Suid-Afrikaanse klassikus en skrywer From Wikipedia, the free encyclopedia
Gerrit van Wyk Kruger (gebore 11 Junie 1937) is 'n Suid-Afrikaanse klassikus en skrywer wat verbonde was aan Stellenbosch Universiteit. Hy is in Namakwaland gebore.[1]
Kruger matrikuleer in 1955 aan die Hoërskool Martin Oosthuizen te Kakamas in die eerste klas, met Theo Pauw as skoolhoof. In 1958 verwerf hy sy B.A. graad cum laude aan Stellenbosch Universiteit, met as hoofvakke Grieks en Hebreeus, en met Latyn en Afrikaans as sekondêre vakke. In 1959 skryf hy in aan die Teologiese Seminarium van die NG Kerk op Stellenbosch tydens die seminarium se eeufeesjaar. In 1960 wen Kruger die Sir Henry Strakosch-gedenkbeurs vir verdere studie aan die Universiteit van Cambridge en in 1961 behaal hy 'n BA Hons, cum laude, aan Stellenbosch Universiteit. In September 1961 verlaat hy Kaapstad aan boord die Pendennis Castle vir Southampton, Engeland.
Hy was van 1961 tot 1964 'n lid van King's College, Cambridge, waar hy studeer onder CDF Moule, die Lady Margaret's professor in Godheid (die oudste leerstoel aan die universiteit, waar Erasmus van Rotterdam die eerste leser in Grieks was). In 1963 tree hy in die huwelik met Christa de Wit in die Presbiteriaanse kerk in St. Columba, Downingstreet, Cambridge, en vertrek hierna op 'n uitgebreide toer deur Europa, met Griekeland as eindbestemming. Teen Julie 1964 was hy dosent in Grieks aan Stellenbosch Universiteit, en in 1967 ontvang hy sy Ph.D. in Nuwe Testamentiese Grieks aan die Universiteit van Cambridge, met 'n proefskrif getiteld Conditionals in the New Testament. A Study in their Rationale.[2]
Teen 1969 was hy die Senior lektor in Grieks aan Stellenbosch Universiteit, en vanaf 1969 tot 1973 die hoofeksaminator vir Matrikulasie-Grieks in Suid-Afrika. Sy seun (André) is op 25 Julie 1970 gebore. In 1973 word hy professorskappe aangebied aan die Universiteit van Port Elizabeth en aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 1976 is hy aangewys as eerste professor in Nuwe Testamentiese Grieks aan Stellenbosch Universiteit. In 1986 spandeer hy sy Sabbatsverlof saam met sy gesin, en danksy 'n Senior HSRC-beurs in Cambridge, saam met Dr. Richard Hunter van Pembroke College, nou Regius-professor in Grieks aan Cambridge, werk Kruger aan die antieke Griekse romanse. Hy was vanaf 1977 tot 1985 mede-lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en in 1985 studieleier van die eerste doktorsgraad in Nuwe Testamentiese Grieks aan Stellenbosch Universiteit. Hy was van 1985 tot 1995 moderator vir Hellenistiese Grieks aan die Universiteit van Wes-Kaapland. In 1994 tree hy af aan Universiteit Stellenbosch.
Gerrit Kruger het sedert sy aftrede verskeie nuwe boeke voltooi (gepubliseer in 2017 en 2019) en etlike verdere manuskripte. Van 1994 tot 2000 was hy korrespondent vir Die Burger, en verantwoordelik vir tot 70 artikels oor Afrikaans, politiek, letterkunde en ander polemica. Sy 125 artikels oor die geskiedenis van Stellenbosch wat tussen 1987 en 1993 vir Eikestadnuus geskryf is, kan in die argief van die Gericke-biblioteek, Africana-afdeling, gevind word, benewens sy volledige versameling van Afrikaanse literatuur uit die 20ste eeu, waarvan etlike getekende eerste uitgawes is.[3] Kruger se essays en skrywes word ook gereeld gepubliseer op die Afrikaanstalige letterkundige webwerf Litnet.[4]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.