plantgenus From Wikipedia, the free encyclopedia
Encephalartos, die broodbome, is 'n genus van diësiese (d.w.s. aparte manlike en vroulike individue) naaksadiges in die broodpalmfamilie Zamiaceae. Die genus is endemies aan tropiese, subtropiese en suidelike Afrika, maar is afwesig in Madagaskar. Benewens die monotipiese genus Stangeria wat voor filogenetiese ontledings by Stangeriaceae gereken is, is dit die enigste ander genus van sikadeë wat inheems aan Suid-Afrika is.[nota 1] Die genus bestaan uit altesaam 68 spesies waarvan 37 inheems aan Suid-Afrika is.[1] Sowat 22 van die Suider-Afrikaanse spesies kan boomgrootte bereik,[2] waarvan die grootste spesies 10 tot 13 meter hoog kan word.[nota 2] Die genusnaam is afgelei van die Griekse woorde en (binne), kephalē (kop), en artos (brood), wat verwys na die gebruik van die boonste stammurg (medulla) vir voedsel. Alle dele van die plante is potensieël giftig of selfs dodelik, maar die toksiene kan deur sekere prosesse verwyder word.
Broodbome Encephalartos | |
---|---|
Vroulike Encephalartos lebomboensis | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Divisie: | |
Klas: | Cycadopsida |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | Encephalartos |
Spesies | |
Sien teks. | |
Geografiese verspreiding van die genus Encephalartos |
Al die spesies word bedreig, en sommige word kritiek bedreig weens hul eksploitasie deur plant- en muti-versamelaars.[3] Die hele genus word onder CITES Bylaag I gelys wat internasionale handel in eksemplare van hierdie spesies verbied, behalwe vir sekere nie-kommersiële motiewe, waaronder wetenskaplike navorsing.
Die spesies is oorwegend stadiggroeiend en langlewend, en etlike ontwikkel stewige bogrondse stamme. In E. cycadifolius groei die hoofstamme byvoorbeeld tot 3 meter hoog, en etlike stamme kan verenig wees op die basis waaruit 'n voormalige hoofstam eens gegroei het. By E. longifolius is 10 stamme al opgemerk wat uit een basis groei.[1] E. laurentianus, E. woodii en E. transvenosus is die grootste spesies in die genus.
Soos ander sikadeë dra hierdie plante 'n terminale of spiraalstygende roset van lang maar stewige, immergroen, geveerde blare aan die meestal onvertakte stam. Die rigiede blaartjies het stekelrige of ingekeepte rande. Die blaartjies het elk 'n aantal parallelle are, en 'n sentrale aar ontbreek.[4]
Die langwerpige manlike of meer geronde vroulike keëls (strenggesproke strobili) word aan die toppunt van die stam voortgebring. Manlike keëls is langwerpig, en drie of vier kan op 'n slag aan die toppunt van die stam verskyn. Vroulike keëls word óf alleen, óf tot drie op 'n slag gedra, en kan tot 27 kg weeg. By sommige spesies gee die manlike keëls met ryp stuifmeel 'n walglike reuk af. Wanneer die stuifmeel gestort is en die manlike keëls ontbind, kan 'n sterk asynsuurgeur ook bemerk word.[5] Bestuiwing geskied deur wind benewens spesie-spesifieke kewers.[1] Die asoksiglikosied-verbindings in manlike sowel as vroulike voortplantingsweefsel speel moontlik 'n rol in die voortplantingsbiologie van hierdie en ander sikadeë.[6]
Soos by sikadeë in die algemeen het die sade nie 'n dormante fase nie, en verloor hul lewenskragtigheid sodra hulle uitdroog. Die sade is matig tot besonder giftig. Die helderkleurige sarkostesta wat die embrio omhul lok egter voëls en soogdiere aan. By ander sikadeegenera is vasgestel dat diere die sarkotesta verteer waarna die giftige pit vomeer word.[7] Makrozamien en sikasien is twee besonder toksiese asoksiglikosiede wat in onder meer die saadpitte van Encephalartos waargeneem is.[6] Daar is berig dat die buitenste vlesige laag en/of die makrogametofiet van E. cycadifolius, E. eugene-maraisii, E. ferox, E. horridus, E. lehmannii, E. longifolius en E. villosus almal óf akuut toksies was wanneer dit aan hase toegedien is, óf vermoedelik 'n toksiese uitwerking op mense sal hê.[8][6] Rotte wat dele van die vroulike keëls van E. umbeluziensis, E. villosus, E. lebomboensis en E. laevifolius gevoer is, het gewasse ontwikkel, en soortgelyke effekte is by E. lanatus opgemerk.[9][6] In 1912 is twee Mpondo-seuns by Tabankulu dood nadat hulle die pitte van E. frederici-guilielmi geëet het.[10][6]
Kolonies van die sianobakterie Nostoc punctiforme kom in skynbare simbiose binne die wortelweefsel voor,[5] terwyl wortelknoppies op grondvlak geproduseer word wat 'n mikorizale swam huisves met onduidelike funksie,[5] maar wat vermoedelik die opvang van stikstof uit die lug vergemaklik.[11]
By etlike spesies is daar in die murg onder kroon van die stam 'n ruim hoeveelheid hoë gehalte stysel. Dit is voorheen deur inheemse mense as kos uitgesny. Thunberg het omstreeks 1772 aangeteken dat die khoikhoi die stam se murg by die kroon verwyder en dit dan vir ongeveer twee maande, toegedraai het in dierevel,[11] begrawe het, waarna dit uitgehaal is om tot brood geknie te word,[5] vanwaar die volksname "broodboom" en "broodpalm". Die ondergrondse berging van die murg het blykbaar die fermentasie en versagting daarvan vergemaklik,[5] waarna die deeg liggies oor 'n koolvuur gerooster is.[12] In 1779 het Paterson eweneens gevind dat die murg van 'n "groot palm" naby King William's Town deur swart mense en khoikhoi as brood gebruik is. Die murg is verwyder en gelaat om suurderig te word, voordat dit tot brood geknie is.[5][13] Weens hul onvoorspelbaar giftige eienskappe word die saadvlees nie vir menslike verbruik aanbeveel nie.[11]
Die groot sade bestaan uit die gewoonlik giftige pit wat deur 'n eetbare vlesige laag, die sogenaamde sarkotesta, bedek is.[11] Vroulike keëls word gevolglik deur bobbejane oopgebreek, aangesien hulle die vlees om die sade geniet.[5] Blouape, dassies, knaagdiere en voëls soos neushorings vreet ook die sade.
Die vroeë larweinstars van sommige aposematiese, dagvlieënde landmetermotte voed spesifiek op sikadeë, en genus Encephalartos is een van hul voedselplante.[14] Dit sluit in Zerenopsis lepida (meeste Encephalartos-spesies, ander sikadeë, ens.), Callioratus millari (gekweekte E. villosus), C. abraxas (broodbome onder blaredak), Veniliodes pantheraria (E. villosus), V. inflammata (E. villosus), Veniliodes (E. ngoyanus, gekweekte E. villosus en Stangeria) en Ascotis reciprocaria (E. natalensis).[15]
In verbouing val verskeie dopluis-insekte die blare van die genus aan. Dit sluit die sikadee aulacaspis-dopluis, zamiadopluis en lataniadopluis in.[16]
Die genus is deur die Duitse botanis Lehmann in 1834 beskryf. Alle sikadeë buiten Cycas is tot op daardie punt as lede van die genus Zamia beskou, en sommige botaniste sou dit as sodanig aanvaar tot baie jare nadat Lehmann Encephalartos as 'n aparte genus onderskei het. Lehmann se konsep was aanvanklik breër as die hedendaagse, en het die Australiese taksa wat tans as Macrozamia en Lepidozamia bekend staan, ingesluit.[17] Die redelik groot getal spesies word aan 'n ewolusionêre ontploffing toegeskryf wat sowat 12 miljoen jaar gelede begin het, en sedertdien weer ten einde geloop het. Hierdie sprong in diversifikasie is moontlik deur afkoeling van die aarde ontketen, wat weer sterker seisoenskommelinge ten gevolg gehad het.[18] Dié verskynsel blyk tot die sikadeë beperk te wees.
Taksonomie | Plaaslike naam | Outeur(s) | Gepubliseer | Endemies | Bewaringstatus |
---|---|---|---|---|---|
Encephalartos aemulans | Ngotshebroodboom | Vorster | 1990 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos altensteinii | Oos-Kaapse reusebroodboom | Lehm. | 1834 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos arenarius | Duinbroodboom | R.A.Dyer | 1955 | Suid-Afrika | EN |
Encephalartos barteri | Wes-Afrikaanse broodboom | Carruth. ex Miq. | 1868 | VU | |
Encephalartos brevifoliolatus | Platorandbroodboom | Vorster | 1996 | EX | |
Encephalartos bubalinus | Natronbroodboom | Melville | 1957 | NT | |
Encephalartos caffer | Bosjesmansbrood | (Thunb.) Lehm. | 1834 | Suid-Afrika | NT |
Encephalartos cerinus | Wasagtige broodboom | Lavranos & D.L.Goode | 1989 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos chimanimaniensis | Chimanimanibroodboom | R.A.Dyer & I.Verd. | 1969 | EN | |
Encephalartos concinnus | Roendebroodboom | R.A.Dyer & I.Verd. | 1969 | Zimbabwe | EN |
Encephalartos cupidus | Blyderivierbroodboom | R.A.Dyer | 1971 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos cycadifolius | Bedfordbroodboom | (Jacq.) Lehm. | 1834 | Suid-Afrika | LC |
Encephalartos delucanus | Malaisse, Sclavo & Crosiers | 1992 | Tanzanië | EN | |
Encephalartos dolomiticus | Wolkbergbroodboom | Lavranos & D.L.Goode | 1988 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos dyerianus | Lilliebroodboom | Lavranos & D.L.Goode | 1988 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos equatorialis | P.J.H.Hurter | 1995 | Uganda | CR | |
Encephalartos eugene-maraisii | Bergpalm | I.Verd. | 1945 | Suid-Afrika | EN |
Encephalartos ferox | Tongalandbroodboom | G.Bertol. | 1851 | NT | |
Encephalartos flavistrobilus | cf. E. schaijesii | I.S.Turner & Sclavo | 2006 | Zimbabwe | NE |
Encephalartos friderici-guilielmi | Withaarbroodboom | Lehm. | 1834 | Suid-Afrika | NT |
Encephalartos ghellinckii | Drakensbergbroodboom | Lem. | 1867 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos gratus | Moelandjebroodboom | Prain | 1916 | VU | |
Encephalartos heenanii | Wollerige broodboom | R.A.Dyer | 1972 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos hildebrandtii | Mombasabroodboom | A.Braun & C.D.Bouché | 1874 | NT | |
