Harold Macmillan

From Wikipedia, the free encyclopedia

Harold Macmillan
Remove ads

Maurice Harold Macmillan (Belgravia, 10 Februarie 1894 – Chelwood Gate, 29 Desember 1986) was ’n Britse staatsman en eerste minister.

Thumb
Dr. Hendrik Verwoerd verwelkom sy Britse eweknie, Harold Macmillan, in Suid-Afrika op die D.F. Malanlughawe in Kaapstad. Macmillan het 'n opskudding veroorsaak met sy "Winde van Verandering"-toespraak.
Kitsfeite Vise, Monarg ...

Macmillan het aan Oxford studeer, maar sy studies onderbreek ten einde diens te doen in die Britse leër tydens die Eerste Wêreldoorlog. Hy het die rang van kaptein bereik en onder meer aan die Slag van die Somme deelgeneem. Ná die oorlog tree hy in diens by die uitgewery MacMillan Publishers, wat sy oupa opgerig het en waar hy direkteur was van 1920 tot 1940. Uit sy huwelik met lady Dorothy Cavendish is vier kinders gebore. Macmillan was 'n lid van die Konserwatiewe Party gewees en is as verteenwoordiger van dié party in 1924 tot lid van die Britse Laerhuis verkies. Hy bly ’n LP tot 1945, maar met ’n onderbreking tussen 1929 en 1931. Hy het vele ekonomiese studies geskryf waarin hy gereeld kritiek uitgespreek het teen die beleid van die Konserwatiewe regering. In 1940 word hy sekretaris van die minister van bevoorrading, in 1942 ondersekretaris van kolonies en in 1945 staatsekretaris van die Lugmag. In 1951 word hy minister van behuising, in 1954 minister van verdediging, in 1955 minister van buitelandse sake en later van finansies.

Op 10 Januarie 1957 volg hy sir Anthony Eden op as premier en word enkele weke later verkies tot partyvoorsitter. Onder sy leiding is die welvaartstaat verder uitgebou en vra sy land lidmaatskap aan van die Europese Ekonomiese Gemeenskap, voorloper van die Europese Unie. Die Verenigde Koninkryk se aansoek is afgekeur deur die toedoen van Frankryk se president Charles de Gaulle. Die Macmillan-regering het gesorg vir dekolonisasie in Afrika en Asië en die Verenigde Koninkryk se kernmag uitgebou. Op 18 Oktober 1963 moes Macmillan bedank weens die Profumo-voorval en sy swak gesondheid. Daarna was hy kanselier van Oxford en vanaf 1984 as lord Stockton lid van die Britse Hoërhuis, waar hy krities was jeens die beleid van eerste minister Margaret Thatcher.

Op 29 Desember 1986 is die eerste graaf van Stockton oorlede in sy plattelandse huis, Birch Grove, aan die rand van die Ashdown-woud by Chelwood Gate in Oos-Sussex. Thatcher het hom ná sy dood geloof as ’n baie groot patriot en gesê dat sy afkeur aan haar verkoop van die “familiesilwer” (staatsbates) nooit tussen hulle gekom het nie.

Remove ads

Verwysings

Belangrike werke deur Macmillan

Bronne

Eksterne skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads