Rooi Sjeik voer in die woestyn ’n skrikbewind onder die plaaslike Arabiese stamme en ook onder die lede van die Franse Vreemdelegioen wat hier teen ’n geheimsinnige vyand veg. Dit kos al Fritz Deelman se vernuf om die Rooi Sjeik op te spoor en hom te ontmasker. In “Fritz Deelman en die ondersese myn” lei ’n onverwagte telefoonoproep vir Fritz na die hawebuurt in Kaapstad, waar hy ’n skraal man in ’n vinnige motor agtervolg. Die skraal man jaag oor die kaaie in die see, maar Fritz soek tevergeefs na ’n drenkeling. Dit word gou duidelik dat hy sy soektog in die Stille Oseaan moet voortsit, waar die ondersese myn geleë is. Die Fritz Deelmanboeke word ook in Nederlands vertaal.
Hy skryf verskeie ander boeke gemik op die jeug en jonger kinders. “Die Florentyn” vertel die lewensverhaal van Leonardo da Vinci, waar die onderliggende motief Da Vinci se mening is dat hy nooit sy potensiaal verwesenlik het nie. Tog is hy bekend as groot skilder en beeldhouer, het vyfhonderd jaar voor die Wright-broers die beginsels van vlieg bepaal, ’n vroeë duikboot ontwerp, vuurwapens ontwerp wat lank na sy dood eers vervaardig is en beginsels van stadsuitleg neergelê wat steeds geldig is. Die verhaal slaag daarin om hierdie merkwaardige mens en sy tyd op onderhoudende wyse weer te gee. Die lewensverhaal “Marco Polo van Venesië” is weereens ’n lewensverhaal vir die jeug.
Op die gebied van kinderlektuur lewer hy onder meer[22] “Rympies vir Kleuters” en “Rympies vir Kinders”. Dié twee bundels is ’n versameling tradisionele Afrikaanse volksryme, aangevul deur sy pogings om klassieke Duitse, Engelse en Nederlandse ryme in dieselfde styl te herskep. ’n Keur uit dié bundels is later as “Rympieman” op CD gesit. “Die Kaapse vlek” is ’n versverhaal vir kinders oor die historiese Ou-Kaap, terwyl “Die mens begeer maar altyd meer” ’n volksrym uit verskeie tradisionele bronne verwerk. “Die bruilof van die voëls” is ook op rym die verhaal van brompou en gompou se huwelik. “Ou tante Koba” bevat 27 ou Afrikaanse rympies oor hierdie figuur.
Hy vertaal meer as honderd kinder- en jeugboeke in Afrikaans. Dit sluit in klassieke werke uit die wêreldletterkunde soos “’n Reis na die middelpunt van die aarde” deur Jules Verne, “White Fang die wolfhond” van Jack London en “Die muitery op die Bounty” deur Charles Hall Nordhoff en James Norman. Hy vertaal ook meer onlangse populêre jeugboeke soos die eerste twee titels in die reeks ongelukkige gebeure deur Lemony Snickett, “Die bose begin” en “Die reptielkamer”, Roald Dahl se “Kalie Emmer en die sjokoladefabriek” en “Marius se merkwaardige medisyne”, Jenny Seed se “Die jaar een” en E.B. White se “Charlotte se web”. Ander boeke wat hy vertaal en verwerk is die Engelse versverhaal “Old Mother Hubbard” as “Ou Mamma Lafras en haar hond” (1972) en “Ou Mamma Kalbas en haar hond” (1975), “Die rottevanger van Hamelin” (1970), “Tom, Tom, pyperseun” (1973), “Twintig fabels van Aesopus” (1980) en “Katrina Losbek: ’n ou Russiese volksverhaal” (1981). Baie bekend is sy “Storieman”-reeks, ’n versameling van dertig storie- en prenteboeke met kassette daarby waarop hierdie stories voorgelees word deur bekendes soos Sandra Prinsloo, Verna Vels en Cobus Rossouw. Hierdie reeks is hoofsaaklik verwerkings in Afrikaans van die Britse uitgewer Marshall Cavendish se “Storyteller”-reeks as “Storieman”, maar elke uitgawe bevat minstens een storie van plaaslike oorsprong, soos “Van Hunks en sy pyp”, “Brolloks en Bittergal” en “Antjie Somers”. Die reeks se enorme gewildheid veroorsaak dat dit later heruitgegee word in CD-formaat. Rousseau volg hierdie reeks op met die soortgelyke “Storiemuis”-reeks. As redakteur en samesteller is hy onder andere verantwoordelik vir “Die groot oerwoudboek”.