Encephalartos hirsutus | Vendabroodboom | P.J.H.Hurter | 1996 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos horridus | Doringbroodboom | (Jacq.) Lehm. | 1834 | Suid-Afrika | EN |
Encephalartos humilis | Dwergbroodboom | I.Verd. | 1951 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos inopinus | Lydenburgbroodboom | R.A.Dyer | 1964 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos ituriensis | Itoeribroodboom | Bamps & Lisowski | 1990 | NT | |
Encephalartos kisambo | Voibroodboom | Faden & Beentje | 1989 | EN | |
Encephalartos laevifolius | Kaapsehoopbroodboom | Stapf & Burtt Davy | 1926 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos lanatus | Olifantsrivierbroodboom | Stapf & Burtt Davy | 1926 | Suid-Afrika | NT |
Encephalartos latifrons | Albaniebroodboom | Lehm. | 1838 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos laurentianus | Kwangobroodboom | De Wild. | 1903 | NT | |
Encephalartos lebomboensis | Lebombobroodboom | I.Verd. | 1949 | EN | |
Encephalartos lehmannii | Karoobroodboom | Lehm. | 1834 | Suid-Afrika | NT |
Encephalartos longifolius | Suurbergbroodboom | (Jacq.) Lehm. | 1834 | Suid-Afrika | NT |
Encephalartos mackenziei | Didingabroodboom | L.E.Newton | 2002 | Soedan | NT |
Encephalartos macrostrobilus | Agoro-Agoebroodboom | Scott Jones & Wynants | 1997 | Uganda | EN |
Encephalartos manikensis | Manikalandbroodboom | (Gilliland) Gilliland | 1939 | VU | |
Encephalartos marunguensis | Maroengoebroodboom | Devred | 1958 | Demokratiese Republiek die Kongo | VU |
Encephalartos middelburgensis | Middelburgbroodboom | Vorster, Robbertse & S.van der Westh. | 1989 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos msinganus | Msingabroodboom | Vorster | 1996 | Suid-Afrika | CR |
Encephalartos munchii | Zembebroodboom | R.A.Dyer & I.Verd. | 1969 | Mosambiek | CR |
Encephalartos natalensis | Reusebroodboom | R.A.Dyer & I.Verd. | 1951 | Suid-Afrika | NT |
Encephalartos ngoyanus | Ngoyedwergbroodboom | I.Verd. | 1949 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos nubimontanus | Bloubroodboom | P.J.H.Hurter | 1995 | Suid-Afrika | EW |
Encephalartos paucidentatus | Barbertonse broodboom | Stapf & Burtt Davy | 1926 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos poggei | Kanangabroodboom | Asch. | 1878 | LC | |
Encephalartos princeps | Keibroodboom | R.A.Dyer | 1965 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos pterogonus | Tandkeëlbroodboom | R.A.Dyer & I.Verd. | 1969 | Mosambiek | CR |
Encephalartos schaijesii | Kolwezibroodboom | Malaisse, Sclavo & Crosiers | 1993 | Demokratiese Republiek die Kongo | VU |
Encephalartos schmitzii | Schmitz se broodboom | Malaisse | 1969 | VU | |
Encephalartos sclavoi | Sclavo se broodboom | De Luca, D.W.Stev. & A.Moretti | 1989 | Tanzanië | CR |
Encephalartos senticosus | Jozinibroodboom | Vorster | 1996 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos septentrionalis | Nylbroodboom | Schweinf. ex Eichler | 1887 | NT | |
Encephalartos tegulaneus | Keniaanse reusebroodboom | Melville | 1957 | Kenia | |
Encephalartos transvenosus | Modjadjibroodboom | Stapf & Burtt Davy | 1926 | Suid-Afrika | LC |
Encephalartos trispinosus | Boesmansrivier-broodboom | (Hook.f.) R.A.Dyer | 1965 | Suid-Afrika | VU |
Encephalartos turneri | Nampoelabroodboom | Lavranos & D.L.Goode | 1988 | Mosambiek | LC |
Encephalartos umbeluziensis | Umbeluzibroodboom | R.A.Dyer | 1951 | Mosambiek | EN |
Encephalartos villosus | Stamlose broodboom | Lem. | 1868 | Suid-Afrika | LC |
Encephalartos whitelockii | P.J.H.Hurter | 1995 | Uganda | CR | |
Encephalartos woodii | Woodbroodboom | Sander | 1908 | Suid-Afrika | EW |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Encephalartos. |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.