Sy toneelteks “Rageltjie verby” is in 2014 ’n finalis in die Dagbreek Trust-teksskryfprojek. Hierdie projek fokus op die ontwikkeling van nuwe teksskrywers en enige persoon van wie ’n drama nog nie voorheen opgevoer is nie. Die drama is geskryf na aanleiding van ’n bewering dat Eugène Marais die idee vir sy artikel oor Rachel de Beer uit ’n Amerikaanse bron gekry het en dat daar nooit ’n Rachel de Beer was nie. Die toneelstuk speel in 1921 af in die redaksiekantoor van Die Boerevrou, die blad waarin Marais se beskrywing van die heldedaad kort tevore verskyn het. Die redaktrise, Mabel Malherbe, is Marais se susterskind. Hy ken haar al sedert haar geboorte 41 jaar tevore. Sy lees vir haar assistent, Miemie Rothmann (M.E.R.), ’n verontskuldiging voor wat sy in die blad wil plaas. Rothmann spreek haar bedenkinge uit en meen dat die verontskuldiging Marais weer tot morfien kan dryf en miskien sy lewe verkort. Kort daarna daag Marais se seun, ’n 27-jarige prokureur, op en ná hom Marais self. Eugène Marais verklaar dat hy nooit die Amerikaanse bron gesien het waarvan sprake is nie. Marais jr. dreig om te prosedeer tensy Malherbe haar verontskuldiging terugtrek. Rothmann en Marais jr. vertrek en laat Marais alleen by Malherbe. Sy wil weet waarom hy die gedig waaraan hy werk “Mabalêl” noem. Dit is haar naam, Mabel, waarby hy ’n ‘al’ gevoeg het. Op sy beurt beweer hy Mabel is ’n hiperkorrekte vrou wat deur die gees van ’n losbandige vrou in besit geneem en oorheers word. Malherbe weet nie dat Marais gewapen is nie. Wat Marais met die rewolwer wil maak en wat al hierdie feite met Rachel de Beer te doen het, word op verskillende maniere beantwoord.[23][23][24]
Jaar | Publikasies |
---|---|
Boeke vir volwassenes | |
1974 | Die groot verlange |
1980 | Eugène Marais and the Darwin Syndrome |
Gee u kind ’n voorsprong | |
PER 80 | |
1992 | ’n Toevlug in die Weste |
2000 | Die dowwe spoor van Eugène Marais |
2006 | Die groot avontuur |
Boeke vir kinders en die jeug | |
1958 | Marco Polo van Venesië |
1959 | Die Florentyn |
1962 | Die koue gevaar |
1965 | Van Hunks en sy pyp |
1967 | Die diere ABC |
1970 | Die rottevanger van Hamelin |
1971 | Ou Tante Koba |
Professor Oer en sy diere | |
1972 | Die historie van Dolle Daan |
Die Kaapse vlek: ’n rympie oor die Ou-Kaap | |
Die mens begeer maar altyd meer | |
Die vet kat: ’n Deense sprokie | |
1973 | Die bruilof van die voëls |
1974 | Rympies vir kleuters |
1975 | Die ondankbare slang |
1976 | Herelandgoed |
1979 | Pinocchio in die pekel |
Pinocchio op see | |
Pinocchio en sy vriende | |
2011 | Die kaskenades van Jakkals en Wolf |
Die Fritz Deelman-reeks: | |
1956 | Fritz Deelman en die swart eiland |
1957 | Fritz Deelman en die skepe van Mars |
Fritz Deelman en die Suidpoolbende | |
1958 | Fritz Deelman en die diepsee-duikbol |
Fritz Deelman en die groen dood | |
1959 | Fritz Deelman en die Gori Lama |
1960 | Fritz Deelman en die woestynrowers |
1963 | Fritz Deelman en die ondersese myn |
Vertalings | |
1958 | ’n Reis na die middelpunt van die aarde – Jules Verne |
Revolusie van die eensames – P.J. Bouman | |
1959 | White Fang die wolfhond – Jack London |
1960 | Die langste dag – 6 Junie 1944 – Cornelius Ryan |
1961 | Avonture in die Stille Suidsee – Willy van der Heide |
Drie seuns op ’n onbewoonde eiland – Willy van der Heide | |
1962 | Die kort en maklike pad na effektiewe redevoering – Dale Carnegie |
’n Man en sy hond – Anthony Richardson | |
Moord op ’n minister – Martin Mons | |
Sesde sintuig – Peter Hurkos | |
Die verlore karavaanpad – Herbert Kaufman | |
1963 | Die muitery op die Bounty – Charles Hall Nordhoff en James Norman |
Die stryd om die goudskip – Willy van der Heide | |
1964 | Finn die wolfhond – A.J. Dawson |
Helde van die horison – Roger Duvoisin | |
’n Kerssang in prosa – Charles Dickens | |
Odusseus die groot swerwer – Cor Bruijn | |
Die wording van die mens – I.W. Cornwall | |
1967 | Die avonture van Ping – Marjorie Flack |
Kalie – Robert Bright | |
Tomten – Viktor Rydberg | |
1969 | Jannie Leeu se boek – Edith Thatcher Hurd |
1970 | Hoegenaamd niks – Crosby Bonsall |
1971 | Tweevoetjies en sy arendveer – Margaret Friskey |
1972 | Dirk en die dinosourus – Syd Hoff |
Karel Kwas kampeer – Peter Firmin | |
Die kat kom weer – Dr Seuss | |
Madeleine se redding – Ludwig Benelmans | |
1973 | Ek leer kleure ken – S. Reit |
Die kat kom kuier – Dr Seuss | |
Die Loraks – Dr Seuss | |
My sustertjie is twaalf voet hoog: lawwe stories, rympies en raaisels uit
baie lande | |
Tom, Tom, Pyperseun – Paul Galdone | |
1974 | My eerste lekkerlag woordeboek – Richard Scarry |
Uile in die woud – F.N. Monjo | |
1975 | Die groen boek – Robert Graves |
Hoeveel eiers kan die reus eet? – Borge Jensen | |
Die klub van drie – Mildred Myrick | |
Ry, hond, ry! – P.D. Eastman | |
1976 | Die avonture van ’n jaarkar – Val Biro |
By die diere – Richard Scarry | |
Kom in die lente weer – Richard Kennedy | |
1977 | As die wind gaan lê – Charlotte Zolotow |
Lang jare saam – Joe Lasker | |
Meneer Ratel kom kuier – Karin S. Reader | |
Ou Moeder Gans en die goue eier – William Stobbs | |
1978 | Andries en die draak – Irwin Shapiro |
’n Koppie soos ’n peer – Irving A. Leitner | |
Die tafel, die esel en die stok – Paul Galdone | |
1979 | Die koning se blom – Mtsoemasa Anno |
1980 | Ai, hoe mooi is dit in Panama – Janosch |
Charlotte se web – E.B. White | |
Die grootste geluk op aarde – Janosch | |
Die jaar een – Jenny Seed | |
Josef en die slang – Harold Berson | |
Rook oor die Golanhoogland – Uriel Ofek | |
Die stryd om Huts en Pots – Philippa Pearce | |
Tombi en die watergees – A.F. Greaves | |
1981 | As kat en hond soos drake was – Colin McNaughton |
Die Boere-oorlog – Thomas Pakenham | |
’n Dag om te onthou – Bernard Stone | |
Davy Crockett – Clive Hopwood | |
Die drie musketiers – Brenda Apsley | |
Goudskepe op die Spaanse see – Clive Hopwood | |
Kalie Emmer en die sjokoladefabriek – Roald Dahl | |
Katrina Losbek – Amanda Hall | |
Pos vir die tiertjie – Janosch | |
Robin Hood en sir Guy de Gisborne – Hilda Young | |
’n Uil en drie snorre – Alice Provensen | |
Die vyfde ruiter – Larry Collins en Dominique Lapierre | |
1982 | 101 rympies (saam met D.J. Opperman) |
Marius se merkwaardige medisyne – Roald Dahl | |
Van kroontjie tot toontjie – Alona Frankel | |
My eerste tweetalige woordeboek – Ellen Wales Walpole | |
’n Beer op die foto – Caroline Bucknall | |
Een beer stokalleen – Caroline Bucknall | |
Ek wil ’n skaap hê – Mike Inkpen | |
Ek wil ’n vark hê – Mike Inkpen | |
Suid-Afrikaanse avontuurverhale – Phillida Brooke Simons | |
1990 | ’n Beer in die hospitaal – Caroline Bucknall |
Die huis van Koos Delport – Elizabeth Falconer | |
Karolus, die luilekker koning – Michael Aubin | |
Die koulike ysbeer – Guy Counhaye | |
Die langtand bewer – Pierre Coran | |
1991 | Brame in die winter – Amanda Harvey |
My babawagter – Ruth Young | |
My kombers – Ruth Young | |
Die nuwe baba – Ruth Young | |
1993 | Oom Gom se 1000 stories – Ole Hansen en Annette Bering Liisberg |
2004 | Die bose begin – Lemony Snickett |
Die reptielkamer – Lemony Snickett | |
2014 | Groen ham en eiers – Dr. Seuss |
O, die wêreld lê oop vir jou! – Dr. Seuss | |
Samesteller en redakteur | |
1967 | Die groot oerwoudboek |
1974 | Rympies vir kleuters |
1976 | Rympies vir kinders (samesteller) |
1983 | Langenhoven in volkleur |
1984 | Versamelde werke van Eugène N. Marais |
1986 | Die beste van Eugène Marais |
1990 | Storieman 1 |
1993 | Storieman 2 |
2000 | Nuwe verset (saam met Daniel Hugo en Phil du Plessis) |
2012 | Storieman-omnibus |
Appollis, Alvené Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2016/02/26/OS/BOKcbLEON-OS_33_0_738874639.html
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.